Verklaring van die Kabinetsvergadering van 7 Augustus 2013

1. Die Kabinet se posisie oor prominente kwessies in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet wens die mense en politieke partye van Zimbabwe geluk met die land se suksesvolle geharmoniseerde parlementêre en plaaslike verkiesing.
Die Kabinet prys die pogings van President Jacob Zuma as die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Fasiliteerder van die Zimbabwe-dialoog wat seker gemaak het dat al die politieke partye hulle tot 'n vreedsame verkiesing verbind het.

1.2. Die Kabinet veroordeel die bomaanval op 'n gebou waarin die personeel van die Turkse Ambassade in Mogadisjoe, Somalië, gehuisves is en spreek hul medelye uit met die Regerings en mense van Somalië en Turkye.

1.3.  Op die vooraand van ons 20 Jaar van Vryheid vier die Kabinet saam met die nasie Vrouemaand onder die tema “'n Eeufeesviering van Samewerking vir die Volhoubare Bemagtiging van Vroue en Geslagsgelykheid”.

Die eeufeesviering gedenk die stryd wat vroue gestry het sedert die uitnemende en beroemde aktivis, Charlotte Maxeke, 'n groep vroue in Bloemfontein in 'n optog teen paswette in 1913 gelei het.

Die bydrae van vroue tot die stryd teen die paswette asook ander fasette van die vryheidstryd is 'n belangrike deel van die inspirasie agter die Slimkaart ID wat onlangs bekendgestel is.

Terwyl die nasie hulde bring a an vroue, doen die Kabinet ook 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om standpunt in te neem teen enige mishandeling van vroue en kinders en om die regte van vroue soos dit in ons Grondwet verskans is, te respekteer.

1.4.   Die Kabinet benadruk die waardering wat President Jacob Zuma vroeër uitgespreek het teenoor die nasie en die internasionale gemeenskap vir hul bydrae om Nelson Mandela Internasionale Dag die grootste Madiba-verjaarsdag tot dusver te maak. Op 18 Julie het duisende mense regoor Suid-Afrika en die wêreld tyd ingeruim om hul moue op te rol en minder bevoorregte mense te help.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om die eerste Nelson Mandela Sport-en-Kultuurdag by die FNB Stadium, in Johannesburg op 17 Augustus te ondersteun. Die Springbokke speel op dié dag teen Argentinië, Bafana Bafana sê Burkina Faso die stryd aan en 'n Suid-Afrikaanse Meestersokkerspan speel teen Italië, wat die aand deur 'n sterbelaaide musiekkonsert gevolg word.

Alle opbrengste sal aan die Nelson Mandela kinderhospitaalprojek gaan.
Die Kabinet benadruk die beroep op Suid-Afrikaners om hul te verbind tot die slagspreuk: “Neem Aksie; Inspireer Verandering (en) Maak Elke Dag 'n Mandela-dag”. 

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om voormalige President Nelson Mandela steeds in hul gedagtes en gebede te hou terwyl hy op mediese behandeling reageer.

1.5. Die Kabinet betreur die afsterwe van voormalige Hoofregter Pius Langa wat op 3 Augustus 2013 tydens 'n Spesiale Amptelike begrafnis ter ruste gelê is. Die Kabinet dra sy medelye oor aan sy familie, vriende en kollegas.

Voormalige Hoofregter Pius Langa sal onthou word vir sy bydrae tot die Vryheidstryd, sy verdediging van ons grondwetlike demokrasie en, meer onlangs, sy werk in die Kommissie vir Persvryheid.

1.7 Die Kabinet erken die positiewe ontwikkelings in die onderwyssektor, in die besonder die versterking van die Kurrikulum-en-Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) en die voortgesette ondersteuning van onderwysers om dit in werking te stel. Die Kabinet verwelkom die instelling van die Taakspan wat aangewys is om die implementering van die Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL)-kurrikulum in 2014 van Graad R tot 12 te bestuur, in lyn met die President se beroep om Gebaretaal as ‘n amptelike taal te verklaar. Die nuwe kurrikulum sal groter toegang tot onderwysgeleenthede vir almal bied.

1.6. Die Kabinet doen 'n beroep op die 2013-matrikulante om nou al vir hul 2014-studies by tersiêre inrigtings te registreer ooreenkomstig die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Apply Now! Khetha-veldtog.

Leerders word aangemoedig om hul loopbaankeuses deeglik te oorweeg en hul finansiële vereistes te bepaal. Leerders word herinner aan die Regering se Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), wat finansiële bystand bied aan akademies verdienstelike en finansieel behoeftige studente.

1.7. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SABC) geluk met die bekendstelling van die 24-uur-televisienuuskanaal in reaksie op die immer-toenemende vraag na bygewerkte nuusuitsendings oor gebeure van nasionale en internasionale belang en hierdeur 'n stem en platform aan alle Suid-Afrikaners bied.

1.8. Die Kabinet wens swemmers Cameron van der Burgh, Chad le Clos en Giulio Zorzi geluk, wat die land trots gemaak het deur medaljes by die 15e Internasionale FINA Wêreldswemkampioenskap in Barcelona te wen.
1.9. Die Kabinet dra sy goeie wense oor aan die Moslems van Suid-Afrika met die viering van Eid. Die Kabinet wens ook die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap 'n gelukkige Elul-maand toe.

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet het die aanvang van die oorlegplegingsproses vir die Nasionale Waterbeleidsposisies deur die Departement van Waterwese goedgekeur.
Hierdie beleidsoorsig is daarop gemik om enige onbedoelde gevolge en leemtes in huidige waterbeleide te identifiseer en reg te stel.

Dit is gerig op die bereiking van die Regering se doelwit van billike en volhoubare toegang tot water.

Die hersiene beleidsposisies sal bydra tot die hertoewysing van water aan, onder andere, voorheen benadeelde watergebruikers. Dit sal ook verseker dat geen waterinfrastruktuur gemeenskappe systap nie, veral landelike gemeenskappe sonder waterhulpbronne.

2.2. Die Kabinet het die publikasie van die Nasionale Beleid oor Intellektuele Eiendom vir openbare kommentaar vir 'n tydperk van 30 dae goedgekeur.
Die beleid is daarop gerig om die onderskeie kwessies rakende intellektuele eiendom holisties te belyn en aan te pak. Dit dek verskeie terreine, insluitende: handel, wetenskap, landbou en gesondheid. Die behoefte bestaan dus aan 'n eenbeleid-benadering van die Regering op nasionale en internasionale vlak.

2.3. Die Kabinet het die beleidsraamwerk vir burger-gebaseerde monitering, getitel “'n Raamwerk vir die Verstewiging van Burger-Regeringsvennootskappe vir die Monitering van Frontlinie-dienslewering” goedgekeur.

Daar word van Staatsdepartemente wat dienste aan die publiek lewer verwag om hul monitering-en-evalueringsraamwerke só an te pas dat dit meganismes om burgers se sienings en ervarings van dienslewering in sluit. Dit lê die grondslag vir die inkorporering van burger-gebaseerde monitering in die Regering se moniteringsbenadering.

In hierdie raamwerk beskryf burger-gebaseerde montering 'n benadering tot die monitering van regeringsprestasie wat op die ervarings van gewone burgers fokus om openbare aanspreeklikheid te versterk en verbeterings aan dienslewering te dryf.
2.4. Die Kabinet het die Beginsels van Delegering van Openbare Administrasie en Finansiële Bestuur goedgekeur.

Die Beginsels bied 'n riglyn vir hoe die bevoegdhede van 'n Uitvoerende Gesag aan 'n rekeningkundige beampte en verder af na laer strukture gedelegeer word, soos voorgeskryf in die Staatsdienswet (PSA) en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Die Beginsels vergemaklik die proses van die delegering van bevoegdhede, wat meer doeltreffende en effektiewe dienslewering in die hand sal werk.
Die Minister vir Staatsdiens en Administrasie sal die beginsels en die implikasies daarvan in 'n latere stadium verder uiteensit.

2.5.  Die Kabinet het die volgende verdrae vir goedkeuring van die  Parlement ingevolge Artikel 231 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, goedgekeur: Eerstens, Suid-Afrika se toetrede tot die Ooreenkoms vir die totstandkoming van die Indiese Oseaan Tuna-kommissie (IOTC), tweedens die Konvensie vir die Bewaring van die Suidelike Bloufin-tuna (CCSBT) en; derdens die Voedsel-en-landbouorganisasie van die Verenigde Nasies (FAO) se Ooreenkoms oor Hawestaatsmaatreëls (PSMA) om Onwettige, Onaangemelde en Ongereguleerde Visvangste te voorkom en uit te wis.

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye was ook by hierdie inligtingsessie betrokke om uit te brei oor die waarde wat dit sal toevoeg tot sowel die visbedryf as die bydrae daarvan tot ons ekonomiese groei.

2.6.  Die Kabinet het bekragtig dat Suid-Afrika die gasheerland sal wees vir die 11de Konferensie van die Partye (COP) tot die Abidjan Konvensie in Kaapstad van 24 tot 28 Maart 2014.

Die Abidjan Konvensie is een van die 18 Streeksee-konvensies waar aksieplanne deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) ontwikkel is as deel van die implementering van die 1972 Stockholm Agenda.
Die Konvensie verskaf 'n regsraamwerk vir streeksamewerking tussen die betrokke State om koöperatiewe stappe te doen met die oog op die oplossing van onderling verbonde probleme wat die kus- en mariene omgewing deel.

Die hoogste besluitnemingsliggaam van die Abidjan Konvensie is die Konferensie van Partye (COP), 'n tweejaarlikse vergadering, wat die Ministers van omgewingsake en tegniese deskundiges van kontrakterende partye asook waarnemerstate, ander agentskappe van die Verenigde Nasies en nie-regeringsorganisasies byeenbring.

2.7.  Die Kabinet is ingelig oor die verslag van die Suid-Afrikaanse afvaardiging se deelname aan die 57ste Sitting van die Verenigde Nasies se Kommissie vir die Status van Vroue, wat van 4 tot 15 Maart plaasgevind het.

Die 57ste sitting is by die VN-hoofkwartier in New York gehou, en die prioriteitstema was "Uitwissing van Geweld teen Vroue en Meisies”.
Verskeie verbintenisse tot die beëindiging van geweld teen vroue en meisies is deur die deelnemers gemaak en as resolusies aanvaar. Die Kabinet doen 'n beroep op alle staatsdepartemente om by te dra tot die implementering van hierdie verbintenisse.

2.8. Die Kabinet het die voorlegging van die  Suid-Afrikaanse Mid-termyn Globale VIGS-oorsigverslag aan die VN se Algemene Vergadering goedgekeur. Die verslag is in reaksie op die Politieke Verklaring oor 10 MIV/vigs-mikpunte, wat van 'n stel kernaanwysers afgelei is. Die Kabinet het die Departement van Gesondheid geprys vir 'n verslag wat toon dat Suid-Afrika op dreef is om die meeste van die kernaanwysers teen die 2015-sperdatum te bereik.

2.9   Die Kabinet is ingelig oor die implementering van Artikel 100 (1) (b)-ingryping in die Limpopo-provinsie. Hulle is in kennis gestel van die sleutelbevindings oor die diagnostiese verslag, die voorgestelde tussentredes wat gemaak is en vordering tot dusver. Hulle is verder in kennis gestel van die uitstaande kwessies wat nog gefinaliseer moet word.

Op 31 Julie was die kredietsaldo R3,3 miljard vergeleke met 'n oortrokke fasiliteit van R1,7miljard toe dit in Desember 2011 onder administrasie geplaas is.
Die Kabinet het hulle waardering uitgespreek vir die korrektiewe stappe wat in die vyf departemente onder administrasie in werking gestel is. Die Kabinet het die Ministeriële Komitee se sesmaande-oorgangsproses om die administrasie van Limpopo aan die premier en sy nuwe uitvoerende gesag oor te gee, goedgekeur. 
Die Kabinet het ingestem dat sake wat daarop gemik is om onreëlmatighede uit te wys verder obdersoek moet word; waar daar bevind word dat mense nie behoorlike verkrygingprosedures gevolg het nie, sal die gepaste dissiplinêre stappe in werking gestel word. 'n Meer volledige inligtingsessie deur die Ministeriële Komitee sal weldra plaasvind.

3. Wetsontwerpe

3.1.  Die Kabinet het die indiening van die Geregtelike Metrologie-wetsontwerp by die Parlement goedgekeur.

Die Wetsontwerp is daarop gerig om te verseker dat alle metings wat deur die bedryf gemaak word wanneer skale, meters en ander meettoerusting gebruik word, akkuraat is. Die Wetsontwerp wil billike handelspraktyke bevorder en openbare gesondheid en veiligheid, asook die omgewing beskerm. Dié Wetsontwerp sal verder ook die teenstrydighede in die huidige Wet op Handelsmetrologie (1973) uitskakel.

Die Wetsontwerp is 'n sleutelelement in die optimalisering van die Suid-Afrikaanse tegniese infrastruktuur, wat uit 'n Stelsel vir Standaarde, Gehalteversekering, Akkreditering en Metrologie (SQAM) bestaan.

3.2. Die Kabinet het die indiening van die Wysigingswetsontwerp op Medisyne en Verwante Middels, 2012 by die Parlement goedgekeur.

Die Wetsontwerp wysig die Wet op Medisyne en Verwante Middels, 1965 (Wet No. 101 van 1965) soos gewysig by Wet 72 van 2008. Die Wetsontwerp is daarop gemik om 'n sterk, doeltreffende en effektiewe medisyne-reguleringsliggaam tot stand te bring.

4. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur
4.1. Professor Edith Veronica Vries is aangestel as Direkteur-Generaal in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

4.2. Me Duduzile Charity Baby Mbongwa, aangestel as Adjunk-Direkteur-Generaal: Strategie en Operasionele Aangeleenthede in Die Presidensie.

4.3. Me Loraine Elzabe Rossouw, aangestel as die Hoof Finansiële Beampte in die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling.

4.4. Die Kabinet stem saam met die aanbeveling aan die President om professor Fiona Tregenna as 'n deeltydse lid van die Mededingingstribunaal vir 'n tydperk van vyf jaar vanaf 1 September 2013 aan te stel.

4.5.  Die Kabinet neem kennis van die volgende aanstellings om in die Raad van die Ontwikkelingsagentskap vir Klein Ondernemings (seda) vir 'n tydperk van drie jaar, met ingang van 1 September 2013 tot  31 Augustus 2016, te dien.
a) Dr Ivor Zwane (heraanstelling)
b) Dr Marius Venter (heraanstelling)
c) Mnr Mojalefa Mohoto (dti-verteenwoordiger).

4.6. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van me Thabang Sophie (Peppy) Kekana as 'n lid van die Nasionale Raad op Loterye vir 'n tydperk van vyf  jaar, met ingang van 1 September 2013 tot 30 Augustus 2018.

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore