Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 6 Junie 2018

Die Kabinet het op Woensdag 6 Junie 2018 by die Uniegebou in Pretoria vergadering.

A. Kwessies in die omgewing

1. Ekonomie
Die Kabinet neem kennis dat die bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal van 2018 met 2,2% gedaal het. Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het die syfers hierdie week vrygestel. Die landbou-, mynbou- en vervaardigingsbedrywe het tot die afname in hierdie eerste kwartaal bygedra. Die Kabinet het die ministers van die Ekonomie-kluster opdrag gegee om dringend te vergader om die pad vorentoe met betrekking tot hierdie syfers te bespreek.

Die BBP-resultate beklemtoon die noodsaaklikheid dat alle sektore in die land moet saamwerk om Suid-Afrika se plaaslike ekonomie te verbeter. Die sake- en arbeidsektore moet steeds met die regering saamwerk ter bevordering van inisiatiewe soos die negepuntplan om ekonomiese groei te stimuleer en broodnodige werk te skep. Een van die sleutelpilare is die Nyweheidsbeleid-aksieplan (IPAP), wat daarop gerig is om vervaardiging, werkskepping en uitvoere te verhoog. Die Kabinet is vol vertroue dat die IPAP ons nywerheidsektor en die ekonomie sal help groei.

Die regering sal later vanjaar 'n internasionale beleggingsberaad aanbied om Suid-Afrika as 'n beleggingsbestemming te bemark. Die doel van die beraad is om die volgende vyf jaar R1,2 miljard in nuwe beleggings te genereer, wat 'n beduidende uitwerking op ekonomiese groei en werkskepping sal hê.

2. Beleggings
Die Kabinet verwelkom die bekendstelling op 5 Junie vanjaar van Yekani Manufacturing se nuwe wêreldklasfabriek in Oos-Londen in die Oos-Kaap, wat inligting- en kommunikasietegnologieprodukte vervaardig, en in algehele swart besit is. Die R1 miljard-belegging sal bykomend tot die bestaande werksmag van 450 mense, meestal jeug en vroue, 1 000 nuwe gehalte werksgeleenthede skep.
 
Hierdie belegging het voordeel getrek uit beide die Spesiale Ekonomiese Sone-infrastruktuur-aansporing en die Swart Nywerheidskema (BIS). Danksy die BIS het die Departement van Handel en Nywerheid (die dti) gedurende die voorafgaande twee boekjare aansporingsondersteuning aan 103 swart nyweraars goedgekeur. Altesaam 48 maatskappye, waarvan agt in die Oos-Kaap is, is ook ondersteun deur toegang tot markte te verkry.

3. Nasionale Minimumloon (NML)
Die Kabinet verwelkom die goedkeuring van die NML-wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering en spreek sy waardering uit teenoor alle belanghebbendes by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad vir die rol wat hulle gespeel het om hierdie ooreenkoms te bereik. Dit sit 'n proses aan die gang om die loongaping te verklein, veral vir die lae-inkomstegroepe. Sodra die wetsontwerp onderteken is, sal sowat 6,4 miljoen werkers in Suid-Afrika voordeel daaruit trek. Die Kabinet erken egter dat nog heelwat werk gedoen moet word om die loonverskille wat nog steeds bestaan, uit die weg te ruim.

Die wetsontwerp sal vervolgens aan die Nasionale Raad van Provinsies gestuur word vir instemming voordat die President dit as wet onderteken.

4. Basiese dienste
Die Kabinet is tevrede met die uitslae van die Nie-finansiële Sensus van Munisipaliteite 2017 wat deur Stats SA vrygestel is. Die uitslae toon dat meer gebruikers gratis basiese dienste soos elektrisiteit, water en sanitasie in 2017 ontvang het in vergelyking met 2016. Die regering bly verbind tot die voorsiening van daaglikse basiese dienste aan al sy burgers, veral arm mense. Die mees onlangse waterverwante projek is die Mhlathuze Waterprojek van R96 miljoen in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, wat kraanwater aan meer as 6 000 huishoudings sal lewer.

5. Staatsdiens-loononderhandelings
Die Kabinet is deur die Minister van Staatsdiens en Administrasie ingelig oor die Staatsdiens se loononderhandelinge. Die Kabinet waardeer alle belanghebbers se toewyding om 'n vriendskaplike oplossing te vind wat tot voordeel van alle rolspelers sal strek. Die Kabinet bevestig die regering se verbintenis om deurdringend met die arbeidsektor te beraadslaag sodat 'n werkbare ooreenkoms tussen alle betrokkenes bereik kan word.

6. Maatskaplike toelaes
Die Kabinet verseker die begunstigdes van maatskaplike toelaes dat die regering die lewering van hierdie belangrike diens sal voortsit, soos deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 bepaal. Maatskaplike toelaes sal steeds betaal word en die proses om die ou Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekuriteitsagentskap- (SASSA) kaart te vervang met die nuwe een sal tot einde September 2018 voortgaan.

Die vennootskap tussen SASSA en die Suid-Afrikaanse Poskantoor lewer positiewe resultate aangesien meer begunstigdes sedert Mei 2018 hul kaarte omgeruil het.
Die Kabinet moedig gemeenskappe aan om onlangse kort boodskappe te ignoreer wat begunstigdes van maatskaplike toelaes vra om te herregistreer vir hul maatskaplike toelaes om te voorkom dat hulle nie betaal word nie. Sulke misleidende boodskappe poog om verwarring onder die armes te skep en die regering te ontspoor in sy pogings om te verseker dat maatskaplike toelaes moeiteloos aan begunstigdes betaal word.

7. Noordwes
Die Kabinet het 'n derde vorderingsverslag van die Interministeriële Taakspan (IMT) oor Noordwes ontvang. Die Kabinet is tevrede met die vordering wat gemaak is om die toepaslike Artikel 100 (1) (a) en (b) in die Noordwes provinsiale departemente in werking te stel. Dit is voorts goedgekeur dat die IMT eenmaal per maand aan die Kabinet verslag sal doen om die spanne wat in die provinsie ontplooi is in staat te stel om hul werk voort te sit.
Die Kabinet het op 7 Junie 2018 'n besoek aan Noordwes goedgekeur om die Noordwes Uitvoerende Komitee, die Provinsiale Wetgewer en die eksterne ouditeure wat verantwoordelik is vir die provinsie, in te lig.
 
8. Protesoptrede
Die Kabinet veroordeel die onlangse aggresiewe protesoptrede regoor die land en is veral besorg oor die dade van geweld en die intimidasie van pasiënte en mediese personeel by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg. Protesteerders wat hul reg uitoefen om protes aan te teken, moet dit doen sonder om die regte van ander, veral die kwesbares, te skend. Geen griewe regverdig die geweld en die dreigende gedrag wat die afgelope week gesien is nie.

9. Veiligheid en sekuriteit
Die Kabinet verwelkom en ondersteun die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se stabilisering-ingrypingsplan, wat met die samewerking van alle Suid-Afrikaners sal poog om ons gemeenskappe veiliger te maak. Die verhoogde sigbaarheid van polisiebeamptes in uniform, te voet en in voertuie, met die ondersteuning van die SAPD se lugvleuel, deurlopende kordon- en soektogbedrywighede, padblokkades en meedoënlose soeke na verdagtes, sal 'n belangrike bydrae lewer om te verseker dat mense in ons land veilig voel en veilig is.

Gemeenskappe word aangemoedig om enige inligting oor misdaad by hul plaaslike polisiekantoor aan te meld of die tolvrye Stop Misdaad-nommer 086 00 10111 te skakel. Die Kabinet doen 'n beroep op die publiek om die Stop Misdaad-nommer verantwoordelik te gebruik. Misbruik van hierdie fasiliteit kan 'n wettige noodoproep beïnvloed wat 'n lewe kon gered het.

10. Jeugmaand
Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om tydens Jeugmaand, wat in Junie gevier word, by programme en projekte wat die jeug bemagtig betrokke te raak. Hierdie jaar is die eeufeesvierings van Tata Nelson Rolihlahla Mandela en Mama Albertina Nontsikelelo Sisulu. Om hierby aan te sluit, is die tema vir Jeugmaand 2018: "Leef die nalatenskap: na sosio-ekonomiese bemagtiging van die jeug".

Jongmense moet inspirasie put uit hierdie rolmodelle se nalatenskap; hulle moet bemagtig word om 'n meer aktiewe rol in die opheffing van hul gemeenskappe te speel en Suid-Afrika sodoende saam te ontwikkel. Die regering doen baie om te verseker dat die jeug toegang tot verskeie ondersteunings- en opvoedkundige regeringsprogramme verkry wat hul deelname aan die ekonomie sal verbeter.

11. Voorbereidende en midtermyn-eksamens
Die Kabinet doen 'n beroep op ouers en voogde regoor die land om hul kinders wat voorbereidende en midtermyn-eksamens skryf, na die beste van hul vermoëns te ondersteun.

Die Kabinet het groot waardering vir die belangrike bydrae van mense wat kinders versorg en opvoed om ons toekomstige leiers te word deur seker te maak dat hulle in bevorderlike en veilige omgewings kan leer en studeer. Ons moedig alle leerders aan om hulle studies voort te sit en om altyd hul bes te doen.

Die Kabinet verwelkom die heropening van skole in verskillende dele van Noordwes, insluitend Koster en Rustenburg. Dit volg op weke van protesoptogte en ontwrigting van onderrig in die gebied. Die Kabinet moedig ouers, leerders en onderwysers aan om saam te werk om die verlore tyd te probeer inhaal en hulle ten volle te verbind tot inhaalprogramme.

12. Droogte en brande
Die Kabinet herinner Suid-Afrikaners daaraan dat die land steeds droogte ervaar. Suid-Afrika is een van die 30 droogste lande in die wêreld en die laer as normale reënval het die situasie vererger. Almal moet steeds met die regering saamwerk om water te bespaar sodat daar genoeg sal wees vir almal.

Met die winter op ons drumpel doen die Kabinet ’n beroep op gemeenskappe om spesiale aandag te gee aan die voorkoming van velbrande en brande in informele nedersettings. Die regering werk voortdurend saam met gemeenskappe om veiligheidsmaatreëls te bevorder omdat mense verskillende vorms van brandstof en verhitting gebruik om warm te bly, wat brande kan veroorsaak.  

13. Wetenskap en tegnologie
Die Kabinet neem kennis van die astrologiese ontwikkelinge die afgelope naweek toe sterrekundiges wat met die Catalina Sky Survey in Arizona, VSA werk, 'n klein asteroïed (2018 LA) naby die maan se wentelbaan ontdek het, wat ure later op die Aarde neergestort het.

Die gevolglike ontploffing wat golwe van laefrekwensie-klank (infraklank) deur die atmosfeer gestuur het, is deur 'n infraklankmonitor in Suid-Afrika opgespoor, wat deel is van die Internasionale Moniteringstelsel se Verdrag oor die Omvattende Kerntoetsverbod.

Dit beklemtoon die toenemende vermoë van moderne lugopnames om asteroïdes te ontdek wat die Aarde teiken en bevestig Suid-Afrika se internasionaal erkende bevoegdheid op dié gebied.

B. Kabinetsbesluite

14. Die Kabinet keur goed dat die 2016/17-verslag oor die werkverrigting van die Belasting-aansporingsprogram vir Navorsing en Ontwikkeling (N&O) aan die Parlement voorgelê word. Die aansporingsprogram stel maatskappye in staat om hul N&O-portefeuljes te diversifiseer, intellektuele eiendom te genereer en nuwe produkte te skep. Die aansporingsprogram, wat in November 2006 ingestel is, word deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie saam met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en Nasionale Tesourie bestuur.

Van Maart 2016 tot Februarie 2017 is altesaam 153 N&O-belastingaansporingsaansoeke van 117 maatskappye ontvang, waarvan 58 eerste aansoekers was. Die aansoeke was vir 571 N&O-projekte ter waarde van ongeveer R3,6 miljard. Die Kabinet is tevrede met die toename in die aantal maatskappye wat in N&O belê en doen steeds meer om in N&O te belê. Dit bly 'n belangrike steunpilaar van ons pogings om die ekonomie te laat groei.

15. Die Kabinet keur goed dat die 2016/17-opname oor die regering se befondsing vir wetenskaplike en tegnologiese aktiwiteite gepubliseer word. Die opname moniteer jaarliks die prestasie van die wetenskap- en tegnologiesektor, sowel as die sektor se bydrae tot Suid-Afrika se groei en ontwikkeling. Die Kabinet neem kennis van die begrotingsbeperkings wat tot die stadige groei van N&O-uitgawes in departemente gelei het.  

16. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die hersiene Beleidsraamwerk vir Akkreditasie van Afleidingsdienste in Suid-Afrika. Die beleidsraamwerk is in 2010 in plek gestel ooreenkomstig die Wet op Kindergeregtigheid, 2008 (Wet 75 van 2008). Die hersieningsproses poog om te verseker dat afleidingsdiensverskaffers en afleidingsprogramme te alle tye aan die minimum standaarde voldoen. Ses van die hoofstukke is gewysig om die gehalte en standaarde van dienste aan kinders wat die wet oortree, te verbeter.

17. Die Kabinet keur goed dat die Streeksbetrokkenheidstrategie vir Bioveiligheid in werking gestel word. Biotegnologie word erken as 'n belangrike potensiële aandrywer van ekonomiese groei en 'n belangrike hulpmiddel in die stryd teen honger en armoede, veral in ontwikkelende lande.

Hierdie strategie sal intra-Afrika handel vergemaklik en die streek se mededingendheid op wêreldmarkte verbeter. Dit sal Suid-Afrika se medewerking en samewerking binne die Afrika-streek verbeter.

C. Wetsontwerpe

18. Die Kabinet keur goed dat die Nasionale Wet op Gesondheidsversekering (NHI) van 2018 in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp poog om die NHI-fonds van Suid-Afrika as 'n openbare entiteit te vestig om sodoende voorsiening te maak vir volgehoue algemene toegang tot gesondheid wat bekostigbaar en van hoë gehalte is. Dit beskryf ook sy funksies, bevoegdhede en pligte.

Die Wetsontwerp bied 'n raamwerk vir die aktiewe aankoop van gesondheidsorgdienste deur die fonds namens gebruikers. Dit skep ook meganismes vir die billike en doeltreffende gebruik van die fonds se hulpbronne om aan die gesondheidsbehoeftes van gebruikers te voldoen. Die Minister van Gesondheid sal volgende week 'n mediakonferensie hou om hierdie wetsontwerp uiteen te sit.

19. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Wetenskap en Tegnologiewette van 2017 aan die Parlement voorgelê. Die Wetsontwerp versoen die bepalings wat die bedrywighede en bestuur van die openbare entiteite reguleer wat aan die Minister van Wetenskap en Tegnologie verslag doen. Dit sal konsekwentheid verseker ten opsigte van alle vereistes waaraan voldoen moet word en prosesse wat gevolg moet word.

D. Toekomstige gebeure

20. Groep van Sewe (G7) -beraad
Die Kabinet verwelkom die uitnodiging aan Suid-Afrika om die komende G7-beraad in Kanada by te woon. Suid-Afrika het sewe jaar gelede aan die beraad deelgeneem en hierdie uitnodiging is 'n aanduiding van hernieude vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Die regering sal poog om beleggers te nooi om kapitaal in ons ekonomie te belê. Belegging is nodig vir ekonomiese groei en werkskepping op 'n skaal wat die huidige vlakke van werkloosheid aansienlik sal verminder.

21. Suid-Afrika-Indië 125 jaar-herdenking
As deel van die Nelson Mandela- en Albertina Sisulu-eeufeesvierings, verwelkom die Kabinet die herdenking op 7 Junie 2018 van Mahatma Gandhi se verwydering uit 'n trein by die Pietermaritzburg-stasie 125 jaar gelede. Hierdie gebeurtenis het Gandhi se filosofie van Satyagraha (passiewe politieke verset) aangespoor, wat 'n beduidende invloed op ons politieke leierskap gehad het en tot ons bevrydingstryd bygedra het.

22. Staatsbesoek: Saharawi Arabiese Demokratiese Republiek
President Cyril Ramaphosa het sy eweknie, die President van die Saharawi Arabiese Demokratiese Republiek, Brahim Ghali, tydens 'n staatsbesoek aan Suid-Afrika op 4 Junie 2018, ontvang.
Die Kabinet verklaar sy solidariteit met die Saharawi-volk in hul stryd om onafhanklikheid en doen ’n beroep op die internasionale gemeenskap om die nodige ondersteuning aan die Saharawi-mense te bied.

E. Boodskappe

23. Meegevoel
23.1. Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa sy innige meegevoel met die familie en vriende van die vyf seuns wat in ’n brand by die Masiya informele nedersetting in Philippi, Kaapstad gesterf het.
Die brand het ook 30 inwoners van die informele nedersetting dakloos gelaat. Die regering doen alles in sy vermoë om seker te maak dat daar behuising, vertroosting en veiligheid vir alle Suid-Afrikaners is.  

24. Gelukwense
24.1. Die Kabinet wens die ANC-veteraan Baba Andrew Mokete Mlangeni geluk met sy verjaarsdag. Baba Mlangeni het op Woensdag 6 Junie 2018, 93 jaar oud geword. Hy was een van die eerste vryheidsvegters wat vir militêre opleiding buite Suid-Afrika gestuur is. Met sy terugkeer na Suid-Afrika is hy in hegtenis geneem, skuldig bevind en gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf op Robbeneiland.

24.2. Die Kabinet wens die Proteas se snelbouler Kagiso "KG" Rabada geluk met sy uitstekende prestasie by die Krieket Suid-Afrika-toekennings wat onlangs in Sandton, Gauteng gehou is. Hy het ses toekennings ontvang, insluitend die Krieketspeler- en die Spelers se Speler van die Jaar-toekennings. Dit was 'n merkwaardige jaar vir jong Rabada wat onder meer die eerste plek op die wêreld se boulranglys in toetswedstrykrieket behaal het. Hy is tans die toonaangewende paaltjiewagter vir 2018 en het ook die sewende plek behaal op die eendag-internasionale krieketranglys.

24.3. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van Siya Kolisi as die eerste swart kaptein van die Springbok-rugbyspan vir die driewedstryd-toetsreeks teen Engeland. Ons is vol vertroue dat hy Suid-Afrika met trots as ons kaptein sal verteenwoordig, en ander sal inspireer deur sy optrede en leierskap op en buite die rugbyveld.

24.4. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, as voorsitter van die Nuwe Ontwikkelingsbank (NDB) se bestuur. Die NDB is 'n multilaterale ontwikkelingsbank wat in 2014 deur Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS) gestig is. Dit het die mandaat om hulpbronne te mobiliseer vir infrastruktuur en volhoubare ontwikkelingsprojekte in BRICS en ander ontluikende ekonomieë en ontwikkelende lande. Dit versterk die pogings van multilaterale en plaaslike finansiële instellings vir wêreldwye groei en ontwikkeling.


F. Aanstellings
Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
25. Heraanstelling van mnr Ebrahim Mohamed as Kommissaris van die Nasionale Verbruikerskommissie.

26. Raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel:
a.Me Fezile Flip Wetes;
b. Mnr Lulama Lloyd Mayedwa;
c. Mnr Tom Tshitangano;
d. Mnr Samuel Mlangeni;
e. Me Lerato Herriette Mothae;
f. Dr Matshwenyego Sarah Mohlala;
g. Me Patricia Lindi Tlou; en
h. Me Anna-Marie Lotter (herbenoeming as die dti-verteenwoordiger).

26. Nasionale Instituut vir Metrologie van Suid-Afrika (NMISA):
a. Mr Ndwakhulu Samuel Mukhufhi (heraanstelling as Hoof Uitvoerende Beampte).

27. Nie-uitvoerende lede van die NMISA-raad:
b. Mnr Molelekoa Petrus Mohlomi;
c. Mnr. Odirile Welkom Dingoko;
d. Me Bavelile Gloria Hlongwa;
e. Me Nobom Gcinashe Mfabana;
f. Me Lindie Lankalebalelo;
g. Me Jabu Vuyiswa Mogadime (heraanstelling); en
h. Dr Tshengedzeni Demana (die dti-verteenwoordiger).

28. Heraanstelling van mnr Rakesh Garach as Nie-Uitvoerende Voorsitter van die Raad van Trustees van die Nasionale Bemagtigingsfonds.

29. Suid-Afrikaanse Raad vir Spesiale Risikobestuursvereniging:
a. Mnr Norman Tinyiko Baloyi (Nie-Uitvoerende Direkteur en Voorsitter);
b. Me Priscilla Onkgodisitse Mokonyane (Nie-Uitvoerende Direkteur en Ondervoorsitter);
c. Me Bajabulile Luthuli (Uitvoerende Direkteur); en
d. Mnr Christiaan Johannes van Dyk (Nie-Uitvoerende Direkteur).

Navrae:
Me Phumla Williams
(Waarnemede Kabinetswoordvoerder)
Sel: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore