Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 4 Maart 2015

1. Implementering van die belangrikste regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die 2015 Nasionale Begroting wat die implementering van die nege-puntplan wat deur die President in sy staatsrede bekendgemaak is, sal dryf. Hierdie begroting voorsien sekerheid, stabiliteit en omsigtige fiskale bestuur, wat nodig is om die Suid-Afrikaanse ekonomie deur hierdie moeilike ekonomiese omstandighede te lei.

Die Kabinet benadruk dat die belastingmaatreëls wat in die 2015 Nasionale Begroting bekendgestel is, nodig is om die fiskus in die jaar wat voorlê te ondersteun. Suid-Afrikaners word aangemoedig om met die Regering saam te werk om die huidige ekonomiese toestande teë te werk om verdere ekonomiese groei te stimuleer.

1.2 Die Kabinet loof die uitstekende werk deur Adjunkpresident Cyril Ramaphosa met die fasilitering van die vrye en regverdige verkiesing in Lesotho in sy rol as fasiliteerder vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Die Kabinet prys ook die SAOG se Verkiesingsadviesraad, Lesotho se Verkiesingskommissie, die veiligheidsmagte en die mense van Lesotho vir die hou van 'n vreedsame, vrye en regverdige verkiesing. Suid-Afrika sal met Lesotho se nuutverkose regering saamwerk om die ekonomieë van die twee lande, die Suider-Afrikaanse streek en die vasteland as 'n geheel te ontwikkel.

1.3 Die Kabinet erken en verwelkom Suid-Afrika se deelname aan Wêreld Wildlewedag op 3 Maart 2015. Onder die rentmeesterskap van Minister Molewa, vestig Suid-Afrika steeds programme wat die land se omgewing beskerm en die stryd teen stropery voortsit. Die belangrikste hiervan is die plasing van die Groen Skerpioene by die OR Tambo Internasionale Lughawe. Dit is om te verseker dat die bedreigde of beskermde spesie-regulasies nagekom word, asook die CITES-regulasies, bio-prospekteringregulasies, regulasies oor toegang tot en deel van voordele, en die uitheemse en indringerspesie-regulasies. Suid-Afrika het ook 'n belangrike rol gespeel in die onderhandelinge met Interpol, veral op die Adviesraad van die Omgewingsnakoming- en toepassingskomitee, en in die drie Interpol-misdaadwerkgroepe, naamlik die Wildlewe-misdaadwerkgroep, Visserye-misdaadwerkgroep en die Besoedeling-misdaadwerkgroep.

1.4. Die Kabinet neem kennis dat Durban op 2 Maart 2015 ‘n bod in Londen ingedien het om gasheer vir die 2022 Statebondspele te wees. Om gasheer vir dié spele te wees kan potensieel ongeveer 11 650 werkgeleenthede skep en die land se ekonomie ‘n hupstoot van 'n geraamde R20 miljard gee. Nog ’n nalatenskap van die spele sal 'n geïntegreerde openbare vervoerstelsel vir Durban wees, waarvan die planne reeds goedgekeur is.

2. Belangrike Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet het die Digitale Uitsaai-migrasie Wysigingsbeleid goedgekeur, insluitend die beheerstelsel in die dekodeerder wat duidelik gedefinieer sal word wanneer die beleid gepubliseer word. Die Regering sal gratis dekodeerders voorsien aan meer as 5 miljoen arm mense wat huishoudelike televisiestelle het. Huishoudings in die grensgebiede van die land sal voorkeur geniet. Die Minister van Kommunikasie sal binnekort die datums vir die aanskakeling van die digitale sein en die afskakeling van die analoogsein aankondig.

2.2 Die Kabinet keur die vyf-jaar Strategiese Raamwerk vir Landbou, Bosbou en Visserye en die Landboubeleid-aksieplan goed.  Die raamwerk sit die belangrikste uitdagings wat die drie sektore in die gesig staar uiteen, en stel tussenkomste in die vier areas voor, naamlik gelykheid en transformasie; billike groei en mededingendheid; omgewingsvolhoubaarheid en bestuur. Die strategie en die aksieplan sal op 'n jaarlikse basis bygewerk word. Grondherverdeling is een van die Regering se programme wat gelykheid bevorder het, maar wat tot dusver nie veel bereik het ten opsigte van transformasie nie. Terwyl die Heropbou en Ontwikkelingsprogram verklaar het dat grondherverdeling hoofsaaklik daarop gemik was om die struktuur van die Suid-Afrikaanse landbou te verander, is dit ook daarop gemik om die sektore te ondersteun om die ekonomie te laat groei en werk te skep.

2.3. Die Kabinet keur goed dat die Internasionale Hospitaalfederasie se 40ste Wêreld Hospitaalkongres teen die einde van 2016 in Durban gehou word.  Die Internasionale Hospitaalfederasie is 'n wêreldwye onafhanklike, nie-winsgewende, nie-regeringsorganisasie vir hospitale en gesondheidsorgorganisasies. Die jaarlikse kongres bied 'n geleentheid vir gesondheidspraktisyns om beste-praktykmetodes/-benaderings vir die verbetering van gesondheidsorguitkomste te deel.

2.4. Die Kabinet doen 'n beroep op ouers om aktief betrokke te raak by die 2015 verkiesings van skoolbeheerliggame wat van 6 tot 28 Maart 2015 in alle openbare skole sal plaasvind. Skoolbeheerliggame dra by tot die ontwikkeling van 'n sterk gevoel van gemeenskapseienaarskap van ons skole. Die algemene prestasie van skole, insluitend akademiese prestasie, is geneig om te verbeter wanneer ouers aktief betrokke is en belangstelling toon in die sake van die skool. Meer as 250 000 lede word elke drie jaar verkies om in ons openbare skole te dien en word verenig deur 'n gemeenskaplike doel, naamlik om onderwys 'n ware maatskaplike kwessie te maak.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur die indiening van twee wetsontwerpe by die Parlement goed; albei wysig die Kinderwet, 2005 (Wet 38 van 2005), soos gewysig deur Wet 41 van 2007. Die wysigings is ‘n reaksie op die hofuitsprake wat sekere dele van die Wet as ongrondwetlik verklaar het.

Die Wysigingswetsontwerp op die Kinderwet, 2015 (artikel 75 Wetsontwerp) – Die wysigings het betrekking op die definisie van "seksuele misdryf" en bring dit in lyn met die Wysigingswet op Strafreg- (seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede), Wet 32 van 2007. Die wysigings hou ook daarmee verband dat kinderoortreders toegelaat moet word om vertoë te rig voordat hul name in die Nasionale Beskermingsregister aangeteken word. Die voorgestelde wysigings verduidelik ook die voorwaardes vir die plasing van 'n kind in pleegsorg en maak voorsiening vir bykomende kategorieë van kinders wat aangeneem kan word.

Die Tweede Wysingswetsontwerp op die Kinderwet, 2015 (artikel 76 Wetsontwerp) - het ten doel om te verseker dat alle kinders dienste en voordele geniet wat gemik is op die fasilitering van toegang tot maatskaplike sorg en veiligheid en die skep van 'n doeltreffende stelsel van sosiale sekerheid. Dit het ook ten doel om 'n veilige en beskermende omgewing te bied vir die plasing van kinders waar vasgestel is dat hulle ’n behoefte aan sorg en beskerming het.

4. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

4.1. Die Kabinet veroordeel ten sterkste die uitlek van dokumente wat die veiligheid van die land in die gedrang kan bring. Terwyl dit  internasionale praktyk vir lande is om inligting te deel oor, onder meer, algemene kwessies met betrekking tot ekonomiese geleenthede en veiligheid, is die beweerde lekkasie van dokumente wat besonderhede oor bedrywighede van die Staatsveiligheidsagentskap bevat, onwettig.

Die Kabinet verwelkom die Staatsveiligheidsagentskap se volledige ondersoek na die saak en stel Suid-Afrikaners gerus dat die Staatsveiligheidsagentskap sal voortgaan om te fokus op sy mandaat om die integriteit van die land, sy burgers en infrastruktuur te beskerm.

Die Kabinet bevestig die boodskap deur die Minister van Staatsveiligheid, Minister David Mahlobo, dat sodanige optrede die operasionele doeltreffendheid van die werk om die land en sy grense te beveilig, ondermyn.

4.2. Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur Eskom dat Eenheid 6 van die Medupi-kragstasie hierdie week sy eerste krag opgewek het, wat dit die eerste van sy ses eenhede maak wat gesinchroniseer is.

Sinchronisasie is die proses waardeur die kragopwekker elektries aan die nasionale kragnetwerk gekoppel word. Terwyl ons voortgaan met werk om die kragtoevoer in die nasionale netwerk te verhoog, doen die Kabinet 'n beroep op die publiek om steeds energiebesparingsmaatreëls toe te pas. Gemeenskappe word aangemoedig om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, terwyl ons voortgaan om ander alternatiewe energiebronne bekend te stel.

4.3. Die Kabinet loof die dapperheid, toewyding en harde werk van die manne en vroue wat onvermoeid werk om lewens te red en skade aan eiendom, lewende hawe en ons gesogte natuurlike omgewing wat deur die veldbrande in Kaapstad verswelg is, te voorkom.

Die Kabinet bedank die gemeenskappe wat in die gees van ubuntu met die Regering saamwerk om massa-sorgsentrums tot stand te bring om mense wat hul huise moes verlaat  te akkommodeer. Die gees van vrywilligheid deur mense wat die slagoffers van brande ondersteun, is groot en bemoedigend.

4.4. Die Kabinet bly bekommerd oor die aanvalle op buitelandse burgers en waarsku dat die wetstoepassingsagentskappe sal voortgaan om 'n sterk teenwoordigheid in gebiede wat daardeur geraak word, te behou, en dat oortreders met die volle mag van die wet te doen sal kry. Geweld teen buitelandse burgers word daadwerklik teengestaan deur middel van verskeie bestaande regeringstrukture.

4.5. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse Nasionale onder-17 sokkerspan, die Amajimbos, geluk omdat hulle die land trots gemaak deur vir die eindstryd van die 2015-Afrika onder-17-Kampioenskap in Niamey, Niger te kwalifiseer. Hul prysenswaardige prestasie by die Afrika-jeugkampioenskappe kwalifiseer hulle vir die FIFA Onder-17 Wêreldbekertoernooi in Chili later vanjaar.

4.6. Die Kabinet betreur die afsterwe van een van Suid-Afrika se musikale legendes Zayn Adam. Hy was 'n bekende sanger vir die invloedryke musiekgroep Pacific Express uit die sewentigerjare en sy loopbaan het oor meer as 50 jaar gestrek. Hy was sinoniem met Kaapstad se musikale geskiedenis.

4.7. Die Kabinet is bly dat, getrou aan die eienskappe van 'n regering wat omgee, die finale fase afgehandel is om die oorskot van Suid-Afrikaners terug te bring wat gesterf het toe ‘n gastehuis van die Synagogue Church of All Nation in Lagos, ineengestort het. Ons dink aan die families wat hul geliefdes verloor het, asook aan die mense wat in die tragiese ongeluk beseer is.

5. Komende gebeure

5.1. President Jacob Zuma sal die opening van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers in die Parlement in Kaapstad op 5 Maart 2015 (vandag) toespreek. Die verhouding tussen die Regering en tradisionele leiers is van deurslaggewende belang om te verseker dat ons lewenslustige, billike en volhoubare landelike gemeenskappe ontwikkel.

5.2. Die Kabinet verwelkom die terugkeer van die oorskot van die bekende strydikone JB Marks en Moses Kotane na Suid-Afrika uit Rusland, waar hulle 42 jaar gelede begrawe is. Hierdie onbaatsugtige leiers, wat beskou word as die vaders van die vryheidstryd en wat staatmakers soos Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu geïnspireer het, sal met spesiale amptelike begrafnisse vereer word. President Jacob Zuma het opdrag gegee dat die nasionale vlag vanaf 9 Maart tot die aand van 22 Maart 2015 halfstok hang. Moses Kotane sal op 14 Maart 2015 in Pella, Noordwes herbegrawe word en JB Marks sal op 22 Maart 2015 in Ventersdorp, Noordwes herbegrawe word. Hulle terugkeer is deel van die Regering se verbintenis om die oorskot van al ons gevalle makkers wat op vreemde bodem gesterf het terug te bring. Verlede jaar is die bekende anti-apartheidsjoernalis, Nat Nakasa, suksesvol van New York af gerepatrieer om by die helde-akker in Chesterville, Durban herbegrawe te word.

5.3. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die reuse omvattende TB-sifting en -toetsveldtog deur Adjunkpresident Cyril Ramaphosa op 24 Maart 2015 – Wêreld TB-dag – in die Dr Kenneth Kaunda-distrik in Noordwes, onder die tema " Beëindiging van Suid-Afrika se TB-epidemie: Bespoediging van ons reaksie in die sleutelbevolkings". Hierdie lewenslange veldtog sal alle Suid-Afrikaners, veral dié in mynbougemeenskappe, in korrektiewe fasiliteite en by vroeë kinderontwikkelingsentrums mobiliseer om vir TB gesif en getoets te word. In die afgelope vyf jaar is groot vordering gemaak om die Regering se strategieë vir TB-beheer te versterk met 'n verhoogde sifting- en toetsingkoers, veral deur die Veldtog vir MIV-berading- en Toetsing. Sifting en toetsing is verder versterk deur die bekendstelling van die vinnige diagnostiese toetse vir TB en middelweerstandige TB.

5.4. Die Kabinet prys die toewyding van ons onderwysers, sonder wie ons baie van ons nasionale doelwitte nie sou kon bereik nie. Die nominasies vir die Nasionale Onderwystoekennings gee erkenning aan die uitstekende bydrae wat onderwysers tot die ontwikkeling van ons land maak; die toekenningseremonie vind op 7 Maart 2015 by Gallagher Estate in Midrand plaas. Die Departement van Basiese Onderwys is die gasheer vir hierdie jaarlikse geleentheid waar hulde gebring word aan toegewyde, hardwerkende en professionele onderwysers.

5.5. Die Minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane sal Nasionale Waterweek op 16 Maart 2015 by die droogtegeteisterde KwaDukuza in KwaZulu-Natal bekendstel onder die tema: "Water het geen plaasvervanger". Nasionale Waterweek sal op 22 Maart 2015 afgesluit word met Wêreld Waterdag. Die veldtog sal Suid-Afrikaners opvoed oor die waarde van water en die behoefte vir die volhoubare bestuur van hierdie skaars hulpbron. Die Kabinet herinner alle Suid-Afrikaners dat ons in 'n waterskaars land woon, en doen ‘n beroep om almal om dit te bewaar deur lekkasies te herstel en waterwyse lewenstylveranderings te maak.

5.6. Sondag 8 Maart is Internasionale Vrouedag, ‘n dag waarop daar jaarliks regoor die wêreld besin word oor vordering wat gemaak is, ‘n beroep gedoen word vir verandering en dade van moed en vasberadenheid deur gewone vroue wat buitengewone rolle in die geskiedenis van hul gemeenskappe en lande gespeel het, gevier word. Die Departement van Vroue sal die nasionale viering van Internasionale Vrouedag by die Langa Hoërskool in Kaapstad lei onder die tema “Vroueregte is Menseregte: Saam laat ons ‘n nie-gewelddadige Suid-Afrika vooruitgaan”. Hierdie tema is in lyn met die Verenigde Nasies se tema van: “Gelykheid vir Vroue is Vordering vir Almal!” Dit is ook in lyn met die Afrika-Unie se verklaring van die jaar 2015 as "Die Jaar van Vrouebemagtiging en Ontwikkeling vir Afrika se Agenda 2063". Die dag sal gebruik word om die nasionale en provinsiale dialoogprogram wat hierdie maand begin en tot einde Junie duur, van stapel te stuur. Dit sal lei tot 'n verslag oor die status van vroue, wat op 9 Augustus deur die President bekend gestel word.

5.7. Die Kabinet doen 'n beroep op die Suid-Afrikaanse media om hul inskrywings vir die 2015 SAOG-mediatoekennings in te dien. Die sluitingsdatum is 31 Maart 2015 en meer inligting is beskikbaar op die Departement van Kommunikasie se webwerf www.doc.gov.za. Die toekennings verbind formele strukture van SAOG-regerings, die burgerlike samelewing, die akademie, arbeid en die media. Dit bevorder streeksintegrasie en samewerking deur die mediapraktisyns in lidlande aan te moedig om kwessies wat betrekking op die streek het te dek. Die kompetisie sluit ook die Water-mediatoekennings in wat erkenning gee aan berigte wat geïntegreerde waterhulpbronbestuur in die SAOG-streek bevorder.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die nodige klarings.
6.1. Mnr Mayihlome Tshwete as Adjunk-direkteur-generaal: Kommunikasiedienste in die Departement van Binnelandse Sake.
6.2. Me CM Mogotsi as Adjunk-direkteur-generaal in die Departement van Kuns en Kultuur
6.3. Mnr Vusimuzi Philemon Madonsela - verlenging van die kontrak as Direkteur-generaal vir die Departement van Samewerkende Regering.

7. Nie-uitvoerende direkteure vir die Raad van die ZA Domeinnaamgesag (ZADNA)

7.1 Me N Dhevcharran (Voorsitter)
7.2 Dr NYH Mzizana
7.3 Mnr AM Brooks
7.4 Mnr NM Meibi
7.5 Adv MJ Ralefatane
7.6 Mnr MNR Khumalo
7.8 Dr YKN Mohutsioa-Mathabathe
7.9 Me  MO Morata
7.10 Mnr J Tshipa

8. Nie-uitvoerende lede vir die raad van die Breëband Infraco

8.1. Mnr BMC Ngcobo (Voorsitter)
8.2. Me MM Maponya
8.3. Dr A Githiari
8.4. Me N Selamolela

9. Nie-uitvoerende direkteure vir die SENTECH-raad
9.1. Mnr MA Mello (Voorsitter)
9.2. Mnr SM Radebe
9.3. Mnr LC Mtimde

10. Raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit-instituut (SANBI)

10.1 Me MNE Magomola (Voorsitter)
10.2 Dr ST Cornelius
10.3 Dr JM Matjila
10.4 Me BD Ngidi
10.5 Mnr S Gounden
10.6 Me NN Mnqeta
10.7 Me T Godongwana
10.8 Prof. BW van Wilgen
10.9 Dr YN Seleti
10.10 Me S Mancotywa
10.11 Me TE AbrahaMee

11. Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad
11.1 Me J Yawitch (Voorsitter)
11.2 Dr K Njobe
11.3 Mnr ET Khumalo
11.4 Dr CG Olver
11.5 Me F Futwa
11.6 Me BD Ferguson
11.7 Mnr M India
11.8 Mnr L Zitha
11.9 Dr M Matlou
11.10 Mnr MT Mokono
11.11 Dr N Mzilikazi
11.12 Me T Semane
11.13 Me JE McCourt
11.14  Mnr FG Mketeni

12. Nie-uitvoerende lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) Beperk

12.1 Mnr R Morar (Voorsitter)
12.2 Me A Lawless
12.3 Me ZJ Kganyago
12.4 Mnr M Matete
12.5 Me D Mashile-Nkosi

13. Nie-uitvoerende direkteure vir die Raad van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) Beperk
13.1 Mnr SD Macozoma (Voorsitter)
13.2 Dr ME Mabela
13.3 Me S Simelane
13.4 Me MK Matlou

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore