Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 26 Junie 2019

Die Kabinet het op Woensdag, 26 Junie 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die Omgewing

1. Staatsrede (SoNA)

1.1. President Cyril Ramaphosa se eerste SoNA van die sesde demokratiese administrasie verlede week het Suid-Afrikaners geïnspireer en aangevuur om saam te werk aan 'n gedeelde voorspoedige toekoms. SoNA 2019 dui die rigting aan vir die implementering van die verkiesingsmandaat wat die regerende party van ons mense ontvang het.

1.2. Dit dui aan dat ons Suid-Afrikaners se lewens slegs deur samewerking kan verbeter en die land se ekonomie net kan laat groei deur die voortgesette werklikhede van werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof te bied. President Ramaphosa se beroep dat 'n nuwe sosiale ooreenkoms gesluit moet word, verg dat alle Suid-Afrikaners ’n bydrae moet lewer en moet saamwerk om die land se uitdagings te pak en die weg te baan na vinniger ekonomiese groei.

1.3. Dit sluit in die uitbreiding van die nywerheidsektor, die versterking van die mynbedryf, die ondersteuning van die landbousektor, verbetering van ons jeug se vaardigheidsbasis en dat ons dit makliker moet maak vir toeriste om die land te besoek. As Suid-Afrikaners moet ons plaaslike nywerhede aanmoedig en ondersteun en plaaslike produkte koop.

1.4. Die harde werk wat die regering sal onderneem, word geanker in sewe sleutelprioriteite vir die volgende vyf jaar, wat uitvoering sal gee aan die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP), sowel as ons strewe om Visie 2030 te bereik.

1.5. Die debat oor SoNA het klem gele op die noodsaaklikheid om die ekonomie te herstel en die gebroke dele van ons staatsmasjinerie in die implementering van die verkiesingsmandaat te herstel. Dit sal ons lei na die Suid-Afrika waarna ons streef; die Suid-Afrika van ons drome, soos vervat in Visie 2030 van die NDP.

1.6. Die Kabinet doen 'n beroep op alle maatskaplike vennote, die sakesektor, arbeid, die burgerlike samelewing en politieke strukture om hul gesamentlike pogings te versterk om ons land 'n beter plek vir almal te maak; om gedeelde verantwoordelikheid te aanvaar en die land se vooruitgang te versnel.

1.7. Van die regering se kant af, sal ons, ons pogings verdubbel en verdriedubbel, soos deur die President bepaal, om struikelblokke tot ekonomiese groei uit die weg te ruim. Ons sal die kapasiteit van staatsinstellings uitbrei om in ons mense se behoeftes te voorsien. In Julie sal die onderskeie ministers hul begrotingsredes lewer, waarin praktiese planne om die President se visie vir die nasie te verwesenlik, verder onthul sal word.   

2. Jeugmaand

2.1. Jeugmaand in Junie is 'n skril herinnering aan die rol wat ons jeug gespeel het in die skep van toestande wat tot ons vryheid gelei het. Die President se staatrede beklemtoon ekonomiese groei en werkskepping vir ons jeug as die brandpunt van die Sesde Administrasie se werk. Die President het voor sy staatsrede met verskeie sektore van die jeug, insluitende gestremdes, jeug in sakeondernemings, in die kunsmilieu en in die akademie, gesprek gevoer onder leiding van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap met die tema: "25 jaar van demokrasie - viering van jeugaktivisme". Hierdie presidensiële jeugdialoog bevestig die voortgesette probleme en uitdagings wat ons jeug in die gesig staar en wat dringende aandag van die regering verg.

2.2. In dié verband wil ons bevestig dat verskeie regeringsprogramme, insluitend die Departement van Basiese Onderwys se Tweede Kanseprogram, die Nasionale Jeugdiens en die Insiatief vir  Jeugindiensneming, 'n groot rol speel in die voorbereiding van ons jeug vir die werksomgewing.

2.3. Ons moet egter steeds ons pogings verdubbel en verdriedubbel om broodnodige werk vir ons jongmense te skep. Om dit te bereik, moet ons ons ekonomiese groei aanvuur soos deur ons President bepaal. Ons weet dit sal nie maklik wees nie, ons weet dat daar nie vinnige oplossings is om die ekonomie om te swaai nie, maar ons weet ook dat dit noodsaaklik is ter wille van ons land en ons jeug.

2.4. Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore van die samelewing om die President se voorbeeld te volg en om jongmense aktief te betrek sodat ons saam praktiese oplossings kan vind vir die uitdagings wat hulle ervaar. Ons sal ook ons deel doen om die land se ekonomiese prestasie te verbeter en werksgeleenthede vir ons jeug te skep.

3.  Hergroepering van die regering

3.1. Suid-Afrikaners het aan die sesde administrasie 'n duidelike mandaat gegee om inklusiewe ekonomiese groei te versnel, en om met groter dringendheid op te tree om armoede die hoof te bied, regeringsdienste te verbeter, korrupsie te beveg en staatskaping te beëindig.

3.2. Die Kabinet bevestig dat die makro-herorganisering van die regering, dienslewering aan ons mense sal stroomlyn en verbeter deur 'n naatlose, koste-effektiewe en doeltreffende regering wat beter op die behoeftes van Suid-Afrikaners reageer.

4. Handelsooreenkomste

4.1  Die Kabinet verwelkom die ondertekening van 93 ooreenkomste tussen Suid-Afrikaanse verskaffers en Chinese maatskappye om plaaslike produkte vir uitvoer na China te koop, met 'n kontrakwaarde bereken op R27 miljard, wat groei en werkskepping sal versterk.

Daarbenewens was een van die ondertekende ooreenkomste 'n beleggingsooreenkoms wat die Beijing Auto Industrial Cooperation se belegging in die motorvervaardigingsaanleg in die industriële ontwikkelingsgebied van Coega dek. Dit is 'n belegging om voertuie in Suid-Afrika vir die Suid-Afrikaanse mark te bou, maar ook vir markte elders. Hierdie transaksies is deel van verpligtinge wat uit die bestaande omvattende strategiese vennootskapsooreenkoms van 2010 voortgevloei het, en die agt groot oooreenkomste wat by die Forum oor samewerking tussen China en Afrika gesluit is.

5. Kwartaallikse indiensnemingstatistieke

5.1. Statistieke Suid-Afrika het die afgelope week die Kwartaallikse Indiensnemingsopname vir die eerste kwartaal van 2019 vrygestel.

5.2. Bevindings dui op 'n toename van 22 000 werksgeleenthede (+ 0,2%) van 10 152 000 na 10 174 000 in die formele nie-landbousakesektor. Dit was hoofsaaklik die gevolg van toenames in die volgende bedrywe: gemeenskapsdienste, die mynbou- en steengroefbedryf, vervaardiging- en sakedienste.

5.3. Totale indiensneming het tussen Maart 2018 en Maart 2019 met 76 000 of 0,8% gestyg.

5.4. Die Kabinet neem kennis van hierdie gunstige ontwikkeling, maar besef dat daar nog baie gedoen moet word om die prestasie van alle sektore van ons ekonomie te verbeter en broodnodige werksgeleethede te skep. Met dié doel voor oë onderneem die Kabinet om met alle sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing, insluitende die private sektor saam te werk.

6. Belastingseisoen
6.1. Die inkomste uit inkomstebelasting verseker dat die regering die vermoë het om broodnodige dienste en maatskaplike ondersteuning aan miljoene minderbevoorregte gemeenskappe te verskaf.

6.2. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om hul belastingopgawes vir die 2018/19-belastingseisoen voor te berei. Toepaslike en doeltreffende inkomste-invordering stel die regering in staat om fiskale soewereiniteit te verseker.

6.3. Belastingbetalers wat geregistreer is vir eFiling of wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se nuwe MobiApp gebruik, kan hul inkomstebelastingopgawes vanaf 1 Julie 2019 indien. Suid-Afrikaners wat minder as R500 000 per jaar verdien en aan sekere ander kriteria voldoen, hoef nie belastingopgawes in te dien nie.

7. Misdaadbekamping

7.1. Die Kabinet het met kommer kennis geneem van die vlaag van moorde op wetstoepassers. In September 2018 is daar berig dat 28 lede van die polisie vermoor is. Sedert die begin van 2019 is 26 polisiebeamptes vermoor.

7.2. Die mees onlangse gevalle is dié van Sersant Zephania Dladla, Konstabel Nomasonto Mhlanga en Konstabel Nhlamulo Vukeya. Die Kabinet betuig sy opregte meegevoel met hul naasbestaandes, vriende en kollegas.

7.3. Die Kabinet veroordeel die aanvalle en moorde ten sterkste. Polisiebeamptes waag hul lewens om ons gemeenskappe te beskerm. Ons moet almal met wetstoepassingsagentskappe saamwerk om te verseker dat die oortreders wat hierdie gruwelike misdade gepleeg het in hegtenis geneem word en voor die volle mag van die reg te staan kom.

7.4. Die Kabinet prys die regstelsel wat gesorg het dat nege van die misdadigers hierdie jaar lewenslange gevangenisstraf opgelê is.

8. Skietvoorval op die Mosambiekse grens

8.1.  Die Kabinet neem kennis dat die Suid-Afrikaanse regering 'n hoëvlakspan na Mosambiek gestuur het om 'n skietvoorval waarin twee Mosambiekse polisiebeamptes op die KwaZulu-Natalse grens gesterf het, te ondersoek.

8.2.  Die span bestaan uit lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), en sal met hul Mosambiekse eweknieë oorlegpleeg. Hulle word gelei deur die SANDF se Hoof van Gesamentlike Bedrywighede, Luitenant-generaal, Barney Hlatshwayo, en die Adjunk Nasionale Kommissaris van die SAPD,  Luitenant-generaal Sehlahle Masemola.

8.3.  Die span is op 'n feitesending oor die skietvoorval. Daar word van hulle verwag om onder meer 'n gesamentlike ondersoekspan tussen Mosambiek en Suid-Afrika te bespreek.

8.4.  Die Kabinet versoek alle Suid-Afrikaners om vir die gevolgtrekkings en uitkomste van hierdie gesamentlike ondersoek te wag. Ons bly verbind tot samewerking met Mosambiek as 'n goeie buurland om die welsyn van al ons burgers te verseker.

9.  Konferensie van die Internasionale Arbeidsorganisasie

9.1.  Die Kabinet verwelkom President Ramaphosa se deelname aan die 108ste Sessie van die Internasionale Arbeidskonferensie wat tussen 10 en 21 Junie 2019 gehou is. Die President het die verslag van die Globale Kommissie oor die toekoms van werk formeel voorgelê. Hy was mede-voorsitter saam met die Eerste Minister van Swede, H.E. Stephan Lofven, na die konferensie.

9.2.  Die Minister van Indiensneming en Arbeid, mnr. Thulas Nxesi, het die President vergesel en het ook die drieledige afvaardiging gelei wat deelgeneem het aan verskillende komitees van die konferensie en voltallige besprekings, wat die verslag van die Direkteur-generaal van die Internasionale Arbeidsorganisasie bespreek het.

9.3.  Belangrike uitkomste van die konferensie het 'n gesamentlike Eeufeesverklaring van die partye ingesluit. Daarbenewens het die konferensie 'n nuwe Konvensie oor Geweld en Teistering in die Werkplek goedgekeur, wat gemik is om die beskerming van kwesbare werkers te verbeter. Hierdie uitkomste is belangrik in die stel van internasionale maatstawwe en riglyne om arbeidsregte en -standaarde te verhoog en te verdedig.

B.  Kabinetsbesluite

1.  12de Buitengewone Beraad

1.1.  Die Kabinet is in kennis gestel van die 12de Buitengewone Beraad om die operasionele fase van die Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied (AfCTA) en die Eerste Halfjaar-koördineringsvergadering van die Afrika-unie (AU) en die Streeksekonomiese Gemeenskappe (SEG’s) bekend te stel.

1.2.  President Ramaphosa is geskeduleer om die Suid-Afrikaanse afvaardiging te lei wanneer die 12de Buitengewone Beraad op 7 Julie 2019 in Niamey, Niger, gehou word.

1.3.  Suid-Afrika sal die voorsitterskap van die AU op 'n belangrike tydstip oorneem wanneer die vasteland die AfCTA sal implementeer; dit sal Afrika die grootste gemeenskaplike mark in die wêreld maak. Die AfCTA sal intra-Afrikahandel versterk, industrialisering herbevestig en die weg baan vir die betekenisvolle integrasie van Afrika in globale waardekettings en die globale ekonomie in die algemeen.

1.4.  Suid-Afrika bly verbind tot die Afrika-agenda en ondersteun plaaslike ekonomiese en politieke integrasie. Dit sluit in die versterking van die koördinasie tussen die AU-kommissie en die SEG’s om volhoubare ontwikkeling in 'n vreedsame en stabiele Afrika soos in Agenda 2063 voorsien word, te bereik.

1.5.  Suid-Afrika is ten volle verbind tot die AfCTA-proses met die oog op sy strategiese belang in die ekonomiese integrasie-agenda van die Afrika-kontinent en Suid-Afrika se ontwikkelingsagenda.

2.  2021 Munisipale Verkiesings

2.1.  Ter voorbereiding vir die 2021 Munisipale Verkiesings, het die Kabinet die instelling van 'n Interministeriële Komitee (IMK) oor Munisipale Verkiesings goedgekeur, asook 'n tegniese forum om die komitee te ondersteun.

2.2. Die 2021 Munisipale Verkiesings sal die vyfde munisipale verkiesings sedert demokrasie wees. Die IMK sal saam met die Onafhanklike Verkiesingskommissie en ander tersaaklike liggame werk om te verseker dat die proses wat tot die plaaslike owerheidsverkiesings lei, met gemak ontvou.

2.3. Die volgende ministers sal deel van die IMK uitmaak: Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Voorsitter); Binnelandse Sake; Justisie en Korrektiewe Dienste; Finansies; en Staatsveiligheid, en die Minister in die Presidensie. Die tegniese ondersteuningspan sal die direkteure-generaal van dieselfde departemente wees.

C. Toekomstige gebeure

1.  Groep van Twintig (G20) -leiersberaad

1.1. President Ramaphosa lei die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 2019 G20-leiersberaad. Dit sluit in die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, dr Naledi Pandor; die Minister van Finansies, mnr. Tito Mboweni; en die Minister van Handel en Nywerheid, mnr. Ebrahim Patel.

1.2. President Ramaphosa sal ook 'n afvaardiging van amptenare en Suid-Afrikaanse sakebestuurders by 'n rondetafelbespreking met vooraanstaande Japanese sakebestuurders lei. Die rondetafelbespreking sal daarop gemik wees om bewustheid van handels- en beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika te bevorder, die kommer van potensiële Japanese sakevennote te besreek en moontlike handels- en beleggingsmoontlikhede te identifiseer en te ontwikkel.

1.3. Die rondetafelbesprekings word aangebied in vennootskap met die Business Council for International Understanding (BCIU), 'n toonaangewende Amerikaanse internasionale ondernemingsfonds, en die Japanese Eksterne Handelsorganisasie (Jetro).

1.4. Die rondetafelbesprekings word in tandem beskou met 'n toekomstige gebeurtenis op die rand van die Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika se Ontwikkeling (TICAD), wat van 28 tot 30 Augustus 2019 in Yokohama, Japan gehou word. Japan is Suid-Afrika se vyfde grootste uitvoervennoot en negende grootste invoervennoot.

1.5. Suid-Afrika se deelname word deur die volgende sleutelpilare gelei: Die bevordering van nasionale belang om binnelandse doelwitte te bereik; die verbetering van die Afrika-agenda en die bevordering van Afrika se volgehoue ontwikkeling; beïnvloeding van die globale multilaterale argitektuur; en die bevordering van die Suide se agenda deur die versterking van Suid-Suid-samewerking en Noord-Suid-dialoog.

2.    Mandela-maand

2.1. Met die naderende 10de herdenking van Nelson Mandela Internasionale Dag in Julie, doen die Kabinet ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die geleentheid te gebruik om Madiba se nalatenskap te handhaaf deur kollektief teen armoede op te tree onder die tema: "Tree daadwerklik op, inspireer verandering, maak elke dag 'n Mandela-dag".

2.2  Suid-Afrikaners kan as aktiewe burgers optree deur by hul gemeenskappe en verskeie organisasies aan te sluit wat inisiatiewe sal onderneem om honger en dakloosheid uit te roei, veiliger gemeenskappe te bou en te verseker dat kinders toegang tot onderwys het.

2.3. Laat ons almal aan hierdie wêreldwye inisiatief wat na een van ons ikoniese leiers vernoem is, deelneem; laat ons volhoubare programme bou wat nie net tot die maand Julie beperk is nie, maar ook daarna sal voortgaan. Kom ons tree daadwerklik op, inspireer verandering en maak elke dag 'n Mandela-dag.

D. Boodskappe

1. Meegevoel

1.1. Die Kabinet spreek sy opregte meegevoel uit teenoor alle bedroefde naasbestaandes en vriende wat geliefdes verloor het in padongelukke. Dit sluit in die ongeluk op die R81 in Maphalle, Limpopo, wat baie jong lewens geëis het, en die volgehoue bloebad op ons paaie waardeur talle Suid-Afrikaners dwarsoor die land geraak word. Die Kabinet doen 'n beroep op alle padgebruikers om die verkeersreëls te gehoorsaam. Dit vereis waaksaamheid en bedagsame gedrag teenoor ander padgebruikers.

2. Gelukwense

Die Kabinet prys die volgende:

2.1. Die nasionale vroue sokkerspan, Banyana Banyana, wat ons vlag hoog gehou het met hul eerste wedstryd van die FIFA Vrouewêreldbeker.

2.2. Mnr Botha Msila, 'n Suid-Afrikaanse sportliefhebber, wat betyds in Egipte aangekom het vir die begin van die opening van die 2019 Afrika-beker. Mnr Msila, wat hoofsaaklik van Kaapstad af geryloop het, is bygestaan deur sportuitsaaier, Mnr Robert Marawa, om 'n vlug van Kenia na Kaïro te verseker om Bafana Bafana te ondersteun.

2.3. Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Me Sho Madjozi, wat die toekenning vir die beste nuwe internasionale optrede by die 2019 BET-toekennings in Los Angeles, VSA verower het.

2.4.  'n Span van ses Suid-Afrikaanse voorgraadse studente (van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand) wat die eerste prys by die Internasionale Supercomputing-konferensie in Frankfurt, Duitsland ingepalm het, waar hulle  met 13 spanne meegeding het.

Die span was onder toesig van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) se Sentrum vir Hoëprestasie-rekenaartegnologie, wat 'n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie is en een van die drie pilare van Suid-Afrika se kuberinfrastruktuurstelsel.

2.5. Die Junior Springbokke vir die veggees waarmee hulle die bronsmedalje by die Wêreld Rugby Onder-20-kampioenskap ingepalm het.

Die kabinet wens die volgende alles van die beste toe:

2.6. Die nasionale manspan, Bafana Bafana, vir die 2019 Afrika-Nasiebekertoernooi in Egipte.

2.7. Die Proteas se nasionale netbalspan, wat aan die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland, van 12 tot 21 Julie 2019 deelneem. Die nasionale netbalspan beklee tans die topposisie in Afrika en is vyfde op die wêreldranglys. Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, mnr. Nathi Mthethwa, het die Proteas vergesel om die span te ondersteun en die oorhandiging te ontvang aangesien Suid-Afrika voorberei om die 16de Wêreldbeker-toernooi in 2023 aan te bied.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Sel: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore