Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 4 Julie 2018

 Die Kabinet het op Woensdag, 4 Julie 2018, by die Uniegebou, Pretoria, vergader.

A.  Kwessies in die Omgewing
1.  Mandela-maand

Met die oog op Nelson Mandela Internasionale Dag op 18 Julie 2018, doen die Kabinet ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om gehoor te gee aan die oproep “Wees die Nalatenskap”.  Die Verenigde Nasies (VN) het hierdie dag ingestel om nie Suid-Afrikaners nie, maar ook die internasionale gemeenskap die geleentheid te bied om ons voormalige president en internasionale ikoon, Nelson Rolihlahla Mandela, te vereer.

Die regering het Julie tot Mandela-maand verklaar, omdat dit ook sy verjaarsdagmaand is. As deel van die eeufeesviering het verskillende sektore  inisiatiewe geloods om eer te betoon aan die werk en nalatenskap van Madiba.  Eerskomende Vrydag sal ’n spesiale eerbewys aan sy besondere belangstelling in werksgeleenthede en jong werkers betoon word, wanneer die inisiatief “Dra Suid-Afrika”, in samewerking met die Nelson Mandela Foundation (NMF) en die Suid-Afrikaanse Klere- en Tekstielwerkersunie, die Nelson Mandela T-hemp in Durban bekendstel.

Die plaaslik vervaardigde T-hemp is by toonaangewende kleinhandelwinkels beskikbaar en wins uit die verkoop daarvan gaan na die NMF om aktiwiteite wat in ooreenstemming met sy visie en lewe is, te befonds. Die Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, mnr Ebrahim Patel, sal gaste namens die regering toespreek. Die kabinet spoor alle Suid-Afrikaners aan om die Koop Plaaslik-veldtog te ondersteun en plaaslik vervaardigde klere met trots te dra.

Die Kabinet doen ’n beroep op elkeen van ons om betrokke te raak by die beweging vir verandering. Deur as ’n verenigde, nie-rassige en nie-seksistiese samelewing saam te werk, kan ons Madiba se nalatenskap handhaaf. Die
Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om 67 minute van hul tyd op 18 Julie daaraan te wy om te help om behoeftiges se lewens te verbeter.
 
2. Belegging

Die Kabinet verwelkom die onlangse primêre notering van Old Mutual op die JSE. Hierdie notering deur ’n maatskappy met ’n markkapitalisasie van US$10bn (R130 miljard) is ’n beduidende mosie van vertroue in Suid-Afrika en die plaaslike finansiële markte.

Die Kabinet neem met waardering kennis van die feit dat die primêre notering in Suid-Afrika, Old Mutual na sy Afrika-grondslag laat terugkeer en sy tydperk as ’n Londen-gebaseerde finansiëledienstegroep beëindig. Die verbintenis deur Old Mutual om ’n fonds ter waarde van R500 miljoen te skep om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bevorder, veral deur kleinsakeondernemings in swart besit, sal die land se pogings om ’n inklusiewe ekonomie te bou ’n hupstoot gee. Ons doen ’n beroep op ander maatskappye in die finansiële sektor om soortgelyke befondsingsinstrumente deur dialoog met die regering te ontwikkel.

Die Wêreld Ekonomiese Forum se onlangse Rondetafelbespreking oor Belegging het die geleentheid gebied om die potensiaal van Suid-Afrika as ’n bestemming vir groter en nuwe beleggings te bevorder. Die Rondetafelbespreking is deur ’n groot afvaardiging van hoof uitvoerende beamptes van binnelandse en internasionale firmas bygewoon, wat met President Cyril Ramaphosa en ’n afvaardiging van ministers gesprek gevoer het. Die gesprekke het gehelp om maatreëls te identifiseer om beleggingsvlakke te verhoog en is ’n belangrike stap ter voorbereiding vir die beleggingskonferensie wat later vanjaar deur die president belê sal word.

3. Grondonteiening

Die Kabinet waardeer die aanvang van die Parlement se proses vir openbare deelname om Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 te wysig. Dit sal voorsiening maak vir die onteiening van grond sonder vergoeding. Die Parlement het die Grondwetlike Hersieningskomitee ingestel om openbare verhore landwyd te hou, nadat ’n mosie oor die onteiening van grond sonder vergoeding aanvaar is. Hierdie openbare verhore sal in al nege provinsies tot Augustus 2018 plaasvind.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle belanghebbende partye om vreedsaam aan hierdie verhore deel te neem en vra die publiek om verdraagsaam te bly jeens die uiteenlopende opinies wat uitgespreek word. Dit sal verseker dat almal ’n regverdige kans kry om aan die verhore deel te neem.

Die Kabinet het ook besin oor die kommer wat deur tradisionele leiers oor grondkwessies uitgespreek is. ’n Ministeriële taakspan is gevolglik aangestel om met tradisionele leiers gesprek te voer en ’n wedersyds aanvaarbare oplossing vir hul besware te vind. Die Minister van Samewerkende Regering en Tadisionele Sake, dr Zweli Mkhize, is die sameroeper en word ondersteun deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Senzeni Zokwana; die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane; en die Minister van Kommunikasie, Nomvula Mokonyane.

4.  Belastingseisoen

Die Kabinet moedig alle belastingbetalers aan om hul jaarlikse belastingopgawes in te dien vir die 2017/18-belastingseisoen, wat op 1 Julie 2018 vir indiening geopen het. Behoorlike en doeltreffende inkomste-insameling verseker fiskale soewereiniteit, en tydige en akkurate voorleggings verseker dat belastingbetalers aan die tersaaklike wetgewing voldoen. Belastinginkomste help die regering om die land se diensleweringsprojekte en ander sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogramme te befonds.

5.  Styging in die brandstofprys

Die Kabinet neem kennis van die onlangse brandstofprysverhoging, wat volg op ’n ander onlangse prysverhoging verlede maand. Nog ’n prysverhoging word aanstaande maand verwag. Die Brent ru-olieprys in dollar het die algemene pryse van petrol, diesel en paraffien beïnvloed. Ons land se wisselkoers teenoor die Amerikaanse dollar het sedert die begin van Mei vanjaar met meer as een persent gedaal.

Hierdie sikliese valutaveranderings, wat prysskommelings tot gevolg het, het ’n negatiewe uitwerking op verbruikers, veral arm mense. Die styging in petrolpryse het ’n direkte invloed op vervoerkoste, voedselpryse en ander goedere, veral die koste van stapelvoedsel en medisyne.
 
Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat die regering ’n doelgerigte poging aanwend om die uitdagings wat arm gemeenskappe in die gesig staar te verlig. Die Nasionale Tesourie het ’n paneel bestaande uit nege deskundiges aangestel om die huidige lys van BTW-nulkoersitems, wat tans uit 19 basiese voedselitems bestaan, te hersien. President Ramaphosa lei die span, wat bestaan uit verteenwoordigers van sowel die regering as die privaat sektor, om meer belegging na die land te lok om ons ekonomie te laat groei en broodnodige werksgeleenthede vir werklose jongmense te skep.

Die Kabinet doen ’n beroep op die privaat sektor om hulp te verleen deur die oordrag van die uitwerking van die brandstofpryse aan die verbruiker te vertraag. Dit sal baie help om die armes te beskerm, wat direk deur hierdie prysskommelings geraak gaan word. Ekonomiese ontwikkeling in die land sal ’n groot bydrae lewer om die ekonomie te stabiliseer. Die Kabinet doen ook ’n beroep op die privaat sektor om in vennootskap met die regering te werk tot voordeel van alle Suid-Afrikaners, veral die armes.

6. Betaling van maatskaplike toelaes

Die Kabinet is deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, me Susan Shabangu, ingelig oor die onlangse wydverspreide vertragings in geskeduleerde uitbetalings van maatskaplike toelaes aan begunstigdes. Die Kabinet is terdeë daarvan bewus dat maatskaplike toelaes ’n broodnodige lewenslyn vir die mees kwesbare lede van ons samelewing is en dat hierdie soort ongerief uiters betreurenswaardig is. Die Kabinet vra almal wat hierdeur geraak word opreg om verskoning vir die ongerief wat dit veroorsaak.

Minister Shabangu het die Kabinet verseker dat die tegniese haakplekke die gevolg is van die oordrag van die betalings vanaf die ou stelsel na ’n nuwe stelsels van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap/Suid-Afrikaanse poskantoor. Sy het die Kabinet verder verseker dat die begunstigdes wat die ergste hierdeur geraak is, sedertdien betaal is. Intussen werk toegewyde spanne hard om die stelsels te stabiliseer om ’n herhaling van soortgelyke vertragings in die toekoms te voorkom.

7. Gesondheidsondersoek

Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die tussentydse verslag deur die Mededingsmarkondersoek na die privaat gesondheidsorgbedryf. Die ondersoek staan onder voorsitterskap van voormalige Hoofregter Sandile Ngcobo en het die afgelope drie jaar getuienis van verskeie belanghebbers aangehoor. Die voorlopige verslag sal vir ’n tydperk van twee maande vir openbare kommentaar beskikbaar wees. Die finale verslag sal teen die einde van 2018 aan die Minister van Ekonomiese Ontwikkeling oorhandig word en in die Parlement ter tafel gelê word.

8.  Khartoem-verklaring

Die Kabinet verwelkom die ooreenkoms oor ’n permanente skietstilstand tussen Suid-Soedan se President Salva Kiir en Riek Machar, asook die ondertekening van die Khartoem-verklaring. Dit skep die verwagting dat ’n ooreenkoms bereik kan word om die lande se vernietigende oorlog te beëindig.

Die verklaring bepaal dat die skietstilstandooreenkoms onttrekking, skeiding van magte in onmiddellike nabyheid, terugtrekking van alle geallieerde magte, die opening van humanitêre deurgange en die vrylating van krygsgevangenes en politieke gevangenes insluit. Die ooreenkoms verleen ook toestemming aan lede van die Afrika-unie (AU) en die Interregeringsowerheid oor Ontwikkeling om troepe te ontplooi om toesig oor die skietstilstand te hou.
Die Kabinet moedig al die partye aan om saam te werk om te verseker dat die skietstilstand uiteindelik tot die beëindiging van die oorlog en die herstel van vrede en ekonomiese ontwikkeling in Suid-Soedan sal lei.

9. Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA)

Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se ondertekening van die AfCFTA-ooreenkoms met die AU. Die ondertekening van hierdie ooreenkoms met Suid-Afrika bring die aantal lande wat die ooreenkoms onderteken het, op 49 te staan.

Die AfCFTA neem die vasteland ’n stappie nader aan die skep van die wêreld se grootste vryhandelsgebied. Dit sal na verwagting groot sosio-ekonomiese voordele vir al die Afrika-lande inhou.

Volgens die VN, sal die AfCFTA intra-Afrikahandel na raming met 53% verhoog deur die uitskakeling van invoerbelasting en nie-tariefversperrings. Hierdie ooreenkoms beskik oor die potensiaal om ’n Afrika-mark van meer as 1,2 miljard mense te skep, met ’n ekonomie ter waarde van US$2,5 triljoen.

Die Minister van Handel en Nywerheid, dr Rob Davies, sal die proses om die ooreenkoms deur die Parlement te laat bekragtig aan die gang sit.

10.  Afrika-agenda

Die Kabinet verwelkom die 6de Beraad van die Suider-Afrikaanse Doeaneunie (SADU) wat op 29 Junie 2018 in Botswana gehou is en deur President Ramaphosa bygewoon is. Die beraad het die belangrikheid van die streeksintegrasie-agenda wat ekonomiese integrasie, industrialisasie en ekonomiese diversifisering van die SADU-ekonomieë bevorder, beklemtoon.

 President Ramaphosa het ook ’n afvaardiging na die Islamitiese Republiek van Mauritanië gelei, waar hulle die 31ste Gewone Sitting van die Vergadering van AU-staats- en regeringshoofde bygewoon het. Die beraad het van 1 tot 2 Julie plaasgevind onder die tema: “Wen die Stryd teen Korrupsie: ’n Volhoubare Pad na Afrika se Transformasie”. Dit het ’n unieke geleentheid gebied om te besin oor oplossings vir spesifieke uitdagings wat met die stryd teen korrupsie in Afrika verband hou.

President Ramaphosa tree tans as gasheer op vir ’n staatsbesoek deur sy Ghanese eweknie, Nana Addo Dankwa Akufo-Addo, van 4 tot 5 Julie 2018, om bilaterale bande tussen die twee lande te versterk. Suid-Afrika en Ghana het steeds ’n goeie verhouding, wat spruit uit ’n gedeelde geskiedenis van vriendskap en eensgesindheid. Handel- en beleggingsamewerking tussen die twee lande sluit in mynwese, kleinhandel, wetenskap en tegnologie, vervoer, toerisme, bankwese, telekommunikasie, konstruksie, dienste, franchise-toekenning, vervaardiging, visserye, reklame, lugvaart en energie.

B. Kabinetsbesluite

11. Die Kabinet keur die konsepdokument en -plan vir Nasionale Vrouedag en Vrouemaand in Augustus 2018 goed. Die tema vir die jaar is “100 Jaar van Albertina Sisulu: Vroue Verenig om Suid-Afrika Vorentoe te Beweeg”. Hierdie jaar se program val saam met die drievoudige eeufeesvierings van die geboorte van Tata Nelson Mandela, Mama Albertina Sisulu en die vorming van die Bantu Vroueliga.

Die Vrouemaand-aktiwiteite sal gemeenskappe mobiliseer en vennootskappe bou om daadwerklike aandag te gee aan sleutelkwessies waarvoor vroue en meisies te staan kom, veral geslagsgebaseerde geweld, ekonomiese bemagtiging van vroue, toegang tot grond, skadelike praktyke en ander sektorale vraagstukke in die konteks van die Nasionale Ontwikkelingsplan en Suid-Afrika se internasionale verbintenisse. Die Minister in die Presidensie verantwoordelik vir Vroue, me Bathabile Dlamini, sal die volledige program weldra uiteensit.

C. Wetsontwerpe

12. Die Kabinet keur goed dat die Nasionale Wysigingswet op Dobbelary van 2018 by die Parlement ingedien word. Die openbare oorlegplegingsproses oor die wetsontwerp met al die betrokke belanghebbers is reeds afgehandel.
Die Wetsontwerp maak voorsiening vir ingryping in elektroniese dobbelary, advertensies van dobbelary en die ligging van dobbelpersele.  Dit vervang ook die huidige Nasionale Dobbelraad deur die Nasionale Dobbelreguleerder (NDR). Die NDR sal met die provinsiale owerhede saamwerk om standaardbedryfskriteria te ontwikkel, wat as ’n mini-standaard sal dien om selfregulerende liggame soos dié in die perdewedrensektor te bestuur.

13. Die Kabinet keur goed dat die Mededingingswysigingswet van 2018 by die Parlement ingedien word. Die wysigings maak voorsiening vir die uitbreiding van die mandaat van die mededingingsowerhede en die Uitvoerende Gesag om hoë vlakke van ekonomiese konsentrasie, beperkte transformasie in die Suid-Afrikaanse ekonomie en misbruik van markkrag deur dominante firmas aan te pak.
Die Wetsontwerp is reeds vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer en met al die tersaaklike belanghebbers bespreek.

D. Toekomstige gebeure

14. 100 Manne-optog
Onder die sambreel van die nasionale  “Stuur My – Thuma Mina”-veldtog onder leiding van die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS) sal ’n geskiedkundige “100 Jaar van Nelson Mandela en Albertina Sisulu: Manne-optog teen Geweld teenoor Vroue en Kinders” op Dinsdag, 10 Julie 2018 plaasvind.

Die optog, wat deur die GCIS gekoördineer word, sal om 10:00 by Kerkplein begin en op die suidelike grasperk van die Uniegebou in Pretoria eindig.
Die kabinet nooi alle mans en seuns uit om op die “Stuur my – Thuma Mina”- oproep tot aksie te reageer deur aan die optog deel te neem en standpunt in te neem teen die plaag van geweld teen vroue en kinders. Mans uit verskeie sektore, rasse-, politieke en godsdienstige oortuigings sal verenig word in hul standpunt om geweld teen vroue en kinders te beëindig.

15. Nasionale Imbizo-fokusweek
Die regering sal van 9 tot 15 Julie sy Nasionale Imbizo-fokusweek onderneem, waar lede van die Uitvoerende Gesag direk met inwoners regoor die land gesprek sal voer.
Een van die hoekstene van demokrasie in Suid-Afrika bly steeds die regering se onwrikbare verbintenis om gereelde deelnemende en reaktiewe betrokkenheidsprogramme met die publiek te onderneem om die regering se beleid en planne uiteen te sit.
Die Kabinet moedig alle gemeenskappe in die gees van “Thuma Mina” aan om aan die izimbizo met regeringsbeamptes deel te neem en die geleentheid te gebruik om diensleweringsuitdagings te help oplos.

16. 10de BRICS-beraad
Suid-Afrika is gereed om in die gees van Ubuntu (Menslikheid) die 10de beraad van die Brasilië, Rusland, Indië, Sjina en Suid-Afrika (BRICS) -groep van 25 tot 27 Julie 2018 by die Sandton-konvensiesentrum in Gauteng aan te bied. Op Vrydag 6 Julie 2018, sal President Ramaphosa tydens ’n ontbytsessie met die Suid-Afrikaanse span gesprek voer oor hul gereedheid om die 10de BRICS-beraad aan te bied.

Die tema, “BRICS in Afrika: Samewerking vir Inklusiewe Groei en Gedeelde Welvaart in die 4de Nywerheidsrewolusie”, weerspieël die kernprioriteite van die BRICS-groep, in die besonder die strewe na ’n inklusiewe samelewing en internasionale vennootskappe, wat sal help om welvaart vir alle mense te skep. Die tema belyn en verseker strategiese kontinuïteit met Suid-Afrika se voorsitterskap van sowel die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Indiese Oseaan Randvereniging.
Suid-Afrika sal sy voorsitterskap gebruik om kontinuïteit vir BRICS te verseker en om die fokus spesifiek op die geleenthede wat die Vierde Nywerheidsrewolusie bied, te laat val.

17. Rondetafelbespreking tussen Afrika-ministers van Kuns en Kultuur
Die Departement van Kuns en Kultuur bied van 5 tot 6 Julie 2018 ’n Rondetafelbespreking van Afrika-ministers van Kuns en Kultuur in Durban aan. Die geleentheid is daarop gerig om verslag te doen oor inligtingstoegang om die uitwerking van biblioteek- en inligtingsdienste binne die konteks van die AU se Agenda 2063 te beskryf. Dit bied ’n strategiese raamwerk vir die sosio-ekonomiese transformasie van Afrika oor die volgende 50 jaar.  

18. MeerKAT-teleskoop/ Square Kilometer Array (SKA)  
President Ramaphosa sal na verwagting die 64-skottelradioteleskoop, wat as die MeerKAT bekendstaan, as ’n voorloper van die SKA-teleskoop bekendstel. Die MeerKAT is 90 kilometers buite die klein dorpie Carnarvon in die Noord-Kaap geleë.

Die MeerKAT-teleskoop sal ’n deurslaggewende bydrae lewer om ons kennis te verbeter oor hoe die heelal gevorm is, hoe dit werk en watter vorm dit in die toekoms kan aanneem. Die voltooiing van die instrument is ’n beduidende mylpaal wat deur Suid-Afrika en Afrika in die algemeen gevier moet word.

E. Boodskappe Medelye

19. Die Kabinet betuig sy innige medelye met voormalige President Jacob Zuma en sy familie en vriende, met die afsterwe van sy seun, Vusi Nhlakanipho Zuma, vroeër vandeesweek.
20. Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en vriende van die befaamde fotograaf, wyle David Goldblatt. Ons land is trots op sy werk, wat die wanpraktyke en gewelddadigheid van apartheid blootgelê het.
21. Die Kabinet betuig ook sy medelye met die familie en vriende van die mynwerker wat by die Sibanye-Stilwaters Khomanani-myn in Driefontein in Mpumalanga gesterf het en spreek weer eens sy kommer uit oor die veiligheid van mynwerkers by hierdie myn.

Gelukwense
22. Die Kabinet wens die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika (NBSA) geluk met sy 200ste bestaansjaar. Vroeër vanjaar het die NBSA hierdie mylpaal gedenk deur ’n oop uitstalling met die titel “Skatkmer van Kennis” aan te bied.
23.    Die Kabinet verwelkom die besluit deur die VN se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur om die Makhonjwa-berge in Mpumalanga, ook bekend as die Barberton Greenstone-gordel, tot ’n Wêrelderfenisterrein te verklaar. Dit is Suid-Afrika se 10de Wêrelderfenisterrein.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle belanghebbers in die toerismesektor om al die erfenisterreine in Suid-Afrika te bemark, aangesien toerisme een van die versnellers is vir die ontwikkeling van ons ekonomie en werkskepping vir plaaslike mense.

24.    Die Kabinet gedenk met trots die 63ste herdenking van die geskiedkundige aanvaarding van die Vryheidshandves, wat die grondslag van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika gevorm het.
Vandag word sy kernbeginsels weerspieël in die beginsels van die Organisasie vir Afrika-eenheid (wat nou as die AU bekendstaan) en die VN het sy Universele Verklaring van Menseregte met hierdie beginsels belyn. 

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
25. Mnr Sibusiso E Bukhosini as die hoof uitvoerende beampte vir iSimangaliso Wetland Park Authority.
26. Adv Mmadikeledi Suzan Malebe as die adjunkdirekteur-generaal (ADG): Minerale Regulering, in die Departement van Minerale Hulpbronne (DMR).
27. Me Buyisiwe Faith Ntokozo Ngcwabe as die ADG: Minerale Beleid en Bevordering, in die DMR.

Die Kabinet het ook aanstellings op die volgende liggame gemaak:
27.1 Raad vir Finansiële Verslagdoeningstandaarde.
27.2 Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI).
27.3 Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke).
27.4 Padongelukkefonds.

Verlenging van die termyn van lede van die Raad vir Finansiële Verslagdoeningstandaarde:
a. Mnr Garth Dennis Coppin;
b. Me Dumisani Manana;
c.  Me Christine Ramon (adjunkvoorsitter);
d.  Me Dawn Earp;
e.  Mnr Khaya Dludla;
f.   Mnr Bruce Mackenzie;
g.  Me Tania Wimberley;
h.  Dr Suresh P Kana (Voorsitter); en
i.   Adv. Rory Wayne Voller.

SANBI-direksie:
a.  Dr Lesley Thulani Luthuli;
b.  Me Thandiwe Godongwana;
c.   Prof Brian William van Wilgen;
d.  Dr Crispian Garth Olver;
e.  Me Ntsoaki Mngomezulu;
f.   Me Venete Jarlene Klein;
g.  Me Beryl Ferguson;
h.  Me Judy Hermans;
i.   Verteenwoordiger vir die Departement van Wetenskap en Tegnologie;
j.   Me Skumsa Mancotywa (verteenwoordiger vir die Departement van Omgewingsake; en
k.  Dr Moshibudi Rampedi.

SANParke-direksie:
a. Me Joanne Yawitch;
b. Dr Kungeka Njobe;
c.  Me Sophie Molokoane;
d. Me Tanya Abrahamse;
e. Adv Tshepiso Mphahlane;
f.  Me Tasneem Essop;
g. Dr Urshanie Govender;
h. Prof Elizabeth Mokotong;
i.  Mnr Tale Daniel Motsepe;
j.  Mnr Lourence Benard Mokgakane (verteenwoordiger vir People and Parks);
k. Mnr Shonisani Munzhedzi (verteenwoordiger vir die Departement van Omgwingsake); en
l.  Mnr Fundisile Mketeni.

Nie-uitvoerende direkteure op die Direksie van die Padongelukkefonds:
a. Dr Peter Mathebula – Voorsitter;
b. Me Koko Mashigo;
c.  Dr Fanie Bale;
d. Mnr Moses Nyama;
e. Dr Nomonde Mabuya-Moloele;
f.  Mnr Thulani Tshabalala;
g. Me Dineo Molefe;
h. Dr Mohamed Fazel Randera;
i.  Mnr Khotso Mothobi (heraanstelling); en
j.  Dr Maria Peenze (heraanstelling).

Navrae:
Me Phumla Williams
Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore