Verklaring van die Kabinetsvergadering van 4 September 2013

05 Sep 2013

1. Kabinet se posisie oor prominente kwessies in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Staatsdienshandves en prys staatsdiensvakbonde en die Staat as werkgewer vir die verbintenisse wat deur hierdie Handves gemaak is.

Die handves is gerig op die invoer van diensstandaarde in die Staatsdiens, met staatsdiensvakbonde wat hulle tot die ondersteuning van hierdie diensstandaarde verbind.

1.2. Die Kabinet neem kennis dat heelwat sektore tans by loononderhandelings betrokke is, of onlangs daarby betrokke was. Die Kabinet verwelkom die skikkings wat in sommige sektore bereik is en neem kennis van voortgesette onderhandelings in ander. Die Kabinet erken dat werkers in 'n demokrasie die reg het om te staak. Die Kabinet benadruk dat sodanige reg op 'n nie-geweldadige manier en in volle nakoming van die wet uitgeoefen moet word. 

Die verantwoordelikheid berus by vakbondleiers, werkgewers en die Staat se sekuriteitsdienste om te verseker dat die wet gehandhaaf word, dat uitdagende optrede vermy word en dat nywerheidsoptrede op 'n vreedsame wyse plaasvind.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle partye om hul bes te doen om onderhandelinge so gou moontlik by te lê en uitgerekte geskille te voorkom. Spoedige skikkings sal help om die koste vir die ekonomie te beperk en bydra tot die bereiking van die land se werkskepping- en groeidoelwitte.

1.3. Die Kabinet erken die tweede Jaarlikse Mynbou Lekgotla wat verlede week gehou is. Die lekgotla het weereens 'n geleentheid gebied aan die sleutelrolspelers in die mynbedryf om saam blywende oplossings te vind vir die uitdagings waaronder hierdie sektor gebuk gaan. Onder die leierskap van adjunk-president Kgalema Motlanthe, ondersteun die Regering steeds die raamwerkooreenkoms en die implementering daarvan vir 'n volhoubare en standvastige mynbousektor.

1.4. In die opbou tot die 20 Jaar van Vryheid op 27 April 2014, doen die Kabinet 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om ons geskiedenis te gedenk en ons uiteenlopende kulture gedurende Erfenismaand te vier. Vanjaar se feesvierings sal plaasvind onder die tema: "Reclaiming, Restoring and Celebrating Our Living Heritage".

Die Erfenisdagvierings sal plaasvind by Sisa Dukashe Stadium in Mdantsane, Buffalo City Metro Munisipaliteit, Oos-Kaap op 24 September 2013.

As deel van die 20 Jaar van Vryheid Veldtog sal die nasionale kommunikasievennootskap gepaardgaan met die bekendstelling van "Vryheidsvrydag" op 20 September 2013, wat aan Suid-Afrikaners 'n platform sal bied om ons swaarverworwe vryheid te waardeer, en sodoende te verseker dat toekomstige geslagte ook by ons ontwikkelende demokrasie kan baat vind.

Ter bevordering van ons binnelandse toerisme moedig die Kabinet Suid-Afrikaners aan om gedurende September erfenisterreine te besoek om ons aan ons vryheidsreis te herinner. Suid-Afrikaners kan ook ons natuurlike erfenis ondersteun deur ons nasionale parke gratis te besoek tussen 9 en 13 September 2013 as deel van die agtste jaarlikse Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParks) Week.

1.5. Die Kabinet moedig alle ouers en voogde aan om hul kinders te ondersteun in hul voorbereiding vir die komende Jaarlikse Nasionale Assesserings (ANA) in geletterdheid en gesyferdheid, wat tussen 10 en 13 September 2013 plaasvind.

Ouers en voogde moet seker maak dat hulle aktief betrokke raak by die 2013 ANA-uitslae, aangesien dit as 'n belangrike diagnostiese hulpmiddel dien van leerders se sterk punte en swakhede.

Ter voorbereiding vir die komende ANA word ouers, voogde en leerders sterk aangeraai om die hulpmiddels wat deur die Departement van Basiese Onderwys voorsien word, te gebruik. Dit is beskikbaar op die Departement se webwerf (www.education.gov.za).

1.6. Die Kabinet dra 'n boodskap van ondersteuning oor aan die soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat  vir die tydperk 13 Junie 2013 tot 31 Maart 2014 in die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo ontplooi is. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om hierdie soldate te ondersteun, wat bydra tot die verwesenliking van Suid-Afrika se verbintenis tot vrede, stabiliteit en die verstewiging van demokrasie in die Afrika-kontinent.

1.7. Die Kabinet dra sy gelukwense oor met die Presidensiële aanstellings van mnr Mxolisi Sandile Oliver Nxasana as die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging en Vasantrai Soni (SC) as die Hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid.

1.8. Die Kabinet wens die Joodse gemeenskap van Suid-Afrika 'n vreugdevolle Rosh Hashanah (5 – 6 September 2013) toe. Rosh Hashanah hou groot betekenis vir die Joodse gemeenskap in, en lui 'n proses in van selfondersoek en besinning wat die hoogtepunt bereik op Yom Kippur, die Dag van Versoening.

1.9. Die Kabinet betuig sy meegevoel met Minister Mthetwa en sy familie met die afsterwe van sy moeder, mev Nurse Gumbi op 3 September 2013. 

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet neem 'n verslag in ontvangs van die uitslae van die Instrument vir Bestuursprestasiebeoordeling (MPAT) van Nasionale en Provinsiale departemente vir die 2012/13 finansiële jaar. Die verslag is nog 'n hulpmiddel vir die verbetering van die gehalte van dienste wat deur die departemente gelewer word. Dit beoordeel die vier breë bestuursterreine, naamlik voorsieningskettingbestuur; menslikehulpbronbestuur; strategiese beplanning; en verbetering van dienslewering. Die assessering word op drie vlakke gedoen: self-assessering, dan 'n gemodereerde proses deur die interne oudit en laastens 'n gemodereerde proses deur 'n span onafhanklike moderators.

Die verslag sal volgende week in meer besonderhede deur die Departement van Prestasiemonitering en -Evaluering uiteengesit word tydens 'n geskeduleerde bekendstelling van die MPAT in Kaapstad.

2.2. Die Kabinet neem die verslae oor die implementering van Leweringsooreenkomste vir die Uitkomste vir die eerste kwartaal van 2013/14 in ontvangs en keur dit goed. Hierdie verslae sal in meer besonderhede uiteengesit word tydens 'n reeks media-inligtingsessies vir elk van die 12 Uitkomste.

2.3. Die Kabinet neem kennis van die verslag van die "Projek vir die Verwydering van nadelige Kredietinligting" en keur die aanbevelings goed van die Gekose Komitee op Handel en Internasionale Verhoudings.

Die aanbevelings is gerig op die kwessie van toegang tot krediet aan daardie Suid-Afrikaners wat krediet kan bekostig. Dit is die verbruikers wat dalk hul skuld ten volle afbetaal het en in 'n posisie is om nuwe krediet te bekostig, maar wie se toegang tans belemmer word deur negatiewe kredietinligting op hul rekords.
Die hoofdoel is om te verseker dat die Nasionale Kredietwet, 2005 (Wet 34 van 2005) funksioneer soos bedoel, sodat verbruikers wat krediet kan bekostig, toegang daartoe kan verkry. Ontoeganklike of duur krediet belemmer groei.

Toegang tot 'n volhoubare kredietmark is noodsaaklik vir die bereiking van alle ontwikkelingsdoelwitte.

2.4. Die Kabinet verwelkom die Witskrif oor Verhoorafwagting en die indiening daarvan by die Parlement.

Die konsep Witskrif se doel is om die bestuur van die verhoorafwagting- aanhoudingstelsel in Suid-Afrikaanse gevangenisse te verbeter. Die Witskrif gee 'n uiteensetting van die beginsels wat as dryfveer sal dien vir die aanhoudingsbestuur van verhoorafwagting. Die verslag sal deur die Parlementêre proses vrygestel word.

2.5.  Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Konvensie oor Trosbomme aan die Parlement gestuur word vir bekragtiging. Die Kabinet ondersteun die vernietiging van trosbom-voorraad ter nakoming van hierdie Konvensie.

In November 2006, kon 'n Verenigde Nasies (VN) Konferensie nie ooreenstemming bereik oor hoe die nadelige humanitêre impak van hierdie wapens hanteer behoort te word nie. Dit het daartoe gelei dat 'n groep van 46 lande, insluitende Suid-Afrika, 'n proses, die sogenaamde Oslo-proses, buite die VN geïnisieer het om trosbomme te verbied.

Suid-Afrika, saam met 93 ander state, het die Konvensie in Desember 2008 onderteken. Op 1 Augustus 2010 het die Konvensie in werking getree. Die Konvensie verbied die gebruik, produksie, opgaar en vervoer van bepaalde kategorieë trosbomme. Die bekragtiging van die Konvensie is in ooreenstemming met Suid-Afrika se verbintenis om menseregte en humanitêre reg in oorlogvoering te eerbiedig.

2.6. Die Kabinet keur die voorlegging van die verslag oor die Oudit van Geregistreerde Staatsgrond en 'n lessenaar-ontleding van Privaat Grondbesit in Suid-Afrika deur die hoof-landmeter-generaal aan die Parlement goed.

Inligting oor grond is van uiterste belang vir die sukses van alle grondontwikkeling in die land. Die doel van die oudit van geregistreerde staatsgrond is om te bepaal hoeveel grond deur die Staat besit word, waarvoor dit gebruik word en wie die bewoners/gebruikers is.

Dit sal gebruik word om die integriteit van die grondgebruiker te versterk, wat sal dien as die grondslag vir verbeterde grondbeplanning en -administrasie, met inbegrip van ander funksies rakende eiendomsportefeuljebestuur en verbeterde dienslewering.

2.7. Die Kabinet keur die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy se ontwerpe vir die 2013 R2 (1/4 oz) 24 kar. gouemunt-gedenkreeks en die 2013 R1 (1/10 oz) 24 kar. gouemunt-gedenkreeks goed.

Die ontwerp van die 2013 R2 goue munt sal die San-taal uitbeeld en die 2013 R1 goue munt sal die derde bestuiwer – die Vrugtevlermuis – wees. Die muntontwerpe tesame met hul proklamasies sal in die Staatskoerant gedruk word. Daarna sal dit vervaardig en deur die normale kanale verkoop word.

2.8. Die Kabinet keur die voorlegging goed van die drie verslae rakende die vordering wat gemaak is met die waarborg van kinders se regte en welsyn aan die Verenigde Nasies se komitee oor die Regte van die Kind en die Afrika-Unie se Deskundige Komitee. Die verslae bied 'n deursigtige en kritieke geleentheid vir Suid-Afrika om die vordering wat dit op hierdie terreine gemaak het, te beoordeel:
a)  Landverslag oor die Opsionele Protokol oor die Verkoop van Kinders, Kinderprostitusie en Kinderpornografie.
b)  Die gekombineerde tweede, derde en vierde verslag oor die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind.
c)  Die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind: Eerste Landverslag aan die Afrika-Unie se Deskundige Komitee oor die Regte en Welsyn van die Kind.
Die Kabinet bedank die verskeidenheid burgerlike organisasies en internasionale vennote wat met die Regering in vennootskap getree het om die verbintenisse wat in ons Grondwet tot kinders gemaak is, te verwesenlik.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het die voorlegging geodgekeur van die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte aan die Parlement goed.

Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Herstel van Grondregte om die datum vir die indiening van eise vir herstel tot 31 Desember 2018 te verleng; die kriminalisering van die indiening van 'n bedrieglike eis; die vereenvoudiging van die prosedure vir die aanstelling van regters van die Hof vir Grondeise; en die wysiging van sekere bepalings wat gerig is op die bevordering van die effektiewe implementering van die Wet.

Die heropening van die indiening van eise word gelei deur die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan asook die Omvattende Landelike Ontwikkelingsprogram en ander groeistrategieë wat gemik is op die bevordering van nasionale versoening en sosiale samehorigheid.

3.2. Die Kabinet het die indiening goedgekeur van die Wysigingswet op Wette op Wetenskap en Tegnologie, 2013 by die Parlement.

Die wysigingswetsontwerp handel oor wysigings aan 'n reeks wette wat die bedrywighede van entiteite (wetenskapsrade) wat ingevolge die genoemde wette ingestel is, reguleer. Die doel van die wetsontwerp is om die proses vir die nominasie en aanstelling van lede asook die vul van vakatures op die direksies of rade van sulke entiteite te vereenvoudig. Die wetsontwerp versterk die doeltreffendheid en konsekwentheid in die operasionele en bestuursake van openbare entiteite wat aan die Minister van Wetenskap en Tegnologie verslag doen.

Ter versterking van die Parlement se toesighoudende rol is hierdie wetsontwerp se doel om die Parlement vry te stel van bepaalde uitvoerende verantwoordelikhede met betrekking tot die aanstelling van lede en die vul van vakatures op sulke direksies of rade. Dit is in ooreenstemming met die grondwetlike beginsel van die skeiding van magte.

3.3. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Wetsontwerp op Tradisionele Aangeleenthede in die Staatskoerant vir openbare kommentaar.
Die wetsontwerp maak statutêre voorsiening vir die erkenning van die Khoi-San en lê hom ook toe op die beperkings van bestaande wetgewing ten aansien van tradisionele leierskap en korporatiewe beheer.

Sedert 1994 het die Regering in die besonder gefokus op die uitdagings met betrekking tot die Khoi-San, en spesifiek die erkenning van Khoi-San-gemeenskappe en -leiers. Die wetsontwerp sal bydra tot die Nasionale Ontwikkelingsplan se sleutelmikpunt vir die uitbreiding van sosiale samehorigheid en eenheid, en terselfdertyd die ongelykhede van die verlede help uitskakel.

3.4. Die Kabinet het die Nasionale Kredietwet Beleidsoorsigraamwerk en die Nasionale Kredietwysigingswet goedgekeur vir indiening by die Parlement.

Die Nasionale Kredietwet, 2005 (Wet 34 van 2005) het op 1 Junie 2007 ten volle in werking getree, en daardeur 'n nuwe era van kredietregulasies in die Suid-Afrikaanse regstelsel ingelui.

Die wetsontwerp beoog om die kapasiteit van die Nasionale Kredietreguleerder (NCR) te versterk om bepaalde uitdagings, veral betreffende hofprosesse, aan te pak en om die afdwinging en implementering van die bepalings van die Nasionale Kredietwet, 2005 te versterk.

Die Departement van Handel en Nywerheid (die dti) het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die Beleidsraamwerk oor Verbruikerskrediet, waarop die Nasionale Kredietwet,2005 (Wet 34 van 2005) gegrond is, van pas en tersaaklik is. Dit volg op 'n omvattende ondersoek deur die dti in 2012.

3.5. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswet op die Bepaling van Besoldiging van Lede van Konstitusionele Instellings, 2013 goed.

Die wetsontwerp beoog om eenvormigheid te skep ten opsigte van die bepaling van vergoeding, toelaes en ander diensbepalings en -voorwaardes van lede van die Hoofstuk 9-instellings, en daardeur doeltreffendheid en konsekwentheid in hierdie sleutelinstellings se operasionele en korporatiewe-beheerfunksies te verbeter.

4. Aanstellings

4.1. Die Kabinet het die aanstelling goedgekeur van mnr Mokutule Joseph Kgobokoe in die pos van adjunk-direkteur-generaal: Voedselsekuriteit en Landbouhervorming in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

4.2. Die Kabinet het die aanstelling goedgekeur van me Zandile Yvonne Mathe in die pos van adjunk-direkteur-generaal: Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuur in die Departement van Waterwese.

4.3. Die Kabinet het die aanstelling goedgekeur van die volgende persone as raadslede van die Ontwikkelingsagentskap vir Koöperatiewe Banke:

a) Sethe Patricia Makhesha (Voorsitter)
b) Peter Koch (heraanstelling as adjunk-voorsitter)
c) Venete Jarlene Klein
d) Lufuno Nevondwe
e) Thabo Vaughan Shenxane
f) Samuel Senalor Akrong
g) David Ginsburg
h) Renganayagee Kisten.

4.4. Die Kabinet het die aanstelling goedgekeur van die volgende lede tot die Landbounavorsingsraad ingevolge artikel 9(1) van die Landbounavorsingswet, 1990 (Wet 86 van 1990) vir 'n tydperk van hoogstens drie jaar.

a) Mnr Jonathan Winston Alexander Godden (heraanstelling)
b) Prof. Michael Jeffrey Kahn (heraanstelling)
c) Prof. Sibusiso Vil-Nkomo (heraanstelling)
d) Dr Joyce Chitja (heraanstelling)
e) Me. Wilna Jansen Van Rijssen (heraanstelling)
f) Me. Dudu Msomi (heraanstelling)
g) Mnr Mzolisi Dyasi (heraanstelling)
h) Prof. Frans JC Swanepoel (heraanstelling)
i) Mnr Gerard John Martin
j) Me. Dora Ndaba
k) Mnr Ismail Cassim Motala
l) Me. Muhle Joyce Mashiteng
m) Me. Rowen Graham Nicholis
n) Mnr Clive Douglas Kneale
o) Prof. Louw C Hoffman
p) Mnr Allen Henry Bishop.

4.5. Die Kabinet het die aanstelling bekragtig van die volgende persone tot die Raad van die Reguleringsowerheid vir die Privaat Sekuriteitsbedryf, vir 'n tydperk van hoogstens drie jaar:

a) Mnr Daniel Claude Mojalefa Rathebe (adjunk-voorsitter)
b) Brigadier Cynthia Lindiwe Philison (raadslid)
c) Mnr Benjamin Somangamane Ntuli (raadslid)
d) Me. Nontokoza Mthembu (raadslid).

4.6. Die Kabinet het die verlenging goedgekeur van die dienskontrak van dr Vuyelwa Nhlapo as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Ontwikkelingsagentskap, vir 'n termyn van twee jaar, met ingang 1 September 2013 tot 31 Augustus 2015.

4.7. Die Kabinet het die aanstelling goedgekeur van mnr Mokadi Max Mathye as die Hoof Uitvoerende Beampte vir die Voedsel en Drank se Sektorale Onderwys-en- Opleidingsowerheid.

4.8. Die Kabinet het die heraanstelling goedgekeur van daardie lede wat hul beskikbaarheid bevestig het om steeds vanaf September 2013 tot Augustus 2018 op die Raad vir Menslike-hulpbronontwikkeling van Suid-Afrika (HRDC) te dien.

Hierdie multi-sektorale adviesraad staan onder die voorsitterskap van adjunk-president Kgalema Motlanthe en bestaan uit 13 ministers, wat permanent in die adviesraad dien en die Regering verteenwoordig. Dit word verder saamgestel uit verteenwoordigers van die georganiseerde sake- en arbeidsektor, akademici, burgerlike samelewing en algemeen gekoöpteerde lede. (Name in Bylae 1)

Die Kabinet het ook die volgende nuwe aanstellings goedgekeur:
a) Mnr Mongwena John Maluleke (georganiseerde arbeid)
b) Mnr Thero Micarios Lesego Setiloane (georganiseerde sakesektor)
c) Mnr Seeraj Mohamed (akademia)
d) Dr Octavia Khabelani Mkhabela (gekoöpteerde lid)
e) Dr Raymond Patel (gekoöpteerde lid)
f) Dr Duduzile Rosemary Mkhize (gekoöpteerde lid)
g) Me Happy Mavis Sibande (gekoöpteerde lid).

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinet-woordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 013

BYLAE 1

Die Kabinet het die heraanstelling goedgekeur van die volgende persone om vanaf September 2013 tot Augustus 2018 op die Raad vir Menslike-hulpbronontwikkeling van Suid-Afrika (HRDC) te dien, bykomend tot die sewe nuwe aanstellings wat hierbo genoem word.

a) Mnr Dennis George (FEDUSA)
b) Mnr Narius Moloto (NACTU)
c) Me. Nolitha Fakude (SASOL)
d) Me. Lulama Nare (SADOU)
e) Me. Fezeka Loliwe (SADOU)
f) Mnr JJ Mbana (Eastcape Midland Kollege)
g) Dr Jeffrey Mabelebele (Hoër Onderwys Suid-Afrika)
h) Dr Rob Adam (AVENGE GROUP)
i) Mnr Bheki Ntshalintshali (COSATU)
j) Mnr Nape Maepa (SA Akademie van Ingenieurswese)
k) Mnr Brian Whittaker (VUMELANA)
l) Dr Allyson Lawless (SA Instituut van Siviele Ingenieurswese)
m) Mnr Ravi Naidoo (Infrastruktuur en Ontwikkeling Raadgewende Praktyk)
n) Prof. Cheryl de la Rey (Universiteit van Pretoria)
o) Prof. Vuyiswa Mazwi-Tanga (Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie)
p) Me. Buelah Mosupye (BLH Consulting)
q) Mnr Sizwe Nxasana (First Rand Bank)
r) Me. Mzolisi Toni (Departement van Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede)
s) Prof. Peliwe Lolwana (Witwatersrandse Universiteit)
t) Me Brian Angus (Business Leadership South Africa)
u) Dr Florus Prinsloo (Departement van Hoër Onderwys & Opleiding)
v) Me. Janet Lopes (Skills Engineering Industries Federation of SA)
w) Adv. Rams Ramashia (Rand Refinery Limited)
x) Dr Xolani Mkhwanazi (BHP Billiton)
y) Prof. Edward Webster (Witwatersrandse Universiteit)
z) Mnr Edward Majadibodu (Nasionale Vaardigheidsowerheid)
aa) Mnr Elija Litheko (Instituut vir Mensebestuur)
bb) Prof. Lekoa Solly Mollo (Public Administration Leadership And Management Academy)
cc) Me. Jenny Cargill (Wes-Kaapse Provinsiale Regering)
dd) Mnr Yershen Pillay (Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap)
ee) Me. Jenna Ferreirinha (The Portuguese Forum).

Share this page

Similar categories to explore