Verklaring oor die Virtuele Kabinet-lekgotla en Spesiale Kabinetsvergadering van Donderdag, 27 en Vrydag, 28 Januarie 2022


A. KABINET-LEKGOTLA

1.1.  President Cyril Ramaphosa het die Kabinet-lekgotla op Donderdag, 27 Januarie saamgeroep. Alle regeringsfere is deur hul onderskeie leierskapstrukture verteenwoordig en die lekgotla is bygewoon deur ministers, adjunkministers, premiers, direkteurs-generaal en die leierskap van die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga).

1.2.  Die President het die regeringsleiers na die Lekgotla genooi om die regering se onderskeie oplossings vir die uitdagings wat die land in die gesig staar, te integreer en belyn. Daar is veral klem gelê op die driedubbele uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid. Hy het ’n beroep op die leiers gedoen om fundamentele hervorming te implementeer om sodoende ekonomiese groei op te kikker en broodnodige werkverskepping te verhoog.

1.3. Die President het beklemtoon dat die nasionale ontwikkelingsplan se Visie 2030 en die ekonomiese herbou- en herstelplan sentraal is tot die verbetering van die lewensomstandighede van Suid-Afrikaners.

1.4.  Benewens die stand van die ekonomie en strukturele hervorming, het die Kabinet-lekgotla ook infrastruktuurontwikkeling, energiesekuriteit, lokalisering en industrialisering, grondhervorming en landbou, en hervorming van ondernemings in staatsbesit bespreek. 

1.5.  Planne om werkloosheid en armoede te verlig, behels onder meer hoër indiensnemingsyfers in die privaatsektor, indiensneming wat deur die openbare sektor befonds sal word, asook ’n toenemende maatskaplike beskerming van werklose mense. 

1.6.  Die vergadering het ook beraadslaag oor die uitdagings van en vordering in die stryd teen misdaad en korrupsie, asook pogings om openbare veiligheid en sekuriteit te verbeter. Dienslewering deur plaaslike regerings is ook bespreek in terme van die belangrike rol wat dit speel in die bou van staatskapasiteit. 

1.7.  Die Kabinet-lekgotla se beraadslegging sal die toon aangee vir die regering se prioriteite vir die komende jaar, wat deur President Ramaphosa uiteengesit sal word tydens die Staatsrede op Donderdag, 10 Februarie 2022.

B. KABINETSBESLUITE

1.  SA Connect – Fase 2-plan

1.1.  Die Kabinet keur die uitrol van die tweede fase van die SA Connect-projek goed. Die plan gee uitvoering aan die land se breëbandbeleid wat in 2013 deur die Kabinet aanvaar is. Fase 1 dien as ’n loodsfase om breëbanddienste van 10 Megabits per sekonde (Mbps) aan ongeveer 970 kritieke staatsfasiliteite te verskaf. 

1.2.  Die goedgekeurde tweede fase sal uitgerol word deur ondernemings in staatsbesit (die staat se inligtingstegnologie-agentskap [Sita]); Broadband Infraco en Sentech) en in die bedryf. In die komende 36 maande sal die projek die oorblywende regeringsfasiliteite, gemeenskappe en huishoudings konnekteer. 

1.3.  Die projek vorm deel van die regering se verbintenis tot die oorbrugging van die digitale kloof, veral in landelike gemeenskappe, en die bevordering van die digitale ekonomie. Die privaatsektor se deelname sal ook die transformasie van die sektor aanspreek deur alle relevante rolspelers in die elektroniese netwerk by die projek te betrek. 

1.4.  Die SA Connect-projek mik na die verskaffing van 80% toegang tot breëband in gemeenskappe en staatsfasiliteite in die komende drie jaar, met ’n minimum spoedkapasiteit van 10Mbps en dan 100 Mbps vir fasiliteite met ’n hoë aanvraag.

C.  AANSTELLINGS

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en toepaslike klaring.
1.  Me. Nomthandazo Lichie Moyo as adjunkdirekteur-generaal (ADG): Landelike Ontwikkeling by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DLGLO). 
2.  Mnr. Clinton Rossouw Heimann as ADG: Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuur by die DLGLO.
3.  Mnr. Michael Currin as ADG: Interregeringskoördinering en Belangegroepebestuur by die regering se kommunikasie en inligtingsdiens (GCIS). 
4.  Me. Regomoditswe Dorcas Mavimbela as ADG: Inhoudverwerking en Verspreiding by die GCIS. 
5.  Me. Nomonde Mnukwa as ADG: Korporatiewe Dienste by die GCIS. 
6.  Mnr. Nhlanhla Edgar Sishi as ADG: Begrotingskantoor by die Nasionale Tesourie.
7.  Dr. Litha Magingxa as hoofuitvoerende beampte (HUB) en president van die landbounavorsingsraad (ARC). Die Kabinet onderskryf hierdie aanstelling deur die ARC. 
8.  Me. Rofhiwa Irene Singo as hoof finansiële beampte by die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling. 
9.  Mnr. Luvuyo Keyise as die interim-HUB van SITA (heraangestel).

Raadslede van SITA SOC:

1.  Me. Makano Mosidi (Voorsitter);
2.  Dr. Stella Bvuma (Adjunkvoorsitter);
3.  Me. Shery-Lee Moonsamy;
4.  Me. Nolitha Pieterson;
5.  Me. Zimbini Hill;
6.  Me. Olwethu Ketsekile;
7.  Dr. Tshilidzi Ratshitanga;
8.  Dr. Rendani Ramabulana;
9.  Me. Jeanette Morwane (verteenwoordiger van die departement van kommunikasie en digitale tegnologie) 
10.  Me. Laura Mseme (verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie); en
11.  Mnr. William Vukela (verteenwoordiger van die departement staatsdiens en administrasie).

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore