Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 20 November 2019

Kabinetsvergadering gehou op Woensdag, 20 November 2019 by Tuynhuys in Kaapstad

A.  Kwessies in die Omgewing

1.  Suid-Afrika Beleggingskonferensie (SABK)


1.1.  Die kabinet besin oor die positiewe uitkomste van die SABK en die Afrika Beleggingsforum (ABF), wat onderskeidelik van 5 tot 7 November en van 11 tot 13 November gehou is.

1.2.  R363 miljard se beleggingsbeloftes is tydens Suid-Afrika se tweede SABG aangekondig, en ongeveer US$40 miljard in beleggingsbeloftes tydens die ABK. Dit is weereens 'n sterk teken van vertroue in ons ekonomie.

1.3.  Die papier-en-pulpreus Sappi en die brouerye-reus Heineken is twee van verskeie maatskappye wat miljarde rande se beleggings beloof het. Verlede jaar het die eerste beleggingskonferensie verbintenisse ter waarde van R300 miljard opgelewer en beloftes van onder andere die internasionale e-handelreus Amazon, Aspen Pharmacare en die Rwanda-gebaseerde tegnologiemaatskappy, Mara Corporation. Al hierdie beleggingsbeloftes bevestig dat president Cyril Ramaphosa steeds op koers bly om die beplande beleggingsmikpunt van  R1,2 triljoen oor vyf jaar te bereik.

1.4.  Die afgelope week het die Tshwane Outomobiel Spesiale Ekonomiese Sone (SEZ) beleggings aangekondig wat na verwagting sowat R3,6 miljard sal lok en 6 700 direkte werksgeleenthede sal skep. Ford SA, wat vanuit hierdie SEZ sal sake doen, beplan om die produksie van sy Ranger-bakkie te verhoog van 520 tot 720 voertuie per dag vir sowel die internasionale en plaaslike mark. Die Japannese maatskappy, Isuzu, het ook 'n R1,2-miljardbelegging in sy plaaslike produksie in Port Elizabeth aangekondig, wat die Oos-Kaapse ekonomie 'n groot hupstoot sal gee.

1.5.  Die kabinet spreek sy opregte waardering uit en bedank al die beleggers en deelnemers aan nog 'n suksesvolle beleggingskonferensie. As almal saamwerk, kan ons Suid-Afrika vorentoe laat beweeg.

2.  Afrika Ministeriële Konferensie oor die Omgewing (AMCEN)

2.1.  Die kabinet verwelkom die aanstelling van die Minister van Omgewingsake, Bosbou en Visserye, Barbara Creecy as die voorsitter van die AMCEN vir die volgende twee jaar.  

2.2.  Suid-Afrika het die voorsitterskap van AMCEN oorgeneem tydens die tweejaarlikse konferensie wat vanaf 11 tot 15 November 2019 in die Stad eThekwini in KwaZulu-Natal gehou is. Dit is 'n belangrike forum vir Afrika-ministers om strategieë vir Afrika se ryk biodiversiteit te ontwikkel. Dit help ook die vasteland om gemeenskaplike onderhandelingsposisies te ontwikkel vir internasionale forums soos die 25ste Verenigde Nasies Konferensie oor Klimaatsverandering (COP25), wat vanaf 2 tot 13 Desember 2019  in Madrid, Spanje, plaasvind.  

3.  Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika (BRICS)-beraad

3.1.  Die kabinet verwelkom die uitkomste van die 11de BRICS-beraad wat in Brasilië plaasgevind het onder die tema: “Ekonomiese Groei vir 'n Innoverende Toekoms”.

3.2.  President Ramaphosa en ander BRICS-leiers het ook met die BRICS-sakeraad beraadslaag om ekonomiese, handels-, sake- en beleggingsbande tussen BRICS-lede te versterk en bevorder. Die kabinet verwelkom die aanvaarding van die BRICS-beraadsverklaring deur staatshoofde.  

3.3.  Die verklaring behels 'n verbintenis om onder-fakturering van ingevoerde goedere te bestry en maatreëls te implementeer om internasionale vraag en groei te bevorder. Daarbenewens lê dit pogings vas om ons samewerking te bevorder oor onderwerpe soos belegging in e-handel en mikro-, klein- en mediumondernemings.  

3.4.  Suid-Afrika se BRICS-lidmaatskap posisioneer die land strategies op ons pad na uitgebreide handel, belegging, toerisme, kapasiteitsbou, en vaardigheids- en tegnologie-oordragte, wat sleutelfaktore is in ons strewe om die drieledige uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid die stryd aan te sê.

4.  25 Jaar van Vryheid

4.1.  Die kabinet verwelkom die bekendstelling van die 25-jaar-oorsigverslag, wat die kulminasie is van wye oorlegpleging regoor die land in die Afrika-vasteland. Die verslag erken ons prestasies om ons mense se waardigheid te herstel en hul toegang tot basiese dienste te verbeter.

4.2.  Sommige van die prestasies sluit in universele toegang tot basiese onderwys, die uitbreiding van toegang tot hoër onderwys, toegang tot gratis gesondheidsdienste in die openbare sektor en implementering van die maatskaplike loon. Alhoewel ons aanmerklike vordering gemaak het, moet ons ekonomie steeds ten volle getransformeer word sodat dit vir almal werk. Die ruimtelike beplanning wat deur die apartheidskeidslyne vasgelê is, bly ook nog grootliks onveranderd.

4.3.  Die verslag beveel aan dat die land op die vorderings van die afgelope 25 jaar moet voortbou en daadwerklik moet optree om ons ekonomie en ruimtelike beplanning te transformeer. Die verslag is beskikbaar op die webwerf van die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering: www.dpme.gov.za.

5.  Rampbestuur

5.1.  Die kabinet spreek sy medelye uit met die families van die 14 Suid-Afrikaners wat tydens die onlangse storms in KwaZulu-Natal gesterf het, en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe.

5.2.  Rampbestuursdienste help tans om die verwoesting as gevolg van 'n tornado te herstel, wat openbare infrastruktuur beskadig en meer as 798 huishoudings in New Hanover Bergville in KwaZulu-Natal geraak het.

5.3.  Suid-Afrikaners word gemaan om waaksaam te wees en die nodige veiligheidsmaatreëls te tref, aangesien daar steeds 'n risiko van swaar reën en erge donderstorms in sommige dele van die land is.

6.  Eskom

6.1.  Die kabinet ondersteun die aanstelling van mnr Andre de Ruyter as die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Eskom. Die aanstelling van 'n permanente HUB is 'n belangrike eerste stap om Eskom te versterk en die bestuurs-en finansiële uitdagings by die nutsmaatskappy daadwerklik aan te pak, wat  standvastige elektrisiteitsvoorsiening aan die nasie sal verseker.

6.2.  Mnr de Ruyter is tans die HUB van die verpakkingsmaatskappy NAMPAK. Hy het voorheen senior regs-, bemarkings- en bedryfsposisies by Sasol in Suid-Afrika, Duitsland en China beklee – sy mees onlangse posisie by Sasol was dié van Senior Groep Uitvoerende Bedryfsbestuurder in Suid-Afrika.

6.3.  Mnr de Ruyter bring aansienlike internasionale ervaring na die posisie; omvattende ervaring in die interaksie met regerings en reguleerders in 'n verskeidenheid jurisdiksies; omkeervaardighede gebaseer op streng kostebesnoeiingsmaatreëls; margeverbeterings; organisatoriese herstrukturering; 'n bewese rekord om volhoubare wins en waarde aan belanghebbers te lewer; en sterk strategie- en uitvoeringsbekwaamhede met 'n strategiese fokus op die konseptualisering en integrering van korporatiewe bedryfsmodelle en strategiese lewering.

6.4.  Die kabinet glo dat mnr De Ruyter met Eskom se leierskap sal saamwerk as dryfkrag om die voorgestelde Eskom-intervensies wat in die Eskom-dokument getitel “Roadmap for Eskom in a Reformed Electricity Supply Industry” te implementeer.

6.5.  Die kabinet sal Eskom aanhou steun in al sy pogings om sy kapasiteit en die lewering van ononderbroke energievoorsiening te stabiliseer.

7.  Nywerheidsoptrede by Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL)

7.1.  Die kabinet doen 'n beroep op al die partye wat by die nywerheidsoptrede by SAL betrokke is om saam te werk ten einde oplossings te vind wat in almal, en die land in die besonder, se belang sal wees.

7.2.  Hoewel die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 voorsiening maak vir die reg van werkers om hul arbeid te weerhou, maan ons egter teen onverantwoordelike openbare uitsprake en dreigemente rakende die veiligheid van passasiers en hul families in hierdie tyd. 'n Vreedsame en minder ontwrigtende manier om geskille op te los, is altyd verkieslik. Die kabinet bly hoopvol dat 'n vriendskaplike oplossing vir die uitgerekte SAL-staking gevind sal word.

8.  Bek-en-klouseer (BKS)

8.1.  Die kabinet word ingelig oor die onlangse voorvalle van BKS in sommige dele van die land. Alhoewel die siekte nie enige gevaar vir mense se gesondheid inhou nie, is dit hoogs aansteeklik onder spleethoewige diere. Die kabinet doen 'n beroep op al die geaffekteerde gemeenskappe in Limpopo om die veiligheidsprotokol na te kom as 'n maatreël om die verspreiding van die siekte te bekamp.   

8.2.  Boere word versoek om eerder nie vee vir veilings, skoue of ander aktiwiteite byeen te bring nie. Hulle word ook gemaan om op die uitkyk te wees vir kliniese tekens van die siekte, en 'n veearts of dieregesondheidspraktisyn te kontak indien nodig.

9.  Missie van Suid-Soedan Spesiale Gesant

9.1.  Die kabinet verwelkom die vordering wat gemaak is om 'n finale oplossing vir konflik in Suid-Soedan te bewerkstellig en stabiliteit in die land te herstel. Suid-Afrika bied ondersteuning aan alle pogings om die Hernude Ooreenkoms oor Suid-Soedan te implementeer, ooreenkomstig die verantwoordelikhede van die Spesiale Gesant.

9.2.  Adjunkpresident David Mabuza, in sy hoedanigheid as Spesiale Gesant na Suid-Soedan, het streeksberaadslagings gehou met die Ugandese  president Yoweri Museveni en die president  van die Soewereine Oorgangsraad van Soedan in Khartoem, Abdalftah Alburhan A. Alrahman.  

9.3.  Die beraadslagings was gerig op die implementering van die Hernude Ooreenkoms oor Oplossing van Konflik in die Republiek van Suid-Soedan.

10.  Bevolking-en-Ontwikkelingsberaad

10.1.  Die onlangse Beraad oor die Internasionale Konferensie oor Bevolking en Ontwikkeling (ICPD25) in Nairobi, Kenia, het stukrag verleen aan die ICPD se Program van Aksie, en momentum gebou vir die implementering van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling.

10.2.  Suid-Afrika het sy verbintenis herbevestig om vordering met geslagsgelykheid te konsolideer deur die bemagtiging van vroue en meisies regoor Suid-Afrika, met inisiatiewe soos gesinsbeplanningsinligting en -dienste; geen kind- en moedersterftes, toegang tot seksuele en voortplantingsgesondheidsregte asook die versterking van intervensies om 'n einde te bring aan seksuele en geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV), en alle skadelike praktyke teen vroue en meisies.

B.  Kabinetsbesluite

11.  Veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders

11.1.  Die kabinet sluit hom aan by president Ramaphosa en verwelkom die drie lewenslange vonnisse wat deur die Kaapse Hoë Hof aan die verkragter en moordenaar van die Universiteit van Kaapstad se student, Uyinene Mrwetyana, opgelê is. Dit is een van verskeie vonnisse wat die afgelope maand deur ons howe opgelê is. Ons bevestig  onomwonde ons siening dat diegene wat sulke afskuwelike misdade teen vroue en kinders pleeg, geen plek in ons samelewing moet hê nie en met die volle krag van die wet te doen sal kry.

11.2.  Suid-Afrika sal saam met die internasionale gemeenskap deelneem aan Veldtog vir 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders (vanaf 25 November tot 10 Desember – Internasionale Menseregtedag), om bewustheid van GGGV in die land te verhoog.

11.3.  Die kabinet bekragtig die uitbreiding van die program van die Veldtog vir 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, wat aangevul sal word deur 'n bewustheids-, ondersteunings-en-opvoedingsprogram om 'n einde te bring aan geweld teen die mees kwesbare lede van die samelewing, in die besonder vroue en kinders.

11.4.  Die 16 Dae van Aktivisme, wat op verhoogde mobilisering en bewustheid fokus, sal op 25 November deur Sy Eksellensie die President van die Republiek, mnr Cyril Ramaphosa in Ga-Seleka Village in Limpopo bekendgestel word. Die tema, “Genoeg is genoeg: Saam bespoedig ons implementering om geslagsgebaseerde geweld te beëindig”, bou voort op die vordering wat gemaak is met die ontwikkeling van 'n omvattende, multisektorale reaksie op GGGV.

11.5.  Die kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om op te staan en standpunt in te neem as mense wat aktief is in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld ten einde veiliger huise, veiliger gemeenskappe en veiliger openbare ruimtes vir almal te skep.

12.  Oudituitslae vir 2018/19 vir provinsiale en nasionale departemente

12.1.  Die Ouditeur-Generaal (OG), Kimi Makwetu, lig die kabinet in oor die uitslae van 2018/19 se nasionale en provinsiale oudits. Die kabinet is bekommerd oor die voortgesette toename in wesenlike onreëlmatighede. Twaalf entiteite is gekies vir oudits oor onreëlmatige besteding. Agt van hulle het onreëlmatige besteding getoon. Sewe was Provinsiale Departemente van Gesondheid, Menslike Nedersettings, Onderwys; die Nasionale Departement van Water en Sanitasie en Nasionale Departement van Basiese Onderwys en die Passierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA), wat 'n entiteit in staatsbesit is.

12.2.  Die Wysingingswet op Openbare Oudit, 2018 (Wet 5 van 2018), wat op 1 April 2019 van krag geword het, sal na verwagting die werk van die Kantoor van die OG versterk en verseker dat die regering begin om beslissend op te tree teen departemente wat aanhou om die raamwerk vir goeie openbare bestuur te verontagsaam.  

12.3.  Met die oog hierop bekragtig die kabinet die afdwinging van hierdie Wet, veral met betrekking tot ernstige onreëlmatighede wat van die OG vereis om sulke oortredings vir verdere ondersoeke te verwys, onder andere ook na wetstoepassingsentiteite.

12.4.  Die kabinet bly daartoe verbind om skoon bestuur en beheer om staatsbestuurde instellings te verseker. Die Nasionale Regeringskool het opdrag ontvang om die nodige opleiding en ondersteuning te voorsien aan instellings wat verdere opleiding van hul amptenare benodig. Diegene wat die raamwerk vir openbare finansiële bestuur blatant oortree deur staatshulpbronne te misbruik, sal die gevolge van hul optrede moet dra.

13.  Weerstands-en-Bevrydingserfenisroete (RLHR) -projek

13.1.  Die kabinet ontvang 'n vorderingsverslag oor die RLHR-projek van die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, mnr Nathi Mthethwa. Die Departement van Kuns en Kultuur – in samewerking met die Nasionale Erfenisraad en Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap – sal die bewaring van ons geskiedenis en die historiese terreine op die vasteland wat 'n skakel met die Suid-Afrikaanse bevrydingserfenis het, identifiseer, versamel en bevorder.   

13.2.  Die projek dien as die land se afdeling van die kontinentale Afrika- bevrydingserfenisprogram. Historiese infrastruktuur en terreine is in al nege provinsies geïdentifiseer en sommige dien as erfenistoerisme-fasiliteite. Die kabinet bekragtig die driejaarlange implementeringsplan wat voorgelê word.

C.  Wetsontwerpe

14.  Wetsontwerp op Ekonomiese Regulering van Vervoer van  2019

14.1.  Die kabinet keur die voorlegging van die Wetsontwerp op Ekonomiese Regulering van Vervoer van  2019 aan die parlement goed. Die Wetsontwerp konsolideer die ekonomiese regulasies van vervoer in 'n enkele raamwerk. Dit bevat voorstelle vir die instelling van die Enkele Ekonomiese Vervoerreguleerder en die Ekonomiese Vervoerraad. Die Wetsontwerp sal van toepassing wees op die lugvaart-, seevaart-, spoor- en padvervoersektor.

14.2.  Die Wetsontwerp is gedurende 2018 tweemaal vir openbare oorlegpleging voorgelê. Insette uit die openbare-oorlegplegingsproses is in hierdie hersiene Wetsontwerp geïnkorporeer. Die uitkoms van die implementering van die Wetsontwerp sal bydra tot die kabinet se pogings om dit makliker te maak om in Suid-Afrika sake te doen. Ondernemings sal nou onderwerp word aan 'n beheerde enkeltariefstruktuur in hul transaksies met die land se vervoerbedryf. Daar word voorgestel dat 'n neutrale struktuur om toesig oor hierdie werk te hou, onder die Minister van Vervoer sal val.

D.  Toekomstige Gebeure

15.  Distriksontwikkelingsmodel

15.1.  Sy Eksellensie die President van die Republiek, mnr Cyril Ramaphosa, sal op Dinsdag 26 November 2019 die derde Distriksontwikkelingsmodel in die Waterbergdistrik by die Shongoane Sportterrein in Lephalale, Limpopo, bekendstel.

15.2.  Die Waterberg-area is die grootste platinumproduksie-area in die provinsie, en die ontginning van steenkool en petroleumontwikkeling het die vraag na die kommoditeit vir elektrisiteitsopwekking verhoog. Lephalale is ook die tuiste van 'n verskeidenheid landbou-aktiwiteite.

16.  Maand vir Bewustheid van die Regte van Mense met Gestremdhede

16.1.  Suid-Afrika gedenk die Maand vir Bewustheid van die Regte van Mense met Gestremdhede, wat op 3 November begin het en tot 3 Desember 2019 duur. Die tema vir hierdie jaar is: “Bou saam 'n Suid-Afrika inklusief van Regte van Mense met Gestremdhede”.

16.2.  Die regering het vordering gemaak met die voorsiening van 'n maatskaplike veiligheidsnet vir mense met gestremdhede en gaan voort met sy programme wat die sosio-ekonomiese insluiting van persone met gestremdhede prioritiseer.

17.  Wêreld-VIGS-dag

17.1.  Adjunkpresident Mabuza, in sy hoedanigheid as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale VIGS-raad, sal aan die hoof staan van die herdenking van Wêreld-VIGS-dag op 1 Desember in Orkney, Noordwes. Die tema vir Wêreld-VIGS-dag 2019 is: “Gemeenskappe maak die verskil”.

17.2.  Wêreld-VIGS-dag 2019 bied aan lande wêreldwyd die geleentheid om te besin oor hul onderskeie bydraes om die verspreiding van MIV en VIGS te voorkom. Vanjaar se tema erken die sleutelrol wat gemeenskappe gespeel het, en steeds speel, in die MIV- en VIGS-respons.

17.3.  Suid-Afrika werk onvermoeid in sy strewe om die MIV-, VIGS- en TB-epidemies om te keer, met merkwaardige prestasies soos wetenskaplike ontwikkelings in MIV-behandeling en meer mense wat antiretrovirale behandeling ontvang.

17.4.  Toegang tot antiretrovirale terapie in die openbare gesondheidsektor het toegeneem, van 45 500 pasiënte in 2004 tot meer as 4,7 miljoen in 2019. Dit word aangevul deur gedragsveranderingsprogramme, met inbegrip van gereelde toetsing en die gebruik van mans- en vrouekondome om infeksiesyfers te verlaag.

E.  Boodskappe

18.  Medelye

Die kabinet betuig sy medelye met die:

  • AmaXhosa Koninklike Familie en die hele gemeenskap met die afsterwe van Sy Majesteit, Koning Mpendulo Calvin Zwelonke Sigcawu.
  • familie en vriende van die ervare uitsaaier en meningsleier, mnr Xolani Gwala. President Ramaphosa het 'n Spesiale Provinsiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 aan mnr Gwala toegeken. Hy is op Saterdag, 9 November 2019 by Impendle in KwaZulu-Natal begrawe.
  • familie en vriende van die voormalige Groep Uitvoerende Beampte van die SAUK, mnr Solly Mokoetle.
  • familie en vriende van die sakeman, mnr Allan Gray, wat die batebestuursmaatskappy met dieselfde naam gestig het.
  • familie en vriende van die bekende Suid-Afrikaanse skrywer, aktivis en digter, mnr Sandile Dikeni.
  • familie en vriende van die akteur, mnr Andile Gumbi, wat bekend was vir sy rolle in Isibaya en The Lion King.
  • familie en vriende van die voormalige YoTV-aanbieder en lid van die musiekgroep Jozi, mnr Luther Cohen.
     

19.  Gelukwense

Die kabinet dra sy gelukwense oor aan:

  • Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, as die verkose voorsitter van die Afrika-unie se Gespesialiseerde Tegniese Komitee oor Landbou en Landelike Ontwikkeling.
  • Alle Suid-Afrikaners wat in groot getalle byeengekom het om ons  seëvierende nasionale rugbyspan, die Springbokke, van die 2019 Rugby Wêreldbeker in Japan terug te verwelkom.
  • Brad Binder vir sy oorwinning by die Maleisiese Moto2 Grand Prix. Ons wens hom alles van die beste vir die volgende seisoen toe, wanneer hy vir die Red Bull KTM Fabriekswedrenspan in die MotoGP-klas gaan meeding.
  • Chad le Clos met sy goue medalje in sowel die 100 meter as 200 meter vlinderslag by die FINA Swemwêreldbekertoernooi in Doha, Katar.
  • Caitlin Rooskrantz, wat vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan gekwalifiseer het nadat sy die eerste Suid-Afrikaner geword het om goud te wen by die 2019 Wêreld-  Artistiese Gimnastiekkampioenskappe.
  • Teddy Nzama, wat as die Starbucks Baristakampioen vir Europa, Midde-Ooste en Afrika aangewys is tydens die internasionale kompetisie wat in Londen gehou is.
  • Span SA se atlete, wat die land by die Wêreld-Para-atletiekkampioenskap in Dubai verteenwoordig het. Hulle het altesaam 11 medaljes ingepalm, waarvan twee goud is. Anrune Weyers: Vroue 400m T47 (Goud), Vroue 200m T47 (Silwer), Vroue 100m T47 (Brons); Ntando Mahlangu: Mans 100m T61 (Goud); Simone Kruger: Vrouediskus F38 (Silwer); Mpumelelo Mhlongo: Mans 100m T64 (Silwer),  Mans-verspring T64 (Brons); Charl Du Toit: Mans 400m T37 (Brons); Reinhardt Hamman: Mans-spiesgooi F38 (Brons); Anika Johanna Pretorius: Vroue 100m T13 (Brons); en Sheryl James: Vroue 400m T37 (Brons).
  • Luyolo Yiba, wat as die wenner van  Seisoen 15 van Idols Suid-Afrika aangewys is.
     

F.  Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

20.  Weermagdienskommissie:

a.    Adv Motlatjo Josephine Ralefatane;
b.    Adv Linda Mbana; en
c.    Me Salome Velma Mabilane.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore