Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 27 September 2023

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (UNGA) 

1.1.    Die Kabinet het die toespraak deur President Cyril Ramaphosa by die 78ste UNGA wat van 18 tot 26 September 2023 in New York, Verenigde State van Amerika, gehou is, verwelkom.
1.2.    Die President se welkome toespraak het Suid-Afrika se voorvegtersposisie in die belange en gelyke en sinvolle deelname van die Afrika-kontinent en die globale Suide in die algemeen by die VN en ander multilaterale forums, herbevestig.
1.3.    Die toespraak het ook Suid-Afrika se vasberadenheid vir die steunmobilisering vir die volgende, herbevestig: 
(a)    hernude toewyding aan multilateralisme, gebaseer op duidelike reëls en deur doeltreffende instansies ondersteun.
(b)    die hervorming van die VN se Veiligheidsraad (VNVR) om sin te gee aan die beginsel van die soewereine gelykheid van nasies en om die VNVR in staat te stel om meer doeltreffend op huidige geopolitieke werklikhede, te reageer.
(c)    welaf lande moet finansiële steun vermeerder om die 2023 Agenda vir volhoubare Ontwikkeling te implementeer en hul klimaatsveranderingsdoelwitte op omvattende en geïntegreerde wyse te bereik, waaronder die behoefte om dringend die werksaamhede van die Verlies- en Skadefonds vir kwesbare lande wat hard deur klimaatsrampe getref is, soos in November 2022 deur die 27ste sessie van die Konferensie van die Partye in Egipte ooreengekom is.
1.4.    President Ramaphosa het Suid-Afrika se toewyding om steeds klimaatsverandering aan te spreek en die land as ʼn leier in hernubare energie, groen waterstof en volhoubare industrialisasie te posisioneer, herbevestig. 
1.5.    President Ramaphosa het ook die Spitsberaad vir die bevordering van pandemievoorkoming, -gereedheid en -reaksie, in sy hoedanigheid as die Afrika-unie se kampioen vir die reaksie op die Koronavirussiekte (KOVID-19), toegespreek.

2.    Suid-Afrika se bilaterale program op die kantlyn van die 78ste UNGA 

2.1.    President Ramaphosa het op die kantlyn van die 78ste UNGA ʼn regeringsafvaardiging gelei wat verskeie bilaterale vergaderings belê het wat gepoog het om strategiese, politieke, diplomatieke en handelsverhoudinge te versterk. 
2.2.    Die President het met sy Oekraïniese eweknie, Volodymyr Zelensky, vergader om vordering aangaande die vertroue-opbouingsmaatreëls en ander ontwikkelings deur die Afrika-vrede-inisiatief te bespreek.
2.3.    President Ramaphosa het ook vergader met:
2.3.1.    President Recep Tayyip Erdoğan van Turkye aangaande die versterking van verhoudings tussen Suid-Afrika en Turkye, en hulle het mekaar ingelig oor die vredesinisiatiewe oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne. 
2.3.2.    President Bola Tinubu van die Federale Republiek van Nigerië oor die versterking van verhoudings tussen Suid-Afrika en Nigerië. Hy het ook die jongste nuus ontvang oor die inisiatief deur die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate oor die staatsgreep in Niger en algemene pogings om demokratiese bevel in die Sahel te herstel.
2.3.3.    President Emmerson Mnangagwa van die Republiek van Zimbabwe, oor inisiatiewe deur Zimbabwe se regering om die herbou van daardie land na die onlangse geharmoniseerde verkiesings, te konsolideer.
2.4.    President Ramaphosa het ook deelgeneem aan die ronde tafelbespreking oor besigheid van die Verenigde State-Suid-Afrikaanse handel en beleggings, wat Suid-Afrikaanse en Amerikaanse sakeleiers ingesluit het. Dié vergadering was kernbelangrik vir die voortdurende versterking van verhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA, met meer as 600 VSA-maatskappye wat in Suid-Afrika bedrywig is.
2.5.    ʼn Formele aankondiging is in daardie tydperk gemaak dat die 20ste handels- en ekonomiese samewerkingsforum vir die VSA en Sub-Sahara Afrika (AGOA-forum) vanaf 2 tot 4 November 2023 in Johannesburg sal plaasvind. Daar sal ook ʼn ‘Gemaak in Afrika-uitstalling’ by die forum wees, wat streekswaardekettings op die kontinent ten toon sal stel. 
2.6.    President Ramaphosa het ook die aankondiging van die medewerking tussen Novo Nordisk en Aspen, betrag. Die medewerking sal tot die vervaardiging van insulien by Aspen se fasiliteite in Gqebera, in die Oos-Kaap, lei. Die medewerking poog om in 2024 meer as 16 miljoen dosisse insulien te verskaf, wat in 2026 vermeerder sal word. Dit sal toegang tot insulienbehandeling in Suid-Afrika en regoor die kontinent, verhoog. 

3.    Krag

3.1.    Die Kabinet het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se goedkeuring van handels- en invoer-/uitvoerlisensie-aansoeke aan die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika, verwelkom, wat die weg vir die verkryging van krag regoor die streek, baan. 
3.2.    Die Kusile-kragstasie se eenheid 4 wat na beplande onderhoud weer operasioneel is, het 800 megawatt in ons kragnetwerk ingestoot. Dié mylpaal is kernbelangrik vir die verbetering van opwekkingskapasiteit vir die nasionale netwerk en die aanspreek van die frekwensie van beurtkrag. 
3.3.    Die Kabinet is verder ingelig oor die vordering om die Kusile-kragstasie se eenheid 1, 2 en 3 vroeg operasioneel te maak.  
3.4.    Die Kabinet het Eskom se stabiele beoordeling deur Moody se Beleggersdiens verwelkom, wat die kragnutsdiens se kredietwaardigheid sal verbeter en hom in staat sal stel om vooruit te beplan oor die implementering van beplande onderhoud van sy opwekkingsvloot.

4.    Watersekerheid

4.1.    Die Kabinet is ingelig oor pogings om wateruitdagings wat ʼn aantal gebiede regoor die land raak, aan te spreek. Die Minister van Water en Sanitasie, Mnr. Senzo Mchunu, en uitvoerende burgemeesters van sommige van die stede in Gauteng sal die jongste nuus oor voortdurende ingrypings om watertoevoer in die provinsie te stabiliseer, bekend maak. 
4.2.    Die Kabinet wil graag almal daaraan herinner dat Suid-Afrika ʼn waterskaarsland is. Alle Suid-Afrikaners en almal in dié land moet water spaar en spaarsamig gebruik.  

5.    Handelsake

5.1.    Die vergadering van die Suid-Afrika-Lesotho binasionale kommissie (BNK) en die ministeriële kluster 

5.1.1.    Die vergadering van die Suid-Afrika-Lesotho binasionale kommissie (BNK) en die ministeriële kluster wat van 25 tot 28 September 2023 gehou sal word, fokus op ekonomiese samewerking, oorkruis-grenskwessies en die beweging van mense, goedere en dienste tussen die twee lande.
5.1.2.    President Ramaphosa en die Eerste Minister, Samuel Ntsokoane Matekane, sal op Donderdag, 28 September 2023 medevoorsitters van die openingsessie van die BNK tussen Suid-Afrika en Lesotho, wees. Die BNK sal diplomatieke verhoudings, verdediging en sekuriteit, water, vervoer, elektrisiteit en handel, bespreek.
5.2.    Aanlynbemiddelingsplatform-markondersoek
5.2.1.    Die Kabinet het ʼn verslag ontvang van die mededingingskommissie oor die bevindings en herstellende handelinge oor die aanlynbemiddelingsplatform-markondersoek. Die Kabinet het die werk van die kommissie verwelkom aangaande die aanspreek van monopoliekommerpunte in digitale bemiddelingsplatforms, waaronder e-handel, aanlynreisagentskappe, voedselaflewering, toepassingswinkels, snuffelgidsverskaffers en soekenjins.
5.2.2.    Die Kabinet het aan die ministers van toepaslike regeringsdepartemente opdrag gegee om verder by die aanbevelings vir verbetering betrokke te raak, die beleidsimplikasies te oorweeg en die nodige beleidsverbeterings te onderneem wat sinvolle deelname van Suid-Afrikaners en klein-, medium- en mikro-ondernemings oor die ontwikkelende aanlynbesighede, sal vergemaklik. 

6.    Voëlgriep

6.1.    Die Kabinet neem kennis van die huidige uitbraak van die uiters patogeniese influensa (HPAI) H5 en H7 in die pluimvee-industrie in Suid-Afrika. Die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het uitbrekings van HPAI H5 ervaar, en HPAI H7 is in Gauteng-, Limpopo-, Mpumalanga- en die Noordwesprovinsie, gerapporteer. Beheermaatreëls om die verspreiding van die uitbraak te beheer is in plek en boere word aangemoedig om voorgeskrewe bioveiligheidsmaatreëls, na te kom. 
6.2.    Die uitbrekings stel voedselsekerheidsrisiko’s, en handelsmaatreëls in die vorm van invoere om vir die beskikbaarheid van vrugbare eiers, tafeleiers en pluimveevleis te sorg, kan geïmplementeer word. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte en die industrie ondersoek aansoeke vir die registrasie van moontlike entstowwe, met nakomingsmaatreëls verwant aan veiligheid, doeltreffendheid en kwaliteit wat van die grootste belang vir die registrasie van sodanige entstowwe is. 

7.    Geïntegreerde stryd teen misdaad 

7.1.    Die Kabinet het die jongste nuus oor die stryd teen geweld verwelkom, wat ook deur die Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele, en die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, aan die nasie verskaf is. 
7.2.    Die multidissiplinêre werksaamheid oor onwettige mynbou en immigrasie in die Noord-Kaap het die arrestasie van 867 mense, baie vanaf Lesotho, Zimbabwe, Mosambiek en sommige Suid-Afrikaners, tot gevolg gehad. Die Kabinet het die sentimente van wetstoepassingsagentskappe herhaal dat Suid-Afrikaners wat skuilplekke aan kriminele betrokke in onwettige mynaktiwiteite verleen, die volle mag van die gereg in die gesig sal staar. 

8.    Uiterste weer

8.1.    Die land se uiterste weerpatrone beklemtoon die impak wat klimaatsverandering op ons lewens het en die behoefte aan volgehoue optrede om ons ekonomie te ontkool terwyl volhoubare ontwikkeling nagestreef word. 
8.2.    Die Kabinet bly ingelig oor die verwoesting wat deur erge storms en vloede in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Gauteng veroorsaak is, met aanduidings dat dit waarskynlik na ander provinsies sal versprei. 
8.3.    Die Kabinet doen ʼn beroep op gemeenskappe om baie waaksaam vir verdere uiterste weerwaarskuwings, wat verdere verwoesting regoor die land kan veroorsaak, te wees. 
8.4.    Die regering ondersteun steeds nooddienste en rampbestuursentrums vir reddingsbedrywighede en om humanitêre steun te bied.

9.    Winnie Mandelalaan 

9.1.    Die Kabinet neem kennis van die herbenoeming van William Nicollaan in Sandton na Winnie Mandelalaan as ʼn belangrike stap in die herskryf van die geskiedenis van Suid-Afrika om die bydrae van diegene wat vir ons vryheid geveg het, te weerspieël. 
9.2.    Die geleentheid het op 26 September oorvleuel met wat Winnie Madikizela-Mandela se 87ste verjaardag sou gewees het. 

B.    Kabinetsbesluite 

1.    Bygewerkte wildsvleisstrategie vir Suid-Afrika 

1.1.    Die Kabinet het die bygewerkte wildsvleisstrategie vir Suid-Afrika, wat poog om die wildsvleisindustrie te formaliseer en transformeer, goedgekeur. 
1.2.    Die strategie poog om die wildsvleissektor as beide verskaffer van voedselsekerheid en ʼn ekonomiese groeisektor wat kan help om werk te skep, te versterk. 
1.3.    Suid-Afrika is eerste op die Afrikakontinent vir wildsvleisproduksie, gelys. Die strategie poog om teen 2030 die skep van 202 666 volhoubare werke in die wildsvleisindustrie te verseker. 
1.4.    Die strategie sal op die Departement van omgewing, bosbou en visserye se webwerf, www.dffe.gov.za, gepubliseer word.

2.    Toerismesektormeesterplan 

2.1.    Die Kabinet het die in ooreenstemming bring van die toerismesektorherstelplan met ʼn nuwe toerismemeesterplan, goedgekeur. 
2.2.    ʼn Belangrike komponent van die meesterplan is om die impak van die KOVID-19-pandemie op die toerismesektor, te versag. Die plan verskaf ook ʼn padkaart vir die volle herstel van toerisme in die land. Die toerismesektorherstelplan is ontwikkel om die herstel van die sektor te vergemaklik, werke te behou en lewensbestaan te beskerm en die meesterplan wil dié werk na ʼn ander vlak neem en nuwe geleenthede in die sektor bevorder.
2.3.    Die plan stel sewe ingrypingstrategieë voor om te verseker dat die toerismesektor terugkeer na sy glorietyd en dat dit die middelpunt van werkskepping en entrepreneurskap word. 
2.4.    Die toerisme-industrie is ʼn noodsaaklike ekonomie en het voor die KOVID-19-pandemie 725 000 werke ondersteun. 

C.    Wetsontwerpe

1.    Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SABC) van 2023

1.1.    Die Kabinet het die voorlegging van SABC-wetsontwerp van 2023 aan die Parlement, goedgekeur. 
1.2.    Die wetsontwerp sal, sodra dit aangeneem word, die herroeping van die huidige Uitsaaiwet, 1999 (Wetnr. 4 van 1999) tot gevolg hê. Die wysigings sal die doeltreffendheid van die openbare uitsaaier se bedrywighede, versterk. 
1.3.    Die wetsontwerp stel ook verbeterings van die SABC se befondsingsmodel en die TV-lisensiëringstelsel, voor.

2.    Konsepwysigingswetsontwerp op waterdienste 

2.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Konsepwysigingswetsontwerp op waterdienste vir openbare kommentaar goedgekeur. 
2.2.    Die sleuteloogmerke van die wetsontwerp is om aanspreeklikheid vir waterdiensverskaffers te versterk en deursigtigheid in te bring. 
2.3.    Die wysigings tot die Waterdienswet, 1997 (Wetnr. 108 van 1997) sal verseker dat waterdiensverskaffers hoë kwaliteit water as deel van hulle lisensievoorwaardes, sal lewer.
2.4.    Die wysigings sal ook swak punte aanspreek wat in die waterdienssektor uitgewys is.
2.5.    Die wetsontwerp stel minimumstandaarde vir die funksionering van waterdiensverskaffers, wat deur waterdiensowerhede toegepas moet word.

3.    Nasionale waterkonsepwysigingswetsontwerp 

3.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Nasionale waterkonsepwysigingswetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp wysig die Nasionale Waterwet, 1998 (Wetnr. 36 van 1998). 
3.2.    Dié wysigings sal regulasies verbeter en sal verseker dat die land se waterhulpbronne goed bestuur, beskerm en bewaar word. 
3.3.    Die wetsontwerp maak ook voorstelle om die wanbalanse van die verlede verwant aan watertoewysing te elimineer en maak voorsiening vir doeltreffende en vinniger interne geskilbeslegtingsmeganismes. 

D.    Aanstellings 

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.
1.    Mnr. Kuberndran Moodley as Hoofbestuurder: Vervaardiging en Ingenieurswese by Government Printing Works.
2.    Mnr. Sihle Ngubane as Hoofbestuurder: Bedryfsbestuur by die Government Printing Works. 
3.    Me. Mmolaeng Mooki as Hoofbestuurder: Korporatiewe dienste by die Government Printing Works. 

4.    Aanstelling van nie-uitvoerende direkteure by die raad van die Suid-Afrikaanse spesiale risikoversekeringsvereniging.
4.1.    Me. Deshnie Subbiah; en
4.2.    Mnr. Jannie Venter.

5.    Aanstelling van nie-uitvoerende direkteure by die raad van die ontwikkelingsbank van Suider-Afrika 
5.1.    Mnr. Bongani Nqwabana (heraanstelling);
5.2.    Mnr. Petrus Matji (heraanstelling);
5.3.    Me. Pinkie Nqeto (heraanstelling);
5.4.    Mnr. Jonathan Muthige;
5.5.    Me. Chantal Naidoo;
5.6.    Me. Disebo Moephuli;
5.7.    Mnr. Barry Hore;
5.8.    Mnr. Joel Netshitenzhe; 
5.9.    Prof. Edgar Pieterse; en
5.10.    Me. Zodwa Mbele. 

E.    Komende gebeurtenisse

1.    Vervoermaand 

1.1.    Dié jaar se vervoermaand sal gevier word met die tema: “Siyakha - Bou beter infrastruktuur om Suid-Afrika te ontwikkel”. 
1.2.    Vervoermaand 2023 sal op groot beleggings in vervoerinfrastuktuur, en ʼn oproep tot optrede om vervoerinfrastruktuur teen diefstal en vandalisme te beskerm, fokus.

2.    Wêreldonderwysersdag 

2.1.    Suid-Afrika sal by die res van die wêreld aansluit en Wêreldonderwysersdag op Donderdag, 5 Oktober 2023 gedenk, met die tema: “Die onderwysers wat ons benodig vir die opvoeding wat ons wil hê: Die wêreldwye opdrag om die onderwyserstekort om te keer”. Die dag poog om bewustheid, begrip en waardering vir die noodsaaklike bydrae van onderwysers wêreldwyd in onderwys en ontwikkeling, te verhoog.
2.2.    Dié dag is ook gesamentlik deur die Internasionale Arbeidsorganisasie en die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie verklaar om die belangrike werk wat ons onderwysers doen, te vier.

F.    Boodskappe

1.    Gelukwense
 

Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan: 

  • Generaal Bheki Cele, Minister van Polisie, wat die Groot muur gedenkmedalje van die Volksrepubliek van China ontvang het vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens se bydrae tot die breër wetstoepassingsamewerking tussen die twee lande. 
  • Me. Angie Motshekga, die Minister van basiese onderwys omdat sy deur die Sekretaris-Generaal van die VN, Mnr. Antonio Guterres, verkies is om op die globale hoëvlakpaneel te dien en hom in te lig oor hoe lande hul onderwysstelsels kan transformeer. Die verkiesing van Minister Motshekga vir die hoëvlakpaneel weerspieël haar deskundigheidsvlak in die onderwysveld en is ʼn uitdrukking van vertroue op Suid-Afrika se onderwysbaan.

Die paneel sluit verteenwoordigers van die Internasionale Arbeidsorganisasie, die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie se Onderwyserstaakspan, wêreldwye onderwysersunies en drie onderwysministers, in. Twee voormalige Presidente was medevoorsitters van die paneel. 

  • Kaapstadse Filmstudio’s, plaaslike akteurs en waaghalse, vir hulle werk op die Netflix-reeks, One Piece, wat wêreldwyd na nommer een op die aanlynstroomplatform, geskiet het.
  • Van Ryn Distilleerdery omdat hulle die trofeë vir die wêreld se beste brandewyn vir sy 12-jaar-oue potketelbrandewyn by die Internasionale sterk drankuitdaging in Londen, verower het. 

2.    Medelye 

Die Kabinet het sy medelye betuig aan die familie en vriende van: 

  • Mnr. Aziz Goolam Hoosein Pahad (82), voormalige anti-apartheidsaktivis wat die eerste Suid-Afrikaanse demokratiese regering se Adjunkminister van buitelandse aangeleenthede was. 
  • Luitenant-kommandeur Gillian Elizabeth Hector, Meester-adjudant-offisier Willian Masela Mathipa, en Adjudant-offisier Klas I Mmokwapa Lucas Mojela, wat in die loop van hul pligte gesterf het terwyl hulle op die duikboot, SAS Manthatisi, buite Kommetjie in die Wes-Kaap, was. 
  • die 22 mynwerkers van die Venetia diamantmyn in Limpopo, wat in ʼn padongeluk in Musina (Vhembedistrik), oorlede is.
  • Me. Zoleka Mandela (43), outeur en aktivis, en die kleindogter van anti-apartheidshelde Nelson Mandela en Winnie Madikizela-Mandela.
  • elf mense wat hul lewens verloor het in die uiterste weerstoestande wat verskeie dele van ons land in die afgelope week getref het.

Navrae: Me. Nomonde Mnukwa — Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
 

Share this page

Similar categories to explore