Hoogtepunte van die halfjaarlikse terugvoer oor Staatsrede - President Jacob Zuma

President Jacob Zuma het op Dinsdag 11 Augustus 2015 die halfjaarlikse terugvoer oor die implementering van kwessies uit die staatsrede by die Uniegebou in Pretoria gelewer. Sy toespraak het gefokus op die werk wat die regering gedoen het rakende die implementering van die eerste jaar van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR) 2014–2019, soos uiteengesit in die staatsrede in Februarie 2015.

Die MTSR, oftewel die Regering se program van aksie, is geskoei op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), die land se sosio-ekonomiese bloudruk wat die driedubbele uitdaging van armoede, werkloosheid en ongelykheid teen 2030 die hoof moet bied.

Jongste oor die Negepuntplan

Tydens die staatsrede in Februarie 2015 het President Zuma die negepuntplan om ekonomiese groei te stimuleer en broodnodige werkgeleenthede te skep, aangekondig. Die Negepuntplan kom in reaksie op die uitdaging van beperkte groei in die ekonomie.

Benewens die geprojekteerde groei van 2% in 2015, kan die Negepuntplan ekonomiese groei met 0,8% oor die kort termyn en 1% op die medium tot lang termyn versnel.

Die komponente van die plan is die volgende:
1. ’n Oplossing vir die energie-uitdaging.
2. Herlewing van landbou en die landbouverwerkingswaardeketting.
3. Bevordering van veredeling of die toevoeg van waarde tot ons minerale rykdom.
4. Meer doeltreffende implementering van 'n aksieplan met groter impak, vir 'n industriële beleid.
5. Aanmoediging van belegging in die private sektor.
6. Moderering van konflik in die werkplek.
7. Ontsluiting van die potensiaal van klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's), koöperasies, township- en landelike ondernemings.
8. Staatshervorming en die bevordering van die rol van maatskappye in staatsbesit; infrastruktuur vir inligtingskommunikasietegnologie of die inwerkingstelling van breëband-, water-, sanitasie- en vervoerinfrastruktuur.
9. Operasie Phakisa, wat gemik is op die ontwikkeling van die oseaan-ekonomie en ander sektore.

VERVAARDIGING

Belegging en werkskepping

Regeringsteun het die motorsektor gehelp om hul uitset van 356 800 eenhede in 2000 tot 566 000 in 2014 op te stoot.

Hierdie ondersteuning het motoruitvoer van 11 000 eenhede in 1995 tot meer as 270 000 eenhede in 2014 laat verbeter. As gevolg hiervan is 300 000 werksgeleenthede in die sektor geskep.

Beduidende beleggings is ook in sleutelvervaardigingsektore soos die motor-, landbouverwerking- en elektronikasektore gemaak.

Dit sluit in R5 miljard deur Mercedes-Benz, R3 miljard deur Ford, R4 miljard deur Unilever in vier aanlegte oor die afgelope paar jaar en R228 miljoen deur Samsung.

In 2014 het motoruitvoer R115 miljard beloop. Dit is 12,7% van die totale uitvoer in die land.

Die regering se ingryping om die agteruitgang van die klere-, tekstiel-, leer- en skoeiselbedrywe te keer het tot die behoud van 68 000 werkgeleenthede in die sektor gelei.

Teen die einde van Maart 2015 is R3,7 miljard goedgekeur ter ondersteuning van die private sektor sedert die aanvang van die mededingingsprogram in 2010 in die klere- en tekstielbedrywe.

Sedert 2009 het die regering – deur die Departement van Handel en Nywerheid – agroverwerkingnywerhede ter waarde van R1,2 miljard deur middel van verskeie skemas ondersteun.

Nywerheidsontwikkeling

Om nywerheidsontwikkeling in die land ’n hupstoot te gee het die regering die Program vir Swart Nyweraars van stapel gestuur. Dit het ten doel om die vervaardigingsektor te transformeer en die potensiaal van swart entrepreneurs te ontsluit.

Die Departement van Handel en Nywerheid het die aanvanklike befondsing van R1 miljard vir die finansiële jaar 2015/16 voorgeskiet en R23 miljard is van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie vir die volgende drie finansiële jare verkry.

INFRASTRUKTUUR

Die regering en staatsagentskappe het tussen 2009 en 2014 meer as R1 biljoen in infrastruktuur belê .

Die beleggings is in energie, pad, spoor, hawens, openbare vervoer, grootmaatwater en sanitasie, hospitale, basiese en hoër onderwys en innoverende projekte soos die SKA en Meerkat-teleskoop.

Bekendstelling van breëbandinternet

Teen Augustus 2015 is sowat 41 351 km optieseveselkabels geïnstalleer om die breëbandvermoë vir die ekonomie uit te brei.

Digitale migrasie

Die Kabinet het in Maart 2015 die finale wysigings aan die Digitale Migrasiebeleid van die Uitsaaiwese goedgekeur, sodat die inwerkingstelling daarvan kan voortgaan. Die Kabinet het ook ingestem dat die regering gratis dekodeerders aan vyf miljoen arm huishoudings voorsien.

Hoewel die land nie die sperdatum vir die digitale omskakeling van 17 Junie 2015 soos deur die Internasionale Telekommunikasie-unie vasgestel is, gehaal het nie, is baie werk gedoen om analooguitsendings binnekort te staak.

Die Ministerie van Kommunikasie het sedertdien bilaterale samesprekings met buurlande – Botswana, Namibië, Mosambiek, Lesotho en Swaziland – gesluit om steurnis in die oorgrensradiofrekwensiespektrum die hoof te bied.

ENERGIE

Aansienlike vordering is gemaak rakende die oplossing van energie-uitdagings sedert die aanvang van die vyfpunt-energieplan in Desember 2014.

Operasionele en instandhoudingswerk by Eskom duur voort om te verseker dat kragsentrales behoorlik in stand gehou word en elektrisiteit volgens kapasiteit kan opwek.

Eskom het korttermynaankoopooreenkomste onderteken wat bykomende voorsiening van elektrisiteit sal verseker om tekorte weens instandhouding die hoof te bied en om aan die vraag tydens spitstye te voldoen.

’n Verdere 800 MW sal deur middel van samewerkende kragopwekking by die kragnetwerk gevoeg word.
 
Energiedoeltreffendheidsprogramme het tot 'n besparing van 450 MW en 'n vermindering in uitlaatgasse gelei.

Verskeie projekte van die Program vir Hernubare Onafhanklike Kragopwekking lewer tans 1 800 MW aan die netwerk.

Binne die volgende twee en 'n half jaar sal die 92 projekte van die Hernubare-energieprogram 6 327 MW by die netwerk voeg.

Die oorweging van verskeie ander opsies vir die opwekking van elektrisiteit is tans aan die gang, insluitend oorgrensprojekte binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), wat insluit hidro-, gas- en steenkoolkragopwekking.

Vir elektrisiteitsvoorsiening op die medium tot lang termyn is die beplanning vir die bou van ’n kernkragsentrale in 'n gevorderde stadium en verkryging behoort binne die finansiële jaar 2015/16 afgehandel te wees.

Die bygewerkte Gasbenuttingsmeesterplan, wat belegging in die gasbedryf sal stimuleer, sal gepubliseer word.

Die regering sal voortaan daarna streef om 'n betroubare energiemengsel vir die hede en die toekoms te verseker.

EKONOMIE

Soos vele ander ekonomieë oor die wêreld heen sukkel die Suid-Afrikaanse ekonomie om teen dieselfde tempo te groei as voor die finansiële krisis.

Suid-Afrika het hom tot 'n 5%-groeikoers teen 2019 verbind, maar die 1,5%-groei wat in 2014 behaal is, is ver van die doelstellings van die NOP. Nietemin, ondanks die trae groei wêreldwyd, sal ekonomiese groei na verwagting bestendig verbeter tot minstens 3% oor die volgende drie jaar, danksy die verbetering in elektrisiteitsvoorsiening.

Beleggingsondersteuning

Die Presidensiële Sakewerkgroep het tydens ’n vergadering op 7 Augustus die behoefte aan regulatoriese doeltreffendheid en omkeertye ter ondersteuning van belegging bespreek. Om dié rede sal die program van spesiale ekonomiese sones voortduur.

'n Beleggingsfasiliteringsentrum word tans opgerig om plaaslike en internasionale beleggings te ondersteun. Die Departement van Handel en Nywerheid het ’n loodsprojek in die lewe geroep.

Die sentrum sal die beleggingsklimaat verbeter en dit makliker maak vir sakelui om sake te doen deur knelpunte te identifiseer, administratiewe struikelblokke te verwyder, regulatoriese ondoeltreffendheid te verminder, norme en standaarde op te stel, omkeertye te verbeter en alle navrae oor belegging te koördineer en te bespoedig.

Nuwe visumregulasies

Na klagtes oor die nuwe visumregulasies het die regering die Interministeriële Komitee (IMK) oor Immigrasieregulasies gestig.

Die IMK sal die onbedoelde gevolge van die nuwe immigrasieregulasies oor verskeie sektore, insluitend toerisme en belegging, ondersoek.

Adjunk-president Cyril Ramaphosa is die voorsitter van die IMK, wat bestaan uit die ministers van toerisme, binnelandse sake, handel en nywerheid, maatskaplike ontwikkeling en kleinsakeontwikkeling.

KLEINSAKEONTWIKKELING

Prioriteitingrypings om die potensiaal van KMMO's, koöperasies, townships en landelike ondernemings te ontsluit duur voort. Dit sluit in werk ter implementering van die beleid om 30% opsy te sit om KMMO's en koöperasies te ondersteun.

Kleinsake is groot besigheid

Die KMMO’s sal ondersteuning kry deur verhoogde toegang tot markte en finansiering. Rompslomp vir KMMO's sal verminder word en bestaande kleinsakewetgewing sal hersien word.

Betaling van verskaffers

’n Spesiale eenheid is in die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering is gestig om gevalle van laat of wanbetaling aan verskaffers ná 30 dae, ondanks die indiening van 'n wettige faktuur, te ondersoek.

ARBEIDSVERHOUDINGE

Adjunk-president Ramaphosa lei die bemiddelingsproses tussen die sakesektor en arbeid om arbeidsverhoudinge te normaliseer.

Konsensus oor die definisie van 'n nasionale minimum loon is by die Nasionale Raad vir Ekonomiese Ontwikkelings en Arbeid bereik.

Ander meganismes om arbeidskonflik te verminder sluit in 'n ooreenkoms om 'n gedragskode vir stakings, uitsluitings en verpligte arbitrasie te ontwikkel deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

LANDBOU

Aansienlike vordering is gemaak in die ontwikkeling van agri-parke en 43 van die 44 terreine is reeds geïdentifiseer. Een agri-park gaan in Noordwes ontwikkel word.

Die regering gaan voort met die inwerkingstelling van ander belangrike inisiatiewe van die Landbou-aksieplan om groei en werkskepping in die sektor te bevorder.

Die plan sluit in toenemende ondersteuning vir bestaande kleinboere en ondersoek maniere om die aantal landbouprodusente aansienlik uit te brei.

Water en sanitasie

Die regering het water as 'n kritieke hulpbron vir ekonomiese ontwikkeling geïdentifiseer en werk hard aan die inwerkingstelling van die vyfpuntplan vir water en sanitasie.

Die plan behels:

  • instandhouding en opgradering van bestaande water- en sanitasie-infrastruktuur
  • die bou van nuwe damme en ontwikkeling van grondwater
  • verbetering van watergehalte
  • ontwikkeling van slim tegnologie vir inligtingsbestuur in die water-en-sanitasie-sektor 
  • versekering van 'n beter en geïntegreerde regulatoriese beleid soos watergebruiklisensiëring.

Die Wet op Waterdienste, 1997 (Wet 108 van 1997) en die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) gaan hersien word.

Die regering gaan ingryp in om waterlekkasies te herstel wat die land R7 miljard per jaar kos.

Die regering se program om deur die Departement van Waterwese en Sanitasie 15 000 ambagslui op te lei om lekkende krane in hul gemeenskappe te herstel, sal amptelik op 28 Augustus in Port Elizabeth, Oos-Kaap, bekend gestel word. In die finansiële jaar 2015/16 sal 3 000 leerling-ambagslui gewerf word.

Basiese onderwys

Die 2014 jaarlikse nasionale assesseringsresultate dui daarop dat teikens vir Graad 3 in Geletterdheid en Gesyferdheid oorskry is, insluitend Graad 6 Huistaal.

Ongelukkig is prestasie in Graad 6 en 9 vir Wiskunde en die Eerste Addisionele Taal steeds teleurstellend.

Die inwerkingstelling van die strategie vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie sal in alle skole versterk word. Die regering gaan ook seker maak dat daar genoeg bekwame onderwysers is en dat hulle behoorlik opgelei is.

Die verbetering van die kwalifikasies van Graad R-praktisyns gaan ook voort as deel van die langtermynbeleggings in gehalte-onderwys.

GESONDHEID

Die Verenigde Nasies se Vigsprogram het Suid-Afrika geloof vir sy suksesvolle hantering van MIV en vigs.

Die prestasies sluit in uitgebreide toegang tot antiretrovirale behandeling vir mense met MIV en vigs. Tot op hede het 3,1 miljoen mense ARV-behandeling ontvang, meer as die 2014/15-teiken van 3 miljoen.

Die sifting vir tuberkulose is uitgebrei en bereik tans 15,2 miljoen mense, wat meer as die teiken van die 6 miljoen is.

Die stryd teen MIV en vigs duur voort, insluitend die stryd teen die stigma verbonde aan die siekte sodat diegene met die virus produktiewe lewens kan lei.

Nasionale Jeugbeleid (NJB)

Die Kabinet het in  Mei 2015 die NJB aanvaar. Die Presidensiële Jeugwerkgroep (PJWG) is in die lewe geroep wat bestaan uit jeugorganisasies en die regering, gelei deur die Adjunkminister van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie, Buti Manamela. Die PJWG  help om die inwerkingstelling van NJB te koördineer.

Die programme sluit in:

  • opleiding en mentorskap vir jeugentrepreneurs en koöperasies
  • hervorming en hersiening van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema
  • verhoging van inskrywings by universiteite en beroepsopleidingskolleges
  • inwerkingstelling van jeugindiensnemingsprogramme soos die installering van sonkragwaterverwarmers en dekodeerders, en
  • inwerkingstelling van openbare indiensnemingsprogramme en die bevordering van waardes vir die vorming van ideale landsburgers.

MYNBOU

Mynbou is 'n kritieke deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die regering is bekommerd oor moontlike werkverliese in die mynbou- en staalsektore en dat dit 'n negatiewe uitwerking op gesinne, gemeenskappe en die ekonomie sal hê.

Om die huidige werkverliese in die mynbousektor te pak het die Minister van Minerale Hulpbronne, adv Ngoako Ramatlhodi, 'n vergadering met belanghebbendes in die sake- en arbeidsektore van die mynbousektor op 5 Augustus 2015 belê.
Tydens die vergadering is ’n aantal areas geïdentifiseer wat werk kan red en alternatiewe vir werksverliese vind. ’n Taakspan is gestig en getaak om gedetailleerde voorstelle te maak.

Op 7 Augustus het die Presidensiële Sakewerkgroep die regering en die Kamer van Mynwese opdrag gegee om 'n vriendskaplike oplossing buite die howe te vind, wat neerslag sal vind in die idee van "een keer bemagtig, altyd bemagtig" in die mynbouhandves.

Die Wysigingswetsontwerp oor Minerale- en Petroleumhulpbronontwikkeling is na die Parlement terugverwys, aangesien daar nie voldoende konsultasie met die Nasionale Raad van Provinsies was nie.

Die Departement van Minerale Hulpbronne doen steeds bestellings by maatskappye wat nie aan die wet voldoen nie. Die opskorting van die lisensie van Optimum Coal is opgehef en die maatskappy is opdrag gegee om kwessies rakende nie-nakoming op te los.

Operasie Phakisa

Die regering het in 2014 die leweringsmetodologie vir die verkryging van vinnige resultate, oftewel Operasie Phakisa, in die gesondheid- en oseaanekonomiesektore bekend gestel.

’n Mynbou-Phakisa, wat gemik is op die veredeling van minerale, sal teen die einde van die jaar bekend gestel word.

Ondersteuning vir plaaslike regering

Die regering ondersteun tans munisipaliteite in verskeie gebiede om die Terug na die Basiese Beginsels-program in werking te stel wat in September 2014 bekend gestel is om nuwe lewe in plaaslike regering te blaas.

Regeringsliggame en die private sektor is aangemoedig om hul skuld te betaal sodat munisipaliteite doeltreffend kan funksioneer.

Tot op hede skuld munisipaliteite nagenoeg R100 miljard, byna dubbel soveel as sedert 2009.

VEILIGHEID EN SEKURITEIT

Verskeie eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, soos misdaadintelligensie, die taktiese reaksiespan, sigbare polisiëring, die Valke, asook Business Against Crime, selfoonwinkels, die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum en private sekuriteitsmaatskappye, het rooftogte in winkelsentrums suksesvol hanteer.
 
Die polisie het bevind dat die meeste winkelsentrums hoofsaaklik geteiken is om selfoonwinkels te beroof. Die selfone en ander elektroniese toerusting is uit die land gesmokkel. Verskeie verdagtes, insluitend sleutelfigure, is in hegtenis geneem.

Polisiemoorde

Na aanleiding van die dood van 55 polisiebeamptes sedert Januarie vanjaar, het die Minister van Polisie, Nathi Nhleko, versoek dat die polisie se veiligheidstrategie hersien word sodat polisiebeamptes doeltreffend kan reageer wanneer hulle aangeval word.

’n Aanval op polisiebeamptes is 'n aanval op die gesag van die staat en die nasie.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om aktief te help om die aantal aanvalle te verlaag deur mense te identifiseer wat polisiebeamptes vermoor en in hul gemeenskappe woon. Die mense moet voortdurend inligting aan die polisie verskaf oor mense wat by misdaad betrokke is sodat ons gemeenskappe veiliger kan maak.

Die jaarlikse diens om gevalle polisiebeamptes te herdenk sal op 6 September by die Uniegebou in Pretoria gehou word.

Marikana-tragedie

Die inwerkingstelling van die verslag oor die tragiese voorvalle in Marikana, Noordwes, wat tot die dood van meer as 44 mense gelei het, geniet tans die hoogste prioriteit.

Die reaksie van die Nasionale Kommissaris van Polisie, generaal Riah Phiyega, oor die aanbevelings van die Farlam-kommissie betreffende haar geskiktheid om haar amp te beklee geniet tans aandag.

Besprekings duur voort met die ministers wie se portefeuljes deur die Marikana-verslag geraak word, insluitend die Ministers van Polisie, Arbeid, Minerale Hulpbronne, Justisie
en Korrektiewe Dienste.

Terugvoer oor die vordering met die inwerkingstelling van die aanbevelings sal binnekort gegee word. Alle ingrypings is daarop gemik om te verseker dat so 'n voorval nooit weer plaasvind nie.

Aanvalle op buitelandse burgers

Na aanleiding van die aanvalle op buitelandse burgers in April vanjaar probeer die IMK oor Migrasie alles in sy vermoë doen om 'n herhaling van die gebeure te voorkom.

Maatreëls wat getref word, sluit in wetgewende en regulatoriese hervorming, verbeterde polisiëring deur Operasie Fiela-Reclaim, en die bevordering van vreedsame naasbestaan en samesyn tussen die landsburgers en buitelandse burgers.

Die IMK oor Migrasie sal verteenwoordigers van buitelandse en burgers van Afrika ontmoet om die besprekings wat President Zuma in April 2015 gevoer het, verder te neem.

'N BETER AFRIKA

Vinniger groei op die vasteland bied geleenthede vir groter produk- en diensmarkte. Groei in Afrika suid van die Sahara sal na verwagting 4,5% in 2015 bereik.

In dié opsig fokus die SAOG op die finalisering van die nywerheidsbeleid vir die streek.

Suid-Afrika sal aanhou werk binne die Afrika-unie en SAOG om deel te neem aan die vestiging van vryehandelsgebiede en industrialiseringstrategieë in Afrika.

Share this page

Similar categories to explore