Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 14 September 2016

1. Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet is bemoedig deur die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) van 3,3% in die tweede kwartaal van 2016 soos deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel. Die 8,1%-styging in vervaardiging en 11,8% in mynbou en steengroewe demonstreer die veerkragtigheid van die ekonomie in hierdie moeilike ekonomiese omgewing. Die BBP het met R25 miljard gestyg, meer as in die eerste kwartaal van 2016, tot 'n geskatte R1,06 miljard.

Ons herhaal die beroep deur die Regering, die sakesektor en die burgerlike samelewing om die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), deur middel van die Negepuntplan, te ondersteun sodat ons die ekonomie kan stimuleer en werksgeleenthede kan beskerm.

Dit is duidelik dat wanneer alle vennote - die Regering, sakesektor en arbeid - saamwerk, ons die ekonomie kan laat groei en werkgeleenthede kan skep.

1.2. Die Kabinet verwelkom die aankondiging dat die tweede 800 MW-eenheid by die Medupi-kragstasie in Limpopo by die kragnetwerk gevoeg is. Eenheid 5 van die kragsentrale, een van ses wat gebou word as deel van die 4 800 MW-projek, sal teen Maart 2018 kommersieel in werking gestel word.

Dit is die tweede van die kragsentrale se ses eenhede wat aan die kragnetwerk gekoppel word. Die eerste eenheid, Eenheid 6, het in Maart 2015 begin om krag aan die netwerk te lewer. Die hele projek, bestaande uit ses eenhede, sal na verwagting teen 2020 voltooi wees.

Dit sal help om die kragnetwerk te stabiliseer en betroubare elektrisiteitsvoorsiening aan Suid-Afrika te bied.

Die Kabinet wens Eskom geluk met die mylpaal, wat deel is van 'n breër program, wat deur nuwe leierskap deurgevoer word. Die projek dra ook by tot Eskom se volhoubaarheid.

1.3. Die Kabinet bevestig sy verbintenis tot die Program vir die Verkryging van Onafhanklike Kragprodusente, wat beduidende nuwe kragkapasiteit sal genereer om die ekonomie te stimuleer.

Dit sal bydra tot die diversifisering van die vraag en aard van kragopwekking. Benewens die deurvoer van vaardighede en nuwe beleggings, stel dit ook 'n maatstaf vir prestasie en pryse.

Die program word ondersteun deur die NOP, wat die behoefte identifiseer het om in ekonomiese infrastruktuur te belê sodat die land sy medium- en langtermyn- ekonomiese en maatskaplike doelwitte kan bereik.

1.4. Die Kabinet neem kennis van die ondertekening van 'n ooreenkoms tussen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika en China Communications Construction Company Beperk om inisiatiewe vir infrastruktuurontwikkeling te ondersoek, insluitende die Moloto-spoorkorridor wat Gauteng en Mpumalanga sal verbind.

Die ooreenkoms is tydens die 2de Forum vir Belegging in Afrika onderteken wat deur president Jacob Zuma in Guangzhou, China bygewoon is.

Die projek sal lewe in die ekonomie in en om die korridor blaas en sodoende uitdagings rakende veiligheid, doeltreffendheid, betroubaarheid, bekostigbaarheid en algehele integrasie met ander openbarevervoerdienste die hoof te bied. Dit sal ook die lewensgehalte van mense in die gebied verbeter deur lang reistye te verkort.

1.5. Die Kabinet is ingelig oor die vorderingsverslae vir die eerste kwartaal vir die tydperk April tot Junie 2016 rakende die implementering van uitkomste. Die Regering is besig om 'n verskil aan menselewens te maak en probleme rakende dienslewering te pak.

Die Aksieprogram van Uitkomste voer die doelwitte van die NOP in en bring Suid-Afrika nader aan die doelwitte van Visie 2030. Dit kom neer op die teikens in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk, wat deel is van die eerste vyf jaar van die inwerkingstelling van NOP 2030 vir 2014 tot 2019.
 
Volgens die aanwysers vir kernbevolkingsgesondheid, was daar verbetering in die stand van gesondheid soos verbeterde lewensverwagting, minder sterftes onder kinders onder vyf en minder moedersterftes. Daar is beter voorsiening van basiese dienste, insluitend elektrisiteit, drinkwater in wonings, sanitasie en bestuur van vaste afval. Daar is egter steeds agterstande in sommige gebiede. Sedert 1994 was daar volgehoue en verbeterde voorsiening van maatskaplike bystand aan meer as 16 miljoen begunstigdes, wat 'n beduidende invloed op die lewens van armes het.

Die GCIS werk tans met staatsdepartemente saam om deur media-inligtingsessies mense in kennis te stel van die hoogtepunte uit die kwartaalverslae.

1.6. Die Kabinet verwelkom die imbizo deur die minister in Die Presidensie vir beplanning, monitering en evaluering en die voorsitter van die nasionale beplanningskommissie, Jeff Radebe, oor tussenkomste om die betaling van leweransiers (of diensleweraars) deur die Regering binne die vereiste 30 dae te versnel.

Sedert die stigting van die spesiale eenheid in die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME) om die probleem van niebetaling van verskaffers binne die vereiste 30 dae te pak, is 17 668 fakture van R340 miljoen tot en met Junie 2016 betaal.

Die DPME en die Tesourie het ook meer hulpbronne beskikbaar gestel om uitdagings rakende betalings aan verskaffers die hoof te bied. Vir dié doel is 'n instapsentrum by die kantoor van die Tesourie gevestig om verskaffers se navrae te hanteer.

Hierbenewens is die DPME en sy vennote besig om sukkelende departemente by te staan om seker te maak dat verskaffers betyds betaal word.

Tydens hierdie besoeke word die hele waardeketting van betaling beoordeel, struikelblokke word geïdentifiseer en departemente word bygestaan om maatreëls vir betaling deur te voer.

2. Belangrike Kabinetsbesluite

2.1. Suid-Afrika sal die 17de sitting van die Konferensie van die Partye (COP17) van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) by die Sandton-konferensiesentrum vanaf 24 September tot 5 Oktober 2016 aanbied. Met 181 partye bly CITES een van die wêreld se gesaghebbendste owerhede vir die bewaring van biodiversiteit deur die regulering van handel in natuurlewe. CITES se partye en waarnemers verwag om by robuuste besprekings betrokke te raak en oplossings te vind om die werk wat reeds rakende handel in natuurlewe gedoen word, verder te voer.

Suid-Afrika is 'n wêreldleier op die gebied van natuurbewaring danksy sy deelname aan multilaterale omgewingsooreenkomste soos CITES, die Konvensie oor Migrerende Spesies en die Konvensie oor Biologiese Diversiteit. Ons land se unieke stelsel van beskermde gebiede beslaan sowat 5,5% van die land se oppervlak en sluit ses wêrelderfenisgebiede en vier biosfeerreservate in.

2.2. Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, dr Siyabonga Cwele, sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die 26ste Wêreldkongres oor Poswese van die Wêreldposunie (UPU) lei, wat van 20 September tot 7 Oktober 2016 in Istanbul, Turkye plaasvind. Die UPU is 'n gespesialiseerde agentskap van die Verenigde Nasies (VN) wat fokus op die modernisering van die poswese en diversifisering van posprodukte om 'n wêreldwye poswesegrondgebied in stand te hou wat aan die behoeftes van die 21ste eeu voldoen.

Die kongres is van kritieke belang vir Suid-Afrika aangesien die Suid-Afrikaanse Poskantoor ’n belangrike rolspeler in die Regering se dienslewering is en met die NOP belyn is as deel van die hantering en vestiging van finansiële en regeringsdienste in landelike en onderbediende gemeenskappe.

2.3. Die Kabinet is ingelig oor die vordering rakende voorbereidings vir die Statebondspele 2022 wat in Durban gehou sal word.

Belegging in infrastruktuur vir die Spele sal na verwagting bydra tot blywende voordele vir die gasheerstad. Infrastruktuur wat vir die 2010 FIFA-wêreldbeker gebou is, sal ook weer benut word. Hierdie bykomende blootstelling aan internasionale markte sal ook geleenthede skep om toerisme en direkte buitelandse beleggings te lok en te verbeter. Die 2022 Statebondspele sal na verwagting tot R20 miljard tot die ekonomie bydra, wat neerkom op 'n bykomende R11 miljard in BBP-groei.

Dit posisioneer die land verder as 'n sporttoerismebestemming en bied ook geleenthede vir Suid-Afrika se sportspanne.

2.4. Die Kabinet neem kennis van die dagvaarding deur die Openbare Beskermer op die sekretaris van die Kabinet. Die dagvaarding vereis dat die sekretaris verklarings van Kabinetslede en notules van die Kabinet tussen November 2015 en April 2016 voorlê, wat die aanstelling van waarnemende ministers in plek van ministers wat in die buiteland was, op rekord geplaas het.

Die Kabinet het ingestem om die verklarings te voorsien. Aangesien die president, ministers en adjunkministers kragtens artikels 91 en 98 van die Grondwet aanstel, is hierdie sake nie aan die Kabinet voorgelê nie en is hierdie rekords dus nie as Kabinetsbesluite genotuleer nie.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Drankwet 2016 is vir wyer openbare raadpleging goedgekeur. Dit wysig die Nasionale Drankwet, 2003 (Wet 59 van 2003). Dit is saam met die finale Nasionale Drankbeleid goedgekeur, wat die doeltreffendheid van die Wet ondersoek en die opstel van die wetsontwerp vergemaklik het.

Die wetsontwerp fokus op die sosio-ekonomiese impak van drank, die trae pas van transformasie, standaardisering van die belangrikste aspekte van regulering en die verbetering van regulerende samewerking, die uitroei van die vervaardiging en handel in onwettige alkohol asook uitdagings rakende reguleringskapasiteit binne die Nasionale Drankowerheid.

Hierdie tussenkoms fokus ook op die vermindering van sosio-ekonomiese skade en ander koste van drankmisbruik, die herstrukturering van die drankbedryf en die verbetering van samewerking tussen alle regeringsfere.

Dit is in lyn met die NOP-prioriteite om doeltreffende bestuur, maatskaplike beskerming en werkskepping te verseker. Dit sal onder meer onwettige handel verhoed, onderwys- en bewusmakingsprogramme verbeter, en help om programme vir die rehabilitasie van verslaafdes te verbeter.

3.2. Die Kabinet het ook die Konsepwysigingswetsontwerp van die Nasionale Dobbelwet van 2016 vir wyer openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp hanteer uitdagings wat die doeltreffendheid van die Nasionale Dobbelwet, 2004 (Wet 7 van 2004) belemmer.

Die wetsontwerp het ten doel om te verseker dat samewerkende regering en toesighoudende funksies verbeter en dat regulerende sekerheid en die negatiewe uitwerking van dobbel drasties verminder word. Dit sal op die verbetering van bestaande dobbelaktiwiteite fokus en geen nuwe dobbelaktiwiteite sal bekendgestel word nie. Die wetsontwerp sal verseker dat kwesbare groepe soos minderjariges en probleemdobbelaars beskerm word en dat hulle toegang sal hê tot hulp deur organisasies soos die Nasionale Dobbelwetreguleerder.

Dit is strategies in lyn met die prioriteite van die NOP om doeltreffende bestuur, maatskaplike beskerming, werkskepping, ontspanning en vryetydsbesteding te verseker.

4. Toekomstige gebeure

4.1. Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, me Maite Nkoana-Mashabane, sal 'n afvaardiging lei na die 17de Spitsberaad van die Beweging van Onverbonde Lande (NAM) onder die tema "Vrede, Soewereiniteit en Solidariteit vir Ontwikkeling" wat van 17 tot 18 September 2016 in Venezuela gehou word.

NAM is die grootste groepering buite die VN en gee ontwikkelende lande die geleentheid om wêreldsake te beïnvloed en te verseker dat hul belange in ag geneem word.

4.2. President Zuma sal 'n afvaardiging na die 71ste sitting van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (UNGA) lei wat van 18 tot 22 September 2016 by die VN se hoofkwartier in New York gehou word.

Op 1 Januarie 2016 het die 17 Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling, wat in September 2015 deur wêreldleiers aangeneem is, amptelik in werking getree. Oor die volgende 15 jaar sal lande pogings in werking stel om alle vorme van armoede te beëindig, ongelykhede te beveg en klimaatsverandering te pak. Dit sal verseker dat niemand agtergelaat word nie.

4.3. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal die nasionale Erfnisdagviering op 24 September 2016 by Galeshewe-stadion in Kimberley in die Noord-Kaap lei. Dit word gehou onder die tema "Viering van Menslike Skatte deur ons Afrika-identiteit te Handhaaf".

4.4. Die Internasionale Konferensie oor Volhoubare Ontwikkeling vind van 21 tot 22 September 2016 in New York plaas onder die tema: "Beweeg Vooruit: Die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte in Praktyk".

Die doel van die konferensie is om praktiese, bewese oplossings vir volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te identifiseer en te deel. Die konferensie bring belanghebbendes van regerings, die akademie, die VN, internasionale agentskappe, nieregeringsorganisasies en voetsoolvlakorganisasies byeen.

4.5. Die Kabinet verwelkom die vyfjaarherdenking van die Oop Regeringvennootskap (ORV) naas die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York op 20 September 2016.

Tydens hierdie geleentheid sal die posisie van hoofvoorsitter van die ORV amptelike deur Suid-Afrika oorhandig word. Staatshoofde, leiers van burgerlike samelewings en ander belanghebbendes wat ’n deurslaggewende rol in die sukses van die ORV gespeel het, sal die geleentheid bywoon. Suid-Afrika het die posisie van hoofvoorsitter van die vennootskap by die Mexiko-spitsberaad in Oktober 2015 aanvaar.

Sedert agt staatshoofde met nege leiers van burgerlike samelewings in 2011 begin saamwerk het in oorleg met die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering om die ORV deur te voer, het die vennootskap aansienlik gegroei. Tans bestaan dit  uit 70 regerings- en duisende burgerlike organisasies van oor die hele wêreld en meer as 3 000 spesifieke verbintenisse om deursigtigheid en aanspreeklikheid van regerings en openbare deelname te verbeter.

4.6. Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, dr Siyabonga Cwele, sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die vergadering van die VN se Breëbandkommissie lei, wat op 18 September 2016 in New York plaasvind.

Die kommissie gaan strategieë ondersoek om bekostigbare breëbandinternet aan die vier miljard mense sonder vinnige internet beskikbaar te stel. Vanjaar se byeenkoms sal oor huidige strategieë besin en ’n plan van aksie bedink om breëbandinternet vir volhoubare ontwikkeling te bevorder.

4.7. Vervoermaand sal in Oktober 2016 onder die tema: “Saam Beweeg ons Suid-Afrika Vorentoe” gehou word. Die maand lange program sal vervoerinfrastruktuurprojekte bekendstel om openbare vervoer aan te moedig en padveiligheidinisiatiewe bevorder.

Die Regering belê in die vervoersektor as deel van die Negepuntplan om ontwikkeling te stimuleer en werksgeleenthede te skep. Ons belegging in openbare vervoer is deel van die bou en bedryf van 'n geïntegreerde openbare vervoernetwerk oor die hele land.

Die belegging in vervoer sal die ekonomie stimuleer en werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof te bied. Ons beleggings in vervoer posisioneer die land as 'n aantreklike beleggingsbestemming.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die omgewing

5.1. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die G20-leiersberaad, waar die belange van die suide bevorder is en wat deur Pesident Jacob Zuma bygewoon is.

Die beraad het onder die tema "Op pad na 'n Innoverende, Versterkte, Onderling Verbinde en Inklusiewe Wêreldekonomie" die volgende prioriteitsake bespreek:
i) Baan 'n nuwe weg vir groei
ii) Meer doeltreffende wêreldwye ekonomiese en finansiële bestuur
iii) Robuuste internasionale handel en belegging
iv) Inklusiewe en onderling verbinde ontwikkeling en
v) Ander kwessies wat die wêreld raak, soos antimikrobiese weerstand (AMR).

In sy poging om innovering as 'n belangrike drywer van groei vir individuele lande en die wêreldekonomie te versterk, onderskryf die G20 die Bloudruk oor Innoverende Groei as 'n nuwe agenda wat beleid en maatreëls in en oor die gebiede van innovering, die nuwe industriële revolusie en die digitale ekonomie omvat.

Die G20 se Aksieplan vir die Nuwe Industriële Revolusie gryp verder die geleentheid aan wat die nuwe industriële revolusie bied vir nywerhede, veral vervaardiging en verwante dienste. Dit sluit in steun vir industrialisering in ontwikkelende lande, veral dié in Afrika, asook die mins ontwikkelde lande. Die bekendstelling van die G20 se Inisiatief vir die Ondersteuning van Industrialisasie in Afrika en die Mins Ontwikkelde Lande versterk ook inklusiewe groei en ontwikkelingspotensiaal deur vrywillige beleidskeuses.

As bydrae tot die bou van 'n oop en veerkragtig finansiële stelsel om volhoubare groei en ontwikkeling te ondersteun, is Suid-Afrika se voorstel dat onwettige finansiële vloei van onbehoorlike prysbepaling deur die Wêreldhandelsorganisasie ondersoek moet word, aanvaar. Die aanpak van hierdie uitdaging kan geld vir regerings in Afrika beskikbaar stel om volhoubare ontwikkeling te bereik en ontwikkelingsprogramme deur te voer

5.2. Die Kabinet benadruk dit dat alle Suid-Afrikaners daarvoor verantwoordelik is om daadwerklik water te bespaar en dit oordeelkundig te gebruik. Dit sluit die herstel van lekkende krane in asook die instandhouding van openbare infrastruktuur in gemeenskappe.

Die daling in die watervlak van nasionale damme het waterbeperkings in sommige provinsies, insluitend Gauteng, genoodsaak.

Ons moet saamwerk om ons gemeenskappe te ondersteun deur vandalisme en diefstal van infrastruktuur aan te meld. Die Regering is bewus van die ontberings van ons mense in die gebiede wat die ergste getref is, en die Interministeriële Taakspan oor Droogte het die versterking van ingrypings vir hulpverlening aan gebiede in nood uiteengesit.

Lang- en korttermyningrypings word deurgevoer en monitering en evaluering van alle pogings duur voort. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, deur middel van die Nasionale Rampbestuursentrum, gaan ook voort om die land se te droogte- en waterskaarstesituasie te bestuur in samewerking met al die sektore en die private sektor.

5.3. Die Kabinet prys saam met die hele land die prestasie van Suid-Afrika se Paralimpiese span wat van 7 tot 18 September by die Rio 2016 Paralimpiese Spele in Brasilië deelgeneem het. Hierdie atlete maak ons trots en bou voort op ons puik reputasie as goeie presteerders by die Paralimpiese Spele. Die Kabinet wens die span geluk met hulle nege medaljes: drie goue, drie silwer en drie brons. Die Kabinet wens die volgende atlete geluk met hul goue medaljes: die swemmer, Kevin Paul; Hilton Langenhoven, vir verspring; en Charl du Toit in die 100-meterwedloop.

5.4. Die Kabinet verwelkom die Suid-Afrika Polisiediens (SAPD) se vrystelling van die 2015/16-misdaadstatistiek, wat 'n algehele dalende misdaadtendens weerspieël.

Hoewel die polisie vordering gemaak het om sekere soorte misdaad te bestry wek die styging in geweldsmisdaad, veral moord, nog kommer.

Die bekamping van misdaad is almal se verantwoordelikheid. Ons moet almal met die polisie saamwerk om veiliger gemeenskappe, veiliger stede en 'n veiliger land te verwesenlik. Dit sal samewerking tussen die verskillende wetstoepassingsafdelings verbeter om misdaadvlakke te verminder.

5.5. Die Kabinet herinner belastingbetalers wat hul belastingopgawes per hand of per pos indien dat die sperdatum van 23 September 2016 vir die indiening van hul opgawes vir die 2016 belastingseisoen vinnig nader.

Die Kabinet bedank belastingbetalers wat reeds hul opgawes ingedien het. Die inkomste wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingesamel word, help die staat om dienste aan miljoene Suid-Afrikaners wat dit die nodigste het te verskaf.

5.6. Die Kabinet erken die stryd wat jong mense ervaar as hulle probeer om self hul studies voort te sit. Die Regering bly verbind tot die versekering van gehalte- en bekostigbare onderwys vir almal. Befondsing wat deur die Nasionale Studentehulpfonds beskikbaar gestel word, staan nou op R14 582 miljard, en help dat arm, hardwerkende studente toegang tot al die 26 openbare universiteite en 50 openbare kolleges vir Tegniese Beroepsonderwys en Opleiding kan kry.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se 2015 Algemene Huishoudelike Opname "verbeter die opvoedkundige bereikingsuitkomste steeds met beter toegang tot onderwysinstellings en -dienste. Onder individue van 20 jaar en ouer, het die persentasie wat graad 12 bereik het as hul hoogste vlak van onderwys in 2002 toegeneem van 21,9% tot 28% in 2015. Die persentasie van hierdie individue met tersiêre kwalifikasies het verder verbeter van 9,3 % tot 14,1%.” Die Kabinet bly verbind tot 'n gefasseerde verwesenliking van gratis onderwys vir die armes, binne fiskale bekostigbaarheid.

Ons langtermynvisie vir hoër onderwys sal beïnvloed word deur die Kommissie van Ondersoek na Befondsing en Opleiding in Hoër Onderwys, wat tans in sitting is en sy werk na verwagting teen 30 Junie 2017 sal voltooi. Ons doen ’n beroep op alle belanghebbendes om die kommissie by te staan om sy werk te voltooi. Deur saam te werk kan ons oplossings vind wat beide prakties en volhoubaar is.

5.7. Die Kabinet is bekommerd oor die oplewing in gewelddadige betogings in sommige hoëronderwysinstelling. Die vernietiging van eiendom is 'n misdaad wat die aandag aftrek van wettige kwessies.

Die hulpbronne wat vernietig is, insluitend 'n biblioteek by die Universiteit van KwaZulu-Natal, asook boeke en infrastruktuur is onaanvaarbaar en vernietig die kennis wat oor tyd heen versamel is. Dit is kriminele dade waarvoor die wetstoepassingsagentskappe streng moet optree.

Hierdie dade plaas 'n stremming op die reeds beperkte hulpbronne tot onderwys aan die armes. Die Kabinet doen 'n beroep op studenteleierskap om aan te sluit by die oproep vir die beskerming van waardevolle universiteitsinfrastruktuur en -hulpbronne wat deel is van alle Suid-Afrikaners se algemene nasionale erfenis.

Die Regering het studente se griewe gehoor en dit geniet tans ons volle aandag. Ons werk saam met alle betrokke partye om 'n blywende oplossing te vind.

5.8. Die Kabinet betreur die tragiese verlies van lewens van die onwettige mynwerkers wat in die verlate Langlaagte-myn gesterf het. Hierdie sterftes beklemtoon die gevare van onwettige mynbou, aangesien hierdie onwettige bedrywighede die lewens van die gemeenskap in gevaar stel.

Die Departement van Minerale Hulpbronne werk saam met wetstoepassingsagentskappe om oortreders en veral die leiers van hierdie groepe wat handel in onwettige minerale dryf te vervolg.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle belanghebbendes om saam te werk om onwettige mynbou in die land uit te wis. Die departement werk saam met mynmaatskappye en het reeds meer as 200 ongebruikte mynbedrywighede wat met onwettige mynbou verband hou.

5.9. Die Kabinet wens die Departement van Basiese Onderwys geluk dat hy die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) se Internasionale Geletterdheidstoekenning vir sy Kha Ri Gude-massageletterdheidsveldtog ontvang het. Die UNESCO Internasionale Geletterdheidpryse beloon uitnemendheid en innovering op die gebied van geletterdheid.

Die Kha Ri Gude-massageletterdheidsveldtog is ingestel om die nasionale koers van ongeletterdheid in Suid-Afrika te verminder, en het reeds 4,7 miljoen mense in beide landelike en stedelike gebiede bevoordeel. Kursusse word in al die 11 amptelike tale, insluitend Braille, aangebied.

5.10. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die Suid-Afrikaanse sopraan Pretty Yende wie se opgang van 'n nederige begin in Piet Retief tot internasionale sterstatus 'n inspirasie vir ons almal is. Haar prestasies sluit onder meer in dat sy aanstaande maand in ‘n hoofrol in die Italiaanse opera Lucia di Lammermoor by die Opera Bastille in Parys sal optree en in Desember die titelrol in Romeo et Juliette by die Metropolitan Operahuis in New York vertolk.

5.11. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan Mev Esther Mahlangu, die wêreldbekende Ndebele-kunstenaar en ontvanger van Suid-Afrika se Nasionale Orde van Ikhamanga. Mama Mahlangu en BMW vier die 25ste herdenking van hul ikoniese samewerking van 5 tot 9 Oktober 2016 by die Frieze Art Fair in Londen.

5.12. Die Kabinet sluit aan by Suid-Afrikaners wat die lewe van Mama Winnie Madikizela-Mandela op haar 80ste verjaardag vier. Algemeen bekend as die “Moeder van die Vryheidstryd”, is Mama Winnie 'n ikoniese strydros en inspirasie vir vroue se veerkragtigheid wêreldwyd.

Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die:

5.13. Familie en vriende van die Suid-Afrikaans-gebore internasionaal bekende operasanger, Johan Botha. Mnr Botha sal onthou word vir sy strelende en kragtige stem wat in verskillende operateaters en -sale oor die wêreld heen gehoor is, insluitend die Weense Staatsopera wat hom 'n Kammersänger gemaak, 'n titel wat aan voortreflike sangers van opera- en klassieke musiek in Oostenryk en Duitsland toegeken word.

5.14. Familie, vriende en kollegas van die Transnet-treindrywer en -assistent wat gesterf het toe 'n Transnet-goederetrein by die Delvillewoodstasie ontspoor het na 'n grondverskuiwing in Hillcrest, wes van Durban.

5.15. Die mense van Tanzanië ná 'n aardbewing van 5,7 op die Richterskaal, wat 'n aantal lewens geëis het. Ons gedagtes en gebede is met die families van diegene wat gesterf het of beseer is.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
6.1. Departement van Sport en Ontspanning: Mnr Alec Moemi as direkteur-generaal vir ’n tweede vyfjaartermynkontrak.

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore