Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 22 Augustus 2018

Die Kabinet het op Woensdag 22 Augustus 2018 by Tuynhuys in Kaapstad vergader.

A.      Kwessies in die omgewing
1.      Ekonomie

1.1.   Die onlangse ekonomiese ontwikkelinge in Turkye het tot ’n beduidende waardevermindering van ontluikende markte se geldeenhede, insluitend die Suid-Afrikaanse rand, gelei.

1.2.   Kapitaalbeweging uit hierdie markte het versnel en die opbrengs van effekte het gestyg, wat ekonomiese groei en werkskepping vertraag. Turkye se beduidende buitelandse-valuta gedenomineerde laste en relatief lae buitelandse valuta-reserwes het die land vatbaar gemaak vir groot en skadelike kapitaaluitvloei, terwyl monetêre beleid in gevorderde ekonomieë begin normaliseer het.

1.3.   Die Kabinet wys daarop dat Suid-Afrika verskeie sterk punte het, insluitend 'n onafhanklike sentrale bank, 'n inflasieteikenstelsel met inflasie konsekwent binne die teikenreeks, lae vlakke van buitelandse valuta-skuld en 'n duidelike fiskale konsolidasieplan. Die Kabinet is verbind tot die handhawing van hierdie sterk punte.

1.4.   Die regering sal terselfdertyd voortgaan met hervormings om die groeipotensiaal van die ekonomie te verhoog en die geloofwaardigheid van ons beleidsbesluite te verbeter.

1.5.   Die regering sal voortgaan om met die sake-, arbeid- en burgerlike sektore saam te werk om vertroue in die ekonomie te herstel en die strukturele beperkings wat ekonomiese groei vertraag uit weg te ruim. Deur saam te werk, kan ons planne omskep in daadwerklike optrede om die Suid-Afrikaanse ekonomie vorentoe te beweeg.

2.    Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW)

2.1.   Die Kabinet verwelkom die verslag van die ministeriële paneel van kundiges wat die lys van items wat van BTW vrygestel is, hersien het en aanbeveel dat witbrood, broodmeel, koekmeel, sanitêre produkte en skooldrag ingesluit word.

Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om hul menings oor die verslag, wat tot 31 Augustus 2018 vir openbare kommentaar beskikbaar is, te lug. Die Minister van Finansies, mnr Nhlanhla Nene, sal hierná 'n ingeligte besluit maak oor watter voorstelle om te implementeer. Voorleggings kan skriftelik aan vatsubmissions@treasury.gov.za gerig word.

3.    Vrouemaand

3.1.   Die Kabinet doen 'n beroep op alle burgers om steeds saam te werk om die veiligheid en bemagtiging van vroue in ons samelewing te verseker. Ons loof alle sektore van die samelewing wat inisiatiewe begin het wat daarop gemik is om geslagsgebaseerde geweld (GBV) te beveg.

3.2.   Hoewel Vrouemaand tot 'n einde kom, huldig die Kabinet steeds vroue in dieselfde gees as wat ons die vroue huldig wat in 1956 na die Uniegebou in Pretoria marsjeer het in protes teen 'n wrede regime wat gepoog het om diskriminerende paswette te gebruik om hul waardigheid te ondermyn.

3.3.   Sedert die begin van ons demokrasie in 1994, is beduidende vordering gemaak om te verseker dat vroue dieselfde regte geniet as hul manlike eweknieë in onderwys, indiensneming, eiendom, erfenis en geregtigheid. In die bestuur van 'n inklusiewe ekonomie werk ons hard om die volle deelname van vroue in die ekonomie te verseker en 'n inklusiewe ekonomie te bestuur.

3.4.   As deel van die Vrouedagvierings, bied die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, in vennootskap met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en Total South Africa, op Donderdag 23 Augustus 2018 sy 19de Jaarlikse Vroulike Entrepreneur-toekennings in Oos-Londen in die Oos-Kaap aan.

3.5.   Die regering beplan om saam met sy vennote 'n nasionale gender-beraad te hou om eenstemmigheid te bereik oor die beste maniere om geslagsgebaseerde geweld te hanteer.

3.6.   Die Minister van Polisie, mnr Bheki Cele, het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemoedig om voorkeur te gee alle aan sake rakende die misbruik van vroue en kinders. Wanneer 'n vrou of 'n kind 'n misdaad of mishandeling aanmeld, moet dit opgevolg word met die dringendheid wat dit verdien en ten volle ondersoek en afgehandel word.

4.   Grondonteiening

Die Kabinet bedank Suid-Afrikaners wat deelgeneem het aan die openbare parlementêre verhore oor die moontlike hersiening van Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, wat daarop gemik is om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat. Die Parlement se konstitusionele hersieningskomitee het verhore in alle provinsies afgesluit. Beraadslaging oor hierdie verhore, sowel as skriftelike insette sal nou deur die Parlement oorweeg word.

Besprekings oor grondbesit in Suid-Afrika is noodsaaklik en deur saam te werk kan ons verseker dat grondhervormings verder daartoe bydra om ons ekonomie, veral in die landbousektor, verbeter en die ongelykhede met betrekking tot grondbesit in ons land uit die weg te ruim.

President Cyril Ramaphosa het 'n interministeriële komitee onder voorsitterskap van Adjunkpresident David Mabuza aangestel, om maatreëls te koördineer en te implementeer om die herverdeling van grond te versnel, die uitbreiding van sekerheid oor verblyfreg, die voorsiening van landboubystand en die herstel van ruimtelike ongelykheid binne 'n wye en omvattende grondherverdeling- en landbou-ontwikkelingsprogram.

5.    Sanitasie geskik vir onderwys (SAFE) -inisiatief

5.1.   Die Kabinet verwelkom die bekendstelling deur President Ramaphosa van die SAFE-inisiatief as deel van die regering se reaksie op die sanitasie-uitdagings wat sommige van die land se armste skole in die gesig staar.

5.2.   Die SAFE-inisiatief word deur die Departement van Basiese Onderwys gelei, in vennootskap met die National Education Collaboration Trust en die Nelson Mandela- stigting.

5.3.   Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore van die samelewing, insluitend groot sake-ondernemings en nie-regeringsorganisasies, om die inisiatief, wat gerig is op die verligting van infrastruktuur-agterstande by skole in arm gemeenskappe, te ondersteun.

6.    Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS)

Die Kabinet is deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, me Naledi Pandor, ingelig oor die uitdagings wat NSFAS in die gesig staar. Om die uitdagings wat NSFAS ervaar met die uitbetaling van fondse aan verdienstelike studente te stabiliseer en daadwerklike die hoof te bied, ondersteun die Kabinet die aanstelling van die administrateur, dr Randall Carolissen.

Die aanstelling van die dr Carolissen ontbind die huidige NSFAS-raad. Die Administrateur, in samewerking met die bestuur, sal toegewyde aandag gee aan die agterstande en ander uitdagings wat die entiteit in die gesig staar om te verseker dat studentebefondsing vir 2019 optimaal geadministreer word, en dat alle uitstaande kwessies van 2017 en 2018 opgelos word.

7.    Personeelinkortings

Die Kabinet is besorg oor onlangse aankondigings van moontlike afleggings en werksverliese in sommige nywerhede, insluitend mynbou en die media. Ons herhaal ons beroep op die saksektor om afleggings slegs as 'n laaste uitweg te oorweeg, en om ander beskikbare en innoverende maniere te ondersoek om werksgeleenthede te behou.

Die regering werk steeds saam met die sake- en arbeidsektor en is oortuig daarvan dat ons die ekonomie deur samewerking kan laat groei en nuwe werksgeleenthede kan skep.

8.   Uitsaaiwese

Die Kabinet verwelkom die nuus dat die SAUK Engelse Premierliga-wedstryde sal vertoon. Terwyl dit 'n inkomstegeleentheid vir die SAUK mag wees, hoop die regering dat die vertoning van hierdie wedstryde nie plaaslike sport sal benadeel nie en ook nie die openbare uitsaaier se finansiële posisie sal verswak nie, gegewe die huidige likiditeitsuitdagings.

Die Kabinet neem kennis van die uitnodiging om aansoek te doen vir die lisensiëring van spektrum vir die voorsiening van subskripsie-uitsaaidienste deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika.

Terwyl sake rakende lisensiëring, ooreenkomstig Artikel 192 van die Grondwet, die eksklusiewe domein van die reguleerder is, moet die lisensiëringproses op ‘n manier geskied wat nie gratis uitsaaisdienste (free-to-air) destabiliseer tydens die oorgang van analoog na digitaal of onmededingende optrede aanmoedig nie. Dit moet verseker dat nuwe lisensiehouers regverdig en openlik kan meeding.

B.   Kabinetsbesluite

1.   Die Kabinet keur goed dat die ooreenkoms waarvolgens die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied gevestig sal word, vir bekragtiging aan die Parlement voorgelê word. Hierdie ooreenkoms sal toegang tot nuwe en dinamiese markte in die res van Afrika verseker, veral nuwe markte in Wes- en Noord-Afrika. Dit sal ook uitvoergeleenthede vir Suid-Afrikaanse produkte bied. Dit sal verder ook belyn wees met die geïntegreerde ontwikkelingsbenadering op die vasteland en sal nywerheidsontwikkeling, belegging en werkskepping op die vasteland stimuleer

2.   Studie oor spektrumlisensiëring

Die Kabinet het die bevinding van die opdragstudie deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad goedgekeur, wat daarop gerig was om die hoeveelheid spektrum vir oop toegang en lisensiëring vir die bedryf te bepaal. Die studie bevestig dat die spektrum gelisensieer kan word aan beide die Wireless Open Access Network (WOAN) en die bedryf.

Dit sal onder meer aan die nasionale beleidsverpligtinge voldoen, die koste van kommunikasie stabiliseer. die toegangsperke vir klein en medium maatskappye uit die weg ruim en die huidige beleggings handhaaf. Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, dr. Siyabonga Cwele, sal 'n volledige media-inligtingsessie hou om hierdie verslag uiteen te sit.

3.   Vordering met Noordwes

Die Kabinet het die vierde vorderingsverslag oor die Artikel 100 (1) -ingryping in Noordwes ontvang. Die Kabinet is tevrede met die implementeringsfase, waartydens verskeie mylpale bereik is met betrekking tot die institusionalisering van die projek in die provinsie.

  • Die Memorandum van Verstandhouding van die Interministeriële Taakspan (IMTT) op Noordwes tussen die nasionale en provinsiale regering is onderteken;
  • Vyf administrateurs vir die departemente wat onder Artikel 100 (1) b geplaas is, is aangestel en formeel as rekenpligtige beamptes bevestig;
  • Die amptelike verslae en riglyne tussen die onderskeie nasionale ministers en provinsiale LUR'e is onderteken ooreenkomstig Artikel 100 (1) (b); en
  • 'n Algehele koördineerder vir die bestuur van die Noordwes-ingryping is aangestel.
     

Die Kabinet spreek sy waardering uit vir die onmiddellike ingryping deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Munisipale Infrastruktuur-ondersteuningsagent om die rioolkrisis in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit in Noordwes te pak. Die storting van riool, wat 'n gesondheidsgevaar vir die gemeenskap ingehou het, is skoongemaak.

Die Kabinet prys die werk wat tot op hede deur die administrateurs onder leiding van die IMTT gedoen is, met Minister Nkosazana Dlamini Zuma as voorsitter.

4.   Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP)

Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die hersiende Geïntegreerde Hulpbronplan vir openbare insette.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan identifiseer die behoefte vir Suid-Afrika om in 'n sterk netwerk van ekonomiese infrastruktuur te belê, wat geskep is om die land se medium- en langtermyn ekonomiese en sosiale doelwitte te bevorder. Energie-infrastruktuur is 'n kritieke komponent wat ekonomiese aktiwiteit en groei regoor die land bevorder; dit moet kragtig en omvangryk genoeg wees om in nywerheids-, kommersiële en huishoudelike behoeftes te voorsien.

Die finalisering van die Geïntegreerde Hulpbronplan sal rolspelers in die bedryf sowel as verbruikers gerusstel oor die sekerheid van elektrisiteitsvoorsiening op die medium- tot langtermyn.

Die Minister van Energie, mnr Jeff Radebe, en die departement sal die konsepverslag op Vrydag 24 Augustus met die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad bespreek. Dit sal ook in die Staatskoerant en op die Departement van Energie se webwerf gepubliseer word (www. energy.gov.za) nie later nie as Maandag 27 Augustus 2018 nie.

5.   Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Regering se Kommunikasiebeleid, wat regoor die regering van toepassing sal wees. Die beleid bied norme en standaarde vir regeringskommunikasiepraktisyns. Dit dwing ook alle staatsdepartemente om 'n kommunikasiebegroting en 'n ten volle befondsde personeelkapasiteit te voorsien. Die beleid sal die huidige Gedragskode vir die Staatsdiens aanvul.

6.   Die Kabinet verleen goedkeuring aan die implementering van die Finale Strategie vir die Hantering van Lugbesoedeling in Suid-Afrika se Digbevolkte Lae-inkomste Gemeenskappe. Die strategie bied 'n gekoördineerde benadering tot die vermindering van lugbesoedeling wat verband hou met fossielbrandstof in digevolkte lae-inkomste gemeenskappe.

Die huidige lugsirkulasie in hierdie gemeenskappe oorskry die Nasionale Omgewingsgehalte-standaarde soos uiteengesit in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte, 2004 (Wet 39 van 2004). Die strategie maak voorsiening vir ingrypings om besoedeling te verminder en beveel 'n bewusmakingsprogram aan wat die gesondheidsimpak van voortgesette besoedeling sal beklemtoon. Dit bied ook alternatiewe energie-opsies.

7.   Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Groen Vervoer Strategie, wat sal bydra tot die vermindering van kweekhuisgas-uitstraling (GHG) in die omgewing. Tans verteenwoordig die vervoersektor 10,8% van die totale GHG-uitstraling, waarvan padvervoer vir 91,2% verantwoordelik vir.

Die strategie stel 'n aantal ingrypings voor wat uitstraling sal verminder. Dit beveel alternatiewe vervoermiddels aan wat minder GHG in die omgewing sal uitstraal. Die strategie het reeds in 2017 deur ’n proses van openbare raadpleging gegaan.

8.   Die Kabinet keur goed dat die handves vir die vestiging van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Lugvaartveiligheidsorganisasie (SASO) aan die Parlement voorgelê word vir goedkeuring. Die handves voorsien 'n wetlike en institusionele raamwerk vir die vestiging van SASO, wat daarop gerig is om die SAOG-lidlande te help met toesig oor hul burgerlike lugvaartveiligheid. Dit sal ook die ontwikkeling van doeltreffende burgerlike lugvaartinfrastruktuur in die SAOG-lidlande fasiliteer.

9.   Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Witskrif oor Kuns, Kultuur en Erfenis van 2018. Die Witskrif herroep elemente van die Witskrif oor Kuns, Kultuur en Erfenis van 1996. Die Witskrif is 'n samevatting van die hersiening van die 1996-Witskrif, wat prestasies in alle fasette van kuns, kultuur en erfenis waardeer het en wat weerspieël is op gebiede wat 'n uitdaging vir die bevordering van nasiebou en sosiale samehorigheid in ons demokrasie was.

Die Witskrif is daarop gerig om 'n dinamiese, lewendige en 'n getransformeerde Suid-Afrikaanse kuns, kultuur- en erfenissektor te skep, wat sal bydra tot nasiebou, sosiale samehorigheid en sosio-ekonomiese insluiting.

10.  Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Nasionale Beleidsraamwerk vir Onderwater Kulturele Erfenis, wat ’n samevoeging is van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie se Konvensie, die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 1999 (Wet 25 van 1999) en ander tersaaklike nasionale wetgewing.

Die beleid word ondersteun deur die beginsel dat kulturele erfenis aan alle mense van Suid-Afrika behoort. Dit identifiseer 'n verskeidenheid belanghebbendes en optredes om onderwater kulturele erfenis te bevorder, en om bewusmaking van die betekenis en kapasiteitsbou daarvan te bevorder.

11.  Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor se 2018- en 2019-Jaarlikse Seëlprogram. Die seëls weerspieël Suid-Afrika se diverse kultuur, nasionale identiteit, geskiedenis, ryk erfenis, helde en heldinne en die omgewing, sowel as sosio-ekonomiese ontwikkeling. Die seëls dien ook as klein ambassadeurs vir Suid-Afrika terwyl hulle dwarsoor die wêreld deur die posnetwerk reis.

12.  Die Kabinet verleen goedkeuring aan die ontwerpe van die gedenkmunte wat in 2019 deur die Muntmaatskappy uitgereik sal word.

C.   Wetsontwerpe

1.   Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Kieswette van 2018 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp wysig drie dele van wetgewing, naamlik die Wet op die Verkiesingskommissie, 1996 (Wet 51 van 1996); die Kieswet, 1998 (Wet 73 van 1998) en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Verkiesing, 2000 (Wet 27 van 2000).

Die Wetsontwerp bring 'n aantal wysigings aan om die verkiesingsprosesse van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aan te pas. Sommige van die voorgestelde veranderinge bepaal dat die OVK alle beskikbare bronne van data kan gebruik om inligting te verkry wat nodig is om die nasionale gemeenskaplike kieserslys saam te stel en in stand te hou. Dit maak ook voorsiening vir die verbod op die gebruik van die OVK se naam en sy akroniem, sy logo-ontwerpe of materiële gebruik van enige iets wat in besit van die OVK is.

2.   Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Elektroniese Kommunikasie aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Elektroniese Kommunikasie, 2005 (Wet 36 van 2005) om uitvoering te gee aan die Witskrif vir ’n Nasionale Geïntegreerde Beleid oor Inligting- en Kommunikasietegnologie, vir die transformasie van Suid-Afrika tot 'n inklusiewe en innoverende kennis- en digitale samelewing. Dit maak ook voorsiening vir die transformasie van die sektor deur die handhawing van breëbasis swart ekonomiese bemagtiging.

Dit maak verder voorsiening vir die vermindering van die koste van kommunikasie. Dit verminder ook duplisering van infrastruktuur en moedig diensgebaseerde mededinging deur 'n WOAN-diens aan.

3.   Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Finansiële Aangeleenthede van 2018 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die wysigings is in vyf dele van wetgewing verdeel:

  •  Die Insolvensiewet van 1963 om die regulering van die oor-die-toonbank-afgeleide mark te versterk, ooreenkomstig G20-verpligtinge;
  • Die Wet op Militêre Pensioene van 1976, om diskriminerende voorsiening die hoof te bied en geslagsneutraalheid te verseker deur verskillende soorte verhoudings te erken;
  • Die Bankwet van 1990, om kwalifiserende maatskappye in staatsbesit toe te laat om aansoek te doen vir banklisensies, onderworpe aan goedkeuring deur die Uitvoerende Gesag;
  • Die Wet op Regeringsdienspensioene van 1996, om die skoonbreekbeginsel in die geval van egskeiding te verander om te verseker dat lede se pensioenuitbetalings aan voormalige eggenote met egskeiding nie omgeskakel word na 'n skuldverpligting nie; en
  • Die Wet op die Ouditprofessie van 2005, om die uitdagings en beperkings waarmee die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeurs te doen kry in die uitvoer van sy regulatoriese en toesighoudende verantwoordelikhede, die hoof te bied.
     

4.   Die Kabinet keur goed dat die Militêre Dissipline Wetsontwerp van 2018 aan die Parlement voorgelê word. Dit hanteer die administrasie van die militêre regstelsel, die skep en aanstelling van militêre polisiedienste en dissiplinêre verhore.

Die Wetsontwerp sal die huidige Wet op Militêre Dissipline Aanvullende Maatreëls, 1999 (Wet 16 van 1999) herroep. Hierdie wetsontwerp sal die militêre dissipline van die SANW met die VN belyn, veral ten opsigte van soldate tydens vredesopdragte.  

5.   Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Maatskappye van 2018 in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp wysig die Maatskappywet, 2008 (Wet 71 van 2008). Dit verminder die regulatoriese en administratiewe laste vir sake-eienaars en verhoog Suid-Afrika se aantreklikheid vir potensiële beleggers.

D.  Toekomstige gebeure

1.   Toerismemaand, wat in September gevier word, is reeds op 16 Augustus 2018 in Tsitsikamma in die Oos-Kaap van stapel gestuur onder die tema: "Toerisme en die digitale transformasie". Dit weerspieël die tema van die Wêreld Toerisme-organisasie se Wêreld Toerismedag wat op 27 September 2018 gehou word.

Volgens die Wêreldraad op Reis en Toerisme se verslag wat in November 2016 vrygestel is, het toerisme 1,55 miljoen mense in Suid-Afrika direk en indirek in diens geneem en sy regstreekse bydrae tot die bruto binnelandse produk was R118 miljard.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie belangrike sektor van die ekonomie te ondersteun. Dit is ook belangrik dat ons 'n meer inklusiewe toerismesektor tot stand bring, wat entrepreneurskap, ekonomiese geleenthede en werksgeleenthede in ons gemeenskappe ontsluit.

2.   Die Kabinet verleen goedkeuring aan die 2018-program vir Staatsdiensmaand onder die tema: "Thuma Mina: Openbare Diens aan die Mense: Batho Pele: "Ons behoort, ons gee om en ons dien". Die volledige maandprogram van aktiwiteite sal op die regering se webwerf beskikbaar gestel word (www.gov.za).

3.   Die SAPD se Nasionale Herdenkingsdag op 2 September 2018, word reeds op 31 Augustus van stapel gestuur met herdenkingsaktiwiteite. Dit is ter herinnering aan polisiebeamptes en reserviste wat in die uitvoer van hul pligte dood is en dus die hoogste prys in diens van die land betaal het.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die lewens van hierdie helde en heldinne wat aan diens gesterf het, te erken en te vier. 'n Beroep word op alle gemeenskappe regoor die land gedoen om die landsvlag teen halfstok te hang en om 'n oomblik van stilte tydens alle godsdienstige seremonies in die tydperk 31 Augustus tot 2 September 2018 te hou as 'n simbool van steun aan die SAPD.

4.   Suid-Afrika sal die Internasionale Konferensie oor Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Bestuur, wat deur die internasionale navorsingsgemeenskap gereël is, van 24 tot 25 Augustus 2018 in Kaapstad aanbied. Die konferensie, wat geleenthede aan deelnemers bied om hul idees en ervarings met 'n wêreldwye gehoor te deel, bevestig weer dat Suid-Afrika 'n voorkeurbestemming vir wêreldgebeure is.

5.   Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om deel te neem aan aktiwiteite om Erfenismaand in September te vier. Erfenismaand word jaarliks herdenk om die publiek aan te moedig om hul eenheid in diversiteit te vier en om 'n land te bou waar sy mense vir mekaar omgee en mekaar respekteer.

E.   Boodskappe

1.   Nominasies vir Nasionale Ordes

Die Kabinet beklemtoon President Ramaphosa se uitnodiging aan die publiek om burgers, sowel as vooraanstaande buitelanders wat volgens hulle die land se hoogste eerbewyse verdien, te nomineer vir Nasionale Ordes. Die sperdatum vir nominasies is 7 September 2018.

2.   Eid

Die Kabinet dra sy goeie wense oor aan die Moslemgemeeskap in Suid-Afrika en regdeur die wêreld met die herdenking van Eid-ul-Adha op Woensdag 22 Augustus 2018. Meer as 2 500 Moslems het van Suid-Afrika na die Koninkryk van Saoedi-Arabië gereis om by ’n geraamde twee miljoen Moslems van regoor die wêreld aan te sluit vir die Hajd-pelgrimstog.

3.   Meegevoel

3.1.  Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa sy meegevoel aan die naasbestaandes en vriende van Mama Zondeni Sobukwe, wat liefderik as die “Moeder van Azania” bekend gestaan het. President Ramaphosa het ’n amptelike kategorie 2-begrafnis vir haar aangekondig. Sy was ’n heldin van die weerstandsbeweging teen apartheid en ’n vryheidsvegter vir alle Suid-Afrikaners tot en met die aanbreek van demokrasie in die land. Op 28 April 2018 – en as ’n verlenging van Vryheidsdagvierings – het President Ramaphosa die Nasionale Orde van Luthuli in Silwer aan Mama Sobukwe toegeken. Sy was die eggenoot van die Pan Africanist Congress se stigterspresident, Robert Mangaliso Sobukwe. Vanjaar is ook die 40ste herdenking van Mnr Sobukwe se dood. Mama Sobukwe sal op Saterdag 25 Augustus 2018, by die Kroonvaal-begrafplaas in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap ter ruste gelê word.

3.2.  Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa sy meegevoel met die heengaan van Sy Eksellensie, Kofi Atta Annan, voormalige VN Sekretaris-Generaal (VNSG). Mnr Annan was die eerste swartman uit Afrika om VNSG te word en het sy posisie gebruik om die Afrika-agende te bevorder. Sy dood is ’n groot verlies vir die internasionale gemeenskap.

3.3.  Die Kabinet betuig voorts ook sy meegevoel met die heengaan van die wêreldbekende Amerikaanse sanger en burgerregte-aktivis, Aretha Franklin.

3.4.  Die Kabinet betuig saam met die internasionale gemeenskap sy meegevoel met die Italiaanse regering en sy mense, asook die slagoffers se naasbestaandes ná die ineenstorting van die Morandi-motorbrug in die land se noord-westelike stad, Genoa. Die Kabinet wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe.     

3.5.  Die Kabinet betuig sy meegevoel met die naasbestaandes en vriende van die wêreldbekende politieke ekonoom en Afrika-akademikus, Samir Amin, wat op 12 Augustus in die ouderdom van 86 oorlede is. Hy was ’n toegewyde kampvegter vir Derde Wêreldvryheid, en sy idees het die manier waarop ons kapitalisme en imperialism verstaan, verander.

3.6.  Die Kabinet betuig ook sy meegevoel met die regering en die mense van Indië met die verlies aan lewe tydens die onlangse vloede en grondstortings in die Kerala-provinsie.

3.7.  Boodskappe van meegevoel is ook aan die Soedanese regering oorgedra nadat 24 skoolkinders in die Nylrivier vredrink het.

F.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasie en die toepaslike uitklaring.

1.  Me Deshni Subbiah as Direkteur by die Raad van die Uitvoerkrediet-versekeringskorporasie van Suid-Afrika Beperk.

2.  Me Thezi Rosemary Mabuza, aangestel as Adjunkkommissaris van die Nasionale Verbruikerskommissie.

3. Nie-uitvoerende direkteure op die Land- en Landbou-ontwikkelingsbank se Direksie:

  • Adv Sandra Coetzee (heraanstelling); en
  • Me Mathane Eveline Makgatho (heraanstelling).
     

4.  Nie-uitvoerende direkteure van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika se Direksie:

  • Dr Nolulamo Nobambiswano Gwangwa (Voorsitter);
  • Me Phydelis Ntombifuthi Mvelase;
  • Mnr Yershen Pillay;
  • Mnr Bonang Francis Mohale;
  • Mnr Pascalis Mathealira Mokupo;
  • Me Nosizwe Nokwe-Macamo; en
  • Mnr Nqobizitha Irvin Phenyane.
     

5.  Nie-uitvoerende lede aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk se Direksie:

  • Mnr Themba Barrange Mhambi (Voorsitter);
  • Mnr Alderman Robert Haswell;
  • Me Nkareng Mpobane;
  • Mnr Thamsanqa Piet Matosa; en
  • Me Dladla.
     

6.   Nasionale Adviesraad vir Innovasie:

  • Me Claire Busetti (heraanstelling);
  • Mnr Paul Steenkamp (heraanstelling);
  • Me Thulile Mthethwa;
  • Mnr Jesaja Clive Engelbrecht;
  • Me Rejoyce Gavhi-Molefe;
  • Prof Derrick Ian Swartz (Voorsitter);
  • Dr Tiisetso Elizabeth Lephoto;
  • Me Ilse Karg (heraanstelling en Departement van Handel en Nywerheid (die dti) verteenwoordiger);
  • Dr Molapo Qhobela (heraanstelling);
  • Prof Crain Arthur Soudien (heraanstelling);
  • Dr Thulani Humphrey Dlamini (heraanstelling);
  • Mnr Dhesigen Pydiah Naidoo (heraanstelling);
  • Dr Shadrack Moephuli (heraanstelling);
  • Prof Roseanne Denise Diab (heraanstelling);
  • Dr Boitumelo Phakathi; en
  • Me Mamello Matikinca.
     

7.   Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap:

  • Me Xoliswa Kakana (Voorsitter);
  • Prof Azwinndini Muronga;
  • Mnr Johan Prinsloo (heraanstelling);
  • Mnr Willie van Biljon (heraanstelling);
  • Mnr Eugene Jansen (heraanstelling);
  • Mnr Ashley Naidoo (heraanstelling en verteenwoordiger van die Departement van Omgewingsake);
  • Mnr Lindelwa Simphiwe Hamilton (heraanstelling en verteenwoordiger van die Departement van Verdediging);
  • Me Nomfuneko Majaja (die dti-verteenwoordiger);
  • Me Mariam Paul (verteenwoordiger van die Departement van Telekommunikasie en Posdienste);
  • Me Leago Stella Takalani;
  • Me Lumka Msibi;
  • Adv Icho Kealotswe Matlou;
  • Me Matsie Matooane (heraanstelling);
  • Me Innocentia Mmule Pule (heraanstelling); en
  • Me Mbaliyethu Mfeka (heraanstelling).
     

8.  Nasionale Navorsingstigting:

  • Prof Tinyiko Maluleke (heraanstelling);
  • Prof Nadine Felicity Petersen;
  • Dr Sarah Mosoetsa (heraanstelling);
  • Dr Nompumelelo Obokoh (voorsitter);
  • Prof Haroon Bhorat;
  • Prof Zebion Vilakazi;
  • Prof Sinah Saurabh;
  • rof Nomalanga Mkhize;
  • Prof Glenda Elisabeth Gray;
  • Dr Bongani Ngqulunga;
  • Me Mpho Letlape (heraanstelling);
  • Mnr Mashangu Ronny Lubisi (heranstelling); en
  • Me Claire Busetti (heraanstelling).
     

Navrae: Ms Phumla Williams – Waarnemede Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore