Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering 17 Augustus 2022

A. Kwessies in die omgewing 
1. Krag 
1.1. Die kabinet het die maatreëls wat deur die regering bekendgestel is om die land se energiekrisis te hanteer, verwelkom. Die verreikende maatreëls het die weg gebaan om beurtkrag te verminder, die elektrisiteitsektor te hervorm en langtermynenergiesekerheid te bereik.

1.2. Ons moet ons nasie se energieverbruik oor die volgende drie maande met 600 megawatt verminder om sodoende die kragnetwerk te ondersteun en ons land deur sy beperkte elektrisiteitsvoorraad, te help.

1.3 Huishoudings kan hulle deel doen om krag te bespaar deur alle beligting wat nie noodsaaklik is nie en toestelle wat baie krag verbruik, tydens spitstye af te skakel. Ondernemings word aangemoedig om meer energiedoeltreffende vervaardigingstegnologie te gebruik en deel te neem aan inisiatiewe om die elektrisiteitsaanvraag te verminder. 
 
2. Operasie Vulindlela 
2.1. Die kabinet het die vordering deur Operasie Vulindlela om knelpunte regoor die energie-, telekommunikasie, en toerismesektor op te los om nuwe lewe in die ekonomie te blaas, verwelkom. 

2.2. Nege uit 26 strukturele hervormings is bereik, met 11 hervormings wat goeie vordering toon. Sukses sluit in die verhoging van die lisensiëringsdrumpel vir verankerde opwekking, die oorskakeling van die Transnet Nasionale Hawe-Owerheid in ʼn korporasie, die vrystelling van die hersiene kritieke-vaardigheidslys en die inwerkingstelling van die e-Visastelsel in 14 lande, waaronder belangrike nuwe toeristemarkte soos China, Indië, Kenia en Nigerië. 
 
3. Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV)
3.1. Die kabinet het sy ontsteltenis uitgespreek oor die onlangse wrede verkragting van agt vroue in Krugersdorp in Gauteng. Dié afskuwelike dade en mishandeling teenoor vroue ondermyn ons maatskaplike samehorigheid. Die kabinet het ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens geloof vir hulle spoedige arrestasie van ʼn aantal verdagtes in verband met die grusame misdaad. 

3.2. Die kabinet het ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om saam met wetstoepassingsagentskappe te werk deur enige inligting te deel of verdagte aktiwiteite te rapporteer. Ons kan deur saam te werk ons gemeenskappe veiliger maak vir vroue en kinders. 

3.3. Dit is elke Suid-Afrikaner se plig om binne die omvang van die wet teen misdadigers op te tree. Rapporteer alle GGGV-verwante gevalle by die plaaslike polisiestasie of skakel die tolvrye Stop MIsdaad-nommer: 0860 01 0111, die Nasionale GGGV-bevelsentrum: 0800 428 428 of Stop Geslagsgeweldhulplyn: 0800 150 150. 

4. Vrouemaand 
4.1. Die jaarlikse Vrouemaand in Augustus bring hulde aan vroue wat aan die vryheidstryd deelgeneem het en aan alle vroue in ons samelewing. 

4.2. Dié jaar se Vrouemaand word gevier met die tema: “Vroue se Sosio-ekonomiese Regte en Bemagtiging: Bou Beter Terug vir Vroue se Verbeterde Lewenskragtigheid”. 

4.3. Die meer as 20 000 vroue wat op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou opgemars het, het daartoe bygedra om te verseker dat geslagsgelykheid en bemagtiging ʼn sleutelprioriteit in ʼn demokratiese Suid-Afrika bly. 

4.4. Hulle dapper optrede het vroue in die algemeen geïnspireer om hulle regmatige plek in die parlement, die regering en die burgerlike samelewing in te neem en ons is gedurig besig om voort te bou op dié vordering sedert ons vryheid in 1994 verkry het. 

5. Marikana-herdenking 
5.1. Die regering het op Dinsdag 16 Augustus 2022 saam met die res van die land die tragedie wat in 2012 in Marikana in Noordwes afgespeel het, onthou. Die pyn van die werkers, hulle gesinne en die nasie in die algemeen sal vir ewig in ons geskiedenis vasgelê wees. 

5.2. Die Marikana-hernuwingsprogram is in werking gestel om ʼn omgewing te herbou en te skep wat in staat is om die lewens van die Marikana-gemeenskap te verbeter. Die regering het verlede jaar R176 miljoen in vergoeding aan die slagoffers se gesinne betaal en daar word verwag dat die oorblywende sake wat steeds onder litigasie is, teen einde Augustus 2022 afgehandel sal wees. 

5.3. ʼn Aantal opgeknapte of nuut geboude huise is aan die Marikana-weduwees oorhandig en ander sal dié jaar voltooi word. ʼn Behuisingsprojek ter waarde van R700 miljoen sal aan mynwerkers behoorlike behuising verskaf. Kritieke maatskaplike infrastruktuur word verskaf om die lewensomstandighede van myngemeenskappe te verbeter. 

6. Presidensiële Imbizo vir die Distriksontwikkelingsmodel (DOM) in Gauteng 
6.1. Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit in Gauteng het op Vrydag, 12 Augustus 2022, na die sukses van die vorige drie DOM-presidensiële izimbizo’s in Noordwes, die Vrystaat en Mpumalanga onderskeidelik, die vierde imbizo aangebied. 

6.2. President Cyril Ramaphosa het met die tema “Laat niemand agter nie” die afvaardiging van senior amptenare van die nasionale, provinsiale en plaaslike regering gelei. Suid-Afrikaners in hulle onderskeie strukture en sektore is gemobiliseer om saam te werk teen stygende vlakke van armoede en behoeftigheid wat deur uitdagende ekonomiese toestande veroorsaak word. 

6.3. Die Sedibeng-distrik het vordering getoon in die bestuur van die Vaalrivier- spesiale ekonomiese sone (SES) wat potensiaal inhou vir die herindustrialisasie van die streek, die provinsie en die land. Die Vaalrivier-SES beplan om die volgende kritieke sektore te huisves: die nuwe Vaalrivier-slimstad, groen waterstofinnovasiespilpunt, hennepspilpunt, agrologistiek, aërotropool, lugvrag en die staalvervaardigingsektor waarin nuwe lewe geblaas is. 

7. Spitsberaad vir die Presidensiële Maatskaplike Sektor 
7.1. Die spitsberaad vir die presidensiële maatskaplike sektor is van 4 tot 5 Augustus 2022 in Ekurhuleni gehou met die tema: “Bevorder maatskaplike samehang om sosio-ekonomiese deelname in gemeenskappe in werking te stel” en het belanghebbendes van verskillende kiesafdelings byeengebring om saam met die regering te werk om, onder andere, sosio-ekonomiese uitdagings die hoof te bied en hulpbronne vir die burgerlike samelewing beskikbaar te stel. 

7.2. Die spitsberaad het die gesprekvoeringsverslae van die nege provinsies oor hulle uitdagings oorweeg, waaronder toegang tot befondsing, reguleringskwessies, transformasie van die maatskaplike sektor met die doel om ʼn vennootskap tussen die staat en die burgerlike samelewing te bevorder wat uitdagings rakende armoede, ongelykheid en werkloosheid die hoof gaan bied. 

7.3. Die kabinet het ʼn beroep gedoen op burgerlike samelewingsorganisasies en burgers om ʼn aktiewe rol te speel om ʼn beter toekoms soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan: Visie 2030 voorsien, te bou. 
 
B. Kabinetsbesluite 
1. Meesterplan vir Kulturele en Kreatiewe Industrieë 

1.1. Die kabinet het die meesterplan vir die kulturele en kreatiewe industrieë vir implementering goedgekeur. Die meesterplan fokus op of visuele kunste, handwerk en ontwerp, oudiovisuele en interaktiewe media, ontwerp en kreatiewe dienste, optrede en viering, waaronder musiek, publikasie en die gedrukte media. 
 
1.2. Die meesterplan sal in dié sektore ingryp om ʼn getransformeerde kreatiewe innoverende sektor te ontwikkel wat wêreldwyd erken sal word en mededingend in dié ruimte sal wees. Die plan sal daarna streef om die Suid-Afrikaanse kreatiewe industrie in staat te stel om toegang tot die plaaslike en internasionale markte te verkry. 
 
2. Bygewerkte Beleidsraamwerk vir Munisipale Lenery en Finansiële Noodgevalle 
2.1. Die kabinet het die wysigings aan die huidige beleidsraamwerk vir munisipale lenings en finansiële noodgevalle goedgekeur. Die wysigings handel hoofsaaklik oor die leningsafdeling van dié raamwerk. Een van die wysigings is die voorgestelde bekendstelling van ʼn leningstydperk oor ʼn langer termyn om by die bruikbare lewensduur van sommige van die bates wat gefinansier word, te pas. Die wysigings verduidelik ook die rol van ontwikkelingsfinansieringsinstansies in die uitleenruimte van die munisipaliteite. 

2.2. Artikel 230 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 bemagtig munisipaliteite om lenings vir hulle kapitaal- of lopende uitgawes te verkry. Die oorspronklike raamwerk is in 2000 deur die kabinet goedgekeur om leiding te gee aan Hoofstuk 6 en 13 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet, 2003 (Wetnr. 56 van 2003. Die goedgekeurde wysigings poog om meer lenings in die munisipaliteitsmarkte aan te moedig, maar om steeds die kernbeleide onderliggend aan munisipale lenings, te handhaaf. 
 
3. Voorvrystellingskalender vir die publikasie van kwartaallikse misdaadstatistiek vir die 2022/23-boekjaar 
3.1. Die kabinet het die voorgestelde voorvrystellingskalender vir die publikasie van kwartaallikse misdaadstatistiek vir die 2022/23-boekjaar goedgekeur. Die kabinet het die vrystelling van die kwartaallikse misdaadstatistiek goedgekeur. Dit was om die vorige jaarlikse vrystelling van die misdaadstatistiek vir die land te verander. 

3.2. Die voorgestelde voorvrystellingskalender-misdaadstatistiek is in Augustus 2022 vir kwartaal een en in November 2022 vir kwartaal twee. Misdaadstatistiek vir kwartaal drie en vier sal in Februarie en Mei 2023 onderskeidelik, vrygestel word. 
 
4. Nasionale Ramptoestand (NR) verval 
4.1. Die kabinet het die verstryking van die Nasionale Ramptoestand (NR) goedgekeur wat na die verwoestende vloede in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verklaar is. 

4.2. Die NR het op 18 Augustus 2022 verstryk nadat dit op 18 Julie 2022 verleng is. Die verlenging het die behoefte in ag geneem om steeds staatsorgane se bestaande gebeurlikheidsmaatreëls om die impak van erge weer in die betrokke provinsies te verlig en aan te spreek, te versterk. 

4.3. Die kabinet het ooreengekom dat die huidige omstandighede nie meer die buitengewone maatreëls regverdig nie, aangesien staatsinstellings, en dat die privaatsektor en burgerlike samelewing steeds voortdurende verligting, herwinning en heropbouing sal verseker. 
 
C. Wetsontwerpe 
1. Wysigingswetsontwerp op die Registrasie van Aktes van 2022 

1.1. Die kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op die Registrasie van Aktes van 2020 aan die parlement vir verdere verwerking goedgekeur. Die kabinet het die Wetsontwerp in Junie 2020 vir verdere openbare beraadslaging, goedgekeur. 

1.2. Die voorgestelde wysigings sal uitvoering gee aan die verwesenliking van die grondbesit wat wettiglik in Artikel 25(6) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 verseker word. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die invordering van statistieke in terme van ras, geslag, nasionaliteit en burgerskap van die houers van grondregte in Suid-Afrika. Hierdie voorskrif sal in die toekoms meer akkurate grondouditverslae en -opnames aangaande die transformasie van grondeienaarskap moontlik maak. 
 
2. Wetsontwerp op die Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuuragentskap (NWRIA) van 2022 
2.1. Die kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp op die Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuuragentskap van 2022 vir openbare kommentaar vir ʼn tydperk van negentig (90) dae, goedgekeur. Die Wetsontwerp stel die oprigting van ʼn nasionale waterhulpbroninfrastruktuuragentskap voor om verantwoordelik te wees vir die beplanning, finansiering en ontwikkeling van die land se infrastruktuur. Dit sal ook verantwoordelik wees vir die instandhouding van die huidige waterinfrastruktuur. 

2.2. Die agentskap moet ʼn volhoubare, onpartydige en betroubare watertoevoer in ooreenstemming met die grondwetlike verpligting van toegang tot water en ʼn veilige, gesonde omgewing, verseker. Die agentskap sal ingevolge Skedule 2 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wetnr. 1 van 1999) as openbare entiteit opgerig word. Die agentskap sal die funksies oorneem wat tans deur die Trans-Caledon-Tonnelowerheid uitgevoer word. 
 
3. Wysigingswetsontwerp op Munisipale Fiskale Magte en Funksies van 2022 
3.1. Die kabinet het die voorlegging aan die parlement van die Wysigingswetsontwerp op die Munisipale Fiskale Magte en Funksies van 2022 goedgekeur. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Munisipale Fiskale Magte en Funksies, 2007 (Wetnr. 12 van 2007). 

3.2. Die wysigings reguleer die magte van munisipaliteite in die heffing van ontwikkelingskoste ten opsigte van grondontwikkelingsaansoeke wat by munisipaliteite ingedien is. Dié wysigings sal verseker dat munisipaliteite hierdie kostes regverdig, deursigtig en doeltreffend toepas. Die kabinet het die Wetsontwerp in 2020 vir openbare beraadslaging, goedgekeur. 
 
4. Wysigingswetsontwerp op Finansiële Sake van 2022 
4.1. Die kabinet het die voorlegging aan die parlement van die Wysigingswetsontwerp op Finansiële Sake, 2022, goedgekeur. Die Wetsontwerp stel die wysiging van sewe wette voor, naamlik (1) Wet op die Pensioenfonds vir Geassosieerde Inrigtings, 1963 (Wetnr. 41 van 1963), (2) Wet op Militêre Pensioene, 1976 (Wetnr. 84 van 1976), (3) Regeringswerknemerspensioenwet van 1996, (4) Wet op Finansiële en Fiskale Kommissie, 1997 (Wetnr.99 van 1997), (5) Wet op die Land- en Landbou-ontwikkelingsbank, 2002 (Wetnr. 15 van 2002), (6) Wet op die Ouditberoep, 2005 (Wetnr. 26 van 2005) en die (7) Wysigingswet op die Ouditberoep, 2021 (Wetnr. 5 van 2021). 

4.2. Die voorgestelde wysigings behels, ingevolge die Wet op Militêre Pensioene van 1996, die insluiting van lewensmaats tot die voordele, terugwerkend vanaf 27 April 1994. Die wysigings tot pensioenwette sal eggenote in staat stel om hulle pensioenbelange onmiddellik met ontbinding van die huwelik te verwesenlik. 

4.3. Die wysigings sal ook, bykomend tot die verduideliking van die rol van die Minister van Finansies en oor ouditering, die magte van die toepassingskomitee waar ʼn ouditeur skuld beken, aanpas. Die Wetsontwerp is in Februarie 2022 vir openbare kommentaar gepubliseer. 
 
5. Wysigingswetsontwerp op Algemene Wette (Anti-Geldwassery en Bekamping van Terrorismefinansiering) van 2022 
5.1. Die kabinet het die voorlegging aan die parlement van die Wysigingswetsontwerp op Algemene Wette (Anti-Geldwassery en Bekamping van Terrorismefinansiering) van 2022 vir verdere verwerking goedgekeur. 

5.2. Die Wetsontwerp is ʼn omnibuswetsontwerp wat die huidige wette wysig, naamlik (i) Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum, 2001 (Wetnr. 38 van 2001); (ii) Wet op Nie-Winsgewende Organisasies, 1997 (Wetnr. 71 van 1997); (iii) Wet op die Beheer oor Trustgoed, 1988 (Wetnr. 57 van 1988); (iv) Maatskappywet, 2008 (Wetnr. 71 van 2008) en (v)  Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor, 2017 (Wetnr. 9 van 2017). 

5.3. Die wysigings reageer op die tekorte wat tydens die portuuroorsig van die land wat deur die Finansiële Aksie-Taakmag (FATF) gedoen is, geïdentifiseer is. Die wedersydse evaluasieverslag het 40 aanbevelings gemaak wat sal help om Suid-Afrika in ooreenstemming te bring met internasionale maatreëls om geldwassery en die finansiering van terrorisme, te bekamp. 

5.4. Suid-Afrika skiet tekort op 20 terreine. Hierdie wetsontwerp spreek ongeveer 14 van die vasgestelde terreine aan. Suid-Afrika is sedert 2003 ʼn lid van die Finansiële Aksie-Taakmag. 
 
6. Wysigingswetsontwerp op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary van 2022 
6.1. Die kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary van 2022 aan die parlement vir verdere verwerking goedgekeur. Die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary, 1992 (Wetnr. 140 van 1992) maak die vervaardiging en verskaffing van enige middel wat in Skedule 1 en 2 van die Wet ingesluit word, strafbaar. 

6.2. Die wysigings spreek die ongeldigheid van Artikel 63 wat as ongrondwetlik bevind is ten opsigte van die Minister wat die regte het om die skedules te verander sonder die betrokkenheid van die wetgewende proses. 

6.3. Die Grondwethof het in 2020 Artikel 63 van die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary van 1992 as ongrondwetlik verklaar en die ongeldigheid tot 17 Desember 2022 opgeskort om die parlement toe te laat om die fout reg te stel. 
 
D. Toekomstige Gebeure
1. Wêreldbekertoernooi vir Sewesrugby 2022 
1.1. Suid-Afrika sal die Sewes Rugbywêreldbeker 2022 tussen 9 en 11 September 2022 in Kaapstad aanbied. Die glansgeleentheid word vir die eerste keer in Afrika gehou en daar sal 24 mans- en 16 vrouespanne van regoor die wêreld meeding. 
 
E. Boodskappe 
1. Gelukwense 

 Die kabinet het sy gelukwense en welmenendheid uitgespreek teenoor: 

  • Banyana Banyana, omdat hulle geskiedenis gemaak het en Suid-Afrika se eerste Vroue Afrikanasiebeker (WAFCON) by die 2022-WAFCON-eindstryd wat op Saterdag, 23 Julie 2022 in Rabat, Marokko gehou is, gewen het. Hulle het terselfdertyd vir volgende jaar se FIFA Wêreldbeker vir vroue gekwalifiseer wat van 20 Julie tot 20 Augustus 2023 gesamentlik deur Australië en Nieu-Seeland aangebied sal word. 
  • Span Suid-Afrika, omdat hulle 27 medaljes in verskeie dissiplines by die 2022 Statebondspele wat van 28 Julie tot 8 Augustus 2022 in Birmingham, Engeland gehou is, verower het. Hulle het algeheel negende geëindig met sewe goue, nege silwer en 11 brons medaljes. 
  • Springbokvroue, omdat hulle Spanje geklop het in hulle eerste van twee Vroue Winterreeks-toetswedstryde by Emirates Airline Park in Johannesburg. 
  • Me. Ndavi Nokeri (23) omdat sy as die nuwe Mejuffrou Suid-Afrika vir 2022 gekroon is. 
  • Me. Ashleigh Buhai, omdat sy die 2022 AIG vroue-ope gewen het en die derde Suid-Afrikaanse vrou geword het wat ʼn major goue kampioenskap gewen het. 

2. Medelye 
 Die kabinet het sy medelye betuig met die familie en vriende van: 
● Tokollo “Magesh” Tshabalala (46), die musikant, sanger en liedjieskrywer wat bekend geword het toe hy tesame met twee van sy vriende hulle kwaito-musiekgroep, TKZee, in 1996 gestig het. 
 
3. Aanstellings
1. Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring. 

1.1. Me. Zenkosi Dumile Mhlongo as Adjunk-Direkteur-Generaal (ADG): beleidsnavorsing en regulasie by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (DOWI). 
1.2. Dr. Bongani Elias Sithole as ADG: Nasionale Rampbestuursentrum by die Departement van Samewerkende Regering. 
1.3. Mnr. Adam Mthombeni as ADG: Tussenowerheidsverhoudinge by die DOWI. 
 
2. Die kabinet het oor die volgende aanstellings ooreengekom: 
2.1. Dr. Zwanani Titus Mathe as Hoof- Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut. 
2.2. Deeltydse lede van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika: 
a. Mnr. Thembani Bukula (Voorsitter) 
b. Me. Zandile Mpungose (Adjunk-voorsitter) 
c. Me. Precious Sibiya 
d. Me. Thembeka Semane 
e. Mnr. Fungai Sibanda (heraanstelling). 
2.3. Voorsitter en lede van die direksie van die Raad vir Mineraaltegnologie: 
a. Dr. Thibedi Ramontja (Voorsitter) 
b. Prof. Lwazi Ngubevana. 
 
2.4. Me. Cladie Thamo Hloniphile Mzobe as uitvoerende streekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid in KwaZulu-Natal. 
 
Navrae: Me. Phumla Williams - Kabinetwoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore