Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 24 Maart 2021

A. Kwessies in die omgewing

1. Inentinguitsrolprogram
1.1.    Die Sisonke-korononavirusinentingsuitrolprogram is uitgebrei tot 54 inentingspersele regoor die land. Meer as 207 808 mense is tot dusver as deel van hierdie program ingeënt.
1.2.    Die drie fases van Suid-Afrika se inentingsuitrolprogram is as volg:

  • Fase 1: Word oor ’n tydperk van drie maande geïmplementeer, vanaf Februarie tot April 2021, en teiken meer as 1.5 miljoen (608 295 geregistreerde) gesondheidsorgwerkers landswyd. Die departement van gesondheid is op dreef om alle gesondheidswerkers teen die einde van Fase 1 in te ent.  
  • Fase 2: Word oor ’n tydperk van ses maande geïmplementeer, vanaf Mei tot Oktober 2021. Hierdie fase sal meer 13 350 140 mense teiken in onder meer kwetsbare groepe; noodsaaklike werkers en mense in die beroepsgesondheid- en veiligheidsektor; werkers in sektore krities tot ekonomiese herstel soos mynbou, gasvryheid, die taxi-bedryf, handel en spaza-winkels; groente- en vrugteverkopers; die media asook asook soortgelyke toepaslike persone.   

Die inentingpersele vir Fase 2 en Fase 3 sal vermeerder tot 2 085 en ook privaatsektorpersele insluit om die spoed en doeltreffendheid van die inentingsuitrolprogram te verhoog. 

  • Fase 3: Sal oor ’n tydperk van drie maande geïmplementeer word, vanaf November 2021 tot Februarie 2022, om die res van die inwoners in Suid-Afrika in te ent – insluitend diegene wat nie tydens Fase 2 ingeënt is nie – met ’n teiken van 22 600 640 mense.
     

1.3.    Die Kabinet verwelkom die voortdurende aankoms van aflewerings van die Johnson & Johnson (J&J) entstof in die land, wat verseker dat daar vordering gemaak word met die implementering van Fase 1 van die Sisonke-program. 
1.4.    Die Kabinet bly vol vertroue oor die merkwaardige vooruitgang wat gemaak word deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) met betrekking tot die goedkeuring van die J&J-entstof vir massa-inenting. Die onlangse goedkeuring deur SAHPRA met betrekking tot die Pfizer/BioNTech KOVID-19-entstof bied aan die land toegang tot nog meer lewensreddende inentingsdosisse. 
1.5.    Die Kabinet wil graag Suid-Afrikaners gerus stel dat die department van gesondheid, in oorleg met die privaatsektor, die nodige kapasiteit het om ’n massa-inentingsuitrolprogram te behartig in Fase 2.  
1.6.    Die Kabinet verwelkom ook die voorsitter van die interministeriële komitee vir KOVID-19-entstowwe, Adjunkpresident David Mabuza, se besoek aan die Biovac-vervaardigingsfasiliteit in die Wes-Kaap op Donderdag, 18 Maart 2021. Die besoek het gefokus in die fasiliteit se aanleg, infrastruktuur en beleggings om die ontwikkeling en vervaardiging van entstowwe te ondersteun.
1.7.    Die vennootskap tussen Biovac en die VSA-gebaseerde immunoterapie-maatskappy, ImmunityBio, ter ontwikkeling van Suid-Afrika se vermoë om KOVID-19-entstowwe te vervaardig, sal lei tot die vervaardiging van ImmunityBio se tweede-generasie KOVID-19-entstof in die land.
1.8.    Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners en almal in die land om hul kant te bring en die inperkingsmaatreëls streng na te kom – veral in die komende Pasga-, Pase- en Ramadan-geloofsvieringe – om te help vermy dat KOVID-19-infeksies weer toeneem en moontlik tot ’n derde vlaag infeksies lei.  
1.9.    Die Kabinet het verder weereens die belangrikheid daarvan beklemtoon om nie-farmaseutiese voorkomingsmaatreëls na te kom om die verspreiding van KOVID-19-infeksies te voorkom deur die dra van gesigmaskers in die publiek, ’n sosiale afstand van 1.5 meter te handhaaf, handontsmetting met seep en water of ’n 70% alkoholgebaseerde handsanitiseerder, en die vermyding van groot groepe mense.

2.    Energie
2.1.    Die Kabinet is bewus van die negatiewe sosio-ekonomiese impak, ontwrigting en ongerief wat gewone burgers en besighede oor die afgelope paar weke weens beurtkrag moes verduur. 
2.2.    Geen moeite word ontsien om die huidige uitdagings met betrekking tot energie op te los en nuwe kragopwekkingkapasiteit so spoedig as moontlik beskikbaar te stel; hierdie is noodsaaklik vir Suid-Afrika se ekonomiese herstel. Terselfdertyd ondersteun die Staat steeds pogings om Eskom te stabiliseer en op ’n volhoubare groeipad te plaas. 
2.3.    Die Kabinet verwelkom minerale hulpbronne en energie minister Gwede Mantashe se aankondiging dat agt verkose bieërs ’n bykomende 2 000 megawatt se noodkrag sal lewer wat die nasionale netwerk oor die korttermyn sal steun. 
2.4.    Daar sal van die verkose bieërs in die onafhanklike kragvervaardigersprogram verwag word om energie afkomstig van son-, wind-, vloeibare aardgas- asook batterystoorbronne te verskaf. Die eerste verbindings tot die netwerk word teen Augustus 2022 verwag. 
2.5.    Hierdie agt projekte sal ’n beraamde R45 miljard-inspuiting tot die ekonomie lewer, met gemiddelde plaaslike bydraes van 50%, en behoort ongeveer 3 800 werksgeleenthede tydens konstruksie te skep. ’n Verdere beraamde 13 500 werksgeleenthede sal gedurende die 20-jarige kragleweringstermyn geskep word. 
2.6.    Die strategiese ingrypings deur die Staat om die elektrisiteitstelsel te herstruktureer en versterk sal die land se kragopwekkingskapasiteit wesenlik verbeter. Die noemenswaardige vordering sover is beduidend dat ons pogings om die uitdagings rondom die verskaffing van krag die hoof te bied, besig is om momentum te bou. 
2.7.    Die Kabinet doen verder ’n beroep op almal van ons om die ingrypingspogings om Eskom se werksprestasie te verbeter, te ondersteun deur onwettige konneksies, meterpeutering en die onwettige verkoop van vooruitbetaade elektrisiteit by wetstoepassingsagentskappe aan te meld. Ons moet almal verantwoordelike elektrisiteitsverbruikers wees deur ons maandelikse kragrekeninge te betaal. 

3.    Studiegelde-ooreenkoms vir universiteite 
3.1.    Die Kabinet bly toegewy daartoe om ’n volhoubare en blywende oplossing te vind tot die befondsing van hoër onderwys om te verseker dat geen akademies-verdienstelike studente finansieel uitgesluit word nie.  
3.2.    Die studiegelde-ooreenkoms wat tussen die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO) en institusies van hoër onderwys gesluit is, is belyn tot inflasie om hoër onderwys meer bekostigbaar te maak. 
3.3.    Die Kabinet is besorg oor die stygende historiese studenteskuld in die hoër onderwysstelsel. Die DHOO is tans besig om data in te win oor die profiele van studente wat deur hierdie skuld geraak word; hierdie data sal deel vorm van ’n beplande oorsig van die studente-befondsingsbeleid om uiteindelik ’n volhoubare model vir hoër onderwys daar te stel. 
3.4.    Intussentyd moedig die Kabinet institusies van hoër onderwys aan om gesprekvoering te bewerkstellig met hul studenteliggame om oplossings te vind wat meer studente in staat sal stel om te registreer. 
3.5.    Die Kabinet verwelkom die spoedige ondersoek en inhegtenisname van die vier polisiebeamptes wat na bewering verantwoordelik was vir die dood van mnr Mthokozisi Ntumba (35) tydens die onlangse studenteprotesaksie buite die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Daarbenewens verwelkom die Kabinet die inhegtenisname van diegene wat veranwoordelik was vir die openbare geweld en volgehoue aanvalle op die polisie tydens hierdie protesaksies. 
3.6.    Die Kabinet respekteer die konstitusionele reg tot vreedsame protes binne die perke van die gereg. Daarenteen sal wetstoepassingsagentskappe nie toelaat dat kriminele elemente sulke wettige protesaksies uitbuit en onder die vaandel daarvan geweld pleeg en verwoesting saai deur openbare en privaateiendom te verbrand en vernietig nie. 

4.    Politieke moorde
4.1.    Die Kabinet bly besorg oor die vermelde aanvalle op lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Polisiebeamptes plaas hul lewens op ’n daaglikse basis op die spel om die veiligheid van ons gemeenskappe en ons land te verseker. 
4.2.    Oor die afgelope maand, sedert 25 Februarie 2021, is 12 polisiebeamptes wreed vermoor – tydens en na diensure – regoor die land. 
4.3.    Alle dade van geweld en moord gemik op polisiebeamptes is nie net lafhartig nie, maar ook onpatrioties, en behoort nie in ons samelewing geduld te word nie. Die Kabinet doen ’n beroep op alle wetstoepassingsagentskappe om te verseker dat die skuldiges aan die pen ry en die reg geskied vir die gesneuwelde polisiebeamptes. 
4.4.    As ’n wetsgehoorsame en vredeliewende samelewing, kom ons almal demonstreer ons afkeur teenoor polisiemoorde deur alle oortreders en vlugtelinge te rapporteer aan wetstoepassingsagentskappe. Die dood van een polisiebeampte is een te veel. 

5.    Menseregtedag
5.1.    Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners wat deelgeneem het aan die land se Menseregtedagfeesvieringe op Sondag, 21 Maart 2021 onder die tema: “Die jaar van Charlotte Maxeke: Die bevordering en beskerming van menseregte in die tyd van KOVID-19.” Vanjaar se vieringe vind plaas terselfdertyd as die 25-jaarherdenking van die aanvaarding van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika in 1996. 
5.2.    Die dag herinner ons aan ons morele verpligting as nasie om te volhard in die stryd teen rassisme, seksisme, xenofobie en all verwante onverdraagsaamhede, insluitend geslagsgebaseerde geweld en die oorblyfsels van polisiebrutaliteit. 
5.3.    Die Kabinet het ’n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om die oorblywende dae van Menseregtemaand te gebruik om sterker maatskaplike samehorigheid, nasiebou en ’n gedeelde nasionaliteit te kweek. 

B.    Kabinetsbesluite
1.    Nasionale data- en wolkbeleid

1.1.    Die Kabinet het goedkeuring gegee dat die konsep nasionale data- en wolkbeleid in die Staatskoerant gepubliseer word vir publieke kommentaar. Die beleid is daarop gemik om bestaande beleid en wetgewing te belyn om te verseker dat die land ten volle voordeel trek uit die digitale ekonomie.
1.2.    Data- en wolkdienste speel ’n sleutelrol in bemagtiging in die digitale ekonomie. Die beleid is verder ook daarop gemik om te verseker dat die land ten volle deelneem aan die nuwe data-era. Sodra die beleid aanvaar is, sal dit ook die Staat se kapasiteit om dienste aan sy landsburgers te lewer.    

2.    Konsep nasionaal-vasgestelde bydrae (NVB) tot die wêreldwye reaksie op klimaatsverandering
2.1.    Die Kabinet het die konsep-NVB tot the reaksie op klimaatsverandering goedgekeur vir publieke oorlegpleging. Die Paryse ooreenkoms oor klimaatverandering vereis dat die land periodieke NBB’s inhanding waarin ’n teiken om groenhuisgasse te beperk, uitgestip word. 
2.2.    Sedert die aanvaardiging van die Paryse ooreenkoms in Desember 2015 het Suid-Afrika noemenswaardige vordering gemaak met die ontwikkeling en implementering van die land se NBB’s.
2.3.    Die opgedateerde konsep-NVB neem in ag Suid-Afrika se nasionale toestande, wetlike vereistes van die Paryse ooreenkoms, billikheidsreg en die nuutste wetenskap. 

3.    IMK vir die 2023 Netbalwêreldbeker (NWB)
3.1.    Die Kabinet het die stigting van die IMK vir die 2023 NWB met betrekking tot die aanbieding van die 2023 NWB goedgekeur. Die IMK sal die beplanning vir die geleentheid behartig. 
3.2.    Suid-Afrika, wat die eerste NWB-gasheerland in Afrika sal wees, sal gasheer speel vir 16 mededingende nasies.   

4.    Internasionale Filatelie-uitstalling (IPEX)    
4.1.    Die Kabinet het dit goedgekeur dat Kaapstad gasheer sal speel vir IPEX, ook bekend as die seëluitstalling, van 9 tot 19 Desember 2021 onder die tema: “Die Pad naa demokrasie”. Die Federation of International de Philatelie (FIP) was aanvanklik van plan om die uitstalling van 17 tot 20 Maart 2021 in Kaapstad te hou, maar die datum is weens KOVID-19 verander. 
4.2.    Die departement van kommunikasie en digitale tegnologie sal die uitstalling organiseer en aanbied in samewerking met die FIP-organiseringskomitee.
4.3.    Seëlversamelings sal historiese oomblikke, individue en geleenthede uitbeeld wat bygedra het tot die versterking van demokrasie in Suid-Afrika. Die verwagte deelnemers sal bydra tot die land se toerisme, die plaaslike ekonomie ’n hupstoot gee asook kultuur- en gemeenskapsamehorigheid bevorder.

5.    Wetenskap, tegnologie en innoverings dekadale implementeringsprogram (WTI Dekadale Plan)
5.1.    Die Kabinet het die WTI Dekadale Strategiese Plan 2021-2031 vir wetenskaplike en en innoverende implementering goedgekeur. Die plan volg die Witskrif vir Wetenskap, Tegnologie en Innovering wat in 2019 deur die Kabinet goedgekeur is. 
5.2.    Die beleid volg op die land se vinnige tegnologiese ontwikkeling en maak gebruik van WTI vir die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die land. Hierdie dekadale plan sal dien as ’n staatsmeesterplan wat ander departemente soos die departemente van landbou, grondherorming en landelike ontwikkeling; minerale hulpbronne en energie; handel, nywerheid en kompetisie; en gesondheid inkorporeer. Die implementering sal in samewerking met al die ander betrokke partye geskied.

C.    Toekomstige gebeure
1.    President se virtuele leesklub

1.1.    Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om die vierde sessie van President se leesklub by te woon op Donderdag, 25 Maart 2021 vanaf 16:30 tot 18:30, via ’n Microsoft Teams-webinaar (https://nrc.org.za/).
1.2.    Hierdie sessie sal die klassieke Suid-Afrikaanse literêre werke The Suit deur Can Themba en I am not a Tramp deur Leslie Sehume bespreek. 
1.3.    Sedert die nasionale koalisie vir lees in 2019 geloods is, het die organisasie ondersteuning verleen aan die Read to Lead-veldtog en President Cyril Ramaphosa se beroep om leesvaardighede in die land te verbeter – vanaf die klaskamer tot die sitkamer. 
1.4.    Deur almal se samewerking kan ons op hierdie fondasievaardigheid voortbou en toegang tot beroepsgeleenthede skep.

D.    Boodskappe
1.    Gelukwensings

Die Kabinet spreek sy gelukwense uit teenoor: 

  • Dr Patrice Motsepe, die vernaamde sakeman wat die eerste Suid-Afrikaner is om verkies te word as die president van die Konfederasie van Afrika Voetbal-assosiasies.  
  •  Die Kabinet wens ook alle Suid-Afrikaners ’n geseënde en veilige Paasvakansie toe, en die geloofgesmeenskappe ’n eerbiedige en geestelike Pasga. 
     

2.    Medelye
Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en vriende van: 

  • Sy Majesteit Koning Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu, wat die langste-dienende heerser van die Zoeloe-koninkryk was. President Ramaphosa het aan Sy Majesteit ’n spesiale amptelike begrafnis: kategorie 1 status toegeken, wat elemente van militêre eerbetoging ingesluit het. Sy Majesteit sal onthou word as ’n visioenêre heerser wat die Zoeloe-volk en tradisionele verenig het en bygedra het tot die welvaart van AmaZulu.
  • Sy Eerwaarde President John Pombe Magufuli van die Verenigde Republiek van Tanzanië. Suid-Afrika rou saam met die staat en die nasie van Tanzanië tydens hierdie swaar tyd. In huldebetoning aan President Magufuli, het President Ramaphosa gesê: “Ons is soveel van ons vryheid verskuldig aan die vrygewigheid en opofferings van die mense van Tanzanië. Hierdie gedeelde verlede veroorsaak dat ons as Suid-Afrikaners die verlies van President Magufuli des te meer dieper en meer persoonlik ervaar. Tanzanië het ’n vader en ’n broer verloor, Afrika het ’n visioenêre leier verloor, en Suid-Afrika het ’n dierbare vriend verloor.” 
  •  Mnr Menzi Ngubane, die bekroonde veteraanakteur wat ’n uitnemende toneelspeler en groot kunstenaar was. Hy het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van die uitvoerende kunste, beide op die TV-skerm en die silwerskerm. Sy werk as kunstenaar bly ’n inspirasie vir baie mense in die kunste.
  • Me Noxolo Maqashalala, ’n briljante jong aktrise wie se uitsonderlike talent op ons TV-skerms te siene was. 
  • Dr Nawal El Saadawi, ’n Egiptiese feminis, menseregte-aktivis, skrywer en psigiater. Sy het deur middel van haar skryfwerk en aktivisme bygedra tot die stryd teen die onderdrukking van vroue gebaseer op kultuur, geloof en gemeenskapsklasstrukture. Sy was wêreldwyd bekroon vir haar werk teen die gebruik van vroulike genitale verminking (vroulike besnydenis).
  • Mnr Pathasarvasan Govender, ook bekend as “Charm Govender”, ’n struggle-staatmaker van Chatsworth in KwaZulu-Natal, was ’n lid van die Natalse Indiër Kongres en ’n African National Congress (ANC) ondergrondse aktivis.
  • Mnr Cecyl Esau, ’n struggle-staatmaker en voormalige politieke gevangene op Robbeneiland asook ’n voormalige lid van die ANC se militëre vleuel, Umkhonto we Sizwe. Mnr Esau het sy hele jeug en volwasse lewe daaraan gewy om te veg vir ’n vrye, nie-rassistiese en nie-seksistiese Suid-Afrika.
     

E.     Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1.    Me Nolwazi BK Gasa as die Adjunkdirekteur-generaal (ADG): Beplanning, Beleid en Strategie in die DHOO.
2.    Mnr Samuel Zamokuhle Zungu as die ADG: Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding in die DHOO.
3.    Me Pretty Nozipho Makukule as die Hoof Finansiële Bestuurder in die DHET. 
4.    Me Memme Sejosengwe, wie se kontrak as Sekretaris-Generaal in die Kantoor van die Hoofregter verleng is. 

Navrae:
Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore