Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 4 September 2019

Die kabinet het op Woensdag 4 September 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader

A.  Aktuele sake

Op grond van 'n ontleding van die aktuelesakeomgewing het die Kabinet soos volg ooreengekom:

1.  Geslagsgebaseerde geweld (GGG)

1.1.  Die Kabinet betreur saam met die nasie die moorde, verkragtings en aanrandings van vroue deur mans, wat in ons land voortduur. Hierdie weersinswekkende aanvalle op vroue weerspieël ons kollektiewe versuim om op die hulpkrete van die mees kwesbare mense in ons midde te reageer.

1.2.  Die kern van die probleem is die manifestasie van 'n algehele gebrek aan 'n toereikende reaksie op die voortdurende daaglikse skending van die regte van babas, kinders, bejaardes, vroue met gestremdhede, die lesbiese, gay, biseksuele, transgender/transeksuele, interseks en queer/bevraagtekenende gemeenskap en vroulike migrante.

1.3.  Die Kabinet dring daarop aan dat misdadigers wat hulle aan hierdie misdade skuldig maak die maksimum vonnis opgelê word. Ondanks 'n hoë koers van skuldigingbevindings (74%) vir GGG en meer as 4 000 oortreders wat lewenslange vonnisse opgelê is, moet nog meer gedoen word. Elke enkele vrou wat vermoor, verkrag en mishandel word, is een te veel.

1.4.  Die Nasionale Register van Seksuele Oortredings sal vir oorweging aan die Parlement voorgelê word om die Wet op Seksuele Misdrywe te wysig. Hierdie wysigings sal verseker dat die register uitgebrei word om oortreders in te sluit wat enige seksuele misdryf gepleeg het. Tans is die register beperk tot individue wat skuldig bevind is aan en gevonnis is vir die seksuele uitbuiting van 'n minderjarige of 'n individu wat verstandelik gestremd is.

1.5.  Die Kabinet betuig sy innige meegevoel met die naasbestaandes en vriende van Uyinene Mrwetyana, Leighandre Jegels, Nolunde Vumsindo, Meghan Cremer, Jess Hess, Ayakha Jiyane en haar drie sibbe, asook alle vroue en kinders wat wreedaardig deur mans vermoor is.

1.6.  Die Kabinet het tydelik verdaag en 'n afvaardiging van ministers vrygestel van die gewone kabinetsitting om honderde betogers wat by die Parlement byeengekom het om teen GGG beswaar te maak, te woord te staan.  

1.7.  Die Kabinet het ook 'n interministeriële komitee saamgestel wat met die burgerlike samelewing sal saamwerk om GGG te beëindig. Die komitee bestaan uit die Minister in die Presidensie, MnrJackson Mthembu; die Minister van Polisie, mnr Bheki Cele; die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, dr Naledi Pandor; die Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, me Lindiwe Sisulu; die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula; die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, mnr Ronald Lamola; die Minister van Staatveiligheid, me Ayanda Dlodlo; die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, me Lindiwe Zulu en die Minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Mense met Gestremdhede, me Maite Nkoana-Mashabane.

Hierdie komitee sal die samelewing as geheel teen GGG mobiliseer en gereeld aan die Kabinet en die publiek verslag doen oor vordering met sy pogings om GGG te bekamp. Die komitee sal ook verseker dat families en slagoffers van GGG ondersteun word.

1.8   Die Kabinet het ook besin oor die vordering wat gemaak is met die implementering van die Verklaring van die Presidensiële Beraad teen GGG en Vrouemoord wat op 1 en 2 November 2018 in Centurion gehou is, om 'n  nasionale plan van aksie teen GGG te ontwikkel. 'n Tussentydse struktuur is in Januarie 2019 in die lewe geroep, bestaande uit verteenwoordigers van burgerlike-samelewingsnetwerke en staatsdepartemente. 'n Konsep- Nasionale Strategiese Plan, gegrond op raadplegende vergaderings is ontwikkel, wat op die goedgekeurde verklaring voortbou. Oorlegpleging wat tot die beoogde Nasionale Raad op GGG en Vrouemoord sal lei, vind tans landwyd plaas. Hierdie raad sal die nodige hulpbronne ontvang om die program teen GGG in werking te stel.

1.9   Ondanks verskeie wette wat verorden is om voorvalle van geweld teen vroue en kinders te hanteer, en hoewel ons die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe – insluitend ons aanklaers, landdroste en regters – se werk om diegene wat hierdie gruwelike misdade pleeg in hegtenis te neem en te vonnis op prys stel, doen die Kabinet 'n beroep op alle sektore van die samelewing, veral mans, om op te staan teen diegene wat steeds vroue in ons samelewing verkrag, mishandel en vermoor.

1.10   Kerke en godsdiensleiers moet sterk standpunt inneem en hul leierskap en invloed in gemeenskappe gebruik om positiewe maatskaplike samehorigheid teen GGG te bou. Die media moet 'n aktiewe bydrae lewer om die negatiewe maatskaplike norme en oortuigings wat GGG aanvuur, die nek in te slaan, terwyl sakeleiers alle vorms van geweld in die werkplek onverbiddelik moet hanteer en ons nasionale pogings steun om GGG uit te roei. Die Kabinet glo dat ons GGG en moord op vroue net kan beëindig as die samelewing as geheel saamwerk.

1.11   Die Kabinet doen 'n beroep op die Suid-Afrikaanse samelewing om te verseker dat seuns grootgemaak word om die regte van alle mense in die samelewing, veral vroue, te respekteer. Seuns moet grootgemaak word met die wete dat vroue hul gelykes is en nie hul ondergeskiktes wat aan allerlei vorms van mishandeling onderwerp en uiteindelik vermoor kan word nie.

2.   Openbare geweld en oproerigheid

2.1.  Die Kabinet veroordeel die onlangse sporadiese geweld wat in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal opgevlam het ten sterkste. Suid-Afrika is 'n grondwetlike demokrasie wat deur wette regeer word en alle vredeliewende mense behoort dus sulke onwettige en wettelose gedrag in die sterkste moontlike terme te veroordeel. Suid-Afrika verwelkom almal wat die land wettig binnekom en die landswette gehoorsaam. Geen grief kan gewelddadige aanvalle op ander mense, plundery van winkels, vernietiging van eiendom en versperring van paaie regverdig nie. Al hierdie onwettige en misdadige oortredings is wetlik strafbaar.

2.2   Die Kabinet is bemoedig deur die spoed waarmee die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) opgetree het en 483 mense in hegtenis geneem het wat verbind word met plundery, openbare geweld en vernietiging van eiendom in Gauteng, asook die 21 wat in verband met die verbranding van vragmotors in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is. Die Kabinet betreur die verlies van 10 lewens, waarvan agt Suid-Afrikaners en twee buitelandse burgers was, as gevolg van die onluste in Gauteng. Die Kabinet spreek sy innige meegevoel met hulle naasbestaandes uit.

 2.3   Die  Kabinet speek ook sy kommer uit oor die verbranding van vragmotors in KwaZulu-Natal, wat gevolg het op bewerings dat buitelandse burgers bo Suid-Afrikaners voorkeur geniet as vragmotorbestuurders in die vragvervoer-en-logistiekbedryf. Die regering bedryf tans padblokkades met 'n besondere fokus op vragmotors; indien daar vasgestel word dat vragmotorbestuurders ongedokumenteerde buitelandse burgers is, word hulle onmiddellik na hul land van oorsprong teruggestuur.

2.  Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) oor Afrika

2.1.  Suid-Afrika tree as gasheer op vir 'n aantal staatsleiers asook meer as 'n duisend streeks- en internasionale leiers in die politiek, die sakesektor, die burgerlike samelewing en die akademiese wêreld by die 28ste WEF oor Afrika, wat van 4 tot 6 September 2019 in Kaapstad gehou word.

2.2.  Die tema van die beraad, waaraan 'n aantal belanghebbers in die Suid-Afrikaanse samelewing en ekonomie ook deelneem, is: “Vorm Inklusiewe Groei en Gedeelde Toekomste in die Vierde Nywerheidsrewolusie”.

2.3.  Die WEF oor Afrika spits hom toe op die vraagstukke wat die vasteland in die gesig staar deur te fokus op maniere om die transformasie van streeksargitektuur rakende slim instellings, belegging, integrasie, nywerheid en innovering uit te brei.  Die vergadering fokus ook op die Afrika-Unie se Agenda 263, die bloudruk en meesterplan vir die transformasie van Afrika om die internasionale ekonomiese reus te word.

2.4.  Suid-Afrika se deelname aan die WEF oor Afrika, wat topleiers byeenbring om die beste toestande vir sosio-ekonomiese belegging te skep, sal ons programme en tussenkomste vir die oplossing van die drieledige uitdaging van werkloosheid, ongelykheid en armoede, verder verryk. Dit sal ons nog 'n stap nader bring aan die verwesenliking van Visie 2030 van die Nasionale Ontwikkelingsplan, ons bloudruk om teen 2030 armoede uit te wis en ongelykheid te verminder.

2.5.  Die Kabinet wens alle deelnemers konstruktiewe en vrugbare beraadslagings toe, terwyl hulle ons land se hartlike Ubuntu-gasvryheid geniet.

3.  Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid

3.1.  Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die stadige tempo van transformasie in die werksomgewing, na aanleiding van die vrystelling van die 19de Verslag van die Kommissie vir Diensbillikheid. Die verslag dui op teleurstellend lae voldoeningsvlakke aan die Wet op Diensbillikheid, 1998 (Wet 55 van 1998), wat daarop gerig is om die nalatenskap van apartheid, in die besonder die wanbalanse en ongelykhede in ons arbeidsmark, reg te stel.
3.2.  In 'n poging om die Wet op Diensbillikheid van 1998 te versterk, sal die regering die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid in die Parlement ter tafel lê.
3.3.  Die Wetsontwerp verhoog die boetes vir oortreding van die Wet en maak dit verpligtend dat werkgewers wat met die regering wil sake doen, 'n sertifikaat vir die voldoening aan diensbillikheid moet indien.

4.  Nasiebou

4.1.  Die Kabinet verwelkom saam met ander Suid-Afrikaners die Gelykheidshof se uitspraak wat 'n beperking plaas op die vertoning van die ou apartheidseravlag voor 1994, wat ons verdelende verlede verteenwoordig. Die Kabinet steun die uitspraak dat die ou vlag "die waardigheid van swart mense aantas en dat diegene wat die apartheidsvlag vertoon, bewustelik onderdrukking bo bevryding kies”.

4.2.  Simbole wat die donker dae van Suid-Afrika verteenwoordig, veral die ou vlag, dra nie by tot die opbou van 'n verenigde, nie-rassige en nie-seksistiese samelewing soos dit in die progressiewe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 vervat word nie. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om 'n gemeenskaplike nasionale identiteit soos in ons Grondwet vasgelê is, te bevorder en na te streef.

4.3.  Die vertoning van die ou apartheidsvlag behoort beperk te word tot suiwer artistieke, akademiese of joernalistieke uitdrukking wat in die openbare belang is.

B.  Kabinetsbesluite

1.  Nasionale Misdaadstatistiekverslag vir 2018/19


1.1.  Die Kabinet keur die vrystelling van die Nasionale Misdaadstatistiekverslag vir 2018/19 goed.

1.2.  Die jaarlikse misdaadstatistiek stel die regering in staat om sleutelmikpunte te monitor, in die besonder die verlaging van aangemelde ernstige misdrywe, soos dit in die Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk uiteengesit word. Dit kan ook help om misdaadvoorkomingsoperasies te versterk en as riglyn vir die strategieë van die onderskeie staatsdepartemente dien.

1.3.  Die Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele, sal 'n mediakonferensie belê om die bevindings van die misdaadstatistiek vry te stel.

2.   Toewysingsproses van Visvangregte (FRAP) 2020
2.1.  Die Kabinet verleen toestemming aan die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye (DEFF) om die tydsraamwerke rakende die toewysingsproses vir lisensies in 12 visserye te hersien. Die Minister van Omgewingsake, Bosbou en Viserye, me Barbara Creecy sal binnekort die nuwe tydsraamwerke vir die Toewysingsproses van Visvangregte (FRAP) 2020 in die Staatskoerant afkondig.

2.2.  Die Kabinet glo dat dit noodsaaklik is dat die proses geloofwaardig en deursigtig moet wees en die transformasie van die bedryf in sy geheel bevorder. Nuwe tydsraamwerke sal die DEFF in staat stel om aan al die regulatoriese vereistes van die FRAP-proses te voldoen, met inbegrip van die aanstelling van raadgewende en wetenskaplike liggame, navorsing  oor visvoorraad en die implementering van sosio-ekonomiese studies oor elke vissery.

C.  Wetsontwerpe

1.  Wysigingswet op Geregtelike Aangeleenthede van 2019

1.1.  Die Kabinet keur die voorlegging van die Wetsontwerp aan die Kabinet goed.
1.2.  Die Wetsontwerp is daarop gerig om twee wette te wysig ten einde leemtes wat deur die Konstitusionele Hof geïdentifiseer is, uit te skakel:

  • Die Wet op Egskeiding 1979 (Wet 70 van 1979) – die wysiging deur die Wetsontwerp handel oor die verdeling van bates en onderhoud van partye in egskeidingsgedinge ooreenkomstig 'n uitspraak van die Konstitusionele Hof; en
  • Die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, 1998 (Wet 32 van 1998) – die wysiging deur die Wetsontwerp hanteer aspekte rakende die ampstermyn van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings en die Adjunk- Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings ooreenkomstig 'n uitspraak van die Konstitusionele Hof.
     

D.  Boodskappe

1.   Medelye


Die Kabinet betuig sy medelye met:
1.1.  die naasbestaandes en vriende van Umkhonto We Sizwe-veteraan en lid van die African National Congress se Vroueliga, die baanbrekersakevrou, dr Thandi Cynthia Ndlovu, wat op 24 Augustus 2019 gesterf het. Die toenmalige waarnemende president van Suid-Afrika, David Mabuza, het 'n Spesiale Provinsiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 vir die afgestorwe veteraan van die vryheidstryd en vryheidsvegter verklaar. Dr Ndlovu het in die loop van haar roemryke loopbaan verskeie toekennings ontvang en was 'n leidende voorbeeld vir ander, nie net op akademiese gebied nie, maar ook as 'n toonaangewende sakevrou. Sy het 'n onberispelike lewe as 'n politieke aktivis en kampvegter vir die bemagtiging van vroue gelei. In Februarie was sy ook getuie toe die Wysigingswet op Mededinging, 2018 (Wet 18 van 2018) deur President Cyril Ramaphosa verorden is.

1.2.  die naasbestaandes en vriende van die veteraanjoernalis, skrywer en navorser, mnr Harry Mashabela. Hy is in Julie 1976 saam met talle ander gesoute joernaliste in die land ingevolge die berugte Wet op Terrorisme in hegtenis geneem. Hy het vir verskeie publikasies gewerk, onder meer die Rand Daily Mail, The Star, Drum en Financial Mail. Hy was ook die skrywer van 'n aantal boeke, insluitend Townships of the PWV, a People on the Boil (1988) en Mekhukhu: Urban African Cities of the Future (1990).

1.3.  die naasbestaandes en vriende van die  joernalis en eNCA-nuusdirekteur, mnr Ben Said en die SABC-sportanalis en -joernalis, mnr David Kekana. Die Suid-Afrikaanse mediabedryf het twee legendes verloor, wat hul joernalistieke vaardighede gebruik het om die publiek in te lig en Suid-Afrika 'n beter plek te maak.

1.4.  die Minister van Binnelandse Sake, dr Aaron Motsoaledi en sy familie, met die afsterwe van sy moeder, Mama Sina Sekeku Motsoaledi.

2.   Gelukwense en goeie wense

Die Kabinet:
2.1.   wens die 31 spelers in die Springbok-span wat Suid-Afrika tans in Japan by die Rugby Wêreldbeker (RWB) verteenwoordig, alles van die beste toe. Ons vertrou dat hul ons nasie met onderskeiding en trots sal verteenwoordig, en wens hulle sukses toe in hul strewe om die RWB-trofee huis toe te bring.

2.2.   wens die Ndlovu Jeugkoor geluk, wie se vertoning hartsnare regoor die wêreld geroer het en aan hulle 'n plek in die finale rondte van die TV-kompetisie America's Got Talent besorg het.

E.   Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1.   Me Mapatane Elizabeth Kgomo as die Adjunkdirekteur-generaal: Bestuursondersteuning vir Infrastruktuurlewering in die Departement van Samewerkende Regering.

Navrae:  Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetwoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore