Verklaring oor die virtuele kabinetsvergadering van Woensdag 29 September 2021

A. Kwessies in die Omgewing

1. Ontplooiing van Coronavirussiekte- (COVID-19) entstof

1.1. Die kabinet is bemoedig deur die miljoene mense in Suid-Afrika wat gekies het om hulle teen Covid-19 te laat inent, met oor die 17 miljoen entstofdosisse wat tot op hede toegedien is.
1.2. Die kabinet het die godsdienstige gemeenskap sowel as die sport- en kunstegemeenskap bedank dat hulle veldtogte geloods het om inenting aan te moedig.
1.3. Hoe meer mense ingeënt word, hoe gouer kan die land die huidige vlak 2-beperkings verslap. Dit sal dan lei tot die volle oopstel van die ekonomie wat dringend noodsaaklik is om werk te skep en uit te brei.
1.4. Die kabinet herhaal die oproep dat, om infeksies te verminder, ons almal moet voortgaan om ‘n masker in die openbaar te dra, ons hande met seep en water te was of 70% alkoholgebaseerde ontsmettingsmiddel te gebruik, en ons moet voortgaan met die handhawing van veilige sosiale afstand om die land se benadering in die beperking van nuwe infeksies te ondersteun.

2. Vooma Inentingsnaweek-veldtog vanaf 1 tot 2 Oktober 2021

2.1. Die kabinet moedig Suid-Afrikaners en mense wat in Suid-Afrika woon wat nog nie ingeënt is nie aan om van die Vooma Inentingsnaweek gebruik te maak wat op Vrydag 1 Oktober en Saterdag 2 Oktober 2021 oor die land heen sal plaasvind.
2.2. Die Vooma Inentingsveldtognaweek is ‘n inklusiewe nasionale veldtog wat deur al ons maatskaplike vennote ondersteun word, insluitend geloofsgebaseerde instansies, tradisionele leiers, die georganiseerde arbeid en sakewêreld. Die teiken vir die naweek is om ten minste ‘n halfmiljoen mense in te ent.
2.3. Dit is ‘n geleentheid vir alle volwassenes om gratis en sonder afspraak ingeënt te word by openbare, private en opwip-inentingspersele.
2.4. Jy het nie gesondheidsversekering of ‘n mediese fonds nodig om die entstof te ontvang nie. Leiers van die regering, sakewêreld, arbeid en gemeenskapsorganisasies sal gemeenskappe in al die dele van die land aktief mobiliseer om hulle moue op te rol vir die beskerming wat inenting bied.
2.5. Vooma Inentingsnaweek kan ons help om oorwinning oor die virus te kry wat ons nou al meer as ‘n jaar lank teister. Niemand behoort hierdie geleentheid mis te loop nie. Kom ons bly almal veilig.

3. Presidensiële besoek aan die Msikaba-brug

3.1. President Cyril Ramaphosa het homself gaan vergewis van die vordering van die infrastruktuur by die Msikaba-brug by Lusikisiki in die Oos-Kaap op Donderdag 23 September 2021. Hierdie infrastruktuurprojek van R1,65 miljard vorm deel van die N2 Wildekus-padprojek. Behalwe om die gerieflike deurgang van mense te fasiliteer deur landelike gemeenskappe met stedelike sentrums regoor die land te verbind, sal die brug ook beleggings en groei stimuleer.
3.2. Die N2 Wildekus-padnetwerk is een van die regering se sleutel- strategiese geïntegreerde projekte om ekonomiese groei op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak te kataliseer. Die kabinet is ingenome met die vordering in sy infrastruktuurbeleggingsinisiatief, wat ‘n sentrale pilaar bly in sy Ekonomiese Heropbou en Herstelplan (ERRP), met 88 projekte ter waarde van meer as R2,3 biljoen (Eng. R2,3 trillion) in die vooruitsig.

4. Internasionale verhoudings, handel en toerisme

4.1. Die kabinet verwelkom die besluit deur Duitsland om Suid-Afrika van sy lys van hoërisiko-reisgebiede af te haal, asook planne deur die Verenigde State van Amerika om volledig ingeënte reisigers in die land toe te laat.
4.2. Die kabinet het egter sy teleurstelling uitgespreek in die Verenigde Koninkryke (VK) se besluit om Suid-Afrika op sy rooilys van lande te hou. Daar is geen redelike grondslag om Suid-Afrika op hierdie lys te hou nie, gegewe ons vordering in die stryd teen die Covid-19 pandemie, ons snel dalende infeksiekoers en intensiewe inentingsprogram.
4.3. Die kabinet is ook op hoogte gebring deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking oor die vordering wat gemaak is om Suid-Afrika van die rooilys af te haal. Die kabinet is optimisties dat die VK-regering sy ongunstige besluit sal heroorweeg, wat nie net die toerismebedryf beïnvloed nie, maar ook besighede in beide lande, families en ander sektore van die ekonomie.

5. Ekonomiese herstel

5.1. Die kabinet het die bekendstelling verwelkom van die registrasieportaal om besighede te registreer wat geraak is deur die onrus wat tussen 9 en 19 Julie 2021 in KwaZulu-Natal, Gauteng en ander gebiede plaasgevind het.
5.2. Die registrasieportaal samel data in van besighede wat geraak is, om hulpmaatreëls beter te koördineer en om mense in te lig oor toekomstige intervensies. Dit dien as enkele regeringspunt vir sakeondernemings om die omvang van hulle verlies aan te dui.
5.3. Die kabinet het ‘n beroep gedoen op alle sake-eienaars wat geraak is, om op die portaal te registreer by www.relief4sa.co.za. Alternatiewelik kan hulle 080 006 00850 skakel vir hulp tussen 08:00 en 17:00 weeksdae
5.4. Die Departement van Kleinsake-ontwikkeling het ‘n totaal van 192 aansoeke van eienaars van klein tot mediumgrootte besighede wat geaffekteer is deur die onrus, ontvang. Die kabinet is bly dat ‘n totaal van R54,2 miljoen goedgekeur is om aan hierdie sake-eienaars toegeken te word.

6. Hervatting van vlugte deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL)

6.1. Die kabinet het die onlangse hervatting van vlugte deur die SAL verwelkom, wat ‘n paar roetes tussen Johannesburg en Kaapstad bedryf. Die nasionale lugdiens sal ook na Afrika-stede soos Accra (Ghana), Kinshasa (Demokratiese Republiek van die Kongo), Harare (Zimbabwe), Lusaka (Zambië) en Maputo (Mosambiek) vlieg, en meer bestemmings sal bygevoeg word soos wat marktoestande verbeter.
6.2. Die kabinet het ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om die geherstruktureerde SAL te ondersteun, wat die begin van ‘n nuwe era in die Suid-Afrikaanse lugvaart inlui.

7. Eenheid vir Etiek, Integriteit en Dissiplinêre Tegniese Bystand (PA-EID-TAU)

7.1. Die kabinet het die bekendstelling van die PA-EID-TAU verwelkom, wat die regering se pogings in die stryd teen korrupsie in die Staatsdiens sal versterk.
7.2. Die PA-EID-TAU sal die implementering van die staatsdiens-etiek en antikorrupsiebeleid oorsien, soos om besigheid met die Staat te doen, die uitvoering van ander vergoedingswerk, dissiplinebestuur en die implementering van leefstyloudits.
7.3. Die kabinet het ‘n beroep op staatsamptenare gedoen om onversetlik te wees in die uitroei van korrupsie. Deur eenvoudig leiding te neem in die rapportering van alle korrupsieverwante aktiwiteite wat plaasvind, kan ons ‘n beter toekoms verseker en ‘n blywende nalatenskap vir toekomstige generasies agterlaat.

8. Verkiesing van Plaaslike Regerings 2021 (LGE)

8.1. Die kabinet het die 1,7 miljoen kiesers wat vir die eerste keer tydens die kieserregistrasienaweek van 18 en 19 September geregistreer het, geloof. Dit was jongmense se manier om te sê dat hulle ‘n rol wil speel in ons demokrasie deur hulle plaaslike leierskap te help kies.
8.2. Aangesien jongmense die grootste deel van ons bevolking uitmaak, is die entoesiasme waarmee jongmense deel wil wees van ons verkiesingsproses, iets wat ons verwelkom en respekteer.
8.3. Die 2021 LGE wat geskeduleer is om op 1 November 2021 plaas te vind, bied aan Suid-Afrikaners die geleentheid om hulle grondwetlike reg uit te oefen om hulle openbare verteenwoordigers aan te wys.
8.4. Kiesers wat nie op Verkiesingsdag kan stem nie en diegene wat nie na die stembus kan reis nie weens fisiese ongesteldheid of gestremdheid, kan met behulp van ‘n spesiale stem op die twee dae voor stemdag hulle stem uitbring. Aansoeke vir spesiale stemme het op die 20ste September geopen en sal op die 4e Oktober 2021 om 17:00 sluit.

9. Geslagsgebaseerde geweld en moord op vrouens (GBVF)

9.1. Die kabinet het die dubbele lewenslange gevangenisstraf verwelkom wat deur die Mpumalanga Afdeling van die Hooggeregshof op Maandag 13 September 2021 aan mnr. Sbusiso Nkosi (36) opgelê is, vir die verkragting en moord van me. Nomcebo Simelane (23) op 5 September 2020.
9.2. Die hof het die verkragter en moordenaar tot twee keer lewenslange gevangenisstraf gevonnis en ‘n addisionele drie jaar gevangenisstraf vir diefstal, wat samelopend uitgedien sal word.
9.3. Dit is ‘n ferm waarskuwing aan almal wat geslagsgebaseerde geweld pleeg dat hulle gearresteer sal word en met die volle mag van die wet te doen sal kry. Deur met die polisie en wetstoepassingsagentskappe saam te werk, kan ons ons strate en gemeenskappe veiliger maak vir almal.
9.4. Rapporteer alle GBVF-verwante insidente aan die polisie of skakel die Nasionale GBVF Bevelsentrum by: 0800 428 428 of STOP Gender Violence Helpline: 0800 150 150 / *120*7867#

10. Registrasie van gewoontehuwelike

10.1. Die kabinet het kennis geneem van die Hooggeregshof van KwaZulu-Natal se uitspraak in die saak tussen die applikant, me Phumza Ethel Mankayi, en die respondente, die Minister van Binnelandse Sake, me Ntombizakhe Portia Miya en die Meester van die Hooggeregshof van Suid-Afrika. Die uitspraak bevestig die regte van mense wat getroud is onder die Wet op die Erkenning van Gewoontehuwelike, 1998 (Wet 120 van 1998).
10.2. Die kabinet doen ‘n beroep op paartjies om hulle gewoontehuwelike binne drie maande na die sluiting van die huwelik by Binnelandse Sake te registreer. Die Minister van Binnelandse Sake het die registrasietydperk verleng na 30 June 2024. Dit is om voorsiening te maak vir diegene wie se huwelike nie binne drie maande geregistreer is nie. Om te registreer, moet mense hulle bewys van die lobola-onderhandelinge bring of ‘n brief en ‘n beëdigde verklaring van die mense wat getroud is sowel as hulle getuies, wat aandui dat ‘n huwelik gesluit is.
10.3. Tot op datum is slegs 99 491 gewoontehuwelike by Binnelandse Sake geregistreer sedert die wet in November 2000 in werking getree het.

B. Kabinetsbesluite

1. Suid-Afrika Beleggingskonferensie (SABK)

1.1. Die kabinet het die volgende SABK geskeduleer om in Maart 2022 plaas te vind. Die konferensie vind al die derde keer plaas en poog om R1,2 biljoen se beleggings oor vyf jaar te lok. Die beleggingsveldtog bou voort op die twee vorige suksesvolle SABK’s. Die besonderhede en datum van die konferensie sal op ‘n later stadium bekendgemaak word.

2. Digitale Uitsaaimigrasieprogram (BDM)

2.1. Die kabinet is op hoogte gebring van die land se Digitale Uitsaaimigrasieprogram. Daar is beduidende vordering gemaak in die migrasie van sommige dele van die land van analoog na digitale platforms.
2.2. Die kabinet het die hersiene geïntegreerde analoog-afskakelimplementeringsplan goedgekeur, wat ‘n skedule is om die oorblywende areas teen Maart 2022 te voltooi. Suid-Afrika is een van talle lande in die wêreld wat hulle daartoe verbind het om die digitale migrasieprojek te bespoedig, wat sal lei tot ‘n algehele analoogafskakeling in 2022.
2.3. Die kabinet het die samewerkende benadering tot die bespoediging van die finalisering van die migrasie van die hele land na digitale platforms goedgekeur.

3. Nasionale Beleid vir die Voorkoming en Bestuur van Leerderswangerskappe in Skole

3.1. Die kabinet het die Nasionale Beleid vir die Voorkoming en Bestuur van Leerderswangerskappe in Skole goedgekeur. Die beleid is in antwoord op die hofuitspraak van 2012 wat teen die Departement van Basiese Onderrig beslis het oor sekere klousules wat verwag het dat leerders tot so lank as twee jaar na die geboorte tuis moes bly. 
3.2. Die beleid maak voorsiening vir ‘n bemagtigende omgewing om leerders te ondersteun en om diskriminasie teen swanger leerlinge te voorkom. Dit maak ook voorsiening vir toegang tot omvattende swangerskapsvoorkomingsinligting, berading en sorggewingsriglyne, sowel as die opstel van beleidsbestuur- en koördineringstrukture.
3.3. Die beleid is aan omvattende konsultasie deur die betrokke belanghebbendes onderwerp en is in pas met die relevante wetgewing.

4. Aanvaarding van die Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies (UNESCO) se Konvensie vir die Beveiliging van die Ontasbare Kulturele Erfenis (ICH) van 2003

4.1. Die kabinet het die aanvaarding van UNESCO se Konvensie vir die Beveiliging van ICH van 2003 goedgekeur. Die konvensie maak voorsiening vir die beveiliging, bewaring en bevordering van ontasbare kulturele erfenis deur die onderskeie lidstate.
4.2. Die ICH sluit onder andere die volgende in: gemeenskaplike kulturele ruimtes, kennis, voorwerpe en artefakte in gemeenskappe.
4.3. Die konvensie verplig lidstate om toepaslike maatreëls vir hulle bewaring te identifiseer, te definieer en op te stel. Dit moedig ook lande aan om wetlike, tegnies administratiewe en finansiële maatreëls in plek te stel om ICH te beskerm en te bevorder. Die aanvaarding sal in die Parlement ter tafel gelê word vir bekragtiging.

5. VN Konvensie teen Korrupsie (UNCAC)

5.1. Die kabinet het die publikasie van Suid-Afrika se beoordelingsverslag oor die implementering van die Konvensie goedgekeur. Suid-Afrika het die UNCAC in 2004 aanvaar. Lidstate ondergaan portuurevaluering oor die implementering van die konvensie.
5.2. Suid-Afrika is die eerste keer in 2012 beoordeel op sy implementering van die kriminalisering- en wetstoepassingsintervensies, en ook op sy handhawing van internasionale samewerking. Die huidige 2019/20 inspeksieverslag het gefokus op voorkomende en bateherwinningsmaatreëls.
5.3. Die beoordelingsmeganisme bevorder konstruktiewe samewerking deur onder andere tegniesebystandsprogramme aan die lidstate te verskaf.

6. Uitstel aan Suid-Afrika om gasheer te wees vir die Wêreld Maritieme Dag Parallelle Geleentheid (WMDPE)

6.1. Die Internasionale Maritieme Organisasie het weer eens aan Suid-Afrika toestemming verleen om die aanbieding van die WMDPE uit te stel weens Covid-19. Die uitstel van Oktober 2021 tot Oktober 2022 volg op die eerste een in 2020 weens die pandemie.

C. Wetsontwerpe

1. Wetsontwerp op die nasionale raad op geslagsgebaseerde geweld en moord op vroue (GBVF) van 2021 

1.1. Die kabinet het die publikasie van die wetsontwerp op die nasionale raad op geslagsgebaseerde geweld en moord op vroue in die Staatskoerant goedgekeur vir openbare insette.
1.2. Die wetsontwerp is in reaksie op die strategiese opdrag van die Nasionale Strategiese Plan (NSP) oor GBVF wat in Maart 2020 deur die kabinet goedgekeur is. Die wetsontwerp beveel die totstandkoming van ‘n verteenwoordigende onafhanklike raad aan wat oorsig sal hê oor die NSP oor GBVF.

2. Wysigingswetsontwerp op Nasionale Veld- en Bosbrande (NVFFA) van 2021

2.1. Die kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Veld- en Bosbrande (NVFFA) van 2021 aan die Parlement goedgekeur. Hierdie wetsontwerp is aanvanklik die eerste keer in 2017 aan die Parlement voorgelê en is terugverwys vir verdere konsultasie met die publiek.
2.2. Een van die bepalings is dat die Wetsontwerp strukture in die openbare sektor sowel as op gemeenskapsvlak sal vestig wat sal saamwerk om die risiko van veldbrande te beperk en effektiewe voldoening aan die vereistes van die wet en wetstoepassing sal bevorder.
2.3. Onbeheerde veldbrande is verantwoordelik vir omgewingsdegradasie, werksverlies, verplasing van gemeenskappe en algemene vernietiging van infrastruktuur, lewende hawe, habitat en biodiversiteit.

D. Toekomstige gebeure

1. Volhoubare Infrastruktuurontwikkelingsimposium van Suid-Afrika(SIDSSA)

1.1. Die regering is die gasheer van die SIDSSA 2021 op Woensdag 6 en Donderdag 7 Oktober 2021. Die simposium sal met ‘n aantal belanghebbendes in gesprek tree om nuwe lewe te blaas in die infrastruktuurpyplyn.
1.2. Die SIDSSA-infrastruktuurpyplyn poog om by te dra tot industrialisasie en werkskepping soos in die vooruitsiggestel deur die ERRP en die herbedinkte nywerheidstrategie (RIS). Die intervensies wat geïdentifiseer is, poog om stukrag aan aanvraag te gee en doeltreffende koördinering van alle infrastruktuurrolspelers te verseker. Daar word verwag dat hierdie intervensies ook sal bydra tot die bou van ‘n veerkragtige ekonomie deur die lewering van infrastruktuur te verhaas. Die SIDSSA 2021 word gehou onder die tema: “Gehalte-infrastruktuur vir ontwikkeling, herstel en inklusiewe groei”.

2. Vervoermaand 2021

2.1. Oktober word daaraan toegewy om vervoerkwessies in die land onder die vergrootglas te plaas. Dit is die 16e jaar dat die land Vervoermaand vier. Die kabinet het hierdie jaar se tema goedgekeur, nl. “Laat ons saam die vervoerstelsel regstel”. Die veldtog se slagspreuk is “Brika Bova: Riding the wave to a better transport system for tomorrow”.
2.2. Die vervoersektor is ‘n belangrike sosio-ekonomiese element in Suid-Afrika. Hierdie jaar sal die veldtog fokus om vervoer as ‘n sleutelrolspeler te posisioneer in die land se ekonomiese herstel, om bewustheid te skep en mense op te voed oor veiligheid in alle vervoermodusse, en ook om die verbeterings wat in die vervoerstelsel aangebring is, ten toon te stel. 
2.3. Die Departement van Vervoer sal die maand se aktiwiteite met die publiek deel en meer inligting is beskikbaar by  www.transport.gov.za.

E. Boodskappe

1. Gelukwense

Die kabinet het sy gelukwense aan die volgende persone en sportspanne oorgedra:

Suid-Afrika se Paralimpiese Span, dat hulle Suid-Afrika se naam hoog gehou het deur sewe medaljes in totaal te wen – vier goud, een silwer en twee brons. Span SA se medaljewenners in Tokio is Ntando Mahlangu (twee goud), Pieter du Preez (goud), Anrune Weyers (goud), Louzanne Coetzee (silwer en brons) en Sheryl James (brons).

Me Verity Price, ‘n professionele spreker en fasiliteerder, wat die 2021 Toastmasters World Champion of Public Speaking gewen het. Sy is die sesde vrou wat die wêreldkampioenskap in die afgelope 80 jaar van die kompetisie se bestaan wen, en die eerste uit Afrika.

Die Springbok Sewesspan, wat die vierde HSBC World Rugby Sevens Series gewen het toe hulle die Noord-Amerikaanse dubbeltoernooi voltooi het deur die tweede van twee HSBC Canada Sevens-toernooie in Edmond te wen.

2. Betuiging van meegevoel

Die kabinet het sy meegevoel betuig met die familie en vriende van:

Prof. Hlengiwe Buhle Mkhize (69), Adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, Jongmense en Persone met Gestremdhede. Sy het haarself reg deur haar lewe onderskei as ‘n toegewyde en passievolle anti-apartheid- en menseregte aktivis, en stryder teen geslagsongelykheid.

Mnr. Karabo Gungubele (32), die seun van die Minister in die Presidensie, mnr. Mondli Gungubele.

Me Zanele kaMagwaza-Msibi (59), leier van die Nasionale Vryheidsparty en voormalige adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, wat haar daaraan toegewy het om talle uitstaande bydraes tot ons demokrasie en die samelewing te maak.

Mnr. Jolidee Matongo (46), Uitvoerende Burgemeester van die Stad Johannesburg, wat hom daaraan toegewy het om toestande te verbeter en geleenthede vir al die mense van Johannesburg en belanghebbendes by die metropolitaanse ekonomie te skep.

F. Aanstellings

Die kabinet het die aanstelling van die kommissaris en adjunkkommissaris van die Grensbestuurowerheid (GBO) bekragtig:

1. Dr. Nakampe Michael Masiapato as Kommissaris van die Grensbestuurowerheid.

2. Generaal-Major David Chilembe as Adjunkkommissaris: Operasies by GBO.

Die kabinet gaan akkoord met die aanstelling van die Raadslede, gegewe bewyslewering van hul kwalifikasies en die verkryging van die relevante klaring.

3. Raad van Direkteure van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke:

(i) Me Pamela Bulelwa Yako;
(ii) Me Gertrude Bulelwa Koyana;
(iii) Me Nandi Nyameka Mayathula-Khoza;
(iv) Me Yolan Friedmann;
(v) Me Zukisa Millicent Ramasia;
(vi) Mnr. Jeoffrey Godfrey Mashele;
(vii) Hoofman Livhuwani Lyborn Matsila;
(viii) Mnr. Lourence Bernad Mogakane;
(ix) Mnr. Fulufhelo Edgar Neluchalani;
(x) Mnr. Ntsako Brian Ngobeni; en
(xi) Me Hulisani Helen Mushiane.

4. Raad van Direkteure van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut: 

(i) Me Joanne Yawitch;
(ii) Me Beryl Delores Ferguson;
(iii) Dr. Pulane Elsie Molokwane;
(iv) Dr. Lesley Thulani Luthuli;
(v) Mnr. Paul Graeme Daphne;
(vi) Prof. Azwihangwisi Edward Nesamvuni;
(vii) Dr. Mmaphaka Ephraim Tau; en
(viii) Dr. Reginald Sethole Legoabe.

5. Direkteur-generaal: Departement van Hoër Onderwys en Opleiding Dr. Nkosinathi Sishi

6. Adjunkdirekteur-generaal: Marinevervoer, Departement van Vervoer Mnr. Mthunzi Edmund d Madiya

7. Adjunkdirekteur-generaal: Spoorvervoer, Departement van Vervoer Mnr. Ngwako Wilson Makaepaea

Navrae:
Me Phumla Williams – Kabinetwoordvoerder
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore