Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 10 Oktober 2018

Die Kabinet het op Woensdag 10 Oktober 2018 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die omgewing

1. Ekonomie en beleggingsveldtog

1.1 Die Kabinet verwelkom praktiese tussenkomste soos die verbintenis om plaaslike produkte te koop, ’n meer aggressiewe benadering tot die bevordering van invoere, ingypings in die landbouwaardeketting en steun vir klein en mediumondernemings. Hierdie aankondigings het gespruit uit die onlangse tweedaagse Werkberaad, wat onder beskerming van die Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling-  en Arbeidsraad belê is.

1.2 Die uitkoms van die Werkberaad volg op die bekendstelling van die Ekonomiese Stimulus-en-Herstelplan, wat daarop gerig is om ekonomiese groei te herstel en broodnodige werksgeleenthede te skep. Die Mynbouhandves – wat in oorleg met die mynbousektor, arbeid, geaffekteerde gemeenskappe en ander belanghebbers ontwikkel is – verduidelik die dringendheid van groei, volhoubaarheid en transformasie.

1.3 Die Kabinet doen ’n beroep op alle belanghebbers om by die Mynbouhandves betrokke te raak ten einde stabiliteit in die mynbousektor te skep. 

2. Binnelandse Sake se Kokstad-kantoor en oorhandiging van titelaktes

2.1 Die Kabinet sluit hom aan by President Cyril Ramaphosa om die Departement van Binnelandse Sake te loof vir die suksesvolle opening van sy Kokstad-kantoor in KwaZulu-Natal. Die President het die Binnelandse Sake-kantoor geopen as deel van die regering se program om die voetspoor van Binnelandse Sake se diensleweringspunte uit te brei om aan landsburgers se vraag na ID-slimkaarte en ander dokumente te voldoen.

2.2 President Ramaphosa het ook 443 titelaktes aan begunstigdes van die Franklin-behuisingsprojek oorhandig. Dit is deel van die vergoedingsprogram om te verseker dat begunstigdes die volle voordele van huiseienaarskap geniet en toegang tot die formele eiendomsmark kry.

2.3 Die Kabinet maak ook van hierdie geleentheid gebruik om Suid-Afrikaners aan te moedig om hul ID’s te gaan afhaal sodra hulle ’n kennisgewing ontvang dat dit gereed is.

3. Skikkingsooreenkoms oor spektrum

3.1 Die Kabinet verwelkom die skikkingsooreenkoms wat bereik is in die kwessie rakende die uitnodiging om aansoek te doen vir die toewysing van hoëvraagspektrum. Dit bied beleidsekerheid in die inligting-en-kommunikasietegnologie (IKT) -sektor. 

3.2 Die skikkingsooreenkoms is in ooreenstemming met President Ramaphosa se oproep om die proses vir die toewysing van lisensies vir hoëvraag-radiospektrum te inisieer.

3.3 As ’n verdere bydrae tot die implementering van die Witskrif oor die Nasionale Geïntegreerde IKT-beleid het belangstellende partye tot 8 November tyd om skriftelike insette tot die voorgestelde beleid en beleidsrigting aan die owerheid te lewer.

4. Suid-Afrika se eerste kleinskaalse visserye-koöperasies

4.1 Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se eerste kleinskaalse koöperasies in die visserye-sektor, naamlik die Port Nolloth- en Hondeklipbaai-koöperasies in die Noord-Kaap, wat deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, bekendgestel is. 

4.2 Die bekendstelling vier die implementering van die beleid oor kleinskaalse visserye. Die visvangregte verleen waardigheid aan plaaslike vissermanne wat tot nou toe onwettig visgevang het, omdat hulle nou vir die eerste keer beskerm word. 

4.3 Die twee kleinskaalse vissersgemeenskappe wat by hierdie beleid sal baat, het basiese opleiding oor koöperasies ontvang asook hulp met die registrasie van hul koöperasies met die oog daarop om aansoek te doen vir 15-jaarvisvangregte.

5. Belastingseisoen

5.1 Die Kabinet loof die bykans drie miljoen belastingbetalers wat reeds hul belastingopgawes ingedien het, waarvan net meer as die helfte per eFiling ingedien is. Op 31 Oktober sluit die 2018-belastingseisoen vir nie-voorlopige belastingbetalers en vir daardie voorlopige belastingbetalers wat hul opgawes by ’n takkantoor van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens indien. Voorlopige belastingbetalers wat hul belastingopgawes per eFiling indien, het tot 31 Januarie 2019 tyd.

5.2 Behoorlike en doeltreffende inkomste-invordering verseker fiskale soewereiniteit, en tydige en akkurate indienings verseker nakomende belastingbetalers. Belastinginkomste help die regering om die land se diensleweringsprojekte en ander sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogramme te befonds.

6. Betaling van maatskaplike toelae

6.1 Die Kabinet is deur die Interministeriële Komitee: Maatskaplike Toelae, onder voorsitterskap van Minister Nkosazana Dlamini-Zuma, ingelig. Teen 1 Oktober 2018 is meer as 10 miljoen begunstigdes deur een van die volgende platforms betaal – die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO)/Postbank; Grindrod Bank asook handelaars soos Boxer, Shoprite, en Pick n Pay.

6.2 Die regering het die betalings van maatskaplike toelaes suksesvol vanaf Cash Paymaster Services (CPS) migreer, ter nakoming van die bevel ingevolge die uitspraak van die Konstitusionele Hof. Alle kontantbegunstigdes wat deur CPS geraak is, is migreer en CPS is in kennis gestel dat sy kontrak met ingang 30 September 2018 beëindig word.

6.3 Die Kabinet spreek sy waardering uit vir die toegewyde toesighoudende werk onder leiding van die Interministeriële Komitee met die ondersteuning van die Tegniese Taakspan van Direkteurs-Generaal. Die Kabinet spreek ook sy waardering uit vir die werk van die amptenare van SAPO, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid en die departemente van Maatskaplike Ontwikkeling; Telekommunikasie en Posdienste; Beplanning, Monitering en Evaluering; die Nasionale Tesourie; die Suid-Afrikaanse Polisiediens en GCIS.

6.4 Die Kabinet bedank al die begunstigdes van maatskaplike toelaes vir hul samewerking tydens die oorgangstydperk.

7. Albertina Sisulu eeufeesviering

7.1 Die Kabinet is ingelig oor die voorbereidings vir die eeufeesviering van Mama Albertina Sisulu, wat gedurende haar geboortemaand, Oktober plaasvind. Mama Sisulu is op 21 Oktober 1918 gebore en die voorsitter van die IMK vir Eeufeesvierings, Minister Jeff Radebe, gee ’n uiteensetting van die eeufeesvieringsaktiwiteite.

8. Vonnisoplegging van Springs-vader

8.1 Die Kabinet verwelkom die vonnisoplegging van die kindermishandelaar, wat algemeen as die Springs-monster bekendstaan. Hy is tot 35 jaar tronkstraf gevonnis vir die poging tot moord op sy seun, kindermishandeling en
-verwaarlosing asook die gebruik van en handeldryf in dwelms. Geslagsgebaseerde geweld bly ’n ernstige uitdaging in ons samelewing, soos weerspieël word in die onlangse verkragting van ’n minderjarige by ’n Dros-restaurant in Silverton, Pretoria.   

8.2 Die Kabinet herhaal sy beroep op wetstoepassingsowerhede om alles moontlik te doen om misdadigers wat sulke veragtelike misdade pleeg te vervolg. Die Kabinet doen ook ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk om die skending van kinderregte en die kwesbaarste lede van ons samelewing te help beëindig.

9. Westbury-protesoptrede

9.1 Die Kabinet verwelkom die Minister van Polisie, Bheki Cele se ingryping in Westbury. Dit vorm deel van die breër strategie om die vlaag van dwelms en dwelmverwante geweld in die area te bestry.

9.2 Die ingyping sluit die ontplooiing van die taktiese reaksiespan en ’n groter sigbare polsieteenwoordigheid in. ’n Belangrike deel van die ingryping is dat daar ook ondersoek ingestel sal word na bewerings van korrupsie by die Westbury-polisiestasie. 

9.3 Die Kabinet doen ’n beroep op die Westbury-gemeenskap en alle ander gemeenskappe om met die polisie saam te werk om te verseker dat  misdaad, dwelms en bendebedrywighede in hul onderskeie omgewings uitgeroei word.  

10. Misdaad

10.1 Die Kabinet loof die wetstoepassingsagentskappe vir die uitvoer van ’n intensiewe multidissiplinêre ondersoek na voorvalle by winkelsentrums, kleinhandelwinkels en moskees, wat tot die inhegtenisame van 19 verdagtes gelei het. Hierdie ondersoek het die regeringsgroepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit betrek. Drie van die verdagtes is in verband met plofstoftoestelle in die Durban-omgewing, insluitend die Verulam-moskee inhegtenis geneem. Al die verdagtes sal na verwagting aangekla word van misdade soos moord, poging tot moord en oortreding van die Wet op Plofstowwe.

10.2 Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat misdaadbestryding ’n topprioriteit is en dat die regering steeds die nodige stappe sal doen om ’n veilige en geborge omgewing vir alle inwoners van Suid-Afrika te verseker.

11. Naamsveranderings: Makhanda

11.1 Die Kabinet verwelkom die naamsverandering van Grahamstad in die Oos-Kaap na Makhanda, ter ere van die Xhosa-profeet, filosoof en vegter wat kolonialisme beveg het.

11.2 Die verandering is ’n belangrike deel van ons demokratiese proses en sal help om groter maatskaplike samehorigheid te bevorder en meer waardering vir ons gedeelde geskiedenis te ontwikkel.

B. Kabinetsbesluite

Die Kabinet keur ’n hersiene leweringsmodel vir die implementering van die Digitale Uitsendingsmigrasieprojek goed. Die model aanvaar ’n mark-/kleinhandelgedrewe benadering deur samewerking en vennootskappe met die privaat- sowel as die nywerheidsektor. Met hierdie benadering sal die regering nie meer by die verkryging van dekodeerders, berging, vervoer en installering van dienste betrokke wees nie. 

Dit verteenwoordig aansienlike vordering met die voltooiing van die projek op ’n inklusiewe, bekostigbare en doeltreffende manier, wat die risiko vir die regering verminder. Dit sal digitale kykermigrasie tot die 85%-drempel en meer verhoog, totdat alle analoë uitsendings uiteindelik afgeskakel word.

Die Kabinet keur Suid-Afrika se Gemeenskaplike Kerndokument goed, wat by die Verenigde Nasies (VN) ingedien sal word. Die dokument bevat ’n vorderingsverslag met algemene, feitelike en statistiese inligting oor Suid-Afrika se nakoming van die verpligtinge wat met die nege ondertekende VN-verdrae gepaardgaan.

C. Toekomstige gebeure

Mediumtermynbegrotingsrede (MTBR)

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni lewer op Woensdag 24 Oktober 2018 die Mediumtermynbegrotingsrede (MTBR), waarin aanpassings aan die nasionale begroting om fiskale volhoubaarheid te verseker, aangekondig sal word.

Vervoermaand

Vanjaar se Vervoermaand-program plaas die klem op die belangrikheid van vervoerinfrastruktuur, soos die see-, lug-, spoor- en padsektore as instaatstellers van ekonomiese groei.

Die Kabinet doen ’n beroep op die publiek om openbare vervoer te gebruik en padveiligheidsinisiatiewe regdeur die jaar aktief te implementeer. Kom ons gebruik hierdie maand om die kultuur van saamryklubs te herstel en te vier om verkeersopeenhopings te help verlig wanneer ons werk toe ry. Padveiligheid bly ’n uitdaging, en motoriste sowel as voetgangers moet openbare paaie met verantwoordelikheid gebruik.

D. Boodskappe

Gelukwense

Suid-Afrika se radioteleskoop, MeerKAT, sal by Breakthrough Listen, ’n internasionale inisiatief wat na tekens van intelligente lewe in die heelal soek, aansluit. Dit demonstreer ons internasionaal erkende kundigheid en infrastruktuur. Suid-Afrika se 64-skottel-MeerKAT-radioteleskoop, wat in Julie vanjaar ingewy is, is die mees sensitiewe teleskoop van sy soort ter wêreld.

Die Kabinet wens die span navorsers van die Universiteit van die Witwatersrand geluk met ’n historiese en suksesvolle leweroorplanting van ’n MIV-positiewe moeder na haar MIV-negatiewe kind. Die span dokters het bestaan uit professor Jean Botha, dr Francesca Conradie, dr Harriet Etheredge, dr June Fabian en professor Caroline Tiemessen.

Die Kabinet wens die mense van Ekwatoriaal-Guinee geluk met hul 50ste onafhanklikheidsviering. Suid-Afrika het sedert 5 Mei 1993 volle diplomatieke betrekkinge met die Republiek van Ekwatoriaal-Guinee.

Medelye

Die Kabinet betuig sy medelye met die naasbestaandes, vriende en kollegas van wyle Minister van Omgewingsake, Edna Molewa. Minister Molewa het haarself in talle hoedanighede en op verskeie terreine onderskei; dit wissel van haar bydrae tot die bevrydingstryd tot haar stryd vir die gelykheid van vroue in ons samelewing. Sy was ook ’n nasionale en internasionale kampvegter vir die omgewingsintegriteit van ’n volhoubare planeet wat deur almal gedeel en geniet kan word.

Die Kabinet betuig sy medelye met die regering en mense van Indonesië. Die regering het reeds sy ondersteuning, waar nodig, aangebied en die Kabinet loof die Suid-Afrikaanse noodlenigingswerkers wat betrokke is by hulpverlening in die Indonesiese eiland Sulawesi, wat deur ’n aardbewing en tsunami getref is.

Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en kollegas van me Rowena Baird, wat vandeesweek oorlede is. Me Baird was ’n befaamde radiojoernalis en -persoonlikheid.

Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

Internasionale Kommissie vir Handelsadministrasie:

  • Dr F Ismail (voorsitter);
  • Mnr B Mokgatle;
  • Me T van Meelis;
  • Mnr ED Vlok;
  • Me P Mbiko;
  • Mnr JC de Beer;
  • Me VNN Ncwaiba;
  • Mnr W Sihlobo; en
  • Me AV Hlatshwayo.
     

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetwoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore