Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor die Beëindiging van die Nasionale Ramptoestand na aanleiding van die KOVID-19-pandemie

My mede-Suid-Afrikaners

Vir die afgelope 750 dae het Suid-Afrika onder ʼn nasionale ramptoestand verkeer.

Hierdie was ʼn buitengewone situasie wat ongehoord was in ons land se geskiedenis.  

Die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand was weens ʼn wêreldwye gesondheidskrisis wat ʼn ernstige bedreiging was tot die lewens en welstand van ons mense. 

Hierdie reaksie was sonder twyfel geoorloof onder die omstandighede.

Die verklaring van die nasionale ramptoestand op 15 Maart 2020 het die regering gemagtig om maatreëls in plek te stel om te verhoed dat baie meer mense hewig siek word en het ook baie mense se lewens gered. 

Hierdie maatreëls het die infeksiekoers doeltreffend verlaag, wat gelei het tot minder druk op ons hospitale en genoegsame tyd gekoop het om die infrastruktuur, hulpbronne en kapasiteit om ʼn groot hoeveelheid mense wat weens KOVID-19 siek geword het, te kon hanteer. 

Die nasionale ramptoestand het ook ʼn regsbasis verskaf vir die instelling van die R350 spesiale KOVID-19 maatskaplike verligting vir nood-toelaag, wat steeds broodnodige verligting verskaf aan die mense wie die hardste deur die KOVID-19-pandemie en sy nagevolge getref is. 

Dit het die stiging van die KOVID TERS-skema moontlik gemaak, wat vergoedingsteun aan miljoene werkers verskaf het. 

Die nasionale ramptoestand het onder meer ook die verskaffing van verligting aan kleinsake-ondernemings bemoontlik, asook die verlenging van die geldigheid van voertuig- en bestuurderslisensies, en die bestuur van die pandemie in onderwysinstellings.

Al hierdie maatreëls was noodsaaklik – nie net as antwoord op die verwoestende effek van die pandemie op mense se gesondheid nie, maar ook om die groot onkoste aan die samelewing en die ekonomie te beperk. Dít is juis die doel van ʼn ramptoestand: om dit moontlik te maak om doeltreffend te reageer op ramptoestande en só lewens te red. 

Desnieteenstaande, in die konteks van ʼn vrye en oop demokrasie, is die bykomende gesag wat ʼn ramptoestand verskaf beperk en tydelik van aard. 

Hierdie gesag moet volhou word slegs solank as wat absoluut nodig is. Soos ek in my Staatsrede genoem het, het ons nou ʼn nuwe fase in die KOVID-19-pandemie betree.

Die wisselende natuur van die pandemie in ons land was die duidelikste te bespeur tydens die vierde en vyfde vlaag in Desember en Januarie.

Alhoewel ons baie hoër syfers gesien het in terme van infeksie as in enige van die vorige vlae, was daar betreklik minder gevalle van erge ongesteldheid, hospitalisering en sterftes. 

Tydens die derde vlaag in Julie laasjaar was die hoogste daaglikse gemiddelde aantal KOVID-19-verwante sterftes 420 per dag. 

Tydens die vierde vlaag, in Februarie vanjaar, was die hoogste daaglikse gemiddelde aantal KOVID-19-verwante sterftes 240 per dag.

In die afgelope week het hierdie syfer geval na slegs 12. 

Ons sien ʼn soortgelyke patroon in ons gesondheidsorgfasilieteite.

Van die gewone 108 000 beddens in die land, word slegs 1 805 tans deur KOVID-19-pasiënte beslaan. 

Van die 5 600 beddens in intensiewe sorgeenhede, word slegs 175 deur KOVID-19-pasiënte beslaan.

Hierdie is deel van ʼn afnemende tendens wat ons in staat stel om na normaliteit terug te keer in ons publieke gesondheidsorgfasiliteite. 

Dit toon dat alhoewel die virus steeds in die omgang is, dit nie dieselfde vlakke van erge ongesteldheid wat hospitalisasie vereis en tot lewensverslies lei, veroorsaak nie. 

Alhoewel die virus nog nie sy gang gegaan het nie, en steeds te midde ons is, vereis hierdie omstandighede nie meer dat ons onder ʼn nasionale ramptoestand verkeer nie.

Voortaan sal die pandemie bestuur word in terme van die Wet op Nasionale Gesondheid. Die konsep gesondheidsregulasies is reeds gepubliseer vir publieke kommentaar. 

Sodra die tydperk vir kommentaar sluit op Saterdag 16 April 2022 en die kommentaar oorweeg is, sal die nuwe regulasies gefinaliseer en gepromulgeer word.  

Sedert daar nie meer aan die voorwaardes vir die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand in terme van die Wet op Rampsbestuur voldoen word nie, het die Kabinet besluit om die nasionale ramptoestand te beëindig, met effek vannaf midernag vanaand.

Die Wet op Rampsbestuur maak voorsiening daarvoor dat sekere elemente van die regulasies geldig kan bly vir ʼn beperkte tydperk vir herstel en rehabilitasie na afleiding van die ramptoestand.

Gevolglik sal sekere oordragsvoorsorgmaatreëls geldig bly vir 30 dae na die beëindiging van die nasionale ramptoestand om te verseker dat noodsaaklike openbare gesondheidsvoorsorgmaatreëls en ander noodsaaklike dienste nie onderbreek word terwyl die nuwe regulasies in terme van die Wet op Nasionale Gesondheid in werking tree nie. 

Dit beteken dat alle regulasies en direktiewe wat in terme van die Wet op Rampsbestuur in plek gestel is na aanleiding van die verklaring van die nasionale rampstoestand weens KOVID-19, teruggetrek word met effek vanaf middernag vanaand, met die uitsondering van ʼn paar oordragsmaatreëls. 

Hierdie oorgangsmaatreëls, wat vanself na 30 dae sal verval, is as volg:
Eerstens word ons steeds verplig om gesigmaskers in binnenshuise publieke areas te dra. Dit is noodsaaklik om die oordrag van die virus in plekke met ʼn hoë risiko te verhoed, veral synde baie mense steeds nog nie ingeënt is nie. 

Die dra van maskers in die opelug word nie meer vereis nie. 

Tweedens sal die bestaande beperkings op byeenkomste steeds geldig bly as ʼn oorgangsmaatreël. Dit beteken dat binnenshuise en opelug lokale tot 50% van hul kapasiteit mag benut sonder enige maksimum beperking, mits bewys van inenting of ʼn KOVID-19-toets nie ouer as 72 uur nie vereis word vir toegang tot die lokaal.

Waar daar geen voorsiening gemaak is vir bewys van inenting of ʼn KOVID-19-toets nie, sal die huidige boonste limiet van 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense in die opelug geldig bly. 

Derdens, die bestaande voorwaardes met betrekking tot internasionale reis sal steeds van toepassing wees. Dit beteken dat reisigers wat Suid-Afrika binnekom vereis sal word om bewys van inenting of ʼn negatiewe PCR-toets nie ouer as 72 uur te verskaf.

Indien ʼn reisiger nie ʼn inentingsertifikaat of bewys van ʼn negatiewe KOVID-19-toets kan verskaf nie, sal hulle vereis word om ʼn antigeen-toets te doen op aankoms.

Indien hulle positief toets vir KOVID-19, sal hulle vir 10 dae lank moet isoleer.

Vierdens, die riglyne wat voorsorg getref het vir die betaling van die R350 spesiale KOVID-19 maatskaplike verligting vir nood-toelaag sal geldig bly.

Dit sal die department van maatskaplike ontwikkeling in staat stel om die regulasies wat die voortgesette betaling van die toelae bekragtig, te finaliseer. 

Vyfdens, riglyne wat voorsorg getref het vir die verlenging van die geldigheid van leerlingsbestuurlisensies, bestuurslisensiekaarte, voertuiglisensieskyfies, professionele bestuurslisensies en die registrasie van motorvoertuie sal steeds geldig wees. 

Alle ander rampmaatreëls sal om middernag vannag verval. 

Dit sluit in die maatreëls met betrekking tot die isolasie van mense, asook rakende skole en toegang tot ouetehuise, openbare vervoer, inisiëringsgebruike, vragvervoer, en die kriminalisasie van ongehoorsaamheid aan hierdie maatreëls. 

Die einde van die nasionale ramptoestand beteken ook dat koronaviruswaarskuwingsvlakke nie meer van toepassing sal wees nie.

Die paar oordragsmaatreëls wat van toepassing is, is van beperkte omvang en laat amper alle sosiale en ekonomiese aktiwiteite toe om soos normal te hervat. 

Hulle is noodsaaklik om die risiko van volgende KOVID-19-vlaag en verdere rampspoed te verhoed.

Hulle het ook verseker dat mense steeds hul R350 spesiale KOVID-19 maatskaplike verligting vir nood-toelaag sal ontvang en dat daar geen onderbrekings sal wees betreffende bestuurslisensies nie. 

Soos ek verduidelik het, sal hierdie oordragsmaatreëls na 30 dae verval. Dit sal dit vir die gesondheidsregulasies en ander maatreëls moontlik maak om die bestuur van die pandemie oor te neem. 

Daar is een laaste maatreël wat lank na die nasionale ramptoestand steeds van krag sal wees, naamlik die foutlose vergoedingsfonds vir beserings weens KOVID-19-inentings.

Hierdie skema het in werking getreë in April laasjaar om vinnige en maklike toegang tot vergoeding te verskaf aan enigeen wat ernstige besering(s) opgedoen het na aanleiding van die toediening van die KOVID-19-entstof.

Die foutlose vergoedingsfonds vir beserings weens KOVID-19-inentings, wat onder die vaandel van die department van gesondheid val, sal voortbestaan na die beëindiging van die nasionale ramptoestand. Die skema sal slegs tot einde kom wanneer dit sy doel gedien het.

Landsgenote,

Die einde van die nasionale ramptoestand is ʼn belangrike mylpaal in ons stryd teen die pandemie. 

Dit is ʼn teken van die vordering wat ons sy-aan-sy gemaak het en ʼn herinnering aan wat ons nasie verdra het. 

Dit is nou die tyd om die mense wat ons aan die dood afgestaan het, te gedenk en ook die baie mense wat steeds weens die nagevolge van die siekte swaarkry in ons gedagtes te hou.

Dit is ook nou die tyd om hulde te bring aan ons gesondheidswerkers, polisie, soldate, vrywilligers en ander frontliniewerkers vir hul toewyding en diens tydens die strafste tye van die pandemie. 

Die beëinding van die nasionale ramptoestand is ʼn uitdruklike stelling wat ingeneem word – dat ons vasberade is om ons lewens te leef en ons land te herbou ten spyte van die virus in ons midde. 

Dit behoort aan ons almal die vertroue te gee om terug te keer na die lewens wat ons voor die pandemie gelei het, met ʼn paar eenvoudige aanpassings om diegene rondom ons te beskerm.

Dit behoort ons sake-ondenemings met die nodige sekerheid te laat dat hulle handel kan dryf en beleggings kan maak sonder die moontlikheid van toekomstige beperkings. 

Van belang is dat, deur die beëindiging van die nasionale ramptoestand, ons elkeen meer persoonlike verantwoordelikheid aanvaar om ons gesondheid en die gesondheid van diegene rondom ons te beskerm. 

Ons grootste verantwoordelikheid bly steeds om te verseker dat ons teen KOVID-19 ingeënt word en ander mense aanmoedig om ook ingeënt te word. 

Inenting is ons grootste wapen teen KOVID-19.

Inenting is ook die beste wapen wat ons het om die kanse van toekomstige vlae van infeksie wat ons gesondheidsorgfasiliteite kan oorweldig, te verminder – sulke omstandighede mag vereis dat ons weereens ʼn ramptoestand moet verklaar. 

Ons moet egter versigtig en immer waaksaam bly.

Ons het geleer dat die virus onvoorspelbaar is en dat die situasie drasties en blitsvinnig kan verander. Gevolglik gaan ons voort om saam met die Wêreldgesondheidorganisasie en ander liggame te werk om die styging in gevalle in ander dele van die wêreld te ondersoek en die toepaslike nuwe wetenskaplike inligting te assesseer. 

Sedert die virus die eerste keer voet aan wal gesit het in ons land, het ons saamgestaan met doelgerigtheid en vasberadenheid om hierdie pandemie te oorkom. 

Alhoewel die pandemie nie uitgewoed is nie en alhoewel ons steeds waaksaam bly, kan ons met vertroue sé dat ons nou in ʼn beter posisie is as ooit vantevore in die afgelope 750 dae. 

Ons is hoopvol dat die ergste agter die blad is en is vol vertroue dat daar net beter dae voorlê.

Nou is dit tyd om ons ekonomie te groei en werke te skep. 

Nou is dit tyd om ons land weer op die regte spoor te kry.

Nou is die tyd om te heling te vind, te herstel en te herbou. 

Ek dank U.
 

Share this page

Similar categories to explore