Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 13 September 2017

 
MINISTERIE VAN KOMMUNIKASIE
Privaatsak X860, Pretoria, 0001, Tel: +27 12 473 0164 Faks: +27 12 473 0585

Die Kabinet het op Woensdag 13 September 2017 by Tuynhuys in Kaapstad vergadering.

1. Kwessies in die Omgewing

1.1. Ekonomie

1.1.1. Die Kabinet verwelkom die positiewe groei in die bruto binnelandse produk (BBP) van 2,5% in die tweede kwartaal van 2017, wat die land uit 'n tegniese resessie geneem het. Statistiek Suid-Afrika het die syfers wat 'n jaar-tot-jaar-groei van 1,1% verteenwoordig, verlede week vrygestel.

1.1.2. Hoewel dit versigtig optimisties is, is die Kabinet oortuig dat dit die eerste positiewe tekens is van wat hopelik die begin van die land se ekonomiese herstel is, wat stewig op die implementering van die Negepunt-plan gebou is. Die plan is daarop gemik is om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei en broodnodige werksgeleenthede te skep.

Dit het gelei tot die bekendstelling van vier nywerheidsparke en ’n toename in netto uitvoere van landbougrondprodukte met gemiddeld 14,6% per jaar sedert 2012.

1.1.3. Die Swart Nywerheidsprogram ondersteun 62 projekte wat R26 miljard in private sektor beleggings gelok het en tot dusver 19 859 werksgeleenthede geskep het. Ter ondersteuning van lokalisering is 21 produkte en sektore vir plaaslike produksie aangewys.

Operasie Phakisa het tot dusver 'n geraamde R24,6 miljard in belegging in die oseane-ekonomie ontsluit, waarvan die regering R15 miljard bygedra het. Hoewel die beleggings hoofsaaklik betrekking het op infrastruktuurontwikkeling in hawens, mariene vervaardiging in veral bootbou, akwakultuur en wetenskaplike opnames in die olie- en gassektor, het verskeie staatsdepartemente aansienlike bydraes gelewer om die groei van hierdie sektor te verseker. Altesaam 6 517 werksgeleenthede is in die verskillende sektore geskep.

1.1.4. Die Kabinet doen weer ’n beroep op alle sektore van die samelewing, veral die regering, die sakesektor en die burgerlike samelewing, om voort te bou op die positiewe momentum wat in die tweede kwartaal verkry is om hoër ekonomiese groei en ontwikkelingskoerse te handhaaf en om werksgeleenthede te red.

1.1.5. Die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, gaan voort om met verskeie sektore gesprek te voer oor die inklusiewe ekonomiese groei-aksieplan, wat na verwagting vertroue in die land sal aanmoedig. Die Minister sal verder daaroor uitbrei wanneer hy op 18 Oktober 2017 in Kaapstad die Beleidsverklaring oor die Mediumtermynbegroting in die Parlement uitreik.

1.2.  InvestSA se Eenstopbestemming (One Stop Shop) – Wes-Kaap

1.2.1. Die Kabinet prys die bekendstelling van die eerste provinsiale InvestSA-Eenstopbestemming. President Jacob Zuma het die InvestSA-Eenstopbestemming in die Wes-Kaap amptelik geloods en het die regering se verbintenis tot die verbetering van die beleggingsklimaat in Suid-Afrika as 'n aantreklike bestemming vir potensiële beleggers, bevestig.

1.2.2. Die InvestSA-Eenstopbestemming verlaag die koste en vergemaklik saketransaksies in die land deur strategiese leiding te voorsien, regulatoriese ondoeltreffendheid uit te skakel en rompslomp vir beleggers te verminder.

1.2.3. Die regering se Nasionale InvestSA-Eenstopbestemming is in Maart vanjaar bekend gestel en die dti sal InvestSA-Eenstopbestemmings in al nege provinsies vestig – eers in die Wes-Kaap, gevolg deur KwaZulu-Natal en Gauteng.

1.3.  5 de Herdenking van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP)

1.3.1. Die Kabinet vier saam alle Suid-Afrikaners die 5de herdenking van die NOP, wat op 12 September 2012 deur die Parlement aanvaar is as die land se sosio-ekonomiese ontwikkelingsbloudruk om die drieledige uitdaging van armoede, werkloosheid en ongelykheid teen 2030 die hoof te bied.

1.3.2. As die land se padkaart na voorspoed, behoort die NOP aan alle Suid-Afrikaners en verteenwoordig die hoop en aspirasies van alle sektore van die samelewing, vir 'n beter Suid-Afrika.

1.3.3. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die NOP se Visie 2030 te ondersteun.

1.4. BRICS-beraad

1.4.1. Die Kabinet neem kennis van 'n suksesvolle 9de Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS) Beraad wat van 3 tot 5 September 2017 in Xiamen in die Volksrepubliek van China (PRC) plaasgevind het onder die tema: "BRICS: Sterker vennootskap vir 'n blinker toekoms".

1.4.2. Die beraad verteenwoordig 'n belangrike mylpaal in die bou van sterker solidariteit en samewerking tussen ontluikende markte en ontwikkelende lande om die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling in werking te stel.

1.4.3.  Suid-Afrika se vennootskap in BRICS is gemik op die bevordering van die land se nasionale belange, sowel as die bevordering van streeksintegrasie en 'n meer omvattende wêreldwye bestuurstelsel.

1.4.4. Bilaterale handel tussen Suid-Afrika en ander BRICS-lande het verlede jaar altesaam $29 miljard beloop. Suid-Afrika se grootste uitvoerbestemming binne BRICS bly China, gevolg deur Indië, Brasilië en Rusland. China bly ook die grootste bron van Suid-Afrikaanse invoere. Hoewel Suid-Afrika oor volop natuurlike hulpbronne beskik, is dit van kritieke belang om bystandsprogramme in werking te stel om ons industrialiseringsbeleid te ondersteun.

1.4.5. Die aanvaarding van die BRICS Xiamen-verklaring en aksieplan het die sterk grondslag wat BRICS vir die vestiging van institusionele meganismes vir tasbare samewerking gelê het, na vore gebring.

1.4.6.  Die Kabinet is geëerd dat Suid-Afrika die inkomende voorsitter van BRICS is en beklemtoon sy doelwit om voort te bou op BRICS se program van ontwikkeling en voorspoed vir vennootlande, veral aangesien die land die 10de BRICS-beraad in 2018 aanbied.

1.5. Suid-Afrika en Rusland onderteken ’n ooreenkoms

1.5.1. Die Kabinet verwelkom die ooreenkoms wat Suid-Afrika en Rusland tydens die 9de BRICS-beraad onderteken het. Dit sal 'n bedrag van US$400 miljoen oplewer, wat in die ontwikkeling van Suid-Afrika se olie- en gassektor belê sal word.

1.5.2. Suid-Afrika se nasionale oliemaatskappy PetroSA, en die Russiese Federasie se geologiese eksplorasiemaatskappy, Rosgeo, het ooreengekom om die eksplorasiegebiede van blokke 9 en 11a aan Suid-Afrika se Suidkus te ontwikkel.

1.5.3.  Die soeke na olie- en gasbronne in Suid-Afrika is baie strategies vir die land se energiesekuriteit.

1.5.4.  Rusland se Rosgeo sal geologiese eksplorasiewerk, sowel as die boor van verkenningsboorgate uitvoer. Die projek kan daartoe lei dat vier miljoen kubieke meter gas daagliks onttrek word en aan PetroSA se raffinadery vir gas-na-vloeistowwe in Mosselbaai in die Suidkus gelewer word.

1.6.  Suid-Afrikaans uitvoermarkte

1.6.1. Die Kabinet wens die dti geluk met die aanvoer van 'n groep van 20 Suid-Afrikaanse maatskappye by die World Food Moscow 2017-uitstalling, wat tot 15 September 2017 duur.
1.6.2. Terwyl dit die Suid-Afrikaanse agroverwerkingsbedryf bevorder, konsolideer en vestig die deelname van hierdie plaaslike maatskappye uit die agroverwerkingsektor, ook Suid-Afrika se markteenwoordigheid in Rusland.
1.6.3. Hul deelname word moontlik gemaak deur die dti se Uitvoerbemarkings- en Beleggingshulpskema, wat deurslaggewend is in die ontwikkeling van uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse produkte en dienste, sowel as die werwing van nuwe buitelandse direkte beleggings na die land.
1.6.4. Handel tussen Suid-Afrika en Rusland het aansienlik toegeneem van R5 miljard in 2012 tot byna R8 miljard in 2016. Groot Suid-Afrikaanse uitvoere sluit in vrugte en neute, mangaanerts, drank, spiritualieë en asyn, wyn, elektriese masjinerie en toerusting.

1.7. Kinderarbeid

1.7.1. Die Kabinet is bekommerd oor onlangse voorvalle van kinderarbeid waarin kinders op plase in Noordwes en die Vrystaat gewerk het. Die Kabinet veroordeel hierdie onaanvaarbare misbruik en uitbuiting van kwesbare kinders.

1.7.2. Die Kabinet prys die lede van die publiek wat die Departement van Arbeid hiervan in kennis gestel het. Die department het saam met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vinnig opgetree om hierdie afskuwelike vorm van kindermishandeling te pak.

1.7.3. Die Kabinet is tevrede dat die kinders wat hierdeur geraak word na plekke van veiligheid geneem is en dat die Departement van Arbeid inspeksies sal verdiep en met wetstoepassingsagentskappe sal saamwerk om die skuldiges vas te trek.

1.7.4. Ons kinders is die toekoms van die land. Die Kabinet veroordeel enige vorm van kinderarbeid en doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om te alle tye waaksaam te wees en diegene wat die beginsels van ons Grondwet oortree aan te gee.

1.7.5. Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996), tesame met die Kinderwet, 2005 (Wet 38 van 2005), stel dit duidelik dat alle kinders tussen die ouderdom van sewe en 15 jaar verplig is om skool toe te gaan. Volgens die wet moet ouers en voogde verseker dat kinders in hierdie ouderdomsgroep gereeld geregistreer word en skool bywoon of die gevolge van nie-nakoming dra.

1.8. Droogte

1.8.1. Die Kabinet bedank Suid-Afrikaners wat ag geslaan het op die oproep om water te bespaar.

1.8.2. Suid-Afrika is 'n waterskaars land en die aanhoudende droogtetoestande in dele van die land herinner ons daaraan om elke druppel te bespaar deur water verstandig en spaarsamig te gebruik.

1.8.3. Hoewel pogings om water te bespaar help om die druk op waterbronne te verlig, bewys die laer as normale seisoenale reën wat in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal ervaar is, dat daar nog meer gedoen moet word om water te bespaar.

1.8.4. Die Interministeriële Taakspan oor Droogte, gelei deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, hou deurlopend die droogtetoestande dop en bied die nodige bystand deur toepaslike sektorafdelings om waternood te verlig.
1.8.5. Die regering het R74 miljoen aan bystandsbefondsing toegeken in reaksie op die volgehoue droogte in die Wes-Kaap.

1.8.6. Die Departement van Water en Sanitasie maak ook vordering met voorbereidings vir die inwerkingstelling van die Bergrivier- na Voëlvlei-aanvullingskema. Die rekord van die besluit oor die omgewingsimpakstudie behoort teen die einde van September uitgereik te word. Die Minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane, het sedertdien die Trans-Caledon Tonnelowerheid opdrag gegee om die finansiering in plek te kry en die projek in werking te stel. Hulle het reeds met groot gebruikers begin onderhandel en sal binnekort die Minister nader om met die Minister van Finansies ooreen te kom oor leningsperke vir die projek.

1.8.7. Die Kabinet doen weer eens ’n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om waterbewaring as deel van hul daaglikse lewe uit te oefen.

1.9.  Lesotho

1.9.1. Die Kabinet veroordeel saam met President Zuma die sinnelose moord op die Bevelvoerder van Lesotho se Weermag, General Khoantle Motšomotšo.

1.9.2.  Hierdie jongste insident van geweld is onaanvaarbaar. Dit is nou die plig van Lesotho se mense en leiers om te verseker dat kalmte en normaliteit dringend na die Koninkryk terugkeer.  

1.9.3.  Ons vertrou steeds dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Ministeriële Feite-missie, Lesotho sal kan bystaan in die vestiging van toepaslike tussenkomste. Die SAOG bly vasberade om demokrasie, vrede, sekerheid en stabiliteit in die streek te konsolideer, te verdedig en te onderhou deur samewerking met Lesotho se leiers.

1.10. Libië

1.10.1. Die Kabinet verwelkom die resultate van die Afrika-Unie (AU) se Hoëvlakkomitee van Staatshoofde se sitting oor Libië, wat in Brazzaville in die Republiek van die Kongo, gehou is.
1.10.2.  President Zuma was deel van die Hoëvlakkomitee wat pogings om 'n blywende oplossing vir die heersende konflik in Libië te vind, bespreek het.

1.10.3.  As lid van die Hoëvlakkomitee oor Libië ondersteun Suid-Afrika alle pogings van die AU wat daarop gemik is om 'n vreedsame oplossing vir die Libiese krisis te bewerkstellig.

1.10.4. Die Kabinet beklemtoon President Zuma se stelling dat Suid-Afrika gereed is om Libië by te staan ná die land se heropbou- en ontwikkelingspogings en om ons ervarings met versoening, die bou van ’n grondwet en die demokratiese transformasie van die staat te deel.

1.10.5.  Die Kabinet beklemtoon ook die belangrikheid van gekoördineerde en geharmoniseerde internasionale betrokkenheid in Libië.

1.11. Konferensie van Partye (CoP13)

1.11.1. Die Kabinet bevestig Suid-Afrika se deelname, as 'n ondertekenaar van die Verenigde Nasies se VN-Konvensie oor die Bekamping van Woestynvorming, aan die 13de Sessie van COP13 wat in Ordos, China plaasvind van 6 tot 16 September 2017.

1.11.2.  Na verwagting sal die konferensie 'n nuwe strategiese raamwerk vir 2018-2030 finaliseer en aanneem. Dit is saamgestel onder die tema: "Gesonde grond vir huidige en toekomstige geslagte". Suid-Afrika het onderneem om seker te maak dat beleide omgesit word in konkrete aksies.

1.11.3. Suid-Afrika sal met alle lande in Afrika saamwerk om die lande se posisies

sowel as dié van die vasteland te bevorder. Die hoëvlakgedeelte van hierdie konferensie sal politieke leiding oorweeg en voorsien oor uitdagings wat verband hou met woestynvorming, grondagteruitgang en droogte.

1.11.4. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die omgewing te beskerm en te koester sodat dit vir toekomstige geslagte bewaar bly.

1.12. Openbare vervoeroperateurs

1.12.1. Die Kabinet veroordeel die dade van geweld, die afbrand van operateurs se voertuie en dade van intimidasie tussen die Meter Taxi-operateurs en die E-Hailing-vennote wat by Sandton in Johannesburg plaasgevind het.

1.12.2.  Die Kabinet doen 'n beroep op wetstoepassingsagentskappe om daders van geweld en intimidasie binne die grense van ons Grondwet vas te vat.

1.12.3.  Hierdie insidente doen afbreuk aan die land se daadwerklike pogings om 'n klimaat van vryhandel en regverdige mededinging te skep.

1.13. Raadslede

1.13.1.   Die Kabinet veroordeel die aanvalle en moord van raadslede in sommige provinsies en dra sy diepste meegevoel oor aan die families en vriende van dié wat vermoor is. Dit is in stryd met die etos van die Grondwet, en doen afbreuk aan ons ontwikkelingsdemokrasie en die reg van mense om hul openbare verteenwoordigers te verkies.

1.13.2.   Sedert die begin van die jaar was daar verskeie sterftes in KwaZulu-Natal en onlangs is sterftes ook in die Oos-Kaap aangemeld.

1.13.3.   Hierdie geweld het jong aktiviste se lewens geneem, insluitend die vreeslose voormalige Sekretaris-Generaal van die ANC se Jeugliga (ANCYL), Sindiso Magaqa, wat nog ’n groot bydrae sou kon lewer om 'n voorspoedige Suid-Afrika te bou.

1.13.4.  Ons doen 'n beroep op politieke partye om verdraagsaamheid onder hulle lede te bevorder en versoek gemeenskappe om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te ondersteun met hul ondersoeke.

1.14.Erfenismaand

1.14.1. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om Erfenismaand vanjaar te vier onder die tema: "Die Jaar van Oliver Reginald Tambo: Vier ons bevrydingserfenis ".

1.14.2. Hierdie maand val saam met die eeufees van OR Tambo se geboorte, 'n patriot van Afrika, wat hom onwrikbaar daaraan toegewy het om die mense van Suid-Afrika, die vasteland en die wêreld te dien. Ons gedenk ook die 40ste herdenking van die dood van Steve Bantu Biko, wat brutaal deur die apartheidsregering vermoor is.

1.14.3. Die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, het 'n feesprogram vir die maand vrygestel.

2. Kabinetsbesluite

2.1.  Die Kabinet is ingelig oor die 1ste kwartaallikse prestasie-vorderingsverslae vir 2017/18 oor die implementering van prioriteitsuitkomste vir die tydperk tussen April en Junie 2017.

2.2.  Die regering gaan voort om aansienlike vordering te maak met die implementering van die 14 prioriteitsuitkomste, wat voortspruit uit die Strategiese Raamwerk vir die Mediumtermyn 2014-2019, wat ons nader bring aan die NOP se Visie 2030.

2.3. Die Kabinet is ook ingelig oor gebiede waar vertragings met die implementering ervaar is en het planne om lewering te bespoedig geëvalueer. Ministeriële groeperings sal media-inligtingsessies gedurende die week van 6 tot 15 Oktober 2017 hou om die resultate van hierdie verslae te bespreek. Die skedule sal gereeld bygewerk word en op: www.gov.za geplaas word.

2.4. Die Kabinet keur die voorstel goed dat Suid-Afrika die Telecom-wêrelduitstalling van die Internasionale Telekommunikasie Unie in September 2018 aanbied. Dit is 'n jaarlikse uitstalling en forum vir regerings- en nywerheidsleiers om uitdagings, vennootskappe en oplossings te ondersoek en beleggingsgeleenthede en beste praktyke vir sosio-ekonomiese ontwikkeling te identifiseer deur inligtings- en kommunikasietegnologieë (IKT's).

Dit sal die eerste keer wees dat hierdie uitstalling in Afrika aangebied word. Dit bied 'n geleentheid aan die Suid-Afrikaanse IKT-bedryf om hul onderskeie produkte te vertoon. Die land se toerismesektor sal ook by hierby baat.  

3.Toekomstige Gebeure

3.1. President Zuma sal 'n Suid-Afrikaanse afvaardiging lei na die 72ste Gereelde Sitting van die VN se Algemene Vergadering in New York met die tema "Fokus op mense: strewe na vrede en 'n aangename lewe vir almal op 'n volhoubare planeet". Suid-Afrika sal volhou om hom tydens sy deelname aan die 72ste sessie vir die hervorming van die VN te beywer.

3.2. President Jacob Zuma, as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), sal op 15 September 2017 'n buitengewone Dubbele Troika-beraad van Staatshoofde belê.
Die Dubbele Troika-beraad vind plaas na aanleiding van die onlangse politieke en veiligheidsuitdagings in die Koninkryk van Lesotho.

3.3.' n Hoëvlak Suid-Afrikaanse afvaardiging sal op 25 September 2017 sy eerste bodvoorlegging om die 2023 Rugby Wêreldbeker aan te bied, in Londen indien. Suid-Afrika het 'n sterk bewese rekord vir die aanbied van sulke geleentede. Die Kabinet wil sy sterk steun van hierdie bod herbevestig en doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om dit ook te steun. Die geleentheid sal ’n beduidende bydrae lewer tot maatskaplike samehorigheid en nasiebou en sal ook as 'n katalisator vir sportontwikkeling dien.  

4. Boodskappe

4.1.Die Kabinet wens die burgers van Duitsland alle sukses toe met die voorbereidings vir die federale verkiesings op 24 September 2017 wanneer lede van die 19de Bundestag verkies word. 'n Kan selier sal voorts verkies word en 'n nuwe regering sal gevorm word. Duitsland is 'n belangrike belegger in Suid-Afrika, wat uitsien na volgehoue goeie verhoudings, samewerking en vennootskap.

4.2. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die Karibiese Eilande, asook dele van Kuba en die VSA ná die verwoesting wat deur die Orkaan Irma veroorsaak is. Innige medelye gaan na die geliefdes van diegene wat hul lewens en hul besittings in hierdie ramp verloor het.

4.3. Die Kabinet wens saam met ander Suid-Afrikaners vir Kevin Anderson geluk dat hy die eindstryd van die Amerikaanse Ope gehaal het. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse speler wat sedert 1994 die eindstryd van 'n groot tenniskampioenskap haal. Ons is vol vertroue dat hy sal voortbou op sy skitterende prestasie en ander jong en talentvolle Suid-Afrikaners sal inspireer.

4.4. Die Kabinet wens Trevor Noah geluk met sy Emmy-toekenning in die kategorie Beste Kort Verskeidenheidsreeks vir sy YouTube spesiale vertoning, The Daily Show: Between the Scenes.

Navrae:
Me Phumla Williams
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore