Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag 23 September 2020

A. Kwessies in die omgewing

1. Jongste nuus oor die Koronavirussiekte (COVID-19)

1.1. In sy toespraak op Woensdag 16 September 2020, het President Cyril Ramaphosa aangekondig dat die land op Maandag 21 September 2020 na waarskuwingsvlak 1 van die nasionale inperking sal skuif. Dit open meer ekonomiese aktiwiteite in die land, wat ’n beduidende bydrae sal lewer om die ekonomie weer op dreef te kry, groei te herstel en broodnodige werk te skep.

1.2. Die President se aankondiging, is deur alle sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing – insluitend arbeid, sake, die burgerlike samelewing en politieke groeperings – verwelkom.

1.3. Die bepalings van die nasionale ramptoestand wat uitvoering gee aan die Presidents se aankondigings, is op Vrydag 18 September 2020 in die Staatskoerant gepubliseer. Die nuwe regulasies het sekere beperkings verslap wat sedert Maart 2020 ingestel is om die verspreiding van die virus te stuit. Dit sluit onder meer die toelaatbare aantal mense by openbare byeenkomste, geleenthede en begrafnisse in, sowel as die opening van grense vir reis binne Afrika en internasionaal, vanaf 1 Oktober 2020.

1.4. Die Kabinet moedig verdere oorlegpleging met die tradisionele leierskap aan om kwessies rondom inisiasieskole en -praktyke, wat steeds tydens waarskuwingsvlak 1 verbode is, te bespreek. Meer inligting oor die regulasies is beskikbaar op die regering se webwerf (www.gov.za).

1.5. Die Kabinet doen 'n beroep op almal in Suid-Afrika om steeds die COVID-19-gesondheidsprotokolle na te kom, insluitend sosiale afstandhouding, die dra van 'n masker in die openbaar en gereelde hande was met seep en water of 'n handreiniger met ’n alkoholbasis te gebruik.

1.6. Die Kabinet moedig die publiek ook aan om die COVID Alert selfoon-app van die Apple App Store of Google Play Store af te laai. Die app – waarop mobiele netwerke ’n nul-tarief gehef het en dus sonder enige datakoste afgelaai kan word – sal kontakopsporing verbeter deur gebruikers te waarsku as hulle noue kontak gehad het met ander gebruikers wat die afgelope 14 dae positief vir COVID-19 getoets het. Die app versamel geen persoonlike inligting nie en spoor ook nie 'n gebruiker se ligging op nie.

2. Geslagsgebaseerde geweld (GGG) en vrouemoord

2.1. Die Kabinet bly vasberade om die plaag van GGG en vrouemoord te bestry deur die strukture van die regering se veiligheidsgroepering; die wetgewende raamwerk; en die voorsiening van psigososiale ondersteunings- en voorspraakprogramme binne gemeenskappe te versterk.

2.2. Op grond van data wat deur die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) verkry is, het die regering 30 GGG- en vrouemoord-brandpunte regoor die land geïdentifiseer. Die Kabinet het die betrokke gemeenskappe verseker dat ingrypingsmaatreëls versterk sal word om die beskerming en veiligheid van vroue en kinders te verseker.

2.3. Die Kabinet verwelkom en waardeer die Verenigde Koninkryk se skenking van R50 miljoen, wat die Solidariteitsfonds se voortgesette pogings om die ekonomiese verwoesting wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is, teë te werk. Die fondse sal hoofsaaklik aangewend word vir projekte wat vroue ondersteun.

2.4. Die Kabinet spreek sy kommer uit oor ontstellende berigte van mensehandel, wat vroue en kinders in die land raak. Die polisie is besig om alle aangemelde sake wat met mense- en dwelmhandel verband hou, op te volg en te ondersoek.
2.5. Die Kabinet doen 'n beroep op die publiek om hierdie gruwelike misdade onmiddellik by die polisie aan te meld in plaas daarvan om sosiale media-platforms te gebruik, wat dit vir wetstoepassingsagentskappe moeilik maak om vinnig en doeltreffend te reageer. Die publiek word weereens gewaarsku om nie vals nuus, wat onnodige paniek kan saai, emosies kan laat opvlam en geweld in ons samelewing kan aanhits, te verkondig nie.

2.6. Enigeen met inligting moet die SAPS op die Crime Stop-nommer 08600 10111 kontak, of die gratis MySAPS-app gebruik, wat op enige iPhone of slimfoon afgelaai kan word.

3. Vernietiging en diefstal van openbare infrastruktuur

3.1. Die Kabinet verwelkom die onlangse inhegtenisneming van verdagtes in Johannesburg en Kaapstad wat betrokke was by die steel van koperkabels en spoorwegseinkabels. Die polisie het ook vinnig opgetree om mense in hegtenis te neem wat by die vernietiging van die hoofstraat in Msinga, KwaZulu-Natal betrokke was.
3.2. Die Kabinet loof die polisie se deurbraak rakend die diefstal en vandalisering van spoorweginfrastruktuur; dit is 'n ernstige misdaad wat tot die verlies van onskuldige lewens weens treinbotsings gelei het.
3.3. Openbare infrastruktuur bly die hoeksteen van ons ekonomie. Dit is 'n kritieke komponent in ons strewe om die ekonomie te laat groei en broodnodige werk te skep. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie kriminele aktiwiteite by die polisie aan te meld.  

4. Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) se aanlyndiens

4.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van SASSA se aanlynportaal vir toelae-aansoeke, wat dit moontlik maak om aansoeke op https://services.sassa.gov.za in te dien. Die portaal – wat aanvanklik geloods sal word vir kindersorg-, pensioen- en pleegkindertoelaes – sal vir potensiële begunstigdes vervoerkoste bespaar, en sal die ongerief om in toue te staan uitskakel.

4.2. Die Kabinet moedig nuwe aansoekers aan om van hierdie selfdiens gebruik te maak, omdat dit ook sal help om die potensiële risiko om COVID-19 op oorvol openbare plekke op te doen, uitskakel.

5. Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering (UNGA)

5.1. President Ramaphosa het op Dinsdag 22 September 2020 aan die virtuele debat van UNGA se 75ste sitting deelgeneem onder die tema: “Die toekoms wat ons wil hê, die VN wat ons nodig het: die bevestiging van ons kollektiewe verbintenis tot multilateralisme”.

5.2. Die Kabinet bepleit dat die herdenking gebruik moet word as 'n geleentheid om broodnodige hervormings in die VN se Veiligheidsraad te bewerkstellig om die werklikhede van die moderne wêreld te weerspieël.

5.3. Suid-Afrika sal in Desember 2020 vir 'n tweede keer as voorsitter van die VN se Veiligheidsraad dien, aangesien die land sy derde termyn as 'n verkose lid van die Veiligheidsraad voltooi.

6. G20 se ministeriële beraad oor handel en belegging

6.1. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die G20 se ministeriële beraad oor handel en belegging, wat op Dinsdag 22 September 2020 virtueel deur Saoedi-Arabië aangebied is. Die vergadering het ministers van handel van belangrike ekonomieë, waaronder die Verenigde State, China, Japan, Indië, Brasilië en Duitsland, bymekaar gebring. Suid-Afrika is deur die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, verteenwoordig.

6.2. In sy verklaring het die vergadering die belangrikheid van ekonomiese diversifikasie uiteengesit, wat die grondslag lê vir die ondersteuning van die land se binnelandse vervaardigingsvermoëns in kritieke sektore, waaronder farmaseutiese produkte en voedsel.
6.3. Die vergadering het ook maatreëls vir die bevordering van die ekonomiese bemagtiging van vroue, sowel as mikro-, klein en medium ondernemings, ondersteun, en die risiko's van onwettige handel bespreek.

7. Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) se Raad van Ministers Vergadering

7.1. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van SADU se Raad van Ministers Vergadering wat op Maandag 21 September 2020 gehou is. Die ministers van finansies en handel van Namibië, Botswana, Eswatini, Lesotho en Suid-Afrika het die vergadering, onder voorsitterskap van die Minister van Finansies, Tito Mboweni, bygewoon. Suid-Afrika is deur Minister Patel verteenwoordig.

7.2. Die Raad van Ministers het die rol van SADU in die konteks van die nuwe kontinentale vryhandelsooreenkoms vir Afrika oorweeg. Daar is besluit dat die raad sy toekomstige werk op die bou en ontwikkeling van SADU-lande tot 'n sterker produksie- en innovasie-spilpunt, wat goedere en dienste regoor die vasteland kan lewer, sal toespits. 

B. Kabinetsbesluite

1. Presidensiële Kommissie oor die Verslag van die Vierde Industriële Revolusie (PC4IR)

1.1. Die Kabinet keur goed dat die PC4IR-verslag in die Staatskoerant gepubliseer word. Die verslag maak voorstelle om die land se industrialisasiedoelwitte te versterk en ons wêreldwye en kontinentale ekonomiese mededingendheid te verbeter om groei in te verhoog.

1.2. Belangrike dryfvere vir die PC4IR-strategie sluit in ekonomiese mededingendheid, reaksie op diensleweringsuitdagings, belegging in menslike kapasiteit en die reaksie op COVID-19.
1.3. Dit gee uitvoering aan die President se 2018-Staatsrede, waarin hy opdrag gegee het dat 'n kommissie vir digitale industriële revolusie op vinnige tegnologiese vooruitgang moet reageer om die land se welvaart te verseker.

2. Vervoermaand 2020-veldtog

2.1. Die Kabinet keur die program vir die Oktober 2020 Vervoermaand-veldtog goed onder die tema: "Saam Vorm ons die Toekoms van Vervoer”. Die Kabinet het in 2005 goedgekeur dat Oktobermaand aan die bewusmaking van vervoer as een van die belangrikste ekonomiese aktiveerders gewy sal word.

2.2. Vanjaar se program fokus op drie kwessies, naamlik (1) ontwikkelings in die vervoersektor met die heropening van die ekonomie in die lig van COVID-19; (2) die veiligheid van alle vervoermetodes; en (3) transformasie, bemagtiging en formalisering van die taxibedryf.

2.3. Die nasionale maandlange program fokus op die verskillende sektore van die vervoerbedryf. Dit sal einde Oktober tot die Nasionale Taxi-lekgotla lei, wat insette van die Provinsiale Taxi-makgotla sal konsolideer. 

C. Wetsontwerpe

1. Wysigingswetsontwerp op Korrektiewe Dienste van 2020

1.1. Die Kabinet keur die indiening van die Wysigingswetsontwerp op Korrektiewe Dienste van 2020 aan die Parlement goed. Die wysigings is hoofsaaklik in reaksie op die uitspraak van die Konstitusionele Hof, wat in die Phaahla-uitspraak op 3 Mei 2019 gelewer is.

1.2. Die wysigings verskans die reg op 'n billike verhoor soos beoog in Artikel 35(3)(n) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, in die toepassing van Artikel 136 (1) van die Wet op Korrektiewe Dienste, 1998 (Wet 111 van 1998).

2. Wysigingswetsontwerp op die SAPD van 2020

2.1. Die Kabinet keur die publikasie van die wetsontwerp in die Staatskoerant vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp wysig die SAPD-wet, 1995 (Wet 68 van 1995), sodat dit met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 ooreenstem en om optimale polisiëring te verseker.

2.2. Dit bied onder meer 'n wetlike raamwerk vir die bestuur van die polisiediens en die totstandkoming van gemeenskapsgegronde buurtforums. Die wetsontwerp neem ook die aanbevelings wat uit die Marikana-kommissie van Ondersoek onder leiding van afgetrede Regter Ian Farlam gespruit het, in ag.

D. Toekomstige gebeure

1. Erfenisdag

1.1. Erfenisdag word vandag, 24 September 2020, gevier met die tema: “Vier Suid-Afrika se lewende menslike skatte”. President Ramaphosa sal die nasie deur ’n televisie-opname toespreek.

1.2. Suid-Afrikaners word aangemoedig om ons ryk kulturele erfenis gedurende Erfenismaand te vier en om betrokke te raak by aktiwiteite wat die nasie opbou en sosiale samehorigheid bevorder. President Ramaphosa moedig Suid-Afrikaners ook aan om deel te neem aan die globale Jerusalema-fenomeen en op Erfenisdag mee te doen aan dié dansuitdaging. 

1.3. Die Kabinet waardeer die vindingrykheid van Master KG (gebore Kgaogelo Moagi), wat die gewilde liedjie, Jerusalema, met die sanger en liedjieskrywer Nomcebo Zikode, vervaardig het. Die Kabinet bedank hulle dat hulle die land se artistieke musikale vaardighede en vermoëns deur hierdie lied, wat wêreldwyd met ongekende geesdrif otvang word, na vore bring. Hulle is ons amptelike ambassadeurs vir kuns en kultuur in die wêreld.

E. Boodskappe

1. Medelye

Die Kabinet betuig sy medelye met die families en vriende van:

1.1. Veteraanspeurder, Luitenant-kolonel Charl Kinnear, wat buite sy huis in Bishop Lavis in Kaapstad vermoor is. Hy het drie dekades van sy lewe aan die SAPD gewy en het georganiseerde misdaad in die land ondersoek.

1.2. Sersant Thabile Mapoma, wat koelbloedig in Khayelitsha in die Wes-Kaap vermoor is.

1.3. Uitvoerende Raadslid van SA Rugby, Mnr. Monde Tabata, wat 60 jaar oud was. Mnr. Tabata was passievol oor ’n inklusiewe en suksesvolle toekoms vir rugby in Suid-Afrika.

1.4. Eerwaarde Emmanuel Motolla van die Zion Christian Church (ZCC). Die Kabinet betuig ook sy medelye met die lede van die ZCC en wens hulle sterkte toe in hierdie moeilike tyd.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Kleinsake-finansieringsagentskap (Sefa):

a. Mnr. Mxolisi Dalukhanyo Matshamba as die Hoof Uitvoerende Beampte;
b. Me. Sedzani Mudau (Nie-uitvoerende Direkteur in die Sefa-direksie);
c. Me. Ziyanda Buthelezi-Ngcobo (Nie-uitvoerende Direkteur op die Sefa-direksie); en
d. Me. Hilda-Marie Tsoadi (verteenwoordiger van die Nywerheid-ontwikkelingskorporasie in die Sefa-direksie)

2.  Kleinsake-ontwikkelingsagentskap (Seda):

a. Dr. Joy Ndlovu as Voorsitter van die Seda-direksie; en
b. Dr. Stella Bvuma (Nie-uitvoerende Direkteur op die Seda-direksie).

3. Verlenging van die vastetermyn-dienskontrak van mnr. Ian van Niekerk as Hoof Finansiële Beampte van Broadband Infraco.
4. Mnr. Molatlhegi Khunou Kgauwe as Hoof Finansiële Beampte van die Staat se Inligtingstegnologie-agentskap.
5. Me. Marelize Potgieter as Adjunk-direkteur-generaal (ADG) Hofadministrasiedienste by die Kantoor van die Hoofregter.
6. Mnr Brightboy Nhlakanipho Nkontwana as ADG: Onderhandelinge, Arbeidsverhoudinge en Vergoedings by die Departement van Staatsdiens en Administrasie.

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore