Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 23 Februarie

A. Kwessies in die Omgewing

1. Nasionale Begrotingsrede

1.1. Die Kabinet verwelkom die 2022 nasionale begrotingsrede wat deur die minister van finansies, minister Enoch Godongwana, op Woensdag, 23 Februarie 2022 tydens die parlementsitting te Kaapstad gelewer is. 
1.2. Die begroting verskaf meer inligting oor die verbintenisse wat President Cyril Ramaphosa tydens sy 2022 Staatsrede op Donderdag, 10 Februarie 2022 gemaak het.
1.3. Die begroting toon die regering se toewyding tot fiskale dissipline en beginselvaste ekonomiese bestuur asook tot hul doel om kritiese prioriteite wat sosio-ekonomiese steun aan weerlose Suid-Afrikaners bied, te befonds. 
1.4. Die verreikende ingrypings wat tydens die 2022 nasionale begrotingsrede aangekondig is, is gemik op die skep van ʼn omgewing wat inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling bevorder.

2. Media-inligtingsessies vir die onderskeie regeringsgroeperings na aanleiding van die Staatsrede

2.1. Groeperingsministers is tans besig met media-inligtingsessies na aanleiding van die Staatsrede ter uitbreiding oor die regering se aksieprogram vir die komende jaar en daarna, soos deur President Ramaphosa omskryf tydens die onlangse 2022 Staatsrede. 
2.2. Hierdie media-inligtingsessies beklemtoon die regering se toewyding tot die implementering van die prioriteite gemik op die verbetering van die nasie deur onder meer die bevordering van gunstige omstandighede vir broodnodige werkskepping. 

3. Nuutste Inligting oor die Koronavirussiekte (KOVID-19) 

3.1. Die Kabinet loof Suid-Afrikaners vir hul voortgesette vasberadenheid in die stryd teen KOVID-19, en waarsku ook teen valse gerustheid en gepaardgaande sorgeloosheid weens die huidige lae infeksie- en sterftekoers, wat misleidend kan wees. Suid-Afrika het reeds meer as 31 miljoen dosisse entstof toegedien, met die gevolg dat naastenby 17 miljoen volwassenes ten volle ingeënt is. 
3.2. Die Kabinet beklemtoon dat KOVID-19 nog nie oorwin is nie en dat mense, met die naderende winterseisoen, waaksaam moet bly en volhou met nie-farmaseutiese ingrypings soos die gereelde handewas of -sanitering, die dra van maskers wat beide mond en neus bedek in die openbaar, die behou van veilige sosiale distansiëring en vensters wat oopgehou word vir behoorlike lugvloei. 
3.3. Bowenals bly inenting die beste verdediging teen KOVID-19 asook die virus se toekomstige variante, synde dit die risiko van ernstige ongesteldheid, hospitaalopname en selfs sterfte drasties verminder. 
3.4. Die Kabinet verwelkom ook die aankondiging van bykomende wysigings aan die huidige inentingsprogram, wat weereens daarna streef om die toeganklikheid van inentings te verseker. Vanaf Woensdag, 23 Februarie 2022 sal die wagtydperk tussen die eerste en tweede dosis entstof verminder word, vanaf 42 dae na 21 dae. 
3.5. Daarbenewens sal mense nou ook ʼn aanspoor-inenting (sogenaamde “booster shot”) van ʼn ander maak entstof as die primêre inenting-entstof kan ontvang en ook in staat wees om dieselfde entstof te ontvang vir beide die primêre inenting sowel as die aanspoor-inenting. 
3.6. Die uiteindelike terugkeer na ʼn normale lewensgang en volle deelname aan sosio-ekonomiese aktiwiteite hang steeds grootliks af van die aantal mense wat teen KOVID-19 ingeënt is. Die #KeReady-veldtog (oftewel “ek is gereed”) is daarop gemik om meer jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar aan te spoor om ingeënt te word. 

4. Nasionale samehorigheid en nasiebou

4.1. Die Kabinet veroordeel die onlangse gevalle van rassisme in sommige skole in die land, wat nie strook met die waardes wat in ons wêreldbekroonde Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 vasgelê is nie. 
4.2. Die Kabinet proklameer dat rassisme nie geduld sal word in ons demokratiese samelewing nie; ʼn samelewing wat steeds herstel van die littekens van apartheid. Die Kabinet moedig alle skole aan om rassisme te bestry deur dit bloot te lê sodra dit kop uitsteek, sodat dit spoedig aangespreek kan word. 
4.3. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle ouers en onderwysers om leerders se belange voorop te stel en saam te werk om ʼn nie-rassige en nie-seksistiese samelewing te bou. 

5. Transito-rooftog in Gauteng gefnuik

5.1. Die Kabinet loof die multi-dissiplinêre span wetstoepassingsagentskappe gelei deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Misdaadintelligensie-eenheid wat op Maandag, 21 Februarie 2022 ʼn swaargewapende bende verdagtes in Rosettenville, Johannesburg onderskep het. Die bende was onder verdenking van ʼn beplande transito-rooftog.
5.2. Tien verdagtes is in hegtenis geneem en agt is noodlottig gewond tydens ʼn skietgeveg met die polisie. Die verdagtes was in besit van ongelisensieërde vuurwapens en ammunisie, ploftoestelle en gekaapte voertuie. ʼn Ondersoek is onderweg om die oorsprong van die wapens te bepaal. 
5.3. Die Kabinet wens die polisiebeampte wat tydens die skietgeveg gewond is ʼn spoedige herstel toe. Die Kabinet het weereens klem gelê op die wekroep vir noue samewerking tussen die publiek en wetstoepassingsagentskappe om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker. 

6. Migrasie

6.1. Die Kabinet herinner almal daaraan dat wetstoepassings- en ander relevante agentskappe ʼn mandaat het om aangeleenthede en kwessies rondom migrasie en ongedokumenteerde buitelandse burgers te hanteer en aan te spreek. 
6.2. Daar is geen plek vir enige gedrag wat die wet oortree nie, byvoorbeeld intimidasie, die vernietiging van eiendom asook geweld. Ons doen ʼn beroep op diegene met billike besorgdhede om dit met die betrokke owerhede te deel sodat hulle hierdie kommernisse konstruktief kan aanspreek. 
6.3. Om te verseker dat migrasie-aangeleenthede ordelik aangespreek word, het die regering onlangs die konsepbeleid vir nasionale arbeidsmigrasie vrygestel. Dit verskaf ʼn raamwerk en regsbasis om die mate waartoe werkgewers buitelandse burgers in diens mag neem, te reguleer en beskerm terselfdertyd steeds die regte van migrante. 

7. Afrika-unie (AU)-Europese Unie (EU) Spitsberaad 

7.1. President Ramaphosa het op 17 en 18 Februarie 2022 die 6e AU-EU Spitsberaad te Brussel, België, bygewoon op uitnodiging van die voorsitter van die AU-komissie, Sy Eksellensie Moussa Faki Mahamat.
7.2. Die president het deelgeneem aan tafelrondes oor klimaatsverandering, digitale tegnologie en vervoer. Hy was ook die voorsitter van die tafelronde oor gesondheidstelsels en die vervaardiging van entstowwe. 
7.3. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die spitsberaad, wat die grondslag gelê het vir ʼn hernuwe en dieper vennootskap tussen die AU en die EU. 

B. Kabinetsbesluite

1. Konsepstrategie vir Nasionale Waterhulpbronne – Derde Uitgawe (NWRS-3)

1.1. Die Kabinet het die publikasie van die NWRS-3 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die konsepstrategie is voorafgegaan deur ʼn driejaar-hersiening van die NWRS-2 wat in 2013 deur die Kabinet goedgekeur is. Die hersiening het areas van sukses asook areas waar uitdagings steeds heers, identifiseer. 
1.2. Hierdie strategie stel versterkte geïntegreerde watergehaltebestuur voor. Dit maak voorsiening vir innoverende en toepaslike tegnologie met betrekking tot water en sanitasie en stel strenger minimumvereistes vir die behandeling van vuilwater voor. Die strategie behels ook terugvoer oor die nasionale klimaatsveranderingreaksie-strategie.
1.3. Water bly steeds een van die sleutel-aandrywers in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die land en lewer ʼn noemenswaardige bydrae tot die regering se ekonomiese herstelprogram.

2. 2005 Konvensie vir die Beskerming en Bevordering van die Diversiteit van Kulturele Uitdrukkings (CPPDCE)

2.1. Die Kabinet het die inhandiging van Suid-Afrika se tweede vierjaarlikse verslag aan die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie (Unesco) goedgekeur. Hierdie liggaam hou toesig oor die implementering van die 2005 CPPDCE. 
2.2. Lidlande word verwag om hul verslae elke vier jaar in te handig. Verslae moet inligting en besonderhede insluit oor die opdatering van beleide wat ingestel is en maatreëls wat geneem is om die diversiteit van kulturuele uitdrukkings met betrekking tot die betrokke land te beskerm en bevorder. 
2.3. Die verslag sal deel vorm van Unesco se globale verslag wat elke vier jaar gepubliseer word. Suid-Afrika het die CPPDCE in 2006 onderteken.

3. Uitvoerbaarheidstudie vir die Nasionale Monumentale Vlagprojek

3.1. Die Kabinet het die verslag oor die uitvoerbaarheidstudie rakende die ondersoek na die oprigting van die Suid-Afrikaanse Monumentale Vlagprojek goedgekeur. 
3.2. Monumentale vlae word deur lande opgerig as uitdrukking van hul nasionale identiteit en trots. Na die konstruksie van die monumentale vlag sal dit ʼn nasionale landsbaken word, asook ʼn toerisme-aantreklikheid wat die land se handelsmerk ten toon sal stel en sal beklemtoon. 
3.3. Die projek vind plaas onder leiding van die department van sport, kuns en kultuur as deel van hul mandaat om nasiebou en maatskaplike samehorigheid te bevorder.

4. Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) 

4.1. Die Kabinet is ingelig dat verdere vordering gemaak is in die beskikking van 51% SAL-aandele aan die Takatso-konsortium, die verkose strategiese aandelevennoot vir die SAL. Dit bestaan uit Harieth General Partners, ʼn voorste belegger in Afrika-infrastruktuur, en die lugdiensbestuursfirma Global Airways. 
4.2. Die verkoop- en aankoopproses is nou afgehandel en onderteken deur die departement van openbare ondernemings en die Takatso-konsortium. Die volgende stap behels die goedkeuring van hierdie transaksie deur verskeie reguleringsliggame. Die publiek sal op hoogte gehou word oor verdere ontwikkelinge in hierdie verband. 

C. Toekomstige Gebeure

1. Menseregtemaand

1.1. Suid-Afrika herdenk Menseregtedag op Maandag, 21 Maart 2022 met die tema: “Die jaar van nasionale eenheid en hernuwing: Die bevordering en beskerming van ons menseregte.”
1.2. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om Menseregtemaand te gebruik om groter maatskaplike samehorigheid, nasiebou en ʼn gedeelde nasionale identiteit te koester. 
1.3. Dit is ons plig as nasie om te verseker dat ons rassisme, rasse-diskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamhede bestry. Deur middle van ons diversiteit kan ons ons volkseenheid versterk en ʼn samehorige samelewing bou.
2. Presidensiële Imbizo
2.1. President Ramaphosa sal op Saterdag, 12 Maart 2022 ʼn presidensiële imbizo in die Noordwes-provinsie lei. Die imbizo bied aan die president die geleentheid om met gemeenskappe te skakel en dienslewering op plaaslike vlak waar te neem. 

D. Boodskappe

1. Medelye
Die Kabinet deel hul medelye met die familie en vriende van:

  • Me. Nomakula “Kuli” Roberts (49), ʼn mediapersoonlikheid en plaaslike popkultuurlegende wat as televisie- en radio-aanbieder gewerk het. Sy was ook ʼn glansartikelskrywer vir tydskrifte en koerante.
  • Mnr. Ebrahim Patel (70), die eerste president van die Suid-Afrikaanse Rugby- en Voetbalunie. As spreekbuis en dryfveer vir nie-rassige rugby het hy ook op die Internasionale Rugbyraad (nou Wêreldrugby) gedien.
  • Nkosi Ngangomhlaba Matanzima (79), die stigterslid van die Oos-Kaapse huis van tradisionele leiers en het ook jare lank as voorsitter gedien. 
  • Mnr. Rikhado Muziwendlovu Makhado, ook bekend as Riky Rick (34), ʼn rap-sanger, liedjieskrywer, sanger, komponis, akteur en mode-ontwerper. Sy grootste hip-hop-treffers sluit in Amantombazane, Boss Zonke, Sidlukotini en Ungazincishi.

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore