Verklaring oor die virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 23 Maart 2022

A. Kwessies in die omgewing

1. Nasionale Ramptoestand 

1.1. Die Suid-Afrikaanse regering het op die globale Koronavirussiektepandemie (KOVID-19-pandemie) gereageer deur in Maart 2020 ʼn Nasionale Ramptoestand ingevolge die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wetnr. 57 van 2002), te verklaar. Dit het ʼn geïntegreerde en gekoördineerde reaksie gefasiliteer om lewens en lewensbestaan, te red. 
1.2. Die land word sedert Maart 2020 gereguleer deur regulasies van die Nasionale Ramptoestand oor KOVID-19 toe Suid-Afrika sy eerste gevalle van die virus gerapporteer het. Die President het verdere ingrypings aangekondig wat veronderstel is om die land sover te kry om ʼn nuwe fase in die bestuur van die KOVID-19-pandemie te betree. 
1.3. Die onlangse verlenging van die Nasionale Ramptoestand tot 15 April 2022 neem die behoefte in ag om steeds die bestaande wetgewing en gebeurlikheidsreëlings wat deur staatsorgane onderneem is, om die impak van die ramp aan te spreek, te versterk. 
1.4. Die Kabinet het versoek dat gesondheidsregulasies oorweeg word om nie-farmaseutiese veiligheidsmaatreëls soos die dra van maskers, sosiale distansiëring, beperkings vir byeenkomste en inentings, te reguleer. Dit sal ons ook toelaat om nood-, vinnige en doeltreffende reaksiestelsels op te stel om die hewigheid van KOVID-19  te versag. 

2. KOVID-19-inenting 

2.1. Die Kabinet het alle mense in Suid-Afrika daaraan herinner om steeds waaksaam te wees, aangesien KOVID-19 nog nie oorwin is nie en het ʼn beroep gedoen op diegene wat 12 jaar en ouer is, om ingeënt te word. Inenting bly steeds ons beste beskerming teen die virus en verminder die risiko van ernstige siekte, hospitalisasie en die dood.
2.2. Ons staar in die komende weke ʼn moontlike vyfde vlaag in die gesig, alhoewel infeksie en sterftes tans laag is. Die enigste verdediging wat ons het, is die wetenskaplike bewyse wat die mag van entstowwe om lewens te red, aandui. Ons land het reeds meer as 33 miljoen dosisse van die KOVID-19-entstowwe toegedien. 
2.3. Die Kabinet het ook die praktykkode oor die bestuur van KOVID-19-blootstelling in die werksplek verwelkom, wat deur die Departement van Indiensname en Arbeid uitgereik is. Die praktykkode is ontwikkel na openbare beraadslaging met die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad en sal toepaslik wees wanneer die Nasionale Ramptoestand tot ʼn einde kom. 
2.4. Die praktykkode sal werkgewers en werknemers lei aangaande die uitvoer of bywerk van ʼn risiko-assesseringsplan om KOVID-19-infeksies in die werksplek te beperk. Dit lys maatreëls soos inenting, sosiale distansiëring en persoonlike higiëne om werksruimtes te beveilig.

3. Suid-Afrikaans beleggingskonferensie (SAIC)

3.1. Die Kabinet het afgevaardigdes van regoor die land en wêreld by die vierde SAIC verwelkom wat op Donderdag, 24 Maart in Johannesburg plaasgevind het.
3.2. Die konferensie stel die baie beleggingsgeleenthede en betreklike voordele wat Suid-Afrika aan beleggers bied ten toon, in ʼn tydperk van ontwikkelende Afrika-integrasie deur die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AKV), wat intra-Afrikahandel bevorder.
3.3. Plaaslike en buitelandse beleggings speel ʼn belangrike rol in ons ekonomie en skep volhoubare werke. Die SAIC spoor ʼn siklus van ekonomiese aktiwiteit, indiensneming en verbruikersvraag aan wat die groeibaan van die land kan ondersteun.
3.4. Ons vorige beleggingskonferensies het ʼn totaal van R774 miljard in ondernemings gelok. Vyf-en-veertig van die aangekondigde 152 beleggings is voltooi en ʼn verdere 57 is in aanbou.  
3.5. Die Kabinet is vol vertroue dat dié jaar se konferensie op ons beleggingsgetal sal voortbou, as deel van ons nasie se doel om R1,2 triljoen se beleggings oor vyf jaar,  te lok.  

4. Impak van die konflik tussen Rusland en Oekraïne op die ekonomie

4.1. Die Kabinet oorweeg die impak wat die huidige konflik tussen Rusland en Oekraïne op die land se ekonomie sal hê, aangesien die uitwerking daarvan reeds finansiële markte en pryse wêreldwyd raak.
4.2. Die beste manier om ons ekonomie en die welstand van ons mense te beskerm is om voort te gaan met die inwerkingstelling van die ekonomiese herkonstruksie- en herstelplan (EHH). 
4.3. Die regering is daartoe verbind om alles in ons vermoë te doen om Suid-Afrikaners te beskerm teen die uitwerkings van die stygende lewenskostes en om te verseker dat ons ekonomie dié onstuimige tye kan weerstaan.

5. Veiling van die hoë aanvraag radiofrekwensiestelsel

5.1. Die Kabinet het die suksesvolle afhandeling van die land se eerste veiling van die hoë aanvraag radiofrekwensiespektrum deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, verwelkom. Die R14.4 miljard inkomste wat deur die veiling ingesamel is, sal na die nasionale fiskus toe gaan om ons nasionale prioriteite te ondersteun, waaronder die herbou van die ekonomie, die skep van werke wat ernstig benodig word en die stryd teen korrupsie, misdaad en geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord. Die beskikbaarheid van bykomende hoë aanvraag spektrum sal die bekendstelling van nuwe tegnologieë soos 5G versnel, die koste van sellulêre data verminder en beter internetverbinding verseker. Die lisensiëring van die nuwe spektrum gaan gepaard met ooreengekome maatskaplike verpligtinge om tydens die volgende drie jaar staatskole, gesondheidsfasiliteite en polisiestasies te verbind. 

6. Menseregtedag

6.1. Die Kabinet het alle Suid-Afrikaners bedank omdat hulle op 21 Maart 2022 deel was van die land se Menseregtedagvieringe, met die tema “Die jaar van nasionale eenheid en hernuwing: bevordering en beskerming van ons menseregte”.
6.2. Die bevordering van menseregte in ons land is ʼn katalisator vir nasiebou, ʼn proses wat ons steeds te alle tye moet koester en verdedig. Ons kan deur ons diversiteit ons eenheid versterk en ʼn samehangende samelewing bou. 
6.3. Die Kabinet het, namate ons na Vryheidsmaand in April beweeg en in die voortdurende gees van samewerking, ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om ons stryd teen rassisme, rassediskriminasie, vreemdelingvrees en alle verwante onverdraagsaamhede in hulle invloedsgebied, te hernu. 

7. Aanstelling van die Hoofregter van Suid-Afrika

7.1. Die Kabinet het kennis geneem van die voormalige Adjunk-Hoofregter, Raymond Zondo, se aanstelling as die nuwe Hoofregter van Suid-Afrika, vanaf 1 April 2022 en het hom geluk en sterkte toegewens met sy nuwe verantwoordelikhede. 
7.2. Die Kabinet het ook kennis geneem van President Cyril Ramaphosa se voorneme om Regter Mandisa Maya, die President van die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika, vir die posisie van Adjunk-Hoofregter te nomineer, wanneer die pos vakant word.

8. Tussentydse bevel toegestaan oor humanitêre hulp aan die Republiek van Kuba.

8.1. Die Kabinet het kennis geneem van die tussentydse bevel wat in die Pretoria Hoë Hof toegestaan is en die inwerkingstelling van die humanitêre hulp wat Suid-Afrika aan die Republiek van Kuba sou verleen het, onderbreek. Die saak sal weereens oor 20 dae in die hof voorkom en die regering sal dan sy argument voorlê. 
8.2. Suid-Afrika se vriendskapsband met Kuba is diep gewortel in ons streek se stryd om bevryding. Dit sou baie langer geneem het om dié streek van koloniale onderdrukking te bevry, as dit nie vir die selflose ingryping van die Kubane in Suider-Afrika oor drie dekades was nie. Voormalige President Nelson Mandela het dit begryp en dit is waarom Kuba die eerste land buite die kontinent was wat Madiba besoek het toe hy in 1990 uit die tronk gelaat is. 
8.3. Kuba het monumentale opofferings gemaak om langs Afrika-bevrydingsbewegings te baklei op ʼn stadium toe die klein eilandnasie gebuk gegaan het onder die Verenigde State se ekonomiese verbod vir ʼn dekade en ʼn half. Kuba se ekonomiese krisis het onuithoudbaar geword en die Kubaanse regering benodig hulp. Meksiko, Bolivia en Rusland is van die lande wat humanitêre hulp verskaf het om die eiland se ergste ekonomiese krisis in dekades te verlig. 
8.4. Die Kabinet het dié week by die herdenking van die Slag van Cuito Cuanavale in Angola aangesluit, wat van 1987 tot 1988 plaasgevind het. Kuba het ʼn kritieke rol gespeel deur hulp aan Afrika-bevrydingsbewegings te bied om hulle doelwitte te verwesenlik. Daar was geen materiële voordeel vir die Kubane wat ons ondersteun het nie, maar hulle oorheersende aansporing was om te veg om Suider-Afrika van koloniale en reagerende magte te bevry. Destydse President Fidel Castro was aangedryf deur revolusionêre geesdrif en hy het aan sy kamerade gesê dat hulle vir “die mooiste beweegrede van die mensdom” veg. Kuba het, van Angola tot Namibië en Algerië tot Guinee-Bissau, ʼn beslissende rol gespeel in die bydrae tot die bevryding van dié Afrikalande vanuit koloniale besetting. 
8.5. Kuba het steeds aanhoudend mediese en ander hulp aan Suid-Afrika gebied in die tydperk na 1994 en mees onlangs tydens die KOVID-19-pandemie en ons het ʼn morele verpligting om solidariteit te toon met die mense in Kuba op ʼn tyd wanneer hulle sukkel om te oorleef.

9. Besoek deur Sy Majesteit Koning Letsie III 

9.1. Die Kabinet het kennis geneem van die beleefdheidsbesoek van Sy Majesteit Koning Letsie III van Lesotho aan President Ramaphosa wat op Vrydag, 18 Maart 2022 in Pretoria plaasgevind het en dit verwelkom.
9.2. President Ramaphosa, in sy hoedanigheid as die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapsfasiliteerder (SADC-fasiliteerder) vir die Koninkryk van Lesotho, het gedagtes oor bilaterale betrekkinge en vordering aangaande die SADC-fasiliteringsproses in die Koninkryk van Lesotho, met Sy Majesteit Koning Letsie III gewissel. Daar word beoog dat Basotho, deur die fasilitering van President Ramaphosa, in alle erns sal werk om die hervormingsproses te voltooi voordat die volgende algemene verkiesings wat vir September 2022 geskeduleer is, gehou word.

B. Kabinetsbesluite

1. Multilaterale konvensie om belastingsverdragverwante maatreëls in werking te stel om basiserosie en winsverskuiwing te voorkom (BEPS MLI in Engels)
1.1. Die Kabinet het die voorlegging van die BEPS MLI aan die Parlement vir bekragtiging goedgekeur. Suid-Afrika het, as deel van die 95 lande wat deelneem aan die konvensie wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) in werking gestel is om geleenthede vir belastingvermyding en basiserosie deur multinasionale maatskappye te verminder, die belastingverdrag in Junie 2017 onderteken. Suid-Afrika sal die belastingverdrag saam met ander belastingverdrae wat met ander lande onderteken is, toepas sodra dit bekragtig is. 
1.2. Suid-Afrika is ʼn lid van die OESO en is daartoe verbind om saam met ander lande te werk om te keer dat maatskappywinste kunsmatig uit die land verskuif word na ʼn lae- of geen-belastingomgewing. 

2. Wysiging van die belastingverdragprotokol tussen Suid-Afrika en Koeweit

2.1. Die Kabinet het die voorlegging aan die Parlement van die gewysigde belastingverdragprotokol wat tussen Suid-Afrika en Koeweit geteken is, goedgekeur. Wysigings aan dié verdrag, wat in 2006 in werking gestel is, is in 2021 aangebring en onderteken. 
2.2. Die belastingprotokol handel oor die vermyding van dubbele belasting en voorkoming van fiskale ontduiking betreffende belasting op inkomste tussen die twee lande.
2.3. Sodanige verdrae poog om belastingdeursigtigheid tussen lande aan te moedig, buiten om belastingontduiking te hanteer. 

3. Geïntegreerde strategie vir die voorkoming van misdaad en geweld (ICVPS in Engels)

3.1. Die Kabinet het die ICVPS vir inwerkingstelling goedgekeur. Die strategie sal dien as ʼn implementeringsinstrument van die Witskrif oor veiligheid en sekuriteit wat in 2016 goedgekeur is. Dit beveel ʼn algehele regerings- en samelewingsbenadering aan vir die bestryding van misdaad en voorkoming van geweld.
3.2. Die ICVPS bestaan uit ses interafhanklike en onderling verwante pilare, naamlik (1) ʼn doeltreffende kriminele justisie; (2) vroeë ingrypings vir misdaadvoorkoming; (3) slagofferondersteuningsingrypings; (4) doeltreffende en geïntegreerde dienslewering, (5) veiligheid deur omgewingsontwerp en (6) aktiewe openbare en gemeenskapsdeelname. Die strategie erken die behoefte vir aanvullende ingrypings om die aandrywers van misdaad soos armoede, ongelykheid, werkloosheid, volkswelsyn en onderwys, aan te spreek.
3.3. Dit is inklusief betreffende beide stedelike en landelike gebiede, waaronder tradisionele rade as belanghebbendes.  Daar is ten volle beraadslaag met alle regeringsfere, sakelui, navorsingsinstansies en burgerlike samelewingsorganisasies. Die goedgekeurde strategie vervang die huidige nasionale misdaadvoorkomingstrategie.

4. Suid-Afrika se landbeleggingstrategie (CIS in Engels)

4.1. Die Kabinet het die publikasie van die CIS openbare kommentaar goedgekeur. Die strategie poog om die land as belangrike verkose Afrikabeleggingsbestemming te posisioneer deur kwaliteit buitelandse en binnelandse direkte belegging te beheer.
4.2. Die strategie is geanker in die land se prioriteitsbeleggings- en ekonomiese ontwikkelingsektore soos (i) finansiering, versekering, eiendom en besigheidsdienste; (ii) vervoer en logistiek; (iii) vervaardiging; (iv) mynbou en steengroefwerk; (v) elektrisiteit, gas en water; en (vi) landbou en agroverwerking.
4.3. Dit verskaf beleggingsmeganismes om klein, medium en mikro-ondernemings na die ekonomiese groeimoontlikheid te lok. Die strategie maak ook gebruik van ʼn aantal multilaterale, streeks- en bilaterale ooreenkomste wat Suid-Afrika onderteken het. 
4.4. Die strategie is in lyn gebring met die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan, EHHP, hervoorgestelde bedryfstrategie en die Nasionale Infrastruktuurplan 2050 wat onlangs goedgekeur is. 
4.5. Die nege provinsies en hulle agt onderskeie belangrike metropolitaanse ekonomieë is kernbelangrik vir die aandryf van die strategie, wat ʼn lewende dokument sal wees wat deurentyd aanpasbaar tot die veranderende ekonomiese omgewing sal wees.
 
5. Hersiene nasionale biodiversiteitsraamwerk (NBR)

5.1. Die Kabinet het die NBR vir inwerkingstelling goedgekeur. Die NBR wat die Kabinet in November 2022 vir openbare beraadslaging goedgekeur het, is in ooreenstemming met die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, 2004 (Wetnr. 10 van 2004) ontwikkel. . Dit maak voorsiening vir ʼn geïntegreerde, gekoördineerde en eenvormige benadering tot biodiversiteitsbestuur deur alle staatsorgane, nieregeringsorganisasies (NRO’s), die privaat sektor en gemeenskappe.
5.2. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut het in 2018 ʼn omvattende wetenskaplike assessering van die stand van biodiversiteit en ekostelsel in Suid-Afrika gedoen. Die hersiene NBR se sektorale plan van aksie spreek die bedreigings wat in dié assessering bepaal is, aan.  
5.3. Daar is met alle regeringsfere, staatsbesitte entiteite (SBE’s), omgewingsbewaardersentiteite en plaaslike gemeenskappe beraadslaag. Die inwerkingstelling van die NBR word gelei deur die goedgekeurde nasionale strategie en aksieplan vir biodiversiteit (2015-2025). Suid-Afrika is ʼn ondertekenaar van die Verenigde Nasie se konvensie oor biologiese diversiteit wat die bewaring van biologiese diversiteit, volhoubare gebruik van sy komponente en die regverdige en gelyke verdeling van voordele wat uit genetiese hulpbronne spruit, bevorder. Konsep nasionale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (NROR)
5.4. Die Kabinet het die konsep-NROR vir inwerkingstelling goedgekeur. Dit is ingevolge die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur, 2013 (Wetnr. 16 van 2013) voorberei en in 2019 vir openbare beraadslaging, goedgekeur. Insae is verkry vanaf verskeie belanghebbendes, waaronder professionele liggame, alle regeringsfere, SBE's en lede van die publiek.
5.5. Die raamwerk poog om die uitwissing van die koloniale en apartheid ruimtelike nalatenskap op ordelike en gekoördineerde wyse te hanteer. Dit verskaf ʼn ruimtelik gefokusde ontwikkelingsbenadering oor die langtermyn vir die beplanning en ʼn grondgebruikbestuurstelsel. Die dokument sal deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, se webwerf toeganklik wees (www.dalrrd.gov.za).

6. Amptelike identiteitsbestuursbeleid

6.1. Die Kabinet het na ʼn uitgebreide openbare beraadslaging in 2021, die amptelike identiteitsbestuursbeleid goedgekeur. Dié beleid sal die huidige Identifikasiewet, 1997 (Wetnr. 68 van 1997) vervang, wat die nasionale bevolkingsregister (NB) daarstel en ook sy bestek in die verpligte rekords wat daarop aangeteken word, spesifiseer. Dié Wet is nie in ooreenstemming met die grondwetlike beginsels van gelykheid, nie-diskriminasie en menswaardigheid nie.
6.2. Die goedgekeurde beleid stel ʼn enkele digitale NB vir alle mense voor — ongeag burgerskap en geslagstatus — wat in die land woon en gewoon het. Dit maak ook voorsiening vir ʼn biometriese nasionale identiteitstelsel (NI) wat ʼn enkele beskouing van ʼn persoon in staat sal stel. Die NI sal ook in staat kan wees om met ander regerings- en privaat sektoridentiteitstelsel te koppel.  
6.3. Die beleid sal ook die beskerming van die regte van lede van die lesbiër-, homoseksuele-, biseksuele-, transgeslagtelike, interseksuele-, queer- en aseksuele gemeenskap verseker.

7. Witskrif op huwelike in Suid-Afrika

7.1. Die Kabinet het die Witskrif op huwelike in Suid-Afrika vir inwerkingstelling goedgekeur.  Die Witskrif reageer op baie hofuitsprake wat bevind het dat sommige elemente van die huidige huwelikswetgewing ongrondwetlik is. Dit het alle huwelike in ooreenstemming gebring om ingevolge die beginsels van gelykheid, nie-diskriminasie en menswaardigheid, soos vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, onderneem te word.
7.2. Die goedgekeurde Witskrif sal Suid-Afrikaners en inwoners van alle seksuele oriëntasies, godsdienstige- en kulturele oortuigings toelaat om wettige huwelike, in ooreenstemming met grondwetlike beginsels, te onderneem. Die Witskrif stipuleer sommige van die huwelike wat uitgesluit word, soos kinderhuwelike en huwelike wat in die afwesigheid van die ander party, onderneem word.

8. Eenstop-grensposbeleid (ESG-beleid)

8.1. Die Kabinet het die ESG en sy implementeringstrategie goedgekeur. Die beleid poog om die beweging van mense en goedere tussen Suid-Afrika se landinklaringshawens en naburige lande, te versoen. Dit gee uitvoering aan die eenstop-grensposraamwerk wat in 2018 deur die Kabinet goedgekeur is.
8.2. Die toepassing van die beleid sal die huidige opeenhoping by ons landinklaringshawens vir oorgrensreisigers en -handelaars verlig. Dié ingrypings is ook belangrik vir die land se pogings om die AKV-ooreenkoms aan te dryf.
8.3. Ons voorsien dat die verwerking van goedere, voertuie en mense op ʼn meer naatlose en vinnige wyse gedoen sal word wanneer dit ten volle in werking is met die toepaslike wetgewing en infrastruktuurbywerkings.

9. Tussentydse aanbieding van die presidensiële klimaatskommissie

9.1. Die Kabinet het die oorgangsaanbieding van die presidensiële klimaatskommissie deur die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac), goedgekeur. Nedlac sal vir twee jaar of minder die kommissie saam met sy sekretariaat aanbied om die promulgasie van die Wet op Klimaatsverandering, in staat te stel.
9.2. Die tydperk sal ook aan die kommissie die geleentheid bied om— in medewerking met die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing — die uitvoerbaarheidstudie en besigheidsaak vir die toekomstige stigting van die kommissie, soos deur die Wetsontwerp op Klimaatsverandering, te finaliseer.

10. Konsepwitskrif op nasionale spoorwegbeleid

10.1. Die Kabinet het die Konsepwitskrif op nasionale spoorwegbeleid goedgekeur. Die beleid sal leiding bied om ʼn doeltreffende vervoerstelsel te skep wat in staat sal wees om plaaslik en internasionaal mee te ding.
10.2. Die beleid stel gefokusde ingrypings voor wat beleggings in beide die vrag- en passasiersdienste, sal bevorder. Dit sal ook landelike toegang verbeter en beweeglikheid verhoog om ekonomiese groei te bevorder. Dit sal ook wesenlik bydra tot die vermindering van die land se uitlatings aangesien dit spoorweg-genetiese tegnologieë vir die opgradering van spoorwegvoorraad voorstel.
10.3.  Die beleid sal geopenbaar word sodra die Departement van Vervoer dit in die Staatskoerant gepubliseer het.

C. Wetsontwerp

1. Wetsontwerp op die Munisipale Afbakeningsowerheid (IMDA in Engels) van 2022 
1.1. Die Kabinet het die voorlegging van IMDA-wetsontwerp vir verdere verwerking van 2022 aan die Parlement, goedgekeur. Die Wetsontwerp is in Junie 2020 vir openbare kommentaar en gevolglike deelname oor die kommentaar wat vanaf die publiek ontvang is, gepubliseer.
1.2. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die bestuursregime van die IMDA. Die voorstelle behels verduideliking van die terme van die raadslede en dat hulle op tydelike basis moet dien, behalwe vir die voorsitter wat op voltydse basis mag dien. Dit lei ook die IMDA oor die proses van die afbakening van grense.

D. Komende Gebeurtenisse

1. Besoek aan die Midde-Ooste 
1.1. President Ramaphosa sal op Maandag, 28 Maart, 2022 die afvaardiging van ministers na die Wêreld Ekspo Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate lei. Suid-Afrika neem deel aan die ekspo met ʼn pawiljoen wat die land se ryk erfenis en beleggingsgeleenthede ten toon stel. 

E. Boodskappe

1. Gelukwense

Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan die: 

  • Suid-Afrikaanse vroue krieketspan omdat hulle die nasionale vlag hoog gehys het by die Krieketwêreldbeker vir vroue in Nieu Seeland. Hulle het die huidige wêreldkampioene, Engeland, in hulle derde wedstryd geklop en het tot dusver vier wedstryde in die toernooi gewen. 

2.    Medelye 

  • Die Kabinet het by President Ramaphosa aangesluit en medelye aan die regering en mense van die Republiek van Zambië betoon na die afsterwe van hulle voormalige President, Rupiah Bwezani Banda (85).

Die Kabinet het sy medelye betuig aan die familie en vriende van: 

  • Meneer Michael Spicer (68), die voormalige Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Sakeleierskap Suid-Afrika, wat ʼn beduidende rol gespeel het om sterker verhoudings tussen sakelui en die regering te smee.
  • Meneer Luzuko Koti (47), die voormalige direkteur van kommunikasie en bemarking by die Nelson Mandela Stigting en Sakebestuurder van Channel Africa.
  • Meneer Sjeik Abdul Gamiet Gabier (86), Lewenspresident by die Moslem-geregtelike raad van Suid-Afrika, wat ʼn befaamde vakkundige, gemeenskapsaktivis en pionier van die Al-Azhar-instituut van Kaapstad was.

F.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.    Nie-uitvoerende raadslede van die Nasionale behuisingsbefondsingskorporasie: 

(a) Mnr. Luthando Vutula; 
(b) Mnr. Thembinkosi Bonakele;
(c) Me. Seithati Bolimpobo;
(d) Me. Thembisile Chiliza;
(e) Me. Palesa Kadi; 
(f) Me. Philisiwe Mthethwa;
(g) Mnr. Thulani Mabaso;
(h) Mnr. Paul Heeger;
(i) Mnr. Velile Cecil Dube;
(j) Me. Tshepiso Kobile; en 
(k) Me. Ayesha Seedat.

2. Mnr. Lwazi Mboyi as HUB van die Oorgrenspadvervoeragentskap.
3. Me. Nozipho Mdawe as HUB van die Lugverkeer- en navigasiedienste.
4. Me. Tshepo Kgare as HUB van die Spoorwegveiligheidsreguleerder. 
5. Mnr. Brenton van Vrede as Uitvoerende Bestuurder: Toelaaghandelingsbestuur by die Suid-Afrikaanse Agentskap Vir Maatskaplike Sekerheid.

Navrae:
Phumla Williams - Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore