Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 11 Mei 2022

A.    Kwessies in die Omgewing

1.    Rampbestuur na aanleiding van die vloede
1.1.    Die Kabinet het hul medelye uitgespreek met almal wat geliefdes verloor het tydens die onlangse verwoestende vloede wat verskeie dele van die land geraak het, in besonder KwaZulu-Natal. 
1.2.    Die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand en sosio-ekonomiese hulpingrypings wat onlangs deur President Cyril Ramaphosa aangekondig is, het ten doel om doeltreffende en gekoördineerde teenmaatreëls regoor alle regeringsfere te verseker, by wyse van die nasionale rampbestuursentrum.
1.3.    Die R1 miljard wat beskikbaar gestel is deur die regering word aangewend om verligtings- en herstelpogings te steun, basiese dienste weer beskikbaar te stel en humanitêre steun te lewer by wyse van voedsel, water, skuiling, sanitasie en klere. 
1.4.    Die proses om areas wat deur die vloede geraak is, te herbou, het reeds begin, met ons land se mense wat verenig is in hul vasberadenheid om hulp te verleen aan diegene wat hul huise en besittings verloor het. 

2.    Nuutste oor die koronavirussiekte (KOVID-19) 
2.1.    Die Kabinet is besorg oor die onlangse skerp styging in KOVID-19-infeksies in sommige dele van die land en spoor alle burgers aan om voorkomingsmaatreëls te tref om hulself teen die virus te beskerm, veral tydens die winterseisoen. 
2.2.    Die virus is steeds ʼn bedreiging en inenting bied die mees doeltreffende beskerming daarteen. Die Kabinet is daarmee genoë dat al meer en meer mense kies om ingeënt te word vir beskerming teen die virus, na aanleiding van onlangse statistieke wat getoon het dat ons die mylpaal van meer as 50% van volwasse inentings in vyf provinsies bereik het. 
2.3.    Die Kabinet doen ʼn beroep op almal wat nog nie ingeënt is nie, om ingeënt te word om hulself en hul geliefdes te beskerm. Ons moet ook alle KOVID-19-voorkomingsmaatreëls volg, insluitend die dra van gesigmaskers wat beide neus en mond bedek, gereelde handewas met seep en water of ʼn 70%-alkoholgebaseerde handsaniteerder, en om ʼn veilige sosiale afstand van minstens een meter van ander mense te handhaaf. 

3.    Maatskaplike verligting van nood-toelae
3.1.    Die Kabinet moedig burgers wat die R350 maatskaplike verligting van nood-toelae ontvang om weer daarvoor aansoek te doen, na aanleiding van die nuwe regulasies wat aansoeke en kwalifisering vir die toelae reguleer. 
3.2.    Aansoeke kan ingedien word op die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) se webwerf://srd.sassa.gov.za/. Die stelsel vir aansoeke het op 23 April 2022 in werking getree en die proses is ten volle digitaal om vinnige omkeertye te verseker. 
3.3.    Die toelae is ʼn belangrike veiligheidsnet vir behoeftige gesinne wat andersins nie die mas sou opkom onder die juk van armoede en werkloosheid nie. Die regering is daartoe verbind om maatskaplike steun te lewer aan die mees weerlose mense in ons samelewing sodat daar aan hule basiese behoeftes voldoen word. 

4.    Veiligheid en sekuriteit
4.1.    Die Kabinet verdoem steeds die sinnelose moor van vroue en het die spoedige aksie van wetstoepassingsagentskappe in die inhegtenisname van verdagtes in die moord op me. Hillary Gardee (28) van Kamagugu in Mpumalanga verwelkom. Die Kabinet verdoem verder ook die moord op ses mense in Khayelitsha, Kaapstad. Hierdie sinnelose moorde dien as herinnering daaraan dat ons as ʼn samelewing meer moet doen om geweld en geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) te verhoed. 
4.2.    Die Kabinet spoor alle landsinwoners aan om hul samewerking aan die regering te gee in die stryd teen misdaad en GGGV. Saam kan ons verseker dat ons gemeenskappe en strate veilig is vir alle mense, insluitend bejaardes, vroue en kinders. 

5.    Ekonomie
5.1.    Die Kabinet verwelkom die amptelike opening van Corobrik se Kwastina-baksteenvervaardigingsfabriek in Driefontein in Gauteng, behartig deur President Ramaphosa op Woensdag, 4 Mei 2022. Die ultra-moderne fabriek vorm deel van ʼn belegging van R800 miljoen, tesame met ʼn verdere R200 miljoen wat daarvoor geoormerk is om Corobrik se betonhandel in KwaZulu-Natal uit te brei. Corobrik is een van verskeie plaaslike ondernemings wat gereageer het op President Ramaphosa se beroep op Suid-Afrika en buitelandse ondernemings om in ons ekonomie te belê. 
5.2.    Die Kabinet neem daarvan kennis dat die ontluikende waterstofekonomie ʼn hupstoot ontvang het danksy die loods van ʼn trok wat waterstof as brandstof gebruik, deur Anglo American. Die trok – wat vanaf diesel na waterstof aangepas is en deels krag trek vanaf litium-ioon batterye – is een van die eerste van sy soort in die wêreld. Die waterstofekonomie is identifiseer as ʼn strategiese prioriteit vir ons land se groen ekonomie en as noodsaaklik om ekonomiese groei en werkskepping aan te dryf. 
5.3.    Die Kabinet verwelkom ook ʼn verdere belegging in ons ekonomie deur die Ierse voedselmaatskappy The Kerry Group, wat ʼn nuwe uitleg ter waarde van R650 miljoen in Hammarsdale, KwaZulu-Natal geopen het met die doel om volhoubare voedsel vir die kontinent te produseer. Die uitleg is uniek synde dit spog met verskeie volhoubare eietrekke insluitend lae-energieverbruiktoerusting, sonkragopwekking op verbruik op die plaaslike netwerk te verminder, die herwinning van verspilde hitte, asook die herwinning, herbruik en verminderde gebruik van water. Die Kerry Group is sedert 2011 werksaam in Suid-Afrika en hul verdere belegging is ʼn teken dat Suid-Afrika ʼn voorkeur-beleggingsbestemmig is. 
5.4.    Hierdie beleggings volg in die voetspore van die loods van die plaaslikvervaardigde Isuzu D-Max-bakkie laasmaand in Gqeberha in die Oos-Kaap. Die nuwe-generasie D-MAX bekroon Isuzu se verbintenis tot Suid-Afrika en is een van die suksesse wat behaal is onder die vaandel van die voertuigvervaardigingsontwikkelingsprogram (oftewel Automotive Production Development Programme [APDP]). Die APDP is ʼn vervaardigingsaanporingskema vir die voertuigbedryf wat gemik is op die bevordering van vervaardigingsvolumes in die aangewese motorvoertuigbedryf, wat voorts ook toegevoegde waarde bevorder en op dié manier werkskepping regoor die voertuigwaardeketting aanspoor. Plaaslike vervvardiging van inhoud van nagenoeg R2.8 miljard sal tydens die lewensiklus van die APDP plaasvind. Die belegging sal meer as 1 000 direkte poste by die uitleg skep en 24 000 mense indirek van werk voorsien, wat ʼn aansienlike bydrae tot die opheffing van die plaaslike gemeenskap sal lewer. 

6.    Mynwese-indaba
6.1.    Die “Investing in African Mining” Indaba 2022 het vanaf 9 tot 12 Mei by die Kaapstad internasionale konferensiesentrum plaasgevind. Dit is een van die grootste platforms vir interaksie en samewerking tussen belanghebbendes in die mynwese-sektor. Die tema vir die indaba was “Evolusie van die Mynwese in Afrika: Belegging in die Oordrag van Energie, ESG en die Ekonomieë”.
6.2.    Die Kabinet is vol vertroue dat die mynwese-indaba by sal dra tot die tentoonstelling en bevording van Suid-Afrika as ʼn voorkeur-beleggingsbestemming.
6.3.    Suid-Afrika verwelkom beleggings in ons land en is daartoe verbind om gunstige toestande te skep vir inklusiewe groei en transformasie in die ekonomie. 

7.    Internasionale en streeksbande
7.1.    Die Kabinet verwelkom ook President Ramaphosa se onlangse interaksies met onderskeidelik President Joe Biden van die Verenigde State, President Emmanuel Macron van Frankryk en President Hakainde Hichilema van Zambië, wat op verskillende platforms plaasgevind het.
7.2.    Hierdie geleenthede het aan die president die geleentheid gebied om bilaterale verhoudinge en samewerking tussen Suid-Afrika en ons vennootslande te versterk ten opsigte van streeks- en internasionale sake van sleutelbelang, insluitend ʼn vreedsame oplossing tot die konflik in die Oekraïene. 

B.    Kabinetsbesluite

1.    Begrotingstem
1.1.    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle burgers om die onderskeie begrotingstemme deur die nasionale staatsdepartemente en die Presidensie te volg sodat hulle die regering tot verantwoording kan roep. 
1.2.    Tydens die begrotingstem lewer alle departemente ʼn gedetailleerde verslag van hul beplanning en prioriteite vir die jaar. Die begrotingstem het ten doel om te verseker dat openbare fondse doeltreffend bestee word om die behoeftes van die publiek te vervul. 
1.3.    Die begrotingstem verskaf ook die ideale platform vir ministers om uit te wy oor die werkverrigting van die regering, insluitend suksesse en uitdagings. 

2.    Vloeibare petroleumgas (VPG) uitrolstrategie 
2.1.    Die Kabinet keur die VPG-uitrolstrategie goed vir implementering. Die strategie is in Maart 2022 gepubliseer vir openbare konsultasie. Die strategie het ten doel om die VPG-bedryf in die land uit te brei. VPG sal ʼn betekenisvolle bydrae lewer tot die diversifikasie van energiebronne. 
2.2.    Die strategie sal ingrypings soos die regulering van pryse in die waardeketting en die steun van die vervaardiging van VPG-silinders in die land implementeer. Dit sal ook die publiek inlig oor die voordele van die gebruik van VPG as ʼn alternatiewe vorm van energie. 
2.3.    Die strategie sal beskikbaar wees aan die publiek sodra dit deur die departement van minerale hulpbronne en energie gepubliseer word op www.dmr.gov.za.

3.    Nasionale strategiese raamwerk vir die bewusmakingsveldtogte van die regte van mense met gestremdhede 
3.1.    Die Kabinet keur die nasionale strategiese raamwerk vir die bewusmakingsveldtogte van die regte van mense met gestremdhede goed. Die raamwerk het ten doel om leiding te bied aan beide die privaatsektor en die openbare sektor om te verseker dat die regte van mense met gestremdhede beskerm word, soos vasgelê in die Grondwet van Suid-Afrika. 
3.2.    Die raamwerk voorsien die nodige instrumentasie om diskriminerende versperrings in besluitneming te verwyder, veral rakende mense met gestremdhede. Dit bemagtig ook mense met gestremdhede om hul regte te ken, soos beskerm deur die Grondwet. Die raamwerk verskaf voorts ook opleiding, mediaverslaggewing en bewustheidskepping in die samelewing rakende die regte van mense met gestremdhede. 
3.3.    Dit bekragtig die Witskrif oor die Regte van Mense met Gestremdhede. Suid-Afrika is ʼn ondertekenaar van die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie vir die Regte van Mense met Gestremdhede asook die VN Protokol vir die Afrika Handves vir Menseregte vir die Regte van Mense met Gestremdhede (oftewel die African Disability Rights Protocol).
3.4.    Die raamwerk is bespreek met alle belanghebbendes, insluitend die nasionale raad vir ekonomiese ontwikkeling en arbeid (Nedlac).

4.    Spitsberaad vir grond-administrasie en eiendomsreg in kommunale areas 
4.1.    Die Kabinet het die spitsberaad vir grond-administrasie en eiendomsreg in kommunale areas wat op Vrydag, 27 Mei 2022 en Saterdag, 28 Mei 2022 in Gauteng sal plaasvind, goedgekeur. 
4.2.    Die Kabinet het in Maart 2021 die standpuntskrif vir grond administrasie en eiendomsreg in kommunale areas aanvaar. Die Kabinet het kennis gegee dat verdere konsultasie met alle belanghebbendes moet plaasvind. 
4.3.    Die spitsberaad sal die slotsom wees van die werk wat in die afgelope jaar verrig is, waartoe verskeie insethouers bygedra het. 

C.    Toekomstige Gebeure

1.    Vyfde Wêreldkonferensie oor die uitwissing van kinderarbeid 
1.1.    Suid-Afrika sal vanaf Sondag, 15 Mei 2022 tot Vrydag, 20 Mei 2022 gasheer speel vir die vyfde wêreldkonferensie oor die uitwissing van kinderarbeid, wat sal plaasvind by die Durban internasionale konferensiesentrum. Dit sal die eerste keer wees wat die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) hierdie konferensie in Afrika hou. 
1.2.    Verskeie staatshoofde, 120 ministers, drieledige kiesers vanuit 187 lidlande van die IAO, VN-agentskappe, akademiese instellings, burgerlike samelewingsorganisasies, nie-staatsinstellings, die media en die burgerlike samelewing sal die konferensie bywoon. 
1.3.    Die konferensie sal ook aan Suid-Afrika die geleentheid bied om die land se Grondwet voor te hou, veral met betrekking tot die hoë mate waartoe dit die regte van kinders beskerm. Die land sal met verskeie lande wat ons vooruit is in die uitwis van kinderarbeid in gesprekvoering tree en by hulle leer. 

2.    Distriksontwikkelingsmodel (DDM) presidensiële imbizo
2.1.    President Ramaphosa sal op Vrydag, 20 Mei 2022 ʼn DDM presidensiële imbizo in Mpumalanga hou met die tema: “Laat niemand agter nie”. As ʼn belangrike openbare platform bied die imbizo aan die President die geleentheid om direk met verskeie insethouers te skakel – veral plattelandse gemeenskappe – en te luister na die kwessies en uitdagings wat hulle ervaar met die oog daarop om dit aan te spreek. 
2.2.    Die DDM presidensiële imbizo het ten doel om blokkasies tot geïntegreerde dienslewering te ontsluit en openbare deelname, soos belyn met die DDM, te bevorder.
2.3.    Suid-Afrikaners kan nou gesprekvoering en bespreking op sosiale media volg en self daaraan deelneem met die hutsmerk #PresidentialImbizo.

3.    Afrika-maand 
3.1.    Die viering van die jaarlikse Afrika-maand en Afrika-dag op Woensdag, 25 Mei 2022 sal plaasvind met die tema: “Die Jaar van Voeding: Die Versterking van die Veerkragtigheid van Voeding en Voedselsekerheid op die Kontinent van Afrika”. 
3.2.    As deel van die langtermynvisie wat in Agenda 2063 uiteengesit is (Agenda 2063 is Afrika se ontwikkelingsbloudruk om inklusiewe en volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling oor 50 jaar te bereik), fokus die tema op die potensiaal van die mense van Afrika, met klem op vroue, jeugdiges en kinders. Hierdie is van sleutelbelang tot ontwikkeling aangesien dit lei tot verbeterde lewens vir individue, hoër verdienste en verbeterde inkomstes vir lande.
3.3.     ʼn Vername hoogtepunt in Afrika-maand se feesvieringe is Afrika-kommunikasieweek, wat vanaf 23 Mei 2022 tot 27 Mei 2022 by Konstitusieheuwel in Johannesburg sal plaasvind.
3.4.    Afrika-maand is ʼn geleentheid om Afrika-unie en dieper streeksintegrasie te bevorder en Afrika opnuut te verbind tot ʼn gedeelde lotsbestemming. Die Kabinet herinner almal daaraan dat ons nasionale belange ineengevleg is met Afrika se stabiliteit, eenheid en welstand. 

D.    Boodskappe

1.    Medelye
    Die Kabinet spreek hul medelye uit met die familie en vriende van: 

  • Me. Phindile Xaba (53), wat ʼn lang en befaamde loopbaan in die mediabedryf gehad het, beide in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy het onvermoeid gewerk om by te dra tot die vooruitgang van ons land.
  • Ambassadeur Silumko Sokupa (74), wat in verskeie poste die Staatsekuriteitagentskap gedien deur die loop van sy lang en bekroonde loopbaan in die Staatsdiens.
  • Prof. Francis Wilson (83), ʼn vername ekonoom en stigter van die Suider-Afrikaanse Arbeids- en Ontwikkelingseenheid (SALDRU).
     

E.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.    Dr. Kesavan Naidoo as Adjunkdirekteur-Generaal (ADG) vir institusionele ontwikkeling (oftewel Institutional Development) by die departement van samewerkende regering (DSR).
2.    Mnr. Siphosihle Emmanuel Hlomuka as ADG vir ondersteuning en ingrypings in plaaslike regering (oftewel Local Government Support and Interventions Management) by die DSR. 
3.    Mnr. Risimati Patrick Mathye as ADG vir water- en sanitasiedienstebestuur (oftewel Water and Sanitation Services Management) by die departement van water en sanitasie (DWS). 
4.    Mnr. Collin Xolani Zwane as ADG vir regulering, gehoorgewing en toepassing (oftewel Regulation, Compliance and Enforcement) by die DWS.
5.    Mnr. Melanchton Makobe as ADG vir die versekering van die bestuur en prestering van maatskappye in staatsbesit (oftewel SOC Governance Assurance and Performance) by die departement van openbare ondernemings. 

F.    Die Kabinet was dit eens met die ministers rakende die volgende aanstellings:
1.    Mnr. Bhekuyise Mathews Khenisa as hoof uitvoerende beampte (HUB) van die behuisingsontwikkelingsagentskap. 
2.    Me. Joy Keledi Masemola as hoof finansiële beampte van die behuisingsontwikkelingsagentskap. 
3.    Dr. Cornelius Ruiters as HUB van Lepelle Northern Water.
4.    Lede van die Raad vir die Handves vir die Bosbou Sektor (oftewel Forest Sector Charter Council): 

(a)    Me. Nelly Ndlovu (Voorsitter);
(b)    Me. Makhosazana Mavimbela;
(c)    Mnr. Dwayne Marx;
(d)    Me. Tanucia Coopasamy;
(e)    Mnr. Tyrone Hawkes;
(f)    Mnr. Penwell Lunga;
(g)    Mnr. Michael Peter;
(h)    Mnr. Bruce Breedt;
(i)    Mnr. Pierre Tullis; 
(j)    Mnr. Roy Southey;
(k)    Mnr. Lulamile Xate;
(l)    Mnr. Mlungisi Bushula;
(m)    Me. Thandi Mokoena;
(n)    Mnr. Darryll Sauer;
(o)    Mnr. Tshepo Makhene;
(p)    Me. Pumeza Nodada;
(q)    Me. Lindiwe Mavundla; en
(r)    Me. Kwena Komape.

Navrae:
Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore