Verklaring oor die virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 9 September 2020

A. Kwessies in die Omgewing
1. Jongste nuus oor die Coronavirus-siekte (COVID-19) 

1.1. Die Kabinet verwelkom die daling in die aantal nuwe bevestigde COVID-19-gevalle oor die afgelope paar weke en die verbetering in die herstelkoers, wat tot 87% gestyg het. Die aantal mense wat in ons hospitale opgeneem moet word en die vraag na COVID-19 toetse het ook afgeneem. 
1.2. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners vir hul rol om die beperkings na te kom ter afplatting van die kromme. Ons loof ook die toewyding en opoffering van alle gesondheidswerkers wat ons frontlinie-verdediging teen die virus was.      
1.3. Kom ons bou voort op die momentum van hierdie bemoedigende nuus en hou aan om saam te staan en deurlopend die regte dinge te doen, soos om sosiale afstand te handhaaf, 'n masker te dra wanneer ons in die openbaar is en ons hande met seep en water of 'n alkohol-gebaseerde handontsmetmiddel te was. 
1.4. Die Kabinet moedig almal in Sid-Afrika aan om die gratis COVID Alert SA Application van die Apple App Store of Google Play af te laai. Die Departement van Gesondheid het die toep bekendgestel as 'n hulpmiddel om Suid-Afrikaners in kennis te stel indien hulle aan iemand met COVID-19 blootgestel was. Die toep versterk ons nasie se stryd teen die verspreiding van die virus.  
1.5. Die Kabinet het ook die verlenging van die ramptoestand tot 15 Oktober goedgekeur, ingevolge Artikel 27(5)(c) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (57 van 2002). Die doel is om uitvoering te gee aan die regulasies wat tersaaklik bly om die verspreiding van COVID-19-infeksies te bestuur. 
 
2. Geslagsgebaseerde geweld (GGG)
2.1. Die plaag van GGG teister steeds ons nasie met die sinlose gewelddadige aanranding van en moord op vroue. Die onlangse slagoffers van hierdie veragtelike misdaad sluit in die aktrise Thandeka Mdeliswa (34), wat by haar familiewoning in Evander, Mpumalanga geskiet is, en die 28-jarige vrou wat deur haar eggenoot vermoor is terwyl sy 'n saak van huishoudelike geweld by die Madeira Polisiestasie in die Oos-Kaap aanhangig gemaak het. Die Kabinet hoop dat geregtigheid  in die oplossing van hierdie misdade, en al die ander wat aangemeld word, sal seëvier.
2.2. Die Kabinet het onlangs drie wette goedgekeur om die stryd teen GGG te versterk. Dit is die Wysigingswetsontwerp op Huishoudelike Geweld, die Wysigingswetsontwerp op die Strafreg en Verwante Aangeleenthede van  2020, en die Strafregwysigingswetsontwerp (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) van 2020. Hierdie wette dra daartoe by om effektiewe en doeltreffende beskerming slagoffers van huishoudelike geweld en GGG verseker vir.         
 
3. Clicks-advertensie        
3.1. Die Kabinet het met groot kommer kennis geneem van 'n uiters ontstellende advertensie wat op die Clicks-webwerf gepubliseer is, en wat tereg tot wydverspreide openbare woede gelei het. Die Kabinet beskou die advertensie as uiters aanstootlik en rassisties.
3.2. Swart hare was in ons onlangse geskiedenis die onderwerp van intense politisering en 'n bron van onregverdige diskriminasie. Ons nasie se geskiedenis is besaai met wette en samelewingsnorme wat 'swartheid' en die gepaardgaande fisiese kenmerke – byvoorbeeld donker vel, kroes- en krulhare – tot 'n teken van minderwaardigheid verklaar het. 
3.3. Ons verwelkom dus die onmiddellike regstellende stappe wat Clicks gedoen het. Dit sluit in hul verbintenis om met die regering saam te werk om plaaslike produkte in al hul winkels te bevorder en om met al hul verskaffers saam te werk om die grondwetlike waardes wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 vasgelê is, te bevorder. Hulle sal ook 'n diversiteits- en inklusiwiteitsopleidingsprogram vir al hul bestuurders en personeel implementeer. 
3.4. Die Kabinet doen 'n beroep op die reklameagentskappe van Clicks en ander winkels om ook tasbare programme in te stel wat menseregte bevorder en beskerm, en bewustheid verhoog van die veragtelike praktyke van rassisme, ongelykheid en diskriminasie. 
3.5. Alle samelewingsektore moet vennootskappe tussen die regering en Hoofstuk 9-instellings ondersteun met die oog op die implementering van opvoedkundige veldtogte wat teen rassisme en diskriminasie gerig is.
3.6. Insgelyks herinner die regering alle Suid-Afrikaners dat die reg om jou sonder vrees vir vergelding teen enige ongeregtigheid uit te spreek, in ons Grondwet verskans is. Die reg op protes gaan egter gepaard met die inherente verantwoordelikheid om dit vreedsaam te doen, en sonder om op ander se regte inbreuk te maak. Die regering veroordeel die vandalistiese optrede by Clicks-winkels. Sulke onregmatige handelinge ondermyn die gees van menseregte wat ons land sedert die aanbreek van demokrasie gevorm het. 
3.7. Suid-Afrika werk aktief om die ekonomie te laat groei en kan nie die risiko van werksverliese weens die sluiting van besighede bekostig nie. Wetteloosheid en vandalisme van privaat en openbare eiendom kan nie verskoon word nie, omdat dit nie 'n verantwoordelike en progressiewe opsie is om 'n konflik op te los nie.
 
4. Ekonomie
4.1. Die skerp inkrimping van ons Kwartaal 2 Bruto Binnelande Produk tot rekordvlakke van 16,4% geannualiseerd tot 51,2% as gevolg van COVID-19, verhoog die risiko dat ons die Aanvullende Begrotingvooruitskatting van -7.2% groei in 2020 kan bereik.   
4.2. Dit bevestig die korrektheid van die regering se besluit om dringend 'n ekonomiese herstelplan in werking te stel, en met ons maatskaplike vennote saam te werk om die ekonomie op 'n beter groeitrajek te kry.
4.3. Die plan, wat infrastruktuurgedrewe sal wees, sal ook implementering van broodnodige strukturele hervormings insluit.
 
5. Dood van Nathaniel Julius
5.1. Die Kabinet betuig sy medelye met die familie van Nathaniel Julius, 'n 16-jarige seun wat na bewering deur polisiebeamptes in Eldorado Park doodgeskiet is. 
5.2. Die arrestasie van die drie polisiebeamptes deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) op aanklagte van moord en regsverydeling bevestig die fundamentele beginsel dat niemand bo die wet verhewe is nie. 
5.3. Die Kabinet doen 'n beroep op die gemeenskap van Eldorado Park om die OPOD te help en steeds binne die strafregstelsel te werk om te verseker dat geregtigheid seëvier.
 
6. Ouditeur-Generaal (OG) se verslag oor COVID-19-verkrygings
6.1. Die onlangse OG-verslag het ook die kollig laat val op onreëlmatighede en onwettige transaksies met betrekking tot die COVID-19-verligtingspakket wat deur die regering beskikbaar gestel is om ekonomiese swaarkry te verlig en die verspreiding van die virus te voorkom. 
6.2. Die bevindings sal oorhandig word aan die multi-agentskap Fusion Centre, wat met ondersoeke na COVID-19-verwante bedrog en korrupsie belas is. Bevindings sluit in oorpysing, regeringswerknemers wat aansoek doen om verligting waarop hulle nie geregtig is nie, potensiële misdaad en die ontduiking van voorsieningskettingbestuursreëls en -regulasies.
6.3. Die Kabinet herbevestig sy besluit om voort te gaan om almal wat hierdie fondse misbruik  daadwerklik te vervolg, ongeag wie dit is. Die teenstrydighede wat deur die publiek openbaar word deur die inligting wat op die Nasionale Tesourie se webwerf gepubliseer word (www.treasury.gov.za), sal met die betrokke departemente opgevolg word.
 
B. Kabinetsbesluite
 
1. Ingrypings ten opsigte van Nasionale Klimaatsverandering

1.1. Die Kabinet keur die instelling van die Presidensiële Koördineringskommissie vir Klimaatsverandering goed. Dit is in ooreenstemming met die Presidensiële Werkeberaad se Raamwerkooreenkoms wat tydens die Presidensiële Werkeberaad in 2018 onderteken is. Die Kommissie sal die regmatige oorgang van ons land na 'n laekoolstofklimaat en veerkragtige ekonomie en samelewing teen 2050 koördineer.
1.2. Die struktuur sal verteenwoordig word deur die regering, maatskaplike vennote, burgerlike samelewing asook kundiges uit die akademie  omgewing en navorsingsinstellings. Suid-Afrika is 'n ondertekenaar van die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC).  
1.3. Die Kabinet keur ook die voorlegging van die land se Strategie vir Laevrystellingontwikkeling (LED) aan die UNFCCC Sekretariaat goed. Hierdie LED- Strategie sal die nasionale klimaatsverandering-en-ontwikkelingsbeleid op 'n meer gekoördineerde, samehangende en strategiese manier bevorder. Dit voorsien verligtingsmaatreëls wat op vier sektore van die ekonomie fokus, naamlik Energie; Nywerheid; Landbou, Bosbou en Grondgebruik; en Afval.
 
2. Nasionale Afvalbestuurstrategie (NWMS) 2020
2.1. Die Kabinet keur die 2020-NWMS goed, wat die 2011-NWMS vervang. Die afvalbestuurstrategie gee uitvoering aan die bepalings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval, 2008 (Wet 59 van 2008). Dit verskaf riglyne vir die omgewingsbeskermingsprogramme en dien as dryfkrag vir  volhoubare en omgewingsvriendelike, inklusiewe ekonomiese groei, met drie fokuspilare – afvalvermindering, effektiewe en volhoubare dienste, en afvalbewustheid en -voldoening.
 
3. Landboukolleges 
3.1. Die Kabinet keur die kategorisering van landboukolleges as hoër onderwyskolleges vir bekwaamheidsopleiding ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (101 van 1997), soos gewysig, goed. 3.2. Die landboukolleges – wat tans onder die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling val – verskaf programme wat in lyn gestel is met hoëronderwyskwalifikasies, wat vaardigheidsopleidings- en beroepsgerigte programme insluit. Die verskuiwing van hierdie kolleges na die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sal hulle in lyn stel met die voorgeskrewe Wet op Hoër Onderwys van 1997, en sal die bestuur en beheer daarvan verbeter.
 
4. 2017/18 Verslag oor Navorsing-en-Ontwikkeling- (N&O-) Belastingaansporingsprogram 
4.1. Die Kabinet keur die voorlegging van 2017/18 Verslag aan die Parlement oor die N&O-Belastingsaansporingsprogram goed. Die navorsing monitor die gebruik van die aansporing deur maatskappye om navorsing en ontwikkeling in hul onderskeie sektore te bevorder. Hierdie belastingaansporingsprogram is in November 2006 bekendgestel. Volgens die verslag het 902 van die 1 091 maatskappye wat tussen November 2006 en Februarie 2018 om ondersteuning aansoek gedoen het, die belastingaansporing ontvang. Die volledige verslag sal beskikbaar wees sodra dit in die Parlement voorgelê is. 
 
5. Konsep Witskrif oor 'n Dienstebeleidsraamwerk vir Oudio- en Visuele Inhoud 
5.1. Die Kabinet keur die publikasie van Konsep Witskrif oor 'n Dienstebeleidsraamwerk vir Oudio- en Visuele Inhoud: 'n Nuwe Visie vir Suid-Afrika 2020 vir openbare oorlegpleging en kommentaar goed. 
5.2. Die Witskrif doen onder andere 'n nuwe beleids- en regulasieveranderings en -aanbevelings aan die hand, wat daarop gerig is om die oudio-visuele mediasektore vir toekomstige groei te herposisioneer en om beleggings te lok.
 
6. Transformasie van die Erfenislandskap
6.1. Die Kabinet is ingelig oor die vordering wat deur die raadplegende taakspan onder leiding van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur oor die transformasie van die erfenislandskap gemaak is. Die span moes besin oor die huidige erfenislandskap, en hoe die Kabinet op die historiese en kritiese waardes van ons Grondwet reageer. 
6.2. Die span doen aanbevelings oor die standbeelde en monumente wat die fundamentele waardes van die nuwe demokratiese Suid-Afrika moet ondersteun. Hulle stel voor dat sommige van die historiese standbeelde hervestig word in temaparke, wat regoor die land geleë sal wees. 'n Volledige oudit van al die standbeelde, simbole en monumente sal gedoen word en die uitslag sal as riglyn vir die identifisering van die voorgestelde kulturele nasiebouparke dien. 
6.3. Die Kabinet onderskryf hierdie proses, wat tot nasiebou sal bydra en sal verseker dat openbare ruimtes die grondwetlike waardes van 'n demokratiese, post-koloniale en post-apartheidsbedeling weerspieël. Hierdie kulturele nasiebouparke sal al die historiese besonderhede wat kolonialisme uitbeeld en apartheidsartefakte hervestig en vir toekomstige geslagte bewaar.
 
C. Boodskappe
1. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en beste wense oor aan die: 
1.1. voormalige Direkteur-Generaal (DG) in Die Presidensie en Kabinetsekretaris, dr Cassius Lubisi, met sy aftrede uit die Staatsdiens nadat hy as 'n onberispelike staatsamptenaar in Die Presidensie en in KwaZulu-Natal gedien het. Dr Lubisi laat 'n nalatenskap na van etiese, professionele en dapper diens aan die mense van Suid-Afrika na.
1.2. voormalige DG van die Departement van Gesondheid, dr Precious Matsoso, met haar aanstelling as 'n paneellid in die Wêreldgesondheidsorganisasie se Onafhanklike Paneel vir Pandemiese Gereedheid en Respons. 

2. Medelye
Die Kabinet dra sy medelye oor aan die:

2.1. familie en vriende van die gevierde digter en politieke aktivis mnr Achmat Dangor, wat sy skryfvaardighede gebruik het om die ongeregtighede van die apartheidsregering te openbaar en 'n stem te gee aan ons land se stemloses. 
2.2. familie, vriende en kollegas van mev Nyameka Goniwe, Speaker van die Inxuba Yethemba Munisipaliteit in die Oos-Kaap en weduwee van die Vryheidstrydaktivis, Tata Matthew Goniwe.
2.3. familie en vriende van die afgetrede Geneesheer-Generaal van die Suid-Afrikaanse  Nasionale Weermag, Luitenant-Generaal Vejay Ramlakan, wat ook tot die bevryding van alle Suid-Afrikaners bygedra het.
2.4. familie en vriende van mnr Petrus Meyer, geliefd en bekend as Oom Piet, van die Wes-Kaap, en Ambassadeur Kgoṧi Mohlamme Piet Mathebe en mnr David Mbulaheni Malada van Limpopo. Hierdie uitsonderlike Suid-Afrikaners het hul lewens gewy aan die stryd om vryheid en demokrasie in Suid-Afrika. 
2.5. familie en vriende van die befaamde menseregte-aktivis Advokaat George Bizos, wat in die ouderdom van 92 oorlede is. Hy was 'n ikoon van die stryd teen apartheid in Suid-Afrika. Adv Bizos het jare lank as Nelson Mandela se regsadviseur gedien en was deel van die paneel advokate wat verweerders in die Rivonia verhoor verteenwoordig het. 
 
Hy was 'n gevierde menseregte-advokaat en ook 'n stigterslid van die Legal Resources Centre, 'n menseregte-organisasie. 
 
D. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die tersaaklike klaring.
 
1. Luitenant-Generaal Tebello Constance Mosikili as die Adjunk- Nasionale Hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke.
2. Mnr Trevor Rammitiwa as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Elektroniese Media-instituut van Suid-Afrika.
 
Navrae:
Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore