Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 24 Februarie 2021

A. Kwessies in die omgewing

1. Klas van 2020
1.1. Die Kabinet het die Klas van 2020 gelukgewens, wat ten spyte van alle teëspoed sterk gestaan het en uitnemende matriekuitslae behaal het. Die 2020-eksamens het ’n toename in eindeksamenkandidate vergeleke met 2019 gesien, asook ’n toename in die kandidate wat universiteitsvrystelling verkry het. 
1.2. Die Kabinet wens all leerders sterkte toe met hul onderskeie aktiwiteite na die voltooïng van hul skoolloopbane. Bykomend tot universiteitstudies word leerders ook aangemoedig om beroepsgerigte vaardighede aan te kweek, by wyse van Tegniese en Beroepsgerigte Opvoeding en Opleiding (“Technical and Vocational Education and Training” oftewel TVET) kolleges as deel van die totstandbringing van Suid-Afrika se tegniese vaardigheidsbasis, wat noodsaaklik is vir ons land se ekonomie. Leerders wat nie vir die TVET-kolleges kwalifiseer nie, word aangemoedig om by die Tweedekans-matriekprogram aan te meld.
1.3. Die Kabinet wens ook alle amptenare en die bestuur van die departement van basiese onderwys geluk, wat – benewens die instelling van gesondheid- en veiligheidsmaatreëls by skole in 2020 om onderwysers en leerders teen die koronavirus te beskerm – hard gewerk het om die uitnemende matriekuitslae te bewerkstellig. 
1.4. Die Kabinet spreek graag sy waardering uit aan alle onderwysers, skoolbestuurders, amptenare in die basiese onderwysstelsel, onderwysunies, leerderorganisasies, die leerders en hul ouers vir hul harde werk en gesamentlike toewyding om te verseker dat ons uitslae behaal het om op trots te wees, ten spyte van die uitdagings wat 2020 gebied het. 
1.5. Die Kabinet is tevrede dat die 2021-skooljaar amptelik begin het en is vol vertroue dat die nodige maatreëls in plek is om veilige onderrig en onderwys te verseker. Elkeen bly verantwoordelik daarvoor om paraat te wees en die gesondheidsheids- en veiligheidsmaatreëls streng te volg om die gesondheid en veiligheid van onderwysers, leerders en personeel te verseker. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om ons leerders te ondersteun en hul sukses te verseker. 

2. Staatsrede 2021
2.1. Die Kabinet het die 2021 Staatsrede verwelkom wat deur President Matamela Cyril Ramaphosa gelewer is aan ’n gesamentlike sitting van die Parlement – beide die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies – in Kaapstad op Donderdag, 11 Februarie 2021. 
2.2. Die Staatsrede en die President se repliek op die Staatsrede-debat het ’n vorderingsverslag gelewer op die implementering van die Ekonomiese Herkonstruksie- en Herstelplan en die padkaart vir die implementering van die regering se planne. Die Kabinet is vasberade om al die verbintenisse wat deur die president aangekondig is, na te kom. 
2.3. Ondanks al die sosio-ekonomiese uitdagings wat ons te staan kom, is die Kabinet vol vertroue dat hierdie uitdagings aangespreek sal word deur die implementering van die Ekonomiese Herkonstruksie- en Herstelplan en die regering se Program van Aksie, met die fokus op inklusiewe groei en die bereik van die doelwitte van ons Visie 2030 soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).
2.4. Ten spyte van die terugslae wat veroorsaak is deur die KOVID-19-pandemie wat in 2020 uitgebreek het, bly die oorhoofse Program van Aksie in plek, alhoewel dit effe vertraag is. Op Woensdag, 24 Februarie 2021 het die minister van finansies, Tito Mboweni, vanjaar se begroting gelewer.

3. Verslag oor die Nasionale Ontwikkelingsplan
3.1.  Die Kabinet het die verslag oor die uitslae van die oorsig van die Nasionale Ontwikkelingsplan genotuleer en sal hulself beywer om vordering weer in plek te stel met betrekking tot die regering se bydrae tot Visie 2030. Die Nasionale Beplanningskomissie sal die verslag oor die Nasionale Ontwikkelingsplan vrystel.

4. Plaaslike Ontwikkeling van Entstof
4.1. Die Kabinet verwelkom die werk en vordering wat gemaak is deur ons wetenskaplikes, navorsers en mediese deskundiges ten opsigte van ’n nasionale inisiatief om ons eie entstowwe te ontwikkel om huidige en toekomstige pandemies hok te slaan. Ons wetenskaplikes, navorsers en mediese deskundiges is aan die frontlinie wanneer dit kom by die hantering van die KOVID-19-pandemie en het ’n leidingsrol ingeneem met die genomiese waarneming van die KOVID-19-virus, wat gelei het tot die ontdekking van die 501Y.V2 variant. In hierdie opsig wil die Kabinet graag al die Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en navorsers gelukwens wat dit reggekry het om die virus in laboratoriums na te boots met die oog op beter navorsing oor die behandeling van die KOVID-19-pandemie.
4.2.    Die Kabinet is van mening dat ons nasionale wetenskap- en innoveringstelsel ’n waardevolle hulpbron is wat beskerm en ontwikkel moet word. 
4.3.    Benewens die navorsing oor KOVID-19 het Suid-Afrika se wêreldberoemde wetenskaplikes en innoveerders ook ander uitnemende tegnologie ontwikkel, byvoorbeeld die wêreld se eerste digitale laser en die Lodox-vollyf x-straal-skandeerder.

5. Uitrol van KOVID-19-inentings
5.1. Die Kabinet spreek hul waardering uit vir die aanvang van die nasionale uitrolprogram van die KOVID-19-inentingsprogram, met die eerste dosisse van die Johnson & Johnson-entstof wat aan gesondheidsorgwerkers in beide die openbare en privaatsektor gelewer is.
5.2. Sedert die begin van die KOVID-19-pandemie is ons gesondheidsorgwerkers die skild wat ons nasie veilig hou. Hulle het die virus prontuit aangevat en hou die stryd vol teen ’n meedoënlose virus. Hul onbaatsugtige opoffering het talle lewens gered en ons as nasie skuld hulle ’n enorme hoeveelheid dankbaarheid. 
5.3. Die inentings wat hulle ontvang het, sal help om hulle te beskerm teen infeksie en uiteindelik ons land na normaal laat terugkeer. Die Kabinet is tevrede dat miljoene bykomende inentings verkry is vanaf verskeie bronne en gelewer sal word in die komende maande, vanaf Maart 2021. 
5.4. Sodra ons gesondheidsorgwerkers ingeënt is as deel van Fase 1 van die inentingstrategie, sal Fase 2 fokus op ons noodsaaklike werkers en weerlose groepe, insluitend mense bo die ouderdom van 60, mense met onderliggende siektes asook diegene wat in plekke soos ouetehuise en hostelle woon. 
5.5. Landsburgers word daaraan herinner dat die inenting gratis en vrywillig is, en ons beste verweer teen die siekte is tesame met die volgehoue toepassing van die gesondheidsmaatreëls naamlik die vermyding van groot groepe mense, die dra van gesigmaskers in die publiek, handontsmetting met seep en water of ’n 70% alkoholgebaseerde handsanitiseerder, asook om ’n sosiale afstand van minstens 1.5 meter te behou. Hierdie maatreëls is krities vir die gesondheid van ons nasie.

6. 4de Kwartaalikse Arbeidsmagopname (KAMO)
6.1. Die 4de KAMO (“QLFS”) wat op Dinsdag, 23 Februarie 2021 deur Statistics South Africa vrygestel is, herinner ons aan die uitdaging wat werkloosheid aan die land bied. Die Kabinet is egter bemoedig deur die groen lote wat ons ekonomie steeds demonstreer te midde van die huidige strawwe ekonomiese toestande.   
6.2. Volgens die onlangse statistieke het indiensname gestyg met 330 000 werke, met die formele sektor wat die grootste deel (189 000 werke) tussen kwartaal 3 en kwartaal 4 bygedra het.  Daarbenewens was daar ’n afname in die aantal Nie-Ekonomiese Bedrywig-afdeling met 890 000 in kwartaal 4 in 2020, vergeleke met kwartaal 3 in 2020.
6.3. Die Kabinet bly besorg oor die feit dat die tempo waarteen die ekonomie werke skep stadiger bly as die tempo waarteen werke afgeskaf word, met 701 000 tussen kwartaal 3 en kwartaal 4. Alhoewel kwartaal 4 ’n toename gesien het in die werkloosheidsyfer, is die persentasie-toename van 1.7% steeds laer as die kwartaal 3-toename van die 9% werkloosheidsyfer.
6.4. Dit is verontrustend dat jongmense die grootste deel van die werkloosheidsgroep vorm. Swartmense en kleurlinge asook vroue bly die mees weerlose groepe in die land se ekonomie, en dít versterk die regering se verbintenis om om maatreëls te verskerp om die betekenisvolle deelname van jeugdiges, vroue en swartmense in die ekonomie te steun en moontlik te maak. Dit is belyn met die herverbintenis tot ekonomiese hervorming en transformasie wat die President in die 2021 SoNA uitgespreek het.

7. 2021 Nasionale Begroting
7.1.  Die ter tafellegging van die 2021 Nasionale Begroting is belangrik vir Suid-Afrika se deursigtige en verantwoordbare stelsel van demokrasie. Na afleiding van President Ramaphosa se SoNA, omlyn die 2021 Nasionale Begroting die regering se finansiële plan om die implementering van die nasionale Program van Aksie te ondersteun, soos uiteengesit in die 2021 SoNA.
7.2. Die Kabinet verwelkom die 2021 Nasionale Begroting as die beste beskikbare opsie om fiskale volhoubaarheid te balanseer en steeds kritiese staatsprioriteite te befonds; prioriteite soos die verkryging van KOVID-19-inentings, die steun aan die mees weerloses in ons samelewing by wyse van ’n omvattende maatskaplike ondersteuningsprogram, en die Ekonomiese Herkonstruksie- en Herstelplan om die ekonomie te herbou, werkskepping te steun en beleggings te lok, te midde van ’n strawwe ekonomiese omgewing. 

8. Koperkabeldiefstal
8.1. Die Kabinet verwelkom die onlangse vonnisoplegging van ’n gesamentlike 1 250 jaar tronkstraf deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir vyf lede van ’n sindikaat wat skuldig bevind is aan die die diefstal van koperkabels. Ons wens ons wetstoepassingsagentskappe geluk met die inhegtenisname en suksesvolle vervolging van diegene wat betrokke is in die diefstal van koperkabels. 
8.2. Die Kabinet is vol hoop dat die onlangse inhegtenisnames en vonnisopleggings ’n sterk boodskap sal stuur dat diegene wat verantwoordelik is vir sulke ekonomiese sabotasie en misdade, die volle mag van die gereg sal voel. Ons doen ’n beroep op die publiek om kriminele aan te gee by wetstoepassingsagentskappe. 
 
9.  Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV)

9.1. Die Kabinet verwelkom die inhegtenisname van ’n man wat me. Dimakatso Ratselane, die joernalis van Lesedi FM, wreed aangeval het. 
9.2.  Die Kabinet verwelkom ook die vonnisoplegging van die moordenaar van die swanger Tshegofatso Pule en die inhegtenisname van Nthuthuko Shoba, haar kêrel en die pa van haar ongebore kind, wat na bewering die meesterbrein agter die moord was.  
9.3 Die Kabinet doen ’n beroep om die kriminele regstelsel om te verseker dat die reg moet geskied namens me. Ratselane, wyle me. Pule en ander slagoffers van GGGV. Die beïndiging van geweld teen vroue en kinders sal vereis dat ons elkeen opstaan en hierdie geweld stopsit.

10. Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) Media-toekennings
10.1. Die Kabinet het ’n beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse media om hul inskrywings vir die 2021 SAOG Media-toekenningskompetisie in te handig. Joernaliste wat belangstel kan meer inligting oor die kompetisie vind by www.sadc.int en www.gcis.gov.za.
10.2. Die toekennings bevorder plaaslike integrasie en samewerking deur mediapraktisyne in die SAOG-ledestate aan te moedig om kwessies wat die area raak, aan te spreek en aan die lig te bring.  

B. Kabinetsbesluite
1. Nasionale Ramptoestand

1.1. Die Kabinet het die besluit om ’n nasionale ramptoestand te verklaar na afleiding van die verwoesting wat deur tropiese storm Eloise en seisoenale somerreëns gesaai is en infrastruktuur en behuising in verskeie provinsies beskadig het. Hierdie word gedoen ingevolge Artikel 27(1) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002). 
1.2.  Hierdie verklaring sal die regering bystaan met die versterking van bestaande maatreëls wat onderneem is deur verskeie staatsliggame om die impak van hierdie nasionale ramp te verlig. 

2. Verslag van die Presidensiële Kommissie vir Oorsig van Vergoeding (“Remuneration Review Commission” oftewel PRRC) 
2.1. Die Kabinet het die verslag ontvang en goedgekeur. Die presidensiële kommissie is aangestel om die vergoeding en diensvoorwaardes in die staatsdiens asook nasionale en provinsiale openbare liggame wat gelys is in Deel A en C, Skedule 3 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet 1 van 1999).  
2.2. Die hoofsektore wat in die verslag aangespreek word, is onderwysers, gesondheid, die veiligheidsektor en openbare entiteite (Skedule 3A en 3B van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999). Die verslag sal beskikbaar gestel word deur die departement van openbare diens en administrasie se webwerf (www.dpsa.gov.za).

3. Suid-Afrika se Nasionale Verslag aan die Verenigde Nasies (VN) oor die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie
3.1. Die Kabinet het die inhandiging van Suid-Afrika se negende tot elfde periodieke nasionale verslag aan die VN se Internasionale Komitee vir die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD) goedgekeur. Suid-Afrika het die ICERD in 1994 onderteken en dit op 10 Desember 1998 bekragtig. 
3.2. Die verslag beskryf die vordering wat deur Suid-Afrika gemaak is met die inwerkstelling van wetgewende, regterlike en administratiewe maatreëls om alle vorme van rasse-diskriminasie uit te wis. 
3.3. Hierdie periodieke verslag fokus op die vordering wat gemaak is in die bevordering van gelykheid, die stryd teen xenofobie en ander verwante onverdraagsaamheid, en die verhindering van haatmisdaad; asook die uitdagings wat steeds bestaan. Nadat die verslag by die betrokke liggaam ingedien en aangebied is, sal dit openbaar gemaak word. 
 
4. Toegang tot die Internasionale Konvensie oor die Onderdrukking en Straf van die Misdaad van Apartheid
4.1. Die Kabinet het die ter tafellegging van die Internasionale Konvensie oor die Onderdrukking en Straf van die Misdaad and Apartheid vir toetreding goedgekeur ingevolge Artikel 231(2) van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Onder meer verklaar die konvensie apartheid as ’n misdaad teen die mensdom en dat dit ’n ernstige bedreiging is vir internasionale vrede en veiligheid. 
4.2. Sodra dit deur die Parlement goedgekeur is, sal die departement van internasionale betrekkinge en samewerking die instrument van toetrede aan die VN oorhandig.

5. Wysiging tot die Ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Nederland oor Maatskaplike Sekuriteit
5.1.  Die Kabinet het die wysiging tot die ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse en Nederlandse regerings oor samewerking met betrekking tot maatskaplike sekuriteit goedgekeur. 
5.2. Die samewerkingsooreenkoms oor maatskaplike sekuriteit is in Mei 2001 in Den Haag onderteken. Die ooreenkoms fasiliteer die uitvoere van maatskaplike sekuriteitsvoordele vir die onderskeie lande se burgers. Die Nederlandse maatskaplike sekuriteitsbeleid het wysigings gemaak tot die uitvoere van maatskaplike sekuriteit in terme van Nederlandse kinders. Die voorgestelde wysiging het die ooreenkoms met hierdie verandering belyn. 

6. Bekragtiging van die Wêreld Radiokommunikasie Konferensie (WRC-19)
6.1. Die Kabinet het die inhandiging van die WRC-19 finale wetgewing vir bekragting deur die Parlement goedgekeur, ingevolge Artikel 231(2) van die Konstitusie. Die WRC-19 is die uitkoms van die VN se Internasionale Telekommunikasie Unie (ITU) Konferensie wat jaarliks vergader om, onder meer, die radioregulasies te hersien en aan te pas. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die ITU. Sodra die Parlement die WRC-19 se finale wetgewing bekragtig, sal Suid-Afrika die nasionale radio-frekwensieplan na gelang aanpas. 

7. Gewysigde Witskrif oor Nasionale Vervoerbeleid
7.1. Die Kabinet het die Gewysigde Witskrif oor die Nasionale Vervoerbeleid goedgekeur. Dit vervang die 1996 Nasionale Vervoerbeleid. Die gewysigde beleid spreek die veranderinge aan wat oor die afgelope jare in die pad-, spoorweg-, skeepvaart- en lugvaartsektore plaasgevind het. Dit belyn die land breedweg met die internasionale, plaaslike en kontinentale tendense. 
7.2. Die beleid het breedvoerige konsultasie met alle betrokke belanghebbendes ondergaan. Sodra die dokument in die Staatskoerant gepubliseer is, sal dit beskikbaar wees op die departement van vervoer se webwerf (www.transport.gov.za). 

C. Wetsontwerpe
1. Wetsontwerp oor Grondhof

1.1.  Die Kabinet het die inhandiging van die Wetsontwerp oor die Grondhof by die Parlement vir prosessering goedgekeur. Die wetsontwerp vestig ’n gespesialiseerde grondhof; met die hof se uitsprake, hofbevelle en besluite wat vatbaar vir appél sal wees in die voorgenome gespesialiseerde grondappélhof.
1.2.    Die wetsontwerp sal die uitdagings wat teëgekom is onder die Wet op Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994) aanspreek, byvoorbeeld die ophoping van grondeise en dispuutoplossingsmeganismes wanneer dispute ontstaan. Dit sal ook grootliks bydra tot die implementering van die grondhervormingsprogram.

2. Gewysigde Wetsontwerp oor Gas van 2020
2.1. Die Kabinet het die inhandiging van die Gewysigde Wetsontwerp oor Gas van 2020 aan die Parlement goedgekeur. Die voorgenome wetsontwerp wil die gasbedryf onder meer met nuwe vervoertegnologie van natuurlike en onkonvensionele gasse belyn waarvoor daar nie onder die huidige Wet op Gas, 2001 (Wet 48 van 2001) voorsiening gemaak is nie. Die wysigings, wat breedvoerig met al die betrokke belanghebbendes bespreek is, sal bydra tot die voortdurende belegging in infrastruktuur om die diversiviteit van die land se energie-verhouding te verseker. 
2.2. Die wetsontwerp sal deur verdere parlementêre konsultasieprosesse gaan om te verseker dat dit breedvoerig onderskryf word sodra dit as wet bekragtig word. 

3. Gewysigde Wetsontwerp oor die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie van 2021
4. Die Kabinet het die publikasie van die Gewysigde Wetsontwerp oor die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie van 2021 goedgekeur.

Die voorgenome wysigings spreek die swakpunte in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, 2000 (Wet 4 van 2000) aan. Die voorgenome wysigings sal die Wet se vermoë om diskriminasie te voorkom en die gelykheid van alle Suid-Afrikaners versterk, soos vasgestel in Artikel 9 van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. 
4.1. Die wetsontwerp sal in die Staatskoerant publiseer word en daarna beskikbaar wees op die departement van justisie en staatkundige ontwikkeling se webwerf (www.justice.gov.za).

5. Gewysigde Wetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Posbank van 2020
5.1. Die Kabinet het die publikasie van die Gewysigde Wetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Posbank van 2020 vir publieke kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp wysig die huidige Wet op die Suid-Afrikaanse Posbank Beperk, 2010 (Wet 9 van 2010).
5.2. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die vestiging van die Suid-Afrikaanse Posbank Beheermaatskappy ingevolge die Bankwet, 1990 (Wet 94 van 1990). Die maatskappy sal voorsien vir die insluiting van finansieel-uitgeslote lede van die publiek om betekenisvolle deelname te hê in die ekonomiese aktiwiteite. Dit sal ook ’n fasiliteit voorsien vir sommige van die staat se finansiële dienste.  

D.  Toekomstige Gebeure

1. Internasionale Vrouedag
1.1. Die Kabinet gaan op 8 Maart 2021 saam met die wêreld Internasionale Vrouedag vier. Hierdie dag vestig aandag op die vordering wat gemaak is om geslagsgelykheid te bewerkstellig en val ook op dieselfde datum as die 25e herdenking van die aanvaarding van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. 
1.2.  Sedert 1994 het ons reuse treë geneem in die implementering van beleide en programme gemik op die bevordering van vroueregte en ons bly toegewyd daartoe om te verseker dat vroue ekonomies bemagtig word. 
1.3.  In erkenning van die struggle-staatmaker, Mama Charlotte Maxeke, se individuele en kollektiewe bydrae tot vryheid en demokrasie in Suid-Afrika het die regering 2021 as die Jaar van Charlotte Maxeke verklaar om die 150e herdenking van haar geboorte te vier. Sy was ’n maatskaplike en politieke aktivis met buitengewone daperheid en intelligensie.

2.  Indië, Brazilië, Suid-Afrika (IBSA) Vroueforum se Ministeriële Vergadering
2.1. Suid-Afrika – gelei deur die minister in die presidensie vir vroue, die jeug en mense met gestremdhede, me. Maite Nkoana-Mashabane – sal deelneem aan die IBSA Vroueforum se ministeriële vegadering op 16 Maart 2021. Die geleentheid is belangrik vir Suid-Afrika aangesien President Ramaphosa, toe hy nog in 2020 as voorsitter van die Afrika-unie gedien het, die bemagtiging van vroue, entrepreneurskap en die stryd teen GGGV geprioritiseer het. 
2.2. Die forum, wat in 2007 tot stand gebring is, sal as ’n platform dien waarvandaan Suid-Afrika se beleid asook sleutelkwessies betreffende vroue bevorder kan word. 
2.3. Die komende geleentheid sal plaasvind teen die agtergrond van die lande se herstelplanne met betrekking tot KOVID-19. Dit word algemeen aanvaar dat vroue die swaarste las dra met betrekking tot die vernietigende gevolge van die pandemie.  

3. Menseregtemaand
3.1. President Ramaphosa sal die virtuele programrede lewer tydens die 2021 Nasionale Menseregtedag-vieringe op 21 Maart 2021, met die tema van: “Die jaar van Charlotte Maxeke: Die bevordering en beskerming van menseregte in die tyd van KOVID-19”. 
3.2. Vanjaar se viering van Menseregtemaand vind plaas terselfdertyd met die 25e jaarherdenking van die aanvaarding van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika in 1996, en dit bied aan ons die geleentheid om na te dink oor die dapperheid van mans en vrouens wat op 21 Maart 1960 geprotesteer het vir die algehele afskaffing van die pasboekwette. 
3.3. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die dag te herdenk en ook diegene te herdenk wat in die struggle geveg het vir ons vryheid en demokrasie. 

E. Boodskappe
1. Gelukwensings

Die Kabinet bied sy gelukwensing en goeie wense aan die volgende mense: 

  • Suid-Afrikaanse filmmakers van die film, Address Unknown, wat die amptelike lys gehaal het van die 2021 Pan African Film Festival, die VSA se grootste en mees toonaangewende swart filmfees. Die kortfilm, wat opgedra is aan die mense van Distrik 6, is onder meer befonds deur die Nasionale Film en Video-stigting, onder leiding van die departement van sport, kuns en kultuur. 
  • Nigeries-gebore Dr Ngozi Okonjo-lweala, wie op 15 Februarie 2021 onder konsensus verkies is as die sewende direkteur-generaal van die Wêreldhandelsorganisasie, effektief 1 Maart 2021. Sy is die eerste vrou en die tweede persoon vanaf die Afrika-kontinent om te dien as direkteur-generaal van hierdie internasionale organisasie wat te doene het met die internasionale handelsreëls tussen nasies. 

2.  Medelye
Die Kabinet deel hul medelye met die familie en vriende van:

  • Thovhele Ranwedzi Gilbert Tshikalange (87) van die Mphaphuli-dinastie in Limpopo, staatmaker in die bevrydings-struggle en ’n vurige teenstander van die van die implementering van die Swart Administrasiewet van 1927. Hy het die Belastingheffingsboikot van 1964 tot 1969 gelei. Hy is verban en gedeporteer na Kuruman in die Noord-Kaap van 1969 tot 1974. Met sy terugkeer na sy territoriale woongebied het hy nog ’n verbanningsbevel ontvang en is onder huisarres geplaas in die Makwarela-woongebied in die Sibasa Magisteriële Distrik van 1974 tot 1976. In 1987, saam met ander struggle-veterane en progressiewe tradisionele leiers, was hy een van die stigterslede van die Congress of Traditional Leaders of South Africa (Contralesa) en is hy as die nasionale organiseerder aangestel. 
  • Drie ArcelorMittal-werkers – mnr. Lesenyeho Mofokeng (31), mnr. Thami Sampo Molefe (52) en mnr. Mpho Meshack Madumisa (29), wie tragies gesterf het toe die gebou in Vanderbijlpark waar hulle gewerk het, ineengestort het na ’n ontploffing op Woensdag, 17 Februarie 2021. Die departement van arbeid en indiensneming se inspeksie- en toepassingsdienste het ’n ondersoek geloods na die insident. 
  • Die Kabinet moedig alle maatskappye aan om gereeld hul stelsels te toets om te verseker dat werkers nie in gevaar is in die werksplek nie. 
  • Ambassadeur Themba Muziwakhe Nicholas Kubheka (72), wie oorlede is in Januarie in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Ambassadeur Kubheka het gedien as Suid-Afrika se ambassadeur in die Volksrepubliek van Sjina, Denemarke en die Angolese Republiek. Hy het ook gedien as ’n interregeringsverhoudings- en samewerkende staatspesialis by die kantoor van die nasionale voorsitter van die nasional provinsieraad in die Parlement. Hy is verban in die 1970’s en is in 1977 in Angola opgelei as lid van Umkhonto we Sizwe, onder sy nom de guerre van Aaron Mnisi. 

F. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1. Bestuursraad van Amatola Water
a. Mnr. Mncedisi Malotana;
b. Me. Buhle Tonise;
c. Mnr. Abraham Pieter le Roux;
d. Dr. Mosidi Makgae;
e. Mnr. Zamikhaya Xalisa;
f. Nkosazana NomaXhosa Jongilanga;
g. Dr. Gaathier Mahed;
h. Me. Tabiso Wana;
i. Mnr. Mxolisi Joe Skosana; 
j. Mnr. Makgobi Ramushu; en
k. Me. Lebogang Letsoale.

2. Voorsitter en adjunkvoorsitter van die Padongelukfonds se uitvoerende raad: 
1. Me. Thembi Msibi; en
2. Dr. Nomonde Mabuya.
3.  Me. Nomkhita Mona – Groep Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.
4. Mnr. Moegamat Ishaam Abader – HUB van die Suid-Afrikaanse Weerburo.
5. Mnr. Zolani Kgosietsile Matthews – Groep HUB van die Passasier-Spoor-Agentskap van Suid-Afrika oftewel Prasa. 
6. Me. Melanie Rambally – Hoof Finansiële Beampte van SENTECH.
7. Advokaat Boyce Mkhize – Hoof Ombud: Gemeenskapskema Ombuddiens, departement van water, sanitasie en menslike nedersettings. 

Navrae:
Phumla Williams
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore