Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 10 Junie 2015

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet is hoëprofiel-geleenthede op die uitkomsteverslae vir die vierde kwartaal (Januarie tot Maart 2015) en is tevrede met die vordering wat met die implementering daarvan gemaak is. Lede van die Uitvoerende Komitee sal gesprekvoeringsaktiwiteite met die media en belanghebbendes onderneem om vordering wat met die implementering van die vierde kwartaal se uitkomste gemaak is te bespreek. Besonderhede sal bekendgemaak word sodra hierdie program gefinaliseerl is.

1.2. Die Kabinet verwelkom die keuse van 13 vervaardigers van hernubare energie in die vierde fase van die Regering se Program vir die Verkryging van ’n Onafhanklike Kragvervaardiger van Hernubare Energie. Hierdie vervaardigers van hernubare energie (sonkrag- en windkragenergie) sal 'n bykomende 1 084 megawatt voorsien ter ondersteuning van die nasionale netwerk en die land dus help om vordering te maak met  langtermyn-volhoubare energievoorsiening.

1.3. Die Kabinet verwelkom die 2013/14-ouditresultate vir plaaslike regerings en waardeer die prestasie van munisipaliteite wat 'n bestendige verbetering toon in byna alle aspekte van die munisipale ouditresultate. 'n Oorweldigende 96 persent van geouditeerdes (munisipaliteite en munisipale entiteite) het hul finansiële state betyds ingedien, wat 'n groot verbetering is van die 93 persent in 2012/13 en 78 persent in 2007/08.

In die verslag word erken dat 'n doelbewuste poging aangewend is om onreëlmatige uitgawes die hoof te bied. Dit is opvallend dat daar ’n beduidende toename in die aantal munisipaliteite en munisipale entiteite met ongekwalifiseerde oudits is; in 2012/13 was daar 30 ongekwalifiseerde oudits, in 2013/14 was daar 58, en in 2007/08 was daar net sewe, wat dui op 'n bestendige neiging tot goeie regeringsbestuur en grondige finansiële bestuur.

Geouditeerdes met finansieel ongekwalifiseerde oudits maak nou 76 persent van die totale plaaslike regering se bestedingsbegroting van R315 miljard uit. Dit beteken dat byna agt uit elke 10 rand wat deur plaaslike regerings bestee word deur entiteite met finansieel ongekwalifiseerde state bestee word.

Van die 335 munisipaliteite en entiteite wat geouditeer is, het 102 verbeter, 194 het konstant gebly, en 27 het agteruitgegaan, terwyl twee nuut is en 10 nog uitstaande is. Dit versterk meer doeltreffende en verantwoordbare basiese dienslewering ooreenkomstig die benadering van “keer terug na die basiese beginsels".

Die Kabinet verwelkom dat daar as deel van die strategie om terug te keer na die basiese beginsels, spesiale aandag gegee sal word aan die 50 munisipaliteite wat ongunstige oudit-opinies ontvang, veral die 25 wat die afgelope vyf jaar ongunstige opinies ontvang het.

Die Kabinet het ook sy kommer uitgespreek oor die munisipaliteite wat steeds ongekwalifiseerde mense in diens neem en sodoende goeie bestuurspraktyke ondermyn. Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sal in samewerking met die munisipaliteite die proses waarvolgens oplossings vir hierdie probleme gesoek word, bespoedig.

2. Belangrike kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet keur die Strategiese Regrukplan van die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) goed. Hierdie plan het gehelp om vas te stel wat die grondliggende oorsake van die probleme is en het ook strategiese ingrypings om die entiteit reg te ruk geïdentifiseer. 'n Nuwe besigheidsmodel word ontwikkel om die oor-afhanklikheid van posbedrywighede te verminder en na 'n meer gebalanseerde verdeling van inkomste oor te skakel. Die Kabinet vertrou dat hierdie strategie sal help om SAPO vooruit te laat gaan. Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, in samewerking met SAPO se bestuur, sal 'n spesiale mediakonferensie hou om die plan te bespreek.

2.2. Die Kabinet keur die terugvoer goed oor Suid-Afrika se eerste verslag oor die implementering van die Afrika-handves vir die Regte en Welsyn van Kinders (2000-2013), wat in die Parlement ter tafel gelê sal word. Die verslag is van Afrika se Komitee van Deskundiges oor die Regte en Welsyn van Kinders ontvang. Die Kabinet onderskryf die bestuursmeganismes wat 'n geïntegreerde, samehangende en deelnemende benadering tot die implementering van die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van Kinders in ooreenstemming met die grondwetlike regte van kinders sal verseker.

Voorlegging van Suid-Afrika se verslag is in ooreenstemming met die wette en verpligtinge rakende internasionale verdrae. Hierdie verslag dien ook as 'n barometer wat Suid-Afrika se vordering met die handhawing van kinders se regte en welstand aandui.

3. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

3.1. Die Kabinet prys die suksesvolle aanbieding van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) Afrika in Kaapstad verlede week, wat bevestig dat die land 'n wêreldklas internasionale bestemming vir hoëprofiel-geleenthede is. WEF-Afrika dien as 'n platform vir die Regering om Suid-Afrika as 'n beleggings- en sakebestemming ten toon te stel, wat van deurslaggewende belang is om aan die doel van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) te voldoen.

Die Kabinet verwelkom ook die belangrike rol van die mediasektor wat verseker dat inligting oor hierdie belangrike gebeurtenis oor verskeie platforms versprei word sodat Suid-Afrikaners daarmee kan identifiseer.

Suid-Afrika se kredietgradering op BBB deur Fitch Ratings bevestig dat die land oop bly vir buitelandse beleggings en dui ook op die Regering se verbintenis tot omsigtige fiskale bestuur. Intussen gee die Regering op die hoogste vlak aandag aan die kwessies wat deur Fitch uitgewys is.

3.2. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die publikasie Media Landscape 2014 – Celebrating 20 Years of South Africa’s Media, wat verskeie aspekte van die inspirerende afgelope 21 jaar waarin die media 'n deurslaggewende rol gespeel het, vasvang. Elke hoofstuk neem die medialandskap sedert 1994 in oënskou en besin oor hoe ver ons gevorder het, met inagneming van toekomstige uitdagings. Die meerderheid belanghebbendes stem saam dat hierdie sektor heelwat bereik het.

Die Kabinet doen ’n beroep om mense in die media, akademici, die burgerlike samelewing en die Regering om Media Landscape 2014, te lees; dit ontlok ingeligte debatvoering en besprekings oor die rol van die media in 'n demokratiese Suid-Afrika oor die afgelope 20 jaar. Die publikasie bied 'n objektiewe en eerlike oorsig oor die land se mediasektor. In die opstelproses het dit goeie samewerking tussen die Regering en die mediabedryf deur leiers en organisasies in die burgerlike samelewing teweeggebring.

3.3. Die Kabinet bevestig sy vertroue in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om sy pligte as 'n mandaat van ons Grondwet doeltreffend uit te voer, ondanks die onlangse verandering in leierskap.

Die NVG voer sy werk standvastig uit, en het die betrokke strukture en stelsels in plek om steeds 'n misdaadvrye samelewing te bevorder. In 2014 het die organisasie sy skuldigbevindingskoers in al die howe verbeter, met 93,6 persent (273 641 gevalle) in distrikshowe, 76 persent (27 246 gevalle) in plaaslike howe en 88 persent (911 gevalle) in al die hoë howe.

3.4. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die eerste Suid-Afrikaanse Stigma-opname by die 7de Suid-Afrikaanse Vigskonferensie wat tans in Durban gehou word. Die Stigma-opname, wat op gesindhede rondom MIV en vigs en TB fokus, is die omvattendste in die wêreld en bied praktiese en innoverende opredes en programme om stigma en diskriminasie teen mense wat met MIV en TB leef teen te werk.

3.5. Die Kabinet verwelkom die sukses van Kinderbeskermingsweek en benadruk dat ons kinders 'n hoeksteen van ons land se toekoms is; ’n dringende beroep word dus op gemeenskappe gedoen om kinders teen verwaarlosing en mishandeling te beskerm. Die Kabinet bedank ook alle regeringsagentskappe, die burgerlike samelewing en maatskaplike vennote wat selfs buite Kinderbeskermingsweek onvermoeid werk om gemeenskappe se bewustheid van kinderbeskerming  te verhoog.  

3.6. Die Kabinet verwelkom die beduidende ommekeer by Telkom waarin die Regering 'n belangrike 40%-aandeel het. Die maatskappy se ommekeer het vir die eerste keer sedert 2011 tot ’n toename in inkomstegroei en 'n dividend van 245 sent gelei.

3.7. Die Kabinet is geëvalueer ten opsigte van die implementering van die wysigings tot die immigrasiewetgewing en die immigrasieregulasies van 2014, insluitend die vereistes om met kinders deur Suid-Afrikaanse grensposte te reis, wat op 1 Junie 2015 in werking getree het.

Die Kabinet het egter kennis geneem van die menings wat deur verskeie sektore uitgespreek is. Om hierdie menings aan te hoor, het die Kabinet besluit om 'n span van ministers van die ekonomiese en sekuriteitsgroeperings byeen te roep.

Daar word van die span verwag om by gesprekvoering oor die bekommernisse betrokke te raak deur maniere te vind om die onbedoelde gevolge wat deur die implementering van hierdie regulasies veroorsaak is, aan te pak. Die span sal deur Minister Malusi Gigaba byeengeroep word,.

Hierbenewens sal die Inter-Ministeriële Komitee oor Migrasie ook voortgaan met sy werk en alle aspekte rakende immigrante in die land in heroënskou neem. Dit sal help om sinergie te bewerkstellig tussen migrasie en wetgewing.

4. Toekomsige gebeure

4.1. President Jacob Zuma sal die Jeugdagvieringe, wat op 16 Junie 2015 by die Tshwane Events Centre in Gauteng gehou word onder die tema: “Jeug laat Suid-Afrika vorentoe beweeg", bywoon.

Die President sal ook op 23 Junie 2015 ’n Siyahlola-besoek na die Suid-kampus van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Soshanguve, Gauteng onderneem. Hierdie moniteringsbesoek sal op inisiatiewe en tussenkomste fokus wat ons jeug se lewens  verbeter en om hulle te bemagtig om meer betekenisvol by die land se ekonomie betrokke te raak.

Die Kabinet doen 'n beroep op jong mense om voordeel te trek uit geleenthede wat deur regeringsprogramme soos die Gemeenskapswerkeprogram gebied word, wat wys hoe vennootskappe 'n verskil aan gemeenskapsinfrastruktuur en -dienste maak, en ook tydelike werkgeleenthede tot volhoubare werkgeleenthede laat groei danksy die oordrag en ontwikkeling van vaardighede.

Deur die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap het meer jong mense ook toegang tot die hoofstroomekonomie deur programme wat bystand aan jong entrepreneurs bied.

4.2. Suid-Afrika sal op 23 Junie 2015 by die res van Afrika aansluit om Afrika-staatsdiensdag te vier onder die tema: "Die rol van openbare dienste in vrouebemagtiging, innovering en toeganklik dienslewering". Die NOP het ook die verbetering van die Staat se vermoë geïdentifiseer as van deurslaggewende belang om Visie 2030 te bererik. Sedert 1994 is heelwat vordering gemaak met die verteenwoordiging van vroue in senior bestuursposte in die Staatsdiens, wat in Maart 2014 op 39,8 persent gestaan het .

4.3. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om op 20 Junie 2015 by die Regering aan te sluit vir Wêreld Vlugtelingedag, om die land  se internasionale verbintenis te herbevestig om alle vlugtelinge met waardigheid te behandel. As 'n ondertekenaar van die 1951 Geneefse Konvensie oor Vlugtelinge en as 'n land wat menseregte koester, het ons 'n verpligting om die basiese regte van vlugtelinge binne ons grense te beskerm. In baie gevalle is dit kwesbare mans, vroue en kinders wat gedwing is om uit hul tuislande te vlug en dit aangepak het met moed, krag en vasberadenheid.

4.4. Die Departement van Binnelandse Sake, saam met ander staatsdepartemente en agentskappe, sal Operasie Pyramid op 19 Junie 2015 by Skukuza in Mpumalanga van stapel stuur onder die tema: "Werk saam vir veilige grense". Operasie Pyramid sal die Regering en sy agentskappe se grensprojekte, -programme en -tussenkomste beter koördineer en belyn. Hierdie oorgangsinisiatief sal in werking wees tot die geskeduleerde vestiging van die Grensbestuuragentskap in 2017. Die veilige, doeltreffende en doelmatige bestuur van die oorgrensbeweging van mense en goedere sal onderneem word in ooreenstemming met die land se NOP.

4.5. Die 60ste herdenking van die Vryheidsmanifes, wat op 26 Junie 2015 herdenk word, sal gebruik word om die vordering wat met die verwesenliking van sy ideale gemaak is te demonstreer en om belyning tussen die Regering se beleid en hierdie geskiedkundige dokument aan te dui. Die Vryheidsmanifes is 'n fondament waarop ons wêreld-bekroonde Grondwet gegrond is; vandag gee dit uitvoering aan die land wat ons deur ons beleid en programme bou.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke  klaring

5.1. Mnr Zacharia Isak Modise as Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste.

5.2. Me Bernedette Muthien as Adjunk-direkteur-generaal van Gendergelykheid by die Departement van Vroue.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore