Verklaring oor die die Kabinetsvergadering van 10 Mei 2017

Die Kabinet het op Woensdag 10 Mei 2017 te Tuynhuys, Kaapstad vergader.

1. Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika

1.1 Die Kabinet verwelkom die suksesvolle aanbieding van die 27ste Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika, waar President Jacob Zuma die Suid-Afrikaanse span, staatshoofde en regerings van die vasteland van Afrika, globale leiers in handel en nywerheid en die leiers van die burgerlike samelewing, gelei het. Die konferensie is gehou onder die tema: Behaal inklusiewe groei: responsiewe en verantwoordelike leierskap.

1.2 Hierdie 27ste sessie van die Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika het aan die wêreld bevestig dat Suid-Afrika deel bly van die potensiële beleggingsbestemming op die vasteland van Afrika. Die organiseerders het bevestig dat meer as 1 000 afgevaardigdes die geleentheid bygewoon het, 'n ongekende getal vergeleke met die vorige WEFA.

1.3 Die sterk gees van vennootskap tussen die regering en die sakegemeenskap tydens WEFA was uiters positief. Die betekenisvolle gesprek het Suid-Afrika die geleentheid gebied om die vordering wat gemaak word met inklusiewe ekonomiese groei bekend te maak en om te wys dat Suid-Afrika oop is vir sake. Suid-Afrika is steeds daartoe verbind om op koers te bly met die implementering van sy Nasionale Ontwikkelingsplan om armoede, ongelykheid en werkloosheid te verminder.

2. Vervoer

2.1 Die bekendstelling van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA) se nuwe treine en treindiens deur President Jacob Zuma op 9 Mei 2017 by die Pretoria-stasie, is deel van die regering se volgehoue verbintenis om bekostigbare en betroubare openbare vervoer te verseker en die land se ekonomiese infrastruktuur te bevorder.

2.2 Die nuwe Metrorail-treine maak deel uit van die nuwe vloot wat in die volgende 10 tot 15 jaar deur die regering bekendgestel sal word as deel van PRASA se moderniseringsprogram. Hierdie inisiatief sal duisende volhoubare werksgeleenthede skep, met die fabriek vir die nuwe treine wat in Nigel, Ekurhuleni, in aanbou is. Dit is die begin van die operasionalisering van die Franse en Brasiliaanse ooreenkoms wat tussen PRASA en Alstom onderteken is.

2.3 Die nuwe moderne Metrorail-treine bied ongeëwenaarde gerief en diens, en sal pendelaars se reiservaring transformeer. Dit is deel van die regering se ekonomiese ontwikkeling deur middel van massiewe infrastruktuurontwikkeling, wat ook gestremheidsvriendelik is.

2.4 Die Kabinet het 'n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om trots te wees op die nuwe treine en hulle teen dade van vandalisme te beskerm.

3. Vuwani-protes

3.1 Die Kabinet verwelkom President Zuma se suksesvolle ingryping in Vuwani, Limpopo. Die president het met Sy Majesteit Koning Toni Mphephu Ramabulana van Vha-Venda en ander gemeenskapsbelanghebbendes vergader om vriendskaplike oplossings vir die kwessies wat bespreek is te vind.

3.2 Die vergadering het Sy Majesteit se voorstel aanvaar dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit dienste aan die mense van Vuwani moet lewer terwyl 'n blywende oplossing vir die afbakeningskwessie gesoek word. Die voorgestelde besluit is in ooreenstemming met die toepaslike wetgewing wat munisipaliteite beheer.

3.3 Daar is verder besluit dat toepaslike nasionale en provinsiale regeringsdepartemente die distriksmunisipaliteit moet ondersteun in die uitvoering van hierdie nuwe mandaat. Die vergadering het egter beklemtoon dat die besluit nie beteken dat die nuwe munisipaliteit (LIM 345) afgeskaf word nie. Hierdie besluit is deel van die regering se verbintenis om 'n inklusiewe oplossing te vind.

3.4 Die betrokkenheid van die President en al die belanghebbendes het daartoe gelei dat die skole en sakeondenemings weer normaal funksioneer. Die Kabinet prys die belanghebbendes dat die implementering van die ooreenkomste wat deur die Koning bemiddeld is, afgedwing word. Die President het onderneem om terug te keer na die gemeenskap van Vuwani om met die gemeenskap te kommunikeer op 'n datum wat nog bevestig moet word met Sy Majesteit Koning Yoni Mphephu Ramabulana en al die betrokke belanghebbendes in die gebied.

3.5 Die Kabinet doen 'n beroep op ouers en die gemeenskap om die departementele ingrypings te ondersteun om te verseker dat leerders terugkeer skool toe sodat hulle op hul studies kan fokus en agterstallige werk inhaal deur middel van intervensies wat by alle skole bekend gestel word.

4. Gewelddadige protes

4.1 Die Kabinet doen ’n ernstige beroep op gemeenskappe om hulle te weerhou van geweld, intimidasie en plundering wanneer hulle hul griewe lug. Die Kabinet veroordeel die geweld en plundering en die vernietiging van sakepersele wat onlangs in Coligny, Eldorado Park en Ennerdale plaasgevind het, ten sterkste.

4.2 Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om hul griewe op ’n manier te lug wat oplossings soek sonder om openbare eiendom te vernietig of inbreuk te maak op die regte van ander lede van die samelewing.

4.3 Die President het in 2015 tydens sy Staatsrede 'n dringende beroep gedoen op die Regeringsgroepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit (JCPS) om beslissend teen gewelddadige en vernietigende protesaksies op te tree. Die Kabinet beklemtoon dat diegene wat die wet oortree, met die volle mag van die wet te doen sal kry.

4.4 Die Kabinet doen 'n dringende beroep op alle belanghebbendes om saam te werk met die oog daarop om spoedig oplossings vir die geskille in Ennerdale, Eldorado Park en Coligny te vind.

5. Wysigingswet op Finansiële Intelligensiesentrums

5.1 Die Kabinet verwelkom die ondertekening van die Wysigingswet op Finansiële Intelligensiesentrums (FICA) deur President Zuma. Suid-Afrika, as deel van die wêreldgemeenskap wat saamstaan in die stryd teen onwettige finansiële aktiwiteite, sal aansluit by die internasionale ingryping wat poog om geldwassery en finansiering van terrorisme te beveg.

5.2 Hierdie wetsontwerp sal ook bydra tot die bevordering van die deursigtigheid en integriteit van die Suid-Afrikaanse finansiële stelsel en sal dit moeiliker maak vir misdadigers wat by belastingontduiking, geldwassery en onwettige finansiële vloei betrokke is, om die Suid-Afrikaanse finansiële stelsels te gebruik om weg te kruip. Dit is een van die instrumente wat ons land het om witboordjiesmisdaad in beide die private en openbare sektor te beveg.

5.3 Die Minister van Finansies het die Kabinet gerusgestel dat oorlegpleging voortgesit word en binnekort afgehandel sal word ten einde die uitvaardiging van die regulasies wat die FICA-wet in werking sal stel, te bewerkstellig.

6. Kabinetsbesluite

6.1 Die Minister van Finansies het die Kabinet ingelig oor die onlangse Lentevergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds/Wêreldbank, die Beleggers-bekendstellingstoer en die vergaderings van die Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika. Hy het voorts ook inligting gegee oor die G20-Verdrag met Afrika-voorstelle en kwessies rakende die belegger- en graderingsagentskappe. Daar was 'n uitgebreide bespreking oor die wêreld- en streeks- ekonomiese vooruitsigte, en oor wat ons moet doen om die afgraderings te verhoed.

6.2 Die Kabinet het herbevestig dat hy verbind bly tot die fiskale beleidsraamwerk soos uiteengesit in 2017-begrotingsrede, die implementering van hervormings om bestuur in staatsbeheerde maatskappye te verbeter; die bestedingsplafon te handhaaf en die stabilisering van staatskuld te verseker. Die regering se program om die implementering van strukturele hervormings om ekonomiese groei te bevorder ooreenkomstig die Negepuntplan te versnel, bly relevant om sommige van die kwessies wat deur beleggers geopper word, te hanteer.

6.3 Die Kabinet verwelkom die onlangse verslag deur EY Consultancy oor Direkte Buitelandse Belegging in Afrika. Die verslag noem Suid-Afrika as een van die grootste ekonomiese spilpunte en dat dit tweede op die 2017 Afrika-aantreklikheidsindeks is.

6.4 Die Kabinet is ook ingelig oor die komende besoeke deur die graderingsagentskappe om met 'n aantal organisasies en regeringsbestuurders te kommunikeer.

6.5 Die Kabinet het die Konsep Hersiene Strategie oor Landelike Vervoer goedgekeur. Die strategie reageer op die prioriteite van landelike distriksmunisipaliteite en provinsies, deur aandag te gee aan die onvoldoende voorsiening van infrastruktuur vir landelike vervoer en dienste wat sosio-ekonomiese ontwikkeling beperk.

Die implementering van hierdie strategie sal bydra tot die ontwikkeling van die plaaslike en provinsiale ekonomie deur toegang tot openbare vervoer te verbeter. Dit sal die verband tussen stedelike en landelike ruimtes verhoog, met die oog daarop om die landelike omgewing in die hoofstroomekonomie te integreer.

6.6 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Omvattende Maritieme Vervoerbeleid. Dit artikuleer die regering se verbintenis tot die groei, ontwikkeling en transformasie van Suid-Afrika se seevaartsektor ter ondersteuning van sosio-ekonomiese ontwikkeling, terwyl dit bydra tot internasionale handel.

Dit stem ook ooreen met die regering se prioriteite met betrekking tot Operasie Phakisa oor die groei van die Oseane-ekonomie. Verder is dit ook belyn met breër doelwitte om ekonomiese groei te bevorder en werkskepping te bevorder, soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan en Nasionale Infrastruktuurplan.

6.7 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die Konsep Groen-vervoerstrategie vir openbare kommentaar. Vervoer speel 'n belangrike rol in wêreldwye handel op 'n ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvolhoubare wyse. Vervoerstelsels vorm die ruggraat van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese aktiwiteite deur die beweging van mense en goedere in staat te stel. Gasvrystellings uit die vervoersektor dra egter by tot die land se totale kweekhuisgasvrystelling (KGV), met padvervoer as die grootste bydraer. Die strategie poog om tussenkomste voor te stel wat KGV binne die beginsels vir volhoubare ontwikkeling sal verminder.

6.7.1 Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika by die Smart Africa Alliance aansluit. Dit is 'n Afrika-geleide samewerkingsinisiatief wat fokus op die ontwikkeling van toepaslike oplossings en die deel van hulpbronne om die ontwikkelingsuitdagings wat die vasteland in die gesig staar, te pak. Dit plaas Inligting- en Kommunikasietegnologieë in die middel van die Afrika-lande se ontwikkelingsagenda 2063.

Suid-Afrika sal ekonomiese sowel as politieke voordeel trek uit sy deelname aan Smart Africa.

Deur Suid-Afrika se nywerhede en kundigheid in die kern van Smart Africa se ontwikkelingsagenda te posisioneer, sal Suid-Afrika bydra tot die groei van plaaslike sakeondernemings in die streek.

6.8 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die promulgering van die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Beleid vir Menslike Immuniteitsgebreksvirus (MIV), Seksueel Oordraagbare Infeksies  en Tuberkulose (TB).

Die 1999-beleid fokus op universele voorsorgmaatreëls en biomediese aspekte van voorkoming, en minder op die strukturele, sosiale en gedragsinvloede van MIV.

Hierdie beleid stel 'n paradigmaverskuiwing voor om MIV as 'n kernbestuursvraagstuk te benader deur 'n openbare gesondheidsbenadering, sowel as die insluiting van tuberkulose as 'n prioriteit in skole. Die omvang van toepassing word wyer beskikbaar gemaak aan leerders, opvoeders en amptenare, in openbare sowel as onafhanklike skole.

7. Wetsontwerpe

Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Wysigingswetsontwerp vir Lughawensmaatskappye, 2017 en die Wysigingswetsontwerp op Lugverkeer- en Navigasiedienste aan die Parlement voorgelê word.

Die wysigings aan hierdie twee wetsontwerpe is daarop gerig om 'n permanente regulerende struktuur te voorsien. Die wysigings maak voorsiening vir die opstel van appèlmeganisme-komitees, wat bystand sal verleen in die oplossing van enige dispuutaangeleenthede.

8. Toekomstige gebeure

8.1 President Jacob Zuma sal die openingsrede lewer by die 2017 Toerisme-indaba, wat vanaf 16 tot 18 Mei 2017 by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban aangebied word.

Hierdie internasionale indaba sal weer eens Suid-Afrika se produkte en dienste in die toerisme- en gasvryheidsektor vertoon. Toerisme-indaba 2017 sal ook die voortgesette transformasie en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse toerismebedryf bevorder en ondersteun, veral die rol wat entrepreneurs en kleinsake-eienaars speel.

Meer as 10 miljoen internasionale toeriste het Suid-Afrika in 2016 besoek; dit is 13% meer as in 2015. Dit is ook heelwat meer as die wêreldwye gemiddelde groeikoers van 3% vir dieselfde tydperk. Gedurende die Toerisme-indaba sal Suid-Afrika voordeel trek uit die aantal afgevaardigdes wat ons land sal besoek.

8.2 Die Minister van Energie, Mmamoloko Kubayi, sal hierdie maand die Energiemaandveldtog onder die tema "Bevordering van ’n bekostigbare en volhoubare energiemengsel ter ondersteuning van radikale sosio-ekonomiese transformasie" lei. Die veldtog sal opvoedkundig wees, bewustheid skep en die publiek betrek by energie-doeltreffendheid, energiesekuriteit, alternatiewe energiesake en hoe dit alles sentraal is tot huishoudelike, kommersiële en industriële verbruik.

8.3 Die 2017 Departementele Begrotingsredes in Mei 2017 bied 'n geleentheid aan die betrokke departemente om aan die Parlement en die algemene publiek te verduidelik hoe hulle die 2017-begrotings wat aan hulle toegewys is, sal gebruik. Hulle sal ook hierdie voorleggings gebruik om die publiek in te lig wat hul programme vir die huidige finansiële jaar sal behels. Die Kabinet doen 'n beroep op die publiek om by hierdie aanbiedings betrokke te raak wanneer hulle deur die parlementêre proses aangebied word. 

8.4 Die Departement van Water en Sanitasie sal Sanitasieweek tussen 16 en 22 Mei 2017 onder die tema "Sanitasie vir Gesondheid en Waardigheid" aanbied. Die regering het hom daartoe verbind om waardigheid aan Suid-Afrikaners te gee deur die voorsiening van sanitasiedienste. Die vernaamste fokus gedurende die week is die prioriteitsprogram vir die uitwis van die emmerstelsel. Dit sal die oorhandiging van watergebonde sanitasie aan gemeenskappe in die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat en Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit in die Noord-Kaap insluit as deel van versnelde dienste om emmertoilette te vervang.

8.5Suid-Afrika vier Afrika-maand onder die tema “Die bou van 'n beter Afrika en 'n beter wêreld”. Verskeie aktiwiteite wat daarop gemik is om Afrika-eenheid te bevorder, vind onder leiding van die Departement van Kuns en Kultuur plaas. Die aktiwiteite sal op 25 Mei 2017 afsluit, waartydens President Zuma 'n middagete by die Sefako Makgatho Presidensiële gastehuis sal aanbied. Leiers van organisasies van buitelandse burgers wat in Suid-Afrika woon en met wie die President in 2015 ontmoetings gehad het, sal die ete bywoon.

9. SANW-ontplooiing

9.1 Die Kabinet verwelkom die besluit van President Jacob Zuma om die ontplooiing van lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) uit te brei. Dit is 'n poging om by te dra tot vrede en stabiliteit op die vasteland van Afrika, en veral in die streek, ooreenkomstig ons internasionale verpligtinge en ons buitelandse beleid om by te dra tot 'n beter Afrika en 'n beter wêreld.

9.2 Altesaam 1 371 lede van die SANW word in die DRK ontplooi ter ondersteuning van die Verenigde Nasies se Stabiliseringsmissie. Die ontplooiing is verleng van 1 April 2017 tot 31 Maart 2018.

9.3 Ons ontplooiings op die vasteland is ter volgehoue ondersteuning van streeks- en kontinentale prosesse om op krisisse te reageer en oplossings te vind, vrede en veiligheid te bevorder, streeksintegrasie te versterk, intra-Afrikahandel beduidend te verhoog en volhoubare ontwikkeling in Afrika te bevorder.

10. Nasionale Ordes

10.1 Die Kabinet wens al die ontvangers van die 2017 Nasionale Ordes geluk. In die jaar van OR Tambo het hulle ons gewys hoe belangrik dit is om saam te werk om 'n beter Suid-Afrika en 'n beter nasie te skep. Ons put inspirasie uit hul prestasies, hul toewyding, passie en bereidwilligheid om die mensdom te bevorder: Die Orde van Ikhamanga in Goud (1), die Orde van Ikhamanga in Silwer (7), die Orde van Ikhamanga in Brons (1), die Orde van die Baobab in Goud (1), die Orde van die Baobab in Silwer (2), die Orde van die Baobab in Brons (2), die Orde van Luthuli in Silwer (29), Orde van Luthuli in Brons (1), die Orde van Mapungubwe in Silwer (2), die Orde van die Kamerade van OR Tambo in Goud (1).

10.2 Die vrystelling van die 17de Verslag van die Kommissie vir Diensbillikheid deur die Minister van Arbeid, me Mildred Oliphant, toon die hardnekkig stadige tempo van transformasie in verskeie werkplekke in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. Die verslag toon dat ons nog ver van 'n arbeidsmag is wat werklik verteenwoordigend van ons land is. Afrikane, vroue en mense met gestremdhede bly ernstig onderverteenwoordig in alle aspekte van gelyke indiensneming.

10.3 Die Verslag het getoon dat wit mense 68% van die land se topbestuursposte in die openbare en private sektore beset, ses keer die groep se ekonomies aktiewe bevolking. Afrikane het slegs 14,4% van die topbestuur opgemaak.

10.4 Gegewe die dringende behoefte om die ekonomie te transformeer en inklusiewe groei te verseker, is dit eenvoudig nie goed genoeg nie. Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur die Minister van Arbeid dat haar departement oorweeg om strenger gevolge vir nie-nakoming te aanneem.

11. Boodskappe

11.1 Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma, sy gelukwense oor aan Emmanuel Macron, verkose President van die Franse Republiek met sy oorwinning tydens die Franse presidensiële verkiesings op 7 Mei 2017.

Suid-Afrika sien uit daarna om met die Franse regering onder leiding van mnr Macron saam te werk om die reeds sterk politieke, ekonomiese en handelsbande tussen Suid-Afrika en Frankryk te konsolideer.

11.2 Die Kabinet wens die voormalige burgemeester van Johannesburg en die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging, Parks Tau, geluk met sy aanstelling as mede-voorsitter van die Verenigde Nasies se Hoëvlak Onafhanklike Paneel om toesig te hou oor die doeltreffendheid van die Habitat III.

Die program is deur die VN aanvaar om die wêreldwye verbintenis tot volhoubare verstedeliking te herbevestig.

11.3 Die Departement van Handel en Nywerheid (dti) het die toekenning vir die beste uitstaller by die Zimbabwiese Internasionale Handelsuitstalling (ZITF) ingepalm.

Die toekenning erken die uitstaande pogings van die Suid-Afrikaanse span om te verseker dat die land se verbintenis tot die bou van vennootskappe met Zimbabwe die verlangde ekonomiese winste oplewer.

11.4 Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die mense van die Republiek van Tanzanië ná die tragiese busongeluk waarin 36 mense, waarvan 33 kinders was, gesterf het.

12. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

12.1    Raadslid aan die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure:

  1. Me Amanda L Mazibuko (heraanstelling);
  2. Mnr Abel Dlamini (heraanstelling);
  3. Mnr Thiru Pillay (heraanstelling;
  4. Me Nkabaneng T Mashile;
  5. Me Zuziwe Ntsalaze;
  6. Mnr Mohamad I Motala;
  7. Mnr Madoda A Petros; en
  8. Me Martie J Janse van Rensburg

12.2 Heraanstelling van Mnr. Cedric Monwabisi Masondo as die Besturende Direkteur en Uitvoerende Direkteur van Spesiale Risikobestuursvereniging (SASRIA) SOC BPK.

Navrae:
Phumla Williams
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore