Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 18 Augustus 2021

A. Kwessies in die omgewing

1. Koronavirussiekte (KOVID-19) Maatskaplike Verligting van Nood-toelae
1.1. Die Kabinet is bewus van die swaarhede wat deur die KOVID-19-pandemie asook die onlangse burgerlike onluste in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng veroorsaak is. In hierdie opsig word Suid-Afrikaners herinner dat aansoeke vir die land se KOVID-19 maatskaplike verligting van nood-toelae ter ondersteuning van mense wat geen inkomste verdien nie, oopgestel is op Vrydag, 6 Augustus. 
1.2. Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) het nuwe kanale geskep en aansoeke kan nou ingedien word via die govchat.app en Facebook Messenger, benewens die Sassa-webwerf by https://srd.sassa.gov.za en WhatsApp op 082 046 8553.
1.3. Persone tussen die ouderdom van 18 en 60 wat geen finansiële steun van enige aard het nie, kan aansoek doen. Die toelae van R350 per maand is ʼn belangrike veiligheidsnet vir families wat andersins weens armoede en werkloosheid sou vergaan.

2. Energie 
2.1. Die Kabinet verwelkom die publikasie in die Staatskoerant van die regulasies wat die drempel van ingebedde kragopwekking verhoog, vanaf die huidige een megawatt (MW) na 100 MW. In Junie 2021 het President Cyril Ramaphosa die wysiging van skedule 2 van die Reëlingswet op Elektrisiteit, 2006 (Wet 4 van 2006) aangekondig. Die wysiging verhoog die Nasionale Energiereguleerder se lisensiëringsdrempel vir ingebedde opwekkingsprojekte om sodoende ʼn verhoging in privaatopwekking van elektrisiteit te bemoontlik. 
2.2. Maatskappye in energie-intensiewe sektore sal voortaan in staat wees om sonder ʼn lisensie hul eie elektrisiteit op te wek. Die nuwe opwekkingskapasiteit sal energiesekerheid verbeter deur afhanklikheid van die kragnetwerk te verminder en aansienlike belegging vanuit die privaatsektor te ontsluit.

3. Steunpakket vir Ekonomiese Herstel
3.1. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle sake-ondernemings wat deur die onlangse burgerlike onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng geraak is en vir ekonomiese steun in aanmerking kom om vir die nulpersent-rentekoers bedryfslening-steunpakket aansoek te doen, as deel van die Staat se R3.75-miljard ekonomiese herbou- en herstelpakket.
3.2. Die departement van handel, nywerheid en kompetisie en sy ontwikkelingsfinansieringsinstellings – die Nywerheid-ontwikkelingskorporasie en die Nasionale Bemagtigingsfonds – het ʼn befondsingspakket saamgestel om verskeie handelsherstel-ingrypings te steun. Dit sluit in die herbou van infrastruktuur, toerusting, meublement vir sake-persele, voorraad en bedryfskapitaal. Die befondsing sal help om die sosio-ekonomiese uitdagings aan te spreek wat die sake-ondernemings wat deur die onluste geraak is, tans in die oë staar. 
3.3. Die Kabinet verwelkom ook en onderskryf die aankondiging deur JP Morgan om finansiële en nie-finansiële steun van R340 miljoen te bied by wyse van die Abadali-beleggingsprogram. Die program bestaan uit die Abadali-fonds – ʼn swart handelsgroeifonds – en die Abadali-toelae (R40 miljoen). 
3.4. Hierdie inisiatiewe sal inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping in klein- en mediumgrootte sake-ondernemings ondersteun, veral in die vervaardigingsektor en die groensektor. 

4. Naamverandering
4.1. Die Kabinet verwelkom die naamverandering van Brandfort in die Vrystaat na Winnie Mandela, ter ere van die struggle- en vryheidsikoon wat tydens apartheid na die dorp verban is.

5. Herdenking van Marikana 
5.1. Die Kabinet, saam met die land, herdenk die tragedie wat in Augustus 2012 by Marikana in die Noord-Wes plaasgevind het en gee erkenning aan die lyding van werkers, hul families en die land in geheel. As volk moet ons vasberade bly dat só ʼn tragedie nooit weer geskied nie. 
5.2. Goeie vordering is deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gemaak om die aanbevelings van die Farlam-kommissie van Ondersoek te implementeer. Sommige van hierdie aanbevelings sal implementeer word sodra die betrokke SAPD-wetgewing in die Parlement gewysig is. 
5.3. Werk om die lewens van die mynwerkers te verbeter, duur voort. Die bou van menslike nedersettings en rehabilitasie van infrastruktuur in die omgewing duur voort, in samewerking met die privaatsektor. 
5.4. Die Kabinet is ook ingenome met die goeie vordering wat gemaak is met betrekking tot die vergoeding van die slagoffers van die tragedie en hul familielede. Die Kantoor van die Sollisiteur-Generaal het reeds die meerderheid van die eise verwerk, met die laaste betaling wat in Junie 2021 gemaak is. Die uitstaande eise wag op die indiening van al die betrokke dokumentasie. 
5.5. Die Kabinet spoor die regspanne van die slagoffers aan om hard te werk en so spoedig moontlik die oorblewende eise te finaliseer. Die Kantoor van die Staatsprokureur is die sentrale struktuur wat hierdie eise prosesseer.

6. Spitsberaad van die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) 
6.1. President Ramaphosa was aan die hoof van Suid-Afrika se deelname aan die 41e Gewone Spitsberaad van Staatshoofde op 17 en 18 Augustus 2021 in Lilongwe, Malawi onder die tema van “Ondersteuning van Vervaardigingskapasiteit tydens die KOVID-19-pandemie vir Inklusiewe en Volhoubare Ekonomiese en Nywerheidstransformasie”. 
6.2. Die spitsberaad het die vordering wat gemaak is met betrekking tot die bevordering en versterking van streeksintegrasie soos belyn met die SAOG se streeksontwikkelingsplan vir 2020-2030 in oënskou geneem.
6.3. Die Kabinet herbevestig Suid-Afrika se verbintenis tot die streek se integrasie en industrialisasie, veral ten opsigte van die SAOG se herstel van die KOVID-19-pandemie. Deur saam te werk sal suider-Afrika van krag tot krag gaan wanneer ons ons nywerheidsektore saamspan in die herbou van ons ekonomieë.

B. Kabinetsbesluite

1. Nasionale Koronavirus-bevelraad 
1.1. Die Kabinet het die koronavirus-bevelraad se verslag ontvang waarin daar aangedui word dat meer as nege miljoen inentings tot dusver in Suid-Afrika toegedien is, met meer as sewe miljoen mense wat gedeeltelik ingeënt is en meer as vier miljoen mense wat ten volle ingeënt is. 
1.2. Die Kabinet verwelkom die inentingsuitrolprogram wat daarop gemik is om die inentingskoers te verhoog, veral in provinsies waar daar ʼn daling is in die aantal mense wat ingeënt word. As deel van die uitbreiding van die inentingsuitrolprogram, verleen die Kabinet hul goedkeuring aan die inenting van mense tussen die ouderdom van 18 jaar en 35 jaar vanaf 20 Augustus 2021. 
1.3. Dit is wetenskaplik bewys dat mense wat ingeënt is, ʼn beter kans staan om KOVID-19 te oorleef as mense wat nie ingeënt is nie. Dus moet ons die vals, ongegronde en misleidende samesweringsteorieë oor inentings verdryf en kies om te leef deur te kies om ingeënt te word. 
1.4. Die Kabinet verleen ook hul goedkeuring daaraan om die huidige risiko-gewysigde waarskuwingsvlak 3 van die nasionale inperking in die land voort te sit, op raad van die ministeriële advieskomitee. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners wat nog nie ʼn inenting ontvang het nie, aan om ingeënt te word aangesien die inentings ons beskerm teen erge ongesteldheid weens die KOVID-19 en sodoende lewens red.
1.5. Dit is maklik om ingeënt te word; besoek net jou naaste inentingspunt met jou identiteitsdokument om geregistreer en ingeënt te word. Jy kan jou naaste inentingspunt, waarvan daar meer as 3 000 landswyd is, vind op die webwerf: www.sacoronavirus.co.za/active-vaccination-sites.

C. Toekomstige gebeure

1. Expo 2020
1.1. Suid-Afrika gaan aan die komende wêreld-ekspo genaamd Expo 2020 deelneem. Die Kabinet het die land se deelname in Desember 2019 goedgekeur. Die wêreld-ekspo is weens KOVID-19 uitgestel en sal nou as ʼn mengsel van virtuele en op-perseel uitstallings plaasvind in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate vanaf 1 Oktober tot 31 Maart 2022. 
1.2. Die multinasionale geleentheid, wat elke vyf jaar in ʼn ander land gehou word, bied ʼn groot en aanloklike mark om die goedere en dienste wat Suid-Afrika bied aan ʼn globale gehoor ten toon te stel. Die departement van handel, nywerheid en kompetisie sal volgende week ʼn breedvoerige mediakonferensie hou om Suid-Afrika se deelname aan Expo 2020 uiteen te sit. 

D. Boodskappe

1. Gelukwense
Die Kabinet dra hul gelukwense en welmenendheid oor aan: 

  • Die 109 brandbestryders en bestuursamptenare wat deur die departement van bosbou, visserye en die omgewing ontplooi is as deel van die departement se “Working on Fire”-program en bystand verleen met die brandbestrydingspogings in die Manitoba-provinsie in Kanada.
  • Me Tatjana Schoenmaker, wat silwer- en goue medaljes vir swem verwerf het, en Me Bianca Buitendag, wat ʼn silwermedalje in branderplankry verwerf het by die onlangse Olimpiese Spele in Tokio, Japan. Hulle het Suid-Afrika se naam hoog gehou. 
  • Mnr Brad Binder, die motorfietsrenjaer, wat Suid-Afrika se naam hoog gehou het met sy sege in die 2021 Oostenrykse MotoGP Grand Prix.

2. Medelye

Die Kabinet spreek hul medelye uit met die familie en vriende van:

  • Mnr Dan Sechaba Montsitsi (67), een van die leiers van die Soweto-opstand op 16 Junie 1976, wat onvermoeid vir vryheid en demokrasie geveg het en ook as Parlementslid gedien het. 
  • Dr Johan van Zyl (63), die uitvoerende hoof van Toyota South Africa Motors, word onthou vir sy leierskap en die sukses van die maatskappy asook Toyota Motors Europe.

Share this page

Similar categories to explore