Verklaring van die Kabinetsvergadering van 13 April 2016

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die prestasies wat deur President Jacob Zuma uitgelig is tydens sy besoek aan Port Elizabeth se hawe in die Oos-Kaap, om die  vordering met die implementering van Operasie Phakisa: Oseaan-ekonomie-inisiatief te evalueer. Die Regering het beleggings ten bedrae van ongeveer R17 miljard in die oseaan-ekonomie ontsluit. Sedert sy ontstaan, is meer as 4 500 werksgeleenthede in verskeie sektore geskep.

Twee van die nege sleepbote wat deur die Suider-Afrikaanse Skeepswerf vir die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNHO) in Durban se hawe gebou is, is bestem vir Port Elizabeth se hawe. President Zuma het die eerste sleepboot in Port Elizabeth se hawe, die Mvezo, wat na oudpresident Nelson Mandela se geboorteplek vernoem is, te water gelaat.

Die TNHO het meer as R7 miljard toegewys om ons hawens te verbeter. Die President het die opgeknapte en herboude sleephelling en inlei-hawehoofde binne Port Elizabeth se hawe besigtig; dit sal 12 meer vaartuie kan akkommodeer in vergelyking met die huidige twee.

1.2. Die Kabinet bedank alle belastingbetalers wat vir die 2015/16-boekjaar in vennootskap met die Regering die land se inkomste-invordering vir die eerste keer tot R1 triljoen laat styg het. Dit is 'n duidelike bewys dat ons vooruitstrewende ekonomie steeds sterk staan selfs onder moeilike omstandighede.
Danksy die belastingbydraes van inskiklike Suid-Afrikaners en doeltreffende invordering deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, is die Regering in staat om beter broodnodige dienste te voorsien, wat tot die verbetering van Suid-Afrikaners se lewens bydra.

1.3. Die Kabinet verwelkom President Zuma se aankondiging dat 3 Augustus 2016 as die datum vir die 2016 munisipale verkiesings aangewys is. Die Regering is ingenome dat die twee registrasienaweke, naamlik 5 tot 6 Maart en 9 tot 10 April, 'n groot aantal potensiële kiesers na die stemlokale gelok het, veral kiesers wat vir die eerste keer gaan stem en die jeug.

Die Kabinet bedank almal wat gereageer het op die oproep om te registreer, asook diegene wat hul besonderhede op die kieserslys nagegaan het. Dit is danksy ons kollektiewe deelname dat ons demokrasie van krag tot krag gaan.

Die Kabinet doen verder ’n beroep op alle burgers wat nog nie geregistreer het nie of nie hul besonderhede nagegaan het nie, om die kantore van die Onafhanklike Verkiesingskommissie in hul plaaslike munisipaliteite te besoek en hul besonderhede op die kieserslys (voorsien adresse) by te werk of te registreer, sodat hulle op 3 Augustus kan stem. Kiesers kan ook ’n SMS met hul ID-nommer na 32810 stuur of die inbelsentrum by 0800 11 8000 skakel om hul status te verifieer.

Deur te registreer verseker jy dat jou naam op die kieserslys is sodat jy kan stem. Die Kabinet doen 'n beroep op burgers om hul demokratiese reg om te stem waarvoor ons so hard geveg het, op 3 Augustus 2016 by die munisipale stembusse uit te oefen.

1.4. Die Kabinet verwelkom die amptelike bekendstelling deur President Zuma van die Departement van Binnelandse Sake se eKanaal-loodsprojek. Deur hierdie nuwe innoverende stelsel kan burgers nou aanlyn aansoek doen vir hul slim ID-kaarte en lang toue vermy.

Dié gesamentlike onderneming deur vier groot banke - Absa, FNB, Nedbank en Standard Bank - om 'n aanlynaansoekplatform vir slim ID-kaarte en paspoorte bekend te stel, sal kliënte in staat stel om kiosks van die Departement van Binnelandse Sake te besoek om hul vingerafdrukke en foto's in te dien nadat hulle afsprake en betalings aanlyn gemaak het.

eKanaal is deel van die departement se algehele moderniseringstrategie om die departement se dienste van papier na digitaal om te skakel, 'n proses wat ook die skoonmaak van die bevolkingsregister sal insluit.

1.5. Die Kabinet verwelkom die sukses van die onlangse Imbizo-fokusweek onder die tema "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe", waartydens regeringsamptenare met gemeenskappe regoor die land gesprek gevoer het.

Die Kabinet prys Suid-Afrikaners wat aan meer as 36 programme regoor die land deelgeneem het en sodoende verseker dat die Regering op die  geïdentifiseerde behoeftes van gemeenskap kan reageer. Die Imbizo-fokusweek het gemeenskappe bemagtig met inligting oor regeringsprogramme.

1.6. Die Departement van Menslike Nedersettings het 'n konferensie van die Verenigde Nasies (VN) oor informele nedersettings, met die klem op die fenomenale tempo van verstedeliking en die groei van krotbuurte, suksevol aangebied. Een miljard mense in die wêreld woon nou in krotbuurte. Suid-Afrika het sedert 1994 miljoene huise gebou as deel van pogings om beter lewens vir almal te verseker.

2. Wetsontwerpe

Die Kabinet het die volgende konsepwetsontwerpe goedgekeur:

2.1. Wetsontwerp op die Beskerming van Kritieke Infrastruktuur van 2016 vir publikasie in die Staatskoerant en openbare kommentaar.

Die Wetsontwerp herroep die Wet op Nasionale Sleutelpunte, 1980 (Wet 102 van 1980), en poog om die proses waarvolgens kritieke infrastruktuur geïdentifiseer en verklaar word op 'n deursigtige en verantwoordelike wyse te belyn. Dit sal voorts ook verseker dat alle kritieke infrastruktuur vir die land se nasionale veiligheid, geïdentifiseer en voldoende beskerm word.

Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die oprigting van 'n vasgestelde raamwerk om die beskerming van die kritieke infrastruktuur te moniteer en te administreer. Dit definieer verder die funksies van die raadgewende liggaam wat die Minister van Polisie sal adviseur oor die verklaring van kritieke infrastruktuur.

2.2. Wysigingswet op Verenigings vir Gemeenskaplike Eiendom van 2016 wat gepubliseer sal word vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp wysig die huidige Wet op Verenigings vir Gemeenskaplike Eiendom, 1996 (Wet 28 van 1996).

Die wetsontwerp sal die demokratiese regeringsproses van die bestaande Verenigings vir Gemeenskaplike Eiendom of bestaande trustentiteite wat toesig hou oor gemeenskaplike grond, versterk. Die gewysigde wetsontwerp maak voorsiening vir die vestiging van die Registrateur in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, en definieer die funksies van hierdie amp. Wanneer die wetsontwerp as ’n wet geproklameer word, sal dit die regulering van bestuursinstellings versterk word en staatsondersteuning aan hierdie instellings sal verbeter.

Dit sal gemeenskappe in staat te stel om  eiendomme aan te skaf, te behou en te bestuur deur doeltreffende administrasie-entiteite wat statutêr gevestig word en deur die Regering ondersteun word.

2.3. Die bekendstelling van die Wetsontwerp op Internasionale Arbitrasie van 2016 aan die Parlement. Die internasionale arbitrasieproses is 'n noodsaaklike hulpmiddel om sake oor landsgrense te doen. Dit sal toegang tot regsdienste vir maatskappye wat sake buite die land doen verbeter, asook vir buitelandse maatskappye in Suid-Afrika. Die Wetsontwerp herroep die Wet op die Erkenning en Toepassing van Buitelandse Arbitrasietoekennings, 1977 (Wet 40 van 1977) en wysig ook die huidige Wet op die Beskerming van Besighede, 1978 (Wet 99 van 1978). Die voorgestelde wetsontwerp is in lyn met die Modelwet op Internasionale Handelsarbitrasie, wat deur die VN se Kommissie oor Internasionale Handelsreg aanvaar is.

2.4. Die publikasie van die Konsepwysigingswet op die Nasionale Navorsingstigting van 2016 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Nasionale Navorsingstigting, 1998 (Wet 23 van 1998).

Die wetsontwerp sal Suid-Afrika se mededingendheid in navorsingsontwikkeling en -hernuwing verbeter deur doeltreffende, voldoende en gekoördineerde bestuur van openbare betrokkenheid by wetenskap en die voorsiening van en toegang tot navorsingsinfrastruktuur te verbeter. Dit sal ook die deelnemendheid en doeltreffendheid van navorsingsontwikkeling en die voorsiening van innovering verbeter om Suid-Afrikaners se lewensgehalte te verbeter deur beter belyning met regeringsprioriteite.

3. Belangrike Kabinetsbesluite

3.1. Die Kabinet het die Witskrif oor Polisiëring goedgekeur. Die konsepwitskrif is vir die eerste keer in Maart 2015 vir openbare kommentaar gepubliseer. Die witskrif maak voorsiening vir 'n polisiediens wat partydig is teenoor aktiewe burgery en op die bestaande polisiëringsomgewing reageer. Dit maak ook voorsiening vir 'n Suid-Afrikaanse Polisiediens en ’n metropolisiediens wat aanspreeklik en professioneel is. Die Witskrif vra ook vir die vestiging van 'n Nasionale Polisieraad wat benewens ander take, verantwoordelik sal wees vir die opstel van objektiewe kriteria vir die werwing, keuring en aanstelling van nuwe rekrute in die polisiediens.

3.2. Die Kabinet het die Witskrif oor Veiligheid en Sekuriteit goedgekeur. Die Witskrif, wat reeds in Februarie 2015 vir openbare konsultasie uitgestuur is, fokus op 'n geïntegreerde en ontwikkelingsbenadering tot veiligheid buite polisiëring. Dit poog om leiding te gee oor voorkomende veiligheidsmaatreëls vir gemeenskappe. Die Witskrif identifiseer al die betrokke departemente en gemeenskapsgebaseerde organisasies wat tot gemeenskappe se veiligheid bydra.

3.3. Die Kabinet het die Konsepbeleid oor die Tradisionele Praktyk van Inisiasie in Suid-Afrika goedgekeur en goedkeuring aan die Departement van Tradisionele Sake verleen om nasionale wetgewing oor inisiasie op te stel. Die beleid het reeds 'n uitgebreide openbare raadplegingsproses met alle tersaaklike belanghebbendes ondergaan.
Die beleid voorsien riglyne wat verseker dat die tradisionele gebruik van die jaarlikse inisiasie van jong seuns beskerm word sonder om hul veiligheid te kompromitteer. Dit maak deel uit van stappe deur die Regering om toepaslike en aanvaarbare gebruike te versterk. Dit herstel 'n aanvaarbare vlak van verantwoording aan diegene wat inisiasieskole bestuur en ouers wat hul kinders na hierdie skole stuur.

3.4. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die aanbevelings van die ondersoekkomitee oor die haalbaarheid van handel in renosterhorings as een van die opsies om die land se renosterbevolking te bewaar. Die aanbevelings word onderskryf deur die Interdepartementele Tegniese Advieskomitee en die Inter-ministeriële Komitee wat aangestel is om die moontlike wettiging van kommersiële internasionale handel in renosterhoring te ondersoek.

Die aanbevelings steun Suid-Afrika se geïntegreerde strategiese bestuursbenadering om ’n oplossing vir renosterstropery en onwettige handel in renosterhorings te vind. Die komitee beveel aan dat daar gehou word by die huidige benadering waarvolgens die land se voorraadvlakke behou word, in teenstelling met handel in renosterhorings. Die land se strategiese benadering behels sekuriteit; bemagtiging van gemeenskappe; biologiese bestuur; reaktiewe wetgewende bepalings wat doeltreffend geïmplementeer en afgedwing word; en aanvraagbestuur.

3.5. Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die volgende gedenkmuntontwerpe vir 2016:
a) Die National Geographic muntreeks – Grootkatte-inisiatief: ‘Die Cheetah’.
b) Die Sterlingsilwer kroon- en tiekiemuntreeks – Suid-Aftikaanse uitvindings: ‘Dolosse’.

Die muntstukontwerpe met hul verklarings sal in die Staatskoerant gepubliseer word en sal dan deur die normale kanale vervaardig en verkoop sword.

4. Toekomstige gebeure

4.1. President Zuma sal tussen 18 en 22 April 2016 werksbesoeke aan lidlande van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU) wat Namibië, Botswana, Lesotho en Swaziland insluit, onderneem. Die besoeke sal die belangrike rol wat SACU speel ter bevordering van streeksintegrasie en ekonomiese ontwikkeling van al sy lede, verbeter.

4.2. Die President sal op 23 en 24 April 2016 'n staatsbesoek aan die Islamitiese Republiek van Iran onderneem om politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die twee lande te versterk.

4.3. Die President sal die Nasionale Vryheidsdagvierings op 27 April 2016 in Limpopo se Giyani-stadion lei onder die tema: "Saam bou ons beter gemeenskappe - Plaaslike Regering is almal se besigheid".

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners en sektore om hul patriotisme te bewys deur aan die verskillende geleenthede ter herdenking van Vryheidsmaand deel te neem.

4.4. Gedurende die komende weke, sal departementele begrotingsredes in die Parlement gehou word. Die onderskeie departementele bestuurders sal hul operasionele planne vir die boekjaar 2016/17 uiteensit. Lede van die publiek sal ingelig word oor die Regering se diensleweringsprogramme.

5. Die Kabinet se posisie oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet verwelkom die reaksie en die daaropvolgende verskoning deur President Zuma na anleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die nakoming van regstellende stappe wat in 'n verslag van die Openbare Beskermer uiteengesit is.

Die Kabinet bestudeer die uitspraak om vas te stel of enige ander optredes onderneem moet word om die rol van die Staatsdiens te versterk.

Die Konstitusionele Hof se uitspraak versterk en handhaaf grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika.

5.2. Die Kabinet het kennis geneem van die optrede deur vier banke wat opdrag gegee het om die bankrekening van 'n maatskappy te sluit. Terwyl die Kabinet waardering het vir die banke se terme en voorwaardes, kan die dade toekomstige potensiële beleggers wat sake in Suid-Afrika wil doen afskrik. Die Kabinet keur goed dat die ministers van Finansies, van Arbeid en van Minerale Hulpbronne konstruktiewe gesprekke met die banke moet onderneem om 'n blywende oplossing vir hierdie kwessie te vind.

5.3. Die Kabinet wens die Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi geluk met die USAID-TB internasionale toekenning wat hy ontvang het ter erkenning van sy leierskap in die globale stryd teen tuberkulose (TB), asook vir die voorspraak wat hy gemaak vir Suid-Afrikaanse en streeksinisiatiewe rakende die skandering, behandeling en voorkoming van TB; TB/MIV-mede-infeksie en multi-middelweerstandige TB.

5.4. Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se nominasie as die 2016 ontvanger van die toekenning vir Voortreflike Diplomatieke Diens deur die Raad van Wêreldsake (World Affairs Council) in Washington, DC. As die eerste Afrika-land om hierdie toekenning te ontvang, erken dit die land se besondere toewyding aan globale onderwys, internasionale sake en globale kommunikasie ter beoverdering van ons nasionale belange.

Die Kabinet prys die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, me Maite Nkoana-Mashabane, vir haar bydrae tot Suid-Afrika internasionale betrekkinge, wat aangedryf word deur die visie van 'n "verenigde Afrika-vasteland wat vreedsame, demokratiese, nie-rassige, nie-seksisties en voorspoedig is, en wat bydra tot 'n regverdige en billike wêreld. "

5.5. Die Kabinet verwelkom die aanstelling deur President Zuma van Advokaat Jan Lekhoa Mothibi, as die Hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, en wens hom alles van die beste toe met sy nuwe verantwoordelikhede in die stryd teen korrupsie en wanadministrasie.

5.6. Die Kabinet betuig sy innige meegevoel aan die familie Makwetu en die Pan Africanist Congress met die afsterwe van mnr Clarence Makwetu. Mnr Makwetu sal onthou word vir sy enorme bydrae en persoonlike opofferings tydens die bevrydingsbeweging en die vestiging van die nuwe demokratiese Suid-Afrika. Die President het 'n spesiale provinsiale amptelike begrafnis vir dié bevrydingstrydstaatmaker aangekondig.

5.7. Die Kabinet dra sy innige meegevoel oor aan die familie Naidoo met die afsterwe van mnr Kumaran Naidoo. Mnr Naidoo was die Waarnemende Direkteur-generaal van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling. Hy was voorheen die Hoof Finansiële Beampte van die Departement van Handel en Nywerheid. Mnr Naidoo het ’n geweldige groot bygedrae tot finansiële bestuur in die Staatsdiens gelewer.

5.8. Die Kabinet spreek sy waardering uit vir die bydrae van mnr William Smith, wat as Kabinetsekretariaat gedien het. Mnr Smith het aan die einde van Maart ná 27 jaar in die Staatsdiens afgetree. Die Kabinet wens hom voorspoed toe vir sy aftrede.

6. Die Kabinet is ingelig oor die Verslag van die Kommissie van Ondersoek na bewerings van bedrog, korrupsie, onbehoorlikheid of onreëlmatigheid in die verkryging van die Strategiese Verdedigingspakket (Kommissie vir Wapenaankope) wat vanoggend deur die President uitgereik is.

Die verslag het geen bewyse van oortreding, omkopery, bedrog of korrupsie in die wapenaankopeproses gevind nie. Die Regering verwelkom die Kommissiese se bevindings. Ons is vrygespreek van skuld en ons het ook jare lank aangevoer dat daar geen oortreding plaasgevind het nie en dat die aankope bo verdenking was.

Ons vertrou dat die bevindings nou hierdie lang uitgerekte saak  sal afsluit.

Saam met President Zuma, bedank ons Regter Willie Seriti en Regter Thekiso Musi; asook al die getuies, onder wie voormalige president Thabo Mbeki; die getuienisaanvoerders; regspanne; personeel en diegene wat tot die sukses van die Kommissie bygedra het.

7. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke uitklaring.

7.1. Mnr Siyabonga Gama as Groep Uitvoerende Direkteur en mnr Garry Pita as Groep Finansiële Hoof van Transnet.

7.2. Mnr Lufuno Leslie Nevhutalu as lid en Voorsitter van die Ontwikkelingsraad vir die Konstruksiebedryf.

7.3. Mnr Andile Nongogo as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Dienstesektor Onderwys- en Opleidingsowerheid.

7.4. Nie-uitvoerende lede van die Raad van die Oorgrens-padvervoeragentskap:

a) Mnr Raymond Dennis Baloyi;

b) Me Keitumetse Mahlangu;

c) Me Ignatia Dikeledi Sekonyela;

d) Mnr Mosoenyane Ramathe;

e) Prof Jan Havenga; en

f) Mnr Lucky Lempiditse Thekisho.

Navrae:
Liezil Cerf
Sel: 076 778 2380
 

Share this page

Similar categories to explore