Verklaring Oor Die Kabinetsvergadering van 4 November 2015

1. Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die Loodsprojek vir Ondernemingsontwikkeling van R20 miljoen. Dié twee-jaar-loodsprojek het ten doel om Suid-Afrika se nywerheidsparke te vernuwe, gespesialiseerde nywerheidsgeriewe te vestig en die integrasie van plaaslike ekonomiese ontwikkeling te ondersteun om die kleinsakesektor te versterk.

Die projek is ’n vennootskap met die Departemente van Handel en Nywerheid, Kleinsakeontwikkeling, Nasionale Tesourie en die Middelinkomstetoelaag van die Afrika-ontwikkelingsbank. Die projek beoog om ’n bydrae te maak tot werkskepping en die verligting van armoede in agtergeblewe gemeenskappe, en om toegang tot tegnologie en vaardighede vir klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO's) te verbeter.

Die inisiatief bied ondersteuning aan die KMMO-sektor tot Desember 2017. Op grond van sy sukses, sal die Regering dit oorweeg om die projek landwyd bekend te stel.

1.2. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Gesamentlike Operasionele Sentrum deur President Jacob Zuma in Skukuza. Hierdie sentrum sal operasies teen renosterstropery in daardie gebied koördineer.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet het die Swartnyweraarsbeleid, wat deel is van die Nywerheidsbeleid-aksieplan (NBAP) goedgekeur. Hierdie beleid is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Negepuntplan wat President Zuma in vanjaar se staatsrede aangekondig het. 

Dit is ook deel van die Regering se breë nywerheidsinisiatief om die nywerheidsbasis te verbreed en nuwe entrepreneursdinamika in die ekonomie te pomp. Die beleid vereis sterker beleidsingrypings deur die Staat om die land se nywerheidsektor uit te brei en die ekonomie te laat groei deur toegewyde ondersteuning aan swart nyweraars soos uitgelig in die NBAP.

Hierdie beleid sal op die groei en internasionale mededingendheid van ondernemings in swart besit fokus. Die bedoeling is om tot die verandering in die demografie van die nywerheidsektor by te dra en swart nyweraars te betrek, wat volgens sommige onderbenut word in terme van werk, inkomste, belasting en innovering. Die beleid sal help dat maatskappye in swart besit en bestuur betekenisvol aan die waardekettings van die nywerheidsektor deelneem.

Die Minister van Handel en Nywerheid sal 'n afsonderlike mediakonferensie hou om hierdie beleid te uiteen te sit.

2.2. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika se derde Nasionale Verslag oor die inwerkingstelling van die Cartagena-protokol oor Bioveiligheid, vir voorlegging aan die Sekretariaat van die Konvensie oor Biologiese Diversiteit voorgelê word.

Die protokol bepaal die bewegings van lewende gemodifiseerde organismes, ook bekend as geneties gemodifiseerde organismes wat die gevolg is van moderne biotegnologie, van een land na ’n ander.
Suid-Afrika is die negende grootste produsent van geneties gemodifiseerde gewasse in die wêreld en bly die pionier in die aanvaarding van sodanige gewasse. Dit is in lyn met artikel 24 van die Grondwet, wat volhoubare benutting van biodiversiteit bepleit.

2.3. Die Kabinet keur Suid-Afrika se aanvanklike aanbod van dienste ingevolge die besluit van die 9de Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se ministeriële konferensie goed om voorkeurbehandeling aan die mins ontwikkelde lande (MOL) te verleen.

Suid-Afrika is verbind tot die WHO-ooreenkoms, wat voorkeurbystand aan die MOL bied. Van die 34 lande wat as MOL geklassifiseer word, is 25 in Afrika. Suid-Afrika se eerste aanbieding sal bestaan uit finansiële dienste, en dienste uit die telekommunikasie-, toerisme- en vervoersektore. Sodanige aanbiedings help om toegang tot dienste en diensverskaffers in markte van nie-MOL’e te vergemaklik.

2.4. Die Kabinet keur 'n hersiene 5,5%-lewenskoste-aanpassing aan lede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) goed met ingang 1 April 2015. Dit is in lyn met artikel 9 (1) van die SAMRK-wet , 2013 (Wet 40 van 2013).

2.5. Die Kabinet keur die indiening van Suid-Afrika se gekombineerde Tweede Chemiese Verslag onder die Afrika-handves vir Menseregte en die eerste verslag onder die Protokol vir die Afrika-handves oor Vroueregte in Afrika goed.
Die verslag aan die Afrika-unie-kommissie is 'n evaluering van prestasies en uitdagings wat uitvoering gee aan burgerlike, politieke, sosio-ekonomiese en kulturele regte. Dit is in lyn met Suid-Afrika as ondertekenaar van die AU-protokol van die Afrika-Handves vir Menseregte oor die Regte van Vroue in Afrika.

2.6. Die Kabinet keur die bekendstelling van 'n Lesotho-bedeling goed wat op 1 Februarie 2016 sal begin. Dit volg op die spesiale bedeling wat in 2010 aan Zimbabwe toegestaan is, wat sedertdien uitgebrei is.
Hierdie bedeling sal help om die vloei van arbeid van Lesotho-burgers wat na Suid-Afrika kom en die huidige immigrasiemeganismes oortree, beter te bestuur.

Die Minister van Binnelandse Sake sal meer besonderhede tydens 'n mediakonferensie in 'n later stadium bekend maak.

2.7. Die Minister van Finansies het die Kabinet ingelig oor die inwerkingstelling van die Wysigingswet op Belastingwette van 2013 en 2014 wat op 1 Maart 2016 in werking tree. Hierdie hervormings is daarop gemik om die belasting van aftredebydraes en-voordele te vereenvoudig. Die uitbreiding van die belastingvoordeel om voorsorgfondse te dek sal maak dat meer as een miljoen werknemers meer geld in hul sak sal hê.

Dit sal ook keer dat hoërinkomstegroepe belasting vermy deurdat ’n maksimum van 27,5% tot R350 000 van vergoeding of belasbare inkomste aftrekbaar sal wees.

Die Minister het die Kabinet ook ingelig oor die beginsel van annuïtisering vir alle aftreefondse, waarvolgens diegene wat by belastingaftrekkings baat ook ’n deel van hul spaargeld by aftrede sal moet annuïtiseer.

Hierdie hervormings sal ná uitgebreide konsultering met alle belanghebbendes binne en buite die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad in werking gestel word, en minstens 33 vergaderings is sedert 2012 met die arbeids- en nywerheidsektore gehou. Die meeste belanghebbendes het hul volle steun toegesê aan die hervormings wat op 1 Maart 2016 in werking tree.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur die indiening van die Uitsaaiwet-wysigingswetsontwerp van 2015 aan die Parlement goed. Die Wetsontwerp wysig die Uitsaaiwet, 1999 (Wet 4 van 1999) om ’n stabiele korporatiewe bestuursmodel te ontwikkel wat stabiliteit en volhoubaarheid aan die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) oor die lang termyn sal verseker.

Die Regering is verbind tot ’n sterk, onafhanklike en relevante openbare uitsaaier, wat aanspreeklik is teenoor die aandeelhouer, die publiek en die Parlement.
Die vermoë om sy mandaat na te kom hang van die SAUK-raad se vermoë af om strategiese rigting aan die openbare uitsaaier te gee.

3.2. Die Kabinet keur die Versekeringswysigingswet van 2015 vir voorlegging in die Parlement goed.

Die wetsontwerp maak voorsiening vir ’n gekonsolideerde wetlike raamwerk vir die ekonomiese toesig van die versekeringsektor in ooreenstemming met internasionale standaarde vir die regulering van die versekeringsektor. Die wetsontwerp bevorder die huidige vereistes vir risikobestuur, kapitaal en bestuur. Dit vervang en konsolideer wesentlike dele van die Langtermynversekeringswet, 1998 (Wet 52 van 1998) en die Korttermynversekeringswet, 1998 (Wet 53 van 1998) met betrekking tot ekonomiese toesig.

3.3. Die Kabinet het die Konsepwet oor Myneksplorasie en Finansies in Afrika in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer. Die wetsontwerp vestig hiermee die Korporasie vir Myneksplorasie en Finansies in Afrika deur wetgewing. Dit definieer ook sy mandaat en strategiese doelwitte. Dit versterk die bestuur en toesig van die entiteit.

3.4. Die Kabinet keur die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Beskermde Bekendmakings, 2015, in die Parlement goed. Die wetsontwerp verbreed die toepassing van die Wet op Beskermde Bekendmakings, 2000 (Wet 26 van 2000) buite die tradisionele verhouding tussen werkgewer en werknemer.

Die wysigings reguleer gesamentlike aanspreeklikheid, stel 'n plig in om openbaarmakings te ondersoek, maak voorsiening vir immuniteit teen siviele en strafregtelike aanspreeklikheid in sekere omstandighede, en kriminaliseer opsetlike vals openbaarmakings.

Die wetsontwerp dra by tot die Regering se verbintenis om bedrog en korrupsie uit te roei deur fluistervinke te beskerm.

3.5. Die Kabinet keur die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe van 2015 in die Parlement goed. Die wetsontwerp wysig die Wet op Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe, 1998 (Wet 46 van 1998).

Die wetsontwerp sal die Padverkeeroortredingsagentskap en uitreikingsowerhede help om finansieel stabiel te bly en doeltreffendheid met die bediening van kennisgewings aan oortreders te verbeter.

4. Komende gebeure

4.1. President Zuma sal die G20-beraad op 15 en 16 November 2015 in Antalya, Turkye, bywoon. Die fokus van die besoek sal op inklusiewe en sterk groei deur gesamentlike optrede wees. 
Leiers sal tydens die beraad inklusiwiteit, inwerkingstelling en belegging bespreek om sterk, volhoubare en gebalanseerde groei op internasionale vlak te bereik.
4.2. President Zuma sal op 10 November 2015 'n amptelike besoek aan Berlyn, Duitsland, bring, waar Kanselier Angela Merkel hom sal ontvang. Die President sal ook 'n hoflikheidsbesoek aan President Joachim Gauck bring. Die twee lande sal tydens die besoek hul verbintenis herbevestig om bilaterale en ekonomiese betrekkinge te versterk.
4.3. President Zuma gaan die Eerste Minister van Nederland, Mark Rutte, op 17 November 2015 by die Uniegebou in Pretoria ontvang.
Hierna sal Rutte ’n sake-afvaardiging na Johannesburg en Kaapstad lei wat op landbou, gesondheidsorg, vervoer, infrastruktuur, water en energie sal fokus.
4.4. Suid-Afrika sal die Forum vir die Beraad oor Samewerking tussen China en Afrika in Johannesburg op 4 en 5 Desember 2015 aanbied. Die beraad sal die strategiese program vir samewerking tussen Suid-Afrika en China oor vyf en 10 jaar (2015-2024) profileer en bilaterale ooreenkomste tussen die twee lande bevorder.
4.5. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal ’n hoëvlakafvaardiging tydens ’n amptelike besoek aan die Islamitiese Republiek van Iran van 7 tot 9 November 2015 lei. Die doel van die besoek is om bilaterale politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die twee lande te verbeter.
4.6. President Zuma sal op 6 November 2015 'n Siyahlola-moniteringsbesoek aan Bosbokrand in Mpumalanga bring, wat op water en sanitasie sal fokus.
Nagenoeg 16 600 huishoudings sal by Fase 1 van die Regering se waterprojek in die gebied baat, wat water lewer aan 24 dorpe in die Bosbokrand Plaaslike Munisipaliteit.
Die Regering bly daartoe verbind om te verseker dat alle Suid-Afrikaners toegang tot basiese dienste het. Tussen 2002 en 2014 het die persentasie van huishoudings wat toegang tot water het van 80 tot 86% gestyg, en sanitasie het van 62 tot 80% gestyg.
4.7. President Zuma sal die inhuldiging van die verkose president van die Verenigde Republiek van Tanzanië, sy Eksellensie John Pembe Magufuli op 5 November 2015 bywoon.

5.  Boodskappe van gelukwensing

5.1. Die Kabinet wens die staatsamptenare geluk wat benoem is vir die 3de Nasionale Batho Pele-toekennings vir Uitnemendheid. Die toekennings vind op 13 November 2015 by Emperor's Palace, Gauteng, plaas onder die tema: "Batho Pele - Mense Eerste". Hulle beloon beste praktyk, goeie prestasie en meet burgers se tevredenheid ten opsigte van die Regering se prestasie.
5.2. Die Kabinet wens die regerings en die mense van die Republiek van die Ivoorkus en die Verenigde Republiek van Tanzanië geluk met hul vreedsame verkiesings. Die grootskaalse deelname deur Ivoorkussers en Tanzaniërs aan die algemene verkiesings weerspieël hul begrip van hoe belangrik dit is om ’n mens se burgerlike plig en fundamentele regte uit te oefen. Dit is 'n aanduiding van die volwassewording van die demokratiseringsproses op die vasteland.
5.3. Die Kabinet wens die Springbok-span geluk met hul prestasie tydens die Internasionale Rugbyraad se 2015-rugbywêreldbeker. Die span het die bronsmedalje huis toe gebring.
5.4. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse swemspan geluk met hul deelname aan die FINA/airweave Wêreldbeker-swemtoernooi in Doha, Katar.
Cameron van der Burgh het 'n goue medalje in die 100 m-borsslag ingepalm. Op sy beurt het Chad le Clos ook ’n goue medalje in die 100 m-vlinderslag gewen en 'n vierde plek in die 200 m-rugslag behaal. Michael Meyer het silwer in die 200-meter individuele wisselslag behaal. Douglas Erasmus het 'n brons medalje in die snelle 50 m-vryslag gewen, Kaylene Corbett het die agtste plek in die 50-borsslag-eindronde behaal en Calvyn Justus het agtste in die 200 m-vryslag geëindig.

6. Konferensies

6.1. Die Kabinet verwelkom afgevaardigdes wat die 4de BRICS Internasionale Kompetisie-konferensie van 12 tot 13 November 2015 by die Inkosi Albert Luthuli-konferensiesentrum in Durban bywoon met die tema: "Mededinging en Inklusiewe Groei".

Dit bring kenners in mededingingsreg byeen om te kyk hoe mededingingsbeleid kan bygra tot inklusiewe groei en ekonomiese ontwikkeling in die BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika).

Suid-Afrika se sterk mededingingregulasies stel burgers in staat om vrylik aan die nasionale ekonomie deel te neem. Dit moedig meer mense aan om betrokke te raak by die produktiewe sektore van die ekonomie en maak die speelveld van die sakesektor gelyk.

Suid-Afrika mededingingregulasies dra tot groter burgerlike deelname by en het ’n groot bydrae gelewer om kartelle en prysvasstelling uit te roei. Dit het ’n leidende rol gespeel in die toepassing van oorwegings van openbare belang in samesmeltings en verkrygings.

6.2. Die Minister van Vervoer, Dipuo Peters, sal die Tweede Wêreldkonferensie vir Ministers van Vervoer vanaf 18 tot 20 November 2015 in Brasilië bywoon. Tydens die konferensie sal Suid-Afrika sy Middeltermyn-landsverslag voorlê wat sal handel oor die vordering wat gemaak is oor die inwerkingstelling van die Verenigde Nasies se Wêreldplan van ’n Dekade van Aksie vir Padveiligheid 2011 tot 2020.

Suid-Afrika het hom daartoe verbind om teen 2020 padongelukke met die helfte, van 13 967 tot minder as 7 000 te verminder. Suid-Afrika maak tans beduidende vordering om die doelwitte soos uiteengesit in die Wêreldplan van ’n Dekade van Aksie vir Padveiligheid 2011 tot 2020 te behaal, ondanks uitdagings waarmee die land te kampe het.

7. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

7.1. Die uitwissing van beperkings wat tot werkskepping kon lei bly ’n topprioriteit vir die Regering. Die Mediumtermyn-begrotingbeleidsverklaring het aangedui dat wêreldwye ekonomiese groei verlangsaam het. Dit het tot laer kommoditeitspryse en stygende werkloosheid in baie dele van die wêreld gelei. Dit word weerspieël in die Kwartaallikse Arbeidsmagopname, waarvolgens werkloosheid in die derde kwartaal van 2015 op 25,5% staan, effens hoër as die 25,4% in dieselfde kwartaal verlede jaar. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid vir alle sektore om met die Regering saam te werk ter ondersteuning van inisiatiewe om werkgeleenthede te skep en meer Suid-Afrikaners aan die werk te kry.Die Regering is besig om deur middel van die negepuntplan groei te stimuleer en werk te skep deur nuwe geleenthede in strategiese ekonomiese gebiede te ontsluit.
7.2. Die Kabinet verwelkom President Zuma se aankondiging van ’n nulpersentstyging in klasgelde by tersiêre instellings vir die 2016 akademiese jaar. Die besluit bring broodnodige geldelike verligting, veral aan die armes, werkersklas en laermiddelklasgesinne met universiteitstudente. Die Kabinet verwelkom verder die besluit van die President om ’n kommissie aan te stel om die kwessies wat studente geopper het te ondersoek. Die President sal die kommissie asook die kommissie se opdragte binnekort bekend maak.
7.3. Die Kabinet verwelkom die ingrypings deur die Departement van Water en Sanitasie om gemeenskappe in KwaZulu-Natal en die Vrystaat by te staan wat gebuk gaan onder droogte. Gebiede wat water van die land se groter opgaardamme in landelike gebiede ontvang, het genoeg water omdat die opgaardamme tans sowat 66% vol is. Die Kabinet verwelkom die stigting van 'n interministeriële komitee (IMK) oor watersekerheid onder voorsitterskap van die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Pravin Gordhan. Die IMK bestaan uit ministers van landelike ontwikkeling en grondhervorming, water en sanitasie, en landbou, bosbou en visserye. Die komitee sal verdere ingrypings aan die gemeenskappe wat die ergste onder droogte gebuk gaan, bespreek en voorstel.
7.4.  Die Kabinet neem kennis van verwikkelinge in Nigerië rakende MTN se boete van VSA $ 5,2 miljard deur die Nigeriese Kommunikasiekommissie. Die Kabinet vertrou dat die besprekings tussen MTN en die Nigeriese owerhede tot ’n spoedige oplossing van die geskille sal lei sodat MTN sal kan voortgaan om in die Nigeriese ekonomie te belê.

8. Meegevoel

8.1. Die Kabinet neem met hartseer kennis van die ontydige dood van Chumani Nqakula, seun van die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula en Charles Nqakula, 'n lid van die Parlement.
Die Kabinet dra sy innige meegevoel aan die Nqakula-familie en vriende oor.

8.2. Die Kabinet dra ook sy innige meegevoel oor aan die familie en naasbestaandes van die Minister van Staatsdiens en Administrasie, Ngoako Ramatlhodi, ná die afsterwe van sy 95-jarige ma, Elizabeth Mmatlou Ramatlhodi.

9.  Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en uitklarings.

1. Mnr Mogojare Richard Seleka as die Direkteur-generaal (DG) in die Departement van Openbare Ondernemings, en
2. Mnr Robert Moeketsa Ramasodi as die Adjunk-DG: Landbouproduksie, Gesondheid en Voedselsekerheid in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
9.1. Raad van die Padverkeersbestuurkorporasie:
a) Me Daphline Harridene Charlotte-Ann Ewertse - Nie-uitvoerende lid; en
b) Mnr Thulani Matiki Norman Kgomo – Nie-uitvoerende lid.
9.2. Raad van die Openbarebeleggingskorporasie
a) Me Lindiwe Toyi – Nie-uitvoerende Direkteur;
b) Me Sandra Beswick – Nie-uitvoerende Direkteur;
c) Me Tantaswa Fubu – Nie-uitvoerende Direkteur;
d) Dr Claudia Manning - Nie-uitvoerende Direkteur;
e) Mnr Pitsi Moloto Paul - Nie-uitvoerende Direkteur; en
f) Me Matshepo Faith Meer – heraanstelling as Hoof Finansiële Beampte.
9.3. Raad van die Behuisingsontwikkelingsagentskap:
a) Mnr Mavuso Msimang Walter – Voorsitter;
b) Mnr Maanda Emmanuel Mutheiwana;
c) Mnr Pravin Amar Singh;
d) Mnr Thuthuka Siphumezile Songelwa; en
e) Mnr Nkululeko Nkosingiphile Vilakazi – Verteenwoordiger van die Minister van Openbare Werke.

Navrae: Me. Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Skakel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore