Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag 21 Oktober 2020

A. Kwessies in die Omgewing

1. Ekonomie

1.1. Die Ekonomiese Herkonstruksie- en Herstelplan wat President Cyril Ramaphosa op Donderdag 15 Oktober 2020 aan ʼn Gesamentlike Hibriede sitting van die Parlement voorgelê het, vereis van alle sektore om hulle moue op te rol en saam te werk om ons ekonomie te stabiliseer.
1.2. Die plan bou voort op die gemeenskaplike terrein wat oor die afgelope paar maande deur maatskaplike vennote — die regering, arbeid, die sakesektor en gemeenskapsorganisasies —, deur intensiewe en gedetailleerde raadpleging, gevestig is.
1.3. Daar is vier prioriteitsgebiede wat dié ekonomiese herstelplan steun, waarvan die eerste die uitgebreide bekendstelling van infrastruktuur is. Die tweede prioriteitsgebied is om die energie-opwekkingskapasiteit uit te brei, met die regering wat die inwerkingstelling van die Geïntegreerde Hulpbronplan, bespoedig. Die derde sleutelgebied is indiensnamestimulus om werk te skep en lewensbestaan te ondersteun. Die vierde gebied fokus op nywerheidsontwikkeling, waar die regering ontwikkeling in plaaslike vervaardiging sal bevorder en Suid-Afrikaanse uitvoere meer mededingend sal maak.
1.4. Die vasgestelde prioriteitsgebiede sal daartoe bydra om ná die verwoesting wat deur die Koronaviruspandemie (COVID-19) veroorsaak is, vertroue op te bou en Suid-Afrika op ʼn nuwe weg na belegging en ekonomiese ontwikkeling te plaas.
1.5. Die Kabinet keur die vestiging van die Nasionale Ekonomiese Herstelraad goed, wat sal verseker dat die inwerkstelling van die plan gereeld gemonitor word. Die President sal as voorsitter van die raad dien, wat uit die Adjunk-President, die Minister in die Presidensie en al die ministers in die Ekonomiese Groepering bestaan. Die raad sal maandeliks vergader om toesig oor die inwerkstelling van die Ekonomiese Herkonstruksie- en Herstelplan te hou en om wisselwerking tussen die maatskaplike vennote in die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad, te bewerkstellig.

2. Nasionale Ramptoestand

2.1. Die verlenging van die Nasionale Ramptoestand tot 15 November 2020, ingevolge die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet nr. 57 van 2002) sal die regering in staat stel om die verspreiding van die virus verder te minimaliseer.
2.2. Hoewel Suid-Afrika oor die afgelope paar maande ʼn beduidende afname in die oordrag en verspreiding van COVID-19 ervaar het, is die virus steeds in ons midde.
2.3. Namate die land by die 'nuwe normaal' aanpas, naamlik om met COVID-19 en ʼn moontlike oplewing van die virus saam te leef, doen die Kabinet weereens ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om steeds by die gesondheidsprotokolle te hou deur maskers te dra, sosiale distansiëring te handhaaf en gereeld hul hande met seep en water te was of ʼn ontsmetmiddel met ’n alkoholbasis te gebruik. Dit is die enigste voorkomende maatreëls wat beskikbaar is om onsself, ons gesinne en geliefdes teen die aansteeklikheid van COVID-19 te beskerm.
2.4. Die Kabinet wens almal wat die virus opgedoen het, insluitend ons Minister van Gesondheid, Dr Zweli Mkhize en sy vrou, Dr May Mkhize, ʼn spoedige herstel toe.
2.5. Die Kabinet bedank weereens al die frontliniegesondheidswerkers vir hul betrokkenheid en toewyding wat daartoe gelei het dat die land se COVID-19-herstelkoers tot meer as 90% toegeneem het en die sterftekoers by 2,6% hou.

3. Fokus op landelike veiligheid

3.1. Die Kabinet gee sy volle steun aan die werk wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) doen om misdadigers wat grusame misdade pleeg, insluitend die slagting en verminking van boere en plaaswerkers regoor die land, in hegtenis te neem. Die landbougemeenskap is ʼn integrale deel van ons ekonomie, en misdaad op plase stel nie net die persoonlike veiligheid van boere en plaaswerkers in gevaar nie, maar ook die land se voedselsekerheid. 
3.2. Die regering bespoedig die inwerkingtreding van die hersiene Landelike Veiligheidstrategie om op die sekuriteitsbehoeftes van landelike gemeenskappe te reageer en sosio-ekonomiese ontwikkeling te ondersteun.
3.3. Die Kabinet doen ook ʼn beroep op die nasie om die SAPD in hul stryd teen misdaad by te staan deur by gemeenskapspolisiëringsforums aan te sluit en misdaad by hul naaste polisiestasie aan te meld, of die tolvrye Crime Stop-nommer by 08600 10111 te skakel, ʼn anonieme SMS aan Crime Line te stuur by 32211 of die MySAPS-toepassing — die gratis toepassing vir misdaadaanmelding wat vir slimfone beskikbaar is — te gebruik om anonieme misdaadwenke te verskaf.
3.4. Ons moet saam werk om misdaad in ons gemeenskappe met wortel en tak uit te roei en ons land vir almal veiliger te maak. 

4. Teenkorrupsie

4.1. Die Kabinet verwelkom die inhegtenisneming van persone wat na bewering by verskeie sake van korrupsie, bedrog, geldwassery en diefstal, betrokke is. Dié sake sluit onder meer sake in wat verband hou met die plundering van COVID-19 maatskaplike verligtingsfondse, die wederregtelike verkryging van COVID-19 persoonlike beskermende toerusting, die skandaal wat verband hou met die asbesbehuisingsprojek en die versuim om opgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in te dien, of om onvolledige opgawes in te dien. Die Kabinet waardeer en gee sy volle steun aan alle pogings om staatsfondse van diegene wat hierdie misdade pleeg, te verhaal.
4.2. Die onlangse inhegtenisnemings is ʼn bewys dat niemand bo die reg verhef is nie en dit demonstreer die regering se toewyding om diegene wat steeds die wet oortree deur arm Suid-Afrikaners van broodnodige regeringshulp en -bystand te ontneem, aanspreeklik te hou.
4.3. Die Kabinet doen ʼn beroep op die publiek om hulle deel te doen deur sulke misdade by wetstoepassingsagentskappe aan te meld of die Nasionale Teenkorrupsieblitslyn by 0800 701 701 te skakel.

5. Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV)

5.1. Die GGGV-plaag en die mishandeling van kinders, wat President Ramaphosa as die tweede pandemie naas COVID-19 veroordeel, bly ʼn pes vir ons gemeenskappe en ons moet ons bes doen om dit uit te roei. Die Handves van Regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 vasgelê is, stel in besonder dat elke kind die reg het om teen afknouery, verwaarlosing, mishandeling of vernedering, beskerm te word.
5.2. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om saam met ons wetstoepassingsagentskappe te werk om te verseker dat alle kwesbare groepe — veral bejaardes, vroue en kinders — teen geweld en mishandeling beskerm word.
5.3. Die onlangse geval van twee agtjarige meisies (ʼn tweeling) van Mpumalanga, wat na bewering deur hulle pa mishandel is, is uiters ontstellend en kommerwekkend. Een van die meisies het die insident by haar onderwyser aangemeld en ons loof die reaksie van die skool, wat tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het. As ’n wetsgehoorsame en vredeliewende nasie, behoort ons almal saam te staan om sulke afgryslike misdade met die grootste minagting te verwerp.

6. Mediavryheid

6.1. Die 43ste herdenking van mediavryheid, bekend as Swart Woensdag in Suid-Afrika, is op Maandag 19 Oktober 2020, herdenk. Dié dag herinner ons aan die belangrikheid van vryheid van uitdrukking in ons Handves van Regte, wat mediavryheid as ʼn belangrike deel van ons grondwetlike demokrasie insluit.
6.2. Mediavryheiddag herdenk die dag van die verbanning van ʼn aantal koerante en inhegtenisneming van hulle onderskeie redakteurs op 19 Oktober 1977 deur die apartheidspolisie omdat hulle gruweldade wat deur die onderdrukkende regime gepleeg is, ontbloot het. Die media speel steeds ʼn belangrike rol in vermaaklikheid, onderrig en om die samelewing in te lig, asook om alle fasette van ons sosio-ekonomiese en politieke lewens, uit te lig.
6.2. Die media bly ʼn kernbelangrike vennoot om ons demokrasie te versterk en ons burgers se grondwetlike regte te bevorder. Die vryheid om hulle pligte uit te voer, gaan gepaard met die verantwoordelikheid om te verseker dat hulle te alle tye regverdig en objektief verslag lewer.
6.3. Die Kabinet bring hulde aan alle joernaliste wat tydens die moeilike tye van COVID-19 hul lewens verloor het, en neem dit op hom om vryheid van uitdrukking, met mediavryheid in ons land, te respekteer en te handhaaf.

7. Jaareind-eksamens

7.1. Die Kabinet wens die 1 058 699 miljoen (een miljoen agt-en-vyftigduisend, seshonderd-nege-en-negentig) Graad 12-leerders sterkte toe  met die voorbereiding vir hul finale eksamens wat op 5 November 2020 begin en op 15 Desember 2020 eindig. Die Departement van Basiese Onderwys het vanjaar die hoogste aantal Graad 12 leerders wat hulle finale eksamens gaan skryf, aangeteken.
7.2. Na onderbrekings van die akademiese jaar weens COVID-19, doen die Kabinet ʼn beroep op alle ouers en voogde om hulle kinders tydens dié belangrike tyd te ondersteun. Die Kabinet doen ’n beroep op die matriekklas van 2020 om die hulpbronne wat deur die regering se Woza Matrics 2020 Opvangveldtog (wozamatrics.co.za en #Wozamatrics) beskikbaar gestel is ter voorbereiding vir die Nasionale Senior Sertifikaateksamens, te benut.

B. Kabinetsbesluite

1. Steun aan die binnelandse ferrochroomnywerheid

1.1. Die Kabinet keur verskeie ingrypings om binnelandse ferrochroomvervaardiging en sy chroomwaardekettingsektor, te ondersteun goed. Die ingrypings sluit die voorgestelde bekendstelling van uitvoerbelasting op chroomerts in, sowel as die gebruik van energiedoeltreffendheidstegnologieë op smelters en die aanneming van die mede-opwekkings- en selfopwekkingstegnologieë.
1.2. Die plaaslike ferrochroomsektor is die grootste globale vervaardiger van ferrochroom en is die enigste vlekvrye staalvervaardiger. Dit is die grootste verskaffer van vlekvrye staal aan die motorbedryf. Die voorgestelde ingrypings is deur ʼn taakspan bestaande uit die departemente van Minerale Hulpbronne en Energie; Handel, Nywerheid en Mededinging; Staatsondernemings en die Nasionale Tesourie, geskep.

2. Nasionale Jeugbeleid (NJB): 2020-2030

2.1. Die Kabinet keur die derde hersiene NJB 2020-2030 goed. Dit is ʼn kruissektorale beleid wat deur verteenwoordigende regeringsdepartemente, burgerlike samelewingsvennote, instansies van hoër onderrig en sakeliggame ontwikkel is. Dit vervang die NJP 2015-2020, wat einde Desember 2020, verval. 
2.2. Die beleid stel vyf belangrike prioriteite voor: (1) gehalte onderrig, vaardighede en tweede kanse; (2) ekonomiese transformasie, entrepreneurskap en werkskepping; (3) bevordering van fisiese en geestelike gesondheid, insluitend COVID-19; (4) maatskaplike samehorigheid en nasiebou; en (5) doeltreffende en responsiewe jeugontwikkelingsmasjinerie.

3. Nasionale Plan van Aksie vir Kinders (NPAK): 2019 tot 2024

3.1. Die Kabinet keur die 4de NPAK goed. Dit gee uitvoering aan die land se verpligtinge tot die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie oor die Regte van die Kind en die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind.
3.2. Die vyfjaarplan sit die strategiese prioriteit en die inwerkingtredingsmeganismes ter beskerming en aanwending van kinders se regte, uiteen. Die plan is in ooreenstemming met die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk wat die regering se stappe en teikens wat tydens ʼn verkiesingstermyn bereik moet word, uiteensit. Dit sal in samewerking met burgerlike samelewingsorganisasies in werking gestel word.
3.3. Die NPAK sal ook as raamwerk dien om die land se vorderingsverslae aan beide die Afrika Komitee van Deskundiges oor die Regte en Welsyn van die Kind en die VN-komitee oor die Regte van die Kind, te voorsien.

4. Evaluasie oor die inwerkingstelling van die Wet op Bejaarde Persone van 2006

4.1. Die Kabinet keur ʼn evalueringsverslag wat oor die inwerkingtreding van die Wet op Bejaarde Persone, 2006, (Wetnr. 13 van 2006) aangevra is, goed. Die betrokke departmente is sedertdien ingelig oor die voorgestelde aanbevelings rakende die verbetering van nakoming tot die voorskrifte van die Wet op Bejaarde Persone van 2006.
4.2. Toegang tot die verslag kan deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering se webwerf (www.dpme.gov.za) verkry word.

5. Wêreldhandelsorganisasie (WHO) Direkteur-Generaal (DG)

5.1. Die Kabinet ondersteun die kandidaatskap van Dr Ngozi Okonjo-Iweala as DG van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO). Sy het voorheen as Minister van Finansies van Nigerië en as Besturende Direkteur van die Wêreldbank gedien. Die kandidaatskap word ook deur Afrika se ministers van Handel, met Minister Ebrahim Patel as voorsitter, ondersteun.

Die Kabinet wens Dr Okonjo-Iweala sukses toe en sien uit na ʼn WHO wat ontwikkeling aan die kern van die sy agenda plaas en tot ekonomiese herstel ná COVID-19 sal bydra. As sy die volgende verwerkingsrondte deur die WHO slaag, sal sy die eerste Afrikaan en eerste vrou wees om tot die pos van WHO-DG verkies te word.

C. Boodskappe

1. Gelukwense

1.1. Die Kabinet wens die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, geluk met haar aanstelling as die Voorsitter van die Vennootskap in Bevolking en Ontwikkeling (PPD), van 2021 tot 2023. Die PPD is ʼn alliansie van 27 ontwikkelende lande wat saam werk om suid-suid-samewerking ten opsigte van bevolking en ontwikkeling, voortplantingsgesondheid en geslagsgelykheid, te bevorder. Suid-Afrika neem oor by vorige voorsitters, Sjina en Indië,

2. Medelye

Die Kabinet betuig sy medelye met die:

2.1. familie en vriende van Dr Vuyokazi Mahlati, wat die Voorsitter van die Presidensiële Raadgewende Paneel oor Grondhervorming en Landbou was. Sy was ook besig met haar tweede termyn op die Nasionale Beplanningskommissie.
2.2. familie en vriende van die voormalige Grondeisekommissaris in die Wes-Kaap, Me Beverley Jansen, wat ʼn fakkeldraer in ons stryd teen apartheid was en ʼn belangrike rol gespeel het in die sukses van grondeise deur gemeenskappe regoor die land.
2.3. familie, vriende en kollegas van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se Adjunk-Voorsitter, Ambassadeur Devikarani Priscilla Jana. Sy was ʼn uitsonderlike en vreeslose menseregteprokureur, wat haar praktyk aan die stryd teen die apartheidsregime gewy het. President Ramaphosa het ʼn Spesiale Provinsiale Beamptebegrafnis: Kategorie Twee, aan haar vergun.
2.4. familie, vriende en mediakollegas van Mnr Dumisane Lubisi, wat die uitvoerende direkteur van die City Press-koerant was. Hy het met oorgawe verseker dat die meerderheid van stemme uitdrukking in ons land kon vind.
2.5. familie, vriende en kollegas van Parlementslid (LP), Me Dorah Dunana Dlamini, wat ná die 2019-verkiesing ʼn lid van die sesde Parlement geword het. Sy was tussen 2014 en 2019 ʼn lid van KwaZulu-Natal se Provinsiale Wetgewer voordat sy in die Nasionale Raad gedien het.
2.6. familie, vriende en kollegas van Mnr Zamuxolo Joseph Peter, wat ʼn lid van die sesde Parlement geword het nadat hy in verskeie hoedanighede gedien het, insluitend as Uitvoerende Burgermeester van die Makana Plaaslike Munisipaliteit in die Oos-Kaap.
2.7. familie, vriende en kollegas van LP, Adv Hishaam Mohamed, wat ná die 2019-verkiesings ʼn lid van die sesde Parlement geword het, na ʼn lang en voortreflike loopbaan as provinsiale hoof van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling in die Wes-Kaap.
2.8. familie, vriende en kollegas van LP, Me Thandi Gloria Mpambo-Sibhukwana, wat ʼn lid van die sesde Parlement in die Nasionale Raad geword het nadat sy tydens die vyfde Parlement as permanente afgevaardigde van die Wes-Kaap in die Nasionale Raad van Provinsies, gedien het.

Sy was jare lank ’n onderwyser voordat sy ʼn LP geword het.

3. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasie en die toepaslike klaring.

1. Raad van die Staatsdiamanthandelaar:

a. Me Monica M Ledingwane (Voorsitter);
b. Me Faith T Mokwena;
c. Mnr Levy G Rapoo; en
d. Me Mpho Mosing.

2. Raad van die Suid-Afrikaanse Diamant- en Edelmetalereguleerder:

a. Mnr Morake Abiel Mngomezulu (Voorsitter);
b. Mnr Yershen Pillay;
c. Me Kanyisa Macingwane;
d. Me Mpho Mosing;
e. Mev Phydelis Zikalala-Mvelase;
f. Mnr Warren Wayne Adams; en
g. Mnr Ernest Blom.

3. Nie-uitvoerende lede van die Beheerraad van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika:

a. Mnr Leonard Ramatlakane (Voorsitter);
b. Adv Smanga Sethene;
c. Mnr Matodzi Mukhuba;
d. Me Boitumelo Mokgoko;
e. Mnr Dinkwanyane K Mohuba;
f. Dr Alison E Lewis;
g. Me Nosizwe Nokwe-Macamo;
h. Me Thinavhuyo N Mpye;
i. Verteenwoordiger van die Departement van Vervoer;
j. Verteenwoordiger van die Departement van Finansies; en
k. Verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging.

4. Direkteursraad vir die Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) Beperk:

a. Me Rene A Kenosi (Voorsitter);
b. Prof Khathutshelo A Nephawe;
c. Me Nona N Sonjani;
d. Mnr Lufuno Nematswerani;
e. Me Kribashni Naidoo; en
f. Mnr Luvuyo Mabombo.

5. Mnr Pieter Uys Pretorius as Adjunk-DG (ADG): Korporatiewe Dienste by die Departement van Saewerkende Regering en Tradisionele Sake.

6. Me Nonhlanhla Patience Mkhize as ADG: Omgewingsprogramme by die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye.

7. Adv Martin Mothusi Mafojane as die Hoofmeester by die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling.

8. Mnr Nakampe Joseph Mogale as ADG: Korporatiewe bestuursdienste by die Kantoor van die Hoofregter.

9. Mnr Livhuwani Tommy Makhode as DG van die Departement van Binnelandse Sake.

Navrae:
Me Phumla Williams - Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore