Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 25 April 2018

Die Kabinet het op Woensdag 25 April 2018 by Tuynhuys, Kaapstad, vergader

A. Kwessies in die omgewing

1. Begrafnisse van staatmakerleiers en veterane

1.1. Die Kabinet bedank almal regoor die wêreld, veral Suid-Afrikaners, vir hul  gulhartige reaksie met die afsterwe ‘imbokodo’ Mama Winnie Madikizela-Mandela, die vryheidstrydleier dr Zola Skweyiya en die vakbondleier Archie Sibeko.
1.2. Ons leiers het hul lewens aan die droom van ’n beter Suid-Afrika gewy, en ons landgenote word deur hul strewes geïnspireer.
1.3. Die Kabinet sluit hom ook aan by President Cyril Ramaphosa in sy huldeblyk aan die afgestorwe veteraandiplomaat, Ambassadeur George Nene, wat Suid-Afrika met onderskeiding en toewyding gedien het tydens sy ballingskap ter mobilisering van ons streek en vasteland om die bevryding van Suid-Afrika te verseker.

2. Protesoptrede in Noordwes

2.1. Die Kabinet het beraadslaag oor die onstabiele situasie wat in Noordwes ontwikkel het en ’n aantal dienste negatief beïnvloed het, in die besonder gesondheidsdienste. As ’n sorgsame regering het die Kabinet twee onmiddellike ingrypings goedgekeur om orde en stabiliteit in die gebied te herstel.
2.2. Die Kabinet keur die aktivering van Artikel 100(1)(b) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 goed om die klaarblyklike krisis die hoof te bied, veral in die gesondheidsektor. Die vernaamste doelwit van hierdie ingryping sal wees om:

  • vertroue en gerustheid tussen die arbeidsektor en die regering te herstel;
  • die provinsie te help om sy stelsels en bekwaamhede tot ’n nuwe normaliteit op te gradeer;
  • te verseker dat daar voldoen word aan die wetgewende en regulerende regeringsraamwerk;
  • die arbeidsomgewing te stabiliseer, volhoubare dienslewering te herstel, personeel se veiligheid te verseker en finansiële bestuur te verbeter.

2.3. Die Kabinet het ook ’n taakspan van ministers opdrag gegee om Noordwes te besoek om die feite op voetsoolvlak te bepaal. Hulle sal na verwagting binne die volgende twee weke ’n verslag indien. Die terugvoering sal help om te bepaal of enige verdere ingrypings nodig sal wees. 
2.4. Die taakspan bestaan uit die ministers van Beplanning, Monitering en Evaluering (Sameroeper); Gesondheid, Finansies; Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, asook die Groepering van Ministers van Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit.
2.5. Hoewel die Kabinet kennis neem van die knelpunte wat deur die gemeenskappe geopper is, veroordeel dit die dade van geweld, plundery en vernietiging van eiendom wat in sommige dele van die provinsie met die protesoptrede gepaardgegaan het, ten sterkste.

3. Loononderhandelingsproses in die staatsdiens

Die Kabinet is ingelig oor die huidige loononderhandelings in die staatsdiens. Die Kabinet doen ’n ernsitge beroep op die Departement van Staatsdiens en Administrasie, sowel as die mandaatgewende komitee, om so gou moontlik ’n oplossing vir die dooiepunt oor die loononderhandelings te vind.

4. Busstaking

Die Kabinet versoek alle belanghebbers in die openbare-vervoersektor om die nasionale busstaking spoedig te beëindig. Ons doen ’n ernstige beroep op al die partye om na die onderhandelingstafel terug te keer en ’n ooreenkoms te bereik wat in die beste belang van al die partye en die land is.

5. Geweld by Moses Mabhida-stadion

5.1. Die Kabinet veroordeel die sinnelose geweld en kwaadwillige beskadiging van eiendom deur sokkergeesdriftiges nadat vandale die afgelope naweek die sokkerveld by Durban se Moses Mabhida-stadion tydens ’n Premier Sokkerligawedstryd bestorm het.
5.2. Wetstoepassingsagentskappe word dringend versoek om te verseker dat diegene wat by boewery en gewelddadige optrede by die wedstryd betrokke was, vir hul optrede aanspreeklik gehou word.
5.3. Die Kabinet versoek ’n spoedige ondersoek en die implementering van strenger sekuriteitsmaatreëls om die veiligheid van toeskouers en beamptes te verseker. Dit doen ’n dringende beroep op alle rolspelers om hul samewerking tydens ondersoeke te verleen om sulke optrede in die toekoms te voorkom.

6. Gemeenskapsradiostasies

6.1. Die Kabinet verwelkom die ooreenkoms wat bereik is om 15 gemeenskapsradiostasies wat deur Sentech opgeskort is weens versuim om seinverspreidingsgelde te betaal, weer aan te skakel terwyl daar na meer volhoubare oplossings gesoek word.
6.2. Die ooreenkoms is bereik nadat die regering met Sentech, die Nasionale Gemeenskapsradioforum, die Agentskap vir Media-ontwikkeling en -diversiteit en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika vergader het.
6.3. Die gemeenskapsradiosektor is ’n broodnodige kommunikasieplatform wat aan ons mense toegang tot inligting bied en help om ’n ingeligte burgery te  vestig. Alle partye het ingestem om binnekort te vergader en met ’n blywende oplossing vorendag te kom, wat tot die volhoubaarheid van hierdie stasies sal lei.

7. Vergadering van die Leiers van die Gemenebeslande

7.1. Die Kabinet verwelkom die goedkeuring van die Program van Aksie vir die Gemenebes vir die volgende twee jaar.
7.2. President Ramaphosa het ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Vergadering van die leiers van die Gemenebeslande (CHOGM 2018) van 19 tot 20 April 2018 gelei onder die tema “Saam na ’n Gemeenskaplike Toekoms”.
7.3. Om Suid-Afrika as een van die wêreld se voorste beleggingsbestemmings vir opkomende markte te posisioneer, het President Ramaphosa ook die Afrikaleiers se Rondetafelgesprek van die Gemenebes se Sakeforum toegespreek en met senior internasionale beleggers en sakeleiers gesprek gevoer. Hy het ’n uitnodiging aan toonaangewende beleggers en sakeleiers gerig om Suid-Afrika se veelverwagte Beleggingsberaad later vanjaar by te woon.
7.4. Onder leierskap van President Ramaphosa het die Suid-Afrikaanse afvaardiging ook die geleentheid wat deur die CHOGM gebied is gebruik om sy stemwerwery vir Suid-Afrika se kandidatuur vir die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad vir die termyn 2019–2020 voort te sit. Hierdie verkiesing is vir 8 Junie 2018 in New York in die VSA, geskeduleer.

8. Belegging

8.1. Die Kabinet verwelkom President Ramaphosa se aanstelling van vier buitengewone gesante vir die werwing van belegging om met sowel binnelandse as buitelandse beleggers oor ekonomiese geleenthede in Suid-Afrika in gesprek te tree.
8.2. Hierdie gesante het opdrag ontvang om belegging op ’n gefokusde en koste-doeltreffende manier te lok. Die beleggingsveldtog sal ’n hoogtepunt bereik in met ’n groot beleggingskonferensie aan die einde van die jaar om meer as R1 triljoen se nuwe beleggings binne ’n tydperk van vyf jaar te verkry.

9. Bekendstelling van Gauteng se InvestSA Eenstopwinkel

9.1. Die Kabinet moedig plaaslike en internasionale beleggers sterk aan om die Provinsiale Eenstopwinkels se beleggingsfasiliteite wat regoor die land bekend gestel word te gebruik – die nuutste een is Gauteng se Eenstopwinkel.
9.2. Die InvestSA Eenstopwinkel is ’n presidensiële program wat daarop gerig is om belegging in Suid-Afrika te bevorder en te fasiliteer. Die InvestSA Eenstopwinkel is reeds suksesvol in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap geïmplementeer.
9.3. Eenstopwinkel-beleggingsentrums word in al die provinsies gevestig en sal gebruik word om die spesiale ekonomiese sones, provinsiale beleggingsagentskappe, plaaslike owerhede en die betrokke regeringsdepartemente wat by kwessies rakende regulering, registrasie, permitte en lisensiëring betrokke is te koördineer en inkorporeer.

10. Nuwe Poskantoor-SASSA Posbankkaarte

10.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle loodsimplementering van die nuwe kaarte van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap  (SASSA) by uitgesoekte poskantore in die Wes-Kaap, wat begunstigdes van maatskaplike toelaes in staat stel om bestaande kaarte vir die nuwe Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO)-SASSA Posbankkaarte om te ruil.
10.2. Ontvangers van maatskaplike toelaes en kaarthouers kan hul bestaande kaarte nog tot Desember 2018 gebruik, maar die Kabinet moedig begunstigdes aan om hulle ou kaarte vanaf 2 Mei tot aan die einde van September 2018 by hul naaste SASSA of SAPO om te ruil.

11. Hoër onderwys

Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak word met die implementering van gratis onderwys, waarvan besonderhede deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding bekend gemaak is. Die aankondiging van ’n beduidende verhoging in die grondlyntoewysing aan NSFAS, naamlik van R9,849 miljard in 2017/18 tot R35,321 miljard in 2020/21, lewer bewys van die regering se verbintenis om studente uit arm en werkersklashuishoudings by te staan.

12. KMMO-ondersteuningsprogam

12.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Ondersteuningsprogram vir die Bevrodering van Indiensneming deur Klein, Medium en Mikro-ondernemings (KMMO’s), wat ’n vennootskap tussen die Departement van Kleinsakeontwikkeling (DSBD) en die Europese Unie is.
12.2. Dit sal KMMO’s ondersteun deur sakeontwikkelingsdienste, hulp met toegang tot markte, verbeterde toegang tot finansiering, en hulp om die administratiewe en regulatoriese las op klein sakeondernemings te verlig.

13. Wetenskap en tegnologie

13.1. Die Kabinet loof almal wat betrokke was by die verwesenliking van ZACUBE-2, Afrika se grootste en mees gevorderde kubussatelliet. Die 4 kg-ZACUBE-2 satelliet – wat deur die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) en die  Frans-Suid-Afrikaanse Instituut van Tegnologie ontwikkel is en deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap bestuur word – is deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie befonds. Dit is die tweede nano-satelliet wat by die CPUT ontwikkel is.
13.2. Die kubussatelliet is na Indië gestuur om die ruimte in gelanseer te word. Dit sal help om data in te samel om ekonomiese groei in die oseane-ekonomie te ontsluit. Die nano-satelliet sal help om in die behoeftes van die Operasie Phakisa Oseane-ekonomieprogram te voorsien en sal ook help om mariene aktiwiteit langs Suid-Afrika se kus te monitor en bosbrande proaktief te bespeur.

14. KwaZulu-Natal Mynbou-indaba

14.1. Die Kabinet verwelkom die uitslae van die tweedaagse KwaZulu-Natal Mynbou-indaba, waar afgevaardigdes beraadslaag het oor kwessies wat sal help om die sektor te transformeer en mynbouverwante waardekettinggeleenthede in  die provinsie te ontsluit.
14.2. Mynwese is een van die sleutelsektore wat ons kan help om ons ekonomie te transformeer en die Kabinet het ’n beroep op mynmaatskappye, arbeid en gemeenskappe gedoen om verhoudings te versterk ten einde volhoubare mynwese te bevorder.

B. Kabinetsbesluite

  1. Die Kabinet keur die Moniterings- en Evalueringsraamwerk vir die Nasionale Jeugbeleid (NYP) 2015–2020 goed. Die raamwerk maak voorsiening vir toerekenbaarheid en doeltreffendheid ter bereiking van die NYP 2020-doelwitte. Die beleid is gerig op die verbetering van prestasie en  dienslewering, veral in die jeugprogramme.
  2. Die Kabinet verleen goedkeuring om as gasheer op te tree van die Jaarlikse Afrika-maand se program in Mei 2018 onder die tema “’n Jaar van Nelson Mandela – Bou ’n Beter Afrika en ’n Beter Wêreld”. Gedurende Mei-maand word die prestasies wat met die ontwikkeling van Afrika gemaak is gevier. Die gebeure bereik ’n hoogtepunt met Afrika-dag op 25 Mei; ’n dag wat deur die Afrika-Unie verklaar is en in Afrika gevier word.
  3. Die Kabinet is ingelig oor die verslag en tussenkomste wat gemaak is oor die status van seksuele uitbuiting, mishandeling en ernstige wangedrag teen die ontplooide lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat die VN se Stabiliseringsmissie in die Demokratiese Republiek van die Kongo ondersteun.

3.1. Hoewel die Kabinet tevrede is met die tussenkomste wat gemaak is om hierdie vergrype te hanteer, veroordeel dit in die sterkste moontlike terme enige vorm van seksuele mishandeling en wangedrag deur die SANW-lede in die missie-gebiede.
3.2. ’n Span is ontplooi om al die aangemelde bewerings te ondersoek. Hoewel sommige van die sake reeds gefinaliseer is, is ander reeds in die stadium van militêre verhore. Al hierdie ondersoeke is op ’n deursigtige en verantwoordbare manier deur die militêre regsproses hanteer.
3.3. Suid-Afrika sal soos gewoonlik in die toekoms ook vinnig reageer om sulke voorvalle te hanteer. Swak dissipline en misdadige gedrag in die geledere van die SANW word verag en sal nie geduld word nie. Diegene wat aan oortredings skuldig bevind word sal ingevolge die Gedragskode en Militêre Dissiplinêre Kode gestraf word.
3.4. Die Kabinet steun verder die finalisering van die Wetsontwerp op Militêre Dissiplinêre Optrede, wat gerig is op algehele dissipline in die SANW, met inbegrip van die versterking van die definisie van seksuele uitbuiting en die verhoging van die minimum straf tot 10 jaar. 

C. Wetsontwerpe

1. Die Kabinet keur die publikasie van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese-leweringstelsels van 2017 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar goed.

Die Wetsontwerp herroep die Wet op die Beheer van Tabakprodukte, 1993 (Wet 83 van 1993) met die oog op die bevordering van openbare gesondheid en om die Suid-Afrikaanse tabakbeheerwetgewing te belyn met die Wêreldgesondheidsorganisasie se Raamwerkkonvensie oor Tabakbeheer.  Dit dek sleutelkwessies met betrekking tot binnenshuise openbare areas, uitstalling van tabakprodukte by verkoopspunte, die gebruik van elektroniese toestelle en die instelling van ongemerkte verpakking van tabakprodukte.

2. Die Kabinet keur die publikasie van die Geïntegreerde Raamwerkwetsontwerp van 2018 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar goed. Die Wetsontwerp is daarop gerig om gekoördineerde en geïntegreerde beplanning oor alle sfere van die regering heen te bereik, wat onderling versterkend is en op ’n samehangende manier die meer doeltreffende implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) sal bevorder.

Die institusionalisering van beplanning is in ooreenstemming met die NOP en is daarop gemik om uitvoer te gee aan die verbintenis in die Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk 2014–2019 om meganismes en kapasiteit binne die Staat te vestig om ontwikkelingsbeplanning op die lang termyn te onderneem. Dit sal ’n meer gekoördineerde en deelnemende Staat bevorder, wat die strukturele veranderings wat vir inklusiewe groei benodig word meer doeltreffend sal bevorder. Dit sal ook die ontwikkeling van die land se menselikehulpbron-basis en ’n sterker demokrasie bevorder.

D. Toekomstige gebeure

1. Vryheidsdag

Die Kabinet loof alle Suid-Afrikaners en sektore wat op verskillende maniere aan vandeesmaand se Vryheidsmaandvierings deelgeneem het. President Ramaphosa sal op 27 April 2018 die programrede by die Nasionale vryheidsdagvierings by die Dr Petrus Molemela-stadion in Bloemfontein, Vrystaat lewer, onder die tema “Die jaar van Nelson Rolihlahla Mandela: na die volle verwesenliking van ons vryheid deur radikale sosio-ekonomiese transformasie”.

Die geleentheid sal gevolg word deur die toekenning van die 2018 Nasionale Ordes op Saterdag 28 April 2018 in Pretoria, waar President Ramaphosa aan verdienstelike ontvangers die Orde van die Baobab, die Orde van Ikhamanga, die Orde van Luthuli en die Orde van die Kamerade van OR Tambo sal toeken. Nasionale ordes is die hoogste toekenning wat Suid-Afrika deur die president aan landsburgers en lede van die internasionale gemeenskap oorhandig, wat ’n betekenisvolle bydrae gemaak het om die land ’n vrye, demokratiese en suksesvolle nasie te maak, wat verenig is in sy diversiteit.

2. Meidag-vierings

Die Kabinet doen ’n beroep op alle werkers regoor die land om Werkersdag op Dinsdag 1 Mei 2018 te vier en te besin oor die vordering wat gemaak is op die gebied van werkersregte sedert die aanbreek van ons demokrasie. Hierdie dag dien as ’n herinnering dat werkplekke veilig moet wees en dat werkgewers meer moet doen om hul werkers se veiligheid te verseker, veral in die mynbousektor. 

Die Kabinet betuig ook sy innige simpatie aan die families, vriende en kollegas van die ses mynwerkers wat doodgebrand het toe die bus waarmee hulle op pad werk toe was aan die brand gesteek is deur ’n petrolbom wat deur onbekende aanvallers na die bus gegooi is.

Die Kabinet doen ’n beroep op lede van die gemeenskap om die polisie te help in hul pogings om hierdie saak spoedig op te los.

E. Boodskappe

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die volgende:

1. Ndebele-kunstenaar Esther Mahlangu, wat ’n ere-doktorsgraad van die Universiteit van Johannesburg ontvang het ter erkenning van haar uitstaande bydrae tot Suid-Afrikaanse inheemse kuns en kultuur.

2. Span Suid-Afrika, wat ons vlag hoog laat wapper het tydens die Gemenebes-spele aan Australië se Goudkus, toe hulle sesde geëindig het met altesaam 37 medaljes (13 goud, 11 silwer en 14 brons). Hul sukses is die resultaat van harde werk, vasberadenheid en uithouvermoë. Dit is ’n inspirasie vir jong atlete en herbevestig dat sport deel van die maatskaplike bestel is wat ons as Suid-Afrikaners saambind.

2.1. Toppresteerders wat goue medaljes gewen het. sluit in:

  • Caster Semenya – vroue 800 m en 1500 m;
  • Luvo Manyonga – mans verspring;
  • Ndodomzi Ntutu – mans T12 100 m;
  • Henri Schoeman – mans driekamp;
  • Tatjana Schoenmaker – vroue 100 m- en 200 m-borsslag;
  • Chad le Clos – mans 50 m-, 100 m- en 200 m-vlinderslag;
  • Cameron van der Burgh – mans 50m-borsslag;
  • Akani Simbine – mans 100 m; en
  • Martin Erasmus – mans 97 kg rofstoei.

3. Professor Sibongile Muthwa en Dr Geraldine Fraser-Moleketi met hul onlangse inhuldiging as onderskeidelik vise-kanselier en kanselier van die Nelson Mandela Universiteit.

4. Span Suid-Afrika met die inpalm van drie toekennings by die 10de Globale Entrepreneurskapskongres in Istanbul, Turkye in April 2018, ter erkenning van die land se verbintenis en toewyding tot die bevordering van KMMO’s. Die Departement van Kleinsakeontwikkeling, saam met sy vennoot, 22 on Sloane, Afrika se grootste kampus vir aanvangsondernemings, het die Globale Entrepreneurskap se toekenning vir Land van die Jaar gewen. Span Suid-Afrika het ook die Handelsmerkvoorstander- (Brand Champions) en Navorsingsvoorstandertoekenning (Research Champions) ingepalm, wat Globale Entrepreneurskap-netwerklande van regoor die wêreld erken.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Adjunkminister Mondli Gungubele as voorsitter van die direksie van die Openbare Beleggingskorporasie SOC Beperk.
2. Me Thandaza Zenobia Lungile Shandu as adjunkdirekteurgeneraal: Institusionele Ondersteuning en Koördinering in die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede.

Navrae: Me Phumla Williams
Selfoon: 083 501 0139
(Waarnemende Kabinetswoordvoerder)

Share this page

Similar categories to explore