A. Kwessies in die Omgewing
1. Ekonomie
1.1. Belastinginvordering
1.1.1. Die Kabinet prys die miljoene belastingbetalers wat hul belastingopgawes ingedien het om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te help om belastinginkomste van R2.155 triljoen vir die 2023/24 finansiële jaar in te vorder.
1.1.2. Dit is R52 miljard meer as die vorige jaar en toon die kragtigheid van die plaaslike ekonomie, ondanks uitdagende plaaslike en internasionale toestande.
1.1.3. Die verhoogde inkomste help die regering om die land se diensleweringsprojekte en ander sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogramme te finansier.
1.2. Infrastruktuurbelegging
1.2.1. Die Kabinet verwelkom die opening van 'n Newlyn Park Bayhead Spoorwegterminaalprojek van R3,4 miljard by die Durbanhawe; dit beslaan ‘n oppervlak van 640 000 vierkante meter met pakhuise, wisselspoorlyne en oop bergingsruimte.
1.2.2.Die nuwe terminaal sal die doeltreffende beweging van see-, spoor- en padvrag deur die Durbanhawe fasiliteer, en help om die onlangse uitdagings wat deur die logistieke, infrastruktuur- en netwerkbedryf ervaar word, die hoof te bied.
1.2.3. Die belegging het gelei tot 4 013 direkte werksgeleeenthede vir konstruksiewerkers en die voltydse indiensneming van meer as 1 000 mense; hierdie getal sal na verwagting groei namate die fasiliteit meer vrag hanteer.
1.2.4. In die herlewing van ons land se spoornetwerk, verwelkom die Kabinet ook die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA) se suksesvolle herstel van vyf belangrike Metrorail-dienste regoor Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.
1.2.5. PRASA het effektief 31 van sy 40 lyne herstel tot gedeeltelike werking en werk daaraan om volle operasionele status te bereik. Die mylpaal toon die regering se verbintenis tot die herlewing van passasierspoordienste en die voorsiening van 'n doeltreffende openbare vervoeropsie vir Suid-Afrikaners.
1.2.6. In 'n verwante ontwikkeling, het die Kabinet die aankondiging deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap dat hy meer as R50 miljard in padinfrastruktuurontwikkeling in die Oos-Kaap gaan inspuit, verwelkom. Hierdie infrastruktuurbelegging is gerig op die bou van nuwe fasiliteite, padverbeterings en -versterking, en spesiale instandhouding van die nasionale padnetwerk in die provinsie.
1.3. Belegging
1.3.1. Die Kabinet het die opening van die nuwe Tetra Pak-fasiliteit in KwaZulu-Natal deur President Cyril Ramaphosa verwelkom, wat 'n belegging van R500 miljoen gelok het.
1.3.2. Die belegging vorm deel van die Presidensiële Beleggingsmobiliseringsveldtog waarvoor die regering in 2018 die ambisieuse teiken gestel het om R1,2 triljoen beleggings oor vyf jaar te lok.
1.3.3. Verlede jaar by die vyfde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie, wat die einde van die eerste fases van ons beleggingsmobiliseringsiklus gemerk het, is meer as R1,5 triljoen in beleggingsverpligtinge ingesamel.
1.3.4. Hierdie beleggings herlei na nuwe fabrieke, werksgeleenthede in gemeenskappe en groter ekonomiese aktiwiteit regoor ons land. Die Kabinet is vol vertroue dat ons beleggingsveldtog ekonomiese groei weer sal laat opvlam en ons ekonomie sal ophef.
1.4. Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Arbeidsaktiverings-program (LAP)
1.4.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die WVF-LAP, wat 'n vaardigheidsopleiding- en entrepreneurskapprogram is wat gerig is om die jeug en werkloses in die land te bevoordeel. Die program verseker dat jeug- en werksoekers toegerus word met die nodige vaardighede sodat hulle in diens geneem kan word of hul eie besighede op die been kan bring.
1.4.2. Die WVF-LAP, wat regoor die land in werking gestel sal word, sal na verwagting werksgeleenthede vir meer as 704 000 werklose mense skep. Dit sal gedoen word deur opleiding en klein-ondernemingsondersteuning aan 333 projekte regoor die land te bied. Sowat R23,8 miljard is opsygesit om die plan in werking te stel en werksgeleenthede sal tussen 12 en 36 maande duur.
2. 30 Jaar van Vryheid en Demokrasie
2.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die herdenking van 30 Jaar van Vryheid en Demokrasie, wat gehou word onder die tema: ‘30 jaar van Demokrasie, Vennootskap en Groei’.
2.2. Die die amptelike 30 Jaar van Vryheid-logo is ook by die onthulling bekendgestel; dit is 'n simbool wat ons sal verenig terwyl ons hierdie belangrike mylpaal in die geskiedenis van ons land vier.
2.3. Die Kabinet doen 'n beroep op almal om die amptelike logo wat vir gebruiksgemak in verskillende formate beskikbaar is op die GCIS-webwerf, te gebruik by: https://www.gcis.gov.za/30-years-of-freedom-toolkit
2.4. Die bekendstelling het die amptelike aanvang gemerk van die jaarlange aktiwiteite om die merkwaardige vordering wat ons sedert 1994 gemaak het deur 'n demokratiese samelewing te vestig wat gegrond is op die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en die Handves van Menseregtegte, te vier. Hierdie belangrike gebeurtenis bied ook 'n geleentheid om na te dink oor die uitdagings waarvoor ons steeds te staan kom en om maniere te vind om dit te oorkom en ons land vorentoe te beweeg.
2.5. Ons werk sedert 1994 daaraan om 'n samelewing te bou wat gegrond is op eenheid en samesyn, en hoewel daar nog baie uitdagings is, het toestande met elke dag wat verbygegaan het fundamenteel verbeter. Die aansienlike vordering wat ons sedert 1994 gemaak het, word weerspieël in Sensus 2022 en die 30-Jaaroorsig. Albei skets 'n prentjie van 'n samelewing wat aan die beweeg is en wat verbeterings in die meeste aanwysers weerspieël. Die bevindinge van die sensus en die 30-Jaaroorsig dui onweerlegbaar daarop dat ons ontwikkeling nie per toeval is nie, maar eerder met opset deur regeringsprogramme sedert 1994.
2.6. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners en sektore van die samelewing om deel te neem aan die viering van 30 Jaar van Vryheid en Demokrasie. Suid-Afrikaners kan deelneem deur hul stories te vertel oor hoe dit was om in apartheid-Suid-Afrika te leef en ons te help om voort te bou op die prestasies wat ons tot dusver behaal het.
3. Verenigde Nasies (VN) se Resolusie van die Menseregteraad
3.1. Die Kabinet verwelkom die resolusie van die VN se Menseregteraad waarin gevra word dat Israel aanspreeklik gehou moet word vir moontlike oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom wat in Gasa gepleeg is. Die resolusie het verder 'n beroep gedoen op alle State “om die verkoop, oordrag en afwending van wapens, ammunisie en ander militêre toerusting aan Israel te staak”
3.2. Die aanvaarding van hierdie resolusie is geskiedkundig aangesien dit die heel eerste keer is dat die Menseregteraad tot aksie oorgegaan het oor die ongekende menslike tragedie wat in Gasa plaasvind, waar minstens 32 975 Palestyne gedood is, wat onder meer 14 500 kinders insluit, sedert Israel sy aanslag meer as 180 dae gelede geloods het.
4. 2024 Algemene Verkiesing
4.1. Alles is in gereedheid vir die 2024 Nasionale en Provinsiale verkiesings, na die ondertekening van die Verkiesingskommissie se Gedragskode deur politieke partye en onafhanklike kandidate.
4.2. Die algemene verkiesing sal op 29 Mei 2024 gehou word en altesaam 325 politieke partye sal aan vanjaar se verkiesing deelneem. Die Verkiesingsgedragskode verbind almal wat die verkiesing betwis om by die stel reëls te hou, wat daarop gerig is om vrye en regverdige verkiesings te verseker.
4.3. Die Kabinet is vol vertroue dat ons nasie weereens sal voortbou op die diensrekord waarvolgens gereelde, geloofwaardige, vrye en regverdige nasionale en plaaslike verkiesings sedert 1994 gehou is. Terwyl die land 30 Jaar van Vryheid vier, word burgers aangemoedig om hul demokratiese reg om te kan stem uit te oefen.
5. Nasionale Regeringsberaad oor Kunsmatige Intelligensie (KI)
5.1. Spoedige vooruitgang in KI is 'n werklikheid en KI is spoedig besig om die wêreld te vorm wat dit dus noodsaak dat lande vir die impak daarvan op hul burgers en bestuurstelsels moet voorberei.
5.2. Die Nasionale KI-regeringsberaad is op 5 April 2024 in Johannesburg belê sodat die regering en die sektor 'n beleids- en regulatoriese raamwerk tot stand kan bring om vooruitgang in KI tot voordeel van die mense te rig en te benut. KI-beleid is die sleutel tot die bou van 'n sterk digitale ekosisteem waaruit regerings, besighede en individue voordeel kan trek.
5.3. Die beraad is die eerste stap om 'n duidelike pad vorentoe te karteer om die mag van KI te benut om sommige van Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike uitdagings die hoof te bied.
6. Misdaad en korrupsie
6.1. Die Kabinet verwelkom die ondertekening van die Wysigingswet op Geregtelike Aangeleenthede, 2023 (Wet 15 van 2023). Die Wet gee uitvoering aan die aanbeveling van die Staatskapingskommissie en skep 'n bykomende oortreding wat ingesluit moet word in die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, 2004 (Wet 12 van 2004) deur individue strafregtelik aanspreeklik te hou vir versuim om korrupsie te voorkom.
6.2. Die Wet het verder ten doel om 'n aantal wette te wysig wat deur die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling geadministreer word, insluitend bevoegdhede, pligte en funksies van die Hoofmeester van die Hooggeregshof. Hierdie veranderinge sal die Hoofmeester van die Hooggeregshof in staat stel om 'n groter toesighoudende rol oor die Meesters van die hof te speel en sal lei tot verbeterde dienslewering aan die publiek en aan regspraktisyns.
B. Hersienings aan die Kabinet
1. Die status van die Padongelukkefonds (POF)
1.1. Die Kabinet het opdrag ontvang oor die implementering van die omkeerstrategie vir die POF, wat daarop gemik is om die fondsestelsel te vereenvoudig, asook om die administrasie van voordele en uitbetalings aan ongelukslagoffers te verbeter.
1.2. 'n Belangrike ingryping was die bekendstelling van die POF-kontaksentrum, wat 'n platform bied vir POF-eisers om toegang tot hul eise-inligting te kry sonder om noodwendig uitsluitlik op hul regsverteenwoordigers staat te maak. Die platform bied ook aan eisers die geleentheid om die betalings wat deur die POF aan hulle regsverteenwoordigers gemaak is te verfieer.
1.3. Die omkeerstrategie het gelei tot groot verbeterings in die skikking van eise binne 120 dae, dit het regskoste met 75 persent verlaag en mediese koste van R3,6 miljard in die 2019/20-boekjaar tot R2,1 miljard in die 2023/24-boekjaar getoon. Die ingrypings het ook gelei tot 'n kumulatiewe regskostebesparing van meer as R23 miljard in die drie jaar van die implementering van die strategie. Daarbenewens het die strategie-ingrypings gelei tot die vermindering van eise wat betaal is aan eisers/korttermynaanspreeklikheid tot R9,3 miljard vir die tydperk geëindig 31 Maart 2023.
1.4. Die Kabinet is ook op die hoogte gebring van wysigings aan die huidige POF-wet, wat in 'n gevorderde stadium is. Die POF-wysigingswetsontwerp sal deur die 7de administrasie van die regering oorweeg word. Die wetsontwerp is daarop gemik om die voordele en die betaling van sekere produkte in annuïteite te verfyn en dit meer billik te maak.
C. Kabinetsbesluite
1. Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming
1.1. Die Kabinet het die Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming vir implementering goedgekeur, nadat 'n wye raadplegingsproses deur die Departement van Binnelandse Sake in al nege provinsies onderneem is.
1.2. Die beleid het ten doel om 'n raamwerk te verskaf om burgerskap, immigrasie en vlugtelingbeskerming te rig, met inagneming van die land se nasionale veiligheidsbelange en in ooreenstemming met internasionale ooreenkomste en protokolle oor migrasie waaraan Suid-Afrika deelneem. Dit sal ook Suid-Afrika se ekonomiese belange, transformasie en werkskeppingpogings bevorder.
2. Op pad na ’n 30-Jaaroorsig van Suid-Afrika se Demokrasie (1994-2024).
2.1. Die Kabinet het die publikasie van die verslag "Towards a 30-Year Review of South Africa's Democracy (1994-2024)" goedgekeur.
2.2. Die oorsigverslag lui die verhaal in van Suid-Afrika se oorgang na demokrasie sedert die geskiedkundige verkiesing van 27 April 1994. Suid-Afrika se verhaal van oorgang na demokrasie inspireer steeds hoop vir baie mense regoor die wêreld en die oorsigverslag beklemtoon belangrike lesse in die evolusie van ons demokrasie. Oor die afgelope 30 jaar het die land 'n stabiele demokrasie verwerf met sterk instellings en 'n aansienlike wêreldwye invloed.
2.3. Die 30-jaar-oorsigverslag is gestruktureer op 13 tematiese gebiede wat deur vier belangrike verwysings beïnvloed is, nl (1) die 1994-Heropbou- en Ontwikkelingsprogram en sy vyf doelwitte; (2) die aanvaarding van die Grondwet van 1996; (3) die 2012 Nasionale Ontwikkelingsplan; en (4) die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2019-2024 om sewe prioriteite van die sesde administrasie te weerspieël. Die oorsigverslag sal deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering gepubliseer word en lede van die gemeenskap sal 'n geleentheid kry om hulself by die verslag te betrek.
D. Toekomstige Gebeure
1. 6de Statebond Konferensie van die die Rooikruis en die Rooi Sekelmaan oor Internasionale Humanitêre Reg
1.1 Suid-Afrika en die Internasionale Komitee van die Rooikruis sal van 15 tot 19 April 2024 die 6de Rooikruis en Rooi Sekelmaan Statebondskonferensie oor Internasionale Humanitêre Reg in Suid-Afrika by die Irene Country Lodge in Pretoria aanbied. Die konferensie sal verteenwoordigers van die Statebondlidlande, lede van die Rooi Kruis- en Rooi Sekelmaan-beweging en ander belangrike belanghebbendes byeen bring om oor Internasionale Mensereg te beraadslaag.
1.2 Die konferensie poog om bestaande menseregte-instrumente te herkalibreer en te versterk en ons kennis oor die belangrikheid van Internasionale Mensereg te verdiep in 'n era van verhoogde gewapende konflikte, sowel as klimaatsverandering, voedselonsekerheid en toenemende gedwonge verplasing.
E. Boodskappe
1. Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan:
• Die Minister van Gesondheid Dr Joe Phaahla vir sy aanstelling in die Raad van die Global Fund met ingang van 1 Mei 2024. Dr Phaahla sal as 'n verteenwoordiger van die Oos- en Suider-Afrikastreek dien.
• Suid-Afrikaanse Moslems, sowel as wêreldwyd, veral in Palestina, by geleentheid van Eid al-Fitr. Ramadan is ook 'n tyd van innerlike refleksie, liefdadigheid en geestelike toewyding wanneer Moslems streef na geestelike groei en selfbeheersing. Die fees van Eid al-Fitr merk die hoogtepunt van die heilige maand van Ramadan, waartydens Moslems daagliks en onder uiterste omstandighede in Palestina gevas het.
• Die Kompetisiekomissie van Suid-Afrika, wat twee pryse ingepalm het by die 2024 Antitrust Writing Awards in Washington DC en vir erkenning van sy toonaangewende aanlyn Intermediasie-platforms-markondersoek. Die kommissie het dié prys gewen vir sy finale verslag en besluit, terwyl die ander prys vir 'n akademiese artikel oor mededingingsdinamika in Suid-Afrika se digitale markte vir reis en toerisme toegeken is.
2. Meegevoel
Die Kabinet het sy meegevoel oorgedra aan die vriende en naasbestaandes van:
• Mr Tony Heard (86), wie 'n kampvegter vir menseregte en nie-rassigheid was, asook 'n gesiene joernalis, bekroonde redakteur en voormalige spesiale adviseur in die Presidensie.
• Die Kabinet dra verder saam met President Ramaphosa sy meegevoel oor aan die regering en mense van Botswana ná die tragiese ongeluk van 'n bus wat Paasfees-pelgrims na Moria vervoer het. President Cyril Ramaphosa en sy eweknie van Botswana, president Mokgweetsi Masisi, het op Donderdag 11 April 2024 die terrein van die busongeluk in Limpopo besoek. Die ongeluk het die lewens van 45 mense geëis, met 'n 8-jarige kind, die enigste oorlewende.
• Mr Luke Fleurs (24), 'n jong, opkomende Kaizer Chiefs-verdediger en voormalige junior internasionale speler, wat tragies tydens 'n kaping vermoor is. Die Kabinet verwelkom ook die inhegtenisneming van ses verdagtes in verband met die moord op Luke Fleurs.
• Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa sy meegevoel met die regering en mense van die Republiek van Mosambiek ná 'n ramp ter see waarin byna 100 mense gesterf het.
Navrae: Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485