Verklaring oor die virtuele Kabinetsvergadering van Donderdag, 7 Julie 2022

A.    Kwessies in die omgewing
1.    Jongste nuus oor die Koronavirussiekte (KOVID-19)


1.1.    Die Kabinet het hul waardering uitgespreek vir al die mense in Suid-Afrika wat die keuse gemaak het om ingeënt te word en alle KOVID-19-maatreëls gevolg het wat daartoe gelei het dat die land ʼn styging in nuwe gevalle tydens die vyfde vlaag van die pandemie kon verhoed.  
1.2.    Ons moet egter nie oorgerus raak nie, aangesien KOVID-19 steeds in ons midde is. Alhoewel die land onlangs die verpligte dra van maskers in die openbaar afgeskaf het, word mense met komorbiditeite en siek mense aangemoedig om steeds maskers te dra. Ons moet ook steeds ons hande was en ontsmet, sosiale afstand handhaaf en voldoende lugvloei toepas. 
1.3.    Inenting bly die beste verdediging teen KOVID-19, soos wetenskaplik bewys, en die Kabinet moedig alle mense wat nog nie ingeënt is nie, aan om sonder versuim ingeënt te word en mense wat ingeënt is om hul gratis versterkersdosis by hul naaste inentingspunt te kry. 

2.    Aappokke
2.1.    Die Kabinet neem kennis van die jongste verwikkelinge in die verspreiding van aappokke in die land, na aanleiding van die onlangse bevestiging van ʼn tweede geval in die land. Die betrokke persoon isoleer tans tuis en kontaknasporing is onderweg om ander mense wat moontlik aan die siekte blootgestel is, op te spoor. 
2.2.    Die departement van gesondheid en die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NICD) werk in oorleg met die Wêreldgesondheidsorganisasie om die risiko vir plaaslike oordrag van die siekte, in ooreenstemming met internasionale gesondheidsregulasies, te meet. 
2.3.    Die aappokkevirus is nie maklik oordraagbaar nie en word gewoonlik slegs aangesteek  deur nabye kontak, soos soen, drukkies gee of om aan dele van die liggaam wat aappokke-sere het, te raak. Mense sonder aappokkesimptome kan nie die virus aan ander mense oordra nie. 
2.4.    Die Kabinet raai mense met simptome soos koors en algemene tekens van griep wat gevolg word deur ʼn blasie-agtige uitslag aan om by hul naaste gesondheidsorgfasiliteit aan te meld vir vroeë diagnose en behandeling. 

3.    Taverne-tragedie in Oos-Londen
3.1.    Die verwoestende tragedie wat op Sondag, 26 Junie 2022  by die Enyobeni-taverne in Oos-Londen in die Oos-Kaap afgespeel het en die lewens van 21 tieners geëis het, het ons hele land geruk. Dit is moeilik om die sielesmart van gesinne wat hul kinders op so ʼn tragiese manier verloor het, in te dink. 
3.2.    Die Kabinet spreek sy medelye uit teenoor die gesinne wat hul geliefdes verloor het en bedank almal vir hul humanitêre ondersteuning aan die gesinne in dié moeilike tyd van rou. 
3.3.    Dit is kommerwekkend dat kinders so jonk soos 13 in die taverne toegelaat is en toegelaat is om alkohol te gebruik. Ons doen ʼn beroep op alle gemeenskappe om hul deel te bring om ons kinders te alle tye veilig te hou. 
3.4.    Kinders onder die ouderdom van 18 mag nie in tavernes, sjebiens, kroeë en drankwinkels toegelaat word nie. Drankhandelaars wat betrap word waar hulle enige van dié wette oortree, moet krimineel aangekla word en hul handelslisensies moet opgehef word. 

4.    Uitkomste van die Groep van Sewe (G7) se leierspitsberaad
4.1.    President Cyril Ramaphosa het aan die G7-leiersspitsberaad deelgeneem wat op Maandag, 27 Junie 2022 in Bavaria, Duitsland plaasgevind het. Die president — wat aan werksessies deelgeneem het waar die klimaat, energie, gesondheid, globale voedselsekerheid en geslagsgelykheid bespreek is — is deur die gasheer, kanselier Olaf Scholz, na die spitsberaad genooi. 
4.2.    Die G7 is ʼn politieke interregeringsforum wat bestaan uit Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika.

B.    Kabinetsbesluite
1.    Konsepkode vir die regsbedryf (konsep-regskode)

1.1.    Die Kabinet het die publikasie van die konsepregskode vir openbare kommentaar goedgekeur. Die oogmerke van dié kodes het ten doel om die transformasie van die regsbedryf te fasiliteer om voldoende verteenwoordiging, soos per die land se demografie, te bereik. Die kode sal ook die ontwikkeling van ʼn bedryfsliggaam wat deeglik-opgeleide en bekwame verskaffers van regsdienste sal voortbring, verseker.
1.2.    Die konsepregskode is onder toesig van die Regspraktykraad opgestel. Die Regspraktykraad is ʼn statutêre liggaam wat gestig is ingevolge artikel 4 van die Wet op Regspraktyk, 2014 (Wetnr. 28 van 2014) en gelei word deur die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BSEB), 2013 (Wetnr. 46 van 2013).
1.3.    Die BSEB-wet van 2013 maak voorsiening vir die minister van handel, nywerheid en mededinging om kodes van goeie praktyk met betrekking tot swart ekonomiese bemagtiging in die spesifieke sektore uit te reik. Die land se regslui het tans geen bedryfskode wat leiding bied ten opsigte van die aanspreek van die wanbalanse en ongelykhede in die regsbedryf nie.
1.4.    Die konsepregskode sal vir 60 dae in die Staatskoerant gepubliseer word om geleentheid vir openbare kommentaar te bied. 

2.    Halfjaarlikse prestasievorderingsverslae 
2.1.    Die Kabinet het die halfjaarlikse prestasievorderingsverslae vir die tydperk Oktober 2021 tot Maart 2022 goedgekeur. Dié verslae vorm deel van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSF) 2019–2024. Die MTSF 2019–2024 is die implementeringsplan en kontroleringsraamwerk van die sesde regeringsadministrasie om die prioriteite van die Nasionale Ontwikkelingsplan: Visie 2030 te bereik.
2.2.    Die verslae fokus op die sewe prioriteite van die regering, naamlik (1) ekonomiese transformasie en werkskepping; (2) onderwys, vaardighede en gesondheid; (3) konsolidering van die maatskaplike loon deur middel van betroubare en basiese dienste van gehalte; (4) ruimtelike integrasie, menslike nedersettings en plaaslike regering; (5) maatskaplike samehorigheid en veilige gemeenskappe; (6) die ontwikkel van ’n bekwame, etiese en ontwikkelingstaat; en (7) ’n beter Afrika en wêreld, asook verdere verwante ingrypings deur die sesde administrasie.
2.3.    Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak is rakende die doelwitte vir die oorsigtydperk. Die Kabinet neem ook kennis van gebiede wat ingrypings geverg het om oponthoude aan te spreek wat negatief deur die KOVID-19-pandemie beïnvloed is. 
2.4.    Ministers sal in die komende weke persverklarings hou om hul onderskeie verslae te deel en uit te brei oor gebiede waar prestasie moet verbeter.

C.    Komende gebeurtenisse
1.    Konferensie vir swart nyweraars en uitvoerders (BIEC)
1.1.    Die eerste BIEC sal op Woensdag, 20 Julie 2022 by die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg plaasvind.  
1.2.    Die konferensie vind plaas na aanleiding van die loods van die swart nyweraarsuitvoernetwerk deur die regering vroeër vanjaar. Dié inisiatief bied steun aan swart nyweraars om nuwe marke te betree en toegang tot uitvoerfinansiering en bemarkingskanale te verkry. 

D.    Boodskappe
1.    Gelukwense

Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan: 

  • die Springbokke, met hul naelbytoorwinning in die doodsnikke van hul eerste van drie wedstryde teen Wallis op Saterdag, 2 Julie te Loftus Versfeld in Pretoria. Dit was die eerste van drie toetswedstryde teen Wallis.
  • Banyana Banyana, met hul oorwinning van 2-1 teen Nigerië op Maandag, 4 Julie 2022 in die openingswedstryd van die Afrika-Nasiebeker se vrouekampioenskap, wat tans in Marokko plaasvind.
     

E.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.
1.    Dr. Nyameko Barney Pityana as die voorsitter van die nasionale loterykommissie.
2.    Adv. Rory Voller as die Kommissaris van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom.

Navrae:
Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore