Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 1 en 2 November 2016

1. Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet wens die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, en die span by die Nasionale Tesourie geluk met die gebalanseerde en weldeurdagte begroting. Die Mediumtermyn-begrotingbeleidsverklaring (MTBBV) bied 'n geleentheid aan die burgerlike samelewing, sowel as die arbeid- en die sakesektor om met die Regering saam te werk om ons land se ekonomiese doelwitte te bereik.

Die Kabinet steun die inisiatiewe wat in die MTBBV aangekondig is om die ekonomie deur hierdie moeilike ekonomiese tye te lei, inklusiewe ekonomiese groei te bereik en staatshulpbronne doeltreffend te gebruik.

1.2. Die Kabinet bedank die meer as 4,5 miljoen belastingbetalers wat hul belastingopgawes gedurende die 2016-belastingseisoen ingedien het en herinner alle nie-voorlopige belastingbetalers wat nog hul belastingopgawes moet indien om dit so gou moontlik te doen, aangesien die sperdatum van 25 November 2016 vinnig nader kom.

Patriotiese belastingbetalers help om die lewens van miljoene Suid-Afrikaners te verbeter deur in vennootskap met die Regering te werk in die uitvoer van broodnodige dienste en maatskaplike ondersteuning oor gemeenskappe heen.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om betrokke te raak by ons inisiatiewe om die ekonomie te ontwikkel deur nuwe werksgeleenthede te skep en 'n spaarkultuur te vestig. Deur saam te werk, kan ons seker maak dat ons ekonomiese groei 'n hupstoot kry.

Die Kabinet ondersteun die oproepe om 'n vinnige en doeltreffende ondersoek na die beweerde gyselaarsituasie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Sulke tipe voorvalle het 'n negatiewe uitwerking op die publiek se vertroue in ons wetstoepassingsowerhede en moet spoedig hanteer word.

1.3. Die befondsing van hoër onderwys bly 'n prioriteit vir die Regering en die bykomende R17 miljard wat oor die volgende drie jaar aan universiteite toegewys is, sal verder help om die las op finansieel behoeftige, arm en die sogenaamde ‘vermiste middel’-studente te verlig. Hierdie befondsing sal ook verseker dat meer studente toegang tot hoër onderwys verkry, aangesien R9,2 miljard daarvan aan NSFAS toegewys sal word.

Dié befondsing word verwelkom, maar die onmiddellike prioriteit is egter nou om die leerproses te hervat. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om alle pogings om die 2016-akademiese program te red, te steun. Dit is nou die tyd om protesoptrede te staak, terug te keer klas toe en die akademiese jaar sonder verdere vertragings te voltooi. 

Die Regering glo dat dialoog om aandag aan studente se eise te gee kan plaasvind terwyl die akademiese program voortgaan. Ons herbevestig die reg op protes, maar dit moet binne die perke van die wet plaasvind en op 'n manier wat nie op ander se regte inbreuk maak nie.

Die Regering se vordering om hoër onderwys toeganklik te maak, blyk uit Statistiek Suid-Afrika se Verslag oor die Finansiële Statistiek van Hoëronderwysinstellings wat in 2015 uitgereik is. Dit dui aan dat studente-inskrywings in hoër onderwys van 2006 tot 2015 met 32,5% gestyg het. Daarbenewens het toelaes deur die Regering aan hoër onderwys oor die tienjaartydperk tussen 2006 en 2015 met 144% gestyg. 

Regeringstoelaes en onderrigfooie maak die grootste deel van universiteite se inkomste uit, met regeringsbesteding wat 43% van universiteitsinkomste uitmaak en klasgelde 34%. Hierdie bevindings lewer bewys van die Regering se verbintenis tot onderwys en herbevestig ons beroep op diegene wat dit kan bekostig om hul billike deel te betaal. Dit dui ook daarop dat klasgelde 'n belangrike deel van algehele befondsing bly.

Vordering is ook gemaak deur die Ministeriële Taakspan wat deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, aangestel is om 'n ondersteunings- en befondsingsmodel vir behoeftige en vermiste middel-studente te ontwikkel. Omvattende oorlegpleging oor 'n bloudruk genaamd die Ikusasa Finansiële Bystandsprogram vir Studente (ISFAP) is van stapel gestuur. Hierná is verskeie insette geïnkorporeer en alle belanghebbers het oor ISFAP se toekomstige beheerstruktuur ooreengekom. ISFAP maak verskeie aanbevelings, wat tans vir implementering oorweeg word. Die voorgestelde model en aanbevelings wat in die verslag vervat is, sal baie help om nie net arm en ‘vermiste middel’-studente se befondsingsprobleme op  te los nie, maar ook ander uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, soos om:

  • die hoë druipsyfer van arm en werkersklasstudente in die hoëronderwys-en-opleidingsektor te verlaag,
  • die indiensneembaarheid van die befondse gegradueerdes te verbeter,
  • die land se vaardigheidsprofiel te verbeter, en
  • die vennootskap tussen die Regering, die privaat sektor en hoëronderwysinstellings om arm en ‘vermiste middel’-studente te ondersteun, te verbeter.

Die ISFAP-bloudruk voorsien finansiële hulp aan arm en ‘vermiste middel’-studente om die volle koste van hul studie te dek. Terwyl dit ten volle gesubsidieerde onderwys aan arm studente in die vorm van beurse en toelaes aanbeveel, stel dit ook voor dat beurse en toelaes aan ‘vermiste middel’-studente stelselmatig verminder word namate hul huishoudelike inkomste styg, en skets ook scenario's van hoe dit bereik kan word deur fondse van sowel die openbare as privaat sektor te mobiliseer.

1.4. Die bekendstelling van die Toerismeonderneming-ontwikkelingsinkubator in Pilanesberg in Noordwes deur die Minister van Toerisme, Derek Hanekom, sal 'n kanaal vir ekonomiese inklusiwiteit deur lewensvatbare toerismeondernemings skep. Dit versterk die toerismesektor se bydrae tot die bou van 'n inklusiewe ekonomie.

Die loodsinkubator sal op 50 KMMO's in die Bojanala-distrik gerig wees en sal hulle drie jaar lank ondersteun om volhoubaar te word. Die Toerismeonderneming-ontwikkelingsinkubator verskaf sakeondersteuning aan toerismeondernemings.

1.5. Die bekendstelling van die Ngwaabe Geïntegreerde Energiesentrum op 4 November 2016 deur die Departement van Energie in samewerking met strategiese vennote, is deel van 'n program om Geïntegreerde Energiesentrums in armoede-nodusgebiede te vestig. Hierdie eenstop-energiesentrum bied toegang tot veilige en bekostigbare energiehulpbronne vir arm huishoudings. Daarbenewens verskaf dit inligting oor veilige, doeltreffende en omgewingsvolhoubare gebruik van energiehulpbronne. Dit bevorder ook die KMMO-sektor en ontwikkel werksgeleenthede deur energieverwante sakeondernemings.

1.6. Die Windaba-konferensie en -uitstalling wat van 2 tot 4 November 2016 by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum plaasvind met die tema “Towards 100% renewables” versterk ook die Regering se inisiatiewe vir hernubare energie. Dit bring belanghebbers wat by die windenergie-waardeketting op die Afrika-vasteland, en in Suid-Afrika in die besonder, betrokke is, byeen. Die 11de Jaarlikse 2016 Suider-Afrikaanse Konvensie oor Energiedoeltreffendheid sal ook vanaf 8 tot 9 November by Emperors Palace in Johannesburg op 'n verskeidenheid energieverwante kwessies fokus. Terreine wat gedek sal word sluit in energie-ingenieurswese, doeltreffendheidsverbetering, fasiliteit- en boubestuur, hernubare en alternatiewe energie, mede-opwekking, kragopweking, energiedienste en volhoubaarheid.

1.7. President Jacob Zuma sal vandag saam met President Robert Mugabe as mede-voorsitter van die Eerste Sitting van die Zimbabwe-Suid-Afrika Bi-Nasionale Kommissie optree. Die hoofdoelwit is om bilaterale betrekkinge en samewerking tussen die twee lande te verstewig en die potensiaal vir nouer bande op die terreine van onder meer handel, belegging, mynbou, water, energie, infrastruktuurontwikkeling, vervoer en IKT te vestig.

Tot op hede het die twee lande meer as 38 memorandums van verstandhouding en ooreenkomste onderteken, wat 'n wye verskeidenheid terreine dek soos handel en belegging, immigrasie- en konsulaatkwessies, verdediging, landbou, die omgewing, energie, gesondheid, asook kuns en kultuur.

1.8. Die suksesvolle aanbieding van die Jaarlikse Diplomatieke Fees deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en Proudly South Africa by die Uniegebou in Pretoria op 29 Oktober 2016, dien as 'n belangrike platform om die algemene publiek oor diplomasie en die doelwitte van Suid-Afrika se buitelandse beleid in te lig.

Hierdie gebeurtenis het ambassades, hoë kommissarisse en internasionale organisasies wat in Suid-Afrika geakkrediteer is, byeen gebring om kulturele diplomasie deur kreatiewe uitdrukking soos kuns, musiek en cuisine van regoor die wêreld te vertoon en te bevorder. Meer as 60 diplomatieke missies en verskeie privaat ondernemings het hul produkte en geleenthede vanjaar tydens dié geleentheid bevorder.

2. Belangrike kabinetsbesluite

2.1. Die Spesiale Kabinetsvergadering van 1 November 2016 het vorderingsverslae van die werk van die Inter-Ministeriële Komitee oor die Hervorming van Maatskappye in Staatsbesit (SOC), onder voorsitterskap van Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, ontvang.

Dit spruit voort uit die implementering van die 2010 Presidensiële Hersieningskommissie van SOC's, wat deur die Kabinet bekragtig is, se aanbevelings. Die Kabinet het die gefaseerde benadering tot die implementering van hierdie aanbevelings herbevestig.

Die Kabinet herbeklemtoon dat alle ondernemings in staatsbesit doeltreffend en finansieel lewensvatbaar moet wees.

'n Stel besluite is geneem om die sentrale beleidsdoelwit na te streef, naamlik om SOC's te versterk om hulle in staat te stel om hul ontwikkelingsdoelwitte te bereik:

  • Die Kabinet het die Raamwerk vir Privaatsektordeelname vir Infrastruktuurlewering bekragtig, wat as riglyn vir samewerking tussen SOC's en die privaat sektor sal dien.
  • Die Kabinet het die Riglyn vir die Vergoeding en Aansporingstandaarde vir Direkteure van SOC's aanvaar.
  • Die Kabinet het die breë strekking van 'n riglyn vir die aanstelling van direksies en uitvoerende direkteure bekragtig, waarvoor die Departement van Openbare Dienste en Administrasie 'n oorlegplegingsproses met provinsies en munisipaliteite sal onderneem voordat die Kabinet dit goedkeur.
  • Die eerste konsep van 'n nuwe Regeringsbelanghebberbeleid is vir verdere oorlegpleging aanbeveel. Dit sal in die uitvaardiging van oorkoepelende SOC-wetgewing kulmineer.
  • Die Nasionale Tesourie het 'n voorstel vir die bepaling en kosteberekening van ontwikkelingsmandate van staatsondernemings ontwikkel. Die implementering van hierdie benadering sal help om SOC's se kommersiële en nie-kommersiële aktiwiteite te stroomlyn.

Al hierdie maatreëls plaas die SOC's in 'n beter posisie om tot die uitvoer van die Nasionale Ontwikkelingsplan by te dra deur infrastruktuur te bou, die ekonomie te laat groei, nywerhede uit te brei, te help om gesofistikeerde vaardighede te ontwikkel, werksgeleenthede te skep en ander transformasiedoelwitte te bevorder.

2.2. Die Kabinet het die Geïntegreerde Energieplan (GEP) gepubliseer om aan belanghebbers en ander belangstellende partye die geleentheid te bied om daaroor in gesprek te tree. Die GEP is in die Nasionale Energiewet, 2008 (Wet No. 34 van 2008) vervat. Dit is daarop gemik om as riglyn vir toekomstige energie-infrastruktuurbeleggings en beleidsontwikkeling te dien, wat Suid-Afrika se toekomstige energielandskap sal vorm.

Geïntegreerde energiebeplanning is noodsaaklik om te verseker dat daar in die huidige en toekomstige energie-diensbehoeftes op die doeltreffendste en maatskaplik voordeligste wyse voorsien word, terwyl dit dringende nasionale kwessies soos armoedeverligting en werkskepping bevorder en nadelige uitwerkings op die omgewing minimaliseer.

Die IEP voorsien 'n langtermynvisie van hoe Suid-Afrika energie optimaal as 'n meganisme om mededingend te bly kan gebruik, wat 'n inherente kopskuif vereis oor hoe verskillende energiehulpbronne benut word.

2.3. Die Kabinet het sy besluit van 10 Junie 2015 om die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie as die implementeringsagent vir die nuwe Kernkrag-bouprogram aan te wys, gewysig. Die besluit het Eskom destyds in staat gestel om eerder op die Medupi-, Kusile- en Ingula-projekte en die energieuitdagings wat die land ervaar het, te fokus.

Die Kabinet het Eskom as eienaar-operateur en verkryger van kernkragaanlegte aangewys ooreenkomstig die Kernenergiebeleid van 2008. Eskom het 'n veiligheidsrekord van meer as 30 jaar se werksaamhede by die Koeberg-kernkragaanleg, wat ook die enigste kernkragaanleg in Afrika is, en ontwikkel reeds sedert 2007 die verslae oor die omgewingsimpakassessering en kernterreinveiligheid vir moontlike kernkragaanlegte.

Die Kabinet het ook die aanwysing van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie as die eienaar-operateur en verkryger vir die kernbrandstofsiklus en veeldoelige reaktor goedgekeur.

Die Departement van Energie sal voortgaan om sy mandaat as die beleidmakende en koördinerende departement van die Kernkragbouprogram te vervul.

2.4. Die Kabinet is ingelig oor die vordering met betrekking tot die bywerking van die Geïntegreerde Hulpbronplan (GHP) en keur goed dat openbare oorlegpleging oor die grondslaggeval en veronderstellings onderneem word.

Sedert die IRP 2010-30, het verskeie ontwikkelings die energiesektor beïnvloed. Die IRP-bywerkingsproses balanseer verskeie doelwitte om voorsieningsekerheid te verseker ten einde elektrisiteitskoste te minimaliseer, werkskepping en lokalisering te bevorder, negatiewe omgewingsuitwerkings en watergebruik tot ’n minimum te beperk  en voorsieningshulpbronne te diversifiseer.

Die eerste mylpaal, naamlik die samestelling van veronderstellings vir gebruik in die GHP, is voltooi hangende openbare oorlegpleging. Die tweede mylpaal oor die ontwikkeling van die grondslaggeval, naamlik 'n minimumkoste¬-plan is voltooi. Die derde mylpaal, naamlik 'n scenario-ontleding, word tans ontwikkel. Die vierde mylpaal is beleidsaanpassing.

2.5. Die Kabinet het 'n vorderingsverslag oor ontwikkelings in die onderhandelingsposisie by die Wêreldhandelsorganisasie ontvang en ooreengekom oor die behoefte vir 'n ontwikkelingsfokus in die ná-Nairobi-werkprogram en ter voorbereiding van die Elfde Ministeriële Konferensie van die WHO (MC11). Die konferensie vind in Desember 2017 in Argentinië  plaasvind.

Dit is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan se doelwitte om toepaslike beleidsreaksies in 'n dinamiese globale omgewing te ontwikkel.

2.6. Die Kabinet is ingelig oor die besluite wat op 11 Maart by 'n vergadering van die President se Koördinerende Raad geneem is. Dit is 'n statutêre liggaam wat ingevolge die Intergovernmental Relations Framework Act, 2005 (Wet No 13 van 2005) ingestel is, en wat die drie sfere van die Regering byeenbring oor kwessies van gemeenskaplike en nasionale belang, met die oog op die versterking van koöperatiewe staatsbestuur.

Van die kwessies wat bespreek is, sluit in die uitvoer van die Terugkeer na Basiese Beginsels-program, vorderingsverslae oor die instelling van herafgebakende munisipaliteite; die Regering se reaksie op droogte en watertekorte; en 'n hersiening van die Suid-Afrikaanse Immigrasieregulasies, 2014.

2.7. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die Konsepwitskrif oor Brandweerdienste vir openbare kommentaar. Dit gee 'n uiteensetting van die belangrikste beleidsvoorstelle en -opsies wat die grondslag vorm vir die hersiening van wetgewing oor brandweerdienste, wat die uitgediende Wet op Brandweerdienste, 1987 (Wet No. 99 of 1987) sal vervang.

Dit sluit aan by die Terugkeer na Basiese Beginsels-benadering deur brandweerdienste te verplig om voortdurend in wisselwerking met die gemeenskappe wat hulle dien te tree sodat hulle kan saamwerk om brandrisiko's te verminder en toereikende reaksiestrategieë en -stelsels te verseker om vinnig en doeltreffend op brande en ander verwante insidente te reageer.

Die witskrif herposisioneer die brandweerdienste van die voorheen reaksiegeöriënteerde brandweerdienste tot 'n benadering wat op brandrisikovermindering gebaseer is. Dit dra by tot doeltreffende rampbestuur en brandweerdienste deur brandveiligheid en -voorkoming, veral gemeenskapsgebaseerde brandrisikovermindering, as die middelpunt van brandweerdienste te posisioneer. Dit sal 'n aansienlike bydrae lewer tot die skep van veiliger gemeenskappe, soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgelig word.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Padongelukkefonds, 2016 by die Parlement ingedien word. Die Wetsontwerp wysig die Padongelukkefondswet, 1996 (Wet No 56 van 1996) wat voorsiening maak vir die betaling van vergoeding vir verlies of skade wat wederregtelik deur die bestuur van motorvoertuie veroorsaak is.

Die Wetsontwerp is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan en met Uitkoms 13, wat voorsiening maak vir 'n inklusiewe en reaktiewe maatskaplike-beskermingstelsel deur doeltreffende dienslewering en vroegtydige mediese ingryping te verseker. Dit sal verseker dat die geaffekteerde persone kan herstel en terugkeer werk toe, asook geenfoutdekking ontvang om die finansiële las op diegene wat benadeel word te verlig.

4. Komende gebeure

4.1. Lede van die Uitvoerende Gesag oor die drie Regeringsfere sal gedurende die Nasionale Imbizo-fokusweek tussen 7 en 11 November 2016 met Suid-Afrikaners landwyd kommunikeer met die tema “Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe: Ons toekoms – laat dit werk". Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om aan hierdie gebeure deel te neem en met politieke hoofde te kommunikeer; 'n ingeligte en aktiewe burgery is noodsaaklik om Visie 2030 van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) te verwesenlik. Die program vir die Imbizo-fokusweek sal op www.gov.za beskikbaar wees.

4.2. Suid-Afrika herdenk vanaf 3 November die Nasionale Maand vir die Bewustheid van Gestremdes se Regte met die tema “Mense met gestremdhede – gelyke deelnemers aan die vorming van ’n volhoubare toekoms”. Die gedenkmaand word op 3 Desember afgesluit met die viering van Internasionale Dag van Mense met Gestremdhede. 

Die maandlange program sal gebruik word om die samelewing en besluitnemers te mobiliseer om billike toegang te geniet. Programme sal ook bewustheid verhoog oor mense met gestremdhede se deelname aan die ontwikkeling van volhoubare en samehorige gemeenskappe. Inligting oor die regte van mense met gestremdhede sal ook beskikbaar gestel word om hulle bemagtiging te ondersteun.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die regte en lewensgehalte van mense met gestremdhede ooreenkomstig ons verbintenis tot die Nasionale Ontwikkelingsplan te bevorder ten einde toegang tot dienste te verbeter, in die besonder wat betref gehalte-onderwys en indiensneming van mense met gestremdhede.

4.3. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die  veldtog 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders te ondersteun. Suid-Afrika het die veldtog in 1998 aanvaar as een van die ingrypingstrategieë vir die skepping van 'n samelewing wat vry van geweld is.

16 Dae is 'n internasionale veldtog wat jaarliks tussen 25 November en 10 Desember plaasvind. Die veldtog is daarop gerig om bewustheid onder Suid-Afrikaners te verhoog oor die negatiewe uitwerking van geweld teen vroue en kinders. Dit doen ook 'n beroep op elke persoon om standpunt teen geweld teen vroue en kinders in te neem.

4.4. Die Kabinet verleen goedkeuring aan Suid-Afrika se onderhandelingsmandaat wat sal dien as grondslag vir gesprekvoering by die 22ste Sitting van die Konferensie van die Partye by die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (COP22), en die 12de Sitting van die Konferensie van die Partye wat as die Vergadering van die Partye by die Kioto Protokol (CMP12) dien, wat vanaf 7 tot 18 November 2016 in Bab Ighli, Marrakech, Morokko gehou word.

Die onderhandelingsposisie is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat omgewingsvolhoubaarheid bevorder, asook die Grondwet, wat bepaal dat die omgewing vir huidige en toekomstige geslagte bewaar moet word.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om aanklagte van bedrog teen die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, terug te trek, bring die kwessie tot 'n einde en maak dit nou moontlik vir die land om al sy energie daarop toe te spits om die ekonomie te ontwikkel, beleggersvertroue te bevorder en 'n internasionale kredietafgradering te voorkom.

5.2. Die Kabinet is ingelig oor die uitwerking van die droogte op Suid-Afrika se watervoorrade, met 'n besondere fokus op Gauteng wat van water uit die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel voorsien word.

Suid-Afrika het die laagste reënval sedert 1904 gehad (114 jaar) met uitsonderlike hoë temperature wat in Oktober en November 2015 ervaar is. Dit het 'n beduidende uitwerking op ons watervoorrade gehad, met nasionale gemiddelde damvlakke wat tot 48,4% gedaal het, vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar toe die vlakke op 66,6% gestaan het. Ons is steeds grotendeels in 'n neutrale posisie en ons kan heel waarskynlik 'n hersteltydperk verwag. Dit kan minstens twee tot drie jaar neem voordat enige noemenswaardige herstel in damkapasiteit waargeneem sal word, en kan selfs tot so lank as vyf jaar duur. Ons maak ons dus gereed vir 'n lang herstelpad.

Met betrekking tot die Geïntegreerde Vaaldamstelsel wat uit 14 damme bestaan wat water aan Gauteng voorsien, staan die stelsel tans op 49,1% vergeleke met 67,9% verlede jaar dieselfde tyd. Hierdie stelsel voorsien water aan die meeste van ESKOM se steenkoolkragstasies, SASOL, besproeïingsgebruikers en myne en nywerhede in Oos-Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap, en ondersteun dus 45% van die land se ekonomie en 35% van die bevolking. 80% van die water uit die Vaaldamstelsel word deur huishoudelike verbruikers gebruik. Dit is die derde week gedurende hierdie droogte dat die stelsel onder 50%  is.

Die Vaaldam is nou op 26,4%, die Katsedam op 38,4%, die Sterkfonteindam op 91,5% en die Grootdraaidam is op 66,3%. Beperkings van 15% vir stedelike gebruik en 20% vir besproeiingsgebruik is ingestel ingevolge die kennisgewing in die Staatskoerant van 12 Augustus. Hierdie beperkings is verpligtend.

'n Tegniese taakspan is saamgestel om die implementering van die beperkings te monitor. Rand Water is die grootste verskaffer van drinkbare water na Gauteng en die mikpunt is om die voorsiening vanaf Rand Water met 687 miljoen liter per dag te verminder. Alle munisipaliteite in die voorsieningsgebied het spesifieke mikpunte vir vermindering in hul watergebruik ontvang. Die aanvanklike benadering was inkrementeel, met 'n geleidelike vermindering in voorsiening vanaf 5% met 'n trapsgewyse styging tot 15% deur die hoofkleppe te reguleer. Vanaf 3 Oktober is daar na 'n volumegebaseerde beperking oorgeskakel.

Dit is belangrik dat alle verbruikers die beperkings nakom om te verseker dat ons ons beskikbare watervoorraad sover moontlik kan uitrek. Gauteng is besig om 'n Gesamentlike Operasionele Sentrum te vestig om nakoming te monitor en af te dwing. Alle munisipaliteite is ook beveel om met onmiddellike ingang operasionele sentrums te vestig en om te verseker dat kommunikasie met verbruikers verbeter.

Die Vaaldam sal teen 25% gehou word deur water vanaf die Sterkfonteindam deur te pomp. Dit is nodig om die integriteit van innames vir ESKOM, Rand Water en SASOL te beskerm. Wateruitlating sal op 7 November begin en vir hoogstens 54 dae voortduur, tot 30 Desember.

Die minimumuitlating wat in hierdie stadium beplan word, is 190 miljoen kubieke meter water, wat die watervlakke in die Sterkfonteindam met ongeveer 7% sal laat daal. Die doel van die trapsgewyse uitlating is om enige gevaar vir gemeenskappe rivier af van Sterkfontein te beperk en skade aan rivieroewers wat vir 'n lang tyd droog was, sover moontlik te voorkom.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om water doeltreffend te gebruik en dit te bewaar. Alle watergebruikers moet die waterbeperkings nakom waar dit geïmplementeer word en met die munisipaliteite saamwerk om water te spaar. Die Regering doen alles in sy vermoë om die huidige toestande te temper en werk saam met alle belanghebbers in gebiede wat deur die droogte geraak word.

5.3. Die Voorsitter van die Afrika-unie, dr Nkosazana Dlamini-Zuma, het die byeenkoms van Afrika-redakteurs en Persbeamptes van al 54 lidlande van die Afrika-Unie met die tema “Verdiep Afrika se Narratief en Kapasaiteit om Agenda 2063 te Lewer” aangebied. Agenda 2063 doen 'n beroep op alle vlakke van die Afrika-samelewings en die Afrika-diaspora om saam te werk om 'n welvarende en verenigde Afrika te bou wat op gedeelde waardes en 'n gemeenskaplike bestemming gegrond is.

Deelnemers het oor die Afrika-Unie se mylpale gedurende die afgelope vier jaar besin, en 'n beter begrip verkry van Agenda 2063 en hoe Afrika-media die voortou kan neem om dit te populariseer en te dryf. Die rol van akkurate verslagdoening in die vorming van 'n Afrika-narratief en bepleiting van media-eienaarskap onder Afrikane is ook bespreek.

5.4. Die Kabinet skaar hom by die herdenking van die lewe van OR Tambo as 'n bewys van die respek en waardering vir die rol wat hy gespeel het ter bevordering van die agenda van 'n nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en welvarende Suid-Afrika. Die Departement van Kuns en Kultuur het reeds begin met die beplanning van OR Tambo-eeufeesvierings in 2017.

Die Kabinet dra sy gelukwense aan die volgende oor:

5.5. Mamelodi Sundowns, wat die nuwe Afrika-sokkerkampioene is nadat hulle die Afrika-Konfederasie-sokkerkampioeneliga gewen het. Die Kabinet bedank al die ondersteuners en alle Suid-Afrikaners wat die span wat Suid-Afrika so trots gemaak het, ondersteun het. Sundowns sluit hom aan by nog 'n Suid-Afrikaanse span, Orlando Pirates, wat die Afrika topklubkampioenskap in 1995 gewen het en die land se eerste ster van hierdie kompetisie ingepalm het.

5.6. Die wenners van die 14de Jaarlikse Openbaresektor-innoveringstoekenning van die Sentrum vir Staatsdiensinnovering. Hulle sal nou om die gesogte Toekenning vir die Openbaresektor se Innoveerder van die Jaar meeding. Die toekennings bevorder en moedig beste praktyke in openbaresektor-innovering aan, en vier die suksesse van individue en spanne in alle regeringsfere. Dit dien as 'n hulpmiddel vir die uitbreiding van innovering en moedig ander aan om vir beter dienslewering te innoveer.

Die Kabinet dra sy meegevoel aan die volgende oor:

5.7. Die familie en vriende van die voormalige Adjunkminister van Maatskaplike Ontwikkeling, me Bongi Maria Ntuli, wat haar mense gedien het en 'n toegewyde aktivis vir geslagsgelykheid was.

5.8. Betoon saam met die President sy medelye met die familie en vriende van die fotojoernalis, mnr Juda Ngwenya, wie se ikoniese foto’s ons geskiedenis gedokumenteer het en ons gedwing het om gesprekke te voer oor ons land en vasteland se welsyn.

5.9. Die familie en vriende van Abram Thuri Phago, wat gesterf het toe twee treine op die spoorverdeling naby Tembisa in Johannesburg gebots het, en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe. Die Departement van Vervoer sal met PRASA en die Spoorwegveiligheidsreguleerder saamwerk om die Raad van Ondersoek te bespoedig vir die volledige ondersoek na die oorsaak van die ongeluk om 'n herhaling van sulke noodlottige voorvalle te voorkom.

5.10. Die familie van die studenteleier van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Lesego Benjamin Phehla, wat as gevolg van 'n ongeluk in Soshanguve gesterf het.

5.11. Die mense van Kameroen ná die tragiese treinongeluk tussen Yaoundé en Douala waarin 79 mense gesterf het. Die Kabinet wens ook die honderde mense wat beseer is 'n spoedige herstel toe.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klarings.

6.1. Verlenging van die kontrak van dr Sam Makhudu Gulube as Sekretaris van Verdediging.

6.2. Mnr. Z.U. Dangor as Direkteur-Generaal van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

6.3. Mnr. Robert D. Nkuna in die pos van Direkteur-Generaal van die Departement van Telekommunikasie en Posdienste.

6.4. Dr. Thulani Dlamini as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad.

6.5. Die Verspreidingsagentskap vir Kuns, Kultuur en Nasionale Historiese, Natuurlike, Kulturele en Argitektoniese Erfenis van die Direksie van die Nasionale Loterykommissie:
a) Me. Marjorie M.M. Letoaba (Voorsitter);
b) Mnr. Thendo Resnic Ramagoma (Adjunkvoorsitter);
c) Mnr. Thanduxolo Lungile; en
d) Mnr. Sershan Theeyaagaraj Naidoo.

6.6. Raad van Trustees vir die Onafhanklike Ontwikkelingstrust:

a) Prof. Somadoda Fikeni (Voorsitter);
b) Me. Nomvula Rakolote (Adjunkvoorsitter);
c) Mnr. Theo Charl Adam;
d) Mnr. Siyaduma Biniza;
e) Me. Phelisa Nkomo;
f) Me. Andani Amandaline Makhado;
g) Me. Octavia Matshidiso Matloa;
h) Mnr. Tlhotse Enoch Motswaledi;
i) Mnr. Rashid Amod Sadeck Patel;
j) Dr. Lulama Zitha;
k) Mnr. Zakhele Alex Tummy Zitha; en
l) Dr. Gcwalisile Cynthia Zulu-Kabanyane.

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore