Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 5 Augustus 2020

A. Fokus op Korrupsie

1. Misbruik van hulpbronne vir Koronavirus (COVID-19)-ingrypings

1.1. Die kabinet besin met teleurstelling oor onlangse berigte van voorvalle van korrupsie en diefstal van broodnodige hulpbronne wat die regering toegewys het om lewens en lewensonderhoud gedurende die Covid-19-pandemie te red.

1.2. Sommige gewetenlose individue en maatskappye het staatshulpbronne geplunder wat geoormerk was om voedsel aan behoeftige gesinne en persoonlike beskermende toerusting (PBT) aan frontlinie-beamptes, veral gesondheidswerkers, te verskaf.  

1.3. Sulke misdadige en immorele aktiwiteite sluit in opgedrewe gekwoteerde pryse, onderskepping en herleiding van voedselpakkette wat vir arm mense bedoel was, en bedrog met betrekking tot fondse wat toegewys was om die ontberings van werknemers en ondernemings wat deur die opskorting van ekonomiese aktiwiteite gedurende die nasionale grendeltydperk veroorsaak is, te verlig.  

1.4. Die kabinet doen 'n beroep op alle openbare instellings om die hoogste standaarde van integriteit en aanspreeklikheid te handhaaf, en hul mandate effektief en doeltreffend te vervul. Die kabinet bly daartoe verbind om 'n bekwame, etiese en ontwikkelingstaat te bou. Dit steun die onlangse beroep deur President Cyril Ramaphosa dat wetstoepassingsagentskappe alles in hul vermoë moet doen om diegene wat by korrupsie betrokke is te arresteer, ongeag wie hulle is, en te verseker dat hulle die geplunderde fondse terugkry.

1.5. Die regering het oor die jare heen verskeie intervensies geloods in die stryd teen die plaag van korrupsie, wat 'n negatiewe invloed het op die lewering van dienste aan behoeftige en kwesbare lede van die samelewing. 

1.6. Die spesiale koördinasiesentrum wat onlangs in die lewe geroep is, het ten doel om die kollektiewe pogings van wetstoepassingsagentskappe te versterk om COVID-verwante korrupsie te voorkom, op te spoor, te ondersoek en te vervolg. Dit bestaan uit die Finansiële Intelligensiesentrum; Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat; Nasionale Vervolgingsgesag; Suid-Afrikaanse Polisiediens se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke), Misdaadintelligensie en Speurdiens; Suid-Afrikaanse Inkomstediens; Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die Staatsveiligheidsagentskap.

1.7. Bewerings van korrupsie wat ondersoek word, sluit in die bedrieglike verspreiding van kospakkies, maatskaplike verligtingstoelae; verkryging van PBTs en ander mediese voorrade; en die plundering van die Werkloosheidsversekeringsfonds se COVID-19 Tydelike Werknemer/Werkgewerverligtingskema.  

1.8. In 'n poging om die proses om korrupsie hok te slaan te bespoedig, het President Ramaphosa onlangs 'n proklamasie geteken wat die SOE magtig om enige onwettige of onbehoorlike optrede in die verkryging van enige goedere, werke of dienste gedurende of  met betrekking tot die nasionale ramptoestand in enige staatsinstelling te ondersoek.

Die SOE is nou gemagtig om enige bewerings rakende die misbruik van COVID-19-fondse oor alle sfere van die Staat heen te ondersoek, en siviele regsaksie in te stel om enige skade of verliese wat as gevolg daarvan deur die Staat gely is, te verhaal. Om te verseker dat die proses flink verloop, sal die President elke ses weke tussentydse verslae oor die ondersoeke ontvang. Hy sal ook verslae ontvang van die Gesondheidsektor se Teenkorrupsieforum, wat opdrag ontvang het om onreëlmatighede en wanadministrasie in die gesondheidsektor te ondersoek.

1.9. Die kabinet verwelkom ook die wysiging van die oorspronklike regulasies van die Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping, Korrupsie en Bedrog in die Openbare Sektor, met inbegrip van staatsliggame. Die gewysigde regulasies sal daarvoor voorsiening maak dat die kommissie inligting met die ander wetstoepassingsagentskappe kan deel. Dit sal help om die ondersoek en vervolging van korrupsieverwante sake te bespoedig.

1.10. As deel van die versterking van hierdie ingrypings het die kabinet ook die instelling van 'n span van vyf ministers goedgekeur om, onder andere, ondersoek in te stel na alle COVID-19-verwante verkrygings wat gedurende die grendeltydperk gemaak is en die huidige verkrygingstelsels te versterk. Die span bestaan uit die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, mnr Ronald Lamola (Sameroeper); Minister van Finansies, mnr Tito Mboweni, Minister van Staatsdiens en Administrasie, mnr Senzo Mchunu, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede, dr Nkosazana Dlamini Zuma, en die Minister in Die Presidensie, mnr Jackson Mthembu.

1.11. Daar sal van alle staatsdepartemente  verwag word om alle verkrygingskontrakte wat gedurende hierdie tydperk toegeken is, aan die ministeriële span voor te lê sodat dit gepubliseer en vir die publiek toeganklik gemaak kan word.

1.12. Die kabinet verwelkom die aankondiging dat minstens 36 korrupsieverwante sake tans in verskillende ondersoek- en vervolgingstadiums is. Hierdie sake stuur 'n sterk boodskap dat die regering nie enige korrupte optrede, veral deur sy amptenare,  sal duld nie en dat alle oortreders gearresteer en vervolg sal word.

1.13. Korrupsie is die ergste misdaad wat arm mense beroof en hulle van basiese dienste ontneem. Ons as 'n samelewing is verantwoordelik vir die stryd teen korrupsie en moet dit sonder aansien des persoons aan die kaak stel. Die kabinet noop die publiek om die onderskeie nasionale en sektorale teenkorrupsie-blitslyne te benut ter ondersteuning van pogings om korrupsieverwante bewerings te openbaar en vervolg.

B. Sleutelbesluite

2. Nasionale Strategie vir Digitale en Toekomstige Vaardighede

2.1. Die kabinet keur die publikasie van die Nasionale Strategie vir Digitale en Toekomsvaardighede goed. Die strategie is die uitvloeisel van die Witskrif oor Nasionale Geïntegreerde Inligting en Tegnologie wat in September 2016 gepubliseer is.  

2.2. Die strategie is in reaksie op 'n gekoördineerde raamwerk om vaardigheidskapasiteit vir alle sektore van die ekonomie binne die konteks van digitale transformasie en tegnologiese ontwikkeling van die Vierde Industriële Rewolusie te bevorder. Dit maak voorsiening vir 'n futuristiese en samewerkende implementeringsbenadering wat die privaat sektor, akademiese wêreld en die samelewing in sy geheel sal insluit.

3. Nasionale Aanpassingstrategie vir Klimaatsverandering (NCCAS)

3.1. Die kabinet keur die NCCAS vir implementering goed. Hierdie strategie dien as die land se Nasionale Aanpassingsplan. soos deur die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering vereis word. Die Nasionale Aanpassingstrategie vir Klimaatsverandering (NCCAS) behels 'n uiteensetting van die tersaaklike doelwitte, ingrypings en uitkomste om ons land in staat te stel om uitvoering te gee aan Suid-Afrika se verbintenis tot die Parys Ooreenkoms oor klimaatsverandering.

3.2. Die Strategie, wat in oorleg met die regering, privaat sektor en plaaslike gemeenskappe ontwikkel is, is daarop gerig om die kwesbaarheid van die samelewing, die ekonomie en die omgewing vir die uitwerkings van klimaatsverandering te verminder. Dit verskaf ook 'n geïntegreerde en gekoördineerde benadering tot die bestuur van aanpassingsmaatreëls in reaksie op die uitwerkings van klimaatsverandering. 

Noudat die Strategie aanvaar is, sal die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye implementering op alle vlakke van die regering, die sakesektor en burgerlike samelewing koördineer. Die 10-jaarplan sal elke vyf jaar hersien word.

4. Herdenking van Vrouemaand, Augustus 2020

4.1. Die kabinet keur die program vir Vrouemaand goed onder die tema: “Verwesenlik vroueregte vir 'n gelyke toekoms". Vanjaar se Vrouemaand fokus op dringende optrede  wat nodig is om vroueregte en geslagsgelykheid te bevorder.

4.2. Die regering is verbind tot die stryd om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) uit te wis. Die kabinet het vandeesweek drie wetsontwerpe vir voorlegging aan die parlement goedgekeur, wat ons regstelsel sal versterk om slagoffers van GGGV te ondersteun en beskerm.

4.3. Die maandlange program sal die mobilisering van vroue bevorder en georganiseerde strukture van vroue versterk met die oog op volhoubare optrede oor kwessies wat hulle beïnvloed. Op Sondag, 9 Augustus 2020 sal  President Ramaphosa saam met 'n paneel gassprekers 'n nasiewye aktiwiteit onderneem wat op televisie gebeeldsend sal word.

C. Wetsontwerpe

5. GGGV-wetsontwerpe goedgekeur

5.1. Die kabinet keur die voorlegging van drie GGGV-wetsontwerpe aan die Parlement goed – Wysigingswetsontwerp op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) van 2020; Nasionale Register vir Seksuele Misdrywe en die Wysigingswetsontwerp op Huishoudelike Geweld. Hierdie Wetsontwerpe reageer op 'n kwessies wat geopper is tydens die Presidensiële Beraad teen GGGV wat in 2018 gehou is ten opsigte van die strafregstelsel.   

5.2. Die wysigings verskaf 'n slagoffergesentreerde reaksie in die strafregstelsel ten aansien van seksuele misdrywe. Dit versterk borgvoorwaardes vir plegers van seksuele misdrywe. Lasbriewe vir arrestasie sal nie meer 'n vereiste wees vir wetstoepassingsagentskappe om op gerapporteerde seksuele misdrywe te kan reageer nie. Paroolvoorwaardes word ook versterk en minimumvonnisse verhoog. Die wysigings versterk ook die gevolge van die oortreding van 'n beskermingsbevel.

5.3. Die Wysigingswetsontwerp op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) wysig ook die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders deur die toepassingsbestek vanaf slegs kinders en verstandelik gestremde persone na alle kwesbare groepe uit te brei. Persone wat in die register opgeneem word, word verplig om hierdie inligting te openbaar wanneer hulle aansoek doen om met hierdie groepe te werk.

5.4. Die Wysigingswet op die Bekamping van Huishoudelike Geweld maak dit moontlik om elektroniese middele te gebruik om beskermingsbevele teen handelinge van huishoudelike geweld te verkry. Dit dwing die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om bepaalde dienste aan slagoffers van huishoudelike geweld te lewer, en bring die bepalings van die Wet op die Bekamping van Huishoudelike Geweld, 1998 (Wet 116 van 1998) in ooreenstemming met die bepalings van die Wet op Beskerming teen Teistering, 2011 (Wet 17 van 2011).

6. Wetsontwerp op Kannabis vir Privaat Doeleindes van 2020

6.1. Die kabinet keur die voorlegging van die Wetsontwerp op Kannabis vir Privaat Doeleindes van 2020 vir verwerking aan die parlement goed. Die Wetsontwerp gee gevolg aan die uitspraak van die Konstitusionele Hof wat sommige artikels van die Wet op Dwelmmiddels en  Dwelmsmokkelary, 1992 (Wet 140 van 1992) en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965) ongrondwetlik verklaar het.

6.2. Die uitspraak is 24 maande lank opgeskort om aan die parlement die geleentheid te bied om hierdie artikels te korrigeer. Hierdie Wetsontwerp reguleer die gebruik en besit van dagga en die verbouing van daggaplante wat deur 'n volwassene besit mag word, en kriminaliseer die rook van dagga in openbare plekke.           

7. Wysigingswet op Fondsinsameling van 2017

7.1. Die kabinet keur die voorlegging van die Wetsontwerp aan die parlement goed. Die Wetsontwerp rasionaliseer die Wet op Fondsinsameling, 1978 (Wet 107 van 1978), deur die bestaande drie fondse – Rampverligtingsfonds, Suid-Afrikaanse Weermagfonds en Noodlenigingsfonds vir Vlugtelinge – in een Nasionale Maatskaplike Ontwikkelings-en-Verligtingsfonds te konsolideer.

7.2. Die fonds sal in die toekoms fokus op die proaktiewe  verligting van rampe en om die maatskaplike ontwikkeling van gemeenskappe bevorder. Die gekonsolideerde fonds sal help om die administratiewe prosesse meer vaartbelyn te maak, doeltreffende dienste aan arm gemeenskappe moontlik maak en koste verlaag. Dit sal ook drie direksies in een direksie saamvoeg.

D. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan  die toepaslike sekerheids- en kwaifikasieverifikasies.

8.1.  Suid-Afrikaanse Polisiediens

a. Brigadier Ebrahim Ahmed Kadwa – Gauteng Provinsiale Hoof: Direktoraat Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI); en
b. Brigadier Moiki Obed Ngwenya – Oos-Kaapse Provinsiale Hoof: DPCI.

8.2. Mnr Collins Letsoalo – Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Padongelukkefonds. 

8.3. Nie-uitvoerende lede van die Direksie van die Padverkeeroortredingsagentskap:

a. Me Bongekile Zulu (Voorsitter);
b. Mnr Tshikane Owen Mtsetweni;
c. Dr Prittish Dala;
d. Me Dorcas Khosa-Shikwambana; en
e. Mn Bonolo Molemo Ramokhele.

8. Nie-uitvoerende lede van die Direksie van die Suid-Afrikaanse Lughawemaatskappy:

a. Me Dudu Hlatshwayo; en
b. Dr Kgabo Badimo.

8.5. Nie-uitvoerende lede van die Direksie van die Spoorwegveiligheidsreguleerder:

a. Mnr Boy Johannes Nobunga; (Voorsitter);
b. Me Yongama Pamla (Asjunkvoorsitter);
c. Mnr Sisa Lunga Mtwa;
d. Adv Nokuzola Gloria Khumalo;
e. Me Nompumelelo Ekeke;
f. Me Dineo Mathibedi;
g. Me Salome Chiloane-Nwabueze;
h. Adv Frans Johannes van der Westhuizen; en
i. Adv Johannes Collen Weapond.

8.6. Mnr Khathutshelo Ramukumba – Hoof Finansiële Beampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.

8.7. Mnr Mlamli Booi – HUB van SENTECH SOC Beperk (Heraanstelling). 

8.8. Dr Mzubanzi Bismark Tyobeka – HUB van die Nasionale Kernkragreguleerder (Heraanstelling).

8.9. Direksie van die Nasionale Kernkragreguleerder:

c. Dr Thapelo Motshudi (Voorsitter);
d. Me Dineo Peta (Adjunkvoorsitter);
e. Mnr Protas Phili;
f. Me Devinagie Bendeman;
g. Dr Nomusa Qunta;
h. Mnr Bernard Pelei Petlane;
i. Mnr David Mamphitha; en
j. Me Lindelwa Dlamini.

8.10. Direksie van die Nasionale Instituut vir die Wegdoening van Radioaktiewe Afval:

a. Me Thandeka Zungu (Voorsitter);
b. Mnr Mogwera Khoathane (Adjunkvoorsitter);
c. Dr Kgaugelo Chiloane;
d. Dr Cornelius Ruiters;
e. Me Leandra Vilakazi;
f. Me Lerato Makgae (Departement van Minerale Hulpbronne en Energie; en
g. Mnr Trevor Mark Gordon (Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye).

8.11. Verlenging: Ampstermyn van die Tussentydse Direksie van die Kleinsakefinansieringsagentskap:

a. Mnr AM Mahosi (Voorsitter);
b. Mnr M Radebe (Adjunkvoorsitter);
c. Mnr J Kganyago;
d. Me N Dlamini;
e. Me NR Mlonzi;
f. Me DL Mabuza;
g. Me M Makara; en
h. Verteenwoordiger van die Nywerhirdsontwikkelingskorporasie.

8.12. Mnr Mlindi Mashologu – Adjunkdirekteurgeneraal (ADG): Inligtingsamelewing, Ontwikkeling en Nnavorsing, Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie.  

8.13. Me Thabitha Constance Mametja – ADG: Korporatiewe Dienste, Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling.

Navrae:
Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore