Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 29 Maart 2023

A. Kwessies in die omgewing

1. Elektrisiteit 

1.1. Die Minister van Elektrisiteit, Dr. Kgosientsho Ramokgopa, het 14 kragstasies besoek vir eerstehandse insig oor die uitdagings wat Eskom op kragstasievlak in die gesig staar. 

1.2. Die besoeke het die minister die geleenthede gebied om met die bestuur, werkers en vakbonde, wat aan die voorpunt staan, byeen te kom met die doel om samewerking op kragstasievlak te bewerkstellig. Dit is deel van die program om opwekkingskapasiteit te verbeter en uiteindelik die elektrisiteitstekort die hoof te bied.  

1.3. Die Kabinet is dit eens met die minister dat Eskom se werknemers die sleutel tot die oplossing van ons energie-uitdagings hou. 

2. Kwartaallikse Opname van Arbeidsmag (QLFS) oor werksgeleentheidgetalle

2.1. Die Kabinet verwelkom die opwaartse trajek in die indiensnemingsituasie in die land met die QLFS wat aandui dat die aantal werksgeleenthede in die formele nie-landbousektor gedurende die vierde kwartaal van 2022 met 48 000 gestyg het. Die toename in werksgeleenthede is aangedryf deur die handel-, sakedienste- en mynbousektor, wat die vlak van indiensneming in die land op byna 10 miljoen te staan bring.

2.2. Die bestendige toename in die getal werksgeleenthede is die gevolg van gesamentlike pogings deur alle rolspelers, in vennootskap met die regering met die implementering van die Ekonomiese Rekonstruksie- en Herstelplan (ERRP).

2.3. Die werksgeleentheidsyfers vir die vierde kwartaal bou voort op die stewige indiensnemingstoename van 648 000 werksgeleenthede in die tweede kwartaal van 2022 en 204 000 werksgeleenthede wat tussen die tweede en derde kwartaal van 2022 geskep is.

2.4. Die gefokusde implementering van die ERRP lei tot sterk ingrypings in werkskepping en die stryd teen werkloosheid en armoede.

3. Beraad en ekspo oor Trots Suid-Afrikaans, Koop Plaaslik

3.1. Die Kabinet het sy waardering uitgespreek vir die suksesvolle aanbieding van die 11de beraad en ekspo oor Trots Suid-Afrikaans, Koop Plaaslik, wat in Johannesburg aagebied is met die tema “Laat die ekonomie groei en skep werksgeleenthede deur lokalisering”. Adjunk-president, Mnr Paul Mashatile, het die beraad op 28 Maart vanjaar toegespreek.

3.2. Meer as 200 hoëgehalte tuisvervaardigde produkte en dienste is by die ekspo uitgestal. Dit het gewissel het van speelgoed, opvoedkundige materiaal, meubels, kos- en drankprodukte tot elektronika, wat Suid-Afrika se groot potensiaal vir innovering, aanpassing in vervaardiging, en die vermoë van plaaslike vervaardigers demonstreer.

3.3. Die Kabinet het sakeondernemings en burgers aangemoedig om plaaslik te koop, aangesien elke aankoop van of vraag na plaaslike produkte en dienste bydra tot die herlewing van die ekonomie en werkskepping ondersteun. 

4. Verhoudinge tussen Suid-Afrika en België

4.1. Die Kabinet het die vertroue verwelkom wat in Suid-Afrika gestel is deur die geskiedkundige staatsbesoek deur Sy Majesteit Koning Philippe en Haar Majesteit Koningin Mathilde van die Koninkryk van België, van 22 tot 27 Maart 2023 op uitnodiging van President Cyril Ramaphosa. 

4.2. Sterk bilaterale verhoudinge wat handel, direkte buitelandse belegging en toerisme beklemtoon, het hierdie eerste staatsbesoek verstewig. Daarby het die Suid-Afrika-België-besigheidsforum ’n platform gebied vir die uitruil van idees en sektorale gesprekke om handels- en beleggingsverhoudinge te versterk, wat die potensiaal inhou om industrialisering in Suid-Afrika te bevorder.

4.3. België is een van Suid-Afrika se belangrikste ekonomiese en uitvoervennote. In 2020 het Suid-Afrika $2,38 miljard na België uitgevoer in sektore soos diamante, afleweringsvoertuie, organiese chemikalieë en edelmetaalskroot. Daar is ook beduidende beleggingsgeleenthede tussen die twee lande in energie, infrastruktuur en gesondheidsorg.

5. Nasionale Konferensie oor die Grondwet

5.1. Die Kabinet het die bespreking oor die Grondwet verwelkom wat by die driedaagse Nasionale Konferensie van 22 tot 24 Maart 2023 gehou is met die tema: “Nadenke oor die Grondwet: Oppergesag van die reg, aanspreeklikheid, maatskaplike en ekonomiese geregtigheid”. Die besprekings het nabetragting gehou oor die afgelope 25 jaar van die Grondwet en aangedui wat gedoen moet word. 

5.2. Die Grondwet bly ’n lewende en noodsaaklike dokument in die regering se strewe om alle Suid-Afrikaners se lewens ten goede te transformeer.

6. Nasionale Konferensie oor Seksuele en Reproduktiewe Geregtigheid

6.1. Toegang tot seksuele- en reproduktiewe gesondheidsregte was die fokus van die konferensie wat van 22 tot 24 Maart plaasgevind het en deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Me. Lindiwe Zulu gelei is. Die regering is daartoe verbind om te verseker dat elke burger die mag en hulpmiddels het om gesonde besluite oor hul liggame, seksualiteit en reproduksie te neem. 

6.2. Die tweede verslag deur die hoëvlakkommissie oor die Nairobi-beraad rakende die Internasionale Konferensie oor Bevolking en Ontwikkeling, met die titel ‘Seksuele en Reproduktiewe Geregtigheid as die Medium om die Verbintenisse van die Nairobi-beraad te Bewerkstellig’ is ook bekendgestel. Dit gee leiding oor hoe om seksuele en reproduktiewe geregtigheid vir almal in Suid-Afrika te verseker. 

7. Oorstromings en swaar weer 

7.1. President Cyril Ramaphosa het Port St Johns in die Oos-Kaap op 28 Maart 2023 besoek om die reaksie van die regering en die burgerlike gemeenskap op die uitgebreide skade wat deur die onlangse oorstromings in die gebied veroorsaak is, te evalueer. Die President het gemeenskappe verseker van die regering se ondersteuning en het sy waardering uitgespreek vir die nooddienste se werk. Hulle het reddingspogings bygestaan ná die oorstromings in Port St Johns en omliggende gebiede, wat grondverskuiwings, ontwortelde bome en geblokkeerde paaie tot gevolg gehad het, wat mense se lewens erg geraak het.  

7.2. Die Nasionale Rampbestuursentrum koördineer die regering se reaksie en werk saam met die Oos-Kaapse en OR Tambo-distrik se rampbestuursentrums om die negatiewe impak van die oorstromings op ons gemeenskappe te beperk.  Die Kabinet het kennis geneem van die gebruik van wetenskap in die reaksie- en verligtingspogings tydens die werk wat deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap, die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk (SAEON) en die Suid-Afrikaanse Weerdiens onderneem word. 

7.3. Met die verergerende impak van klimaatsverandering het die rol van wetenskap, tegnologie en innovering in rampverligting, die reaksie op rampe en in sommige gevalle voorkoming van rampe, van groter kritiese belang geword.

7.4. Die Kabinet het mense wat in laagliggende gebiede woon en in gebiede wat onderhewig is aan oorstromings daaraan herinner om voortdurend uiters versigtig te wees en weerwaarskuwings te gehoorsaam. 

8. Loononderhandelings vir die openbare sektor  

8.1. Die Kabinet is ingelig oor die voortgesette loononderhandelings vir die openbare sektor en het vroeë aanduidings van ’n moontlike ooreenkoms met vakbonde, wat die meerderheid staatsamptenare verteenwoordig, verwelkom.

9. Justisie-, Misdaadvoorkomings- en Sekuriteitsgroepering (JCPS) se reaksie op die Protesoptrede van 20 Maart

9.1. Die Kabinet het sy waardering uitgespreek vir die pogings van die JCPS-groepering en die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, wat gesorg het dat die protesoptrede van 20 Maart 2023 sonder ernstige voorvalle verloop het. 

9.2. Terwyl soortgelyke operasies kennelik nie daagliks uitgevoer kan word nie, het die Kabinet gelas dat die JCPS-groepering ’n geïntegreerde en intelligensiegedrewe misdaadvoorkomingsplan moet ontwikkel en ter tafel lê om dringend en doeltreffend teen georganiseerde misdaad op te tree ter wille van alle Suid-Afrikaners se veiligheid en sekuriteit.   

9.3. Die Kabinet het sy waardering uitgespreek vir die solidariteit wat deur die meerderheid Suid-Afrikaners getoon is deur oproepe vir ’n algemene staking te verwerp en ons grondwetlike demokrasie te beskerm. 

10. Ondersoeke na die kwessie van die Facebook-verkragter, Thabo Bester

10.1. Die Kabinet is ingelig oor die vordering met pogings om die voortvlugtende Thabo Bester, bekend as die Facebook-verkragter, in hegtenis te neem. Hy het  uit ’n korrektiewe fasiliteit wat deur G4S bestuur word, ontsnap.

10.2. Die Kabinet het gelas dat die Departement van Korrektiewe Dienste die prosesse spoedig finaliseer om die bedrywighede van die twee korrektiewe fasiliteite wat deur privaat maatskappye bestuur word, oor te neem en gevolge-bestuur vir alle betrokkenes te verseker.      

11. Sluipmoord op mnre Cloete en Thomas Murray

11.1. Die Kabinet veroordeel die sluipmoord op Mnr. Cloete Murray en sy seun Thomas, die insolvensiepraktisyns wat by ’n paar hoëprofiel-likwidasiesake betrokke was, en dra sy medelye oor aan die Murray-familie met hul verlies.

11.2. Die Kabinet het gelas dat wetstoepassingsowerhede geen steen onaangeroer mag laat om die sluipmoordenaars en diegene wat hulle gehuur het spoedig aan die pen te laat ry nie.     

12. Grensbestuuragentskap (BMA)

12.1. Die Kabinet het sy waardering uitgespreek vir die uitvoerige voorbereidingswerk wat gedoen is om te verseker dat die BMA met ingang 1 April 2023 as ’n alleenstaande entiteit bedryf kan word. 

12.2. Die BMA is ’n belangrike komponent van die regering se werk om Suid-Afrika se grense doeltreffend te beveilig op ’n wyse wat die nasionale belang beskerm en nasionale veiligheid verbeter. 

B. Kabinetsbesluite

1. Vordering met Uitsaai-digitale Migrasie (BDM)

1.1. Die Kabinet het ’n vorderingsverslag oor die BDM-program ontvang terwyl voorbereidings getref word om die analooguitsendings af te skakel, en vir raadpleging met die onderskeie partye, onder wie lede van die publiek.

1.2. Die Kabinet het kennis geneem van die vordering wat met die installering van dekodeerders gemaak is vir kwalifiserende begunstigde huishoudings wat om regeringshulp aansoek gedoen het.

1.3. Die Kabinet het toestemming aan die Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie verleen om die datum vir die afskakel van digitale uitsendings vir Suid-Afrika in die Staatskoerant te publiseer. 

2. Witskrif oor Bewaring en Volhoubare Gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit

2.1. Die Kabinet keur  die Witskrif oor Bewaring en Volhoubare Gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit goed.  

2.2. Suid-Afrika is een van die mees biodiverse lande ter wêreld en die Witskrif sal die land help om sy ryk biodiversiteit te benut en te bewaar. Dit beklemtoon die belangrikheid van die biodiversiteitsektor vir Suid-Afrika se ekonomiese groei, bewaring en ekwiteit in die biodiversiteitsekonomie. Die Witskrif beklemtoon ook die belangrikheid van die bewaring van inheemse kennis en biodiversiteit. 

3. Konsepbeleid oor die Finansiering van Klein, Medium- en Mikro-ondernemings (KMMO's) en Koöperasies

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Konsepbeleid oor die Finansiering van KMMO's en Koöperasies gepubliseer word vir openbare kommentaar. Die beleid vorm deel van ander ingrypings om klein sakeondernemings te ondersteun, waaronder die Nasionale Geïntegreerde Kleinsake-ontwikkelingsraamwerk wat in 2022 deur die Kabinet goedgekeur is. 

3.2. Die konsepbeleid stel 17 kritieke ingrypings voor wat die geraamde 3,2 miljoen KMMO's en 43 000 koöperasies in die land in staat sal stel om te floreer. Hierdie ingrypings sluit in dat verbrokkelde meganismes vir finansiële ondersteuning uit die weg geruim sal word, ’n databasis van klein sakeondernemings gekonsolideer sal word, die verbetering van toegang tot aanvangskapitaal en die verhoging van ondersteuning vir sakeontwikkeling. 

3.3. Die regering sal voorkeur gee aan die ondersteuning van KMMO's en koöperasies, aangesien hierdie ondernemings die meeste werk- en bestaansgeleenthede vir mense skep. 

3.4. Die konsepbeleid sal in die Staatskoerant gepubliseer word, sowel as op die webwerf van die Departement van Kleinsakeontwikkeling by www.dsbd.gov.za

4. Raamwerk oor Water en Sanitasie 

4.1. Die Kabinet keur die Raamwerk oor Water en Sanitasie goed. Dit sal gebruik word as ’n gids oor hoe sanitasiedienste op ’n billiker wyse en in ooreenstemming met tegnologiese ontwikkelings beplan, bestuur en gereguleer word.

4.2. Die raamwerk is ook ontwikkel om te reageer op die uitdagings in dienslewering weens swak instandhouding, verouderde en agteruitgaande infrastruktuur, en infrastruktuur wat nie ontwerp is om baie mense te bedien nie.  

4.3. Verder sal die raamwerk aangewend word om gapings in dienslewering op te los, en  voorsiening te maak vir maatreëls om die groot aantal huishoudings in Suid-Afrika wat nie voldoende en veilige sanitasie het nie, te konsolideer. Dit sluit die afskaffing van die emmerstelsel in informele nedersettings in.  

4.4. Voorts skryf die raamwerk die minimum kwalifikasies en ervaring vir prosesbeheerders by afvalwatersuiweringswerke voor, asook die vereiste vlakke van ervaring vir bestuurders by afvalwatersuiweringsaanlegte.  

5. Beleid en Beleidsrigting oor die Snelontplooiing van Elektroniese Kommunikasienetwerke en -fasiliteite  

5.1. Die Kabinet keur die Beleid en Beleidsrigting oor die Snelontplooiing van Elektroniese Kommunikasienetwerke en -fasiliteite goed. 

5.2. Die doel van die beleid en beleidsrigting is om die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKOSA) te gelas om regulasies uit te vaardig oor prosedures en prosesse vir die oplossing van dispute wat gedurende die ontplooiing van elektroniese kommunikasienetwerke en -fasiliteite kan ontstaan tussen ’n lisensiehouer van ’n diens vir elektroniese kommunikasienetwerke en enige grondeienaar.

5.3. Die doeltreffende ontplooiing van elektroniese kommunikasienetwerke is ’n prioriteit vir die regering, aangesien dit die land se vordering na die digitale ekonomie ondersteun. 

C. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en die tersaaklike klaring.

1. Me. Hapiloe Sello as HUB van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke. 

2. Nie-uitvoerende Raad van Direkteure van Sentech:
(a)     Me. Sedzani Faith Mudau (heraanstelling as Voorsitter); 
(b)    Me. Veronica Mmakoma Motloutsi (heraanstelling);
(c)    Mnr. Themba Phiri (heraanstelling);
(d)    Me. Mapuleng Moropa (heraanstelling);
(e)    Dr. Tshavhuyo Sesane (heraanstelling);
(f)     Mnr. Mbasa Metuse (heraanstelling); 
(g)    Adv. Nkhumeleni Anderson Mudunungu (heraanstelling);
(h)    Mnr. Luyolo Keyisa; en
(i)     Mnr. Kiruben Pillay. 

D. Wetsontwerpe

1. Konsepwysigingswetsontwerp op Elektrisiteit 

1.1. Die Kabinet keur goed dat die Konsepwysigingswetsontwerp op Elektrisiteit aan die Parlement voorgelê word.

1.2. Die doelwitte van die Wysigingswetsontwerp is:
1.2.1. om die rol van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika te versterk;
1.2.2. om die bepalings te versterk wat met lisensieerbare en onlisensieerbare (vrygestelde) aktiwiteite verband hou;
1.2.3. om voorsiening te maak vir die oorgangsmaatreëls vir die skep van die Transmissiestelseloperateur (TSO); en
1.2.4. om die funksies van die TSO te definieer, onder meer die voorsiening van ’n handelsplatform vir elektrisiteit op die grondslag van veelvuldige markte, en om toegang tot die transmissienetwerk op die grondslag van nie-diskriminasie te verskaf. 

2. Wysigingswetsontwerp op die Bestuur van Staatsadministrasie van 2023 (PAMA) 

2.1. Die Kabinet keur goed dat die PAMA-wetsontwerp van 2023 aan die Parlement voorgelê word.   

2.2. Die hoofdoel van die Wetsontwerp is om diensverskaffing te verbeter deur menslike hulpbronne, bestuur en verwante reëlings in al drie die regeringsfere in ooreenstemming te bring. 

2.3. Die Wetsontwerp verwyder ook onregverdige ongelykhede in staatsadministrasie en maak voorsiening vir die skepping van ’n raamwerk vir kollektiewe bedinging.

3. Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens van 2023

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens van 2023 aan die Parlement voorgelê word.

3.2. Die Wetsontwerp is daarop gerig om die rol en pligte van uitvoerende owerhede in verband met departementshoofde duidelik te maak, en maak daarvoor voorsiening dat sekere administratiewe magte onder departementshoofde gevestig sal word terwyl strategiese magte by uitvoerende owerhede moet berus.

3.3. Die Wetsontwerp versterk ook die rol van die Direkteur-Generaal in die Presidensie sodat ’n Hoof van Staatsadministrasie geskep kan word, en maak ook die rol van die Staatsdienskommissie in verband met griewe duidelik.

4. Konsepwetsontwerp op Elektroniese Kommunikasie 

4.1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Elektroniese Kommunikasie vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word. 

4.2. Die doel van die voorgestelde wysigings is om die vlak van mededinging in die telekommunikasiesektor te verhoog en pryse laer te dwing. 

4.3. Die wysigings aan die Wet op Elektroniese Kommunikasie sal buigsaamheid aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika verleen om kwessies oor mededinging in die sektor te reguleer.

E. Komende Gebeurtenisse

1. Skoolvakansie 

1.1. Die Kabinet wens alle leerders en opvoeders ’n welverdiende blaaskans toe.
1.2. Die veiligheid van ons kinders moet ’n prioriteit bly, selfs gedurende skoolvakansies.

2. Pase en Ramadan

2.1. Die Kabinet dra sy beste wense oor aan Christen- en Moslemaanbidders, onderskeidelik gedurende die Paas- en Ramadan-tydperk. 

2.2. Die Kabinet doen ’n beroep op diegene wat gedurende hierdie vakansietydperk op reis sal wees om ander padgebruikers te respekteer en die verkeersreëls te gehoorsaam. Motoriste moet by die spoedgrens hou, seker maak dat hul voertuig padwaardig is en nie onder die invloed van drank bestuur nie. 

3. Suid-Afrika Beleggingskonferensie (SAIC)

3.1. President Cyril Ramaphosa sal Suid-Afrika se aanbieding van die 5de SAIC op 13 April 2023 by die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg lei. 

3.2. Sedert die eerste beleggingskonferensie in 2018 het Suid-Afrika R1,14 biljoen in toeseggings gelok. Dit verteenwoordig 95 persent van ons aanvanklike teiken en dui op beleggings in ’n wye verskeidenheid ekonomiese sektore. 

3.3. Uit die 152 beleggingstoeseggings wat voorheen gemaak is, is 45 projekte voltooi terwyl nog 57 projekte tans in aanbou is. Hierdie beleggings het tot nuwe fabrieke, inbelsentrums, sonkragaanlegte, ondersese optieseveselkabels, uitbreiding van produksielyne en nuwe tegnologie gelei.

3.4. Gedurende sy Staatsrede het die President ’n teiken van R2 biljoen vir die nuwe ronde beleggingsmobiliseringstydperk aangekondig. 

4. Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA) Besigheidsforum 

4.1. Suid-Afrika sal in vennootskap met die AfCFTA-sekretariaat die AfCFTA Besigheidsforum aanbied, wat geskeduleer is om van 16 tot 19 April 2023 by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum plaas te vind. 

4.2. Die AfCFTA Besigheidsforum sal dien as ’n platform vir sakeondernemings en beleggers om met nuwe vennote en klante kennis te maak, hul voetspoor uit te brei en toegang te verkry tot nuwe markte wat in die prioritietsektore geïdentifiseer is. 

5. Vryheidsmaand 

5.1. Suid-Afrika sal Vryheidsmaand in April vier om die land se oorgang van die onderdrukkende apartheid-regime na ’n vry demokratiese land te herdenk. Vandag geniet alle Suid-Afrikaners die beskerming van die Grondwet en is ons vry om te wees wie ons is en ons doelwitte binne die perke van die wet na te jaag.   

5.2. Die herdenking herinner ons aan al die opofferings wat gemaak is om ons vryheid te verseker, wat gelei het tot ons land se eerste demokratiese verkiesings op 27 April 1994, die viering van die verkryging van ons vryheid, en ons kollektiewe vasberadenheid om selfs harder te werk om die uitdagings te hanteer wat ons land steeds teister en te verseker ons laat niemand agter nie.

F. Boodskappe

1. Gelukwense
Die Kabinet  dra sy gelukwense en beste wense oor aan: 

  • Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah, wat Europa se gesogte Erasmusprys gewen en hom die eerste komediant maak wat dié prys wen sedert Charlie Chaplin dit in 1965 gewen het. Die Erasmusprys is ’n jaarlikse prys wat aan individue of instansies toegeken word wat ’n buitengewone bydrae tot kultuur, die samelewing of sosiale wetenskappe in Europa en die res van die wêreld gemaak het.
  • Die ontvangers van die eerste Charlotte Maxeke Afrikavroueleierskap-toekennings, wat deur die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Dr. Naledi Pandor, aangebied is. Die geleentheid gee erkenning en bring hulde aan uitsonderlike vroueleiers in Afrika wie se prestasies, invloed en bydraes Afrika se ontwikkeling in verskeie sektore van die samelewing bevorder het. Die toekennings het ook erkenning gegee aan bydraes tot die bevordering van geslagsgelykheid en vrouebemagtiging.
  • Banyana Banyana, terwyl hulle vir hul tweede wedstryd in die FIFA-wêreldbekertoernooi voorberei. Hulle vertrek op 10 April 2023 na Serwië vir ’n vriendskaplike wedstryd.
  • Bafana Bafana wat vir die 2023-Afrikanasiesbeker gekwalifiseer het ná ’n oorwinning van 2-1 oor Liberië op 28 Maart vanjaar in Monrovia.

2.    Medelye 

Die Kabinet betuig sy medelye aan die naasbestaandes en vriende van: 

  • Ambassadeur Moosa “Mosie” Moolla (88) aan wie die Orde van Luthuli in Silwer in 2013 toegeken is vir sy onverskrokke en uitstekende werk in die bevrydingsbeweging, dikwels onder groot lewensgevaar, en vir sy verteenwoordiging van die belange van die bevrydingsbeweging en Suid-Afrika in die internasionale gemeenskap. Hy was onder die 155 Congress-aktiviste wat in Desember 1956 weens beweerde hoogverraad in hegtenis geneem is. 
  • Die drie mense wat hul lewens tydens oorstromings in Port St Johns en die omliggende omgewing verloor het.
  • Die vyf mense wat vermoor en drie wat gewond is in twee afsonderlike skietvoorvalle op 23 Maart vanjaar by Tongaat, KwaZulu-Natal.
  • Mnr. Randall Robinson (81), ’n Amerikaanse aktivis en stigter van TransAfrica, ’n hoëprofiel voorspraakorganisasie in Washington, wat gehelp het om die Verenigde State se buitelandse beleid jeens Suid-Afrika in die apartheid-era te herformuleer.

Die Kabinet betuig ook sy medelye aan:

  • die regering en mense van Indië, Pakistan en Afghanistan met die lewensverlies ná die aardbewing wat hierdie lande getref het. 


Navrae:
Mnr. Michael Currin
Waarnemende Regeringswoordvoerder 
Selfoon: 082 462 7896

Share this page

Similar categories to explore