Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 9 September 2015

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet beklemtoon President Jacob Zuma se beroep op alle sektore van die samelewing om in die huidige moeilike ekonomiese omstandighede saam te werk om die ekonomie te ondersteun en werkgeleenthede te behou.

Die ooreenkoms tussen die Regering, mynhuise en arbeidsvakbonde dui aan dat alle sektore daartoe verbind is om werkgeleenthede te behou en die uitwerking van werkverliese te verlig. 

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om te verenig in 'n poging om die ooreenkoms te implementeer. Die ooreenkoms dien as 'n bloudruk vir alle sektore wat uitdagings in die gesig staar om werkgeleenthede te behou.

1.2 Die Kabinet het die Kwarttaalikse Inkomsteverslae vir die tydperk 1 April tot 30 Junie 2015 ontvang. Die Kabinet is tevrede met die vordering wat gemaak is en neem ook kennis van aspekte wat tussenkomste verg. Die GCIS sal media-inligtingsessies koördineer met die doel om inligting oor die implementering van regeringsprogramme oor te dra. Hierdie skedule sal in 'n later stadium bekengemaak word.

1.3 Die Kabinet is ingelig oor die G20-vergadering wat van 3 tot 5 September 2015 in Ankara, Turkye gehou is. Die vergadering is bygewoon deur die ministers van finansies en van arbeid, asook die President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.  ’n Gesamentlike vergadering van die ministers van finansies en van arbeid het strategieë bespreek om meer en beter werkgeleenthede te skep, ongelykheid te verminder en inklusiewe groei te bevorder.

1.4 Die vergadering van die ministers van finansies en die presidente van sentrale banke het onder meer gefokus op die wêreldekonomie; ’n raamwerk vir volhoubare en gebalanseerde groei; beleggingsinfrastruktuur; internasionale belastingkwessies; finansiering vir ontwikkeling en klimaatsverandering. Die Kabinet neem kennis dat wêreldwye groei nie aan verwagtings voldoen nie. Die Kabinet neem egter ook kennis van die G20 se hernieude onderneming om ontwikkelings te monitor, die waarde van surplusse te bepaal, en opkomende risiko’s te hanteer waar nodig om vertroue in finanasiële stabiliteit te kweek. 

Die G20 het ook die positiewe uitkoms van die Addis Ababa-konferensie oor Finansiering vir Ontwikkeling, waarin Suid-Afrika 'n deurslaggewende rol as voorsitter van die G77 plus China gespeel het, verwelkom.   

1.5 Die Kabinet verwelkom die inhuldiging van die Kouga-windplaas en aanskakel van die winplaas se elektrisiteit op 4 September 2015 in die Oos-Kaap.

Die Kouga-windplaas sal jaarliks sowat 300 gigawatt-ure se skoon elektrisiteit voorsien. Dit sal ’n gemiddeld van 50 000 huishoudings van elektrisitet voorsien en is deel van die land se plan om na meer volhoubare energievoorsiening te diversifiseer.               

Die Departement van Energie het vroeër vanjaar geleenthede vir die private sektor om tot die produksie van krag by te dra uitgebrei deur 13 nuwe onafhanklike produsente van hernubare krag, wat altesaam 5 243 megawatt tot die nasionale netwerk sal bydra, goed te keur.

1.6 Die Kabinet neem kennis van die migrasie-ontwikkelinge in Europa wat die kompleksiteit van migrasiebestuur en sy verhouding met die buitelandse beleid van die onderskeie lande na vore te bring.

Suid-Afrika het konsekwent probeer om kwessies van migrasie so menslik as moontlik te hanteer. Die migrasiekrisis in Europa is 'n streeksuitdaging wat die gesamentlike poging van individuele state vereis. Die aktiewe deelname van en noue samewerking met gemeenskappe, die samelewing en burgerlike organisasies is nodig om migrasiekwessies aan te pak.

1.7 Die Kabinet prys die werk van die Munisipale Afbakeningsraad (MAR) wat onlangs die bepaling en herbepaling van die buitenste grense van munisipaliteite in agt provinsies regoor die land voltooi het.

Die MAR het sy werk in ooreenstemming met sy wetgewende mandaat uitgevoer en gebruik bepalings binne sy magte om die finale besluite te neem.

Die Kabinet het sy diep besorgdheid uitgespreek oor 'n paar politieke partye wat 'n aanval op die MDB  geloots het in ’n poging om sy onafhanklikheid en legitimiteit in die oë van die publiek te ondermyn.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle politieke partye om hulle daarvan te weerhou om die werk van 'n belangrike onafhanklike instelling wat ons demokrasie ondersteun, te ondermyn. Daar is ander wettige kanale waardeur besluite van die  MAR betwis kan word.

1.8 Die seisoen vir verslagdoening oor billike indiensneming het  op 1 September 2015 begin om beide persoonlike en aanlynverslae in te dien, wat onderskeidelik op 1 Oktober 2015 (persoonlik) en 15 Januarie 2016 (aanlyn) sluit.

Die Kabinet herinner alle werkgewers om hul billike indiensnemingsverslae by die Departement van Arbeid in te dien. Sodanige verslae help die land om die vordering met betrekking tot die hantering van wanbalanse rakende diskriminasie en gelykheid te monitor.

Die Departement van Arbeid onderneem nasionale inligtingsreise onder die tema: "Transformasie - maak sakesin" om implementering te versterk en nakoming te verseker.

2. Belangrike Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet is ingelig oor die finale Millennium-ontwikkelingsdoelwitte se Afsluitverslag vir Suid-Afrika. Die Kabinet keur die konsep-afsluitverslag wat later vanjaar aan die Verenigde Nasies voorgelê sal word, goed.

Volgens die verslag is daar ná 20 jaar van ontwikkeling beduidende vordering gemaak met nasionale lewering van noodsaaklike dienste en die vermindering van uiterste armoedevlakke. Suid-Afrika staar egter steeds die drievoudige uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid in die gesig.

Die verslag sit die bal aan rol vir 'n meer doeltreffende post-2015 ontwikkelingsagenda, asook vir die gepaardgaande volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.

2.2. Die Kabinet keur die Minister van Vervoer se aanbeveling goed dat ’n dringende huurooreenkoms aan Tag Yachts (Edms) Bpk voorsien moet word. Dit is daarop gemik om die vervaardiging van hoë-gehalte saamgestelde katamarans in Port Elizabeth se hawe te inisieer. Dit sal uitvoering gee aan die verantwoordelikheid wat aan die leweringseenheid vir marine-vervaardiging onder die Operasie Phakisa-inisiatiewe toegewys is, om 'n saamgestelde bootbougroepering in die Oos-Kaap te vestig. Die projek is goedgekeur in ooreensteming met die bepalings van Artikel 57 van die Wet op Nasionale Hawens, 2005 (Wet 12 van 2005).

2.3. Die Kabinet keur goed dat die Afrika-handves oor Statistiek aan die Parlement vir bekragtiging voorgelê word.

Die handves is 'n beleidsraamwerk vir die ontwikkeling van statistiek in Afrika, waarin die professionele beginsels, wat die produksie en bestuur van statistiek op nasionale, streeks- en kontinentale vlak beheer, uiteengesit word.

Statistiek is die hoeksteen vir doeltrefffende monitering en evaluering wat verseker dat doelwitte en uitkomste bereik word. Die handves bepaal riglyne vir die produksie van goeie gehalte statistiek vir die monitering van die Nasionale Ontwikkelingsplan, asook regeringsprogramme en -prioriteite.

2.4. Die Kabinet keur goed dat die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME) voortgaan met die Twende Mbele-program om te kan belê in samewerking rondom monitering en evaluering regoor Afrika.

Die Twende Mbele-program sal Suid-Afrika help om op bestaande informele vennootskappe te formaliseer en daarop voort te bou; dit kan bilaterale ooreenkomste insluit. Dit steun die stryd om die lewensgehalte van Suid-Afrikaners te verbeter, wat gekoppel is aan die strewe na 'n beter Afrika en 'n beter wêreld.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 2015 aan die Parlement voorgelê word.

Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) om die regte van inwoners te versterk, uiteen te sit en te beskerm.

Die wysigings spruit voort uit die Beleid oor Sekerheid van Verblyfreg en Uitsettings in Kommersiële Boerderygebiede, en het ten doel om 'n oplossing vir onsekerhede rakende verblyfreg te vind deur maatreëls oor herverdeling van grond binne doeltreffende wetlike beskerming te kombineer met maniere om geskille op te los.

Bestaande ingestelde maatreëls en vermoëns was tot dusver nie voldoende om die gehalte en omvang van konflikte oor grondregte en sekerheid van verblyfreg in kommersiële boerderygebiede te hanteer nie.

4. Toekomstige gebeure

4.1. As deel van die Erfenismaand-vierings in September, sal President Jacob Zuma die Matola-monument en Vertolkingsentrum in Mosambiek op Vrydag, 11 September 2015, onthul; en die standbeeld van Hoofman Bhambhatha in Greytown, KwaZulu-Natal op 22 September 2015.

4.2. Die President sal ook op Erfenisdag, wat op 24 September 2015 gevier word,  die hoofrede by Vleifontein Machado in Limpopo lewer. Die tema vir vanjaar se Erfenismaand is: "Ons inheemse kennis, ons erfenis: Vir die identifisering, bevordering en bewaring van Suid-Afrika se lewende erfenis."

4.3. Suid-Afrikaners word aangemoedig om ons land se natuurlike erfenis te verken deur nasionale parke te besoek, wat as deel van die 10de jaarlikse Suid-Afrikaanse Nasionale Parke-week, tussen 14 en 18 September 2015 gratis toegang bied,

4.4. Die Departement van Basiese Onderwys sal gedurende September 2015  die vyfde Jaarlikse Nasionale Asseserings (ANA) onderneem om die vordering van leeruitkomste in geletterheid en wiskunde onder graad 1- tot 9-leerders te bepaal.

Die ANA ontwikkel gestandardiseerde getuienis vir die monitering van vordering rakende regeringstussenkomste en lei ook die ontwikkeling van geteikende tussenkomste. 

Ouers en voogde word aangemoedig om leerders tydens die assesseringstydperk te ondersteun en om seker te maak dat die uitslae gebruik word om aandag te gee aan ontwikkelingsareas. Die ANA-rooster vir 2015 is beskikbaar by: www.education.gov.za

Die Kabinet doen ’n beroep op onderwysers om leerders se behoeftes voorop te stel deur te verseker dat die assesserings sonder onderbrekings verloop.

4.4 Die Kabinet bedank Suid-Afrikaners wat aan die Internasionale Geletterdheidsdag op 8 September 2015 deelgeneem het om ’n leeskultuur en die belangrikheid van geletterdheid te bevorder. Die stigtingsdokument van ons demokrasie, die Vryheidsmanifes, verklaar dat dit ons strewe is dat "die deure van leer vir almal oop sal wees.”

Die Departement van Basiese Onderwys doen hierdie maand ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om aan 'n geletterdheidsveldtog deel te neem wat daarna mik om lees in ons gemeenskappe aan te moedig. Die Kabinet versoek elkeen om boeke aan skoolbiblioteke te skenk en om van hulle tyd af te staan om vir kinders in hul gemeenskappe te lees.

4.5. Die Nasionale Jaarlikse Thusong-dienssentrumweek van 13 to 18 September 2015 is daarop gemik om die sentrums en mobiele eenhede bekend te stel deur die Regering se die dienste nader na die mense te neem. Dit maak deel uit van Staatsdiensmaand.

Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om gebruik te maak van die verskeidenheid van dienste en inligting wat deur die Thusong-dienssentrums aangebied word om hulself te ontwikkel en te bemagtig.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om uitsonderlike staatsamptenare of staatsinstellings te eer deur hulle voor 30 September 2015 te nomineer vir die 3de Nasionale Batho Pele-toekennings vir Uitenemendheid 2015, onder die tema: "Batho Pele - mense eerste". Meer inligting hieroor is beskikbaar by: www.dpsa.gov.za.  

4.5 Die Kabinet merk op dat die 70ste Gereelde Sessie van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering (UNGA 70) op 15 September 2015 by die VN se hoofkwartier in New York sal open. Die Byeenkoms vir die Aanvaarding van die Post-2015 Ontwikkelingsagenda sal van 25 tot 27 September 2015 plaasvind.

Die Algemene Debat van die 70ste UNGA-sessie sal van 28 September tot 6 Oktober 2015 plaasvind. Die laaste AU-beraad wat in Suid-Afrika gehou is het 'n beroep op al die AU-lidlande gedoen om gebruik te maak van die platform wat die VN se Algemene Vergadering bied om die hervorming van die Veiligheidsraad by hul buitelandse beleidsprioriteite in te sluit wanneer hulle met hul nie-Afrikavennote gesprek voer; in die besonder om in hul verklarings tydens die debatte van die VN se Algemene Vergadering, die behoefte om die historiese onreg op die Afrika-kontinent reg te stel, in te sluit.

4.6 Die Kabinet merk op dat Suid-Afrika van 4 tot 5 Desember 2015 die gasheer vir die 2de Spitsberaad van die Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC) sal wees. Die Suid-Afrikaanse regering sal nou saamwerk met China se regering, die Afrikagroep van Ambassadeurs in Beijing en Addis Abeba, en die AU-kommissie oor die voorbereidings wat tot die FOCAC-spitsberaad sal lei. Daar word verwag dat die FOCAC-spitsberaad 'n nuwe Verklaring en Plan van Aksie (2016-2018) sal aanneem. Suid-Afrika voer tans gesprek met alle partye ter voorbereiding van dokumente oor hierdie twee belangrike uitkomste.

Gelukwense

4.7 Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur die Federasie van die Statebondspele se Algemene Vergadering dat Durban die gasheer sal wees vir die 2022 Statebondspele; dit sal die eerste keer wees dat hierdie glansgeleentheid in Afrika plaasvind .

Durban sal van die 2010 FIFA Wêreldbeker-infrastruktuur gebruik maak om die spele aan te bied, wat na verwagting R20 miljard tot die ekonomie sal bydra; dit sal lei tot 'n bykomende groei van R11 miljard in die bruto binnelandse produk.

4.8 Die Kabinet wens ons atlete geluk met hul 13de plek by die 15de Wêreld-atletiekbyeenkoms in Beijing, China en dat hulle een goue en twee bronsmedaljes ingepalm het.

4.9 Die Kabinet wens Bafana Bafana ook geluk met hul oorwinning in die 21ste Mandela-uitklopreeks waar hulle Senegal met 1-0 geklop het. Die oorwinning volg nadat hulle oor die naweek teen Mauritanië verloor het; ons hoop dat dit die span se vertroue om vir die Afrikabeker-toernooi te kwalifiseer sodoende ’n hupstoot gekry het.

Deur hul oorwinning in die Mandela-uitklopreeks, het die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging hul skenking aan die Nelson Mandela-kinderfonds van

R1 miljoen tot R1, 5 miljoen verhoog.

4.10 Die Kabinet wens die Springbokspan sterkte toe vir 8ste Rugby-wêreldbeker wat van 18 September tot 31 Oktober 2015 deur Engeland aangebied word, en doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om agter ons nasionale span te verenig.

4.11 Die Kabinet wens saam met die President die Universiteit van die Witwatersrand geluk met die groot ontdekking van nuwe fossiele by Maropeng by die Wieg van die Mensdom-wêrelderfenisgebied in die Wes-Rand, Gauteng.

Hierdie nuwe merkwaardige ontdekking volg ná intensiewe navorsing deur wetenskaplikes onder die vaandel van die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting se Sentrum vir Uitnemendheid by die Universiteit van die Witwatersrand.

4.12 Die Kabinet dra saam met die President sy gelukwense oor aan die Vergadering van die Rooms-Katolieke Kerk vir die formele erkenning aan Mnr Tshimangadzo Samuel Benedictus Daswa as die eerste Heilige in Suid-Afrika. Die seremonie, waartydens die Katolieke Kerk Mnr Tshimangadzo Samuel Benedictus Daswa salig sal verklaar, sal op 13 September 2015 in Thohoyandou, Limpopo, plaasvind. Daswa was 'n skoolhoof in Limpopo. Hy is in Februarie 1990 geslaan en gestenig, en het doodgebrand vir sy Katolieke oortuigings.

5. Belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet verwelkom die voorgestelde voorneme van die Padverkeer-bestuurskorporasie en provinsiale verkeersowerhede om 'n 24-uur-skof vir verkeersbeamptes in te stel om die slagting op ons paaie hok te slaan.

Die Kabinet herinner alle padgebruikers daaraan dat padveiligheid almal se verantwoordelikheid is en dat die sukses van padveiligheidsveldtogte daarvan afhang dat almal die padveiligheidsreëls nakom. In afwagting van die skoolvakansie wat binnekort landwyd begin, sal die Departement van Vervoer sy padveiligheidsveldtog uitbrei.

Die Kabinet doen 'n beroep op motoriste om die slagting op ons paaie te stuit deur padtekens te gehoorsaam, om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie, en nie met onpadwaardige voertuie op ons paaie te bestuur nie.

5.2. Die Kabinet neem kennis van die 14de Wêreld-bosboukongres wat tans in Durban gehou word en deur 3 200 afgevaardigdes bygewoon word. Die kongres is die eerste wat in Afrika plaasvind, en word bygewoon deur verteenwoordigers van verskillende sektore soos regerings, nie-regeringsorganisasies, en die private sektor, asook wetenskaplike en professionele liggame. Die wye deelname en inklusiewe besprekings oor bosboukwessies sal verseker dat dit wêreldwyd by hoofstroom-agendas oor volhoubare ontwikkeling en die bou van nuwe vennootskappe ingesluit word.

5.3. Die Kabinet neem kennis van die verklaring wat deur die Amerikaanse diplomatieke sending na Suid-Afrika uitgereik is wat waarsku dat ekstremiste Amerikaanse belange in Suid-Afrika kan teiken.

Die Kabinet benadruk dat die Departement van die Minister van Staatsveiligheid die publiek verseker dat die veiligheid van alle Suid-Afrikaners steeds voorkeur geniet. Ons wetstoepassingsagentskappe bly waaksaam om die land se inwoners en hul eiendom te beskerm.

Meegevoel

5.4. Die Kabinet dra saam met President Zuma sy innige meegevoel oor aan die familie, vriende en kollegas met die afsterwe van Regter Thembile Lewis Skweyiya.

Hy het 'n geweldige bydrae tot die land gemaak as 'n anti-apartheidsprokureur, menseregte-aktivis, Regter van die Hooggeregshof en Regter van die Konstitusionele Hof.

5.6. Die Kabinet dra ook sy medelye oor aan die familie en onderdane van sy Majesteit Koning Lekunutu Cavendish Mota van Batlokwa ba Mota in die Vrystaat.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

6.1. Ms Mmabatho Ramagoshi – Adjunk-direkteur-generaal: Beleidskoördinering en Kennisbestuur by die Departement van Vroue.

6.2. Nasionale Hoof: Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek. Die Minister van Polisie sal die aankondiging vanmiddag maak.

Navrae: Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139                                                                                                                                                                                                                              

Share this page

Similar categories to explore