Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 15 Maart 2023

Tydens sy vergadering op Woensdag 15 Maart 2023, het die Kabinet die nuutaangestelde lede verwelkom en hulle sterkte toegewens met hul nuwe verantwoordelikhede en die noodsaaklikheid beklemtoon dat die Kabinet as geheel regeringsprioriteite met dringendheid moet implementeer.

A. Kwessies in die omgewing

1. Elektrisiteit

1.1. Die Kabinet het die bekendstelling van die Hulpbronmobilisasiefonds (RMF) deur die Minister van Elektrisiteit in die Presidensie, dr Kgosientsho Ramokgopa, verwelkom. Hierdie samewerking tussen die regering en Business Unity South Africa poog om hulpbronne en kundigheid te voorsien om die regering in staat te stel om die Energie-aksieplan wat president Cyril Ramaphosa in Julie 2022 aangekondig het, en die 2023 Staatsrede (SoNA) effektief te implementeer as 'n voorbeeld van doeltreffende sosiale verdigting en volgehoue vertroue in Suid-Afrika.

1.2. Die RMF sal die werk van die Nasionale Energiekrisiskomitee ’n hupstoot gee om sy doelwit om beurtkrag in Suid-Afrika te beëindig, te bereik. Die Kabinet het 'n beroep op alle belanghebbendes gedoen om by te dra tot die implementering van die Energie-aksieplan om die vernietigende uitwerking van beurtkrag op die ekonomie vas te vat.

1.3. Die Kabinet het kennis geneem van die kommer wat onlangs deur S&P Global Ratings uitgepreek is dat Suid-Afrika se ekonomiese groei toenemende druk van infrastruktuurbeperkings, veral ernstige elektrisiteitstekorte ervaar. Om hierdie uitdaging die hoof te bied, het die regering sedertdien 'n reeks beslissende stappe geneem, wat fiskale konsolidasie, vinnige ekonomiese hervormings en dringende optrede insluit. Dit is daarop gemik om beurtkrag op kort termyn te verminder en die sektor deur markhervormings te transformeer om langtermyn-energiesekuriteit te verseker

1.4. Die Kabinet het ook die opening van ‘n bodvenster vir batterybergingskapasiteit van 513 megawatt (MW) as deel van die versterking van ons reaksie op die energie-uitdaging verwelkom. Die sluitingsdatum vir die bodvoorleggings is 5 Julie 2023 om 17:00; alle belangstellendes kan die aanlyn elektroniese registrasievorm voltooi wat by: www.ipp-storage.co.za beskikbaar is.

1.5. Die Kabinet het ook die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, me Barbara Creecy,  se besluit verwelkom om Eskom vry te stel van die lang proses wat nodig is om sy Atmosferiese Emissielisensie te wysig. Volgens Eskom sal hierdie vrystelling die energieverskaffer in staat stel om 'n tydelike oplossing vir die skade by Kusile Kragstasie teen November 2023 te implementeer. Die kragstasie sal derhalweopwekkingskapasiteit van 2 100 megawatt (MW) kan hervat, wat Suid-Afrika se blootstelling aan beurtkrag deur twee vlakke sal verminder.

2. National Education, Health and Allied Workers' Union (NEHAWU) staak

2.1. Met betrekking tot die NEHAWU-staking, het die Kabinet die ondertekening van die Skikkingsooreenkoms by die Staatsdiens se Koördinerende Bedingingsraad (PSCBC) verwelkom. Die ooreenkoms skik die 2022/23-loononderhandelinge en beëindig die staking. Dit bring ook alle partye terug na die Bedingingsraad vir die 2023/24 loononderhandelinge.

2.2. Die Kabinet het ook sy waardering uitgespreek teenoor die vakbonde wat in die PSCBC gebly het om onderhandelinge voort te sit. Dit het die regering se verbintenis tot die bedingingsproses bevestig, asook om met al die betrokke vennote saam te werk om te verseker dat die voorrang van kollektiewe bedinging beskerm en gerespekteer word.

2.3. Ons beklemtoon dat die beginsel van GEEN WERK, GEEN BETALING dadelik in werking sal tree en dat die aftrekkings oor die volgende vier maande, as deel van die Skikkingsooreenkoms, gedoen sal word. Die Departement van Staatsdiens en Administrasie sal die volle implementering van hierdie besluite monitor.

2.4. Hierbenewens sal wetstoepassingsagentskappe kriminele dade wat tydens die staking gepleeg is, opvolg, terwyl die onderskeie bestuurders aandag sal gee aan dade wat die Gedragskode vir Staatsamptenare oortree het.

3. Nasionale protesoptrede

3.1. Die Kabinet het sy kommer uitgespreek oor oproepe tot protesaksie wat vir Maandag 20 Maart 2023 beplan word en beskou sulke oproepe as onverantwoordelik en roekeloos.

3.2. Die regering se gropering virJustisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit (JCPS) maak tans werk daarvan om te verseker dat wetteloosheid nie geduld word nie.

3.3. President Ramaphosa het tydens sy Staatsrede op 9 Februarie 2023, die beweerde eise dat beurtkrag beëindiging moet word, asook protes oor die hoë lewenskoste en die hoë werkloosheidsyfer bespreek. Wat die beëindiging van beurtkrag betref, het die President 'n Minister van Elektrisiteit, dr Ramokgopa, aangestel, wat uitsluitlik daarop sal fokus om beurtkrag te beëindig. Die implementering van die Vyfpunt-energie-aksieplan is in alle erns aan die gang en die Minister van Elektrisiteit sal in die komende weke Eskom se prestasieteikens vir die beëindiging van beurtkrag aankondig. 

3.4. Die President het eweneens in sy 2023 Staatsrede maatreëls bespreek wat ingestel is om hoë vlakke van jeugwerkloosheid en lewenskoste die hoof te bied. Daarom is die enigste doel wat die basis van hierdie protesaksie is, die plan om President Ramaphosa uit sy amp te verwyder deur ongrondwetlike middele. Ons wil dit duidelik stel dat BEWINDSVERANDERING DEUR ONGRONDWETLIKE MIDDELE NIE IN SUID-AFRIKA SAL GEBEUR NIE. Enigiemand wat daarna streef om hierdie land te regeer, moet wag om in die algemene verkiesing van 2024 mee te ding. Pogings om ontwrigting en oproer in die land te veroorsaak sal met al die mag van die wet bestry word. Ons maak dit ook duidelik dat geen mate van politieke avontuurlustigheid enige Suid-Afrikaners mag omswaai nie.

3.5. Die Kabinet het ook kennis geneem van die hallusinasies van sekere groepe wat beweer dat hulle die Kabinet sewe dae gegee het om skole te sluit. Die Suid-Afrikaanse skolekalender vir beide openbare en private skole, wat in Maart 2022 gepubliseer is, maak reeds voorsiening vir 20 Maart 2023 as 'n spesiale skoolvakansie. Dit was nog altyd duidelik dat daar pogings is om maklike oorwinnings te behaal. So ook met skole se vakansiedae tussenin 'n openbare vakansiedag.

4. Presidensiële Jeugleierskapsprogram

4.1. Die Kabinet het die bekendstelling van die Presidensiële Jeugleierskapsprogram deur President Ramaphosa op 10 Maart 2023, verwelkom. Dié program, wat by die Walter Sisulu Universiteit, Mthatha bekendgestel is, het tot die stigting van 'n Pan-Afrika-genootskapprogram gelei.

4.2. Dit het deel gevorm van die openingsessie van die Nelson Mandela Jeugdialoog onder die tema: "Etiese en intergenerasieleierskap vir 'n beter Afrika". Hierdie intergenerasie-leierskapplatform versterk bestaande kontinentwye planne en ooreenkomste soos die Afrika-unie se Agenda 2063, die Afrika-jeughandves en die Afrika-kontinentale vryhandelsgebiedooreenkoms.

5. Raamwerkooreenkoms om motors in Suid-Afrika te bou

5.1. Die Kabinet het die nuus verwelkom dat die motormaatskappy Stellantis Suid-Afrika 'n memorandum van verstandhouding met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging onderteken het om 'n nuwe voertuigvervaardigingsaanleg in Suid-Afrika te ontwikkel. Stellantis verkoop die handelsmerke vir Jeep, Alfa Romeo, Fiat, Citroën, Opel en Peugeot in Suid- Afrika .

6. Suid-Afrika-Tanzanië verhoudings

6.1. Die Kabinet het die staatsbesoek aan Suid-Afrika op Donderdag 16 Maart 2023 deur president Samia Suluhu Hassan van die Verenigde Republiek van Tanzanië, op uitnodiging van haar eweknie, president Ramaphosa, verwelkom. Die besoek volg op die Suid-Afrika-Tanzanië Ministeriële Bi-nasionale Kommissie (BNC), wat op Woensdag 15 Maart 2023 in Pretoria gehou is. Dit sal ook die kroon span op die tweede sessie van die Suid-Afrika-Tanzanië BNC, wat uit vier komitees bestaan, naamlik Polities en Diplomaties; Verdediging en Veiligheid; Ekonomiese Sake, en Maatskaplike en Kultuursake.

6.2. Benewens sy solidariteit met Suid-Afrika se bevrydingstryd, is Tanzanië een van die land se voorste handelsvennote. Algehele handel tussen die twee nasies het van R6,89 miljard in 2021 tot R8,71 miljard in 2022 toegeneem. Daar is meer as 250 Suid-Afrikaanse maatskappye in verskeie sektore in Tanzanië.

7. Samesmelting van Heineken en Distell

7.1. Die Kabinet het die Mededingingstribunaal se goedkeuring van die internasionale samesmelting van die Europese brouer Heineken en die Suid-Afrikaanse alkoholprodusent Distell Group Holdings verwelkom.

7.2. Die samesmelting, wat die grootste sidervervaardiger in die land sal skep, is onderhewig aan 'n reeks vooraardes in openbare belang; dit sluit in die bevordering van verskaffer-ontwikkeling, instandhouding van plaaslike verkryging, bevordering van belegging in navorsing en ontwikkeling en verhoogde plaaslike vervaardigingskapasiteit.

7.3. Die saamgesmelte entiteit sal ook werkerseienaarskap bevorder deur die opstel van 'n gedeelde eienaarskapsplan vir werkers, asook deur verteenwoordiging van werkers op direksies.

8. Monitering van vordering met vloedverligting

8.1. Die Kabinet verwelkom die werk wat deur die Minister van Menslike Nedersettings, me Mmamoloko Kubayi en lede van die Menslike Nedersettings MinLUR onderneem is om vordering met die permanente hervestiging en huisvestingvan gesinne wat deur die 2022-vloede in KwaZulu-Natal geraak is, te monitor. Dit val saam met die eerste herdenking van die verwoestende vloede wat die land in 2022 getref het.

9. Wanvoorstellings oor die voordele van ministers en adjunkministers

9.1. Die Kabinet het sy kommer uitgespreek oor die voortgesette wanvoorstelling van die voordele van ministers en adjunkministers soos uiteengesit in die Gids vir Lede van die Hoofbestuur. Dit gee ’n uiteensetting van die voordele, werkwyses en toelaes vir lede van die hoofbestuur om hul pligte doeltreffend uit te voer.

9.2. Ministeriële behuisingsreëlings is 'n gevolg van die 1910-konsensus tydens die stigting van die Unie van Suid-Afrika, wat die drie hoofstede vir Suid-Afrika bepaal het, naamlik Pretoria as die regeringsetel, Bloemfontein as die setel van die regbank, en Kaapstad as die parlementêre setel. Al die huise wat na bewering herehuise is, is voor 1994 bekom en die opvolgende African National Congress-geleide regering het die instandhouding van hierdie huise verseker om hul waarde te behou en sodoende uit die waardestyging van die eiendomme te baat.

9.3. Ministers en Adjunkministers wat staatsvoorsiende huise gebruik, betaal huur op 'n soortgelyke wyse as parlementslede. Dit sal onregverdig wees om van ministers en adjunkministers wat nie werksekerheid in hul huidige posisies het nie te verwag om hul eie verblyf te voorsien terwyl hulle in diens van die nasie is.

9.4. Voertuie wat deur ministers en hul adjunkte gebruik word, is in ooreenstemming met die Ministeriële Handboek en die waardedrempel word deur die Minister van Finansies in oorleg met die Minister van Polisie oor sekuriteitseienskappe bepaal. Die sekuriteitseienskappe is 'n belangrike element in die bepaling van die prysdrempel. Onlangse ongelukkige voorvalle van LUR'e wat hul lewens verloor het of in ernstige motorongelukke betrokke was, beklemtoon die belangrikheid van die saak en dit behoort nie deel te wees van politieke opportunisme nie.

9.5. Alle lede van die Parlement is geregtig op ondersteuningspersoneel wat hulle bystaan in die uitvoering van hul werk. Die verskille in die aantal ondersteuningspersoneel in die kantore van ministers is die gevolg van die tydsduur waarvolgens 'n spesifieke minister aangestel is, aangesien alle personeel aan die ampstermyne van 'n bepaalde minister gekoppel is. Dit is te danke aan die feit dat die Ministeriële Handboek  nie ‘n statiese dokument is nie, maar deurlopend hersien word.

9.6. Die President het die huidige Ministeriële Handboek na die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers verwys, wat reeds aandag gee aan die hersiening van die vergoeding aan alle openbare ampsdraers.

B. Kabinetbesluit

1. Konsepbeleid oor vroue in sport

1.1. Die Kabinet het die publikasie van die konsepbeleid oor vroue in sport vir openbare kommentaar goedgekeur. Die beleid skets 'n stel maatreëls wat vroue in sport sal bevorder en ondersteun en verseker dat programme in plek is om geslagsverskille in sportkodes en -strukture te hanteer.

1.2. Dit sal ook aandag gee aan hindernisse tot toetrede deur vroue in sport, soos 'n gebrek aan befondsing, borgskap en onvoldoende vergoeding. Die voorgestelde beleid het ten doel om verhoogde aktiewe deelname van vroue in sport en leierskaprolle soos afrigting en diens as amptenare te bevorder.

1.3. Die beleid erken dat verhoogde deelname van vroue in sport- en leiersposisies geslagsongelykheid en verskeie vorme van diskriminasie teen vroue drasties sal verminder en uiteindelike sal uitwis. Dit poog ook om gelykheid te bevorder en te verseker dat vroue respek of erkenning op die professionele front ontvang, insluitend gelyke vergoeding as hul manlike eweknieë.

2. Aanbieding van die Internasionale Gesondheidskonferensie oor Moeders en Pasgebore Babas - 2023

2.1. Die Kabinet het goedkeuring verleen dat Suid-Afrika die Internasionale Gesondheidskonferensie oor Moeders en Pasgebore Babas van 8 tot 11 Mei 2023 in Kaapstad aanbied. Meer as 1 000 belanghebbendes van regoor die wêreld sal hier vergader om oplossings te versnel om die oorlewing van moeders en pasgebore babas te verbeter, en stilgeboortes te voorkom.

2.2. Suid-Afrika het beduidende vordering gemaak met die bereiking van die Verenigde Nasies (VN) se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling van moeders en pasgebore babas se gesondheid, asook die voorkoming van stilgeboortes. Die land as geheel sal ook geweldig hierby baat aangesien afgevaardigdes onder meer hul effektiewe strategieë en nuwe uitvindings oor gesondheidskwessies rakende moeders en pasgebore babas sal deel.

3. Verset- en Bevrydingserfenisroete (RLHR)-projek

3.1. Die Kabinet het 'n gedetailleerde vorderingsverslag oor die implementering van die RLHR-projek ontvang. Die Kabinet het ook goedgekeur dat die ministers van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, asook Justisie en Korrektiewe Dienste deel vorm van die Interministeriële Komitee (IMK) oor die RLHR.

3.2. Die RLHR is 'n nasionale geheueprojek wat daarop gemik is om Suid-Afrika se pad na vryheid te herdenk en te vier. Die Kabinet het die IMK gestig om toesig te hou oor hierdie projek en politieke leierskap te lewer.

3.3. Die projek poog om die opofferings wat vryheidsvegters vir Suid-Afrika se vryheid en demokrasie gemaak het, op verskeie maniere te herdenk. Dit maak ook voorsiening vir die bou van museums, monumente, biblioteke en argiewe, en het ten doel om die gees van solidariteit en samewerking tussen Afrikane te erken. Dit is deur die VN onderskryf en het die potensiaal om mens-tot-mens-samewerking te versterk deur gebruik te maak van kultuur en erfenis regoor die vasteland.

3.4. Aktiwiteite wat in 2022 plaasgevind het, het onder meer ministeriële besoeke aan Botswana en Zimbabwe asook beplanningsvergaderings met Angola en Tanzanië ingesluit.

3.5. Aktiwiteite rondom hierdie projek het ten doel om alle Suider-Afrikaanse lande te verbind en jongmense op te voed oor die stryd teen kolonialisme en rassisme. Die beleid maak eweneens voorsiening vir die repatriasie van die oorskot van Suid-Afrikaanse bevrydingsvegters wat in die buiteland begrawe is. Ongeveer 11 grafte wat bekend is dat dit aan Suid-Afrikaners behoort, is in Zambië geïdentifiseer, insluitend dié van die staatmaker-vryheidsvegter mnr Duma Nokwe.

4. Nasionale Beleid oor die Digitalisering van Kuns, Kultuur en Erfenis

4.1. Die Kabinet het die Nasionale Beleid oor die Digitalisering van Kuns, Kultuur en Erfenis vir implementering goedgekeur. Die beleid gee verdere uitvoering aan die Nasionale Beleid oor die Digitalisering van Erfenishulpbronne wat in 2011 deur die destydse Departement van Kuns en Kultuur ontwikkel is. Die beleid fokus op die digitalisering van erfenishulpbronne vir die doel van bewaring, toegang en bestuur van eienaarskap.

4.2. Hoewel digitalisering 'n proses is om analoog-inhoud in digitale inhoud om te skakel, insluitend papierrekords, microfiche en nie-digitale bandopnames, het die beleid hierdie definisie uitgebrei na gebore-digitale hulpbronne soos inligting wat digitaal geproduseer word, wat nooit in fisiese vorm omgeskakel mag word nie.

4.3. Digitalisering sal geweldige voordele vir die land inhou, aangesien dit maklike toegang tot inligtingsbronne sal bied, veral dié wat deur argiewe, biblioteke en museums gehou word. Die beleid sal regoor die regering en die samelewing geïmplementeer word.

C. Wetsontwerpe

1. Wysigingswetsontwerp op geregtelike aangeleenthede van 2023

1.1. Die Kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede van 2023 aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om talle wette wat deur die Departement van Justisie en Grondwetlike ontwikkeling geadministreer word, te wysig deur tegniese kwessies en aangeleenthede, wat die praktiese toepassing van die wette raak, te ondersoek.

1.2. Die wetsontwerp bevat 37 klousules wat wysigings voorstel om die grondwetlike gebreke van die verskillende wette reg te stel.

D. Toekomstige gebeure

1. Menseregtedag

1.1. President Ramaphosa sal die hoofrede by die nasionale geleentheid van die 2023 Menseregtedag op Dinsdag 21 Maart 2023 by De Aar se Wes-stadion in die Noord-Kaap, lewer.

1.2. Die tema vir hierdie jaar is: “Consolidating and Sustaining Human Rights Culture into the Future”, om saam te val met die herdenking van die Sharpeville- en Langa-slagtings, en ander optogte wat op 21 Maart 1960 regoor die land plaasgevind het.

1.3. As regering bly ons verbind tot die grondwetlike verantwoordelikheid om die menseregte van alle mense in die land te beskerm. Kom ons werk saam om te verseker dat ons niemand weglaat om die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en die Handves van Regte 'n deurleefde werklikheid vir almal te maak nie.

2. Wêreld Waterdag

2.1. Suid-Afrika sal Nasionale Waterweek van 20 tot 26 Maart 2023 onder die tema: “Accelerating Change” vier.

2.2. Die week val saam met Wêreldwaterdag op 22 Maart 2023, wat die belangrikheid van vars water beklemtoon. Ondanks die onlangse swaar reën in dele van die land, bly Suid-Afrika 'n waterskaars land en is een van die 30 droogste lande ter wêreld.

2.3. Die Kabinet doen ’n beroep op alle burgers om ons kosbare waterbronne soos vleilande te beskerm, aangesien dit van deurslaggewende belang is vir ons langtermyn watersekerheid. Ons het almal 'n rol om te speel om water te bespaar en te verseker dat ons voorraad nie opdroog nie.

3. Wêreld Tuberkulose (TB) Dag

3.1. Adjunkpresident Paul Mashatile sal die hoofrede tydens die amptelike herdenking van Wêreld-TB-dag op 24 Maart 2023 lewer onder die tema: “Ja! Ek en jy kan TB beëindig”.

3.2. Tydens die amptelike geleentheid by die Thlabane-stadion in Noordwes sal die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-raad en die Departement van Gesondheid ook die Nasionale Strategiese Plan vir TB, MIV en Seksueel-oordraagbare Infeksies vir 2023 tot 2028 bekendstel. Dit bou voort op die aansienlike vordering wat behaal is deur hernude fokus op die voorkoming, behandeling, opname, dekking en nakoming, sowel as die beëindiging van diskriminasie en stigmatisering.

D. Boodskappe

1. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan:

  • Die Proteas wat tans gasheer vir die Wes-Indiese Eilande se multi-formaat toer is. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die Proteas te ondersteun terwyl hulle ons vlag hoog laat wapper.

2. Medelye

Die Kabinet dra sy medelye oor aan die naasbestaandes en vriende van:

  • Tate Makgoe (60) LUR vir Onderwys in die Vrystaat, wat ’n buitegewone bydrae tot die onderwyssektor gelewer het en die Vrystaat suksesvol gelei het om die hoogste matriekslaagsyfer in vier agtereenvolgende jare te behaal.
  • Me Maurencia Gillion, wat die Wes-Kaap in die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig het, en in die Gekose Komitee oor Gesondheid en Maatskaplike Dienste gedien het. Sy was 'n bekende aktivis en het die mense van die Wes-Kaap, veral in die landelike dele van die provinsie, vir baie jare gedien.
  • Mnr John Wills (66), 'n bekende menseregteprokureur en aktivis wat 'n aantal politieke leiers, insluitend oudpresident Nelson Mandela, verteenwoordig het.
  • Mnr Mark Pilgrim (54), 'n media-persoonlikheid wat baie mense in die mediabedryf geïnspireer en gemotiveer het.
  • Me Gloria Bosman (50), 'n veelbekroonde Suid-Afrikaanse jazzmusikant en komponis.

E. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die relevante klaring.

1. Lede van die Deeltitelskemas se Bestuursadviesraad:

(a) Adv Boyce Mkhize (Voorsitter);
(b) Hosi Pheni Cypraim Ngove (Ondervoorsitter);
(c) Me Kagisho Mmaseleke Choenyana;
(d) Mnr Pieter Jacobus De Beer;
(e) Adv Nomonde Nokuthula Januarie;
(f) Mnr Iqbal Mohamed Motala; en
(g) Dr Vuyisani Moss.

2. Lede van die Landdroskommissie:

(i) Me Nomzamo Zondo;
(ii) Mnr Hanif Vally;
(iii) Dr Cornelia September;
(iv) Mnr Makgabhana Mokoena (heraanstelling); en
(v) Prof Estelle Hurter (heraanstelling).

Navrae: Mnr Michael Currin – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 082 462 7896

Share this page

Similar categories to explore