Verklaring van die Kabinetsvergadering van 9 Oktober 2013

10 Oct 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet verwelkom President Jacob Zuma se bekragtiging van die Wysigingswet op Vervoerwette en Verwante Aangeleenthede, asook die Appèlhof se verwerping van ʼn appèl deur die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) in sy  saak oor e-tol teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk (Sanral).

Die Kabinet is van mening dat hierdie ontwikkelings die mense van Gauteng en Suid-Afrikaners in die algemeen nou in staat sal stel om op die voordele te fokus wat ons reeds geniet– en voortaan sal geniet – wat betref die verbeteringe aan die hoofweë in die ekonomiese kern van Suid-Afrika en suidelike Afrika.

Die e-tolstelsel is een aspek van die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek wat die beweging van mense en goedere verbeter het en wat die provinsiale en nasionale ekonomie voortaan meer doeltreffend sal maak.

E-toltariewe is verlaag in reaksie op openbare kommentaar; arm passasiers is in ag geneem deurdat operateurs van openbare vervoer nie tolgeld hoef te betaal nie; ʼn maandelikse betalingsplafon is ingestel, en daar is reeds ʼn kortingstelsel vir vervoermaatskappye.

Die Kabinet doen ʼn beroep op padgebruikers wat Gauteng se snelweë gebruik om die wet te gehoorsaam, goeie burgerskap te te handhaaf en by te dra tot ʼn beter Suid-Afrika deur vir e-skyfies te registreer en vir die gebruik van hierdie wêreldklaspaaie te betaal.

Die Kabinet vra dat Suid-Afrikaners moet saamspan en saamwerk om die Gauteng Snelwegverbeteringsprojek te laat slaag, en om waardering te toon vir die  merkwaardige groei van die land se moderne infrastruktuur.

Die Minister van Vervoer sal die datum waarop die e-tolstelsel in werking sal tree aankondig. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle motoriste wat Gauteng se snelweë gereeld gebruik om op die stelsel te registreer en hul e-skyfies te koop sodat hulle die afslagtariewe kan benut.

1.2. Die Kabinet loof die volgehoue inwerkingstelling van die multitriljoen-rand openbare infrastruktuurprogram onder die leierskap van President Jacob Zuma. Dit sluit die onlangse oopstelling van die R71en R81 tussen Polokwane en Giyani, asook die  opening van Bridge City en Rail Link-projek in KwaZulu-Natal op 19 Oktober 2013 in. ʼn Geïntegreerde padnetwerk is ʼn sleutelfaktor om beleggings na die land en die kontinent te lok.

Namate paaie regdeur die land moderniseer word, doen die Kabinet ‘n beroep op alle gebruikers om versigtig te wees wanneer hulle die paaie gebruik. Die Kabinet is besorg oor die toename in ongelukke op ons hoofweë waarby voetgangers betrokke is. Voetgangers maak minstens 46% van mense uit wat met hul lewens op ons paaie boet. Daar rus dus ʼn verantwoordelikheid op sowel motoriste as voetgangers om wedersyds waaksaam op die paaie te wees. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om deel te wees van die Verenigde Nasies se Dekade van Aksie vir Padveiligheid  (2011-2020) onder aanvoering van die Departement van Vervoer.

1.3. Die Kabinet vra dat alle Suid-Afrikaners aan die Imbizo Fokusweek deelneem wat tans aan die gang is en tot 13 Oktober 2013 duur. Dit bied aan gemeenskappe ‘n geleentheid vir interaksie met die Uitvoerende Gesag oor kwessies wat hulle raak en ook vir die Regering om mense in te lig oor sy werksaamhede.

1.4. Die Kabinet wil graag namens alle Suid-Afrikaners die Wêreldfonds bedank vir sy ondersteuning aan Suid-Afrika in ʼn tyd waar daar ʼn groot behoefte aan bykomende befondsing is. Dit is die grootste enkele skenking vir MIV en tuberkulose deur ʼn multilaterale skenker in die geskiedenis van vigs-bekamping.

Net meer as die helfte (52%) van die R3 biljoen word aan die Nasionale  Departement van Gesondheid toegeken. Hierdie bedrag word onder meer vir die volgende gebruik: aanskaf van antiretrovirale medikasie vir 350 000 pasiënte, befondsing om die voorsiening van antiretrovirale medikasie per koerier by pasiënte se huise of afhaalpunte in die gemeenskap van stapel te stuur, tuberkulose siftingsdienste aan alle gevangenes in al Suid-Afrika se tronke, en tuberkulose- en MIV-sifting vir 100 000 mynwerkers in klein myne wat nie hul eie gesondheidsdienste het nie.

1.5. Die Kabinet loof die volgehoue prestasie van die Vennootskap teen MIV en vigs, wat op 9 Oktober 2013 sy 15de bestaansjaar gevier het.

Suid-Afrika stel tans die grootste antiretrovirale behandelingsprogram in die wêreld in werking. Die Vennootskap het ook ʼn toonaangewende rol gespeel in die ontwikkeling van die Nasionale Strategiese Plan (NSP) 2012-2016.

1.6. Die Kabinet loof die gees waarin loononderhandelinge in daardie sektore waar vinnige en vriendskaplike oplossings gekry is, plaasgevind het en afgehandel is.

Sosiale dialoog binne die raamwerk van arbeidswetgewing bly kern tot die voorkoming van geweld wat met stakings verband hou.

Namate werkers terugkeer werk toe, doen die Kabinet ‘n beroep op werkgewers en werknemers om saam te werk, veral omdat die wêreldekonomie steeds onder druk verkeer, om sodoende die Suid-Afrikaanse ekonomie meer doeltreffend en produktief te maak en om ordentlike werk volhoubaar te maak.

1.7. Die Kabinet verwelkom die Nasionale Spitsberaad oor Selfmoordvoorkoming in die SAPD wat van 16 tot 18 Oktober plaasvind. Dit is deel van ‘n proses wat daarop gemik is om die Nasionale Selfmoordvoorkomingsplan vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens te ontwikkel.

1.8. President Jacob Zuma ontvang op 14 en 15 Oktober 2013 vir President Francois Hollande van die Republiek van Frankryk by die Uniegebou tydens ʼn staatsbesoek..

Die staatsbesoek sal Suid-Afrika se bilaterale politieke en ekonomiese betrekkinge met Frankryk verdiep; samewerking tussen die Noorde en Suide versterk en ons Afrika-agenda bevorder.

2. Belangrike Kabinetsbesprekings en -besluite

2.1 Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Tegniese Regulasies op Petroleumverkenning en Uitbuiting in die Staatskoerant gepubliseer word vir kommentaar.

2.2 Die Kabinet keur die aanbieding van die Internasionale Kompetisienetwerk (ICN) se Kartel-werkswinkel deur die Kompetisiekommissie van Suid-Afrika van16 tot 18 Oktober 2013, in Kaapstad goed.

Die ICN Kartel-werkswinkel is ‘n geleentheid vir deelnemende lede en nie-regeringsorganisasies regoor die wêreld om menings uit te ruil en te netwerkoor kwessies wat betrekking op kartelvorming het.

2.3 Die Kabinet is op die hoogte gebring van vordering wat gemaak is in die eerste kwartaal van 2013/14 ten opsigte van die Jeugwerkverskaffingsverdrag wat op 18 April 2013 onderteken is.

Die ses hoofelemente van hierdie verdrag is: (1) onderwys en opleiding, (2) werkblootstelling, (3) jeugbrigades, (4) jeugteikens, (5) entrepreneurskap en koöperatiewe ondernemings vir die jeug, en (6) inisiatiewe uit die privaatsektor.

Die belangrikste prestasie in die eerste kwartaal behels die aanvanklike oudit van die jeugaktiwiteite en -inisiatiewe in die Regering en aktiwiteite wat in die privaatsektor onderneem word.

3. Wetsontwerpe

3.1  Die Kabinet verleen toestemming vir die publikasie van die Konsepwysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg vir openbare kommentaar.

Die Wysigings wetsontwerp wysig die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyf,  1997 (Wet 62 van 1997) om die verblyfreg van plaasbewoners te versterk, toe te lig en te beskerm.

Die Wetsontwerp poog om ʼn volhoubare oplossing vir onsekerhede oor verblyfregte te kry deur grondherverdelingsmaatreëls te kombineer met doeltreffende regsbeskerming  en dispuutresolusiemeganismes. Die Wetsontwerp poog om boere en plaasbewoners se regte te verbeter. Sekondêre plaasbewoners is meestal vroue en kinders.

3.2   Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Konsepwysigingswetsontwerp op Myngesondheid en -veiligheid, 2013 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar.

Hierdie wetsontwerp poog om die Wet op Myngesondheid en –veiligheid, 29 van 1996 te wysig ten einde die toepassingsvoorsiening en die boetestelsel te hersien en boetes te versterk.

Deur die gesondheid en veiligheid van mynwerkers te verbeter poog die Konsepwysigingswetsontwerp ook om ʼn gesonde en veilige mynomgewing te skep wat ʼn positiewe uitwerking op die volhoubaarheid van die omgewing sal hê in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan.

4. Aanstellings

4.1 Die Kabinet keur die volgende aanstellings in die Departement van Sosiale Ontwikkeling goed:
a) Mnr Thokozani William Magwaza in die pos van Adjunk-direkteur-generaal: Omvattende Sosiale Sekerheid
b) Me Nelisiwe Ignatia Vilakazi in die pos Adjunk-direkteur-generaal: Strategie en Organisatoriese Transformasie.

4.2  Die Kabinet keur die aanstelling van Mnr Caiphus Ramushau in die pos Hoof Finansiële Beampte/Hoof van Korporatiewe Dienste in die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking goed.

4.3  Die Kabinet keur die volgende aanstellings tot die Raad van die Landbank goed:
a)  Me  Duma Motau
b)  Me Thembekile  Thelma Ngcobo

4.4  Die Kabinet neem kennis van die volgende aanstellings tot die Suid-Afrikaanse Statistiekraad:

Nasionaal

a) Mnr Ian Assam (heraanstelling)
b) Mnr Faldie Esau (heraanstelling)
c) Prof Jacky Galpin (heraanstelling)
d) Dr Maseka Lesaoana (heraanstelling)
e) Mnr Morore Mphahlele (heraanstelling)
f) Dr Khangelani Zuma (heraanstelling)
g) Mnr Kenneth Brown
h) Prof Phillippe Burger
i) Dr Rashad Cassim
j) Dr Jaya Josie
k) Mnr Etienne le Roux
l) Prof John Luiz
m) Prof Julian May
n) Dr Ariane Neethling
o) Dr Sarah Radloff
p) Mnr Sulaiman Salau

Provinsiaal

a) Dr Daniel Plaatjies (Vrystaat)
b) Mnr Monde Nkasawe (Oos-Kaap)
c) Mr Glen Robbins (KwaZulu-Natal)
d) Me Zeenat Ishmail (Wes-Kaap)
e) Mnr Mveli Maphanga (Mpumalanga)
f) Me Lizell Henney (Noord-Kaap)
g) Dr David Everatt (Gauteng)

4.5  Die Kabinet keur die volgende aanstellings tot die Raad van die Padongeluksfonds goed:

a) Mnr Thokwa Patrick Masobe
b) Me Refiloe Mokoena
c) Dr Linda Kinse Lungelwa Nompumelelo
d) Mnr Dawood Coovadia (Vise-voorsitter)
e) Mnr Ahmed Pandor
f) Dr Ntuthuko Bhengu (heraanstelling as Voorsitter)
g) Adv Dimakatso Qocha (heraanstelling)
h) Mnr Desmond Smith (heraanstelling)
i) Me Annemarie Steyn (heraanstelling)
j) Mnr Dumisa Hlatshwayo (heraanstelling)

4.6 Die Kabinet keur die volgende aanstellings tot die Raad van die Reguleringsowerheid vir Spoorwegveiligheid goed:
a) Me Natalie Skeepers
b) Mnr Masindi Tshamunwe Herry
c) Mnr Andre Bain Harrison
d) Me Masaccha Khulekelwe Mbonambi
e) Mnr Norman Tinyiko Baloyi
f) Mnr Matodzo Ratshimbilana (heraanstelling as Voorsitter)
g) Me Jane Barret (heraanstelling)
h) Me Thembelihle Msibi (heraanstelling as Adjunk-voorsitter).

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 0139

Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore