Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 22 Junie 2016

1. Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. Die kabinet het die vorderingsverslae oor die inwerkingstelling van die Regering se Program van Aksie en die uitkomste daarvan bespreek. Die Regering maak goeie vordering om uitdagings die hoof te bied en gryp in om probleme met die inwerkingstelling van die plan van aksie uit die weg te ruim.

Die Regering is daarvan oortuig dat dit vordering maak met die uitvoering van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk, en die Negepuntplan, asook om uiteindelik Visie 2030 van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) te bereik.

Die Regering se Kommunikasiediens (GCIS) is besig om terugvoesessies vir die media te koördineer om landsburgers ingelig te hou.

1.2. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die Presidensiële Arbeidswerkgroep, wat op 21 Junie 2016 vergader het om die ekonomie en ander sosio-ekonomiese kwessies te bespreek.

Die werkgroep het ooreengekom om sy verbintenis tot samewerking te herbevestig om die uitdagings waarmee Suid-Afrika te kampe het, soos voorheen, die hoof te bied. Ons moet voortbou op die vennootskappe en solidariteit wat ons in 2008 gesmee het toe ons en ons maatskaplike vennote 'n ooreenkoms bereik het wat werkers teen die wêreldwye ekonomiese krisis sou beskerm. Tydens die vergadering is besluit dat die beskerming van werk voorkeur moet geniet, dat werk geskep moet word – veral vir jong mense – en dat werktoestande vir alle werkers verbeter moet word om 'n beter lewe vir almal te skep.

Die Regering en arbeid se beplande werkberaad sal Suid-Afrikaners in staat stel om aan gesprekke deel te neem oor hoe ons werk kan skep en die ekonomie kan laat groei te midde van die huidige moeilike ekonomiese klimaat.

1.3. Die Kabinet spreek sy opregte dank teenoor alle Suid-Afrikaners uit wat die 40ste herdenking van die Soweto-opstande gevier het, waartydens ons die heldhaftige stryd van jong mense in 1976 gedenk het. Nasionale Jeugdag is herdenk onder die tema "Die jeug neem Suid-Afrika vorentoe".

President Jacob Zuma het op 16 Junie die nasionale herdenking by die Orlando-stadion gelei. Dit was maar een van die geleenthede wat oor die hele land gehou is om die jeug van 1976 te gedenk.

Die Regering het ons land se  jongmense gerus gestel dat die stryd om toegang tot onderwys vir almal 'n prioriteit vir die Regering bly. Die Regering sal nie rus voordat hierdie doel bereik is nie. Dit is immers verskans in die Vryheidsmanifes en in die Menseregtehandves van  die Grondwet, wat vanjaar 20 jaar oud is.

Die voortgesette maand lange program behels verskeie inisiatiewe deur die Regering, die sakesektor en die burgerlike samelewing, en ge aandag verskeie kwessies waaroor die jeug ongelukkig is.

1.4. Suid-Afrika het die 60ste Verbruikersgoedereforum (VGF) se jaarlikse wêreldspitsberaad suksesvol aangebied. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het die beraad toegespreek. Dit ondersteun die vasteland se vordering as 'n verbruikersmark wat op sy beurt nuwe geleenthede bied.

In Suid-Afrika bly die verbruikersgoederebedryf 'n belangrike drywer van ekonomiese groei. Die land se sakeomgewing is stabiel en lewendig en help om handel en belegging aan te spoor. Plaaslike en buitelandse beleggings word beskerm deur toepaslike wetgewing.

Verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye en internasionale konglomerate wat lede van die VGF is, dryf handel en belê in Suid-Afrika, wat tot die groei van die ekonomie asook werkskepping bydra.

1.5. Die nuwe handelsooreenkoms wat die Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, met die Europese Unie (EU) onderteken het, word verwelkom. Dit sal beteken dat meer Suid-Afrikaanse landbouprodukte na Europa uitgevoer kan word. Suid-Afrika het saam met Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië en Swaziland die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EVO) onderteken wat met die EU beding is.

Die EVO sal dit makliker maak om Suid-Afrikaanse produkte, insluitende wyn, suiker en etanol, in Europa te bemark. Ingevolge die nuwe ooreenkoms sal die belastingvrye uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn na die EU na verwagting verdubbel. Die oorsprongreëls met betrekking tot klerasie is ook vereenvoudig en sal die uitvoer van Suid-Afrikaanse klere na die EU bevorder.

Die EVO vervang die hoofstuk oor handel in die Ooreenkoms oor Handelsontwikkeling en Samewerking wat in 2000 tussen die EU en Suid-Afrika onderteken is.

Die ooreenkoms maak ook voorsiening vir die beskerming van Suid-Afrikaanse geografiese aanduidings hoofsaaklik met betrekking tot Suid-Afrikaanse wynname, rooibos, heuningtee en Karoolam.

1.6. Die belegging van R500 miljoen in ’n sentrum vir innovering in Johannesburg deur die Verenigde State se multinasionale maatskappy General Electric (GE), word verwelkom en dui daarop dat Suid-Afrika en die res van die vasteland 'n lewensvatbare beleggingsbestemming is. Dit is die 10de sentrum van sy soort in die wêreld en die eerste in Afrika. Die gebou is ook die nuwe hoofkwartier van GE Healthcare, waar verskeie gesondheidsorgtegnologiëe ten toon gestel word. Dit bewys GE se langtermynverbintenis tot die vasteland en om innoverende oplossings vir Afrika se infrastruktuur- en gesondheidsorguitdagings te vind.

Die sentrum het ten doel om die loopbaanaspirasies van meer as 100 ingenieurs uit voorheen benadeelde agtergronde te verbeter. Daar is ook voorsiening gemaak vir gesamentlike projekte en die prototipering van oplossings – 'n vennootskap tussen Transnet en GE vir die lokalisering van verskeie spoorprojekte. Die sentrum streef ook daarna om klein ondernemings te ontwikkel sodat hulle die plaaslike mark en moontlik GE se wêreldvoorsieningsketting kan voorsien. Die Kabinet doen 'n beroep op alle ander multinasionale ondernemings om GE se voorbeeld te volg.

1.7. Die Kabinet verwelkom die voltooiing van die eerste fase van die verbeterde Botshabelo Nywerheidspark in die Vrystaat, wat deur Minister Davies van stapel gestuur is.

Die eerste fase van die vernuwingsprojek sluit in die verbetering van veiligheidsinfrastruktuur, omheining, straatbeligting en noodsaaklike elektrisiteitsverbeterings teen 'n koste van R24 miljoen. Dit is deel van die R189 miljoen wat in ses geprioritiseerde parke belê is en verband hou met die Nywerheidsbeleidaksieplan (NBAP). Die Botshabelo Nywerheidspark sal werk skep vir die mense van Botshabelo en omliggende gebiede. Dit sal ook industrialisering en die groei van klein ondernemings en koöperasies bevorder, beleggings lok en vervaardiging aanmoedig.

1.8. In reaksie op die waterbehoeftes van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit, verwelkom die Kabinet die bekendstelling van die Kroonstad Rioolsuiweringsaanleg deur die Minister van Waterwese en Sanitasie, Nomvula Mokonyane.

Die gebied gaan gebuk onder droogte en lae watervlakke wat al kritieke status bereik. Watertenkwaens is na die gebied gestuur. Ingrypings vir die kort- en mediumtermyn-pogings sluit in die boor van nuwe boorgate en die verbetering van bestaande boorgate in Kroonstad om watervoorsiening in die gebied aan te vul.

1.9. President Zuma het die 6de Gewone Spitsberaad van die Internasionale Konferensie van die Groot Mere-streek (IKGMS) met die tema "Versnelling van die doeltreffende implementering van die verdrag en sy protokolle vir 'n meer demokratiese en stabiele Groot Mere-streek" bygewoon. Afgevaardigdes het die politieke en veiligheidsituasie in die Groot Mere-streek, insluitend Suid-Soedan, Burundi, die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Republiek van Sentraal-Afrika  bespreek. 'n Volledige verslag van die IKGMS-spitsberaad sal tydens die volgende Afrika-unie-spitsberaad voorgelê word. President Zuma sê daar is toenemende hoop dat die voorheen hardnekkige probleme van konflik en onstabiliteit in die Groot Mere-streek opgelos kan word.

1.10. Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFHS) het sedert sy ontstaan al meer as 1,7 miljoen studente wat tersiêre onderrig ontvang, bygestaan. Die skema bied finansiële hulp aan studente uit behoeftige en werkersklasgesinne. Om volhoubaarheid te verseker, vorder die NSFHS die terugbetaling van lenings in. Die terugbetalings verseker dat die skema fondse beskikbaar het vir toekomstige studente. Dit bevorder toegang tot en sukses in hoër en verdere onderwys en opleiding in navolging van Suid-Afrika se doelwitte rakende nasionale en menslikehulpbronontwikkeling.

Die Kabinet moedig alle NSFHS-begunstigdes wat werk het aan om met die NSFAS in verbinding te tree en reëlings vir terugbetaling van hul lenings te tref. Dit is jou verantwoordelikheid om jou deel te doen om ander studente te help wat nou finansiële hulp nodig het.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet is ingelig oor die alternatiewe Internet-inisiatief genaamd digitale voorwerpargitektuur (DVA) om die bestuur van inligting te verbeter. Die Kabinet het verdere belegging goedgekeur vir die ontwikkeling en benutting van die DVA-inisiatief en vir Suid-Afrika om 'n multiprimêre administrateur van die globale DVA-netwerk te wees. Hierdie tegnologie help om die NOP se doelwitte te bereik deur die Staat se kapasiteit te verbeter om innoverende oplossings vir ingewikkelde uitdagings te vind. Dit verbeter ook dienslewering deur middel van programme soos e-Regering en kubersekerheid.

Die voordele verbonde aan die gebruik van DVA  om inligting te bestuur sal nuwe plaaslike vermoëns in internettegnologie bevorder en pasgemaakte sagtewareoplossings gegrond op oopbron-sagteware ontwikkel. Dit sal bydra tot die ontwikkeling van die plaaslike sagtewarebedryf en die verbetering van inligtingsbestuurstelsels en uitvoerverdienste. 'n Verdere voordeel is dat die DVA versoenbaar is met die meeste bestaande argitektuur op die internet. Dit sal die Regering in staat stel om herhalende koste van sagtewarestelsels uit te skakel.

2.2. Na aanleiding van 'n versoek van die AU-kommissie, het die Kabinet goedgekeur dat Suid-Afrika die Afrika-Internetbestuursforum (AIBF) in Oktober 2016 aanbied. Internetbestuur dek verskeie maatskaplike en politieke kwessies. Dit sluit in deelname aan die aanlyn-ekonomie, intellektuele eiendom, kuberveiligheid en privaatheid, en toegang tot belangrike tegniese hulpbronne, soos domeinname en internetprotokol-adresse wat internetdienste moontlik maak.

Die aanbied van die AIBF bied Afrika 'n platform om strategieë te ontwikkel vir deelname aan die wêreldinternet-ekonomie wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van ekonomieë in Afrika. Die internetekonomie in Suid-Afrika is tans sowat R59 miljard werd.

Die forum bied ook 'n platform vir regerings in Afrika om doelgerig 'n gemeenskaplike posisie oor internetbestuur in te neem. Dit volg op die uitkomste van die Wêreldspitsberaad van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in Desember 2015 oor die Hoëvlakoorsig van die Inligtingsgemeenskap. Dit herbevestig die Tunisië-verklaring, ingevolge waarvan internetbestuur 'n internasionale hulpbron is wat in 'n multilaterale, deursigtige en demokratiese proses bestuur moet word en alle belanghebbendes ten volle moet betrek. Afrika-regerings sal ook belangrike komponente van die internetwaardeketting met die oog op die billike verspreiding en gebruik van internethulpbronne kan bespreek.

3. Komende gebeure

3.1. President Zuma het op 23 Junie die Vulindlela Landelik Verbeterde Volksbehuisingsproses (EPHP) in die Umsunduzi Plaaslike Munisipaliteit in KwaZulu-Natal besoek ter viering van die meer as vier miljoen huise en behuisingsubsidies sedert die begin van demokrasie in 1994.

Die Regering het in KwaZulu-Natal meer as 700 000 huise en subsidies gelewer, insluitend 12 000 huise in die Vulindlela Landelike Behuisingsprojek wat deur die EPHP gebou word. Die EPHP is 'n proses waardeur begunstigdes betrokke raak by besluitneming oor die behuisingsproses en deelneem aan die bou van hul huise.

3.2. President Zuma onderneem tussen 10 en 12 Julie 2016 'n staatsbesoek aan Frankryk om verhoudings tussen die twee lande verder te verbeter.

Die President sal onder meer op 12 Julie 2016 die honderdjarige herdenking van die Slag van Delvillebos bywoon. Die slag, wat tydens die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind het, het baie Suid-Afrikaanse soldate se lewens geëis.

Hoewel die Delvillebos-gedenkteken aan gesneuwelde Suid-Afrikaanse soldate gewy is, het die beleid van die apartheidsregering swart Suid-Afrikaners wat tydens die oorlog gesneuwel het, uitgesluit terwyl hul wit eweknieë by die Delvillebos-gedenkteken begrawe is.

Die monument ondergaan tans beduidende transformasie om die historiese rol wat swart Suid-Afrikaners tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gespeel het, te weerspieël, en om hulle die nodige erkenning te gee. In die lig hiervan gaan die President ook by Arques-la-Bataille aan swart soldate hulde bring.

3.3. President Zuma sal vanaf 13 tot 17 Julie 2016  'n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 27ste Gewone Sessie van die Vergadering van die AU, in Kigali, Rwanda lei. Die beraad vind plaas onder die tema "2016, Jaar van Menseregte in Afrika met spesifieke klem op die Regte van die Vrou." In die jaar 2016 vind belangrike mylpale op die vasteland en oor die wêreld heen plaas, wat handel oor die vrou, geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue. Dit is die 30ste herdenking van die inwerkingtreding van die Afrika-handves oor Menseregte in 1986 en die begin van die tweede fase van Afrika se Vroue-dekade 2010-2020.

Wêreldwyd word 36 jaar sedert die aanvaarding van die VN se Konvensie oor die Uitwissing van alle vorme van Diskriminasie teen Vroue gevier. Dit is ook die 21ste herdenking van die 1995 Beijing-verklaring en Platform vir Aksie; die sleutel internasionale beleid oor geslagsgelykheid. Staatshoofde en die Regering gaan die verslag van AU-vrede-en-veiligheidsraad bespreek om vrede op die vasteland te bewerkstellig. Daarbenewens gaan die AU se voorgestelde begroting vir 2017 bespreek en goedkeur word.

3.4. President Zuma lei op 28 Junie 2016 'n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die buitengewone beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Gaborone, Botswana. Die beraad sal na verwagting die politieke en veiligheidsituasie in die SAOG-streek bespreek, met besondere aandag aan die situasie in Lesotho.

3.5. Die land is gereed om die 21ste Internasionale Wêreldvigskonferensie van 18 tot 22 Julie 2016 in die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban aan te bied. Die begin van die konferensie val saam met Internasionale Nelson Mandeladag op 18 Julie.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om ons storie te deel en die positiewe ommeswaai in Suid-Afrika sedert die internasionale vigskonferensie in Durban in 2000 aangebied is, ten toon te stel.  

Suid-Afrika het oor die afgelope ses jaar baie gedoen om vigs te bestry; dit het tot die grootste MIV-behandelingsprogram ter wêreld gelei, wat miljoene mense se lewens gered het en lewensverwagting merkbaar laat styg het.

Ander prestasies sluit in die veldtog vir MIV-berading en -toetsing waardeur 18 miljoen Suid-Afrikaners binne die bestek van 18 maande vir MIV en vigs getoets is en waardeur 10 miljoen Suid-Afrikaners deurgaans jaarliks ​​getoets word. Vigsverwante sterftes in Suid-Afrika het van 320 000 in 2010 tot 140 000 in 2014 gedaal, en moeder-na-kind-oordrag het van 70 000 babas in 2004 tot minder as 7 000 in 2015 verminder.

TB is 'n belangrike skakel en hoewel TB-sterftes van 70 000 in 2009 tot minder as 40 000 in 2014 gedaal het, bly TB die grootste oorsaak van dood van alle aansteeklike siektes in ons land en in die wêreld. Die Regering het duisende mense in die kwesbare sektore van korrektiewe dienste, mynwese en semi-myngemeenskappe suksesvol gekeur.

Die voorkomingsprogram prioritiseer meisies en jong vroue in die ouderdomsgroep 15 tot 24 jaar en het ten doel om infeksies, tienerswangerskappe, en seksuele en geslagsgebaseerde geweld te verminder, asook om meisies tot matriek in die skool te hou, ekonomiese geleenthede vir jong vroue te skep en hul weg te hou van ouer mans.

3.6. Die Regering vier van 22 en 26 Junie 2016 Staatsdiensweek wat deel is van Batho Pele-program (Mense Eerste). Die bevordering van goeie etiek, hoë moreel en trots onder staatsamptenare bevorder die lewering van hoë gehalte dienste.

Die Regering neem ook kennis dat ons vandag, 23 Junie 2016, Afrikastaatsdiensdag, vier, wat verskillende regeringsfere aanspoor om saam te werk en beperkte hulpbronne meer doeltreffend te gebruik om beter resultate te lewer.

Die Kabinet moedig alle staatsamptenare aan om aan die voorpunt van dienslewering in die land te wees en die week te gebruik om innoverende maniere te vind om dienste aan Suid-Afrikaners te lewer.

3.7. Die Kabinet verwelkom die besluit van die Munisipale Afbakeningsraad om 'n konferensie oor afbakening en ruimtelike transformasie op 23 en 24 Junie 2016 aan te bied. Afgevaardigdes van staatsdepartemente en plaaslike munisipaliteite, asook uit ander lande sal die konferensie bywoon.

Die konferensie bied 'n geleentheid vir holistiese besprekings oor afbakening, veral rakende die kwessie van grensveranderinge en openbare deelname. Die stem van gemeenskappe in hierdie proses is noodsaaklik en alle pogings om groter en meer inklusiewe openbare deelname te verseker word verwelkom. 

3.8. Vanaf Vrydag 1 Julie 2016 kan belastingbetalers amptelik begin om hul belastingopgawes vir 2016 in te dien. Die Belastingseisoen is deesdae 'n belangrike vennootskap tussen die Regering en belastingbetalers wat 'n belangrike bydrae tot die land se inkomste maak. Dit verteenwoordig die grootste enkele jaarlikse betrokkenheid tussen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en belastingbetalers, waartydens meer as vier miljoen belastingbetalers hul belastingopgawes indien. Die Kabinet moedig alle belastingbetalers aan om hul jaarlikse inkomstebelastingopgawes vanaf 1 Julie 2016 in te dien. Danksy belastingbetalers het Suid-Afrika vir die boekjaar 2014/15 nagenoeg R1 biljoen ingewin.

4. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

4.1. Die Kabinet veroordeel die onlangse vlaag van geweld in en rondom die Stad Tshwane en doen 'n beroep op burgers om wetsgehoorsaam te wees en nie geweldadig op te tree nie.

Geen mate van ongelukkigheid kan geweld en die vernietiging van eiendom regverdig nie. Mense wat hulle skuldig maak aan sulke kriminele dade sal met die volle mag van die gereg te doen kry.

Suid-Afrika is 'n grondwetlike demokrasie waar elke landsburger aan demokratiese prosesse kan deelneem. Sodanige kriminele gedrag maak inbreuk op die regte en vrye beweging van ander. Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk en diegene wat hulle aan kriminele aktiwiteite skuldig maak, aan die kaak te stel.

4.2. Die uitspraak van die Konstitusionele Hof in die saak van Mhlophe versus die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) baan die weg vir plaaslike verkiesings om op 3 Augustus 2016 voort te gaan met behulp van die kiesersrol wat deur die OVK gesertifiseer is ná die proklamasie van die verkiesingsdatum.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle geregistreerde kiesers om hul demokratiese reg uit te oefen waarvoor hulle so hard gewerk het en om vir die plaaslike regering van hul keuse te gaan stem. Die Regering gaan met die OVK en ander belanghebbendes saamwerk om te verseker dat die uitspraak van die Konstitusionele Hof volledig geïmplementeer word.

4.3. Die Kabinet verwelkom Eskom se  aankondiging dat al vier eenhede van die nuwe Ingula hidroëlektriese kragstasie voor skedule tot die kragnetwerk gesinkroniseer is.

Die projek van R25 miljard verbeter die land se energiesekerheid met die lewering van 1 332 MW tydens spitstye. Die aanleg is op koers om teen 2017 volledig in bedryf te wees.

4.4. Die Kabinet verwelkom die brandbestryders wat in Kanada ontplooi is om bosbrande daar te help bestry, terug in die land. Die Suid-Afrikaanse span is teruggeroep na goeie reën daar uitgesak het.

Werk op Vuur is 'n regeringsprogram wat daarop gemik is werk te skep en geïntegreerde brandbestryding in Suid-Afrika te bewerkstellig. Meer as 5 000 jong mans en vroue is as brandbestryders opgelei en by meer as 200 basisse oor die hele land gevestig. Die brandbestryders kom uit gemarginaliseerde gemeenskappe en is opgelei in brandbewustheid en -opvoeding, asook in brandvoorkoming en
-beheervaardighede. Soortgelyke regeringsprogramme sluit in Werk vir Water en Werk vir Energie waardeur die Regering in arbeidsintensiewe aktiwiteite belê wat werk skep en ons natuurlike hulpbronne beskerm.

Die Departement van Omgewingsake ondersoek tans die brandbestryders se loondispuut om 'n regverdige uitkoms vir alle belanghebbendes te beding.

4.5. Die Kabinet spreek sy innige meegevoel  teenoor die volgende uit:

  • Familie en vriende van die radio-en-TV-persoonlikheid Hope Zinde wat in die 90's as joernalis by die SAUK gewerk het  en ’n voormalige raadslid van die SAUK was. 
  • Die Regering en landsburgers van die Verenigde State van Amerika ná die skietvoorval in Orlando, Florida, waartydens sowat 50 mense gesterf het en talle beseer is.

4.6. Die uitspraak deur die Umzinto-gelykheidshof in KwaZulu-Natal van die afgetrede eiendomsagent Penny Sparrow, wat skuldig bevind is aan haatspraak, dien as 'n herinnering dat sulke gedrag nie geduld sal word nie en dat ons howe onwrikbaar die regte van alle slagoffers van rassisme sal handhaaf, veral die stemloses wat hulself nie kan verdedig nie.

Die Kabinet is bekommerd dat hoewel ons reeds 22 jaar van demokrasie vier, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie 'n toename in aangemelde gevalle van blatante rassisme en haatspraak ontvang. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om te onthou dat ons diversiteit ons sterk maak. Ons moet almal daarna streef om nie-rassige samelewing te bou.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die nodige uitklarings.

5.1. Oorgrenspadvervoeragentskap:

a. Heraanstelling van Sipho Khumalo as Uitvoerende Hoof vir vyf jaar.

5.2. Lede van die Nasionale Raad vir Korrektiewe Dienste:

a. Regter Mokgadi Mailula (Voorsitter)
b. Regter Zamani M Nhlangulela (Vise-voorsitter)
c. Regter Ester JS Steyn (Vise-voorsitter)
d. Mnr. Adriaan Bekker
e. Adv. Sibongile Mzinyathi
f. Me. Shishi Sello
g. Dr. Kgamadi J Kometsi
h. Lt.genl. Julius T Molefe
i. Me. Angela Magangoe
j. Mnr. Mziwoxolo M Mfeketo
k. Me. Nondumiso Gwayi
l. Mnr. Ivan de Klerk
m. Me. Teboho S Monyamane
n. Me. Lusanda UZ Rataemane
o. Adv. Khavhareni A Mahumani
p. Ds. Jonathan Clayton
q. Me. Amanda L Vilakazi
r. Dr. Vanitha R Chetty, en
s. Mnr. Maluleka Nkopo.

Navrae:
Harold Maloka
Skakel: 082 847 9799

Share this page

Similar categories to explore