Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 21 Augustus 2019

Die Kabinet het op Woensdag 21 Augustus 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader

A. Kwessies in die omgewing

1. Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)

1.1. Die Kabinet doen 'n beroep op die publiek om betrokke te raak by die NGV-wetsontwerp wat tans voor die Parlement dien. Die parlementêre proses sal aan die publiek nog 'n geleentheid bied om aan besprekings oor hierdie wetsontwerp deel te neem.

1.3. Sodra dit tot wet verorden is, sal die wetsontwerp gevolg gee aan universele gesondheidsorg aan alle Suid-Afrikaanse burgers in ons land, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond. Hierdie reg is verskans in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996.

1.4. Die Kabinet vertrou dat die NGV op 'n gefasseerde en verantwoordelike manier in werking gestel sal word. 'n Implementeringsplan sal ontwikkel en gepubliseer word sodra die wetsontwerp wet word. 

2. Staatsbesoek aan Tanzanië en SAOG-beraad

2.1. Die Kabinet het 'n verslag ontvang oor president Cyril Ramaphosa se staatsbesoek aan die Verenigde Republiek van Tanzanië, wat ook 'n sake-afvaardiging om intra-Afrikahandel en -belegging te bevorder, ingesluit het. As deel van die uitreikprogram het die President ook Morogoro besoek, wat destyds as gasheer vir Suid-Afrikaanse vryheidsvegters gedien het. Hy het 'n krans by Mazimbu-toring gelê ter ere van en nagedagtenis aan alle Suid-Afrikaners wat in ballingskap gesterf het.

2.2. President Ramaphosa het ook die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 39ste Gewone Beraad van Staatshoofde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gelei, waar sy Tanzaniese eweknie, President John Pombe Magufuli, die voorsitterskap van die SAOG oorgeneem het.

2.3. In sy hoedanigheid as die SAOG-fasiliteerder in die Koninkryk van Lesotho, het President Ramaphosa gedurende die Troika-beraad van die SAOG se Orgaan vir Politieke, Verdediging- en Sekuriteitsamewerking op Vrydag 16 Augustus 2019, 'n verslag oor die ontwikkelings in die fasiliteringsproses voorgelê.

3. 28ste BASIC-vergadering

3.1. Die Kabinet neem kennis van die 28ste Vergadering oor Klimaatsverandering van Brasilië, Suid-Afrika en China (BASIC), wat vanaf 14 tot 15 Augustus 2019 in Brasilië gehou is.

3.2. Die Kabinet verwelkom ook die ambisieuse klimaatsveranderingstappe deur BASIC-lande ter ondersteuning van internasionale ooreenkomste in die tydperk voor en ná 2020, ondanks die veelvuldige sosio-ekonomiese uitdagings wat hierdie lande in die gesig staar. 

3.3. Die Kabinet steun die die BASIC-lande se beroep dat ontwikkelde lande voldoende finansiering, tegnologie-oordrag en kapasiteitsbou moet voorsien om die doeltreffende implementering van die VN se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering, sy Kioto-protokol en die Parys-ooreenkoms te help verwesenlik op 'n manier wat nie ontwikkelende lande se skuldlas vergroot nie.

B. Kabinetsbesluite

1. Distriksgebaseerde Diensleweringsmodel

1.1. Die Kabinet keur die nuwe distriksgebaseerde diensleweringsmodel goed as 'n belangrike innovering in die implementering van diensleweringsprogramme. Die model, wat tans op vier-en-veertig (44) distrikte en agt metro's fokus, sal samehang en integrasie in die beplanning, begroting en implementering van diensleweringsprojekte in alle distrikte deur al drie sfere van die regering – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – verseker.

1.2. Die model is veranker in die Wet  op die  Raamwerk vir  Tussenregeringsbetrekkinge, 2005 (Wet 13 van 2005), wat die raamwerk bied vir 'n gekoördineerde en geïntegreerde belyning van ontwikkelingsprioriteite en doelwitte tussen die drie regeringsfere. Dit is ook daarop gerig om ander belyningsinisiatiewe soos geïntegreerde ontwikkelingsplanne te versterk, met 'n duidelike fokus op die implementering van een plan in elke distrik oor alle regeringsfere.

1.3. President Ramaphosa sal die kampvegter wees vir hierdie model, met die ondersteuning van Adjunk-president David Mabuza en die Uitvoerende Bestuur. Provinsiale premiers en hul uitvoerende besture, asook plaaslike en distriksburgemeesters, in samewerking met hulle uitvoerende komitees, sal ook by die implementering van hierdie distriksgebaseerde diensleweringsmodel betrokke wees. 

2. Die President se Koördineringsraad (PKR)

2.1. President Ramaphosa het op 20 Augustus die PKR, wat die eerste sodanige byeenkoms in die Sesde Administrasie was, byeengeroep. Die distriksgebaseerde diensleweringsmodel is aan die PKR voorgelê en deur al die provinsiale premiers aanvaar. 

2.2. Die vergadering het ook ooreengekom oor die distriksprototipe-projekte wat deur die President besoek gaan word, met inbegrip van OR Tambo-distrik in die Oos-Kaap; die Waterberg-distrik in Limpopo en die Ethekwini Metropolitaanse Munisipaliteit in KwaZulu-Natal.

2.3. Die drie prototipe-projekte wat besoek gaan word sluit 'n landelike distrik, 'n mynboudistrik en 'n stedelike metro in. Hoewel dit die wegspringblokke vir die distriksgebaseerde leweringsmodel gaan wees, sal die oorblywende 42 distrikte en sewe metro's ook deur President Ramaphosa en sy regering, saam met die provinsiale regering se leierskap, in die loop van die sesde administrasie se ampstermyn besoek word.

2.4. Die vergadering het ook voorleggings oor die nege provinsiale groei-ontwikkelingstrategieë ontvang en die belyning daarvan met die regering se Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2019–2024 bespreek.

3. Fondsooreenkoms tussen Indië, Brasilië en Suid-Afrika (IBSA)

3.1. Die Kabinet keur goed dat die IBSA-fonds vir die Verligting van Armoede en Honger (IBSA-fondsooreenkoms) aan die Parlement voorgelê word vir bekragtiging. Die ooreenkoms is gesluit tussen die regering van die Republiek van Indië, die regering van die Federatiewe Republiek van Brasilië en die regering van die Republiek van Suid-Afrika

3.2. Die IBSA-fonds is in 2004 gestig om die weg te baan vir impakgedrewe en mensgesentreerde pogings ter bevordering van Suid-Suid-samewerking.

3.3. Die fonds het Suid-Afrika tot dusver in staat gestel om op 'n betekenisvolle en wesenlike manier 'n bydrae te lewer tot internasionale pogings om armoede en honger in ontwikkelende lande te verlig. Dit het ook 'n suksesvolle bydrae gelewer tot die bevordering van al 17 VOD's in ongeveer een-en-twintig (21) vennootlande.

4. 4de Ministeriële Vergadering van die Afrika-krisisreaksiemag (ACIRC)

4.1. Die Kabinet keur goed dat die voorbereidende vergadering van deskundiges vir die 4de Ministeriële Vergadering van die ACIRC-vrywilligernasies vanaf 30 Augustus tot 3 September gehou word.

4.2. Dit ondersteun en dra by tot die regering se prioriteite ter bevordering van vrede en standvastigheid op die vasteland en in die streek, en help verseker dat besluite van die Afrika-unie (AU) rakende harmonisering van die die ACIRC-mag en Afrika-bystandsmag se aktiwiteite verwesenlik word. Dit sal verder verseker dat die Afrika-vredes-en-veiligheidsargitektuur geharmoniseer en in werking gestel word.

4.3. Suid-Afrika en 12 ander vrywilligernasies vorm deel van ACIRC, wat in 2013 in die lewe geroep is as 'n tussentydse reëling vir die inwerkingstelling van die Afrika-bystandsmag.

C. Wetsontwerpe

1. Wetsontwerp op die Beskerming van Behuisingverbruikers van 2019

1.1. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Behuisingverbruikers van 2019 in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar.

1.2. Die wetsontwerp herroep die huidige Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers, 1998 (Wet 95 van 1998). Hierdie nuwe regsraamwerk sal huisbouers en ontwikkelaars reguleer; die beskerming na behuisingsverbruikers uitbrei; doeltreffende wetlike dokumente vir afdwinging instel en toepaslike strawwe/boetes voorskryf om nie-nakoming deur bouers te ontmoedig.

1.3. Die wetsontwerp skep 'n instaatstellende omgewing vir nuwe toetredes tot die huisboubedryf deur kontraktuele bepalings in te stel wat hul volhoubaarheid in die mark verseker.

1.4. Subsidies en maatskaplikebehuisingsprojekte val nou binne die toepassingsbestek van die wetsontwerp, en help om die beskerming van verbruikers in daardie segment van die behuisingsmark te verseker.

D. Toekomstige gebeure

1. TICAD VII-beraad

1.1. President Ramaphosa sal op 29 en 30 Augustus 2019 die 7de Beraad van die Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkeling (TICAD VII) in Japan bywoon. Die tema van die beraad, “Bevordering van Afrika se Ontwikkeling deur Tegnologie, Innovering en Mense", is in ooreenstemming met die AU se Agenda 2061 en die vasteland se prioriteite vir integrasie.

1.2. Vanjaar se TICAD VII-beraad sal onder meer die volgende oorkoepelende prioriteite bespreek: (i) versnelling van ekonomiese transformasie en verbetering van die sakeomgewing deur innovering en betrokkenheid deur die privaat sektor; (ii) verstewiging van 'n volhoubare en veerkragtige samelewing; en (iii) versterking van vrede en stabiliteit.

1.3. Japan se samewerking oor streeks- en internasionale kwessies is belangrik om die Afrika-agenda te bevorder en die beginsels van Suid-Suid-samewerking te verwesenlik.

2. Beraad van die Groep van Sewe (G7)

2.1. President Ramaphosa sal vanaf 24 tot 26 Augustus 2019 die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die G7-beraad in Frankryk lei, nadat Suid-Afrika uitgenooi is om die beraad as 'n sleutelvennoot by te woon.

2.2. Die G7 is 'n forum van die sewe lande met die wêreld se mees geïndustrialiseerde en ontwikkelde ekonomieë – Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk en Kanada – wie se regeringsleiers jaarliks vergader om belangrike internasionale ekonomiese, politieke, maatskaplike en sekuriteitsvraagstukke te bespreek. Die komende G7-beraad sal op die bestryding van ongelykheid, bevordering van geslagsgelykheid, toegang tot onderwys en hoëgehalte-gesondheidsdienste fokus.

2.3. Suid-Afrika se deelname aan die 2019 G7-beraad is op vier strategiese pilare gegrond: (i) bevordering van nasionale belang om binnelandse doelwitte te bereik; (ii) versterking van die Afrika-agenda en bevordering van ondersteuning vir Afrika se volhoubare ontwikkeling; (iii) beïnvloeding van 'n hervormde internasionale multilaterale argitektuur; en (iv) bevordering van die Suide se agenda deur Suid-Suid-samewerking en Noord-Suid-dialoog te versterk.

3. Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) oor Afrika

3.1. Die 28ste Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika sal vanaf 4 tot 6 September 2019 in Kaapstad plaasvind  met die tema: “Vorming van Inklusiewe Groei en Gedeelde Toekoms in die Nywerheidsrewolusie”. Die forum is daarop gerig om streeks- en nywerheidsagendas vir die komende jaar te vorm.

3.2. Die program fokus op maniere om die transformasie van streeksargitektuur  ten aansien van slim instellings, belegging, nywerheid en innovering te vergroot ter bevordering van die Vierde Nywerheidsrewolusie.

3.3. Die teenwoordigheid van wêreld- ekonomiese leiers en staatshoofde in ons land bied 'n seldsame reklamegeleentheid vir Suid-Afrika, en die kans om ons sleutelprioriteit, naamlik die ontwikkeling van ons ekonomie,  te bevorder.

4. 42ste Algemene Vergadering van die ISO

4.1. Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde in Kaapstad gaan vanaf 16 tot 20 September 2019 as gasheer optree vir die 42ste Algemene Vergadering van die Internasionale Organisasie vir Standaardisering (ISO).

4.2. Die ISO bring deskundiges byeen om hul kennis te deel en konsensusgebaseerde en markverwante tersaaklike internasionale standaarde te ontwikkel, wat innovering ondersteun en oplossings vir internasionale uitdagings bied.

2019 se ISO-programme sal strategieë ontwikkel om die uitdagings van klimaatsverandering, die digitale ekonomie, ekonomiese groei en multilaterale handel te hanteer.

5. Geïntegreerde Staatsdiensmaand (SDM) in September

5.1. Die program vir die komende SDM in September is 'n program vir die verbetering van dienslewering wat deel vorm van die Batho Pele- (Mense Eerste) herlewingsprogram, om 'n professionele staatsdienskultuur van deurlopende en inkrementele verbetering op alle terreine van openbare dienslewering te bevorder.

5.2. Die 2019 SDM-program sal gehou word onder die tema: “Khawuleza”: Neem dienste na die Mense: Batho Pele “Ons Behoort, Ons Gee Om, Ons Dien”. Dit gee momentum aan President Ramaphosa se oproep in sy 2019-staatsrede, naamlik dat staatsamptenare die waardes en beginsels van Batho Pele gestand moet doen deur mense eerste te stel.

5.3. Die suite vir die 2019 PSM-program sluit in:

  • Toerismemaand – onder die tema: “Toerisme en Werksgeleenthede – 'n beter toekoms vir almal". Toerisme is een van die sektore wat werksgeleenthede skep. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om 'n Sho’t Left te neem en toerisme in ons land te bevorder, deur die geleentheid te benut wat die jaarlikse Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeweek vanaf 8 tot 15 September 2019 bied, wanneer ons nasionale parke gratis vir die publiek oopgestel word. Suid-Afrika huisves 10 Wêrelderfenisterreine en 'n terrein van internasionale nistoerisme.
  • Erfenismaand – Erfenis ontsluit verdere geleenthede vir werkskepping en vaardighede, en bied platforms aan verhoogkunstenaars, kunshandwerkers en aanvullende nywerhede. Ons moet ook ons pogings voortsit om as deel van die bewaring van ons erfenis ons inheemse tale te bewaar, te laat herleef en te bevorder.
  • Polisieveiligheidsmaand – geïnisieer deur die Nasionale Herdenkingsdag op 1 September, ter nagedagtenis van ons helde en heldinne wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het.
  • Hierdie geïntegreerde program gee gevolg aan die Nasionale Ontwikkelingsplan wat die kollig plaas op die behoefte aan staatsinstellings wat goed bestuur en doeltreffend gekoördineer word met vaardige staatsamptenare wat tot die openbare belang verbind is en in staat is om deurlopend hoëgehaltedienste te lewer, en terselfdertyd die nasie se ontwikkelingsdoelwitte voorop stel.

E. Boodskappe

1. Medelye

Die Kabinet betuig sy medelye met die:

  • regering en mense van Tanzanië nadat meer as 90 mense tragies gesterf het as gevolg van 'n brandstoftenkwa-ontploffing, en wens ook die beseerdes 'n spoedige herstel toe.
  • naasbestaandes en vriende van die Suid-Afrikaanse kunstenaar, ontwerper en sakevrou, me Carrol Boyes (65), wat op Woensdag, 14 Augustus 2019 gesterf het.

2. Gelukwense en goeie wense

Die Kabinet:

  • wens regter Edwin Cameron alles van die beste toe met sy aftrede ná 25 jaar as regter. Regter Cameron, wat in 2008 in die Konstitusionele Hof aangestel is, het tydens die apartheidsjare as 'n menseregte-advokaat gewerk; hy het ook diegene wat teen apartheid geveg het verdedig en hom vir gelykheid van gay en lesbiese mense beywer. Die Kabinet loof hom vir sy lewenslange voorspraak vir menseregte, asook vir sy stryd om universele toegang tot antiretrovirale middels.
  • wens die ikoniese musikant, mnr Caiphus Semenya, 'n geseënde 80ste verjaarsdag toe. Mnr Semenya het 'n bydrae tot die Suid-Afrikaanse nasionale musiekskat gelewer met klassieke nommers soos Matswale, Angelina, Ziphi’nkomo, asook indrukwekkende medeproduksies soos Ndiphendule saam met sy vrou, Mama Letta Mbulu. Hy het met internasionale musiekvervaardigers saamgewerk, 37 nominasies vir Primetime Emmy-toekennings ontvang en nege gewen. Hy het ook 'n Emmy-toekenning ingepalm vir sy rol in die ontwikkeling van die Roots-klankbaan, en tot die agtergrondmusiek van Disney se The Lion King bygedra.
  • wens die adjunk- nasionale direkteur van vervolging, Advokaat Silas Ramaite (SC) alles van die beste toe, nadat president Ramaphosa sy aansoek om vroeë aftrede en ontruiming van sy amp ingevolge Artikel 12 (8)(a) van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, 1998 (Wet 32 of 1998), goedgekeur het. Die Kabinet spreek sy waardering uit vir die bydrae wat advokaat Ramaite tot die NVG en in die algemeen tot regsbediening gelewer het gedurende sy jare diens in die regsektor.
  • wens me Sasha Maria Schwendenwein van die televisiereeks vir ondersoekende joernalistiek, Carte Blanche, geluk met haar inskrywing vir die SAOG-mediatoekenning, wat die tweede prys in die TV-kategorie gewen het. Die storie wat gewen het, “Follow the Guns”, was 'n gesamentlike produksie wat die euwel van renosterstropery ondersoek het.
  • wens die Springbokke en Banyana Banyana geluk omdat hulle die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper het en as oorwinnaars uit die stryd getree het by onderskeidelik die Rugbykampioenskap en die OSAFA-vrouekampioenskap. Hulle is ons nasie se trots en hul prestasies is 'n inspirasie vir jong en belowende atlete regoor die land.  
  • wens me Zozibini Tunzi, wat as Mej Suid-Afrika 2019 gekroon is, geluk en wens haar alles van die beste toe vir haar termyn. Sy gaan die land by die Mejuffrou Heelal- en Mejuffrou Wêreldkompetisie verteenwoordig

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Heraanstelling van mnr Fundisile Goodman Mketeni as die Hoof Uitvoerende Beampte van SANParke.

Navrae: Ms Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore