Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 3 November 2021

A. Kwessies in die Omgewing

1. 2021 Verkiesing van Plaaslike Regerings (LGE)

1.1. Die kabinet het alle kiesers wat hulle stem uitgebring het op Maandag 1 November 2021 in die verkiesing van plaaslike regerings, bedank. Hierdie verkiesing het saamgeval met die 21ste viering van die vestiging van ‘n demokratiese plaaslike-regeringstelsel in Suid-Afrika.

1.2. Ons wil die kiesers gelukwens met hulle verdraagsaamheid, waardigheid en geduld tydens stemdag. Die seepgladde manier waarop die politieke partye aan die LGE deelgeneem het en die opkoms van jong kandidate, veral vroue, is ‘n bewys van ons dinamiese en funksionerende demokrasie.

1.3. Die kabinet het die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika, alle politieke partye, gemeenskapslede en die wetstoepassingsagentskappe in die land lof toegeswaai vir hulle gesamentlike poging om ‘n vreedsame verkiesing te verseker. Die kabinet het ook die media geloof vir hulle belangrike rol om aan kiesers toepaslike inligting te verskaf om hulle te help om hulle demokratiese reg uit te oefen om hulle plaaslike-regeringsleiers van voorkeur te verkies.

1.4. Die kabinet het alle Suid-Afrikaners herinner om ons demokrasie te versterk deur aktief deel te neem aan forums en instellings wat die verkose lede verantwoordbaar hou. Dit het ‘n beroep op nuutverkose amptenare gedoen om getrou te bly aan hulle verkiesingsbeloftes, en om alle mense met dieselfde ywer en regverdigheid te dien.

2. Toediening van entstof

2.1. Die kabinet het Suid-Afrikaners geloof wat gekies het om hulself en hulle geliefdes te beskerm deur hulle teen die coronavirussiekte (COVID-19) te laat inent. Ons land het alreeds oor die 22 miljoen entstofdosisse toegedien.

2.2. Drie uit elke vyf mense bo die ouderdom van 50 jaar in ons land is nou ingeënt. Ons moet teen die einde van die jaar by vyf uit vyf te van sodanige ingeënte groepe te staan kom om die mag van die verwagte vierde golf af te weer.

2.3. Die komende Vooma-inentingsnaweek van 12 tot 14 November 2021 is ‘n geleentheid vir oningeënte mense om by ons nasie se stryd teen Covid-19 aan te sluit deur ‘n gratis inenting by enige van die inentingspersele regoor die land te kry.

2.4. Die kabinet het mense herinner om seker te maak dat hulle ‘n tweede dosis van die Pfizer-entstof kry om ten volle beskerm te wees. Entstowwe help voorkom ernstige siektes, hospitalisering of dood weens Covid-19.

3. Energie

3.1. Die kabinet erken die ontwrigting en ongerief van onderbroke beurtkrag wat Suid-Afrikaners weer die afgelope tyd ervaar. Die Departement van Openbare Ondernemings werk nou saam met die Raad van Eskom en sy bestuur om seker te maak dat die daaglikse duur van beurtkrag en die tydperk waarvoor hierdie ingreep nodig is, beperk word.

3.2. Die Nasionale Tesourie werk saam met Eskom om aan hom die nodige vrystelling toe te staan om die onderdele te bekom wat nodig is om herstelwerk en onderhoud te doen. Eskom maak ook vordering daarmee om geskoolde personeel weer in diens te neem – insluitend aanlegbestuurders – om die kragverskaffer te help om vordering te maak by individuele kragstasies en in die onderskeie werksaamhede van die besigheid.

3.3. Die regering is besig om oor die mediumtermyn ‘n aantal intervensies te implementeer om ons energie-uitdagings op te los, en ons wend elke poging aan om nuwe opwekkingskapasiteit in die kortste moontlike tyd te implementeer.

3.4. Die intervensies sluit in:

  • om die drempel van maatskappye om hulle eie elektrisiteit op te wek, te verhoog na 100 megawatt (MW) sonder ‘n lisensie
  • die aankondiging van 11 suksesvolle bieërs vir die Hernubare Onafhanklike Kragverskaffingsprogram (Risk Mitigation Independent Power Producer Procurement Programme), en
  • opening van die vyfde venster vir bieërs (Bid Window Five) van die hernubare-energieprogram om 2 600 MW se nuwe opwekkingskapasiteit uit wind- en sonfotovoltaïese projekte te verkry.

3.5. Alhoewel die kabinet bewus daarvan is dat die huidige energie-uitdagings frustrerend en teenproduktief is vir ekonomiese groei, is hulle vol vertroue dat die praktiese stappe wat die regering neem om ons energiestelsel te herstruktureer en te versterk, wel uiteindelik die land se energiekapasiteit sal verbeter.

4. Belegging

4.1. Suid-Afrika gaan voort om te presteer as ‘n voorkeurbeleggingsbestemming deur sommige van die wêreld se topbesighede te lok om hulle werksaamhede in die land uit te brei.

4.2. Toyota Suid-Afrika het ‘n produksie-aanleg ter waarde van R2,6 miljard in Durban in KwaZulu-Natal bekendgestel. Hierdie aanleg sal die eerste generasie kommersiële-skaal- hibriede voertuie in Suid-Afrika vervaardig. Dit vorm deel van die verbintenis van die maatskappy tot die regering se meesterplan vir die motorbedryf om sy vlak van beleggings te verhoog.

4.3. Die bekendstelling oorvleuel met die aankondiging deur die Sweedse multinasionale voedselverpakkings- en prosesseringsmaatskappy, Tetra Pak, om R500 miljoen te belê om sy vervaardigingskapasiteit by sy verpakkingsmateriaalfabriek in Durban op te gradeer.

4.4. Aspen Pharmacare het sy nuwe verdowingsmiddelaanleg geopen wat Diprivan plaaslik gaan vervaardig as deel van die R3,2-miljard belegging in die skep van wêreldklas- steriele vervaardigingsfasiliteite, en om die aanleg in Gqeberha in die Oos-Kaap in die mees gevorderde farmaseutiese gebied op die Afrika-kontinent te omskep. Hierdie verdowingsmiddel is voorheen ingevoer en word gebruik in ‘n reeks standaard- mediese prosedures en operasies in Suid-Afrikaanse hospitale, en word ook gebruik om Covid-19-pasiënte te behandel wat aan ventilators in intensiewesorgeenhede gekoppel is.

4.5. Die kabinet het ook die onlangse belegging deur die motorvervaardiger, Isuzu Motors, in die ekonomie van die land verwelkom. Isuzu Motors Suid-Afrika het die vervaardigingsaanleg by Struandale in Gqeberha bekendgestel. Isuzu belê R1,2 miljard in sy volgende-generasie-bakkieprogram in Suid-Afrika vir die Suid-Afrikaanse en subSahara-Afrika markte.

4.6. Die Isuzu-aanleg sal 1 000 direkte werksgeleenthede skep by sy aanleg in Gqeberha en regoor sy nasionale en internasionale handelaarsnetwerk, en ongeveer 25 000 werksgeleenthede by honderde verskaffers regoor die land.

4.7. Al drie hierdie beleggings sal die lokaliseringsprogram bevorder wat in die ekonomiese heropbou- en herstelplan deur Sy Edele president Cyril Ramaphosa in Oktober 2020 bekendgestel is. Dit sal miljarde rand in jaarlikse vervaardiging tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk toevoeg. Twee van hierdie beleggings is reeds gewaarborg by die vorige Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie, en die firmas het nou begin met produksie en sodoende ‘n beduidende aantal nuwe poste geskep.

5. Aansoeke vir 2022 vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS)

5.1. Die kabinet het leerders en jongmense wat reeds die skool verlaat het en uit arm en werkersklasomstandighede kom, herinner om hulle aansoeke vir befondsing vir die 2022-akademiese jaar in te dien. Aansoeke vir NSFAS-befondsing sluit op Vrydag 7 Januarie 2022.

5.2. Die aansoekproses is ook oop vir studente wat reeds aan instellings studeer, maar nie befondsing het nie en wel vir NSFAS-bystand kwalifiseer.

5.3. Vir meer inligting oor hoe om aansoek te doen vir befondsing, skakel 08000 67327 of besoek www.nsfas.org.

6. Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV)

6.1. Die kabinet het die vonnis van drie maal lewenslange gevangenisstraf wat onlangs aan die verkragter en moordenaar, Mfanasibili Cornelius Mnisi (29), deur die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof in Mbombela opgelê is, verwelkom. Die swaar vonnis toon die benadering van geen verdraagsaamheid teenoor GGGV deur die regstelsel.

6.2. Deur saam met die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe te werk, kan ons ons strate en gemeenskappe veiliger maak vir almal. Ons moet almal waaksaam wees en alle GGGV-verwante insidente by die polisie aanmeld of die Nasionale GGGV-bevelsentrum skakel by: 0800 428 428 of die Stop Gender Violence-hulplyn by: 0800 150 150/*120*7867#.

6.3. Die regering gaan deelneem aan die 16 Dae van Aktivisme van Geen Geweld teen Vroue en Kinders – vanaf 25 November (Internasionale Dag van Geen Geweld teen Vroue) tot 10 Desember (Internasionale Menseregtedag) – om bewustheid van die probleem van GGGV in die land aan te wakker.

7. Geregtigheid vir slagoffers van moorde in die apartheidsera

7.1. Die kabinet het die onlangse aankondiging van ‘n spesiale span ondersoekers en staatsaanklaers wat uitsluitlik met die onopgeloste sake van die Waarheids- en Versoeningskommissie sal werk, deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, verwelkom.

7.2. Die spesiale span sal getaak wees om die buitegeregtelike moorde wat deur die veiligheidspolisie in die apartheidsjare gepleeg is, te ondersoek. Sodanige ondersoeke sal die proses om afsluiting te verkry vir die families van slagoffers van apartheidsera-moorde verhaas.

8. Politieke situasie in die Koninkryk van Eswatini

8.1. Die kabinet neem kennis en verwelkom die toetrede van Sy Eksellensie president Ramaphosa – in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se groepering oor politiek, sekerheid en veiligheid – tot die politieke situasie in die Koninkryk van Eswatini.

8.2. President Ramaphosa se ontmoeting met Sy Majesteit Koning Mswati III op Dinsdag, 2 November 2021, volg op ‘n besoek aan die Koninkryk deur spesiale gesante op 21 en 22 Oktober 2021. Die president het – in sy kapasiteit as voorsitter van die SAOG-driemanskap bestaande uit Namibië (inkomend), Suid-Afrika (voorsittend) en Botswana (uitgaande) – die spesiale gesante afgevaardig om met die Koninkryk van Eswatini in gesprek te tree oor veiligheids- en politieke verwikkelings in die Koninkryk. 

8.3. Die kabinet het dit verwelkom dat die Koninkryk van Eswatini ingestem het om te begin met ‘n proses vir die totstandkoming van ‘n nasionale gespreksforum. Die kabinet doen ‘n beroep op alle belanghebbendes onder die emaSwati om saam te werk om geweld en konflik te beëindig en vrede en kalmte in die Koninkryk te handhaaf.

B. Wetsontwerp

1. Wysigingswetsontwerp op Strafreg (Forensiese Prosedures) van 2021

1.1. Die kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp (Forensiese Prosedures) van 2021 aan die parlement goedgekeur vir prosessering. Die voorgestelde wysigings maak voorsiening vir die meganisme om die neem van DNS-monsters in die mond of wang af te dwing van mense wat aan Skedule 8-oortredings skuldig bevind word.

1.2. Skedule 8-oortredings sluit in seksuele oortredings, roof, mensehandel en strafbare manslag. Die mond- en wangmonsters sal help met toekomstige vervolging van heroortreders.

1.3. Die wysigingswetsontwerp sal ook die vestiging van ‘n omvattende forensiese DNS-databasis moontlik maak om die stryd teen misdaad te verstewig deur die polisie van bewyse te voorsien om ernstige misdaad te ondersoek en op te los.

C. Naderende Gebeurtenis

1. Mediumtermynbegrotingsverklaring (MTBPS)

1.1. Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal die MTBPS in die parlement lewer op Donderdag, 11 November 2021. Hierdie verklaring sal besonderhede verskaf oor aanpassings aan die nasionale begroting om ons nasie se fiskale volhoubaarheid te verseker.

1.2. Die MTBPS sit die land se inisiatiewe uiteen om die uitdagings in die ekonomie weens die impak van Covid-19 om te keer, en spreek strukturele kwessies oor die langer termyn aan.

1.3. Die MTBPS is ‘n oproep tot aksie vir al die sektore van die samelewing om saam te werk om die ekonomie aan te dryf en werkskepping te bevorder. Die kabinet is vol vertroue dat die MTBPS weer eens die regering se verbintenis tot die bou van ‘n volhoubare ekonomie sal demonstreer tesame met die insette uit alle sektore van die samelewing.

D. Boodskap

1. Gelukwense

Die kabinet het sy gelukwense aan die volgende persone oorgedra:

Me Lalela Mswane (24) wat op 16 Oktober 2021 as Mej. Suid-Afrika 2021 in Kaapstad gekroon is. Haar oorwinning is ‘n bevestiging dat sukses bereik kan word deur toewyding en harde werk.

E. Aanstellings

1. Mnr. Robert Nkuna, wie se kontrak as Direkteur-Generaal (DG) in die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluasie met vyf jaar verleng is. 
2. Mnr. Robert Mooketsa Ramasodi as DG in die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
3. Me Mohlago Flora Mokgohloa as Adjunkdirekteur-generaal (ADG): Biodiversiteit en Bewaring in die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing.
4. Me Rirhandzu Sharon Mashava as ADG: Geïntegreerde Vervoerbeplanning in die Departement van Vervoer.
5. Me Mameetse Primrose Masemola as ADG: Infrastruktuurbeleggingsbeplanning – Infrastruktuur Suid-Afrika in die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (DPWI).
6. Me Carmen Joy Abrahams as ADG: Program vir Uitgebreide Openbare Werke in die DPWI.

Die kabinet het die aanstelling van die raadslede bekragtig onderhewig aan die verifiëring van hulle kwalifikasies en relevante klaring.

7. Raad van Direkteure van die Openbare Beleggingskorporasie

(i) Dr. David Masondo (Voorsitter);
(ii) Mnr. Frans Baleni;
(iii) Me Ntombifuthi Mtoba;
(iv) Me Tryphosa Ramano;
(v) Prof. Bonke Dumisa;
(vi) Me Esther Barbara Watson;
(vii) Me Beverly Bouwer;
(viii) Mnr. Mongwena Mugwena Maluleke;
(ix) Mnr. Walter Hlaise;
(x) Mnr. Lufuno Mulaudzi;
(xi) Mnr. Abel Sithole;
(xii) Mnr. Brian Mavuka; en
(xiii) Me Makano Mosidi.

8. Die kabinet het besluit om gehoor te gee aan die hofbevel dat die lede van die Raad van Direkteure van Umgeni Water heraangestel word.

(i) Me. Ziphozethu Mathenjwa (Voorsitter);
(ii) Prof. Thandwa Mthembu;
(iii) Mnr. Siboniso Shabalala;
(iv) Mnr. Mduduzi Eric Zakwe;
(v) Me Chamane Nompumelelo Beata;
(vi) Mnr. Visvin Reddy;
(vii) Mnr. William Mapena;
(viii) Mnr. Teboho Nkhahle;
(ix) Me Linda Ngcobo;
(x) Me Bongekile Zulu;
(xi) Mnr. Suleman Badat;
(xii) Me Mbali Barbara Ndlovu; en
(xiii) Adv. Simosenkosi Chamane.

Navrae:
Me Phumla Williams – Kabinetwoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore