Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 26 Mei 2021

A.    Kwessies in die Omgewing
1.    Koronavirus (KOVID-19) inentingsuitrolproses


1.1.    Die Kabinet is tevrede daarmee dat Fase 2 van Suid-Afrika se inentingsuitrolproses glad verloop en dat duisende mense in aanmerking vir inentings reeds ingeënt is. 
1.2.    Inentingspunte regoor die land staan gereed om diegene aan wie tydgleuwe vir inentings toegeken is, van hulp te wees. Die Kabinet herinner almal wat hierdie inentingspunte besoek om die streng gesondheidsvoorsorgmaatreëls te volg en maskers te dra, te saniteer en ’n sosiale afstand te behou om hulself en ander te beskerm. Inligting oor hierdie inentingspunte is beskikbaar op https://sacoronavirus.co.za/2021/05/12/active-vaccination-sites/. 
1.3.    Met dié dat ons nader beweeg aan universele gesondheidsdekking, vind die Kabinet dit bemoedigend dat meer as twee miljoen mense reeds op die KOVID-19 Elektroniese Inentingstelsel (EIDS) geregistreer het by die webwerf https://vaccine.enroll.health.gov.za. 
1.4.    Om te verseker dat niemand agterweë bly nie, is daar verskeie platforms waarop mense kan registreer. Die Kabinet doen ’n beroep op alle mense van 60 jaar en ouer om op die EIDS te registreer. Vriende en familielede van mense van 60 jaar en ouer word gevra om hulle aan te spoor om te registreer en hulle met die registrasie te help.
1.5.    Mense kan via WhatsApp registreer deur “Register” te stuur aan 0600 123 456 of via SMS deur *134*832*ID number# te skakel. Hierdie diens is gratis op alle Suid-Afrikaanse selfoonnetwerke. Mense kan ook registreer deur die tolvrye hulplyn te skakel by 0800 029 999. 
1.6.    Die Kabinet herinner alle Suid-Afrikaners ook aan die naderende derde vlaag en benadeel weereens die belangrikheid daarvan om die oordrag van KOVID-19 te vermy deur die nie-farmaseutiese maatreëls streng na te kom, naamlik die dra van ’n masker in die publiek, die handhaaf van ’n sosiale afstand van minstens 1.5 meter en gereelde handewas met seep en water of ’n 70%-alkoholgebaseerde saniteerder.
 
2.    Presidensiële Stimulusprogram vir Werkskepping

2.1. Die Kabinet verwelkom die vorderingsverslag van die implementering van die Presidensiële Stimulusprogram vir Werkskepping, wat daarop gemik is om nuwe werke te skep, steun te bied aan mense se lewensbestaan en bestaande werke in kwetsbare sektore te beskerm.
2.2    Die verslag toon dat teen die einde van Maart 2021, ’n somtotaal van 532 180 mense direk voordeel getrek uit die stimulus en dat daar 422 786 werke geskep of behou is; 109 394 lewensbestane is ook gesteun. 
2.3.     ’n Verdere 161 972 werksgeleenthede is steeds besig om geprosesseer te word as deel van Fase 1 van die stimulusprogram, wat die somtotaal geleenthede wat gesteun is, sal bring tot 694 152.

3.    Parys-beraad oor die Finansiering van Afrika-ekonomieë 

3.1.    Die Kabinet steun die beroep deur leiers by die beraad oor die finansiering van Afrika-ekonomieë, wat op Dinsdag, 18 Mei 2021 in Parys, Frankryk plaasgevind het, dat Afrika-state toegang moet hê tot spesiale onttrekkingsregte van minstens US$100 miljard vanuit die Internasionale Monetêre Fonds se reserwefondse.
3.2.    Hierdie toekenning van fondse sal die moontlikheid van ’n sterk en volhoubare herstel onder Afrika-nasies wat swaar getref is deur die KOVID-19-pandemie ’n hupstoot gee en likiditeit aan die wêreldwye finansiële stelsel verleen.
3.3.    Die beraad het die gewilde siening bekragtig dat toegang tot inentings uitgebrei moet word tot alle lande, veral in Afrika en alle ontwikkelende lande, gegewe dat daar wêreldwyd verbintenisse gemaak is dat inentings beskou moet word as van wêreldwye openbare belang.
3.4.    Die beraad het ook erkenning gegee aan die rol van grootskaalse inenting teen KOVID-19 as van wêreldwye openbare belang. Die beraad het verder hulself daartoe verbind om regverdige toegang tot veilige en bekostigbare entstowwe, behandeling en diagnostieke in Afrika te verseker en bespoedig deur middel van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se “Access to COVID-19 Tools Accelerator” (bekend as ACT-A) en die organisasie se “COVID-19 Vaccines Global Access” (bekend as COVAX) fasiliteit.
3.5.    Die Kabinet benadruk ook weereens die beroep van deur President Ramaphosa dat die tydelike kwytskelding van die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) se Trips-regulasies deur almal ondersteun moet word. Só ’n ingryping sal die uitgebreide vervaardiging van entstowwe en ander gesondheidstegnologieë as deel van die gepaste reaksie op die pandemie-noodsituasie verseker.

4.    Tafelkop: Oordrag van titelaktes

4.1. Die Kabinet verwelkom die oorhandiging van 189 hektaar grond tesame met die oordrag van die gepaardgaande titelaktes aan 30 swart boere by Tafelkop in die Groblersdal-distrik van Limpopo. 
4.2. Hierdie is ’n hoogtepunt in die grondhervormingsproses en vorm deel van die voortgesette werk van die interministeriële komitee (IMK) vir grondhervorming om grondhervorming te bespoedig.
4.3.     Die boere boer reeds die afgelope 25 jaar suksesvol met verskeie landbouprodukte op hierdie grond en verskaf landbouprodukte aan voedselwinkels, skoolvoedingskemas asook varsproduktemarkte in Pretoria en Johannesburg.

5.    Begrotingspos 

5.1.    Die Kabinet verwelkom die aanvang van die begrotingspos, wat departemente in staat stel om ’n gedetailleerde verslag te lewer oor hul planne en prioriteite vir die jaar. Die Parlement, as verteenwoordiger van die mense, voer ’n lewendige debat oor die begrotingspos en verseker dat openbare fondse aangewend word tot voordeel van die publiek.
5.2.    Die begrotingspos bou op die verskeie prioriteite soos omskryf deur Sy Eksellensie President Cyril Ramaphosa in die Staatsrede in Februarie 2021. Dit word ook gelei deur die Nasionale Ontwikkelingsplan: Visie 2030 en die 2019-2024 medium-termyn strategiese raamwerk. 
5.3.    Vanjaar fokus die regering daarop om ons ekonomie te groei, ekonomiese groei ’n hupstoot te gee en dringende werkskepping te bewerkstellig. Ons sal veral fokus op vier kritiese areas wat in die Staatsrede uitgelig is: (a) Verslaan die KOVID-19-pandemie; (b) Versnel ekonomiese herstel; (c) Implementeer ekonomiese hervorming om volhoubare werkskepping en inklusiewe groei te bevorder, en (d) Beveg korrupsie en versterk die Staat.

6.    Stryd teen misdaad 

6.1.     Die Kabinet verwelkom saam met die Komissie vir Geslagsgelykheid die ses vonnisse van lewenslange tronkstraf wat mnr Nowa Makula (32) opgelê is vir die moord op sy meisie, Me Nomzamo Mhlanti, en vyf kinders. Dit stuur ’n ernstige boodskap dat alle oortreders wat sulke afstootlike geweldadige misdade pleeg die volle mag van die gereg in die sal gesig staar.
6.2.     Die Kabinet veroordeel die onlangse sinnelose moorde in Khayelitsha in die Wwes-Kaap en Zandspruit in Gauteng wat die lewens van 21 mense geëis het. Die Kabinet prys die polisie vir hul blitsige optrede in die inhegtenisneming van verdagtes en doen ’n beroep op die gemeenskap om saam met die polisie te werk om ons strate vir almal veiliger te maak.
6.3.     Die Kabinet verwelkom die samewerking tussen plaaslike en internasionale wetstoepassingsagentskappe wat gelei het tot die beslaglegging op dwelms in Afrika en die Midde-Ooste. Die misdaadbekampingsoperasies, onder leiding van Interpol, het 41 lande behels en gelei tot die beslaglegging op dwelms ter waarde van naastenby 100 miljoen euros. As deel van die suksesvolle operasie het die polisie in Suid-Afrika beslag geê op dwelms ter waarde van ongeveer 32 miljoen euros op ’n vissersvaartuig en 10 mense is in hegtenis geneem. 

7.    Proefsensus

7.1.     Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) sal ’n proefsensus onderneem in uitgesoekte areas as oefenlopie vir die amptelike sensus om sodoende alle stelsels en prossesse te toets. 
7.2.     Registrasie vir die proefsensus vind plaas vanaf 17 Mei tot 30 Junie 2021. Huishoudings en instellings wat verkies om die proefsensusvraelys telefonies te voltooi, sal ’n oproep van ’n Stats SA-inbelsentrumagent ontvang. 
7.3.     Die Kabinet moedig huishoudings en instellings aan om te registreer om te verseker dat hul getel word. Landsburgers word aangemoedig om getcounted.statssa.gov.za te besoek om aanlyn te regsitreer. Die datum vir die hoofsensus sal ter geleëner tyd aangekondig word.

8.    Humanitêre steun aan Zimbabwe

8.1.    Die Kabinet keur die humanitêre steun aan die mense van Zimbabwe goed. Dit na aanleiding van ’n versoek in Maart 2019 deur die Zimbabwiese regering om humanitêre steun nadat die tropiese sikloon Idai verwoesting gesaai het, hewige vloede veroorsaak het wat infrastruktuur vernietig het en tot die verlies van menselewens gelei het. 
8.2.    Suid-Afrika het, via die Afrika Renaissance- en Internasionale Samewerkingsfonds, humanitêre steun ter waarde van R50 miljoen opsy gesit vir Zimbabwe. Die uitbreek van die wêreldwye KOVID-19-pandemie het egter die implementering van die projek vertraag.
8.3.    Die eerste aflewering van 450 000 sakke van 12.5kg mieliemeel wat bestem is vir huishoudings met ’n dringende behoefte aan voedselhulp het op Afrikadag op Dinsdag, 25 Mei 2021 plaasgevind.

B.    Kabinetsbesluite
1.    Jeugmaandprogram


1.1.    Die Kabinet keur die program goed vir Jeugmaand onder die tema: “Die Jaar van Charlotte Mannya Maxeke: Groei jeugindiensneming vir ’n inklusiewe en getransformeerde samelewing.” Op 16 Junie 2021 word Jeugdag gevier in die Harry Gwala-distrik in KwaZulu-Natal. Die aangeleentheid sal die loods van die Presidensiële Jeugdiens en die bekendstelling van die Geïntegreerde Jeugontwikkelingstrategie, wat ’n bemagtigingsraamwerk vir die groei en ontwikkeling van die jeug in Suid-Afrika bewerkstellig, insluit.
1.2.    Die beplande maandlange aktiwiteite in Junie om Jeugmaand te vier sal binne die vereistes van die KOVID-19-gesondheidsvoorsorgmaatreëls geskied. 

2.    Vordering in die nasionale regering se ingryping in Noordwes

2.1.    Die Kabinet is ingelig oor die vordering betreffende die nasionale regering se ingryping in die Noordwes provinsiale regering ingevolge artikel 100(1) van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Die kabinet is ingenome met die goeie vordering wat gemaak is om die provinsiale departemente wat onder administrasie was, te stabiliseer. 
2.2.    Die verslag sal aan die nasionale raad van provinsies se ad hoc-komitee voorgelê word vir verdere aandag. Die komitee sal die verslag bespreek tydens hul sitting wat geskeduleer is vir 24 Junie 2021. 

3.    Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit – Ingryping 
3.1.    Die Kabinet gee hul goedkeuring aan die ingryping deur die nasionale regering om die uitdagings betreffende water en riool wat deur die gemeenskap ervaar word in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit in die Sedibeng-distrik in Gauteng aan te spreek. Die ingryping geskied in terme van artikel 63(2) van die Wet op Waterdienste, 1997 (Wet 108 van 1997). 
3.2.    Die swak regerings- en finansiële bestuur in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het gelei tot minimale onderhoud en instandhouding van die water- en rioolinfrastruktuur. Dit het ontaard in voortgesette rioolstortings en -oorlopings in die omliggende gemeenskappe asook in die Vaalrivier, wat ’n ernstige gesondheidsrisiko skep vir die meer as 120 000 huishoudings wat in die area woon. 
3.3.    Die departement van water en sanitasie is aangesê om toesig oor hierdie ingryping te hou en jaarliks aan die Kabinet verslag te doen. Die Kabinet keur ook die samestelling van ’n IMK goed wat die breedvoerige uitdagings betreffende water wat deur ’n aantal munisipaliteite ervaar word, sal ondersoek. Die opdragspunte and lede van die IMK sal ter geleëner tyd aangekondig word.

C.    Toekomstige Gebeure
1.    Franse staatsbesoek


1.1.    President Ramaphosa sal op Vrydag, 28 Mei 2021 gasheer wees vir Sy Eksellensie President Emmanuel Macron van die Republiek van Frankryk tydens ’n staatsbesoek by die Uniegeboue te Pretoria.
1.2.    President Macron se eerste besoek aan Suid-Afrika, op uitnodiging van President Ramaphosa, is daarop gemik om die strategiese vennootskap tussen die twee lande te verstewing, wat gesteun word deur ’n aantal bilaterale ooreenkomste in verskeie areas van samewerking. 
1.3.    Die besoek sal fokus op kwessies rakende die wêreldwye reaksie tot KOVID-19 en die ekonomiese, gesondheid-, navorsing- en vervaardigingsreaksie op die huidige pandemie en so meer.
1.4.    Die leiers sal ook die uitbreiding van handel- en beleggingsgeleenthede van wederkerige belang bespreek. Suid-Afrika is Frankryk se naasgrootste handelsvennoot in Afrika, terwyl Frankryk Suid-Afrika se naasgrootste handelsvennoot in die Europese Unie-handelsblok is. 

2.    Besoek van Soedanese Eerste Minister

2.1. Die Eerste Minister van die Republiek van Soedan, dr Abdalla Hamdok, sal op Donderdag, 17 Junie 2021 op uitnodiging van President Ramaphosa ’n werksbesoek aan Suid-Afrika doen. 
2.2.  Gedurende die besoek sal die twee leiers na verwagting modaliteite bespreek om bilaterale verhoudings te verbeter en hul sieninge deel oor die kwessies wat die kontinent in die gesig staar. 

3.    President se virtuele leesklub

3.1. Die Kabinet nooi Suid-Afrikaners uit na die sesde sessie van die President se virtuele leesklub op Donderdag, 27 Mei 2021 van 16:30 tot 18:30. Die aangeleentheid sal plaasvind via Zoom en enige iemand wat daarin belang stel om die sessie by te woon kan daarvoor registreer op www.nrc.org.za. Die sessie sal Frantz Fanon se boek oor dekolonisasie, The Wretched of the Earth, bespreek. 
3.2. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om ’n leeskultuur te skep, steun en bevorder, aangesien dit ’n grondslagvaardigheid is waarop alle ander geleerdheid geskoei word en dit geleenthede skep om toegang tot loopbaangeleenthede te verkry.

D    Boodskappe 
1.    Gelukwense


Die Kabinet dra hul gelukwense oor aan: 

  • Prof Pitika Ntuli, die Suid-Afrikaanse beeldhouer, digter en skrywer wat die “You-2” toekenning gewen het. Die toekenning is een van die twee “People’s Choice”-toekennings wat oorhandig is by die sewende jaarlikse “Global Fine Art Awards” in Parys, Frankryk. Die Melrose-galery in Johannesburg het Prof Ntuli se aanlynuitstalling van beenbeeldhouwerke, genaamd Azibuyele Emasisweni (Return to the Source), ten toon gestal. 
  • Hoogeerwaarde Haar Edele Naledzani Sikhwari, wat verkies is as die eerste vroulike biskop van die Noordelike Bisdom Evangeliese Lutheraanse Kerk in suider-Afrika na ses dekades van manlike biskoppe. Die aanstelling van biskop Sikhwari as die hoof van ’n 503-jaar-oue kerk is ’n simbool van geslagsgelykheid en transformasie in die samelewing.
  • Me Nolitha Fakude, wat aangestel is as die eerste vroulike president van die Suid-Afrikaanse Mineraleraad in 131 jaar. Die Kabinet wens Me Fakude, wat ook die voorsitter is van Anglo American South Africa, alles van die beste toe met haar fokus om te verseker dat die mynwese positief daartoe bydra om ’n katalisator vir ekonomiese groei in ons land te wees. 

2.    Medelye
Die Kabinet spreek hul medelye uit met die familie en vriende van: 

  • Mnr Emmanuel Mojalefa ‘Mjokes’ Matsane, wat op Sondag, 23 Mei in ’n motorongeluk oorlede is na ’n optrede in Soweto. As ’n lid van die ikoniese kwaito-groep, Trompies, was hy deel van die beweging wat ’n unieke musiek-genre in Suid-Afrika geskep het.
  • Prof Stanislaus (Stan) Skumbuzo Mzilankatha Sangweni (87), wat op Dinsdag, 18 Mei 2021 oorlede is. Hy het sy lewe toegewy aan die bevryding-struggle en 30 jaar lank in verskeie lande in ballingskap geleef. Hy het ook gedien as die waarnemende direkteur van die Verenigde Nasies se ekonomiese komissie vir Afrika, en met sy terugkeer na Suid-Afrika is hy aangestel as die voorsitter van die Staatsdienskomissie.
  • Die regering en die mense vaan die Demokratiese Republiek van die Kongo na aanleiding van die uitbarsting van die berg Nyiragongo op Saterdag, 22 Mei 2021. Minstens 15 mense word as dood vermoed en duisende mense is verplaas deur die vulkaniese uitbarsting.
  • Ambassadeur Ismael Coovadia, die voormalige ambassadeur in Israel, wat op Maandag, 24 Mei 2021 oorlede is. Hy het ’n enorme bydrae gelewer tot die bevryding-struggle in Suid-Afrika.

E    Aanstellings 

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1.    Me Elizabeth Rhulani Ngwenya as Adjunk Direkteur-Generaal: Korporatiewe Bestuur by die departement van toerisme. 
2.    Me Irene Nomalungelo Mpolweni as direkteur-generaal by die departement van militêre veterane. 

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore