Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 21 Augustus 2024

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Die bou van ʼn veiliger Suid-Afrika 
1.1.    Stryd teen misdaad
1.1.1    Die Kabinet verwelkom die nuus van die inhegtenisname van ʼn 40-jarige verdagte wat vermoedelik een van die leiers is van ʼn ontvoering-vir-losprys-sindikaat wat sakepersone in Suid-Afrika teiken. Hy is ook vermoedelik ʼn sleutelfiguur agter die smokkel van kristalmet oftewel “tik” ter waarde van R300-miljoen waarop onlangs in die Johannesburgse voorstede Fourways en Bruma beslag gelê is. Die inhegtenisname beklemtoon die regering se toewyding daartoe om beslissend teen georganiseerde misdaad op te tree. 
1.1.2    Die Kabinet ondersteun die ontplooïng van multidissiplinêre wetstoepassingspanne om die hoë misdaadsyfer-situasie wat tans in die Oos-Kaap heers, aan te spreek. Die multidissiplinêre spanne sluit in personeel wat spesialiseer in anti-georganiseerde misdaad, gespesialiseerde operasies en intelligensiepersoneel. Die Kabinet herhinner wetstoepassingsowerhede weereens dat gemeenskappe nie deur misdadigers gyselaar gehou mag word nie.
1.1.3    Die Kabinet verwelkom ook die inhegtenisname van ʼn verdagte wat met 34 paspoorte in sy besit deur die grensbestuursowerheid by die Lebombo-grenspos na Mosambiek gestop is. Dit vorm deel van voortgesette pogings om kriminele sindikate wat handel in onwettige immigrasie en wat ons grenskontrole en immigrasiewetgewing probeer omseil, uit te dryf.
1.1.4    Die stryd teen misdaad bly ʼn gedeelde verantwoordelikheid tussen die polisie, gemeenskappe en alle sektore van die samelewing, en die Kabinet spoor landsburgers weereens aan om saam met wetstoepassingsagentskappe te werk om misdaad in ons gemeenskappe te beveg.

1.2.    Stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV)
1.2.1.    Die Kabinet doen ʼn beroep op die mans van ons nasie om president Cyril Ramaphosa se inisiatief te ondersteun en ʼn standpunt in te neem teen GGGV deur die virtuele belofte te onderteken by www.stateofthenation.gov.za/endGBVF.
1.2.2.    Deur hierdie belofte te onderteken, verbind mans hulle daartoe om deel te wees van die oplossing deur positiewe gedrag en houdings teenoor vroue te handhaaf en verantwoordelikheid te neem vir hul aksies. Dit verbind mans ook daartoe om nooit ʼn hand teen ʼn vrou te lig nie, om vroue as gelykes te behandel, hul regte te respekteer en hulle met waardigheid te behandel. As ons GGGV saam aanspreek sal dit lei tot gesonder, veiliger en meer vreedsame gemeenskappe waarin vroue en kinders kan floreer.
1.2.3.    Daarbenewens verwelkom die Kabinet ook die opening van die 65e Thuthuzela-sorgsentrum om slagoffers van GGGV te ondersteun vroeër die week by die Mitchellsplein-hospitaal in Kaapstad. Die regering se vestiging van die Thuthuzela-sorgsentrums regoor die land was na aanleiding van die dringende behoefte vir voorkoming, reaksie en steun aan slagoffers van geweld, veral vroue en kinders.
1.2.4.    Die Kabinet het hul sorg uitgespreek oor die kommerwekkende statistieke van tienerswangerskappe, waar kinders so jonk as 10 jaar voortydig ouers word. 
1.2.5.    Die Kabinet doen ʼn beroep op die samelewing en ouers om te help om hierdie uitdaging aan te spreek deur enige iemand wat seks het met ʼn minderjarige (ʼn kind onder die ouderdom van 16 jaar) aan te meld, aangesien dit ʼn kriminele oortreding is. 
1.2.6.    As die land nie saamwerk om hierdie uitdaging van tienerswangerskappe aan te spreek nie, sal vroue en jong meisies vasgevang bly in ʼn boosaardige kringloop van armoede en ʼn gebrek aan onderrig en ekonomiese vooruitsigte.

1.3.    Voorvrystellingskalender vir die publikasie van die kwartaallikse misdaadstatistieke 
1.3.1.     Die Kabinet neem kennis van die voorvrystellingskalender vir die publikasie van die kwartaallikse misdaadstatistieke vir die 2024/25 finansiële jaar. Die misdaadstatistieke sal vrygestel word in Augustus en November 2024, en in Februarie en Mei 2025. Die gereelde vrystelling van misdaadstatistieke is belangrik om misdaadtendense te monitor en vir beter besluitneming in die stryd teen misdaad.

1.4    Rampsbestuur

1.4.1    Die Kabinet verwelkom die dringende ingryping deur die departement van menslike nedersettings om steun te verleen aan verplaasde gesinne wie se huise oorstroom het nadat die wal van ʼn dam op 8 Augustus 2024 in die Swartland-munisipaliteit in die Wes-Kaap ingestort het.
1.4.2    Steun word steeds verskaf aan gesinne wat geraak is na aanleiding van die breek van drie damme se walle in die Riverlands-omgewing, wat erge skade aan eiendom en infrastruktuur veroorsaak het. Watervlakke het nou genoeg gesak dat inwoners – wie vroeër ontruim is – na hul huise kon terugkeer. Die volle omvang van die skade word egter steeds bepaal en die twee beskikbare gemeenskapsentrums bly oop vir inwoners wat verkies om nie dadelik na hul huise terug te keer nie. 
1.4.3    Met die land se naderende reënseisoen vir die noordelike gedeeltes van die land, doen die Kabinet ʼn beroep op munisipaliteite om te verseker dat stormwaterdreineringstelsels skoon en vry is van blokkasies om die gladde vloei van water te verseker wanneer dit reën.

2.    Die ekonomie
2.1    Kwartaallikse arbeidstatistieke 
2.1.1    Die amptelike werkloosheidsyfer was 33.5% in die tweede kwartaal van 2024; dit het met 0.6 van ʼn persentasie gestyg vanaf die eerste kwartaal (toe was dit 32.9%). Indiensneming het met 92 000 afgeneem na 16.7 miljoen in die tweede kwartaal van 2024. Die aantal werklose mense het met 158 000 gestyg na 8.4 miljoen tydens dieselfde kwartaal. 
2.1.2     ʼn Nywerjeidsanalise van indiensneming toon ʼn afname in die aantal individue met werk in vyf van die 10 nywerhede tussen K1: 2024 en K2: 2024. Afname in indiensneming was meestal in die handelsektor (110 000), landbousektor (45 000) en privaathuishoudingsektor (18 000). 
2.1.3    Die grootste toenames in indiensneming was egter in die vervaardigingsektor (49 000) en gemeenskaps- en maatskaplike dienste (36 000). Die bestendige groei in die vervaardigingsektor is ʼn hupstoot vir vertroue in die werk wat tans gedoen word om ʼn produksie-ekonomie te bou. Die staat se fokus bly gerig op die hoogste prioriteit naamlik die bou van ʼn inklusiewe ekonomie wat werk skep.

2.2.    Inflasie
2.2.1.     Die jaarlikse verbruikersprysinflasie was 4.6% in Julie 2024, af van 5.1% in Junie 2024. Die verbruikersprysindeks het gegroei tot 0.4% maand-op-maand in Julie 2024.
2.2.2.     Die grootste bydraers tot die jaarlikse inflasiekoers van 4.6% was die volgende:
•    Behuising en hereregte  (toegeneem met 5.3% jaar-op-jaar en met ʼn bydrae van 1.3 persentasiepunte)
•    Diverse goedere en dienste (toegeneem met 7.0% jaar-op-jaar en met ʼn bydrae van 1.0 persentasiepunt),
•    Voedsel en nie-alkoholiese drankies (toegeneem met 4.5% jaar-op-jaar en met ʼn bydrae van 0.8% van ʼn persentasiepunt), en
•    Vervoer (toegeneem met 4.2% jaar-op-jaar en met ʼn bydrae van 0.6 van ʼn persentasiepunt).

In Julie 2024 was die jaarlikse inflasiekoers van:
•    Goedere 4.6%, af van 5.5% in Junie 2024, en 
•    Dienste 4.7% op van 4,6 in Junie 2024.

2.3.    Energie
2.3.1.    Die wetsaantekening van die Gewysigde Wet op Elektrisiteitsregulering, 2006 (Wet 4 van 2006) deur president Ramaphosa lui ʼn nuwe era in vir ʼn mededingende en volhoubare elektrisiteitsektor wat Suid-Afrika se energiebehoeftes kan vervul. 
2.3.2.    Die wysigings verbeter energiesekuriteit deur meer deelnemers in energieproduksie te betrek.
2.3.3.    Die land se energiesekuriteit is verder versterk deur ʼn bykomende 2 500 megawatt elektrisiteit wat in die nasionale elektrisiteitsrooster gevoer sal word teen die einde van September 2024. Die bykomende kapasiteit sal afkomstig wees vanaf Medupi-eenheid 4, Kusile-eenheid 6 en Koeberg-eenheid 2, en sal die land stewing op koers plaas om die mylpaal van 150 dae sonder beurtkrag te behaal. Die huidige mylpaal van 148 dae sonder beurtkrag is behaal deur ʼn verminderde gebruik van opelug-gasturbines wat gelei het tot ʼn besparing van R10.21 miljard in die koste van diesel, vergeleke met dieselfde tydperk laasjaar.
2.3.4.    Die Kabinet neem kennis van die onttrekking van die vasstelling vir die verkryging van nuwe kernenergie-opwekkingskapasiteit deur die minister van energie, dr. Kgosientsho Ramokgopa, om verder konsultasie met die publiek te bemoontlik. Die Kabinet bevestig dat kernenergie deel bly van ons land se energieverskaffing aangesien dit ʼn lae-koolstof, betroubare bron van elektrisiteit is wat noemnswaardig kan bydra tot die land se energiesekuriteit en klimaatsteikens.

2.4.    Hawe-infrastruktuur
2.4.1.     Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van vyf van die sewe sleepbote wat deel vorm van Transnet se nasionale hawe-owerheid se vlootvernuwingsprogram om die uitdaging van verkeersopeenhoping in die land se hawens aan te spreek, belyn met die spoorvrag logistieke padkaart (Freight Logistics Roadmap), om die doeltreffendheid en mededingendheid van ons hawens en spoorweë te herstel. 
2.4.2.     Die sleepbote, wat toegerus is met die nuutste tegnologie asook sterker sleepkrag, sal help om vaartuigomkeertye te verminder deur te help met vinniger vervoer van vrag en vragskepe deur ons grootste hawens. Dus sal die sleepbote ook bydra tot veiligheid en help om ongelukke te voorkom deur skepe deur verkeersopeenhopings in die hawens te lei.

3.    Gesondheidsverwante sake
3.1    Mpox
3.1.1    Die Kabinet stel Suid-Afrikaners gerus dat die uitbreek van die Mpox-siekte onder beheer is in Suid-Afrika. Die siekte is nou as ʼn openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale belang deur die wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) verklaar, asook as openbare gesondheidsnoodgeval van kontinentale sekuriteit deur die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (Afrika-CDC).
3.1.2    Tot hede staan die aantal positiewe gevalle wat aangemeld is op 24 wat insluit drie sterftes, 19 gevalle van herstel en twee aktiewe gevalle in tuis-isolasie. Twaalf gevalle is in Gauteng aangemeld, 11 in KwaZulu-Natal en een in die Wes-Kaap.
3.1.3    Die Kabinet doen ʼn beroep op lede van die publiek om hul deel te bring en steun te verleen aan die staat se pogings om die verspreiding van Mpox te verhoed deur waaksaam te bly en nie-farmaseutiese ingrypings soos strenger persoonlike higiëne ter harte te neem en sodoende verdere verspreiding te bekamp. 
3.1.4    Die Kabinet steun die beroep deur president Ramaphosa – in sy kapasiteit as die Afrika-unie se kampioen vir pandemie-voorkoming, paraatheid en reaksie – op alle rolspelers om nou saam te werk met die Afrika-CDC om te verseker dat daar voldoende steun is vanaf die internasionale gemeenskap, wat sal verseker dat daar billike toegang is tot alle mediese teenmaatreëls, insluitend diagnostieke, terapeutika en entstowwe.

3.2    Bek-en-klouseer 
3.2.1    Groot vordering is gemaak in die bestryding van bek-en-klouseer in die Kouga en Kou-Kamma plaaslike munisipaliteite in die Oos-Kaap, met die laaste kliniese geval wat in middel-Julie aangemeld is. 
3.2.2    Die beweging van diere in en uit die areas wat geraak is, word voortdurend gemonitor om die verspreiding van die siekte na ongeraakte areas (soos bepaal deur die amptelike siektebestuursarea) te verhoed; en die vervoer van vee van een plek na ʼn ander vereis ʼn vervoerpermit van die plaaslike staatsveearts om die verspreiding van die siekte te bekamp. 
3.2.3    Die 30 beesplase wat positief getoets het vir die siekte is onder kwarantyn geplaas en inentings word gebruik om die verspreiding van die infeksie te beheer en die erns van die kliniese simptome te verminder. Daarbenewens is voorkomende inentings gedoen op ʼn verdere 37 plase wat identifiseer is hoë-risiko weens hul nabyheid aan die plase waar diere die siekte het. In totaal is meer as 92 000 beeste en nagenoeg 600 skape op 67 plase ingeënt.

3.3    Skoolvoedingsprogram
3.3.1    Die Kabinet het kennis geneem van die voorgestelde moderniseringstrategie van die nasionale skoolvoedingsprogram en steun die werk wat reeds onderweg is om deurdagte omsigtigheid te verseker in terme van die voorgestelde benadering en sodoende die belange van die 9.7 miljoen leerders wat daagliks deel is van die program te beskerm.

4    Vrouemaandvieringe
4.1    Nasionale lugvaartspitsberaad oor geslag (NAGS)
4.1.1    Die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartowerheid (SACAA), ʼn entiteit onder die departement van vervoer, het op Woensdag, 21 Augustus 2024 ʼn suksesvolle spitsberaad oor geslag (NAGS) aangebied in KwaZulu-Natal om die deelname van vroue aan die globale lugvaartsektor, asook vroueregte in die sektor, te bevorder.

4.2    Suider-Afrikaanse streekswebinaar oor die ekonomiese bemagtiging van vroue 
4.2.1    Die departement van vroue, die jeug en persone met gestremdhede bied op 21 en 22 Augustus ʼn tweedag-webinaar aan oor die ekonomiese bemagtiging van vroue in suider-Afrika.
4.2.2    Die webinaar sal kritiese kwessies rakende die ekonomiese bemagtiging van vroue aanspreek, met ʼn fokus op handels- en ekonomiese inisiatiewe, raamwerke en ooreenkomste op nasionale en streeksvlak en die impak daarvan op die ekonomiese bemagtiging van vroue, die jeug en persone met gestremdhede.

5    Internasionale sake
5.1    44e spitsberaad van die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) 
5.1.1    Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die 44e SAOG-spitsberaad vir staats- en regeringshoofde wat op 17 Augustus 2024 in Harare, Zimbabwe plaasgevind het.
5.1.2    Die spitsberaad het ledestate aangespoor om die SAOG se humanitêre maatreëls te implementeer met betrekking tot die droogtes en vloede veroorsaak deur El Niño-effek en om aan te hou om weerstoestande en klimaatsrisiko’s te monitor, insluitend die voorspelde La Niña-effek, en voorsorgmaatreëls te ontwikkel om die impak van rampe te versag. 
5.1.3    Die spitsberaad het kennis geneem van die totstandkoming van die ooreenkoms wat die drieparty-vryhandelsgebied onder die gemeenskaplike mark vir oostelike en suider-Afrika, die oos-Afrikaanse gemeenskap en die SAOG bekragtig, wat geleenthede sal bied aan SAOG-lede om voordeel te trek uit ʼn uitgebreide mark van 26 lande met ʼn totale bevolking van naastenby 700 miljoen en ʼn gesamentlike bruto binnelandse produk van US$1 triljoen. 
5.1.4    Rakende Israel se oorlog teen Palestina, het die spitsberaad met kommer kennis geneem van die voortdurende en meedoënlose aanvalle op gewone Palestynse burgers, wat tot lewensverlies, die vernietiging van eiendom en verswakkende humanitëre toestande gelei het. Die spitsberaad het ʼn beroep gedoen tot ʼn onmiddelike wapenstilstand, die vrylating van alle gyselaars en die aanvang van samesprekings om ʼn blywende oplossing tot die konflik te vind.

5.2    Konferensie van die spoorwegvereniging van suidelike Afrika (SARA)
5.2.1    Die Kabinet verwelkom die beraadslaging tydens die 13e SARA-konferensie om die spoorwegsektor in die SAOG te verhef met die doel om meer handel in die streek te bevorder en voordeel te trek uit die handelsgeleenthede wat spruit uit die Afrika kontinentale vryhandelsgebied.
5.2.2    ʼn Florerende SAOG spoorwegbedryf vereis groter belegging in spoorweë asook samewerking in die SAOG-streek om die vele uitdagings aan te spreek. Die streek se spoorwegbedryf het oor die jare heen uitdagings soos misdaad, diefstal en vandalisme ervaar. 
5.2.3    Suid-Afrika is daartoe verbind om sy deel te doen om ʼn doeltreffende, gekonekteerde en moderne spoorwegsektor te skep en is besig om beid en ingrypings soos die spoorvrag logistieke padkaart (Freight Logistics Roadmap) te implementeer om sodoende die kapasiteit en bevoegdheid van ons spoorweë tot herlewing te bring, te steun en moderniseer.

B.    Kabinetsbesluite
(i)    Adviserende liggaam in die departement van kleinsakeontwikkeling (DSBD)
(a)     Die Kabinet het die vestiging van ʼn adviserende liggaam in die departement van kleinsakeontwikkeling goedgekeur, soos voorgeskryf deur die gewysigde nasionale Wet op Kleinsake-ontwikkeling, 1996 (Wet 102 van 1996), gewysig.
(b)     Die vestiging van ʼn adviserende liggaam het ten doel om verteenwoordiging en bevordering van die belange van kleinsake-ondernemings te verseker, soos uiteengesit in die nasionale strategie vir die ontwikkeling en bevordering van kleinsake-ondernemings in Suid-Afrika. 
(c)     Die primêre funksie van die adviserende liggaam sal wees om die minister te adviseer oor breedvoerige areas wat kleinsake-ondernemings se groei beïnvloed, insluitend nasionale standaarde rakende kleinsake-ontwikkeling en -regulering. 
(d)     Die adviserende liggaam sal die regering verskaf van bewese deskundige raad oor die werkinge van verskeie aspekte van die kleinsake-ondersteunings-ekostelsel om meer doeltreffende beleidshervorming, wetsaanpassings en die ontwerp van ingrypings om mikro, klein en medium ondernemings en koöperasies te verbeter, te bemoontlik.

C.    Opdatering aan die Kabinet

(i)    Uitkomste van die 35e vergadering van die partye oor die Montreal-protokol (MOP) oor middele wat die osoonlaag verdun
(a)    Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die 35e vergadering van die partye oor die MOP oor die middele van die osoonlaag verdun, wat in Oktober 2023 in Nairobi, Kenia plaasgevind het.
(b)    Tydens die vergadering het afgevaardigdes hulself sterk daartoe verbind om bedreigings tot beide die osoonlaag en die globale klimaat aan te spreek. Suid-Afrika het die Montreal-ooreenkoms onderteken en die land se deelname aan die 35e MOP was daarop gemik om te verseker dat die regte van Suid-Afrikaners tot ʼn veilige omgewing, soos vasgelê in die Grondwet, beskerm is, gegewe dat sommige van die chemikalieë wat bespreek is as nadelig vir mense, in Suid-Afrika gebruik word, naamlik die verkoelingsbedryf, landbou, brandbestryding en lugversorging, en dat sommige van hierdie gebruike ʼn bydrae lewer tot ekonomiese groei in die land.


(ii)    Uitkomste van die 5e konferensie van die partye (COP5) oor die Minamata-konvensie 
(a)    Die Kabinet neem kennis van die uitkomste van COP5 wat in November 2023 in Genève, Switserland plaasgevind het. Die Minamata-konvensie is krities om menslike gesondheid en die omgewing teen die skadelike nagevolge en newe-effekte van kwik te beskerm. 
(b)    Die besluite wat by die spitsberaad geneem is, sluit die volgende in: (i) gedefinieërde nuwe datums om kwikdraende produkte uit te faseer, insluitend grimering- en skoonheidsprodukte, (ii) versterkte bande met inheemse volke, (iii) ʼn ooreenkoms op 15mg/kg totale konsentrasie van kwik as die skeidsdrumpel vir afval wat deur kwik of kwikverbindings besmet is.
(c)    Ander tegniese besluite wat geneem is, was onder meer aanvaarding van maatreëls vir die beheer van kwikvrylatings ter land en see en om die kwikuitlatings in die atmosfeer te beheer.

(iii)    Uitkomste van die 28e konferensie van die partye (COP28) tot die VN raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering (UNFCCC)
(a)    Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van COP28, wat in Desember 2023 in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate plaasgevind het. 
(b)    Die COP28-besluite is daarop gemik om die hoeveelheid kweekhuisgasse te verminder na 2°C, soos ten doel gestel tydens die Parys-ooreenkoms, en om ontwikkelende lande te help om aan te pas by die nadelige uitwerking van klimaatsverandering. 
(d)    Die Kabinet neem verder kennis van die belangrikste aflewerbares van COP28 ten opsigte van kwessies soos (i) die beëindiging van die twee-jarige Glasgow-Sharm el-Sheikh-werksprogram, (ii) aanvaarding van die UAE Just Transition-werksprogram om verskillende regverdige oorgangswyses te bespreek – besluite rakende die belangrike rol wat finansies, tegnologiese ontwikkeling en oordrag, en die bou van kapasiteitsteun speel om regverdige en billike oorgange te bemagtig, en (iii) die operasionalisering van die verlies- en skadefonds. 
(e)    Die partye het met spyt kennis geneem dat die teiken van U$100 miljard nie teen 2021 bereik is nie en dat, tensy genoegsame befondsing verskaf word, ontwikkelende lande dus nie hul teikens sal kan implementeer nie. 
(f)    Suid-Afrika bly daartoe verbind om die land se ondernemings onder die UNFCCC en die Parys-ooreenkoms na te kom.

D.    Wetsontwerp
(i)    Wetsontwerp op Maritieme en Lugvaart-soek-en-redding (AMSAR) van 2024 
(a)     Die Kabinet het die publikasie van die AMSAR Wetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur. Die Wetsontwerp beoog om die verouderde Suid-Afrikaanse Wet op Maritieme en Lugvaart-soek-en-redding, 2002 (Wet 44 van 2002) te wysig. 
(b)     Die Wetsontwerp is daarop gerig om die veiligheid van mense tydens lugvaart- en see-reddingsoektogte te verseker. Die Wetsontwerp is ook daarop gerig om die nasionale AMSAR-stelsel te belyn met internasionale standaarde en tendense. Die Wetsontwerp sal die AMSAR-stelsel versterk en ʼn hupstoot verleen aan die groei en ontwikkeling van lugvaart- en maritieme-verwante sektore en bydra tot ekonomiese groei.

E.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.
(a)     Stigtingslede van die raad van die kleinsake-ontwikkelingsagentskap:

(i)    Me. Nonzuzo Makhanda (Voorsitter)
(ii)    Me. Dorah Mosili
(iii)    Me. Xolisa Daku
(iv)    Me. Nontobeko Lubisi
(v)    Mnr. Luyanda Ntuane
(vi)    Me. Cingashe Motale
(vii)    Mnr. Pat Makape
(viii)    Me. Hilda Tsoadi
(ix)    Mnr. Avuyile Xabadiya
(x)    Mnr. Sinovuyo Mpakama
(xi)    Mnr. Waseem Carrim
(xii)    Mnr. Thembinkosi Bonakele; en 
(xiii)    Me. Keabetwe Mogorosi

F.    Komende gebeurtenisse

1.    Streeksontwikkelingsmodel (SOM) presidensiële imbizo in Ekurhuleni
1.1.    President Ramaphosa sal op Vrydag 23 Augustus 2024 ʼn streeksontwikkelingsmodel presidensiële imbizo lei in die Tsakane-stadion in die Ekurhuleni Metro, met die doel om die vordering op ondernemings van dienslewering te assesseer.
1.2.    Die streeksontwikkelingsmodel presidensiële imbizo sal bygewoon word deur leiers van al drie referingsfere wat sal beraadslaag oor die diensleweringsuitdagings wat gemeenskappe in die oë staar asook ontwikkelingsplanne vir die metropolitaanse munisipaliteit belyn met die beginsel van Een Regering, Een Plan, Een Begroting.
1.3.    Die streeksontwikkelingsmodel-imbizo is ʼn gespreksvoeringplatform uniek aan Suid-Afrika en maak van ons een van die min lande wat so direk met landsburgers skakel en beraadslaag.
1.4.    Die inwoners van Ekurhuleni word uitgenooi om die imbizo in groot getalle by te woon vir gesprekvoering oor die planne daargestel om die watertekortprobleem op te los, asook die maatreëls wat gemeenskappe wat met Eskom handel, moet neem om voortdurende ladingsvermindering te vermy.

2.    Aanbied van die Aviation Africa-spitsberaad en uitstalling 
2.1    Die Kabinet het dit oorweeg en goedgekeur dat Suid-Afrika gasheer sal speel vir die “Aviation Africa”-spitsberaad en uitstalling vanaf 16 tot 17 September te Johannesburg. Die spitsberaad en uitstalling is ʼn groot handelsgeleentheid in die lugvaartbedryf. 
2.2    Daarbenewens sal die geleentheid Suid-Afrika as toeriste-bestemming bemark en ʼn geleentheid bied om Suid-Afrikaanse produkte aan mense wat die spitsberaad en uitstalling bywoon, te bemark.

3.    Konferensie oor migrasie
3.1    Die nasionale beplanningskommissie, die internasionale organisasie vir migrasie en die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram bied ʼn konferensie oor migrasie van 20 tot 23 Augustus in Johannesburg aan. 
3.2    Die konferensie sal migrasie as ʼn aandrywer van ontwikkeling ondersoek en bespreek, met ʼn spesifieke fokus op wyses om diaspora-kapitaal en internasionale samewerking tot grootste voordeel te benut.


4.    Toerismemaand
4.1    Die 2024-toerismemaandprogram, wat vanaf 1 tot 30 September 2024 sal plaasvind, is in die Noord-Kaap geloods ter erkenning van die behoefte om die waarde van toerisme regoor die land te versprei. 
4.2    Terwyl die land plaaslike en internasionale besoekers uitnooi om Suid-Afrika se majestieuse toeriste-bestemmings, lewendige kultuur en tradisies te verken, is die regering hard aan’t werk om die sektor verder uit te brei deur die ongetapde potensiaal vir toerisme in ons informele nedersettings, gehuggies en dorpe te ontsluit. Sodoende sal ons die toerismekapitaal van Suid-Afrika vermeerder en diversifiseer.

5.    Staatsbesoek deur Volksrepubliek Sjina 
5.1    Sy Eksellensie, president Ramaphosa sal van 2 tot 5 September 2024 ʼn staatsbesoek na die Volksrepubliek Sjina onderneem wat diplomatiese en handelsbetrekkinge tussen die twee lande sal versterk. Hier besoek volg President Xi Jinping se 4e staatsbesoek aan Suid-Afrika in 2023.
5.2    Sjina is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, met bilaterale handel van US$34 miljard in 2023, wat bestaan het uit uitvoere ter waarde van US$12 miljard en invoere ter waarde van US$22 miljard. Sjina is voorts ook ʼn groot bydraer tot Suid-Afrika se beleggingsveldtog en is ons grootste bron van direkte buitelandse belegging.
5.3    ʼn Aantal belangrike ooreenkomste sal na verwagting gesluit word tydens die staatsbesoek, insluitend ʼn ooreenkomsraamwerk vir ontwikkelingsamewerking, die handelsbalans en die uitbreiding van marktoegang. 
5.4    ʼn Suid-Afrikaanse afvaardiging sal ook deelneem aan die forum vir Sjina-Afrika samewerking (FOCAC) wat sal plaasvind van 4 tot 6 September 2024. 
5.5    FOCAC is ʼn multilaterale koordineringsmeganisme tussen Sjina en Afrika-lande en word beskou as ʼn samewerkingsplatform in die Sjinese “Belt and Road”-inisiatief, wat Sjina se globale infrastruktuursontwikkelingstrategie vorm.

G.    Boodskappe

1.     ʼn Wennasie
1..1.    Ons nasie se sportmanne en -vroue hou ons naam hoog in verskeie sportkodes regoor die wêreld en verening ons net nog meer as nasie. 
1..2.    Ons rugbywêreldkampioene, die Springbokke, het Australië oorwin en bly onoorwonne in die rugby-kampioenskap. 
1..3.    Ook in Australië het Dricus du Plessis ʼn manjefieke oorwinning behaal in sy UFC-middelgewigtitel teen Nigerië se Israel Adesanya in Perth.
1..4.    Die Proteas het hul wenstreek volgehou met ʼn sege teen die Wes-Indiese Eilande in die tweede toets in Guyana en so ook dus die toetsreeks met 1-0 gewen.
1..5.    Die SA-span het een goue medalje, drie silwermedaljes en twee bronsmedaljes gewen tydens die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk – dubbel soveel as met die 2021-spele in Tokyo, Japan. Hierdie prestasie sal nog lank onthou word. 
1..6.    As nasie het ons die Suid-Afrikaanse aflosspan – Bayanda Walaza, Bradley Nkoana, Shaun Maswanganyi en Akani Simbine – se silwermedalje in die mans 4x100m aflosfinaal gevier. Hulle het ʼn nuwe Afrika-rekordtyd van 37.57 sekondes aangeteken. Voorts het Jo-Ane van Dyk ʼn silwermedalje verower in die vroue se spiesgooi-afdeling.
1..7.    Hierdie seges dui op die mag van sport om grense te oorskry en mense te verenig. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om sulke oomblikke te gebruik om uit te reik na mede-Suid-Afrikaners om die soort samelewing te bou waarin ons wil leef.

2.    Gelukwensings
Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan: 
•    Die pasgekroonde Mej. Suid-Afrika 2024, me. Mia le Roux, en prys haar deursettingsvermoë. As die eerste persoon met ʼn gestremdheid (gehoorstremdheid) om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word, verpersoonlik Mia die Suid-Afrikaanse gees van oorwinning teen teëspoed. Die Kabinet wens haar alle voorspoed toe met haar nuwe veranwoordelikhede as ʼn ambassadeur vir Suid-Afrika. 
•    Die uitgaande hoofregter Justice Raymond Zondo, wat aftree aan die einde van Augustus 2024 na ʼn bekroonde regsloopbaan van 27 jaar.
•    Me. Fikile Marakalla, wat die tweede plek behaal het in die foto-afdeling van die SADC Media-toekennings 2024. Sy het haar loopbaan begin by die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS) as ʼn intern en is tans werksaam in die adjunkpresident se fotografiese span.
•    Mnr. Benjamin Moshatama van Channel Africa Radio, wat tweede plek behaal het in die radio-afdeling van die SADC Media-toekennings 2024.
•    Die Durbanse dansgroep Wu Tang Cru, wat goud en silwer gewen het by die UDO-wêreldstraatdanskampioenskappe. Die groep het goud verwerf in die onder-14 intermediêre afdeling en is as wêreldkampioene bekroon. 
•    Mnr. Dada Morero, die nuutverkose burgemeester van Johannesburg, en wens hom alle voorspoed toe waar hy die taak onderneem om Suid-Afrika se grootste metro te lei.

3.    Medelye
Die Kabinet spreek hul medelye uit met die vriende en familie van: 
•    Prof. Muxe Nkondo, ʼn vooraanstaande geleerde in maatskaplike beleid en erfenis. Hy het noemenswaardige bydraes gelewer tot die ontwikkeling van openbare beleid in die areas van toerisme, menslike nedersettings en publieke administrasie tot wetenskap en tegnologie, en kuns en kultuur.
•    Mnr. William Smith, die innoveerder in Wiskunde- en Wetenskapsonderrig wat voorheen met die nasionale Orde van die Baobab vereer is. William het baie leerders gehelp deur Wiskunde, Wetenskap, Biologie en Engels te vereenvoudig en makliker verstaanbaar te maak met die SABC se Learning Channel-programme – die man wat reeds virtuele leer en onderwys beoefen het lank voor die digitale era. 
•    Me. Zanele Mbokazi-Nkambule, wat ʼn aanbieder was by Ukhozi FM en die stigter was van die Crown Gospel-toekennings.

Navrae: Me. Nomonde Mnukwa – Waarnemende Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore