Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering op Woensdag 4 November 2020

A. Kwessies in die omgewing

1. Ekonomie

1.1. Die 2020 Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring, wat deur die Minister van Finasies, Tito Mboweni, op Woensdag 28 Oktober 2020 bekendgestel is, is daarop gerig om die regering se operasionele uitgawes te beperk. Dit ondersteun ook ekonomiese groei om die skep van broodnodige werksgeleenthede te bevorder. Die toewysings ondersteun ons strewe om die ekonomie te laat herleef ná die verwoesting van die koronavirussiekte (COVID-19) en om beleggings te lok.

1.2. Die Kabinet verwelkom Operasie Vulindlela, wat die implementering van die Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan sal ondersteun deur prioriteit strukturele hervormings te versnel.

1.3. Die Kabinet is vasberade in sy verbintenis om die ekonomie weer te laat groei, en daarom sal die streng stappe wat ons nou neem, ons poging om 'n meer veerkragtige ekonomie op te bou, versnel.

2. COVID-19

2.1. Die Kabinet is bekommerd dat sommige mense roekeloos en onverantwoordelik optree asof COVID-19 nie meer bestaan nie. Die Kabinet doen 'n beroep op almal in Suid-Afrika om steeds die gesondheidsprotokolle na te kom. Dit sluit in sosiale afstand, die dra van maskers in die openbaar, hande was met seep en water of 'n ontsmetmiddel met ’n alkoholbasis, en om groot byeenkomste te vermy.

2.2. Sulke konsekwente, bedagsame gedrag bly die beste manier om onsself en ander teen die virus te beskerm. Ons verantwoordelike optrede sal verseker dat ons die tempo van infeksies tot 'n minimum beperk, terwyl ons steeds ons ekonomie herbou.

2.3. Die Kabinet moedig almal steeds aan om die gratis COVID-19 Alert SA-mobiele app van die Apple App Store of Google Play Store af te laai. Mobiele netwerke het ’n nul-tarief op die app gehef, en dit kan dus sonder enige datakoste afgelaai word. Dit sal kontakopsporing verbeter deur gebruikers te waarsku as hulle in noue kontak met ander gebruikers was wat in die afgelope 14 dae positief vir COVID-19 getoets het. Die app versamel geen persoonlike inligting nie en spoor nie 'n gebruiker se ligging op nie.

2.4. Die Kabinet sal die uitkomste van die Nasionale Coronavirus-bevelraad se samesprekings, wat volgende week plaasvind, bespreek. President Cyril Ramaphosa sal die nasie daarna inlig oor die ontwikkelings in Suid-Afrika se risiko-aangepaste strategie om die verspreiding van COVID-19 te bestuur.

3. Infrastruktuurontwikkeling

3.1. ‘Infrastructure South Africa’ se Projekvoorbereidingstafelronde en Mark wat in Midrand, Gauteng van 3 tot 4 November 2020 gehou is, neem die implementeringsprogram vir infrastruktuur vorentoe. 

3.2. Die geleentheid het 27 grootskaalse infrastruktuurprojekte met 'n gesamentlike waarde van R210 miljard aan Suid-Afrikaanse en internasionale beleggers, insluitend afgevaardigdes van instellings vir ontwikkelingsfinansiering en multilaterale ontwikkelingsbanke, bekendgestel.

3.3. Die projekvoorbereidingstafelronde verseker dat projekte intensiewe lewensvatbaarheidstudies en adviesondersteuning vir transaksies ondergaan, wat hulle beleggingsgereed sal maak.

3.4. Van die projekte wat aan beleggers voorgelê is, is die Ngqura-Coega vloeibare aardgas-terminusse in die Oos-Kaap; die Gesag vir Maatskaplike Behuisingsregulering se Maatskaplike Behuisingsprogram; 'n vliegtuigbrandstofpypleiding by Kaapstad Internasionale Lughawe; 'n ruimte-infrastruktuurspilpunt, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap opgerig sal word, en 'n wetenskap- en tegnologiepark in Limpopo.

3.5. Hierdie projekte het die potensiaal om 'n aansienlike aantal Suid-Afrikaners in diens te neem en vorm 'n noodsaaklike komponent van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan se werkskeppingstelsel wat onlangs deur President Ramaphosa bekendgestel is.

3.6. Die Kabinet waardeer die bydrae van die private sektor, wat die nodige kundigheid op hul eie koste bygedra het.

3.7. Die Kabinet verwelkom die private sektor se tydelike afstaan van 25 deskundiges wat ‘Infrastructure South Africa’ sal help om die beplande projekte tot uitvoer te bring.

3.8. Die Kabinet verwelkom verder die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Patricia de Lille, se aankondiging dat 'n infrastruktuurgerigte teen-korrupsiestruktuur die etiese bestuur van infrastruktuurkontrakte sal verseker.

3.9. Die Infrastruktuur- en Beleggingskantoor in die Presidensie sal in die komende dae besonderhede verskaf oor die verbintenisse wat beleggers tydens die week se rondetafel en mark gemaak het.

1. Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie (SABK)

1.1. Suid-Afrika bied sy derde SABK op 17 en 18 November 2020 aan, met die klem op belegging in die nasleep van COVID-19, verstewiging en konstruksie.

1.2. Vanjaar se konferensie fokus op die nakoming van bestaande verpligtinge om werkskepping en ekonomiese ontwikkeling te verwesenlik. Daarbenewens sal die regering stappe uiteensit wat geneem sal word om 'n bevorderlike beleggingsomgewing te skep, met die klem op ekonomiese heropbou en herstel.

1.3. Die konferensie bou voort op die suksesse van die laaste twee konferensies wat onderskeidelik in 2018 en 2019 gehou is, waartydens R664 miljard ingesamel is. Dit het die grondslag vir belegging en versnelde ekonomiese groei gelê.

2. Energie

2.1. Die Kabinet verwelkom die inbedryfstelling van die finale windturbine op 140 megawatt (MW) by die Nxuba-windplaas in die Oos-Kaap, wat deel van die vierde ronde van die land se Program vir die Verkryging van Onafhanklike Kragprodusente vir Hernubare Energie uitmaak. Sodra al die windturbines in gebruik is, sal hulle 460 gigawatt-ure per jaar op die netwerk lewer en ons verpligtinge oor klimaatsverandering aansienlik bevorder.

2.2. Die volle kommersiële bedryf van Eskom se eenheid 2 by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga, dra 800 MW tot die kragnetwerk by. Kusile is die eerste kragstasie in Afrika waar tegnologie vir rookgasontswaweling geïnstalleer is – dit is 'n moderne tegnologie wat gebruik word om oksiedes van swael, soos swaeldioksied, uit uitlaatgasse in kragstasies wat steenkool of olie verbrand te verwyder – wat aan die huidige internasionale luggehaltestandaarde voldoen.

2.3. Die Kabinet verwelkom ook die aankondiging deur Total SA dat hulle 'n beduidende hoeveelheid gas suid van Mosselbaai in die Wes-Kaap gevind het. Dit sal bydra tot die land se pogings om kragopwekking uit te brei en die ekonomie te laat groei om meer beleggings te lok.

3. Nasionale Taxi-lekgotla 

3.1. Die verklaring wat verlede week tydens die Nasionale Taxi-lekgotla aangeneem is, is deurslaggewend in die bou van ’n doeltreffender en veiliger openbare vervoersektor. Die uitkomste bring die land nader aan die formalisering van 'n bemagtigingsmodel vir die taxibedryf en plaas dit op 'n volhoubare groeipad.

3.2. Die Kabinet verwelkom die taxibedryf se verbintenis tot sektorale vasstelling, wat nakoming van die land se arbeidswette sal verseker en die bedryf se reguleringsmodel versterk. 

4. Bewustheidsmaand vir die Regte van Mense met gestremdhede

4.1. Die Regering werk saam met verskillende sektore in die samelewing om mense met gestremdhede ten volle te bemagtig. Bewustheisdmaand vir die Regte van Mense met Gestremdhede, wat vanjaar op 3 November begin en op 3 Desember eindig, vind plaas onder die tema: "Saam bou ons gemeenskappe wat gestremdhede insluit.”

4.2. Hierdie maand bied ’n geleentheid om die wyer publiek bewus te maak en in te lig oor die regte van mense met gestremdhede. Vanjaar val die klem veral daarop om die openbare en private sektor aan te spoor om meer aandag aan die werwing, behoud en huisvesting van persone met gestremdhede in die werkplek te gee.

5. Misdaadvoorkoming

5.1. Die Kabinet veroordeel die sinnelose en koelbloedige moord op polisiebeamptes wat hul lewens gewy het om te dien en te beskerm. Die moord en aanval op polisiebeamptes is 'n regstreekste aanval op die oppergesag van die reg en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996.

5.2. Die Kabinet betuig sy medelye met die naasbestaandes en vriende van alle polisiebeamptes wat aan diens gesterf het, insluitend sers. Mzoxolo Gxotani van die Oos-Londen Taktiese Reaksiespan in die Oos-Kaap; die kommandant van die Groblersdal-stasie, Kolonel Jeffrey Seroka in Limpopo; misdaadintelligensie-offisier Ofentse Mokgadinyane en speursersant Billy Mahooe in die Vrystaat; en sersant Sibongile Teka en konstabel Kganyisa Sitofile in die Wes-Kaap.

5.3. Die Kabinet veroordeel verder ten sterkste die skietery en moord op agt mense tussen 30 en 40 jaar oud deur onbekende gewapende mans in Gugulethu in die Wes-Kaap op Maandag 2 November 2020.

5.4. Die Kabinet verseker die land dat die gemeenskapspolisie sal toesien dat diegene wat by hierdie kriminele dade betrokke is in hegtenis geneem word en voor die volle mag van die wet te staan kom.

6. Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Mediatoekennings

6.1. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaanse media om hul inskrywings vir die 2021 SAOG Mediakompetisie in te dien. Joernaliste van al die SAOG-lidlande word uitgenooi om hul inskrywings of nominasies vir die toekennings in te stuur.

6.2. Die SAOG Mediatoekennings bevorder die doelstellings van die SAOG om ekonomiese ontwikkeling, vrede, veiligheid en groei te bewerkstellig, sowel as om armoede te verlig en die lewensstandaard en -gehalte van die mense van Suider-Afrika te verbeter.

6.3. Die SAOG Mediatoekennings is 'n kragtige instrument om die verhaal van 'n nuwe Afrika, ’n Afrika met onbeperkte potensiaal en nuwe hoop op 'n beter toekoms, aan te vuur.

7. 2020 Nasional Seniorsertifikaat (NSS) eksamens

7.1. Die Kabinet wens saam met President Ramaphosa die matriekklas van 2020 sterkte toe met hul NSS-eksamens wat vandag, 5 November, begin en op 15 Desember 2020 eindig. Ons doen ’n beroep op alle ouers, voogde en gemeenskappe om die kandidate te ondersteun en aan te moedig terwyl hulle hul 12 jaar van leer voltooi.

7.2. Die COVID-19-pandemie het skoolopleiding en voorbereiding vir hierdie jaar se graad 12-eksamen beïnvloed. Die Departement van Basiese Onderwys in samewerking met skole het egter 'n inhaalprogram ingestel om leerders voor te berei. Die Kabinet is vol vertroue dat hierdie leerders die potensiaal het om die beste resultate te behaal.

B. Kabinetsbesluite

1. Die Regering se Aksieplan

1.1. Die Kabinet keur die regering se eerste tweejaarlikse Aksieplan-verslag vir die tydperk Januarie tot Junie 2020 goed. Die werk wat gedurende hierdie tydperk gedoen is, gee uitvoering aan die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk vir 2019-2024.

1.2. Die oorsigtydperk het met die ontwrigtende uitwerking van die COVID-19 wêreldwye pandemie saamgeval, wat meegebring het dat regeringsbronne en -bedrywighede herlei moes word om lewens en lewensbestaan te beskerm.

1.3. Die Kabinet is egter tevrede met vordering wat met die implementering van die belangrikste verwagte doelwitte gemaak is. Hoewel sommige van die doelwitte onderbreek is, is die Kabinet tevrede met die beoogde herstelprogramme van die onderskeie regeringsgroeperings. Die besonderhede van hierdie verslae sal tydens die beplande inligtingsessies oor die groeperings uiteengesit word.

C. Toekomstige gebeure

1. Suid-Afrika aanvaar die Verdrag van Vriendskap en Samewerking (TAC) met Suidoos-Asiatiese lande (ASEAN)

1.1. Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, dr Naledi Pandor, sal die Suid-Afrikaanse regering tydens die plegtigheid van Suid-Afrika se toetrede tot die TAC met die ASEAN-lande verteenwoordig.

1.2. Die virtuele ondertekeningseremonie word op Dinsdag 10 November 2020 gehou. Minister Pandor sal in Kaapstad aan die seremonie deelneem, waar die ASEAN Pretoria-komitee se hoofde van die sending by haar sal aansluit.

1.3. Suid-Afrika het diplomatieke en ekonomiese betrekkinge met individuele ASEAN-lande. Die land se toetrede tot die TAC sal sy verhouding met die ASEAN-lande as 'n blok formaliseer.

1.4. Suid-Afrika se toetrede tot die TAC is ook 'n geleentheid om politieke en ekonomiese samewerking met hierdie belangrike en groeiende internasionale organisasie te bevorder.

D. Boodskappe

1. Gelukwense

1.1. Die Kabinet wens saam met President Ramaphosa vir Dr John Pombe Magufuli geluk met sy verkiesing tot aangwese president van die Verenigde Republiek van Tanzanië. Ons sien daarna uit om saam met dr Magufuli sterk bilaterale betrekkinge te verstewig, sowel as om saam te werk rakende aangeleenthede van wedersydse belang in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Afrika-vasteland en die wêreld.

1.2. Die Kabinet wens me Shudufhadzo Musida geluk met die Mej. Suid-Afrika 2020-titel en wens haar sterkte toe met haar rol as 'n verteenwoordiger van “Brand South Africa”. Sy sluit by ’n groep Suid-Afrikaners aan wat die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper om die land wêreldwyd te posisioneer.

1.3. Die Kabinet wens Banyana Banyana geluk dat hulle hul verdediging van die COSAFA-bekertitel op Dinsdag 3 November 2020, met 'n oorwinning van 2-0 oor Angola in Port Elizabeth in die Oos-Kaap begin het.

2. Meegevoel

Die Kabinet betuig sy meegevoel met die naasbestaandes en vriende van:

2.1. Mnr Enuga Sreenivasulu Reddy, wat in die ouderdom van 96 oorlede is. Hy is in 'n polities aktiewe gesin in Suid-Indië gebore. Hy het die Verenigde Nasies se veldtog teen apartheid gelei en die Suid-Afrikaanse vryheidsbeweging vir meer as 'n halwe eeu aktief ondersteun. Hy het ook 'n sentrale rol gespeel in die bevordering van internasionale sanksies teen die land.

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder

Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore