Verklaring oor die Kabinetsvergadering Woensdag 19 Oktober 2022

A.  Kwessies in die Omgewing

1.  Watersekuriteit

1.1.  Die kabinet het Suid-Afrikaners bedank dat hulle die waterbeperkings wat in sekere dele van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni ingestel is, gehandhaaf het om die kapasiteit van die reservoirs te stabiliseer. Damme en reservoirs bly onder druk weens die hoë temperature in Gauteng, en ‘n styging in aanvraag het Rand Water gedwing om die watervoorsiening aan munisipaliteite drasties te verminder. Die waterverskaffer voorsien grootmaatdrinkwater aan meer as 11 miljoen mense in Gauteng, dele van Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes. 
1.2.    Hierdie onvermydelike beperkings poog om watervoorsiening te verseker en sal in plek bly totdat die situasie verbeter. Die kabinet het ‘n beroep op die publiek gedoen om voort te gaan met die nakoming van waterbeperkings en hulle deel te doen om hierdie skaars hulpbron spaarsamig te gebruik. 

2.  Transnet-staking

2.1.  Die kabinet het die loonooreenkoms van drie jaar wat tussen Transnet en die United National Transport Union (UNTU) bereik is, verwelkom, wat van toepassing is vir die tydperk vanaf 1 April 2022 tot 31 Maart 2025. Die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het as bemiddelaars in hierdie ooreenkoms opgetree, wat ‘n einde gebring het aan die huidige nywerheidsaksie deur lede van UNTU met onmiddellike effek. Die kabinet het ook die besluit deur die South African Transport and Allied Workers Union verwelkom om die staking onmiddellik te beëindig. 
2.2.  Die kabinet het die toewyding deur Transnet verwelkom deur daarop te fokus om agterstande wat regoor die hawe- en spoorstelsel ontstaan het weens die nywerheidsaksie, wat ‘n negatiewe impak op die ekonomie en sektore wat van hulle dienste afhanklik is, uit te wis, 
2.3.  Die kabinet het sy dank uitgespreek vir die ondersteuning en samewerking van besighede tydens hierdie staking. Dit moedig die voortgesette verhouding tussen Transnet se bestuur en die arbeidsmag aan tot voordeel van die maatskappy en die ekonomie van die land. 

3.  Suid-Afrika – Saoedi-Arabië-verhoudinge

3.1.  Die kabinet het die suksesvolle werksbesoek deur president Cyril Ramaphosa aan die Koninkryk van Saoedi-Arabië op 15 en 16 Oktober 2022, verwelkom. Tydens die besoek het die twee lande 17 Memorandums van Ooreenkoms (MoU’s) in verskeie velde onderteken, waaronder landbou, visserye, mynbou, hernubare energie, veiligheid, vervoer en akwakultuur. Ander MoU’s wat onderteken is, handel oor die stigting van ‘n gesamentlike sakeraad, samewerking op die gebied van militêre nywerhede en verkryging, en samewerking op die gebied van geologiese opnames.
3.2.  Die president het van die besoek gebruik gemaak om die besighede van Saoedi-Arabië uit te nooi na Suid-Afrika se vyfde beleggingskonferensie wat in 2023 sal plaasvind. Saoedi-Arabië is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot in die Midde Ooste en die grootste bron van invoere uit die streek. Internasionale betrekkinge tussen hierdie twee lande het ‘n positiewe invloed op tendense in die handel en belegging gehad. 

4.  Belegging in infrastruktuur

4.1.  Die kabinet het die ingebruikstelling van ‘n moderne plastiekproduksieaanleg deur die leidende internasionale vervaardiger, die ALPLA-groep, by Lanseria in Gauteng verwelkom. 
4.2.  Dit versterk president Ramaphosa se verbintenis tot die posisionering van infrastruktuurontwikkeling as ‘n middel om die ekonomie te stimuleer en werkskepping te verhoog. 
4.3.  Die belegging wat US$50 miljoen werd is, is ‘n sleutelbydrae tot die Lanseria Slimstad-meesterplan wat volhoubaarheid en herwinning sal aandryf en ook 350 werksgeleenthede skep en onderhou. Ingesluit is ‘n vakleerlingskapprogram vir 36 megatroniese en herwinningstegnici vir die ALPLA Groep se aktiwiteite regoor suidelike Afrika. Die vakleerlingskapprogram sal in 2023 ‘n aanvang neem en die eerste 12 Suid-Afrikaanse vakleerlinge sal uit plaaslike gemeenskappe kom.

5.  Onwettige mynbedrywighede 

5.1.  Onwettige mynbou maak gemeenskappe sowel as ons ekonomie seer en lei tot ‘n verlies aan inkomste vir sowel die regering as die mynboubedryf.
5.2.  Die kabinet verwelkom die ontdekking van ‘n wapenopslagplek en die arrestasie van 20 verdagtes wat met onwettige mynbou verbind word tydens ‘n operasie by ‘n mynskag in Stilfontein in Noordwes.
5.3.  Die kabinet doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om voort te gaan om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om die sukses van toekomstige teenmisdaadoperasies te verseker. Dit sal ‘n kragtige boodskap uitstuur dat misdaad nie baat nie en dat misdadigers sonder vrees of begunstiging vervolg sal word. 

6.  Energie 

6.1.  Eskom het onlangs huurkontrakte met vier onafhanklike kragverskaffingsbeleggers vir 30 jaar gesluit om nuwe skoonenergie-opwekkingskapasiteit by die Majuba- en Tutuka-kragstasies in Mpumalanga op te rig. Hierdie huurooreenkomste sal ‘n beraamde belegging van ongeveer R40 miljard lok. 
6.2.  Die vier beleggers – HDF Energy South Africa, Red Rocket SA, Sola Group en Mainstream Renewable Power Developments South Africa – sal ten minste 2 000 megawatt tot die nasionale netwerk toevoeg. 
6.3.  Die nuwe opwekkingskapasiteit behoort binne 24 tot 36 maande na finansiële sluiting aan die netwerk te verbind, onderhewig aan omgewings-, grondsonerings- en ander regulatoriese goedkeuring.  

7.  Voedselsekerheid

7.1.  Die kabinet het die aanbieding van die Agri SA-kongres 2022 in Pretoria op 13 en 14 Oktober 2022 met die tema: “Groei Plaaslik”, verwelkom. Die kongres het kwessies bespreek soos om landboumeesterplanne vir plaaslike kwekers te laat werk, volhoubare infrastruktuur vir voedsel wat plaaslik geproduseer word, om die plaaslike omgewing volhoubaar te maak vir plaaslike voedselproduksie in die toekoms, en om voedselprodusente se vermoë te versterk om plaaslik gekweekte voedsel te verwerk.
7.2.  In ‘n stap om voedselsekerheid verder te prioritiseer, het die kabinet ook die bekendstelling van die nasionale biosekuriteitskern (National Biosecurity Hub), by die Departement van Wetenskap en Innovasie se Agricultural Bio-economy Innovation Partnership Programme (ABIPP), in samewerking met die Universiteit van Pretoria, verwelkom. Die sentrum sal die voorkoming, vermindering en bestuur van oes- en dieresiektes ondersteun wat sal bydra tot verhoogde produktiwiteit, voedselsekerheid en volhoubare landelike ontwikkeling.

B.  Kabinetsbesluite

1.  Bekragtiging van die Desentraliseringshandves van die Afrika-unie (AU)

1.1.  Die kabinet het die indiening by die parlement van die AU-handves oor die waardes en beginsels van desentralisasie, plaaslike regering en plaaslike ontwikkeling vir bekragtiging, goedgekeur. Suid-Afrika het die handves in Augustus 2021 onderteken.
1.2.  Die desentraliseringshandves verskaf ‘n raamwerk aan alle lidstate as ‘n leidende dokument oor die desentralisering van magte en funksies vanaf nasionale tot ander sfere van regering. Die handves handel grootliks oor die desentralisering van gesag en funksies, ‘n plaaslikeregeringsraamwerk en plaaslike ontwikkeling

2.    32ste Jaarlikse Internasionale Spoorwegveiligheidsraad (IRSC)

2.1.  Die kabinet het goedgekeur dat die 32ste Vergadering van die Internasionale Spoorwegveiligheidsraad van 1 tot 6 Oktober 2022 in Johannesburg plaasvind met die tema: “Reshaping railways in an uncertain World”.
2.2.  Die IRSC is ‘n internasionale forum wat spoorwegveiligheidskenners van reg oor die wêreld bymekaar bring om hul ervaring te deel en sodoende spoorwegveiligheid te verbeter.  
2.3.  As lid van die IRSC was Suid-Afrika se Spoorwegveiligheidsreguleerder laas in 2015 gasheer van hierdie forum. 

3.  Konsep- nasionale infrastrukuurplan 2050 (NIP 2050) Fase 2

3.1.  Die kabinet het die publisering van die konsep-NIP 2050 Fase 2 in die Staatskoerant vir publieke kommentaar, goedgekeur. Die plan bied leiding in die versterking van die staat se strategiese geïntegreerde projekte. 
3.2.  Dit identifiseer die strategiese projekte in menslike nedersettings, munisipale elektrisiteit, water, vaste afval, passasiersvervoer, opvoedings- en gesondheidsinfrastruktuur, digitale infrastruktuur, en misdaad en korrupsie. 
3.3.  Die formaat van die plan verskaf ‘n visie van die area wat aangepak moet word, dit bied ‘n assessering van die huidige status, bied ‘n raamwerk vir die noodsaaklike vereistes vir sukses en sê wat gedoen moet word om hierdie visie te bereik. Dit stel die implementeringsproses voor wat onderneem moet word oor die drie jaar-siklus van die aksieplan.

4.  Nasionale Implementeringsraamwerk vir die Professionalisering van die Staatsdiens 
4.1.  Die kabinet het die nasionale implementeringsraamwerk vir die professionalisering van die Staatsdiens goedgekeur. Die raamwerk is in 2021 gepubliseer vir openbare kommentaar. 
4.2.  Die raamwerk bied vyf pilare vir intervensie in die professionalisering van die Staatsdiens. Die pilare sluit in vooraf werwing en seleksie binne die Staatsdiens, inlywing en inleiding, beplanning en prestasiebestuur, deurlopende leer- en professionele ontwikkeling, en loopbaanbevordering en loopbaangeleenthede.

5.  Veranderinge in die diensvoorwaardes van Direkteurs-Generaal (DG’s)

5.1.  Die kabinet het die verslag goedgekeur wat maatreëls voorstel om die kapasiteit en vermoë van DG’s in die Staatsdiens te versterk. Die verslag het verskeie voorstelle gemaak, insluitende die dienstydperk van DG’s en die bestuur van afvaardigings deur die uitvoerende gesag aan die rekenpligtige amptenare. 
5.2.  Die verslag het ook voorgestel dat die DG in die presidensie aangewys word as die hoof van publieke administrasie. In die provinsies sal hierdie funksie toegewys word aan die DG’s in die kantoor van die premier. Die verslag het ook verder maatreëls voorgestel om leiding te gee aan departemente oor die bestuur van kontrakte van DG’s.
5.3.  Die hersiene prestasiebestuurstelsel vir DG’s word tans hersien om dit in ooreenstemming met die goedgekeurde veranderinge te bring. 
5.4  Die waarnemende minister van Staatsdiens en Administrasie, mnr. Thulas Nxesi, sal volgende week ‘n media-inligtingsessie hou om ‘n oorsig te gee oor die nasionale implementeringsraamwerk vir die professionalisering van die Staatsdiens, en sal ook die goedgekeurde veranderinge in die diensvoorwaardes vir DG’s uiteensit. 

6.  Vyfde Vorderingsverslag oor die Implementering van die Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede (WPRPD) 2020-2021

6.1.  Die kabinet het die vyfde vorderingsverslag oor die implementering van die WPRPD goedgekeur, wat ‘n opdatering is van die implementering van die WPRPD. Die verslag dek insette van nasionale en provinsiale staatsdepartemente. Dit bied ‘n opdatering van die beleidsimplementering wat begrotingstoewysings insluit. 
6.2.  Die eerste jaarlikse vorderingsverslag is in 2017 gepubliseer. Hierdie vyfde vorderingsverslag is goedgekeur deur die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede om in die Staatskoerant gepubliseer te word

7.  Wysiging aan Artikel 20(1) van die Konvensie oor die Uitwissing van alle Vorme van Diskriminasie teen Vroue (CEDAW)

7.1.   Die kabinet het die voorlegging aan die parlement vir bekragtiging van die wysiging aan Artikel 20 (1) van die CEDAW goedgekeur. Die wysiging maak voorsiening vir ‘n langer tydsduur van die komiteevergaderings wat die lidstate se verslae verwerk. 
7.2.  Suid-Afrika het hierdie konvensie in 1993 onderteken en dit vervolgens in Desember 1995 bekragtig. Die voorlegging aan die parlement het ten doel om die voorheen bekragtigde konvensie in ooreenstemming met die wysiging aan Artikel 20(1) van die konvensie te bring.  

8.  Globale Konvensie oor die Erkenning van Kwalifikasies aangaande Hoër Onderwys 

1.1.  Die kabinet het die voorlegging aan die parlement van die Globale Konvensie oor die Erkenning van Kwalifikasies aangaande Hoër Onderwys by die parlement, goedgekeur. As dit bekragtig is, sal dit ingedien word by die Verenigde Nasies (VN) se Organisasie vir Opvoeding, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) en plaaslik sal dit in werking gestel word deur die Wet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk, 2008 (Wet 67 van 2008).
1.2.  Die Globale Konvensie stel universele beginsels daar vir billike, deursigtige, en niediskriminerende erkenning van hoëronderwyskwalifikasies. Dit maak voorsiening vir die erkenning van buitelandse kwalifikasies van 193 VN-lidstate. 

9.  Terugtrekking van die wysigings aan die Handleiding vir Lede van die Uitvoerende Bestuur  

9.1.  Die kabinet het die aankondiging wat op Maandag 17 Oktober 2022 deur die presidensie gemaak is, bekragtig waar die wysigings aan die Handleiding vir Lede van die Uitvoerende Bestuur vir 2022, teruggetrek word, ook genoem die ministeriële handboek.
9.2.  Die wysiging wat in April 2022 aangebring is, maak voorsiening vir addisionele kapasiteit in sommige van die kantore van daardie ministers wat vir meer as een portefeulje verantwoordelik is. Dit het ook vereis dat die Staat volle verantwoordelikheid aanvaar vir die kostes wat verband hou met die voorsiening van elektrisiteit en water aan amptelike wonings van die lede van die uitvoerende bestuur. 
9.3.  Die kabinet het kennis geneem van die bekommernis van die publiek en het onderneem om die Handleiding vir Lede van die Uitvoerende Bestuur te hersien. Hierdie proses sal deur ‘n neutrale struktuur behartig word en wanneer dit voltooi is, sal die handleiding openbaar gemaak deur die Departement van die Staatsdiens en Administrasie se webblad: www.dpsa.gov.za.

10.  Just Energy Transition-vennootskap (JETP) en JETP Beleggingsplan (JETP-IP)

10.1.  Nadat ‘n aanbieding oor die JETP en die JETP-IP verwelkom is, het die kabinet die JETP-IP bekragtig en sy waardering uitgespreek oor die deeglike werk wat onderneem is om dit te ontwikkel. 
10.2.  Die JETP-IP gee ‘n raamwerk van die beleggings wat nodig is om die ondernemings van dekarbonisering wat deur die regering van Suid-Afrika gemaak is, na te kom, terwyl volhoubare ontwikkeling bevorder word en seker gemaak word dat ‘n billike oorgang vir werkers en gemeenskappe wat geraak word, plaasvind. 
10.3.  Die interministeriële komitee oor klimaatsverandering sal spoedig ‘n media-inligtingsessie hou om meer besonderhede te verskaf. 

C.  Wetsontwerpe

1.  Wetsontwerp op Handelskeepvaart van 2022

1.1.  Die kabinet het die indiening by die parlement van die Wetsontwerp op Handelskeepvaart van 2022 vir verdere prosessering goedgekeur. Die Wetsontwerp is ‘n herbewerking van die 70-jaar oue Wet op Handelskeepvaart, 1951 (Wet 57 van 1951).
1.2.  As dit uitgevaardig is, sal die wetsontwerp die wetlike raamwerk vir die handelskeepvaart voorsien waarbinne skepe se waardeketting gereguleer word. Dit sal onder andere die ontwerp, registrasie, naamgewing en skrapping van skepe reguleer. 
1.3.  Hierdie veranderinge sal bydra tot die herlewing van die maritieme vervoersektor en ook die land in ooreenstemming bring met die Internasionale Maritieme Organisasie Konvensie. Suid-Afrika het hierdie konvensie bekragtig. 
    
2.  Wysigingswetsontwerp op Statistiek van 2020 

2.1.  Die kabinet het die indiening by die parlement van die Wysigingswetsontwerp op Statistiek van 2022 goedgekeur vir verdere prosessering. Die wetsontwerp stel wysigings aan die Wet op Statistiek, 1999 (Wet 6 van 1999) voor. Die wysigings maak voorsiening vir die ontwikkeling en implementering van die nasionale statistiekstelsel wat bewysgebaseerde besluitneming ondersteun. 
2.2.  Dit versterk die bestaande koördinering tussen Statistieke Suid-Afrika en ander staatsorgane, en verbreed die regulatoriese raamwerk van die Wet. 

D.  Toekomstige Gebeurtenisse

1.    Nasionale Presidensiële Spitsberaad van Klein-, Mikro- en Mediumondernemings (SMME) en Koöperasies 

1.1.  Die Departement van Kleinsakeontwikkeling, in vennootskap met belanghebbers in die private sektor, gaan die nasionale presidensiële spitsberaad van SMME en koöperasies in Bryanston, Gauteng, aanbied vanaf 13 tot 15 November 2022.
1.2.  Die spitsberaad gaan sleutelrolspelers in die private en openbare sektor in die kleinsakeonderneming-ekosisteem bymekaar bring om te beraadslaag om die sektor te versterk. Deelnemers wat verwag word sluit in kamers van koophandel, SMME-praktisyns, akademici, beleidmakers en ontwikkelingsfinansieringsinstellings. 
1.3.    Die beraad sal ook die nasionale geïntegreerde kleinsakeondernemings-ontwikkelingsmeesterplan bespreek, wat ‘n strategiese raamwerk verskaf om die SMME-sektor te versterk. Daar word ook verwag dat die jaarlikse nasionale presidensiële SMME-toekennings by die spitsberaad bekendgestel sal word.

2.Aanbieding van die Presidensiële Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV) Spitsberaad van 2022 

2.1.  President Ramaphosa sal gasheer wees vir die tweede presidensiële GGGV-spitsberaad wat op 1 en 2 November 2022 by die Gallagher-konferensiesentrum in Gauteng aangebied word. Die eerste spitsberaad wat in 2018 gehou is, is gebruik om die regering en maatskaplike vennote opnuut toe te wy aan die beëindiging van die hoë voorkoms van geweld teen vroue in die land. 
2.2.  Die tweede spitsberaad sal gebruik word om bestekopname te doen van die vordering wat gemaak is in die implementering van die nasionale strategiese plan oor GGGV. Dit word aangebied onder die tema: “Verantwoordbaarheid, Versnelling en Versterking NOU” (Accountability; Acceleration and Amplification NOW). 
2.3.  Die spitsberaad sal onder andere besin oor maniere om aksies en verantwoordbaarheid van sleuteldepartemente en al die belanghebbendes, wat die burgerlike samelewing, die private sektor en die arbeidsmag insluit, te versnel  

3.  Vyfde Presidensiële Imbizo in die Noord-Kaap

3.1.  Die presidensiële imbizo van die vyfde distriksontwikkelingsmodel (DDM) sal op Vrydag 21 Oktober 2022 in Upington, Noord-Kaap by die plaaslike Mxolisi Dicky Jacobs-stadion plaasvind. 
3.2.  Die DDM- presidensiële imbizo sal die vordering in dienslewering en uitdagings in die Noord-Kaap beoordeel en betrokke raak om dit op te klaar. Die DDM verseker dat diensleweringsbeplanning, -implementering en -begroting geïntegreer word om dienslewering aan gemeenskappe te verbeter. 
3.3.  In aanloop tot die imbizo sal ministers, lede van die uitvoerende rade en burgemeesters betrokke raak by gemeenskapsuitreikakitwiteite in en rondom Upington. 

4.  Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring (MTBBV) 

4.1.  Die kabinet glo dat die 2022 MTBBV wat Woensdag 26 Oktober 2022 deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, ter tafel gelê gaan word, ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se oop en verantwoordbare begrotingsproses uitmaak. 
4.2.  Die MTBBV bied substansie aan die regering se ondernemings binne ‘n algehele vlak van besteding wat die nasie kan bekostig.  Dit sit verder uiteen hoe die regering die gaping gaan sluit tussen inkomste en uitgawe, en maak die meeste van die beskikbare hulpbronne. 

5.  Matriekeksamen

5.1.  Die 2022 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen begin op 31 Oktober en eindig op 7 Desember 2022. Die kabinet wens die Klas van 2022 alles van die beste toe soos wat hulle die laaste been van hulle skoolreis aanpak. Die voortgesette ondersteuning van hulle onderwysers, ouers en voogde sal hierdie leerders baie help om die eksamen met vertroue tegemoet te gaan. 
5.2.  Die kabinet doen ‘n beroep op ouers en voogde om hulle kant te bring deur die leerders aan te moedig en te motiveer, en ‘n aangename atmosfeer tuis te skep om te studeer.

6.  Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en Staatskapasiteitskonferensie

6.1.  Die Departement van Publieke Diens en Administrasie, in vennootskap met die Nasionale Beplanningskommissie en die Universiteit van KwaZulu-Natal se skool van ontwikkelingstudies, sal as gasheer optree vir die NOP en Staatskapasiteitskonferensie vanaf 7 tot 9 November 2022 by die Howard College-kampus, Universiteit van KwaZulu-Natal. 
6.2.  Die konferensie sal terugskouend kyk na staatskapasiteit en -prestasie in die eerste 10 jaar van die NOP, en sal onder die tema: “Reflections on State Capacity and Government Performance through the first ten-years of the NDP” (Refleksie oor Staatskapasiteit en Regeringsprestasie oor die eerste tien jaar van die NOP) aangebied word.

7.  Oorhandiging van die Sertifikaat van Erkenning aan koning Misuzulu ka Zwelithini
7.1.  President Ramaphosa sal die sertifikaat van erkenning aan Sy Majesteit koning Misuzulu kaZwelithini by die Moses Mabhida-stadion oorhandig op Saterdag 29 Oktober 2022.  
7.2.  Dit volg op die gebruiklike kroningseremonie “Ukungena eSibayeni” van Sy Majesteit wat op 20 Augustus 2022 gehou is waar hy die troon as koning van die Zulu-nasie bestyg het. 

E.  Boodskappe
1.  Gelukwensinge
Die kabinet het sy gelukwense uitgespreek teenoor: 

  • Mnr. Sam Matekane, die nuutverkose eerste minister van die Koninkryk van Lesotho. Die kabinet het by die AU se verkiesingswaarnemingsmissie van die nasionale verkiesing van 7 Oktober 2022 in die Koninkryk van Lesotho aangesluit deur hulle te loof vir die verkiesings- en politieke volwassenheid van die mense van die Koninkryk van Lesotho vir die afhandeling van ‘n suksesvolle verkiesing. 

Suid-Afrika bly verbind tot die versterking en konsolidering van bilaterale verhoudinge sowel as die uitbreiding van samewerking in streeks-, kontinentale en globale kwessies van wedersydse belang. 

2.  Medelye 
Die kabinet het sy medelye betuig met die familie en vriende van: 

  • Vader Albert Nolan (88), ‘n toegewyde Suid-Afrikaanse Katolieke priester wat godsdienstige beskouings wat die apartheidstelsel ondersteun het, uitgedaag het. In 2003 het president Thabo Mbeki aan hom die Orde van Luthuli (Silwer) toegeken vir sy “lewenslange toewyding aan die struggle vir demokrasie, menseregte en geregtigheid, en vir die uitdaging van die godsdienstige dogma insluitend die teologiese regverdiging van apartheid”. 

F.  Aanstellings
1.  Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en die relevante klaring.

a.  Adv. James Mlawu Direkteur-Generaal: Departement van Vervoer. 
b.  Mnr. Shabeer Khan – Rekenmeester-Generaal: Nasionale Tesourie.

2.  Die kabinet gaan akkoord met die volgende aanstellings:

2.1.    Lede van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad:
a.  Dr. Nondumiso Maphazi (Voorsitter);
b.  Dr. Aubrey Mhlongo (Onder-voorsitter);
c.  Me. Pretty Ntombela;
d.  Me. Nomahlubi Mazwai;
e.  Mnr. Odwa Mtati;
f.  Mnr. Ravi Nadasen (Heraanstelling);
g.  Mnr. Enver Duminy (Heraanstelling);
h.  Me. Nandipha Mzileni Mbulawa;
i.  Mnr. Mduduzi Zakwe (Heraanstelling);
j.  Me. Rosemary Anderson;
k.  Me. Lehlohonolo Rapodile; en
l.  Me. Nonkqubela Silulwane (Departementele verteenwoordiger).

2.2.    Lede van die Direksie van die Padverkeersbestuurskorporasie:
a.   Dr. Eddie Mogalefi Thebe (Heraanstelling);
b.   Me. Thandi Clara Thankge (Heraanstelling);
c.    Prof Maredi Mphahlele;
d.   Me. Nomusa Mufamadi (Voorsitter);
e.   Adv. Xola Stemela;
f.   Me. Lerato Magalo;
g.   Prof. Chitja Twala;
h.   Mnr. Nkumeleni John Kudzingana;
i.   Me. N Jaxa (Alternate member); en 
j.   Me. HM Mbanyele-Ntshinga (Afwisselende lid).

2.3.    Mnr. Tshepo Monaheng – Hoof-Uitvoerende Beampte (CEO): South African Forestry Company (SAFCOL) (Kontrak is hernu vir drie (3) jaar).
2.4.    Mnr. Reginald Lavhelesani Demana – CEO: Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap. 
2.5.    Me. Ditebogo Kgomo – CEO: Nasionale Kernreguleerder.
2.6.    Mnr. Risenga Maluleka – Statistiek-Generaal (Hernuwing van kontrak).
2.7.    Me. Kedibone Olga Madiehe – CEO: Government Pensions Administration Agency (GPAA).

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetwoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore