Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 30 Junie 2021

A. Kwessies in die omgewing

1. Aangepaste waarskuwingsvlak 4 van die nasionale grendeltydperk

1.1. Die Kabinet het die skuif na aangepaste waarskuwingsvlak 4 herbevestig, soos op Sondag 27 Junie 2021 deur Sy Eksellensie President Cyril Ramaphosa aangekondig as ʼn nodige stap in die stryd teen die derde vlaag van die KOVID-19-pandemie in Suid-Afrika.

1.2. Die verskerping van die inperkings sal ons vermoë om die opwel van infeksies te beperk en sodoende die las op die gesondheidsorgstelsel wat reeds oorweldig is, beperk.

1.3. Die bykomende beperkings sal na 14 dae hersien word en is daarop gelet om die impak op ekonomiese aktiwiteit, as deel van die voortgesette balansering van die behoefte om beide lewens en lewensbestaan te red, te minimaliseer. 

1.4. Die Kabinet het weer beklemtoon dat die Deltavariant meer oordraagbaar as vorige variante is en dus waaksaamheid in ons daaglikse interaksies verg omdat baie mense wat KOVID-19 onder lede het, nie enige simptome toon nie.

1.5. Die gekonsolideerde veiligheidsaanwysings vir beroepsgesondheid deur die Minister van Indiensname en Arbeid, verskaf riglyne wat die behoefte om sake aan die gang te hou en ook die gesondheid en veiligheid van almal in die werkplek te verseker, balanseer.

1.6. Dit is raadsaam en noodsaaklik om tydens dié gevaarlike tydperk lewens te red deur sover moontlik openbare plekke te vermy en KOVID-19 rampbestuursregulasies en nie-farmaseutiese gesondheidsprotokolle na te kom, soos om in die openbaar maskers te dra, ons hande gereeld met seep en water te was of om ʼn 70%-alkoholgebaseerde ontsmetmiddel te gebruik en te alle tye sosiale distansiëring van minstens 1,5 meter, te handhaaf.  

2. KOVID-19-entstofverspreiding

2.1. Suid-Afrika versterk steeds die KOVID-19-entstofverspreidingsprogram om burgers teen die vernietigende uitwerking van die virus te beskerm.  Meer as 3 miljoen (3,026,636) mense is tot en met 30 Junie 2021 ingeënt, waaronder gesondheidsorgwerkers, mense van 60 jaar en ouer en opvoeders. Dit is 238 315 opvoeders wat ingeënt is.

2.2. Die Kabinet het die departemente van Gesondheid en Basiese Onderwys geloof omdat hulle dienooreenkomstig op die behoeftes van opvoeders en ander personeel in die privaat en staatsektore gereageer het deur ʼn omvattende entstofprogram te onderneem.

2.3. Die inenting van veiligheidspersoneel sal op Maandag, 5 Julie 2021 met lede van die SAPD, en op Donderdag, 8 Julie 2021 met lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, begin.

2.4. Die registrasie vir inenting op die EIDS is oop vir mense wat 50 jaar en ouer is om te registreer en daar word beplan dat hulle inenting op Donderdag, 15 Julie, 2021 sal begin. Mense in dié ouderdomsgroep word aangemoedig om te registreer deur https://vaccine.enroll.health.gov.za of WhatsApp: 0600 123456, te gebruik.  

2.5. Die inentingsdatum vir werknemers aan die voorpunt van ekonomiese sektore soos myne, kleinhandelaars en ander sal deur die IMK oor inentings, waarvan die Adjunk-President die voorsitter is, aangekondig word.

3. Jeugdag  

3.1. Die Kabinet het alle Suid-Afrikaners bedank dat hulle op Woensdag, 16 Junie, 2021 by die land se Jeugdagvieringe, met die tema "die jaar van Charlotte Mannya Maxeke: ontwikkel jeugontwikkeling vir ʼn inklusiewe en getransformeerde samelewing" aangesluit het.  

3.2. President Ramaphosa het die aanlynplatforms vir leer en werksgeleenthede, SA Youth en mPowa, onthul, wat poog om befondsingsgeleenthede en werke vir jongmense te skep deur hulle met potensiële werkgewers en befondsers, te koppel. Die jeug kan ʼn profiel skep, geleenthede vir leer en inkomste besigtig en ondersteuning deur verskeie kanale op die platforms ontvang.

3.3. Besoek http://SAYouth.mobi of skakel tolvry: 0800 72 72 72 om toegang tot verskeie geleenthede en ondersteuning deur die Presidensiële Jeugindiensname-ingryping te verkry.

B. Kabinetsbesluite

1. Verslag oor plaaslike regering

1.1. Die Kabinet het die stand van plaaslike regering bespreek, waaraan gestalte gee is deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA), die Nasionale Tesourier en die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika se verslae.  

1.2. Die Kabinet neem kennis van die droewe stand van sommige munisipaliteite en dat die nasionale regering in sommige gevalle beslissend moet optree om dienslewering en die kapasiteit van spesifieke munisipaliteite, in ooreenstemming met Artikel 139(7) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, te verbeter.

1.3. Die nasionale regering, gelei deur CoGTA, die Nasionale Tesourier en diensleweringsdepartemente, sal ook hulle ondersteuning aan munisipaliteite versterk, in ooreenstemming met die distrikgebaseerde ontwikkelingsmodel (DO) en hulle verantwoordelikhede, soos in Artikel 154 van die Grondwet vervat.

2. Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se ingryping in Mosambiek

2.1. Die Kabinet het die besluite van die buitengewone spitsberaad van SADC se die staats- en regeringshoofde wat op Woensdag, 23 Junie 2021 in Maputo, Mosambiek gehou is, verwelkom.

2.2. Die spitsberaad het die deelname van die lidlande in die ingryping om die situasie in Mosambiek te stabiliseer, goedgekeur. Suid-Afrika, as deel van SADC, sal ook aan dié aktiwiteite, wat stabiliteit in die streek wil herstel, deelneem.

3. Aanbieding van die 21ste internasionale konferensie oor VIGS en seksueel oordraagbare infeksies (SOI's) in Afrika (Okosa)

3.1. Die Kabinet het Suid-Afrika se aanbieding van die 21ste Okosa wat van 6 tot 11 Desember, 2021, in Durban gehou sal word, goedgekeur.

3.2. Die aanbieding van die Okosa sal aan Suid-Afrika die geleentheid gun om sy toewyding aan die reaksie op die Verenigde Nasies se 90-90-90-behandelingsteikens om te help om die VIGS-pandemie die hok te slaan, te vertoon. Suid-Afrika het merkwaardige vooruitgang in die stryd teen MIV en VIGS getoon, maar daar moet steeds meer gedoen word om die aantal nuwe infeksies te verminder.

3.3. Die konferensie sal ook ʼn platform verskaf vir besprekings en leergeleenthede aangaande MIV- en SOI-voorkomingstrategieë in die konteks van die KOVID-19-pandemie.

4. Medelye aan die mense van Zambië

4.1. Die Kabinet het sy medelye betuig aan die familie en Zambiese mense oor die afsterwe op Donderdag, 17 Junie, 2021, van die stigterspresident van die Republiek van Zambië, Dr. Kennith "KK" Kaunda (97). Dr. Kaunda was een van die voorste kampvegters van Pan-Afrikanisme en ʼn baanbreker vir ʼn gedekoloniseerde en vooruitstrewende Afrika.

4.2. President Ramaphosa het, ter ere van Dr Kaunda, 10 treurdae, vanaf Vrydag, 18 Junie 2021 tot die aand van Sondag, 27 Junie, 2021 verklaar, wat behels het dat vlae halfmas by vlagstasies hang.

4.3. Dr Kaunda het in alle opsigte in sy lewe onvermoeid vir ekonomiese, maatskaplike en politiese vooruitgang in Afrika gewerk en was ʼn reus in die stryd vir ʼn Afrika sonder koloniale en apartheidsregering. Hy het Afrika-humanisme verdedig en sal met teerheid onthou word vir sy uitmuntende leierskap in die skep van die Beweging van Onverbonde Lande en die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid (nou die Afrika-unie).

4.4. Die Kabinet het ʼn program deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur om hulde aan die lewe en bydrae van Dr Kaunda tot die bevryding van sy eie land en die kontinent, veral die Suider-Afrikastreek, te bring , beaam. President Ramaphosa sal die begrafnis wat op Vrydag, 2 Julie 2021 in Lusaka gehou sal word, bywoon.

C. Wetsontwerpe

1. Wysigingswetsontwerp op die Registrasie van Aktes

1.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op die Registrasie van Aktes vir openbare kommentaar, goedgekeur. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Registrasie van Aktes (Wetnr. 47 van 1937) waarvan die prosesse verouderd geword het.

1.2. Die Wetsontwerp knap die bedryfsprosedures van die akteregistrasiekantoor op en stel ook die elektroniese stelsel vir die verwerking van indienings bekend, wat die proses van die bediening van aktebesorgers en publiek in die algemeen, sal moderniseer. Dit stel ook die aanstelling van die Akteregistrateur, Adjunk-akteregistrateur en Assistent-akteregistrateur, voor. 

2. Konsepwetsontwerp op Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SABC) van 2020

2.1. Die Kabinet het die publikasie van die SABC-wetsontwerp van 2020 vir openbare kommentaar en beraadslaging, goedgekeur. Die Wetsontwerp sal, sodra dit as wet goedgekeur is, die huidige Uitsaaiwet, 1999 (Wetnr. 4 van 1999) herroep. Dit poog om die doeltreffendheid van die openbare uitsaaier se bedrywighede, te versterk.

2.2. Die Wetsontwerp stel, onder ander veranderinge, voor dat die SABC se raad vereenvoudig word, wat sy verantwoordelikhede en rekenpligtigheid sal versterk.  Dit stel ook verbeterings van die SABC se befondsingsmodel en die TV-lisensiëringstelsel, voor. 

D. Komende gebeurtenisse

1. Nelson Mandelamaand

1.1. Suid-Afrikaners en die globale gemeenskap eer elke jaar op 18 Julie ons voormalige President en internasionale ikoon — Dr Nelson Rolihlahla Mandela — deur die viering van Internasionale Nelson Mandeladag.

1.2. Ons maak in dié moeilike tye staat op ons gees van nasionale solidariteit en onbaatsugtigheid, soos deur Madiba verpersoonlik, om mekaar deur te help. Die Kabinet het, in die gees van Madiba, Suid-Afrikaners aangemoedig om die uitdaging aan te pak en diegene in ons gemeenskap wat deur die uitwerkings van KOVID-19 verpletter is, te ondersteun. Ons gryp Madiba se waardes aan en eer sy nalatenskap deur filantropiese dade en inisiatiewe wat diegene wat noustrop onder die virus se impak trek, ondersteun.

2. Belastingseisoen

2.1. Die belastingseisoen sal op Donderdag, 1 Julie, 2021 tot Dinsdag, 23 November, 2021 oopmaak. Belastingbetalers word aangemoedig om hulle belastingopgawes op eFiling (www.sars.gov.za) of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se Selfoontoepassing, in te dien.

2.2. ʼn Beduidende aantal individuele belastingbetalers sal dié jaar se weer outomaties geassesseer word om die proses te vereenvoudig. Die tydige en akkurate indiening van belastingopgawes verseker dat belastingbetalers nakomend bly en help die regering om dienste aan Suid-Afrikaners wat dit die meeste benodig, te lewer.

E. Boodskappe

1. Gelukwense

  • Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan:
  • Mnr Nicholas Dlamini, die eerste swart Suid-Afrikaner wat aan die Tour de France deelneem.
  • Kaizer Chiefs FC omdat hulle ʼn plek in die toonaangewende CAF Kampioeneliga se eindstryd wat op Saterdag, 17 Julie 2021 in Marokko gehou sal word, verwerf het, en Afrigter Pitso omdat hy die Ahl Aly FC van Egipte na dieselfde CAF Kampioeneindstryd gelei het.
  • Mnr Lesetja Kganyago, President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) wat die Sentrale Bankpresident van die jaar in die 2021 toekennings vir Afrikabankiere verwerf het. Die SARB het, onder sy leierskap, beslissend teen die impak van KOVID-19 op die ekonomie, opgetree.
  • Dr Ngwako Stephen Sebopetsa, die Hoof van Laerskool Rathaga in Rakwadu 1 kring, Mopani-oosdistrik, Limpopo wat die Globale Hoofdetoekenning vir uitstekende leierskapsvernuf, beduidende werk en bydrae tot die opvoedingsveld, ontvang het.
  • SARB, oor sy eeufeesviering op Woensdag, 30 Junie, 2021. Die bank het op 30 Junie 1921 sy deure oopgemaak en is die oudste sentrale bank in Afrika. Die SARB het die belangrike grondwetlike mandaat om prysstabiliteit in die belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei, te handhaaf. Die bank het ʼn nuwe R5-gedenkmunstuk te ere van sy 100 jaar van bestaan vrygestel.

2. Medelye

  • Die Kabinet het sy medelye betuig aan die familie en vriende van:
  • Dr Jabu Mabuza (63), ʼn bekwame Suid-Afrikaanse entrepreneur en besigheidsleier wat as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Tsogo Sun Holdings, voorsitter van die Eskomraad en ook president van Sake-eenheid in Suid-Afrika, gedien het.
  • Prof Mzilikazi Khumalo (89) en sy vrou Mama Rose Khumalo (88). Prof Khumalo was ʼn reusagtige figuur in Suid-Afrika se akademiese, kulturele en openbare landskap.  Hy was ook bekend as ʼn prominente volksliedbewerker, koraalkomponis en koordirekteur. Hy het gehelp om die eerste Zoeloe-opera, Princess Magogo kaDinuzulu, aanmekaar te sit. Prof Khumalo was vernaamlik deel van die komitee wat die Nkosi Sikelel' iAfrika-gebed met die apartheidvolkslied, Die Stem, saamgesmelt het om die post-apartheid Suid-Afrikaanse Nasionale Volkslied te vorm.

F. Aanstelling

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1. Me Tirhane Alinah Fosi as HUB van Government Printing Works, vir vyf jaar.

Navrae:
Phumla Williams — Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore