Die Regering se uiteenlopende reklamebesteding deur Minister Faith Muthambi

As Minister van Kommunikasie wil ek  graag die feite regstel oor 'n holruggeryde mite wat  die afgelope drie jaar telkens deur die DA as 'n parlementêre vraag geopper word. Dit hou verband met die Regering se reklamebesteding wat deur die Departement van Kommunikasie bestuur word. Die DA beweer dat die Regering "staatvriendelike media" beloon. Op Donderdag, 29 Januarie, nadat ek 'n uiteensetting van regeringsbesteding deur die Departement van Kommunikasie uitgereik het, is hierdie dwaalstorie weer opgedis, dié keer onder die naam van Gavin Davis.

Dit is duidelik dat die Agbare Davis, DA Parlementslid (LP), 'n oppervlakkige begrip van reklamekommunikasie het en kwaadwillig is in sy pogings om sy voor die hand liggende vooroordeel teen die media in swart besit tot 'n valse argument te vervorm om sy eie agenda te bevorder. Selfs net 'n terloopse kennis van koerante se verspreidingsvoetspoor, lesersdemografie en redaksionele inhoud sou die ooglopende foute in die agbare lid se bewerings voorkom het.

Om die waarheid te sê, is The New Age op grond van die toonaard van sy dekking veel nader aan Business Day in sy redaksionele balans. Navorsing wat deur 'n internasionaal bekende maatskappy, Media Tenor, gedoen is, het gelei tot 'n verslag waarin die positiewe verslagdoening oor president Zuma vir die tydperk Julie 2014 tot Januarie 2015 ontleed is. Die verslag toon aan dat 10% van The New Age se artikels positief oor president Zuma berig, vergeleke met 9% van Business Day se verslagdoening wat positiewe inhoud oor die president bevat. Moet ons dan nou hieruit aflei dat Business Day 'n propaganda-platform of pro-president Zuma is?

Om besluite in 'n dinamiese media-omgewing te neem, baseer die Departement van Kommunikasie se interne media-aankoopspan sy strategiese regeringsmedia-aankope op Telmar Media se suite van wêreldwye toonaangewende media-reklamesagteware en -dienste vir optimale omvang, frekwensie en optimalisering. Telmar se 10 000 gebruikers in 85 lande sluit talle van die wêreld se toonaangewende reklame-agentskappe, digitale en gedruktemedia-uitgewers, uitsaaiers en adverteerders in. Die interne media-aankooppersoneel woon gereeld SAARF- en Telmar-geakkrediteerde opleiding by, en is ook lede van die Suid-Afrikaanse Reklamemediavereniging (AMASA).

The New Age – 'n koerant met 'n nasionale verspreidingsvoetspoor, word verkeerdelik vergelyk met metropolitaanse koerante (soos The Herald – Nelson Mandelabaai, The Mercury – Durban, Pretoria News – Pretoria) wat in duidelik gedefinieerde streeksmarkte meeding. As ons die Agbare Davis se argument moet volg, sal die Regering in meer metropolitaanse koerante – in al die provinsies – moet adverteer  om die voetspoor van The New Age te ewenaar, teen 'n groter koste as dié van advertensies in The New Age. Die feit is dat The New Age in nege provinsies versprei word, met ses streeksuitgawes. Elke daaglikse uitgawe van The New Age het 'n toegewyde provinsiale-fokusbladsy waar plaaslike nuus uitgelig word, bykomend tot sy dekking van nasionale en internasionale nuus. 

Die Regering gebruik massakommunikasie om sy mandaat om met die grootste moontlike omvang van Suid-Afrikaners te kommunikeer, te vervul. Agbare Davis erken self dat die Regering 248 koerante gebruik om die publiek oor sy programme in te lig, maar verswyg gerieflikheidshalwe dat die Regering deur sy advertensies die grootste ondersteuner van gedrukte media is.  Dit is onbegryplik dat die agbare lid voortgaan om halwe waarhede oor die grootte van The New Age se gehoor te verkondig. Sy leserstal van 153 000 sluit die bykomende 621 000 kykers uit  wat deur AMPS gemeet is vir sy TNA Briefings – 'n regstreekse uitsending wat belanghebber-interaksie, sy leserstal vir gedrukte media en sosiale media-volgelinge met nasionale televisiedekking kombineer.

Ek nooi Agbare Davis uit om ons hoofkantoor, Tshedimosetso House, te besoek; die naam is 'n Setswana-woord wat insig, leer, inligting, of belesenheid beteken (hy sien dalk nie die ironie van die naam in nie) om 'n les of twee te leer van die plaaslike talent wat in die Departement van Kommunikasie se media-aankoopafdeling werk. Dit kan hom dalk genees van sy impulsiewe reaksie om sameswerings te sien waar dit nie bestaan nie.

Navrae:
Ayanda Hollow
Sel: 061 488 0634

Share this page

Similar categories to explore