Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 23 Julie 2014

1.  Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

1.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling deur President Jacob Zuma van Operation Phakisa, wat lewering versnel deur gedetailleerde implementeringsplanne, probleemoplossing en praktiese stappe om groei te bevorder. Die Departement van Omgewingsake sal die eerste departement wees wat samewerking tussen die nywerheid- en arbeidsektor, die burgerlike samelewing en akademici sal lei om die ekonomiese potensiaal van ons oseane te ontsluit.

In 2010 het die oseaan-ekonomie – of die blou ekonomie, soos dit ook genoem word – meer as R54 miljard tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra, en dit is verantwoordelik vir ongeveer 316 000 werkgeleenthede. Bewyse toon dat Suid-Afrika se oseane teen 2033 tot so veel as R177 miljard tot die BBP kan bydra. Die oseane het ook die potensiaal om tussen 800 000 en een miljoen regstreekse werkgeleenthede te skep. Hierdie groei-hefbome weerspieël minstens 4% jaarlikse groei in beide die BBP-bydrae en werkskepping.

Mariene akwakultuur, mariene vervoer, aflandige olie- en gas-eksplorasie, en mariene beskerming is geïdentifiseer as fokusareas van die blou ekonomie. 'n Leweringslaboratorium is onder elke gebied gevestig om te help om kritieke uitdagings op te los.

1.2  Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners asook die res van die wêreld vir hul deelname aan vanjaar se Nelson Mandela-dag. Suid-Afrikaners uit alle uithoeke van ons land het gehoor gegee aan die oproep om 'n verskil te maak deur van hul tyd en energie op dié dag af te staan.

Die skoonmaakveldtog verfraai ons omgewing en verseker die bewaring van ons natuurlike omgewing. As deel van hierdie veldtog het die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ongeveer 150 munisipale tegniese amptenare na verskeie munisipaliteite gestuur om deel te neem aan die skoonmaakveldtog, asook om munisipaliteite regdeur die jaar by te staan.

Veldtogte soos die "War on Leaks" sal voortgesit en verskerp word deur werklose jeug en ander lede van gemeenskappe aan te moedig om die Regering te help om waterlekkasies te herstel. Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om riviere en strome skoon en helder te hou aangesien dit tot gesonde, veilige en behoorlike lewensomstandighede bydra. Besoedelde riviere en waterstrome is 'n bedreiging vir die welstand van gemeenskappe wat stroomaf daarvan woon.

1.3  Die Kabinet verwelkom die ooreenkoms om die Nuwe Ontwikkelingsbank (NOB) by die sesde BRICS-beraad in Brasilië bekend te stel en om die bank se streekkantoor in Johannesburg te vestig. Die NOB sal samewerking tussen BRICS-lidlande versterk en sal die werk van ander multilaterale en plaaslike finansiële instellings aanvul. Dit sal sodoende bydra tot die BRICS-lidlande se kollektiewe verpligtinge om hul doelwit van sterk, volhoubare en gebalanseerde groei te bereik.

Die streekkantoor sal 'n belangrike rol speel in die finansiering van infrastruktuur en volhoubare ontwikkeling in Afrika speel. 'n Projekvoorbereidingsfasiliteit wat die verwesenliking van verskeie potensiële infrastruktuur-projekte op die vasteland moontlik sal maak, is in die bedryfstelselmodel van die NOB ingebou. Dit is tot dusver nog nie geïmplementeer nie weens 'n gebrek aan finansiering vir die voorbereiding van die projek, 'n belangrike stap om projekidees gereed te maak vir finansiering en implementering.

1.4  Die Kabinet het sy ernstige kommer uitgespreek oor die toename in geweld tussen Israel en die Palestynse gebiede. Die Kabinet bevestig President Zuma se beroep op Israel se regering om sy grond- en lugoffensief, wat lewensverlies en 'n verwoestende humanitêre krisis veroorsaak, te staak. Verder word 'n beroep ook op Hamas gedoen om die afvuur van vuurpyle op Israeliese burgers te staak.

Die Kabinet is gekant teen versluierde pogings deur Israel se regering om sy aanslag op die Gaza-strook te gebruik om die Palestynse Regering van Nasionale Eenheid te ondermyn. Daar sal nooit 'n militêre oplossing vir die Israeli-Palestynse konflik wees nie. Die enigste oplossing lê in ernstige en opregte onderhandelings waarby alle partye betrokke is.

Suid-Afrika sluit aan by die VN se sekretaris-generaal, mnr Ban Ki-moon se beroep vir 'n onmiddellike skietstilstand deur al die betrokkenes, en die hervatting van humanitêre hulp aan die mense van Gaza. Die Kabinet beskou die humanitêre situasie as 'n bron van ernstige kommer. Die Regering doen 'n beroep op die Egiptiese owerhede om hul deure oop te maak vir beseerdes en ander mense wat deur die situasie in Gaza geraak word.

1.5 Namens die mense van die Republiek van Suid-Afrika, betuig die Kabinet sy innige meegevoel met die families en vriende van al die slagoffers van die Air Malaysia-vliegtuig wat op 17 Julie 2014 in die Oekraïne neergestort het.

1.6   Die Kabinet betuig ook sy meegevoel met die familie en vriende van die Nobelprys-bekroonde skrywer Nadine Gordimer wat onlangs oorlede is. Suid-Afrika sal me Gordimer altyd onthou as 'n dapper aktivis wat haar pen en haar heldhaftige stem gebruik het om haar teenkanting teen die ongeregtighede van die apartheid-regime uit te spreek.

Me Gordimer was 'n stigterslid van die Congress of South African Writers en as 'n lid van die African National Congress het sy in 1989 getuig ter versagting van vonnis vir 11 leiers van die United Democratic Front en aktiviste van die Vaal Burgerlike Vereniging. Haar fiksie, wat 'n belangrike rol in die stryd teen apartheid gespeel het, het die effek wat geïnstitusionaliseerde rassisme op die lewens van gewone Suid-Afrikaners gehad, op rekord geplaas. 

1.7  Die Kabinet betuig sy meegevoel met die ouers van die vierjarige Taegrin Morris wat in 'n kaping in Reiger Park, suid van Johannesburg, gesterf het. Die Kabinet veroordeel sulke brutale optrede, veral teenoor kinders en bedank voorts die polisie en lede van die publiek wat bygedra het tot die veilige terugkeer van Mongezi Phike wat onlangs ontvoer is nadat sy pa gekaap is.

1.8 Die Kabinet herinner Suid-Afrikaners daaraan dat die Kanselary van Ordes die publiek, nie-regeringsorganisasies, siviele en geloofsgebaseerde organisasies nooi om individue, wat as waardige ontvangers van Nasionale Ordes geag word, te nomineer.

Nasionale Ordes is die hoogste vorm van erkenning wat 'n land aan verdienstelike burgers toeken. Die President, as die beskermheer van die Nasionale Ordes, oorhandig dié toekennings.

Lede van die publiek word versoek om uitstaande individue in hul gemeenskappe te nomineer met behulp van 'n vorm wat op die webwerf www.thepresidency.gov.za beskikbaar is.

Dit moet vergesel word van 'n afsonderlike motivering, wat die volgende dek:

  • 'n inleidendingsparagraaf met 'n opsomming van die genomineerde se prestasies
  • 'n lys van uitsonderlike mylpale wat deur die genomineerde gedurende sy/haar loopbaan behaal is, en/of
  • 'n beskrywing van voortreflike, uitstaande, toegewyde diens of  ’n heldhaftige daad deur die genomineerde.

Die nominasies sluit op 31 Julie 2014.

2  Kernbesluite deur die Kabinet

2.1  Die Kabinet is ingelig oor die implementering van Artikel 100 (1) (b) rakende die ingryping in Limpopo en het die oorgang van die ingryping van artikel 100 (1) (b) na artikel 100 (1) (a) goedgekeur met duidelike voorwaardes waaraan die Provinsiale Uitvoerende Gesag moet voldoen as 'n voorvereiste vir die bepaling van volledige onttrekking.

In ooreenstemming met die Grondwet is die Nasionale Raad van Provinsies hieroor geraadpleeg. 'n Afsonderlike inligtingsessie wat sal uitspel wat bereik is en die pad vorentoe sal bespreek, sal vroeg volgende week gehou word.

2.2  Die Kabinet het die 2014 – 2019 Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR) goedgekeur wat as die eerste vyf jaar lange bousteen vir die 2030 visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) sal dien. Die MTSR bevat gedetailleerde implementeringsplanne van vyf jaar vir die NOP, met teikens, aanwysers, rolle en verantwoordelikhede, asook tydskale vir die implementering van die belangrikste aksies – om stelselmatige en bewys-gebaseerde monitering van die implementering van die NOP moontlik te maak.

Die MTSR bou voort op die Regering se ervarings en die lesse wat geleer is tydens die 2009 – 2014 administrasie, toe uitkomsgebaseerde beplanning, monitering en evaluering vir die eerste keer bekend gestel is. Gedurende daardie tydperk is leweringsooreenkomste ontwikkel, gemonitor en geëvalueer vir die Regering se 12 voorkeur-uitkomste, wat insluit basiese onderwys van gehalte, 'n lang lewe vir alle Suid-Afrikaners, veiligheid en sekuriteit, inklusiewe groei en ordentlike werk en landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Gedurende die 2014 – 2019 administrasie is die aantal uitkomste tot 14 verhoog, met die toevoeging van twee nuwe uitkomste – maatskaplike beskerming en maatskaplike samehorigheid en nasiebou. Gesamentlik dek hierdie 14 uitkomste al die hoofstukke van die NOP. Die Ministerie van Beplanning, Monitering en Evaluering sal binnekort 'n mediakonferensie oor die MTSR hou.

2.3 Die Kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika gasheer sal wees vir die Global Smart Partnership Dialogue in Oktober 2014 onder die tema: "Optimalisering van wetenskap, tegnologie en innovasie vir sosio-ekonomiese transformasie deur slim vennootskap-beginsels."

Die dialoog bied 'n platform vir staatshoofde, sakeleiers, wetenskaplikes, akademici en studenteleiers om idees uit te ruil en ervarings te deel wat verband hou met wetenskap, tegnologie en innovasie. Die dialoog is ook gemik op die bevordering van sosio-ekonomiese transformasie, ontwikkeling en groei in Afrika.

Aanbieding van die dialoog sal verder ook die geleentheid bied om die doelwitte en doelstellings van die NOP oor die verbetering van wetenskap en tegnologie vir sosio-ekonomiese transformasie in Suid-Afrika te bespreek, en om die land se innoverende voorsprong in die streek, die vasteland en wêreldwyd te verbeter.

3 Toekomstige gebeure

3.1 President Jacob Zuma sal Vrouemaand op 31 Julie 2014 van stapel stuur onder die tema: "60ste herdenking van die Vroue-handves as deel van die 20 Jaar van Vryheid, Vooruitgang vir die Vroue-agenda!" Die Pan-Afrikaanse Parlement sal hierby aansluit deur ook hulde te bring aan die Pan-Afrikaanse Vroue-organisasie en sy rol in die bevryding van Suid-Afrikaanse vroue.

Verskeie aktiwiteite word vir Augustus beplan ter viering van die vooruitgang wat Suid-Afrika gemaak het om Suid-Afrikaanse vroue se lewens positief te verander. Die hoofbyeenkoms op 9 Augustus sal in Durban gehou word. Die Departement van Kuns en Kultuur as die toonaangewende departement vir Vrouemaand, sal ook die "20 Beste Oomblikke vir Vroue" in Augustus bekendstel. Hierdie kerngebeurtenisse vier die prestasies van uitsonderlike plaaslike vroue asook die vooruitgang wat deur alle Suid-Afrikaanse vroue gemaak is. Die besonderhede van dié gebeure sal mettertyd aangekondig word.

3.2 President Jacob Zuma beplan om 'n afvaardiging te lei wat van 5 tot 6 Augustus 2014 aan die VSA-Afrika-leiersberaad sal deelneem onder die tema: "Belê in die volgende geslag." Die beraad sal na verwagting sakelui van die Verenigde State van Amerika (VSA) en Afrika byeenbring om beleggings- en sake-geleenthede in Afrika te bespreek.

Kantlynvergaderings vir uitvoerende hoofde uit die VSA en Afrika, en 'n ministeriële vergadering van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) sal ook gehou word. Hierdie vergaderings is gemik op die bevordering van die verhouding tussen die VSA en Afrika veral op die gebied van handel en belegging.

Die beoogde uitkomste is: die bevordering van streeksintegrasie op die vasteland; steun vir verskeie ekonomiese ontwikkelingsprogramme van die Afrika-unie, vrede en veiligheid, insluitend die uitbreiding van AGOA; klimaatsverandering en omgewingsbeskermingskwessies; en bystand om die doelwitte van die Afrika 2063-visie te verwesenlik.

3.3 Die Departement van Wetenskap en Tegnologie sal Nasionale Wetenskapweek (NWW) op 2 Augustus 2014 bekend stel onder die tema: "Vandag se wetenskap, môre se wêreld." Die NWW 2014 sal landwyd tot 9 Augustus 2014 duur. Gedurende daardie week sal verskeie wetenskap-aktiwiteite regdeur die land aangebied word. Dit sal uitstallings, wetenskapvertonings, werksessies en lesings behels. Besonderhede van die aktiwiteite sal mettertyd aangekondig word. Die Kabinet doen 'n beroep op ouers, onderwysers, leerders en Suid-Afrikaners in die algemeen om deel te wees van die NWW 2014.

4 Aanstellings

4.1 Die Kabinet het kennis geneem dat die dienstermyn van die volgende lede van die Nasionale Loteryraad verleng is, terwyl die proses om die derde lisensiehouer aan te stel afgehandel word.
a) Prof Ntshengedzeni Alfred  Nevhuṱanḓa (Voorsitter)
b) Me Mathukana Mokoka
c) Prof Govin Reddy
d) Me Zodwa Paulina Ntuli (Departement van Handel en Nywerheid verteenwoordiger)
e) Me Ndileka Eumera Portia Loyilane.

4.2  Die Kabinet het die aanstelling van die volgende nie-uitvoerende direkteure in die Raad van die Suid-Afrikaanse Martieme Veiligheidsowerheid  (Samsa) goedgekeur.
a) Vise-admiraal Johannes Mudimu (Voorsitter)
b) Dr Michael Harry Hendricks
c) Adv Motsehoa Brenda Madumise (Vise-voorsitter)
d) Mnr Frederick Enrew Jacobs
e) Me Nomsa Margaret Cele
f) Mnr Brett Naidoo.

4.3  Die Kabinet het die aanstelling van die volgende nie-uitvoerende direkteure in die Raad van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) goedgekeur:
a) Me Zodwa Penelope Manase
b) Dr Popo Molefe (Voorsitter)
c) Me Carol (Roskruge) Cele
d) Mnr William Solomon Steenkamp
e) Me Nonduduzo Samukeliswe Kheswa
f) Me Mashila Jemina Matlala
g) Mnr Sfiso Buthelezi (heraanstelling)
h) Mnr Xolile George (heraanstelling as Salga-genomineerde)
i) Mnr Lenon McMillan (Nasionale Tesourie-verteenwoordiger)
j) Mnr Clement Manyungwana (Departement van Vervoer-verteenwoordiger).

4.4 Die Kabinet het saamgestem met die aanstelling van die nuwe lede in die Raad vir die Beboude Omgewing.
Verteenwoordiger van die Departement van Openbare Werke
a) Mnr Sam Themba (Clive) Mtshisa.
Verteenwoordigers van die infrastruktuur-departemente
b) Mnr Zukile C Mvalo
c) Me Martina Mapula Tshangela
d) Me Itumeleng Sizwe Kgomo.
Verteenwoordigers van die beboude omgewing professionele rade
e) Me Christina Alida Breed
f) Me Ancunel Anna-Lucia Steyn
g) Prof Kathleen Anne Michell
h) Mnr Thembinkosi Matunda
i) Me Ezodidi Gugu Makongwana
j) Mnr Jerry Leigh Margolius
k) Me Anna-Marie Sassenberg
l) Dr Zwanani Titus Mathe
m) Mnr Nicolaas Daniel Lombard
n) Mnr Sithiwe Thubane
o) Mnr Douglas Michell
p) Mnr Isaac Mzumara Nkosi (Voorsitter).
Openbare verteenwoordigers
q) Me Niniza Fortunate Sithole (Vise-voorsitter)
r) Adv (Dr) Nalini Maharaj
s) Adv Derick Jeffrey Block
t) Mnr Reginald Gaolatlhe Sefotlho.

4.5 Die Kabinet het saamgestem met die aanstelling van die volgende lede in die Konstruksiebedryf-ontwikkelingsraad.
a) Me Lindelwa Teresa Myataza (Voorsitter)
b) Mnr Christopher Siphiwe Jiyane (Vise-voorsitter)
c) Me Nazreen Sekao Penor
d) Mnr Gonasagran Maduray
e) Me Nomsa Jacobs-Skweyiya
f) Mnr Sipho Abednego Mosai
g) Mnr Lefadi Lucas Makibinyane
h) Me Natalie Carol Skeepers
i) Mnr Selaelo Michael Makhura
j) Me Vuyiswa Victoria Sidzumo
k) Me Menisa Fatyela-Lindie
l) Mnr Hareesh Lakha Patel
m) Mnr Nico Maas.

4.6  Die Kabinet het die aanstelling van die volgende nie-uitvoerende direkteure in die Raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) goedgekeur.
a) Me Busisiwe Abigail Mabuza (heraanstelling)
b) Dr Lungile Ntombifuthi Nokuthula Bhengu-Baloyi (heraanstelling)
c) Me Mary Vilakazi (heraanstelling)
d) Me Dawn Marole (heraanstelling)
e) Me Gugu Mtetwa
f) Mnr Mabotha Arthur Moloto
g) Me Anuradha Sing
h) Prof Mark Swilling.

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemede Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore